Ons liefdevolle God, sit op die troon van sy geregtigheid en handhaaf so sy heiligheid

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-05-10
Teks: 
Jesaja 5
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus

Broers en susters, jongmense en kinders

By die lees van ons teks sien ons voor ons die profeet Jesaja in Jerusalem op ‘n plek waar ‘n skare mense saamgedrom het. Hy dring aan om ‘n lied oor sy vriend en oor sy vriend se wingerd te sing. Hy sing die lied vir die inwoners van Jerusalem en die mense van Juda. 

Hierdie lied het geklink na ‘n liefdeslied – die verhouding eienaar en wingerd kon hier verwys na die verhouding tussen ‘n man en vrou. Maar dit was in werklikheid net die inleiding tot ‘n Klaagsang deur die Heilige God oor die onreg van die volk van sy liefde, ‘n oordeel wat die God van Israel aangehef het teen Juda, en Jerusalem. Die gelykenis van die eienaar en sy wingerd het God se ondankbare en liefdelose volk se sonde oopgevlek op ‘n wyse waar hulle die eienaar gelyk sou gee, en van alle blaam onthef vir die mislukte oes en moes toegee dat die mislukking by die wingerd lê wat nie reageer het op die eienaar se liefdevolle sorg nie.

Jesaja vra die aandag vir sy verkondiging van God se Woord met gebruik van hierdie gelykenis waarskynlik tydens die regering van koning Jotam van Juda. Van koning Jotam het ons gelees dat hy gedoen het wat reg was in die oë van die Here. Ook in 2 Kronieke 27 kan ons oor hom lees.
Hy het in sy pa Ussia wat reg gedoen het in die oë van die Here, se voetspore gevolg.
Hy het die Boonste Poort van die tempel gebou.
Hy het stede in die gebergte van Juda gebou. In die bosse het hy forte en torings gebou – verdedigingswerke. Hy het vir die veiligheid gesorg.
Hy het teen koning Aram wat die Here teen hom gestuur het, suksesvol oorlog gevoer. Hy het magtig geword.
Tog het hy die offers en rook op die hoogtes toegelaat.
Hy het nie die tempel besoek nie.
Hy het die volk toegelaat om steeds verderflik te handel.

Op die oog af het dit wel goed met Juda gegaan. Mense het rustig voortgegaan met hulle lewens. Elkeen kon homself uitleef.
Ja, nuusberigte wat Jerusalem bereik het, het dit gehad dat die verre Assirië met magsopbou besig was. Dit was nog ‘n veraf dreiging. Onder Tiglatpileser het die reus Assirie ontwaak. Sy leërs het in verskillende windrigtings begin opruk. Die koning van Israel moes belasting aan Assirie betaal. 

Maar in Jerusalem en in Juda was dit nog rustig en was daar geen rede om benoud te raak nie. Juda het ‘n stabiele regering en goeie ekonomie gehad.

Tog, die inligting wat ons van Jotam se regeringstyd het, en die volk wat voortgegaan het om verderflik te lewe, skets vir ons ‘n situasie van God se volk wat onreg gedoen het en nie wou leef volgens die verordeninge van hulle Heilige God nie.

Die profeet se deuntjie, die belowende lied oor die eienaar en sy wingerd, die lied wat so mooi geklink het op die oor, het spoedig geword skuld en veroordeling van God se volk en dit sou alle rus vir hulle versteur.

Indien jy gedink het jy het met ‘n gewone lied van die profeet se vriend oor sy wingerd, oor die soet van die liefde van ‘n man en sy vrou te doen, het jy jou misreken. Die hoorders word terleurgestel. Hulle word nie deur die profeet vermaak nie. Inteendeel hulle word onderrig, hulle word in die kennis van God deur Jesaja gelei.

Tema: Ons liefdevolle God, sit op die troon van sy geregtigheid en handhaaf so sy heiligheid
1.    Die lied van die Heilige se liefdesorg vir en sy klag oor sy volk
2.    Die Heilige se oordeel en strafgerig oor sy volk

1.    Die lied van die Heilige se liefdesorg vir en sy klag oor sy volk

‘n Eienaar het alles gedoen om ‘n uitnemende wingerd daar te stel waarvan jy natuurlik uitnemende wyn kon maak. Wat meer is, hierdie eienaar word aan ons voorgehou as die profeet se beminde of vriend. Die profeet is vasbeslote om God in sy hoogheid te verkondig en die aandag te vra vir sy heiligheid. Maar sy heiligheid beteken nie Hy is ‘n onpersoonlike God wat vrees inboesem, onbereikbaar ver vir mense nie.

