Hierdie psalm is geskryf deur Dawid, na aanleiding van die episode in sy lewe toe die Filistyne hom gevang het in Gat, staan daar in vers 1.
Net soos Psalm 34 het hierdie psalm ontstaan in een van die moeilikste tye van Dawid se lewe,
toe hy in sy eie land nie meer veilig was nie, en sy skoonpa Saul hom agtervolg het.
Toe hy in ‘n stad van die Filistyne gaan probeer wegkruip het,
vanaf Nob, waar hy onverwags opgedaag het, en waar die priester Ahimeleg hom die toonbrode gegee het vir hom en sy manne se honger, en waar Goliat se swaard skynbaar opgeberg was, wat hy toe saamgevat het.
Van daaraf het hy toe rigting gekies na die Filistynse stad Gat, ‘n klein 50 km verder.
Maar ook daar het hy nie anoniem gebly nie.
Was dit miskien Goliat se swaard wat die mense daar herken het?
In elk geval, kort voor lank het die Filistyne in Gat agtergekom hy is die man wat Goliat verslaan het.
Dawid het toe daar ‘n senu-ineenstorting beleef.
Ek het in die preek oor Psalm 34, ‘n paar weke gelede, al kortliks hieraan aandag geskenk.
Want ‘n gangbare uitleg van hierdie geskiedenis is dat Dawid homself bewus kranksinnig gehou het.
Tog is daar in die Hebreeuse teks van die Ou Testament nie aanleiding om dit bewus so te vertaal nie.
Wat daar letterlik in Hebreeus staan is dat Dawid verander het wat betref sy verstand.
Toe Dawid naamlik merk dat die Filistyne hom herken, dat koning Agis se dienaars selfs die slagspreuk onthou het wat daar destyds in Israel gesing is: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende”, toe het hy, soos daar in 1 Samuël 21:12 staan, baie bevrees geword.
Hy het totaal wanhopig geword, beseffende dat hy nou vasgekeer was in ‘n Filistynse stad.
In 1 Samuël 21:13 staan dat hy op die deure van die stadspoort gekrap het.
In die Septuaginta, die eerste Griekse vertaling van die Ou Testament, wat al van voor Christus dateer, staan dat hy op die deure van die stad gebons het.
Kennelik het koning Agis dadelik opdrag gegee om die stadspoorte te sluit, om ontsnapping te voorkom.
Dawid kon nie meer uitkom nie, hoe hard hy ook op die poortdeure gekrap of gebons het.
Tema: Vind jou troos by Hom wat elke traan tel
Om so ‘n senu-insinking te hê, is nie verbasend, as ons in ag neem wat Dawid alles meegemaak het nie.
Koning Saul, sy skoonpa, wat sy spies na hom geslinger het.
Ternouernood het hy aan die dood ontsnap.
Hy moes toe later van sy vriend Jonatan afskeid neem, omdat hy in die paleis nie meer veilig was nie.
Later het Dawid se soldate sy huis omsingel.
Saul laat alle priesters van die stad Nob, sowel as hulle vroue en kinders, afslag net omdat hulle vir Dawid gehelp het.
Dit sal nie verbaas dat Dawid alreeds oorspanne was, toe hy in die stad Gat aangekom het nie.
En tot sy skok blyk toe dat die mense hom daar herken, en hy word gearresteer.
Dit is dus nie verbasend dat Dawid sy selfbeheersing verloor het nie.
In sy radelose angs het hy moontlik nog ‘n laaste poging gewaag om te ontsnap, maar toe blyk dat die stadspoorte al gesluit was.
Al wat hy kon doen, was krap en bons op die houtdeure en die speeksel in sy baard laat afloop, soos wat hy skreeu.
Maar dan gebeur die wonder.
Om onverklaarbare redes laat koning Agis hom toe om die stad weer te verlaat.
In hierdie psalms, Psalm 34 en 56, dank Dawid Hom vir sy uitredding.
Teen alle verwagting in het die HERE hom op wonderbaarlike wyse gered uit die hand van koning Agis.
Dawid was goed bewus dat hy amper nie meer daar was nie.
Soos hy in 1 Samuël 20 sê: “daar is maar net een tree tussen my en die dood!” (1 Sam. 20:3)
En so skuil Dawid nou in die woestyn.
Binne die kwessie van ‘n paar weke het hy alles verloor: sy vrou, sy vriend, sy huis, sy werk, sy veiligheid, sy eer, sy kos.
Net sy lewe het hy nog oor.
Hy moet in ‘n grot slaap, as mens van slaap kan praat, want heeltyd moes hy sy ore spits of daar verdagte geluide nader kom.
Hierdie omstandighede laat mens vers 2 van die psalm verstaan: “Wees my genadig, o God, want mense vertrap my ...” Hulle “verdruk my die hele dag.”
