Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus, broers en suster, seuns en dogters.
Almal saam word aan die begin van die preek aangespreek as geliefde gemeente. Dit sal te veel tyd in beslag neem om elkeen, maw een vir een op sy of haar eie naam aan te spreek. Dit kan, maar dit sal langdradig wees.
Aan die anderkant is dit 'n groot voorreg, dat jy hier in die kerk mag kom, as ‘n mens wat 'n eie naam het.
Jy mag hier wees! Ja, alhoewel ons nie elkeen by sy naam genoem word nie, maar aangespreek is as “gemeente van ons Here Jesus Christus”, tog is ons mense wat elkeen hulle eie naam dra.
Niemand wil net 'n nommer wees nie. Mense het 'n naam, dit is persoonlik. Ons het ‘n identiteit. In ons ge-outomatiseerde samelewing, word mense steeds meer herlei tot 'n nommer.
Maar mense wil nie net getel word nie, nie net in 'n ry staan nie. Maar 'n naam dra, met 'n gesig en 'n persoonlikheid.
As jy die kerkhandboekie oopmaak staan daar 'n aantal getalle, maar wat meer interessant is, dat daar ook name in staan. Ook die naam van die kleinste kind staan daarin. Ook jy staan daarin met naam en van.
Jou naam is die poort na jou as persoon. Name is baie persoonlik. Indien persone vermis word, is dit goud werd as daar name genoem kan word. Ja en wanneer iemand jou naam en jou adres ken dan kan jy nie meer wegkruip nie.
Trouens, om vir vreemdes verborge te bly is deesdae al hoe moeiliker. Hulle weet oor tyd alles van jou. Jou naam en adres word steeds meer geregistreer en gebruik: deur epos adreslyste, jou goothandel winkelkaarte, jou telefoonnommers, en elektroniese betaalmetodes. Naamlyste word ook uitgeruil sodat jy deur ander benader kan word.
Maar dan is dit opvallend dat mense veral eensydig in ons naam of as persoon geinteresseerd is. Veral van die mense wat daarop uit is om iets van ons te wil kry soos bv van ons tyd of iets aan ons wil verkoop, ja daar is ‘n geweldige belangstelling in ons geld of ons besittings.
Maar is jou naam ook bekend by hulpverlenings organisasies? Word jy ook gekontak deur iemand wat weet dat jy alleen is, of verdriet moet verwerk, of in finansiele nood is? Verskyn dit ook alles in die lyste en word die epos-adresse van leed en nood ook uitgeruil?
Nee, gemeente, die omgekeerde is waar. Die verkoper spoor jou op! Maar die hulpverlener sal jy self moet gaan soek.
Die name van die mense in nood is baie keer spoorloos en beslis nie outomaties geregistreer nie. Die name van die wat in nood is en hulpsoekend is, is meestal onbekend.
Die advertensies van die spesiale aanbiedings wat te koop is verskyn orals, maar om hulp te ontvang bv by ‘n staatshospitaal beteken dat jy moet lank moet wag en soms moet baklei vir dienste.
In die bybelgedeelte van hierdie erediens vind ons 'n verrassende uitsondering op hierdie reël. In hierdie gedeelte kom ook name van persone voor.
Name wat versamel word en bekend gemaak word aan 'n Ander. Maar wat opmerklik is, is dat hier, die bekendheid van die name bevorder word in die belang van die mense self. Name word hier nie misbruik nie, maar die name kry aandag met die oog daarop om hulp te verleen.
Die hoëpriester in volle ampsgewaad, gaan met 'n adreslys in die tempel: die en die woon hier (in hierdie volk) en dit is hul name. Hulle het vergifnis en hulp nodig.
Ja, die name van Israel word nie die tempel in gedra om die HERE of die priester te laat goed voel nie. Hier is 'n totaal ander rede om name te versamel, en as geheel oor te dra aan 'n Ander. Dit is die manier van die priester van die HERE!
Ook ander volke in die tyd, het priesters geken, maar 'n priester wat met 'n naamlys die tempel ingaan, ja dit selfs in duplikaat op sy uniform dra, is onbekend.
Ja dit is heeltemaal onbekend om so ‘n naamlys in te bring om dit aan die godheid te vertoon. In die ou heideense tempels vind ‘n mens wel weidingsgeskenke met iemand se naam daarop, om bekendhied te gee aan die persoon of om die godheid te bid om hulp of genesing, maar die heidenmens ken nie priesters wat op eie inisiatief jou naam na die godheid bring nie. Dit gebeur slegs in Israel.
Gemeente, wat beteken dit? Dit is 'n simbool vir Israel maar ook vir ons!
Die tema van die preek is soos volg:
Ons name word voor God gebring.
