God verkies en roep sy gemeente met die doel dat ons ons nie laat mislei nie, maar ons oë hou op ons Here Jesus Christus wat in heerlikheid sal kom

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-03-29
Teks: 
2 Thessalonicense 1:3-12
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Paulus en sy medewerkers het reeds in hulle eerste brief die gemeente in Tessalonika uitvoerig geleer oor Christus se wederkoms en hulle vereniging met Hom. So 1Tes. 4:16-18: Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Dit het Paulus-hulle voortgesit in die tweede brief hoofstuk 1:7-10: om aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte,  wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind. Om ons teks van vanaand goed te verstaan moet ons weet dat Paulus in ons teks ‘n uitbreiding gee van die saak van Christus se wederkoms, dat dit nog nie plaasgevind het nie, in aansluiting by sy eerste brief en in aansluiting by sy prediking aan hulle, (sy prediking aan die gemeente is natuurlik nie woordeliks opgeteken en aan ons oorgelewer nie). 

Tog is die saak van Christus se wederkoms en hoe die gemeente daaroor ingestel moet wees, glashelder. 

Maar nou blyk dit juis uit die kerkgeskiedenis - vanaf Christus se hemelvaart het daar allerlei teorië oor die wederkoms van Christus ontstaan en wanneer dit sou plaasvind. Dit hou mense vandag nog so besig, om hulle in te grawe in allerlei skouspelagtige uitlegging van die eenvoudige Skrifleer oor Christus se wederkoms, dat hulle nalaat om Christus in sy heerlikheid en in sy kerkvergaderende werk voor die oog te hou en Hom die eer te gee wat Hom toekom. Dit gaan dikwels meer oor die persoon wat meen dat hy homself kan beveilig of red omdat hy meerdere wysheid het en die gebeure van die laaste dae in terme van tekens kan interpreteer en daarop reageer.

Hierdie mense soek dikwels nie die een geloof en sekerheid in God se openbaring nie maar in hulle angstigheid en entoesiasme laat hulle hulle mislei en hulle mislei weer in nuuskierigheid en paniek, ander. 

So word ook die bedreiging van COVID-19 in terme van die einde van die wêreld uitgelê. En ander soek weer ander tekens wat die wederkoms moet aandui.

Maar gemeente, God vou in hierdie brief van Paulus, en spesifiek in ons teks die geskiedenis van sy heil, sy redding van mense vir ons oop en roep ons op om Hom in die laaste dae te glo en al ons sekerheid in Hom te hê. Ons is geanker in die belofte van God se verkiesing. En ons sien uit na Christus se wederkoms wanneer sy lewende en gestorwe gelowiges Hom dan tegemoet sal gaan. En Christus so sy werk op hierdie aarde sal voltooi.

Gemeente verwag dan ons Heer Jesus Christus ten spyte van lyding en verdrukking, nie onseker nie, maar standvastig, vertroos, hoopvol op Christus. Omdat u ons God op Paulus se oproep, op sy Woord neem.

Tema: God verkies en roep sy gemeente met die doel dat ons ons nie laat mislei nie, maar ons oë hou op ons Here Jesus Christus wat in heerlikheid sal kom

1.  Ons word gewaarsku om ons nie te laat mislei en verwar te word nie, maar vas te hou aan Christus wat weerkom en ons verenig met Hom (2:1-12)

Gemeente Paulus waarsku die Tessalonisense om nie mislei te word deur mense wat verkondig dat Christus reeds weer gekom het nie. Want die wederkoms sal nie plaasvind voordat die afval van die laaste dae en die mens van sonde wat seun van die verderf is, wat hulle sal verlei met ongeregtigheid om verlore te gaan, gekom het nie.

Paulus het Christus se wederkoms en die vereniging met Hom (letterlik die byeenbring met Hom, dit is Christus se werk om sy kerk te vergader) soos in die eerste brief duidelik aan mekaar geskakel. In weerkoms en vereniging met Hom is twee naamwoorde bymekaargebring as een saak met twee aspekte, dus nie twee aparte handelinge nie, soos sommige dit wil sien nie.

Buitebybels het die handeling van aankoms en byeenbring gewys op ‘n hoogwaardigheidsbekleer soos ‘n generaal na ‘n veldslag, se aankoms. Die burgers trek hom met eerbetoon tegemoet. Die skrywer Josefus gebruik dit weer vir God se teenwoordigheid in die tempel. Met vereniging of hereniging by Christus se terugkeer word bedoel al die gelowiges – die lewendes en die gestorwenes wat versamel word rondom hulle Heer. Die finale versamel of vergader van Christus se kerk.

Die skrywers van die brief is besorg oor die gemeente in Tessalonika omdat sommige in verwarring was oor die koms van Christus, ten spyte van al die onderrig van Paulus toe hy hulle besoek het sowel as in sy brief aan hulle. Hulle was mislei deur mense wat ten onregte ‘n beroep gedoen het op Paulus se apostoliese onderwys. Daarom sy versoek: 2, moenie gou julle verstand verloor (geskud te wees in julle verstand, vergelyk met ‘n skip in ‘n storm op see) om verskrik te word nie (voortdurende ontsteltenis). Laat niemand julle op enige manier mislei nie. Die Tessalonisense was nie bang dat die dag van die Here sal kom nie, maar dat die dag reeds aangebreek het. Maar hulle moet seker weet: die Heer het nog nie gekom nie. Hulle moet vashou aan Paulus se onderrig deur sy voorskrifte in sy woorde en briewe.15.

Hulle moet weet dat verskynsels van afvalligheid en wetteloosheid sal kom voordat die dag van die Here aanbreek. Paulus en sy medewerkers verseker hulle dat dit nie so is dat Christus reeds weer gekom het nie. Hulle moet aan die evangelie hou. So sal hulle mekaar kan bemoedig. En saam uitsien na die wederkoms van Christus.

En nou gaan Paulus voort en waarsku hy ook teen die verleiding en afvalligheid wat met die verskyning van die mens van sonde gaan kom voordat Christus weer kom. Moeilike tye van lyding en verdrukking lê eers voor, voordat Christus kom.

Dit is belangrik dat die gemeente weet hoe die mens van sonde is wat nou nog teengehou word, wat geopenbaar gaan word, dit is die seun van die verderf, die teenstaander van God. Die wettelose.

Hy sal die afval van God en van sy gemeente lei.

Die oë van die gemeente moet egter op die weerkoms en onthulling van Christus wees en die vereniging met Hom. Sodat lewende en gestorwe gelowiges sy heerlikheid mag aanskou en Hom bewonder in teenstelling met die ongelowiges wat nie naby die aangesig van die Here en sy heerlikheid en sterkte op daardie dag van sy wederkoms sal kom nie, soos ons in hoofstuk 1 gelees het.

Paulus help die gemeente om nie oor die man van sonde paniekerig te raak nie. Die wetteloosheid waaronder hulle reeds ly (vers 3-12) moet nog duideliker, openlik sigbaar word, en dit sal gelei word deur ‘n mens wat Christus voluit sal teenstaan, deur Christus se teenstaander te wees. 

Hierteenoor verse 13-17, stel Paulus God in sy optrede vir sy gemeente, altyd liefde en goedgesindheid.

In die afvalligheid sal die wettelose mense hulle heeltemaal van God en sy gebooie afkeer. Die geloof loslaat. Dit is kenmerkend van die laaste dae. Christus het daarna gewys in Matt 24, Luk 8. Die Apostels het daarna gewys in 2 Tim 3, Jud 17,18.

Die mens van sonde en sy werk word in hoofstuk 2 vir die gemeente geteken. Sy koms gaan die dag van die Here vooraf, God keer sy koms, maar met Christus se weerkoms sal hy verdelg word en tot niet gemaak word deur die Here met die asem van sy mond. Die wettelose sal sy posisie nie kan handhaaf nie, sy posisie word onhoudbaar deur Christus se wederkoms wat op hande is.

In sy oormoed vergeet hierdie mens homself, oorskry hy sy grense en matig hom goddelike waardigheid aan. Sy bedoeling om in die tempel van God te sit, 4, demonstreer sy arrogansie. Hy kniel nie neer in aanbidding nie. Dit is rebelse optrede wat deur God gestraf sal word.

Dit is dierlike opposisie teen God, demonisering van die wereld, na aanleiding van Daniel en Openbaring. Deur hierdie wettelose man sal die hele onheilsgeskiedenis saamtrek tot doelbewuste verset teen die lewende en waaragtige God.

Christus se wederkoms sal vir seker plaasvind. Nadat die wettelose losgelaat is en verskriklike afvalligheid plaasgevind het. In God se raadsplan sien ons die tydelike beteuling van hierdie mens van sonde. Lees ons 2Tes 2 saam met Dan. 10 – 12, verstaan ons daar is ‘n geestelike stryd wat in die lug gevoer word. Maar wanneer Christus kom word hierdie mens se mag en lewe weggeneem. Met sy volgelinge wat die leuen liefhet.

Hierdie mens word voorafgegaan deur ander heenwysers in die geskiedenis. Die herinnering aan wettelose vervolgers uit die verlede kan ons laat vrees vir nog erger vervolgers in die toekoms. So 1 Joh 2:18: Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.

Vanuit die hemel sal die waarheid heers. Ook oor hulle wat deur die wettelose aangetrek is met verleiding en ongeregtigheid, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. Maar gemeente, kyk dit gaan nie buite die heerskappy en leiding van God om nie. God sal mense wat die ongeregtigheid liefhet, die krag van die dwaling stuur om die leuen te glo.

2.  Ons word aangemoedig om God te dank dat Hy ons verkies het tot saligheid om die heerlikheid van ons Here Jesus Christus te verkry (2:13,14)

Gemeente Paulus en sy medewerkers dank God vir die tweede keer in die brief. Hy dank God vir sy werk in die Tessalonisense, en deel mee dit is ‘n verpligting vir hulle om Hom te dank: want die gemeente word deur die Here bemin. God se liefde is duidelik daarin dat Hy hulle van die begin af verkies het tot saligheid, en dit in heiligmaking deur die Gees en in geloof in die waarheid, en waar Hy hulle geroep het deur die evangelie om die heerlikheid van Jesus Christus te verkry.

Verse 13 – 17 tree op as brug. Dit is ‘n oorgang tussen waarskuwings oor die einde, soos ons dit in hoofstuk 2 het en die vermanings oor die daaglikse lewe in die tyd tot Christus se verskyning in heerlikheid, soos in hoofstuk 3. 

Sal die Thessalonisense staande kon bly teen die wettelose teenstaander se sataniese werking? Of sal hulle ook verlei word en verlore gaan? Die waarskuwing oor die man van sonde en sy magtige krag kan jou verskrik laat. Ons ervaar aan eie lyf, gemeente, veral in hierdie tyd, verskrikkinge van die laaste dae. Sou dit nie die gemeente laat angstig wees nie omtrent die toekoms nie? 

Daar kom egter die versekering deur die apostel, 13,14. Baie mense sal vir die man van sonde val. Maar dit sal nie die lot van die gemeente wees nie. As Paulus dink aan wat kom, dank Hy God. Op grond van God se genade. Die gemeente sal nie veroordeel word omdat hulle van God afvallig sou raak nie, maar hulle sal op grond van God se verkiesende liefde gered word vir die dag van die Here. 1Tes 1:10.

Paulus spreek nou by herhaling vol vreugde oor waarom die broers en susters in Tessalonika deelgekry het aan die redding. Dit is in teenstelling met die afvalliges aan die einde van vers 12 van wie gesê is dat hulle die liefde tot die waarheid nie aanvaar het nie, omdat hulle verlei is tot ongeregtigheid.

Redding deur God en geloof deur die gemeente in die waarheid staan teenoor veroordeling deur God en geloof van mense in die leuen. Dit gaan ten diepste om God se verkiesing. Beminde gelowiges mag deel in die hemelse heerlikheid wat God aan hulle Heer gegee het. Dat hulle op grond van hulle verkiesing in die saligheid mag deel, teenoor hulle wat verwerp word en die waarheid nie aangeneem het nie, maar die leuen geglo het. 1 Tes 5:9: Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.  Hulle sekerheid is nie in enige iets wat hulle gedoen het nie maar omdat hulle uitverkies en liefgehê word deur God.13. Dit gaan om God se vrye wil en welbehae.

Jesus Christus het die gemeente liefgehad, hulle word daarom herinner aan sy kruisdood. Om sy selfopoffering tot die dood mag al die broers en susters in Tessalonika verseker wees van die blywende liefde van hulle verhoogde Heiland. Gal. 2:20: Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Die gemeente se lewe vir die heerlikheid van Christus is nie in die regte keuse wat hulle gemaak het nie om reg te doen voor die wet nie teenoor die mens van sonde en wetteloosheid nie, maar daarin dat hulle deur God uitgekies is tot redding deur Christus. God het sy keuse duidelik gemaak om die mense in Tessalonika uit te kies met die spesifieke doel om hulle te red. 

Vanaf die begin af is hulle verkies tot saligheid, – dit beteken nie van die begin van die sending in Macedonië nie maar voor die grondlegging van die wêreld. Lank voor hulle geroep was deur die evangelieverkondiging van Paulus en sy medewerkers, het God hulle al vir die redding bestem. Rom. 8:28-30, Ef 1:4,5. Die redding het hulle daarom danksy die liefde van hul Heer, Jesus Christus ontvang. Deur middel van die werk van die Heilige Gees in hulle is hulle geheilig. Hulle het die geloof in die waarheid van God ontvang. Dit is die hele begin en voortgang van lewensvernuwing en heiliging, waarin God se Heilige Gees hulle drywende krag is. 1Tes 4:3-8. 5:23.

God het hulle deur sy gestuurdes persoonlik aangespreek. Die stem van die lewende en waaragtige God het deur die prediking en bediening van die Woord tot hulle gekom. Die Woord het onder God se uitverkorenes in Tessalonika so weerklank gevind dat hierdie eerste gemeente van Christus in Macedonië ontstaan het. ‘n Gemeente wat volgens die briewe van Paulus en sy medewerkers leef in verbondenheid met God die Vader en hul Heer Jesus Christus. So het die werk van die Drie-enige God sigbaar in mense geword: die Vader in sy verkiesing tot hulle behoud, die Heilige Gees in die voortgaan van geloof en heiliging van hulle lewe, Jesus Christus in sy selfopofferende liefde en in sy hemelse heerlikheid waarin hulle kon deel. 1 Pet 1:2.

Hierteenoor sien ons die sataniese gang van die mens van sonde, van wetteloosheid wat dryf met bedrieglike tekens en wonders, sodat mense geen liefde tot die waarheid het nie, maar in die gees van die mens van sonde, juis glo in die leuen. 9-12. Gemeente, sien ons dit nie rondom ons nie? 

Maar deur die evangelie soos deur Paulus en sy medewerkers persoonlik verkondig (daarom noem hy dit ons evangelie, dit is die Evangelie van Christus deur Paulus verkondig, 1Tes 1:5) het die gemeente deelgekry aan die roeping van God. En kan hulle geheilig, uitsien na die wederkoms van Christus in heerlikheid.

3.  Ons word aangemoedig om te bid tot God dat ons standvastig, vertroos en hoopvol mag leef in goeie werke en woorde (2:15-17)

Gemeente Paulus gee eerstens ‘n opdrag. Hy roep die gemeente op om standvastig te wees, om vas te hou aan die voorskrifte wat hulle geleer is, vers 15, of deur Woord, dit is die bediening aan hulle in Tessalonika, of deur brief, dit wys na die twee briewe aan die gemeente. Teenoor misleidende geestesuitinge of ‘n misleidende brief wat rondgegaan het, of die gees van die mens van sonde wat mense mislei het, moes die gemeente hou by die evangelie van Jesus Christus wat deur Paulus aan hulle oorgelewer is. Hierdie genoemde voorskrifte wat Paulus aan hulle onderrig het het die heerlikheid van Jesus Christus op die oog en sy werk wat gerig is op sy koms in heerlikheid en die heerlike voltooing van sy vergaderende werk.

Die gemeente word deur Paulus opgeroep tot standvastigheid: dat alle gemeentelede bly by wat hulle geleer is. Hou stand! Staan vas en hou aan die voorskrifte….1 Kor 16:13, Gal 5:1, 1Tes 3:8. So kan hulle Christus se regering oor hulle lewens ervaar en sy leiding van hulle tot op die dag van sy weerkoms. Want dit wat die apostel aan hulle oorgelewer het, bied vaste grond onder hulle voete. Op die fondament moes hulle voortbou vir die inhoud van hulle geloof en hulle heilige lewenswandel voor die Here. Die Apostels se opdrag was om getuienis te lewer van Jesus Christus en die versoening wat Hy gebring het, en die mense in die leer van die Evangelie te onderrig om vry van sonde en oordeel, vir God te mag lewe.

Paulus volstaan nie met sy oproep tot standvastigheid nie, maar voeg nog ‘n gebed tot God toe, verse16,17. Daarin lê hy alle nadruk op die werk van Christus self vir sy gemeente. Jesus Christus en God die Vader word genoem. Jesus Christus is die Een waardeur die gemeente tot God bid en waardeur die heiliges van God vra en verkry. Ons kan nie op ‘n ander manier iets van God verkry nie, tensy ons dit in Christus self soek. 

Hoofstuk 2 gaan oor die sekerheid van die koms van Christus in heerlikheid en ons vereniging met Hom, ten spyte van alle klaarblyklike hindernisse op die weg. Vandag en gerig op ons lewe in Hom, lewe ons elke dag vanuit die gemeente se sekerheid van God se goeie guns aan ons, na die dag van sy wederkoms toe. In die hele brief, het sy hemelse posisie en weerkoms wat op hande is, groot betekenis vir die gelowiges op aarde. 2Tes 3:16: En mag Hy, die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse! Mag die Here met julle almal wees! 

Wat so bemoedigend vir die gemeente in allerlei verdrukking en lyding is, ook vir ons gemeente in hierdie tyd waarin ons die hand van God duidelik sien in ‘n wereld- en mensdom omvattende proporsie sien waarvoor geen mens op aarde die skouers kan ophaal nie, is God se leiding van alles en sy doel met alles vir die redding van sy kerk. Sy gemeente word nie net gered om nie saam met die mens van sonde verdoem te word nie, maar dat hulle mag deel in die heerlikheid van Christus.

Nou mag hulle en daarom sal hulle dienooreenkomstig lewe.

God het sy vaderlike liefde op ons gerig, sy ewige guns, sy lankmoedige goedgesindheid. En dit sê alles vir ons toekoms. Ook ons toekoms as gemeente, ook wanneer ons tans en die volgende weke in ons huise gekluister is en ons die groter gemeenskap van die heiliges om mekaar fisies te ontmoet, moet ontbeer. Maar ons gaan vir mekaar bid. En dankbaar God se Woord hoor en aanneem en met behulp van tegnologie bemoedig en getroos word deur die evangelie.

Gelowiges ontvang in ons teks twee gawes van God vir die toekoms. Ewigdurende troos, dit wil sê bemoediging deur God self. Hy is die God van alle vertroosting. Rom 15:5, 2Kor 1:3,4. Nie net vir die lewe van vandag in en met die gemeente nie, maar in en met die gemeente vir die koninkryk wat geen einde het nie. En dan goeie hoop. Ons lewe in God word nie deur enige pandemie of siekte bedreig nie, en kan ook nie afgesny word van God nie, selfs nie deur die dood nie - omdat ons verwag om by die koms van Jesus Christus deur Hom vergader te word om altyd almal saam met mekaar met die Heer te wees. 1Tes 4:17, 5:10. Ons het in vers 16 en 17 van God ‘n troosvolle en hoopvolle perspektief vir ons lewe vandag onder so ‘n groot bedreiging ontvang – en dit met die oog op die heerlikheid van Christus. 

Wat die gemeente ook aan goeie dinge wil doen en goeie dinge wil sê, dit is die vurige wens van die apostel en sy medewerkers dat die gemeente kragtig uit die hemel aangemoedig word. Die gemeente moet hulle beter werke en woorde van hul Heer in die hemel verwag. ….Hou by die voorskrifte, dit is by die leer van die evangelie, by die apostoliese getuienis, dit is die Woord van God. Put daaruit u krag vir elke tyd. Staan so die mens van die sonde en sy gees teen.

‘n Beroep op God se genade maak nie die gemeente van Christus passief nie. Want juis van God bid die skrywers dat Hy die gemeente sterk maak in alle goeie werke en woorde. Werke en woorde word saam genoem. ‘n Gebed vir die gemeente van Christus wat in hulle diens en getuienis besig is in die wereld. Die goeie dade en woorde toon aan dat die gemeente na Christus wat in heerlikheid sal kom, toe leef en haar verbly in haar Heer op grond van haar verkiesing in haar Heer. Ons bid dat dit ook van Christus se gemeente in Pretoria gesê word dat ons ten spyte van soveel misleiding en afvalligheid van God en in teenstelling met die wanhoop van die wereld, in alle lyding en verdrukking getroos en hoopvol, mag leef met die oog op Christus se verskyning in heerlikheid.

Amen

Liturgie: 

Votum
Groet
Sing: Psalm 47:1,4
Gebed om die Here se seën op die diens
Skriflesing: 2 Thess. 1:3-12
Sing: Psalm 106:1,2
Teks: 2 Thess. 2:1-17
Preek
Sing: Amenlied SB 33:1,2,3
Belydenis van Geloof (Belydenis van Nicea)
Sing: SB 43: 4,5,6
Dankgebed en voorbidding
Sing: Psalm 149:1,2

  1. Seën