Die profeet sing oor sy beminde of vriend, die Een aan wie se heiligheid sy kinders in ‘n liefdevolle verhouding reg behoort te doen.

Met die eienaar en sy wingerd word ‘n gelykenis vertel wat uit die konteks kom van die landstreek Kanaan met sy wingerdbou. Hiervan is in die Bybel heelwat voorbeelde. (Jes 27:2-5, Eseg 15, 19:10-14, Ps 80, Matt 20:1, 21:28, 33-41, Mark 12:1, Lukas 13:6, 20:9-16, Joh. 15:1). 

Dit is toepaslik vir Israel se plek in hulle land. Die volk was omring deur die voortdurende invloed en bedreiging van die heidense nasies. Onder die oppervlakkige welvaart en vrede het die heidense wildgroei hulle alledaagse lewe beïnvloed. Die diens aan God en sy reg, en die reg aan die naaste is vanuit eie geregtigheid gedoen. God se volk het in Kanaan besondere versorging nodig gehad het - net soos ‘n wingerd omring deur wilde struike, bosse en onkruid.

Die wingerd was op ‘n vrugbare heuwel. So sou dit genoeg son, en genoeg vog en reën, ontvang het om die beste vrugte te lewer. Perfek vir wingerdbou. Die eienaar het sy beplanning goed gedoen om die heel beste druiwe te produseer.
Hy het die grond versigtig bewerk met liefdevolle sorg. Die grond van die land Kanaan is oor die algemeen klipperig. Die eienaar het die groter klippe opgetel en bymekaargestapel. Waar die klipharde grond was het Hy dit omgespit, en dit oopgebreek sodat die wingerd daarin geplant kon word.
In die voorbereide grond het hy die beste lote van die heel beste wingerdstokke geplant – edel wingerdstokke.
Hy het ook nog voorsorg getref om die wingerd te beveilig. Hy het ‘n wagtoring in die middel van die wingerd gebou. Van hierdie wingerd kon jy verwag dat dit jaar op jaar sou dra. Daarom sou daar ‘n toring van klip gebou word van die klippe wat verwyder is uit die land. Hy het die wingerd met groot sorg afgeskerm van oorgroeiing deur wilde struike van buite, en teen diere wat kon inkom en dit kon verniel en afwei. Hy het ‘n dubbele heining daar rondom gemaak – ‘n doringheining wat uit doringtakke kon bestaan of doringplante wat rondom geplant is, asook ‘n muur van klip wat met die gestapelde klip uit die land gebou is.
Hy het ‘n parskuip uitgekap, en ‘n wynvat, uit klip waarin die mos van die parskuip opgevang is. Die uitkap uit die klip, wys op die moeisame onderneming. Maar ook dit het die eienaar in sy liefde gedoen. Hy sou geduldig aan die wingerd werk en opgewonde uitsien na die oes.
…Dan sy terleurstelling. Die oënskynlik onmoontlike het gebeur. Die wingerd dra wilde druiwe, verrotte druiwe. Onbruikbaar. Na al sy arbeid was die eienaar se verwagting van ‘n uitstekende oes geregverdig. Die droewige resultaat was egter wilde druiwe. Die hoorders sou verstaan dat die eienaar deur die gedrag van sy wingerd terleurgesteld en kwaad was - hulle sou hom gelyk gee.

God tree na vore in die rol van die eienaar van die wingerd. Hy betrek die gehoor by die lied. Hulle moet ‘n uitspraak lewer. Ek, eienaar vra: Sê my, het ek iewers tekort geskiet? Is dit my skuld dat my wingerd my so terleurstel? Jesaja veronderstel van die gehoor dat hulle hulle sal uitspreek ten gunste van sy vriend. God se oordeel is dus regverdig.

Die heilige God het in geregtigheid, dit is in sy liefdevolle sorg alles vir sy wingerd gedoen. Die genade van God is almagtig en effektief, om Sy doel te bereik. Hy breek mure van weerstand af. Dit is onweerstaanbare genade, en maak die opstandige hart gewillig. God is nie beperk in sy vermoë nie. Hy het nie maar die beste onder omstandighede gedoen nie. Hy is soewerein en selfs die reënwolke gehoorsaam hom. Kyk die oorvloedige genade van God. Geen blaam kan op Hom gelê word in sy versorging van Juda nie. Hy is getrou aan sy beloftes, Hy voer dit uit.

Die inwoners en die manne van Juda was, ene ore deur die mooi lied met sy pragtige digkuns en ritme.

Maar…. ‘n Hou op die krop van die maag. Hulleself staan as aangeklaagdes en veroordeeldes voor die Heilige. Hy het in oneindige liefde alles vir hulle gedoen om sy heilige volk te wees. Maar hulle het misluk. Hulle is skuldig bevind dat hulle God se liefdevolle sorg, die geregtigheid waarmee Hy sy volk gelei het om sy heilige volk te wees, voortdurend vertrap het en daarmee die grote God, die Heilige van Israel ontheilig het.

Die gelykenis word ‘n bedreiging vir die volk. Hy is nie maar net ‘n aanklaer nie, maar die regter wat veroordeel. Soveel as wat Hy gedoen het vir die wingerd so is daar maar net een uitkoms: die wingerd moet vernietig word. Juda het Hom nie as die Heilige erken nie - hulle het Hom verneder. Daarom sal Hy nou Homself bewys as die verhoogde Een deur oordeel oor sy volk uit te oefen. So toon Hy Homself as die Heilige by die uitvoering van al sy werk, sowel sy seën as sy straf, sodat Hy altyd verheerlik sal word.

Met kragtige taal het God gesê: Ek sal wegneem. Ek sal stukkend breek. In wegneem van die doringheining en in stukkend breek van die muur sal Ek dit wegbreek. Wanneer die heining verwyder word kan diere kom en die wingerd vreet en dit vertrap. Sodat niks daar meer groei nie. Die wingerd sal nooit druiwe dra nie. God sal dit ‘n wildernis maak. Die wingerd sal nie meer gesnoei en die grond nie meer omgespit word nie. Dorings en distels sal opskiet en dit oordek.  God sal die reën weghou van die wingerd.

Julle luisteraars hierdie is nie maar net ‘n lied nie. Die regdoen aan die Here is hier op die spel. Dit gaan oor die verhouding tussen die Here en julleself.  Die Here het gewag dat julle regdoen, julle wat sy tuin van verlustiging moet wees, julle is die wingerd van die Here wat Hy self bewerk het maar wat nie op sy troue sorg reageer het nie. 

Altyddeur het Hy hulle goed versorg. Maar herhaaldelik het hulle geantwoord met ontrou, afval, onreg en ongeregtigheid. 

Hierin is God se verkiesing van Israel; dat hulle sy verbondsvolk is deur wie Hy sy heil werk. Daar was ander nasies, maar op Israel het die Heilige sy liefde gestort. In die versorging van haar het Hy Hom verbly. Hy het sy volk oorlaai met seën en so sy genade bewys. Hy het haar die wet en die profete gegee. Hy het sy weg duidelik aan haar gemaak. Sy sou die lewende bewys wees van die Verbondsgod se goedheid en barmhartigheid, sy heiligheid en geregtigheid. Sy was nie beter nie, maar in haar sou God se heerlikheid blink.

Israel was verkies en geseën deur God, deur sy wonderlike genade. Sy het egter deur haar voortdurende ongeregtigheid gereed geraak om deur Hom verwerp te word.

God het geloof verwag in Hom as haar God. Kennis van Hom as die God wat reg aan haar doen. Maar wat was die resultaat van sy keuse en werk aan Israel? Was liefde vir Hom en die naaste vir haar alles?

Hy verwyt haar.

Deur regdoen, sou hulle God se Naam heilig, sou hulle sy heilige volk wees. Sou Hy verhoog wees.
Maar hulle vertoon bloedvergieting.

Hulle moes inwendig geregtigheid beoefen maar daar was net ‘n geroep/geskreeu/gejammer van die mense wat deur hulle verdruk word.

2.    God se oordeel oor sy volk ter wille van Sy heiligheid

Kom ons kyk nou na God se oordeel oor hulle sonde dat Hy hoog bo sy hoogmoedige en eiesinnige volk is. Dit gebeur met die uitspreek van die ses weë of verskrikkinge. Hy bevestig sy heiligheid deur sy reg te handhaaf teenoor hulle onreg, verse 8-23.

Eerstens 8-10: Hoe verskriklik sal dit wees vir die begerige en gierige volk….

Grondhonger welgestelde eienaars het die een na die ander eiendom verkry. Onregmatig of ongevoelig vir die arm man se enigste besitting. Die een huis raak aan die ander, die een stuk grond aan die ander. Die welgestelde grondeienaar sluit sy oë vir die armes, gee nie gehoor vir die verordening van God nie. Hy is nie tevrede voor hy alles verkry het nie. Uiteindelik is daar alleen maar ‘n paar groot grondbaronne. Maar die Here sal sy geregtigheid uitvoer. Sy heiligheid word misken: hierdie eienaars het die armes van hul eiendom afgedruk, hierdie eienaars se huise sal ‘n woesterny word, hulle groot en mooi huise sonder inwoner. Jerusalem sal ‘n spookdorp word. Die verlatenheid sal die gierigheid insluk. En wat die wingerd- en landbou aangaan, dit sal heeltemaal ineenstort. Die oeste sal misluk. Die seën van God sal nie daarop wees nie.

Tweedens 11-17: Hoe verskriklik sal dit wees vir die selfgerigte losbandige volk….

Die straf van totale verlatenheid word gevolg deur die wee teen hulle wat in dronkenskap en losbandigheid lewe. Die genietinge van die lewe word deur hulle van vroeg tot laat nagejaag. Vroeg in die more word sterk drank gedrink en laat in die nag is daar wynpartye. Musiek en wyn by ete is sulke wonderlike maats maar jy kan so opgaan in al hierdie goeie dinge van die lewe en die goedvoel en vrolikheid najaag dat op die dade van die Here nie meer ag geslaan word nie en die werk van sy hande nie meer raakgesien word nie.

Hulle wat so sonder om die Here te wil ken, die sogenaamde goeie dinge van die lewe najaag en misbruik, kan die indruk hê dat dit die lewe is. Hulle wat weggevoer was deur dronkpartye met oorvloed van drank sal van dors en honger versmag. Die volk sien nie hulle rol in God se verlossingsplan met die toekomstige ballingskap nie - aan kennis van God se wil ontbreek dit weens hulle sonde. Vir regdoen aan God het hulle nie tyd nie want hulle eiesinnige leefwyse vra te veel van hulle. Van hulle luidrugtige hoogtes en uitgelate wees, gaan hulle deur die doderyk se mond in die dieptes van sy keel wegsink. 

Daar was baie deur die profete gepreek, maar die volk het nie geluister nie - nou val die oordeel. Die finale oordeel wat op die wereld en op God se volk Juda gaan kom. Hulle wat deur God gekoester was as sy volk, om ‘n seën te wees vir die wereld, gaan nou onder van ‘n volk wat Hy stuur, en ballingskap is die gevolg. 

Gebrek aan kennis word hier gestel in terme van sonde. Deur sonde word die werking van God vir hulle verduister. Hulle was so in sonde dat hulle nie wou weet en kon weet dat die krisis wat sou volg, resultaat van hulle eie optrede is nie, en dat in die krisis die oordelende en straffende hand van God is nie. Hulle kan nie die tekens van die tye reg interpreteer nie. Hulle het op ‘n heidense manier in die beloofde land geleef, nou sal hulle op ‘n heidense manier in ‘n heidense land leef. Hulle het op dierlike wyse geleef en op hulle sintuie reageer, nou gaan hulle gestraf word sonder om te besef wat gebeur. Gaan die beloftes van God van die Mesias dan onder in die doderyk? Sal die beloofde seën aan die volk van God se liefde heeltemaal tot niet gaan?

Sien die Here alleen kan ‘n weg baan. Omdat Hy die Heilige is. Deur oefening van sy geregtigheid handhaaf Hy sy heiligheid en is gemeenskap met sy volk moontlik. Maar as sy volk hulle onttrek van gemeenskap met Hom omdat hulle in onreg teen hom en hulle naaste volhard bring sy geregtigheid sy strafgerig. God se doel met die straf is die besliste vernedering van die sondaars en die verhoging van die Heer. 

Vanaf die perspektief van die oordeel en straf van die Here van die leërskare, begryp ons sy verhoging.  Hy is die Here van die leerskare, wat die gebeure van die geskiedenis stuur, en wat Hom deur strafgerig as die heerlike openbaar. Hy is God wat heilig is. En soos Hy heilig is, begeer hy ‘n volk wat heilig is. En deur sy dade van geregtigheid toon Hy aan ‘n volk wat nie wou heilig wees nie, dat Hy heilig is. Mense sal dit erken en in die dag van oordeel Hom so bely. Die boodskap van die boek Jesaja kan saamgevat word met die hulp van vers 16. God het die volk tot sy hoogte opgetrek om hulle op die hoogte as heilige nasie te laat bestaan. Hy laat Hom nie aftrek nie, Hy gaan nie omlaag nie. Hy word verhoog, geheilig deur sy geregtigheid te doen. 

Die Here gee sy onwillige volk oor aan die ballingskap en dood wat die hongeriges en dorstiges opeet. Lammers sal wei waar eens die wingerd van die Here was. Die straf is volbring, die oordeel uitgevoer. Vreemdelinge wat rondtrek en net tydelik op ‘n stuk land vertoef se diere sal op die puinhope wei.

Derdens 18-19: Hoe verskriklik sal dit wees vir die uitdagende en ongelowige volk…..

God se volk het nie gelet op die werk van die Here en sy hande nie. En wat Hy voer deur sy raad in die tyd, in die wereldgeskiedenis. Daarom reken hulle: Met die Here, die Heilige van Israel hoef nie meer rekening gehou te word nie. Laat ons maar sien of Hy iets kan doen. Laat sy raad maar naby kom. Daarom Wee oor hulle wat in ongeregtigheid verstrik is. Soos met dik tou is hulle aan die sonde vas. Maar weet dan trek hulle ook soos met wa-toue die ongeregtigheid soos ‘n wa na jou toe. Jy is daaraan vasgeketting. …Maar hulle ontken dit. 
Verdorwe redeneer hulle: As God wil hê ons moet die onsin glo moet Hy maar bewys dat dit waar is. Gemeente, ons ken hierdie reaksie in ons tyd. Die spot met God se geregtigheid. Aan die anderkant is daar die blindheid vir God se liefde. Ons ken die vraag: Waarom doen Hy nie iets aan ons ellende nie? Hulle is uitdagend: laat Hy inderdaad sy werk verhaas en gou maak, laat Hy inderdaad sy werk laat sien. Die werk van die Here hier sien op sy oordeel. Dus - laat Hy kom en gou oordeel. Sodat ons dit kan sien. Jy kan nie verwag dat ons moet glo as ons nie kan sien nie.

Vierdens 20: Hoe verskriklik sal dit wees vir die volk wat die waarheid verydel…..

In Juda en Jerusalem is die norme omgekeer. Ken ons dit nie self in die realiteit van elke dag nie? ……Sleg word goed genoem, goed sleg. Wanneer jy God nie meer in sy geregtigheid ken en bely nie, maar in eiegeregtigheid leef, onderskei jy ook nie meer waarop dinge werklik aankom nie. Met die Here se verordening kan jy nie meer mee werk nie. Ons tyd, vra ander norme. Die samelewing het verander. Die tyd vra dat jy jou aanpas. Maksimum persoonlike geluk en voorspoed gaan voorop. Eie idees, gevoelens, menings.

Die vierde verskrikking loop uit op die vyfde en die sesde. Vers 21: Hoe verskriklik sal dit wees vir die volk wat wys is in sy eie oë

Die mense is wys in hulle eie oë en soek nie meer wysheid van God nie. Die vrees van die Here sê vir hulle niks nie.

