Psalm 91 gaan oor die groot Koning, Jesus Christus, wat sy kinders beskerm en beskut op die pelgrimspad wat loop ván lyding tót heerlikheid!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-07-19
Teks: 
Psalm 91
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

‘n Groot deel van die pragtige Psalm 91 lees, in die woorde van ‘n kommentator waarop ek in my voorbereiding afgekom het, amper soos ‘n versekeringspolis – vertrou op die Here (v. 2), en Hy gee aan jou dekking teen die volgende gebeurlikhede: teen valstrikke (v. 3a), teen die pes (v. 3b), teen gevare in die nag (v. 5a), teen pyle in die dag (v. 5b), en teen siekte (v. 6). Maar dis nog nie al nie... Ook jou huis word gedek deur hierdie versekering (want: “geen plaag sal naby jou tent kom nie”, v. 10). En daar is selfs gewapende reaksie, want die engele sal jou beskerm op jou pad en teen enige wilde diere (vv. 11-13). Sonder enige van die misleidende fynskrif wat so tipies is van hedendaagse kontrakte, word ons in vers 10 verseker: “Geen onheil sal jou tref nie”. ‘n Goeie bemarkingskonsultant sal Psalm 91, sonder al te veel moeite, kan omwerk na ‘n oortuigende advertensie vir Outsurance of Santam.

Die enigste probleem, broers en susters, is dat die lewe helaas nie so werk nie – want ons wórd siek (en hoe beleef ons dit nie op hierdie stadium nie!), ons huise ís nie altyd veilig nie, en ons paaie ís nie altyd sonder ongelukke nie. In die praktyk werk dit nie letterlik so dat duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand val, maar dat die siekte na jou nie aankom nie (v. 7). Hierdie Psalm, hoe mooi ook al, konfronteer ons daarom met ‘n raaisel – en dit is nie die raaisel van die vergelding van die goddelose nie (soos wat vers 8 ons vertel), maar dit is eerder die raaisel van die voorspoed van die goddelose en die teëspoed van die gelowige. Dis ‘n raaisel waarmee Job in sy lewe geworstel het, dis ‘n raaisel waarmee Asaf in Psalm 73 worstel, dis ‘n raaisel waarmee baie van ons vandag nog steeds worstel. Hoe moet ons dan Psalm 91 verstaan in die lig van hierdie raaisel?

 

Die beste manier hoe ons, na my mening, aan Psalm 91 reg kan doen, is om dit te lees in die breër konteks van die hele Psalmboek, en vervolgens ook in die lig van die Nuwe Testament. Ons is naamlik gewoond daaraan om die Psalms op hulle eie te lees as los liedere, nie waar nie? Nou, dit is nie onmoontlik of verkeerd nie, maar ons moet onthou dat die Psalmboek nie maar net ‘n los saamraapsel van ‘n klomp aparte liedere is nie. Nee, die Psalmboek is baie bewustelik en noukeurig saamgestel. Behalwe die 150 mikro-deeltjies – al die afsonderlike psalms – het die Psalmboek ook ‘n makro-struktuur (‘n oorhoofse struktuur) met ‘n duidelike verloop en ontwikkeling vanaf Psalm 1 tot by Psalm 150. En as ons iets hiervan verstaan, en as ons dit vervolgens in verbinding bring met die Nuwe Testament, dan gaan die boodskap van die afsonderlike Psalms nog soveel te meer vir ons oop.

 

Nou, vir die verstaan van Psalm 91 is daar ‘n paar van hierdie makro-aspekte waarop ek u wil wys (en u kan dit gerus in gedagte hou wanneer u enige van die ander Psalms lees):