Nêrens was hy meer veilig nie, alles het hy verloor.
Elke nuwe dag was ‘n dag vol onsekerheid, vol heimwee na dit wat hy verloor het.
Te midde van hierdie lewensgevaar vlug hy na God, vers 4:
“Die dag as ek vrees, sal ek op U vertrou.”
Gemeente, Dawid was nie ‘n geloofsheld in die sin dat hy senuwees van staal gehad het nie.
Ook sy senuwees het geknak.
Ons moet nie na hom opkyk as ‘n kragtige persoonlikheid nie.
Die Bybel skryf ook nie oor hom as ‘n held nie.
Die Skrif openbaar hom as ‘n ellendige mens, by tye ‘n senuwrak.
Maar juis in hierdie haglike omstandighede vlug hy na sy God.
Dit is waarin ons hom kan navolg.
Ja die Skrif gaan nie oor geloofshelde nie.
Dit vertel oor gewone sterflike onseker mense, wat hulle toevlug neem tot God.
Dink ook aan iemand soos die profeet Elia.
Ook hy het op ‘n stadium in sy lewe ‘n senu-insinking gehad.
Koningin Isebel het onophoudelik probeer om hom dood te maak.
Selfs nadat dit so duidelik by die berg Karmel geblyk het wie die lewende God is, het sy nie opgehou nie.
Elia moes ook die land uitvlug.
Hy het in die woestyn onder ‘n bossie gaan lê, geen moed meer vir die lewe gehad nie.
Neem nou maar my lewe, het hy vir die HERE gevra – 1 Konings 19:4.
So ook die profeet Jeremia.
Hy kla by die HERE: Ek is ‘n belagging die hele dag, almal saam spot met my – Jeremia 20:7.
Die moed het in sy skoene gesink.
Selfs oor die grootste Profeet in die Bybel staan daar:
“Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad ... Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte ...” (Jes. 53:2-3)
Ook Hy, ons hoogste Profeet en Leraar, ons Here Jesus Christus, het angsaanvalle gehad.
Ook Hy het die pyn van die dood geken.
Dit het hom laat huil (Joh. 11:35), toe sy vriend Lasarus gesterf het.
En met die dood op die voorstoep, het Hy in die tuin van Getsemane diep bedroef en benoud begin word (Matt. 26:37).
Hy het vir sy dissipels gesê: “My siel is diep bedroef tot die dood toe” (Matt. 26:38).
Ja Jesus het in alle opsigte soos ons mense geword, ook wat betref swakheid, kwesbaarheid, angstigheid.
Hy kon volledig saamvoel met wat Dawid moes deurgemaak het, soos wat dit hier in Psalm 56 beskryf word.
Hy kon volledig meegevoel hê met Dawid, en hoekom dit so ver gekom het dat Dawid ‘n senu-insinking gehad het.
Die aanhoudende onsekerheid was vir Dawid slopend.
Ons proe dit in hierdie psalm.
Vers 7: “Hulle val aan, lê en loer – hulle let op my hakskene ...”
Dawid ervaar dat hy die heeltyd agtervolg word.
Saul en sy soldate volg hom op die hakke.
Wanneer gaan die dag kom dat hulle hom te slim af is?
Hoe lank moet dit nog voortduur?
Dawid is, soos die ou uitdrukking sê, tussen die duiwel en die diep blou see.
Aan die een kant weet hy, hy mag nie die swaard in eie hande neem, hy mag nie sy hand slaan aan die gesalfde van die HERE nie.
Aan die ander kant vra hy homself af: Maar wanneer gaan die HERE dan ingryp?
Sal die HERE betyds ingryp?
Vers 8 – sal Saul en sy trawante steeds wegkom met hulle ongeregtigheid?
In hierdie psalm gaan Dawid in hoër beroep by die HERE.
Hy neem die swaard nie self in hande nie.
Maar wie in hoër beroep gaan, moet soms senutergend lank wag.
Dit is die ultieme toets in vertroue.
Hy voel magteloos onder Saul se skrikbewind.
Hoe lank gaan die HERE dit alles ongestraf laat?
Tog vind Dawid rus by die hoogste gesag, by sy God.
Vers 9, ons teks, is ‘n pragtige geloofsbelydenis:
“U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?”
Die woord omswerwinge kan òf dui op al sy rondswerwinge in die woestyn, òf as dit vertaal word met omwentelinge, dan kan dit dui op hoeveel keer hy homself op sy bed omgedraai het, wysende dus op sy slapelose nagte.
Dawid vind rus in die wete dat die HERE hom sien, daar waar hy in die woestyn ronddwaal, daar waar hy in die grot op sy bed rondwoel in slapelose nagte.
God hou sy trane in sy kruik.
Die Hebreeuse woord wat hier met kruik vertaal is, dui oorspronklik op ‘n leer watersak, sê maar die waterbottel wat die mense toe in die woestyn gebruik het.
Die woord word ook elders in die Ou Testament gebruik, waar dit vertaal is as leersak (Psalm 119:83), of wynsak (Josua 9:4).
Onder sommige volke in Palestina was daar die gewoonte dat vroue hulle trane in ‘n botteltjie opgevang het.
Maar of Dawid na hierdie gewoonte in vers 9 verwys, is nie duidelik nie.
Wat wel duidelik is, is dat God elke traan wat Dawid huil, getel het.
Hulle is boekhoudkundig akkuraat deur Hom opgeskryf.
Dit is vir Dawid ‘n groot troos.
Die HERE sien sy ellende, die HERE ken sy ellende.
Die HERE is bewus van elke detail van sy lewe.
En op sy tyd sal Hy reg verskaf.
Dawid vind troos daarin dat die HERE weet.
Hierin lê vir ons ook die belangrikste boodskap van die Psalm.
Ook vandag vloei daar baie trane op aarde.
Die aarde is deurdrenk van trane.
In die eerste plek trane as gevolg van algemeen menselike leed, waaronder sowel die ongelowiges as die gelowiges gebuk gaan.
Die Corona Pandemie het baie verdriet gebring, in amper elke land op aarde.
As onreg of leed ‘n mens tref, het mens die neiging om te wil vergeld, wraak te wil neem.
Maar dit is nie altyd moontlik nie.
Dit maak nie altyd sin nie.
Wie moet skuldig gehou word vir die Corona Pandemie?
As jy Covid-19 kry, kan jy die persoon wat jou aangesteek het blameer?
Was die pandemie ‘n bewuste daad van sommiges in China?
Of was dit agterlosigheid van sommiges in China?
Deur die eeue was daar al siektes, pandemies, rampe wat die mensdom getref het.
Ontelbare spreekwoordelike tranekruike vol.
Dit was nie net in die verlede so nie, ons weet dat dit in die hede nog steeds nie verby is nie.
Die leed op aarde duur steeds voort.
Maar dit is die troos van Psalm 56, die HERE hou register daarvan.
Elke traan wat gestort word, word opgevang, word te boek gestel.
Dit mag ons rustig maak, al woed daar ‘n pandemie rondom ons.
Tog gaan Psalm 56 nie net oor algemeen menslike leed nie.
Daar is nog ‘n dieper leed, wat in hierdie psalm figureer.
Dit het te make met die groot stryd, die groot antitese in die Bybel, die stryd tussen goed en kwaad.
Die stryd tussen die slangesaad en die vrouesaad, verwysende na die moederbelofte, Genesis 3:15.
Saul se agtervolging van Dawid moet in hierdie lig gesien word.
En Dawid het dit besef.
Dawid het besef dat God Saul as koning verwerp het, juis omdat hy van die waarheid begin afdwaal het, omdat Saul nie meer die HERE met ‘n onverdeelde hart gedien het nie, omdat God se Woord vir hom nie meer deurslaggewend was nie.
Die reformasie waarmee Samuël na die Rigtertyd begin het, om die volk terug te roep na die HERE, weg van die afgode soos Baäl af, daardie reformasie het begin versand onder Saul se regering.
Dit was die rede hoekom die HERE Samuël opgedra het om ‘n nuwe koning te salf.
Dawid het besef dat dit nie net oor hom, oor sy lewe gaan nie, maar dat meer op die spel was.
Hierdie agtervolging was onderdeel van satan se aanslag op God se planne met sy uitverkore volk.
So het Dawid gely, nie net oor sy persoonlike omstandighede nie, maar ook om God se volk.
Op dieselfde manier sou Paulus later ook ly, nie net omdat hy persoonlik leed aangedoen is, nie net omdat die mense hom probeer stenig het nie, maar veral het hy pyn gehad oor die toestand van God se kinders, van Christus se kerk.
Hy skryf aan die Filippense met trane in sy oë, juis as hy dink aan hulle wat as vyande van die kruis van Chrisuts wandel – Filippense 3:18.
Ja hierdie pyn oor dit wat Satan op aarde stukkend maak, is ‘n leed wat dieper gaan as die algemeen menslike leed.
Juis die besef dat dit oor sake van ewigheidswaarde gaan, maak dit pynliker as mens sien hoe die duiwel dinge stukkend kan maak.
Die pyn by Dawid oor die goddelose koers wat Saul ingeslaan het, was ‘n dieper pyn as die persoonlike pyn wat hy as vlugteling moes deurmaak.
Die pyn wat Paulus gevoel het oor hulle wat hulle rug op Christus gedraai het, dink aan sy eie volksgenote die mede-Jode wat die Messias verwerp het, dit was ‘n pyn wat vir hom erger was as die pyn van die klippe wat hom getref het, toe die mense hom probeer stenig het.
Dieselfde geld vandag nog steeds.
Nie alle pyn is dieselfde nie.
Die pyn wat ons byvoorbeeld meemaak as iemand te sterwe kom, is ‘n ander pyn as wat ons voel as ons hoor dat daar ‘n egpaar in die gemeente is wat gaan egskei.
Laasgenoemde pyn is eintlik erger.
Die pyn wat mens ervaar as jy sien hoe Christus se kerk afdwaal van sy Woord, is in sekere sin erger as die pyn wat ‘n pandemie kan veroorsaak.
Op daardie stadium toe Dawid hierdie psalm gedig het, het hy magteloos gevoel.
So kan ons ook magteloos voel, nie net teenoor ‘n pandemie nie, maar soms ook teenoor die invloed van die satan in die wêreld, en selfs in kerke.
Maar temidde van ons magteloosheid mag ons opkyk en houvas vind by God.
Sy tyd sal kom, sy tyd om te vergeld, sy tyd om te herstel.
En in die tussentyd weet ons dat niks Hom ontgaan nie.
Al my trane is in u kruik.
In u boek skryf u elke tranedruppel op.
Die HERE is bewus van al jou, al ons leed.
Al jou slapelose nagte.
Al jou omswerwinge.
Vind jou troos by Hom wat elke traan tel.
In Psalm 56 dank Dawid die HERE dat hy sy lewe gered het, toe dit bedreig was in die Filistynse stad.
Hy neem homself voor om sy dank ook tasbaar te maak deur, sodra hy in die geleentheid is, aan God sy lofoffers te bring.
Laat ons Dawid nasê: “Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan ‘n mens my doen?”
Aan die einde van die dag is ons stryd nie teen vlees en bloed nie.
Daar is ‘n groter stryd gaande, Paulus skryf oor die bose geeste in die lug – Efesiërs 6:12.
Dit is die stryd tussen die slange- en die vrouesaad.
Vir hierdie stryd help gewone wapens nie, dit het Dawid ook besef.
Vir hierdie stryd het ons die wapenrusting van God nodig.
Gemeente, laat ons nie in hierdie grendeltyd die geestelike wapenrusting ‘n rukkie uittrek nie.
Al kan elkeen nie elke Sondag kerk toe kom nie, laat ons trou bly inskakel op die eredienste tuis.
En as ons die geleentheid kry, laat ons trou die eredienste bywoon.
Miskien gaan die grendeltyd ook ‘n siftingstyd wees.
Gaan die kerke in ons land na afloop daarvan dalk leër wees as daarvoor?
Laat dit nie in ons gemeente die geval wees nie.
Die HERE sien en weet alles, selfs al jou trane is getel.
Hy weet wat in jou hart aangaan.
Hy sien jou nie net as jy op Sondag in die kerk sit nie, maar ook as jy op Sondag tuis inskakel op die erediens.
Jou bywoning is nie ‘n goeie werk om jou saligheid mee te verdien nie.
Maar dit is bitterlik noodsaaklik, om jou geestelike wapenrusting in top kondisie te hou, om jou by Christus te bewaar.
Want net soos Dawid se agtervolging dag en nag voortgeduur het, so ken die duiwel geen ruspouse in sy agtervolging van hulle wat aan Christus behoort nie.
Moenie hom ‘n voet in die deur gee nie.
Let op dat die duiwel, die sondige wêreld, of jou sondige ou mens, jou nie by God en sy diens weglok nie.
Die HEER is daar, Hy hou die wag,
so gaan die donker uur dan om (Ps. 46:2 berymd).
In Christus weet ons dat die donker uur sal verbygaan.
Die groot stryd op aarde het Hy besleg.
Ons trane is nie tevergeefs nie.
Vind jou troos by Hom wat elke traan tel.
Hy hou boek van elkeen van hulle.
En die dag sal kom dat Hy al die trane van die oë sal afvee – Openbaring 21:4.
Dan sal daar geen dood meer wees of droefheid of geween of moeite nie.
Dan sal Hy wat op die troon sit, alle dinge nuut maak.
Hierdie woorde is waaragtig en betroubaar (Openb. 21:5).
Amen.
Votum
Seën
Ps 116:1,2
Wet
Ps 116:5,6,7
Gebed
Skriflesing: Psalm 56
Ps 56:1-3
Teks: Psalm 56:9
Preek
Ps 46:3,4,6
Gebed
Kollekte
Ps 56:4
Seën