1. Naam vir naam word voor God gebring.
2. Dit word gedra op die priester se hart.
3. Dit is Heilig aan die Here.
1. Brs en srs , die kleding van die hoëpriester is uniek. Niemand anders het so iets gedra nie. Net hy het in sulke spesiale kleurvolle klere diens gedoen. Goud, bloupurper, rooi purper skarlaken, fyn linne, jy kon hom nie mis nie. Dis 'n fees om hom te sien. In verse 2-14 en 39-43 vind ons 'n beskrywing van sy gewaad.
Maar wat is dan die mees opvallendste van sy gewaad , waaraan ook so baie woorde gewy word?
Die twee skouerstukke!
Soos epaulette, skouerkentekens, dra hy op elke skouer 'n oniks-steen, swart en wit van kleur. In die twee stene staan die name van die seuns van Israel gegraveer: twee maal ses name. In volgorde van hulle geboorte. Ja, die hoëpriester dra die name van Israel se seuns op sy skouers die tempel in. (28:9-12).
Wat opval is dat hy nie 'n versamelnaam dra nie. Hoekom staan daar nie sommer eenvoudig ´Israel´ gegraveer nie. Dis mos een volk, een kerk. Tog vind ons nie een versamel naam nie, maar eiename, een vir een, ses per steen.
Dit bevat 'n duidelike boodskap. Die kerk van God bestaan uit mense, families. 12 stamfamilies elkeen met sy eie geboortedatum. In die kerk is jy nie naamloos of onpersoonlik nie. Jou geboortenaam, jou generasie , jou naam tel. Vir God is jy nie maar net 'n nommer nie, maar vir hom is jy broer of suster met 'n naam. Ja dit is baie persoonlik by God.
Nie al die duisende name was gegraveer nie, dit sou onmoontlik gewees het. Alleen die naam van die stamvader is ingegraveer, maar daarmee word die toon aangegee. Israeliete is by God bekend as kinders van die en die stamvader, toe en toe gebore. Jou afstamming tel.
Jou naam word nie in 'n groep verswelg nie, nie tot ‘n groepskode gemaak nie.
Ja, wanneer ‘n mens die volk van God herlei tot eiename een vir een, dan moet ons erken dat dit nie indrukwekkende name van persone was nie. Die name het elkeen ‘n persoonlike verhaal, elke naam het `n gesig.
Daar is Ruben, bekend vir sy owerspel met die vrou van sy pa.
Daar is die name van Simeon en Levi, die opvlieënde ´Hells Angels´ by Sigem.
Dan is daar Juda, die man van die kompromis wat Josef in die steek gelaat het toe hy in die put gegooi was. Getroud met ‘n heidense vrou en later met sy skoondogter Tamar omgang gehad het.
Die tweede steen begin met Gad en Aser : van wie ons weinig weet omdat hulle hul eie lewe gelei het en maar min in die juk saamgetrek het.
En die laaste naam is Benjamin. Sy pa noem hom In Gen 49:27, `n verskeurende wolfskind.
U sien, hierdie is nie helde om mee te pronk nie. Geen ridderordes op die skouers van die hoëpriester nie. Geen lys van heiliges en weldoeners nie.
Maar wel `n volledige lys van alle name ongeag hulle reputasies.
Ja gemeente, as ons eerlik is dan verwonder ons ons aan hierdie mense. Moet hierdie mooi kleed van die hoëpriester nou juis afgewerk word met hierdie name.?!
Dit is mooi as `n naam nie vergeet word nie, maar soms is dit beter dat `n naam nie al te hoog opgehef word nie, maar eerder verswyg word.
Tog dra die hoëpriester die name hoog en sigbaar op sy skouer. Hy mag hom nie skaam vir die name nie. God wil hulle een vir een voor Hom sien.
Ja dit kan ons onseker maak. Durf ons met ons eie naam by God te kom? 'n Verdagte se naam steek ‘n mens weg. 'n Pynlike herinnering word bedek. Noem my nie Naomi nie.
Baie christene is tevrede om annoniem in die kerk te wees. Vergeet my naam, my verlede en laat die geskiedenis van my voorgeslag nie bekend word nie. Sommige is verleë met hulle naam en persoonlikheid. Hulle voel skuldig of niks werd nie.
Des-ondanks word die name twee maal ses, ingegraveer. Tot gedagtenis.
God ken ons persoonlik en wil jou gesig en naam ken. Jy hoef nie weg te kruip agter die breë rug van die kerk nie.
Dit sal in elk geval nie werk nie, dit mag nie en sal ook nie werk nie. Kom maar vorentoe met wie jy is, jou persoon , jou karakter.
Die hoëpriester bring die volk van God, naam vir naam na die HERE God.
So gedenk Hy ons. So ken Hy my. My besonderhede is vir Hom nie verborge nie. Ek kan dit nie wegsteek nie. Oop en bloot is ek opgeskryf voor sy oë. Die hoëpriester sit die name op sy skouers en dra hulle binnetoe.
So is Christus ons (nuwe) Hoëpriester wat jou naam en persoon by God bring. Tot gedagtenis.
Miskien vergeet mense jou. Maar Jesus sorg dat God jou nie vergeet nie. Hy hou die name en geboortedatums by en ons name ontvang aandag danksy Christus.
My lewe word voor die troon gebring. My naam word nie vergeet nie.
Maar, dan sien God mos alles van my lewe? Ja, miskien was dit maar beter dat God se oog nie op my gevestig word nie. Miskien is dit beter as Hy my miskyk. Want wie durf in die skerp lig van Sy troon te verskyn met ‘n naam en van?
2. Ons kom by die tweede punt: Ons naam word voor God gedra op die hart van die priester.
Dit is opvallend dat die name herhaal word. In die verse 15 tot 30 vind ons weer die twaalf name. Op die borstas is 12 edelstene en daarop is die name van die seuns van Israel gegraveer.
Wie die hoëpriester sien loop, sien twee keer dieselfde name. Dit is 'n dubbele notering. Eers op die skouers en dan op die borstas. Dis dieselfde name. 'n Simbool dat mense in God se volk nie nommers is nie, maar dat vaders en kinders deur God geken word.
Maar daar is egter 'n verskil tussen die skouerstukke en die efod. Die twee onikstene van die skouerstukke het een kleur. Maar in die efod kry elke naam 'n eie agtergondskleur. Die twee lyste van name, 6 elk op die skouers word heel persoonlik gekleur op die efod. Elke naam ontvang 'n eie edelsteen, ‘n persoonlike kleur.
Ruben se naam kry die rooi van die karneool of ook genoem sardius.
Simeon ontvang die kleur topaas: ligblou.
en die laaste Benjamin, die gevlekte grys, roesbruin, pers van die Sardoniks.
Die stamme dra nie hulle eie wapenskilde binnetoe nie. God self gee kleur aan hulle name. Hulle word geskryf met die warm kleure van edelstene: niemand bly kleurloos en onpersoonlik voor God nie. Eie name word tot sierade. Seëlringe vir die hoëpriester.
En gemeente, waaraan het hierdie name hulle kleure te danke? Nie aan hulself nie maar aan die plek waar hulle gedra word: op die hart van die hoëpriester. Op die hoëpriester kry jou naam 'n diep en blywende kleur. Jou identiteit word eindelik mooi en pryssenswaardig.
Vir die Israeliete was dit 'n teken: dit is veilig om voortdurend voor God gebring te word, as die hart van die hoëpriester agter jou naam klop.
Dit is ook 'n teken vir ons. Ons Hoëpriester Jesus is bewoë oor ons. Hy dra ons op die hart. Dink maar aan die hoëpriesterlike gebed in Johannes 17. Deur Sy liefde kry ons kleurlose name, kleur. Ek is nie 'n edelsteen nie, maar Sy liefde gee kleur aan my bestaan voor God. Eendag sal my naam nie meer op 'n kleitablet by die voordeur hang nie, maar duursaam gegrafeer word op ‘n edelsteen. Dan sal ek ewig lewe onder God se liefde en reg.
So mag jy aan jouself dink, 'n naam in agaat uitgesny, soos 'n seëlring. So lyk ek. Ja danksy die verkiesende liefde van God wat ons dra op die liefdevolle hart van Sy Seun. Ons kry daardeur 'n aansien wat ons nie gehad het nie: dit simboliseer die priester wat die name op die hart dra, name, elkeen met 'n eie kleur.
3. Ons kom by die derde punt: Ons naam word voor God gedra, dit is Heilig vir die Here.
Die hoëpriester bring die name in die tempel. Klokkies klingel waar hy stap, 'n geruis vergesel sy gang. Sy verskyning trek aandag.
Miskien vind ons dit vreemd dat 'n ander ons name binne toe dra. Veral in ons tyd wil mense hulself laat geld. Self hulle naam bou. Ons wil nie afhanklik van ander wees nie.
Doen jy jouself nie in as jy nie op eie krag na God kan gaan nie? Ja, wanneer jy 'n tussenganger nodig het, is dit dan nie onpersoonlik nie?
Ja, gemeente, dit is inderdaad vreemd.
Waarom kan Ruben en die seun van Ruben nie self die tempel binne na God toe gaan nie en sê: hier is ek, en dit is my naam?
Ja , waarom kan ‘n mens nie self voor God verskyn nie en sê: hier is ek, dit en dit het ek vermag.
Ja, dit is wat ons eintlik wil doen, ons wil nie deur ‘n ander gedra word nie.
En tog moet dit so gebeur. Dit blyk uit die derde deel van die hoofstuk, want daar is nog 'n naam: DIE NAAM!
Hoër as die borskleed van die efod, en hoër as die skouerstukke met die name van die twaalf seuns van Jakob in die oniks-stene, dra die hoëpriester op sy voorhoof 'n goue plaat en daarop staan: Heilig vir die HERE.
Die aanbieding van die mense se name word voorsien van 'n veilige begeleiding: dit is ook terselfder tyd die geheim van die name op die edelstene. Die hoëpriester sou hierdie name nooit in die tempel kon bring nie, as hy nie ‘n vrypas gehad het nie. 'n Paspoort vir die tempel en die hemel: Die goue voorhoofplaat: Heilig vir die HERE.
So ‘n plaat dra Ruben nie op sy voorkop nie. En Juda ook nie, en Benjamin nie en Aser nie. En u nie en ek nie. So `n plaat van goud dra geen mens nie.
En so 'n toegangskaartjie, ‘n paspoort kan jy nêrens koop nie.
Dit bestaan nie.
Alleen die hoëpriester kry so 'n toegangsbewys. ‘n Paspoort vir die hemel. Van goud. Op sy voorkop. Deur God toegeken.
Onder hierdie vlag kan ons inkom.
God aanvaar hierdie hoëpriester.
In die Ou Testament was dit net tydelik en uit genade oor Aaron se huis. Dit is dan ook nog 'n plaat wat tydelik vasgemaak moes word, met kettinkies, tydelik aangebring op die voorhoof. Maar alleenlik vir die dienstyd: die priester gaan die tempel in, maar kom ook gou weer buiten toe! En die volgende dag loop hy deur Jerusalem se strate sonder sy plaat!
Maa gemeente, in die Nuwe Testament is dit anders. Jesus is uit homself: Heilig vir die Here. Hy hoef nie die voorhoofsieraad te dra nie, omdat die naam van die Vader in sy binneste is. Hy is ewig en van nature welkom in die hemel!
God stel onder die Ou Verbond 'n draer van ons name aan, wat as hoëpriester met hierdie gewade en stene en hierdie voorhoofplaat voor Hom ontvanklik is. ‘n Voorloper van die Ware Hoëpriester.
In die Nuwe Testament gee God 'n Messias as draer van ons name: hierdie Messias is sy geliefde Seun, ons Here Jesus Christus.
En danksy hierdie Hoëpriester van God, maak God ons name leesbaar in die hemel.
Daar is nie 'n ander weg nie! Die ander weg is die een van die hoogmoedige mens: ek sal sommer self binne gaan! Maar dit sal jou nie geluk nie mens. Hoogmoed kom tot ‘n val. Die pad loop dood, ‘n ewige dood.
Slegs in beskeidenheid en dankbaarheid vir die Priester wat gegee is, vir die bemiddeling, is daar toegang vir ons name. Ons hoef onsself dan nie voor te stel nie. Ons word gedra tot voor God. En ons kry kleur! Ons naam word Sy geheim.
Op aarde verdwyn jou adres en naam op 'n epos lys. Maar in die hemel is jou naam geregistreer by die Hoëpriester. Hy help jou tot aan jou sterwe, want hy is nie uit op wins nie, maar dra jou op Sy hart.
Jou naam is opgeneem in die boek van die lewe. Christus hou dit in stand.
Dit is goed om ons name saam met Hom te sien verdwyn agter die voorhangsel: Ruben, Juda, Levi, Jakobus, Gert , Willem en Piet, Sannie en Magda.
Name wat soms op aarde vergete word maar in die hemel bekend is.
Op aarde vergete, maar in God se hand gegraveer vir ewig!!
--------
Brs en srs , wanneer jou naam op aarde wegkwyn, vermink of beskadig word, dink dan aan jou Heiland. U lewensnaam is by Hom. U ken Sy naam en u kan die Naam aanroep. Hy sal u naam nooit uitvee nie: vee Hom dan ook nie uit u lewe uit nie.
Jy kan op aarde groot moeites hê, sorge oor jou lewe.
Solank jy maar die een Naam goed ken, die naam van jou Heiland. Hulle wat op die aarde struikel, hulle name hou Hy veilig vas. Wie op hierdie aarde vuil van ellende is, kry glans en kleur op sy hart.
-----------
Onthou die belofte van jou Heiland waarmee ons mag afsluit: Openb 3:5
´ Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele. ´
Amen
Votum en seëngroet
Psalm 86:1,2,3
Wet van die HERE
Psalm 86:4,5
Gebed
Lees: Exodus 28
Psalm 134
Preek
SB 9:4 en 5
Gebed
Psalm 27:1,4
Seën