In die eerste plek, as ons die Psalmboek vanaf Psalm 1 tot by Psalm 150 sou deurwerk, dan sal ons opmerk dat daar ‘n geleidelike verskuiwing is in die stemming / die trant (in Engels sal ons sê die ‘mood’ van die Psalmboek). En dit is omdat daar ‘n beweging is, soos wat ons van die begin tot by die einde van die Psalmboek gaan: ‘n beweging van klag tot lof. Of anders gestel: ‘n beweging van lyding tot heerlikheid. Ek kan dit in ‘n preek uiteraard nie heeltemal uitwerk nie, maar ek wys vinnig vir u hierdie kontras met ‘n paar voorbeelde uit die begin en ‘n paar voorbeelde uit die slot van die Psalmboek. Psalm 3:3: “Baie sê van my: daar is geen heil vir hom by God nie”; Psalm 6:4: “Ja, my siel is baie verskrik; en U, HERE, tot hoe lank?”; Psalm 10:1: “o HERE, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid?” Hoor u: dis klag, dis lyding. Dit is die stemming aan die begin van die Psalmboek. En vergelyk dít nou met die ‘hallelujas’ van die laaste klompie Psalms. Psalm 146:1: “Halleluja! Loof die HERE, o my siel!” Psalm 148:1: “Halleluja! Loof die HERE uit die hemele; loof Hom in die hoogtes!” En dit kom alles tot ‘n hoogtepunt in Psalm 150, waar ons binne ‘n paar verse dertien keer die oproep vind om die Here te loof.

Nou, as ons hierdie beweging (van klag tot lof, van lyding tot heerlikheid) – wat die struktuur van die hele Psalmboek bepaal – in verbinding bring met die Nuwe Testament, dan sien ons dat dit presies dieselfde beweging is wat voltrek word in die lewe van die Here Jesus. Hy self sê in Lukas 24:26 vir die Emmaus-gangers: “Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?” Van lyding tot heerlikheid. Die makro-beweging in die boek van die Psalms wys dus vooruit na die makro-beweging in die lewe van Christus. En dit is uiteindelik ook die beweging wat homself voltrek in die lewe van elke gelowige – ook ons lewens beweeg van lyding tot heerlikheid, “want (sê Paulus in Romeine 8:18) ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.” Dus, wanneer ons Psalm 91 reg wil verstaan, dan moet ons dit lees binne hierdie beweging van lyding tot heerlikheid. Hou dit in gedagte!

 

Die tweede makro-aspek waarop ek u wil wys (en baie van u weet dit moontlik al), is dat die Psalmboek in 5 verskillende dele / boeke verdeel is – en elkeen van die boeke eindig byna identies: met ‘n lof en ‘n amen. Kyk maar saam met my: Psalm 1 en 2 is die inleiding tot die Psalmboek. Psalm 3-41 vorm die eerste boek, en dit eindig met: “Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! Amen, ja amen” (Ps. 41:14). Psalm 42 tot 72 vorm Boek 2, en dit eindig in Psalm 72:19 met: “Geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam. En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word! Amen, ja amen.” Psalm 73-89 vorm Boek 3, en weereens eindig dit met “Geloofd sy die Here vir ewig. Amen, ja amen” (Ps. 89:53). Psalm 90-106 vorm Boek 4 (dit eindig soortgelyk in Psalm 106:48), en Psalm 107-150 vorm boek 5 (en hier vind ons nie slegs ‘n enkel versie van lof aan die einde nie, maar hier vorm eintlik Psalms 146-150 as geheel ‘n slot van lof – een groot ‘halleluja’!). Gemeente, hou hierdie vyf boeke in gedagte wanneer u weer ‘n Psalm lees.

 

Die derde makro-aspek waarop ek u aandag wil rig, is dat Psalm 91 deel vorm van Boek 4. Hoekom is dit belangrik? Wat is kenmerkend van Boek 4? Wel, broers en susters, Boek 4 (Psalm 90-106) is baie nou verbonde met die persoon van Moses. Moses se naam kom nege keer in die hele Psalmboek voor, waarvan agt keer in Boek 4. Dit is daarom ook treffend dat Boek 4 begin met die enigste Psalm wat aan Moses toegeskryf word: Psalm 90, waarvan die opskrif lui “’n gebed van Moses”. Boek 4 het dus te make met Moses en die geskiedenis wat rondom Moses afspeel: die uittog uit Egipte en die reis deur die woestyn (ons sien dit in besonder in Psalm 105 en 106). En hoekom is dit belangrik? Om te sien hoekom dit belangrik is, moet ons kyk na hoe Boek 3 eindig. Boek 3 eindig in Psalm 89 met die ondenkbare en verskriklike boodskap dat God Homself gedistansieer het van sy verbond met Dawid, en dat die Here sy gesalfde koning verwerp het: “U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde. U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond” (Ps. 89:39-40). Dis waarmee Boek 3 eindig: die verbond met Dawid – en die koningskap wat daarmee saamgaan – lê aan skerwe. Dit is die realiteit tydens en ná die ballingskap: geen afstammeling van Dawid sit meer op die troon nie, en Juda is ‘n klein en arm provinsie in die heidense Persiese ryk. Hoe kan die gelowiges aangaan in sulke omstandighede?