En Vers 22,23: Hoe verskriklik sal dit wees vir die volk wat die reg verydel

As die leiers en die helde van die volk hulle laat verlei deur die sosiale lewe van partytjies en losbandigheid, en omkopery normaal word, om die skuldige regverdig te verklaar en die reg van die regverdige weg te neem, word God se geregtigheid uitgedaag.
Hiermee word die oordele oor verskillende onreg deur die volk afgesluit.

Die som op die totaal van die volk se onreg word in verse 24 – 30 met die strafgerig van die Heilige van Israel beantwoord

Die volk het God se liefdevolle sorg vir hulle verlaat en …sy oordeel oor hulle is daarom verdoemend.

Hulle wortel sal soos poeier word en hulle uitspruitsel soos stof deur die vuur want: Hulle het die wet van die die Here van die leerskare verwerp. Hulle het die Woord van die Heilige van Israel verag. 

Dit wil sê – hulle het die wil van God opsetlik teengestaan en hulle het sy verlossing van hulle in die wind geslaan.

Daarom – het sy toorn teen hulle ontvlam.

Hy het sy hand teen hulle uitgestrek en hulle swaar getref. En Hy het voortgegaan om sy hand teen hulle uit te strek. Wat oorbly is dood.

Sy uitgestrekte hand is soos ‘n banier wat Hy in die lug hou. ‘n Saamkompunt vir die vyandige nasies, ‘n volk aan die einde van die aarde vir wie Hy fluit en dan kom hulle haastig. Hierdie magshonger volk kom toegerus met uitstekende wapens aangejaag. Hulle kan oor enige terrein beweeg, hulle strydwaens warrel stof op soos ‘n stormwind. Hulle het die mag in hand, maar in werklikheid is hulle self gereedskap in God se hand.

Die Here se volk word soos prooi deur ‘n leeu gegryp en weggesleep. Niemand kan hulle red nie. Die vyand sal oor Juda regeer.

Bedags sal dit soos nag lyk. Teen Juda sal die vyand dreun soos die see. Op grond van die angsvolle duisternis, en die lig wat verduister is deur die wolke, kan gevra word of niemand dan hiervan gered sal word nie? Die land van Juda is bedek deur donker wolke, die swaar donkerte heers oor alles.

Hier is geen sprake van uitkoms nie. Ons lees nie van ‘n oorblyfsel nie…. Juda mag dit nie misverstaan nie. Deur die strafgerig, deur geregtigheid handhaaf die heilige God Hom en laat Hom ken as die Heilige.

Hierdie lied is verkondiging deur Jesaja van die oordeel en strafgerig van God oor sy volk se onreg. Die Heilige God handhaaf Homself deur te heers deur sy geregtigheid. Die aangekondigde strafgerig was verdoemend. Die volk het geen uitweg meer gehad nie. Daar was geen uitweg meer uit die duisternis wat deur God se straf oor hulle gekom het nie. 

Ons herken die onreg van ons tyd en ook die onreg in ons eie hart, vanuit die onreg in Jesaja 5. Indien God nie ‘n weg gebaan het nie, deur sy geregtigheid die skuld weggeneem het en die sonde versoen het nie, soos in hoofstuk 6, en sy Kneg nie soos in hoofstuk 52 en 53 ons ongeregtighede op Hom geneem het nie, omdat Hy die Heilige is nie, was ons verlore. Maar nou mag sondaars, van sondeskuld verlos, deur die Kneg wat hoog en verhewe geword het, ons Heilige God se Naam heilig. Ons bid ook daarvoor in die gebed wat ons Heer Christus ons geleer het. 

In gehoorsaamheid mag ons as heilige priesterdom en as gemeenskap van die heiliges die Heilige God saam met baie ander dien. Dit is op die Weg uit die totale duisternis van die sonde, waarop ons sy heiligheid eer en ootmoedig met Hom wandel. Die Weg waarop Sy blydskap in ons is, as lote wat vrugdra omdat ons in die ware wynstok Christus is, en waar ons blydskap in Hom volkome word.

Amen

Liturgie: 

Votum

Seën

Sing: Psalm 15:1,2

Gebed

Skriflesing: 2 Konings 15:32-38

Sing: Psalm 36:2

Teks: Jesaja 5 (veral vers 16)

Preek

Sing Amenlied: Psalm 80:5,9,10

Geloofsbelydenis

Gebed

Kollekte

Sing: Psalm 97:1,7

Seën