Tema: Danksy Christus herstel God ons in ons posisie as rentmeesters oor sy skepping
Een van David Attenborough se gevleuelde uitsprake is dat die mens geensins meer reg het om te oorleef as enige ander dierspesie nie.
David Attenborough is die bekende Britse maker van natuurfilms.
Daarin skenk hy baie aandag aan dierspesies wat met uitsterwing bedreig word, juis vanweë die mens se aktiwiteite.
Volgens ramings sterf daar ongeveer 200 dierspesies per jaar uit.
Toe ek dit lees, het dit my laat dink aan wat daar in artikel 12 van die NGB staan:
Die hemelse Vader “het aan elke skepsel ‘n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien.”
Die NGB skryf dit natuurlik as belydenis van dit wat in die Skrif staan, naamlik dat God al die wilde dire van die aarde gemaak het volgens hulle soorte en al die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte, ensovoorts (Gen 1:25).
Verder lees ons in die NGB: Die hemelse Vader onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien.
Hierdie sin verwys na wat daar in die Bybel staan oor die posisie van die mens ten opsigte van alle geskape diere, soos ons dit ook in Genesis lees:
“Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Gen 1:28)
Volgens hierdie vers het God die mens aangestel om te heers oor alle diere.
Die woord heers het in Afrikaans ‘n bietjie ‘n negatiewe konnatasie begin kry.
Mens kan dalk beter sê: regeer.
God het die mens aangestel as regeerder oor die skepping, of soos ons dit ook wel noem: as rentmeester.
As die NGB dus sê dat God alle diere deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag onderhou en regeer, dan het God aan die mens juis hierin ‘n belangrike taak gegee.
As dit goed is, behoort diere God se voorsienigheid te ervaar, juis deur die mens en die manier waarop die mens die aarde regeer.
Die feit dat daar deesdae 200 spesies per jaar uitsterf, is daarom nie ‘n klad op God se voorsienigheid nie, maar eerder op die mens se wanbestuur van die aarde.
Die feit dat ‘n spesie uitsterf, of dit nou die dodo is wat waarskynlik in die 17de eeu uitgesterf het, of die goue padda, Zanzibar luiperd of Wes-Afrikaanse swart renoster wat redelik onlangs uitgesterf het, dit kan alles terugherlei word op menslike aktiwiteite.
Historiese ondersoek wys daarop dat die dodo uitgesterf het, nie net omdat matrose hierdie eilandvoëls gevang en gebraai het nie, maar ook omdat die rotte wat saam met die skepe gekom het, ‘n plaag op die eilande geword het en die dodo’s se eiers opgevreet het.
Dit word al hoe duideliker dat daar in die natuur ‘n baie fyn balans of ekosisteem is, wat maklik versteur kan word, veral deur menslike aktiwiteite.
Hoe moet ons dan ‘n sin lees soos wat daar in art. 12 van die NGB staan: God onderhou en regeer elke skepsel op aarde om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien?
Is dit so dat alle diere, alle skepsels op aarde diensbaar moet wees aan die mens?
Guido de Brès, die opsteller van die NGB, het dit natuurlik geskryf na aanleiding van wat daar in die Bybel staan.
Dink aan wat daar in vers 29 en verder in Genesis 1 staan: “Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees.”
En na die sondvloed het God hieraan toegevoeg, Genesis 9:3: “Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees.”
Duidelik is dus volgens die Bybel dit nie verkeerd dat die mens self kan lewe deur plante en diere as voedsel te nuttig nie.
Maar die vraag wat dan direk op ons afkom, is of dit geoorloof is dat die mens plante of diere so intensief verbruik, dat daar spesies op die ou end uitsterf?
Die antwoord is natuurlik voor die hand liggend.
Dit is iets waaroor die mens hom moet skaam, dat deur sy toedoen die wye verskeidenheid wat God geskape het, verlore gaan.
Hy behoort sy kop te laat sak in skaamte, want pleks van ‘n toegewyde rentmeester oor die skepping, het hy ‘n uitbuiter van die skepping geword.
Met die gevolg dat die skepping sug onder die las van die mens.
Soos Paulus skryf:
“Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.” (Rom 8:22)
Het Paulus spesifiek gedink aan diere wat uitsterf, toe hy dit geskryf het?
Nee, dit was nie die oorspronklike konteks van sy woorde nie.
Nietemin vorm hierdie element wel onderdeel van daardie woorde.
Die woorde wat Paulus hier geskryf het, geïnspireer deur die Gees, is profeties en het ‘n geweldige reikwydte.
In Romeine 8 word ons gewys op die kosmiese perspektief van Christus se verlossingswerk, en die Gees se vernuwingswerk.
Dit slaan die spyker op die kop, want dit is juis die mense se sonde en opstand teen God, wat tot gevolg gehad het dat die hele skepping nou sug.
Die lyding van die teenwoordige tyd is nie beperk tot byvoorbeeld die feit dat gelowiges vervolg word nie.
Dit wys ook op die algehele degenerasie van die samelewing.
En juis die gelowiges ly, net soos destyds Lot in Sodom, ekstra as hulle sien hoe Christus se koningskap misken word.
Paulus gebruik ook die beeld: barensnood.
Die ma’s onder ons wat al ‘n kind gebaar het, weet hoe dit voel.
Ons, die res, kan ons indink hoe dit moet voel.
In elk geval ‘n gevoel wat nie vir ewig kan aanhou nie.
As barensweë nie oorgaan nie en aanhou en aanhou sonder dat die baba uitkom, sal dit op die ou ent die ma se dood veroorsaak.
So, verduidelik Paulus, is die skepping op die punt om te sterf as gevolg van die mensheid se sondes.
Veel langer sal die skepping dit nie meer kan oorleef nie.
Dit is te wyte aan die mens en sy sondeval dat die skepping nou buk onder die slawerny van die verganklikheid.
Dit is as gevolg van die mens se egoïsme, sy hebsug, sy onverantwoordelikheid, dat orals habitatte verwoes word, met die gevolg dat dierspesies uitsterf, en dat die lug en die oseane steeds meer besoedel word.
Dit lyk wel of die mens alles op aarde doen behalwe om ‘n goeie en verantwoordelike rentmeesters te wees.
En nie net gaan die mens self gebuk onder sy eie sondelas nie, dit tref die hele skepping.
Paulus het in die voorgaande hoofstukke beskryf hoe destruktief die mag van die sonde is:
“Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie … Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hul keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog … Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.” (Rom. 3:9-20)
Hierdie woorde van Paulus is nog steeds ongekend aktueel!
Paulus het dit destyds geskryf om duidelik te maak dat die mens nooit uit homself regverdig sal word nie.
Die mens sal nooit homself kan red nie.
Al ken hy die wet, God se wette, hoe goed, uit homself sal hy nooit in staat wees om daarvolgens te leef nie.
Aan die einde van die dag sal God se wette hoogstens dien as ‘n aanklag teen hom.
Vervolgens gaan Paulus dan verder om te beskryf dat daar slegs een weg tot regvermaking, slegs een weg tot herstel is.
En dit is deur Jesus Christus.
Regvermaking deur die geloof in Jesus Christus.
Jesus Christus is ons enigste hoop vir die toekoms.
En nie net ons s’n nie, die hele skepping s’n!
In Romeine 8 beskryf Paulus dan die eerste kindertreetjies van die nuwe lewe in Christus.
Hoofstuk 8 begin met die pragtige versekering:
“Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” (Rom 8:1)
Ons word opgeroep om deur die krag van die Gees nou nie meer na die vlees te lewe nie.
Christus maak ons lewend deur sy Gees.
Ons staan op in ‘n nuwe lewe, ‘n herskape lewe.
Ons is, deur Christus se Middelaarswerk, erfgename van ‘n nuwe werklikheid, ‘n heerlike werklikheid.
Paulus skryf: “ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.”
Hiermee bedoel hy: al die lyde en al die destruksie wat in die hede plaasvind is uiteindelik nie opgewasse teen die herstel wat op koms is nie.
Die destruksie van die mensdom, die destruksie van die diereryk, die destruksie van hulle habitatte, dit sal die komende glorie nie kan dwarsboom nie!
In sigself is die skepping juis vol vitaliteit, dit bars van groeilus.
Dit wag egter net met reikhalse verlange dat die mag van die sonde opgehef word.
Hierdie is, gemeente, ‘n baie optimistiese toekomsbeeld!
Ons is oppad na ‘n heerlikheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor, en in geen mensehart opgekom het nie.
Hierdie toekomsbeeld bots nogal op die doemdenke wat ons deesdae al hoe meer oor die klimaat hoor, en oor die toestand van die aarde.
Ek dink aan die bekende gedig wat gesing word deur Laurika Rauch en Natanaël:
“Iewers klink die eggo
Nog ‘n skoot uit ’n geweer
Iewers vlug daar diere
En ’n groot boom val neer
Iewers in die verte
Word nog ’n stad gebou
Iewers vaar ’n vragskip
Oor die see se laaste blou
En iewers onder alles
Sug moeder aarde swaar
Sy kyk oor haar skouer
Sy tel nog ’n jaar
Sy dink aan toe sy jonk was
En mooi en sonder pyn
Maar nou is dinge anders
Sy voel die lewe verdwyn
Refrein:
Sy vryf haar moeë bene
Sy’t ’n lang pad geloop
Sy wonder oor haar kinders
Dis haar heel laaste hoop
…”
Hierdie is ‘n pragtige gedig wat op ‘n manier oproep tot goeie rentmeesterskap.
Maar op een wesenlike punt verskil hierdie gedig totaal van die Bybelse toekomsbeskouing.
As daar in die refrein klink: “Sy wonder oor haar kinders – dis haar heel laaste hoop”.
Hieruit klink die angs dat die aarde gedoem is om onder te gaan, tensy ons as mense iets doen.
Die mense is moeder aarde se heel laaste hoop ...
Gemeente, as gelowiges kan ons sê dat hierdie gelukkig nie waar is nie.
God sy dank!
Dit is nie waar nie!
En enige nugterdenkende mens sal insien dat as dit moeder aarde se heel laaste hoop was, dat dit ‘n hopelose hoop is!
Want al die eeue mensegeskiedenis tot dusver wys geensins ‘n opgaande lyn, ‘n lyn van verbetering, ‘n lyn van minder oorlog, ‘n lyn van minder uitbuiting van die skepping nie.
Eerder die omgekeerde!
Die mens bied geen enkele hoop vir moeder aarde nie, eerder die omgekeerde!
Op hierdie punt raak David Attenborough ongelukkig ook die pad byster, as hy dink mense kan uit eie krag ‘n nuwe beweging op gang bring om die destruksie van die aarde te keer.
Gelukkig het ons as gelowiges ‘n ander toekomsperspektief.
Danksy Christus se Middelaarswerk is daar ‘n heerlike toekoms wat wag!
Slegs in Christus is daar perspektief vir hierdie aarde.
Slegs deur Reformasie, terugkeer na Christus en sy Woord!
Dit neem egter nie die realiteit van die hede weg nie.
Die feit dat die skepping tans in barensnood is.
En ons sien met ons eie oë dat dit nie ewig so kan voortgaan nie.
Daarom word ons juis in die hede, ons wat erfgename van daardie glorieryke toekoms in Christus is, opgeroep om ons rentmeesterskap oor hierdie aarde weer ernstig te neem.
Ons wat, deur die werk van die Gees, die eerste vrugte is van daardie toekoms.
Paulus skryf dat by die sien van die gelowiges, die openbaarmaking van die kinders van God, hulle wat deur die Gees lewe, kry die skepping nuwe hoop, sien die skepping dat die huidige lyde nie altyd sal voortduur nie.
Ja die skepping sien met reikhalsende verlange uit na ander soort mense.
Net soos ons in die nagmaal vandag ‘n voorsmakie gekry het van die ewige vreugde wat op koms is, wanneer die bruilof van die Lam gaan aanbreek, so beleef die skepping ook ‘n voorsmakie van die toekomstige herstel van alle dinge, as die skepping in aanraking kom met die eerstelinge van die Gees en hulle lewenswyse.
Christus, die tweede Adam, herstel ons in die posisie wat die eerste Adam verloor het.
Christus maak ons weer rentmeesters, wat in verantwoordelikheid en diensbaarheid oor hierdie skepping regeer.
Aangevuur deur die Gees, leef ons nie meer vir onsself nie, maar vir Christus.
Ons beywer ons vir sy koninkryk, wat op koms is.
Ons is voorbodes van sy heerlike herskeppingswerk.
Ons weet nie hoe alles presies gaan uitwerk nie, maar die Skrif is wel duidelik, dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede sal meewerk (Rom 8:28).
Daarom maak dit sin om ons te beywer om dit wat mooi is op hierdie aarde te bewaar.
Christene, voorbodes van die herskepping van hierdie aarde, moet vooraan staan, as dit by natuurbewaring kom.
Ek bedoel nie dat ons net saamsing in die hedendaagse koor van aardverwarming en alle doemscenario’s wat daarmee saamkom nie.
Klimaatveradering het ‘n politieke speelbal geword.
Laat ons nugter bly.
Maar laat ons terselfdertyd ook bereid wees om krities na ons eie lewensstyl te kyk.
Is ons wel goeie rentmeesters?
Kom die skepping regtig aan ons agter dat ons, wat eerstelinge van die Gees is, anders lewe?
Ek het die preek begin deur te verwys na die baie diere wat uitsterf.
En dit is ‘n feit, vir ‘n groot mate is dit as gevolg van menselike hebsug.
Tog is dinge hier ook ingewikkelder as mens dink.
Deur die eeue het daar diere uitgesterf.
En ook vandag sterf daar diere uit sonder menslike toedoen.
Ook vandag is daar diere wat die mensdom baie graag nog steeds sal wil uitroei.
Dink as voorbeeld aan die coronavirus, wat eintlik ook ‘n dier is.
Aan die einde van die dag sit die skepping ongelooflik ingewikkeld inmekaar.
Ook moet die mens nie dink dat hy in staat is om al die prosesse in die skepping na sy hand te sit nie.
Dit hou ons nederig.
Aan die einde van die dag onderhou en regeer God sy skepping deur sy voorsienigheid en oneindige krag.
Het die mensdom meer reg om te oorleef as enige ander dier? – om terug te kom by David Attenborough se opmerking?
Wel, hy is reg dat die mens niks meer reg het as enige ander dier nie.
Om die waarheid te sê, as ons die Bybel ernstig neem, die mens het veel minder reg om hier op aarde te leef as enige dierspesie.
Want dis die mens wat in opstand teen sy Skepper gekom het, nie die diere nie.
Die mens het wel die hele diereryk, die hele skepping meegesleur in sy val, sodat alles nou sug onder die las van die sonde.
So ja, as gelowiges behoort ons uiters nederig te wees, as dit kom by ons plek op hierdie aarde.
Maar in Christus mag ons ook uiters dankbaar wees.
Ons mag boodskappers wees van die goeie van nuus van ‘n herskape aarde.
Laat ons dit dan ook wees, as eerstelinge van die Gees!
Laat die hele skepping, nie net ons medemense nie, maar regtig die hele skepping, aan ons woorde maar ook dade ervaar dat ons lewe met nuwe hoop vir hierdie aarde.
‘n Nuwe lewe gaan oop deur die Gees van Christus, ‘n lewe met oneindig veel toepassings.
En dit is alles die vrug van Christus se Middelaarswerk, wat ons vandag aan die nagmaal herdenk het.
Dit is soos die suiwer rivier van water van die lewe, waarvan ons in die laaste hoofstuk van die Bybel lees.
Daardie rivier ontspring vanuit die troon van God en van die Lam.
Ja die Lam wat sy bloed gestort het, is die oorsprong van hierdie rivier van lewende water.
Daardie rivier is tot genesing van die skepping, tot genesing van die nasies.
Ons lewe bloei reeds op, soos vrugtebome wat elke maand vrugte dra, ons die eerstelinge van die Gees.
En orals waar daardie rivier kom, skep dit nuwe lewe.
Amen.
Votum
Seën
Ps 19:1,2
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Sb 8:5
1e tafel: Skriflesing: Romeine 8; Ps 33:5
Lofverheffing & Gebed
Teks: Leerdiens oor Tema in NGB art. 12
Preek
Sb 20:1-5
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Sb 20:6-8
Kollekte
Ps 145:6,7
Seën