En dan vat Boek 4 ons terug na die tyd voor Dawid – na die tyd van Moses! Want lank voordat Dawid koning was, was Gód alreeds Koning! “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God” (Ps. 90:2). En dit is daarom ook treffend hoeveel nadruk Boek 4 lê op die Koningskap van God. Psalm 93:1: “Die HERE is Koning!” Psalm 95:3: “Want die HERE is ‘n grote God, ja, ‘n groot Koning bo al die gode.” Psalm 96:10: “Sê onder die volke: die HERE is Koning!” Psalm 97:1: “Die HERE is Koning; laat die aarde juig.” Psalm 98:6: “juig voor die aangesig van die Koning, die HERE!” Psalm 99:1: “Die HERE is Koning, laat die volke bewe!” God regeer, broers en susters, ook al het daar van die koningshuis van Dawid skynbaar niks oorgebly nie. God is in beheer, ten spyte van alles wat die teendeel wys. Die Here is Koning – Hy was dit lank voor Dawid, en Hy sal dit lank na Dawid wees! En soos enige goeie koning – onthou: dit was die hooftaak van enige koning in daardie tyd (en dit behoort vandag dieselfde te wees) – soos enige goeie koning, beskerm God sy onderdane; Hy is vir hulle ‘n toevlug en ‘n beskutting! Dit is so besonder om hierdie twee aspekte (God se Koningskap en sy beskerming) verweef met mekaar in die struktuur raak te sien: tussen en rondom al die koningspsalms wat ek sopas aangehaal het (Psalm 93, 95, 96, 97, 98, en 99), kry ons die Psalms wat gaan oor God se beskerming en beskutting. Kyk maar na Psalm 90:1: “Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.” Psalm 91:1 en 2: “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.” Psalm 94:22: “Maar die HERE is ‘n rotsvesting vir my, en my God die rots van my toevlug.” Die koningspsalms en die toevlugspsalms is op ‘n besondere wyse inmekaar ingeweef. Boek 4 van die Psalmboek verwoord dus die geloof dat die Here regeer en dat Hy in beheer is en dat Hy sy kinders beskerm, ten spyte van alles wat op die teendeel dui.

 

En hierdie geloof – en dit is die vierde en laaste makro-aspek wat ek vir u wil aantoon – hierdie geloof in die Koning, wat ewig regeer (wat so ‘n uitstaande kenmerk van Boek 4 is), gaan in Boek 5 oor in die hoop en die verwagting dat hierdie Koning oppad is. Waar Boek 3 eindig met die stukkende verbond met koning Dawid, en Boek 4 spreek van geloof in Hom wat van ewigheid af Koning is, vertel Boek 5 dat hierdie Koning oppad is. Dink aan Psalm 132:11: “Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon.” En ook verse 17 en 18: “Daar sal Ek vir Dawid ‘n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde ‘n lamp toeberei. Ek sal sy vyande met skaamte beklee, maar op hom sal sy kroon skitter.” En hoe pragtig sien ons nie die vervulling van hierdie woorde in Lukas 1 nie, waar Sagaria sing: “Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het, en ‘n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg...” (Luk. 1:68-69) Die Here is trou, gemeente, die Koning het gekom, en daardie Koning is niemand anders nie as die Messias, die Here Jesus Christus! En die skare het iets hiervan verstaan toe hulle by Jesus se intog in Jerusalem in Johannes 12 Psalm 118 (nog ‘n Psalm uit Boek 5) aanhaal, wanneer hulle sing: “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel” (Joh. 12:13). Ja, gemeente, Jesus Christus is ten diepste die vervulling van die hele Psalmboek, Hy is die Koning wat vir sy volk ‘n toevlug en ‘n skuilplek is – Hy beskerm hulle op die pad van lyding tot heerlikheid!

----------------

Nou, broers en susters, alles wat ek tot dusver gesê het oor die makro-struktuur – die oorhoofse boodskap van die Psalmboek – vorm die onmisbare agtergrond waarteen ons Psalm 91 moet lees. Psalm 91 is nie ‘n versekeringspolis wat my dek teen enige siekte of seerkry of ongeluk nie – ek is bevrees dit is wat hierdie Psalm word wanneer ons dit in isolasie lees. Nee, Psalm 91 gaan oor die groot Koning, die ewige Koning – Jesus Christus, wat voor Dawid was en tot in ewigheid ná Dawid sal regeer! – dit gaan oor hierdie Koning, wat sy kinders beskerm en beskut op die pelgrimspad wat loop ván lyding tót heerlikheid (herhaal). Jesus Christus staan waarborg dat die pad van lyding, waarop die kinders van die Here moet gaan, nie doodloop in die net van die voëlvanger, of in siekte, of in die pes, of deurdat jy op jou pad oor klippe struikel, of omdat jy deur die wilde diere gedood word nie. Of in vandag se terme: Jesus Christus staan waarborg dat die pad van lyding, waarop ook ons vandag dikwels moet gaan, nie doodloop in die Corona-virus of in kanker, of in ‘n motor-ongeluk, of in ‘n oorval in ons huis, of in moord, of in ‘n plaas-aanval, of in finansiële krisis nie. Geeneen van die gevare en bedreiginge wat in verse 3-13 van Psalm 91 genoem word, en geeneen van die gevare van ons eie tyd, kan verhinder dat ons lydensweg op aarde uiteindelik uitloop op ‘n onbeskryflike heerlikheid nie. Dit is die waarborg wat die Koning gee!

En daarom kan ons saam met die digter ons geloof in hierdie Koning bely! Tweemaal in Psalm 91 vind ons so ‘n belydenis. Eers in vers 2: “Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.” En dan ook weer in vers 9a: “Want U, HERE, is my toevlug.” En elke keer volg daar ná hierdie belydenis – nee, nie ‘n polisdokument nie, maar die betroubare beloftes van die Here. Wanneer ons by Hom skuil, wanneer Hy ons toevlug is, dan is die pad, die voortgang van lyding tot heerlikheid (hoe moeilik en swaar ook al!) onstuitbaar. Niks kan keer dat ons die heerlikheid, waarheen ons as gelowiges oppad is, bereik nie.

 

En dan verstaan u waarskynlik ook dat dit nie beteken dat daar niks met ons sal gebeur nie. Die lewe van Moses en van Dawid, en die lewens van die ander Psalmdigters bewys dit vir ons – daar was in hulle lewens swaarkry, daar was siekte, daar was vervolging, daar was eensaamheid, daar was lewensgevaar. Die oomblik wanneer ons Psalm 91 uit die geheel van die Psalmboek haal en dit los lees, en dit vervolgens slegs toepas op ons eie lewe hier en nou, dan word ons gekonfronteer met die raaisel waarvan ek in die begin gepraat het. Maar as ons Psalm 91 lees in die lig van die Christen se pelgrimstog – hierdie lewenspad waarop ons tans is, en wat deurgaan en oorloop in die ewige lewe – dan begin ons verstaan.

Dan begin ons verstaan dat dit met die goddelose nie regtig so goed gaan soos wat dit dikwels vir ons mag lyk nie, want let dan op hulle einde (dis Asaf se konklusie in Ps. 73:17: “totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het”). En wat is hulle einde? Die einde van die goddelose is hulle vergelding (Ps. 91:8: “Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien”). En die gelowige dan? Wat is sy einde? Wel, die Here self vertel dit vir ons wanneer Hy vanaf vers 14 die woord neem: “Omdat Hy my liefhet, sê God, sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm; Ek sal hom verhoor; Ek sal by hom wees; Ek sal hom uitred; Ek sal eer aan hom gee...” En dan die hoogtepunt in vers 16: “Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.” Dit is die ewigheidsperspektief waarin ons Psalm 91 moet lees. Die pad van lyding tot heerlikheid bring ons uiteindelik by lengte van dae (ewige lewe by die Here) en heil (verlossing van alle sonde en nood en pyn).  

 

En ja, dan gaan ons op hierdie pad soms deur moeilike tye gaan. En daar gaan siekte wees – ons sien dit dan, ons beleef dit eerstehands op hierdie stadium! En moontlik gaan iemand in ‘n ongeluk kom, of dalk gaan daar in jou huis ingebreek word, en met tyd gaan ons een vir een sterf. Maar die gang van lyding tot heerlikheid kan nie gekeer word nie. Daarom is Romeine 8, wat ons saam gelees het, so belangrik om saam met Psalm 91 te lees. Romeine 8 is die vervulling en die Nuwe Testamentiese weergawe van Psalm 91. Psalm 91 sê: Hy sal jou red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie. Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie. Jy sal jou voet nie teen ‘n klip stamp nie. Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. Dit ALLES moet ons lees in die lig van die oorwinning van Christus in Romeine 8: wie sal ons skei van die liefde van Christus? Verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Ek is daarom versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. NIKS kan ons skei van God se liefde nie; NIKS kan ons pad na die heerlikheid stuit nie!

 

Laat ons daarom, broers en susters, in hierdie tyd nie rondhardloop soos die wêreld om ons heen nie. Laat ons nie in vrees lewe nie. Diegene wat vir die hier en die nou lewe – húlle is bang. Dit is daardie mense wat nie verstaan dat die lewe nie voortdurende voorspoed inhou nie, maar ‘n pad is van lyding na heerlikheid – dit is hulle wat tans paniekerig rondhardloop. Maar die Christen behoort van beter te weet. Ons weet van lyding in hierdie lewe (ag, hoe weet ons dit nie!), maar ons hoop op die heerlikheid waarheen ons oppad is. En op die pad daarheen (op die pad van lyding tot heerlikheid) skuil ons by die Allerhoogste en vernag ons in die skaduwee van die Almagtige (Ps. 91:1). Op die pad daarheen vertrou ons op ons God, en maak ons van Hom ons toevlug en bergvesting (Ps. 91:2). En dit doen ons deur naby die Here te bly – naby sy Woord (immers, só leer ons die Naam van die Here ken – vers 14), en in gebed (deur Hom aan te roep in die nood – vers 15). Dit doen ons deur die Here te soek in die eredienste en ywerig met die gemeente saam te kom (vir sover die getalle ons dit toelaat – laat ons net nie uit vrees die eredienste stop nie!). Die beste plek vir die Christen in hierdie tyd is in die kerk, saam met die volk van die Here. Die beste plek vir die Christen in hierdie tyd is in die Woord – persoonlik en gesamentlik (waar moontlik). Die beste plek vir die Christen in hierdie tyd is in die gebed – alleen en saam. Só skuil ons by die Allerhoogste, en só vernag ons in die skaduwee van die Almagtige Koning. Broers en susters, laat ons mekaar met hierdie Psalm bemoedig. Die Here is Koning en niks kan Hom keer nie. En dieselfde geld vir elkeen wat by Hom skuil. Daarvoor het jy geen versekeringspolis nodig nie. Daarvoor ontvang jy die belofte van die Here, wat in Christus ja en amen is.

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 2:4 en 6

Wetslesing

Sing Ps. 89:6

Gebed

Sing Ps. 89:15 en 17 

Lees: Romeine 8:31-39

Sing Ps. 90:1 

Teks: Psalm 91 

Preek

Amenlied Ps. 91:6-8

Gebed

Slotsang Ps. 73:7 en 10 & Ps. 150:3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen