Die HERE se uitredding in die verlede verseker in die donker hede die volledige herstel in die toekoms.

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-08-22
Teks: 
Psalm 85
Preek Inhoud: 

Baie van ons het Psalmsversies al van jongs af geleer.

Ongetwyfeld het ons ook ‘n vers uit Psalm 85 geleer.

As jy jonk is, verstaan mens nog nie alles wat jy leer nie.

So staan daar bo aan Psalm 85 dat dit van die kinders van Korag is.

Ons het gedink, elke keer as my pa ‘n Psalm van die kinders van Korag gelees het, dat dit bedoel was vir die kinders van tannie Cora.

Hierdie is maar een voorbeeld hoe ‘n kind die woorde van die Bybel kan misverstaan.

Elkeen van ons kan aan snaakse voorbeelde dink, hoe ons as kinders probeer sin maak het uit dit wat ons geleer het.

Soos wat jy opgroei, begin mens al hoe meer verstaan wat in die Psalms bedoel word.

En nog steeds, ook as jy al volwasse is, selfs as jy oud is, bly mens leer uit die rykdom van die Psalms.

Ook vandag mag ons dit weer doen, spesifiek met Psalm 85.

 

Tema: Die HERE se uitredding in die verlede verseker in die donker hede die volledig herstel in die toekoms.

 

Die kinders van Korag het hierdie Psalm geskryf.

Wanneer en by watter geleentheid?

Dit staan nie eksplisiet in die Psalm nie.

Tog laat hierdie Psalm ons baie dink aan die tyd net na die ballingskap.

Wat duidelik is, is dat hierdie Psalm gedig is na ‘n baie moeilike tyd.

‘n Gees van dankbaarheid spreek daaruit, want die HERE het lieflike dinge gedoen.

Die digter omskryf dit wat God gedoen het met ‘n aantal sinne:

  • Hy het ‘n welbehae gehad in die land.
  • Hy het die lot van Jakob verander.
  • Hy het die ongeregtigheid van sy volk weggeneem.
  • Hy het hulle sonde bedek.
  • Hy het al sy grimmigheid teruggetrek.
  • Hy het sy toorngloed afgewend.

Na sewentig jaar van straf het die HERE ‘n nuwe tyd laat aanbreek.

Sy verbondsvolk het weer welbehae in sy oë gevind.

God het die geskiedenis so gelei dat hulle die geleentheid gekry het om terug te keer na hulle land, bevry uit die boeie van Babel.

Deur koning Kores het God dit moontlik gemaak.

Die volk mog terugkeer in die blye sekerheid van skuldvergewing.

‘n Pragtige toekoms het vir hulle gewink.

Vol moed het hulle begin om die mure van Jerusalem te herbou.

En ook die tempel mog hulle weer bou.

Broer en suster, het jy sulke momente?

Dat jy bevry voel van skuld uit die verlede?

Dat Christus se skuldvergewing in jou lewe ‘n absolute werklikheid voel?

Dat jy voel hoe ‘n nuwe toekoms vir jou wink?

Daardie ervaring mog die ballinge hê wat teruggekeer het.

 

Ons weet uit Nehemia 12 dat daar ook Leviete was wat uit die ballingskap teruggekeer het.

Onder hulle was daar die afstammelinge van Korag, wat spesifiek aangestel was vir die tempelmusiek, om die volk voor te gaan in hulle sang en gebede.

Ek dink aan ‘n vers soos Nehemia 12:27: “En by die inwyding van die muur van Jerusalem is die Leviete uit al hulle woonplekke gesoek, om hulle na Jerusalem te bring ten einde die inwyding te hou met vreugde en dankliedere en met gesang, simbale, harpe en siters.”

So mog die nakomelinge van Korag ook na die ballingskap voortgaan om musiek te maak, Psalms te dig, en die volk te lei in hulle loflied tot God.

En inderdaad, na die ballingskap was daar rede genoeg om die HERE te loof en dank!

 

Egter, dan volg daar in die tweede deel van die Psalm vanaf vers 5 ‘n klomp smeekbedes:

  • Herstel ons.
  • Maak u grimmigheid teen ons tot niet.
  • Sal U vir ewig toornig wees teen ons?
  • Sal u toorn duur van geslag tot geslag?
  • Sal U ons nie weer lewend maak nie?
  • Sal U ons nie weer bly maak nie?

Skynbaar was die HERE se grimmigheid na die ballingskap nog nie verby nie.

Nuwe probleme, nuwe terugslae het die kop opgesteek.

Werklike vryheid was daar nog nie.

Vrede onderling was dikwels ver te vinde.

Die teruggekeerdes het teenslag en siekte ervaar.

Ook het daar verslapping opgetree, die ywer om die muur en die tempel te herbou het afgeneem.

Ook het die omliggende heidene hulle lewe al hoe moeiliker gemaak.

En veral, die mag van die sonde het nie in Babel agtergebly nie, maar was nog steeds groot in hulle midde.

 

Daarom het in die hart van die volk, van die vromes, die vraag begin opkom of God hulle werklik goedgesind was.

Of die geleentheid wat koning Kores gebied het om terug te keer uit ballingskap, of dit werklik van God af gekom het.

Waar is God, noudat hulle terug is in die beloofde land?

‘n Soortgelyke wanhoopskreet hoor ons in Sagaria hoofstuk 1.

Sagaria was ‘n profeet wat opgetree het onder die volk wat teruggekeer het uit ballingskap.

Ons lees in Sagaria 1:12: “HERE van die leërskare, hoe lank nog bly U sonder ontferming oor Jerusalem en oor die stede van Juda waarop U alreeds sewentig jaar vertoornd was?”

In vers 8 hoor ons dan ‘n wanhopige oproep:

Laat ons u goedertierenheid sien, HERE, gee ons u heil!

Ervaar jy dit ook, broer, suster?

Daardie euforiese momente wat jy ervaar dat jy vry is van alle skuld, dat die toekoms wink, daardie momente is dikwels maar van korte duur ...

Waarom het Christus teruggegaan hemel toe?

Waarom merk ek so min van Hom?

Hoe gaan my toekoms lyk?

 

Dan in die derde deel van die Psalm, vanaf vers 9 tot die einde van die Psalm, lees ons die mooiste woorde.

Woorde waaruit verskering, bevestiging, troos blyk:

  • Hy spreek vrede vir sy gunsgenote.
  • Sy heil is naby die wat Hom vrees.
  • Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar.
  • Geregtigheid en vrede kus mekaar.
  • Trou spruit uit die aarde.
  • Geregtigheid kyk uit die hemel neer.
  • Die HERE gee die goeie en die land lewer sy opbrings.
  • Geregtigheid gaan voor Hom uit.

Die HERE sal inderdaad alle dinge doen wat die digter van Hom vra.

Wag op die HERE, verwag dit van Hom.

Hy sal vrede bring, Hy sal die land weer laat uitspruit, Hy sal sy vriendelike aangesig weer wys, Hy sal die son van geregtigheid laat skyn!

Dit is die versekering waarmee die Psalm afsluit.

 

Wat kan ons vandag uit hierdie Psalm leer?

Hoe kan ons hierdie Psalm gebruik in ons geloofslewe, in ons kerklike lewe, in die besluite wat ons elke dag moet neem, in die situasies waarmee ons elke dag gekonfronteer word?

 

Gemeente, hierdie Psalm help ons om ons op volgende week se nagmaal voor te berei.

In hierdie Psalm hoor ons op ‘n manier die driedeling van die Heidelbergse Kategismus:

Ellende, verlossing, dankbaarheid.

Maar in hierdie Psalm is die volgorde bietjie anders.

Eers in verse 1-4 lees ons oor die verlossing wat die HERE gegee het.

Dan in vers 5-8 lees ons oor ons ellende, met die gevolg dat die HERE toornig op ons is.

En dan in die laaste deel van die Psalm oorheers die dankbaarheid.

Hierdie laaste deel leer ons wat die wese van dankbaar is, naamlik om jou te verwonder oor wat die HERE gedoen het en doen, en om daarvan gebruik te maak.

 

Dus, gemeente, laat ons in die komende week nadink, eerstens, oor God se verlossing.

Elke sin in die eerste deel oor ons verlossing is direk op die Here Jesus van toepassing, is in Hom vervul.

Die Vader het danksy Hom die ongeregtigheid van die volk weggeneem.

Dit was Hy wat al hulle sondes bedek het.

Danksy Christus se lyde en sterwe het die Vader al sy grimmigheid teruggetrek.

Danksy Golgota het God die gloed van sy toorn afgewend.

 

Geliefde broers en susters: Dit hét gebeur.

Christus hét dit gedoen.

Hy hét die weg na die Vader weer oopgemaak.

En in die week wat kom, laat ons vrymoedig daarvan gebruik maak.

Daar is niks wat ons sterker aanmoedig om na die troon van genade te gaan nie, as om weer te onthou wat God in verlede gedoen het.

Christus het die pad na die troon oopgemaak.

As ons ons ellende oordink – ja dit is nie ‘n stasie wat ons in hierdie lewe gepaseer het nie ...

As ons ons ellende oordink – dit is iets wat ons tot ons sterfdag sal moet doen ...

As ons ons ellende oordink – laat dit ons daartoe dryf om tot die Vader te bid:

Herstel ons!

Wend u grimmigheid van ons af!

Ja, as elkeen van ons na ons lewens kyk, ons eie hart ondersoek, is daar nog genoeg rede vir God om kwaad op ons te wees.

Om kwaad te wees is nie per definisie verkeerd nie.

God se toorn is ‘n heilige toorn.

Hy het alle rede daarvoor.

Toe Moses van die berg Sinaï afgekom het en sien hoe die volk rondom die goue kalf dans, het sy toorn ontvlam, en tereg.

Nou deur sy lewe was Moses se toorn nie altyd ‘n heilige toorn nie.

Daar was insidente dat sy toorn verkeerde motiewe gehad het.

God se toorn is egter altyd tereg.

As Hy toornig is, het Hy alle rede om dit te wees.

En laat ons dit eerlik toegee, as jy en ek na ons eie lewens kyk.

Ook ons het elke keer die neiging om na ons afgode terug te keer.

Israel het teen die toekoms opgesien, en nie genoeg op hulle God vertrou nie.

So kan ons ook teen die toekoms opsien, en hulp soek by ons afgode.

Laat ons hierdie week die rug draai op ons afgode.

Erken dat God tereg kwaad is.

Ons is almal geneig om net te wil fokus op God se liefde.

Maar net soos die son soveel helderder skyn as dit weer agter donker onheilspellende wolke te voorskyn kom, so skitter God se liefde soveel helderder, as ons besef hoe tereg sy toorn was.

Hy het alle reg om toornig te wees oor ons sondes.

En as ons gestraf word, as daar teenspoed op ons pad kom, laat ons bely dat daar geen ramp, teenspoed, siekte of straf op aarde is, wat buite God omgaan nie.

Hierdie Psalm leer ons dat ons nie vry van straf en teenslae in hierdie lewe sal wees nie.

Maar in die verbond is ons so bevoorreg om te mag weet, dat geen enkele straf blywend is nie.

In die verbond leer ons geduld.

As God nie onmiddellik uitkoms gee nie, laat ons nie ophou om te volhard in gebed nie.

Want in die verbond is daar die sekerheid van verhoring.

Die strawwe waarmee die HERE sy kinders tugtig, is tydelik.

Al kreun en steun ons nou, ons getreur sal verander in blydskap.

So roep die kinders van Korag met hierdie Psalm die volk op, en net so ook die kerk vandag, om rustig en stil te volhard.

Vir die vromes leer God nie net om dankbaar te wees in tye van voorspoed nie, maar ook om geduldig te wees in tye van teenspoed.

Ek sal stil wees en wag, want op God se tyd sal daar uitkoms wees.

 

Gemeente, u hoor in hierdie preek nie ‘n outomatiese Evangelie nie.

Daar is nie ‘n is-gelyk-teken tussen deel van God se volk wees en gered word nie.

Die verbond is nie dieselfde as die uitverkiesing nie.

In vers 9 lees ons as sinoniem vir God se volk die woord gunsgenote.

Mens kan dit ook vertaal met: getroue volgelinge.

En in vers 10 word spesifiek verwys na die wat Hom vrees.

Hierin klink ‘n oproep, die verbondseis.

Al is ons in die verbond, laat ons nie tot dwaasheid terugkeer nie.

Slegs ‘n res van die verbondsvolk het uit ballingskap teruggekeer.

En onder die wat teruggekeer het, was daar hulle wat nadat hulle na die beloofde land teruggekeer het, helaas ook tot dwaasheid teruggekeer het.

Vandag gaan elke lidmaat van die kerk, elke verbondskind, ook nie outomaties gered word nie.

Vir elkeen van ons is daar ook in die week wat kom alle noodsaak om wanhopig uit te roep, net soos die kinders van Korag:

O HERE, maak ons weer lewend!

Maak ons weer bly!

Laat ons u goedertierenheid sien!

O HERE, gee ons u heil!

U het mos in Christus al hierdie dinge beskikbaar gestel.

Christus het mos alles verdien!

Ons Redder het mos die donker wolk van u toorn afgewend!

Gemeente, laat daar so in die week wat kom ‘n tweestryd in u lewe wees.

Daar is genoeg wat u gemoed aftrek, die sondes wat ons weer gepleeg het, wat ons verdrietig, gefrusteerd, nederig maak.

Maar daar is ook die voorreg om te fokus op Christus, en weer op te staan in ‘n nuwe lewe van toewyding, vanuit die seker wete dat God inderdaad geregtigheid, goedertierenheid, trou en vrede aan ons skenk, danksy sy Seun.

 

En dan hoor ons ook in die Psalm die oproep tot heiligmaking – vergelyk die derde deel van die Kategismus.

Laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie!

Laat u heerlikheid woon in die land!

Laat trou uit die aarde voortspruit!

Laat die land sy opbrings lewer!

Hierdie dinge is sowel ‘n geskenk as ‘n oproep.

Want ons weet, soos ons dit so mooi in Jesaja vind:

“soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.” (Jes 55:10-11)

Hierdie versekering hoor ons ook aan die einde van Psalm 85.

Die HERE gee die goeie, en die land lewer sy opbrings.

En dan hierdie woorde vertaal na jou lewe, broer en suster:

Die HERE het die goeie gegee in sy Seun, en in jou lewe ontspruit daar nou dankbaarheid.

Laat ons so na die nagmaal gaan volgende week.

Skuldbewus ja, nederig beslis, want tot ons sterfdag sal ons nog geneig bly tot sonde.

Maar ook gretig om nagmaal te vier, veral ook dankbaar vir wat ons in ons lewe sien gebeur.

Goedheid, trou, vrede, wat die Heilige Gees steeds meer in ons lewe werk.

 

Ons almal wil vrede hê, die hele wêreld wil vrede hê.

Maar vrede onderling tussen mense kan eers blywend tot stand kom as daar vrede is tussen die mens en God.

Solank ons, solank die wêreld dit nie erken nie, en van God af wegvlug, agter die afgode aanloop, sal vrede nooit ‘n werklikheid kan word nie.

Ons eie vredespogings, in ons huwelike, in ons gesinne, in ons families, in die kerk, by die werk, in ons land, in die wêreld, ons eie vredespogings is tot mislukking gedoen, as dit nie gewortel is in die werk van die Vredevors nie (Jes 9:5).

So leer hierdie Psalm ons dat herstel van die land, herstel van ons eksterne omstandighede, direk gekoppel is aan die koninkryk van Christus.

Ons sien uit om aan sy verbondsmaaltyd, sy vredesmaaltyd, volgende week deel te neem.

Want slegs deur sy vrede kan ons vredemakers word.

En in die nagmaal ontvang ons ‘n voorsmaak van die blywende vrede.

Sy maaltyd is ‘n voorbode van sy vrederyk.

Eers daar sal goedertierenheid en trou mekaar blywend ontmoet, geregtigheid en vrede mekaar elke dag kus.

Ja die geregtigheid is al daar, sedert Golgota.

Maar die vrede is dikwels nog soek op aarde, in die land, in die kerk, in families, in gesinne, in huwelike.

Maar dan sal dit blywend, elke dag so wees, dat geregtigheid en vrede mekaar sal kus, elke dag hand in hand sal gaan.

 

Geliefde gemeente, Psalm 85 staan in die Ou Tesament.

Tog is niks wat daarin staan, vreemd aan die Nuwe Testament nie.

Ons hoor daarin dieselfde Evangelie.

Hierdie Psalm begin skitter as mens besef hoe dit in Jesus Christus vervul is.

En daarom sing ons vandag in die erediens hierdie Psalm.

Ons kan onsself goed inleef in die omsandighede toe die kinders van Korag dit gedig het, aan die een kant die vreugde van die terugkeer uit ballingskap, maar ook aan die ander kant die haglike omstandighede.

Aan die een kant die nuwe ywer om die HERE te dien, sy tempel te bou.

Maar aan die ander kant die sonde wat steeds bly knaag het, aan elkeen se persoonlike lewe, aan die ‘kerklike lewe’, aan die hele samelewing.

Wat het eintlik verander, vandag 2500 jaar later?

Wel, een ding het drasties verander.

Christus het gekom.

Daarom het ons vandag nog soveel te meer sekerheid dat genade en trou mekaar sal ontmoet.

Dat die reg die vrede met ‘n kus sal begroet.

Dat ons die goeie sal ontvang uit God se hand.

En volgende week aan die nagmaal, die versekering van Christus, dat die volmaakte vrederyk ongetwyfeld sal kom.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 85:1

Wet

Ps 85:2

Gebed

Skriflesing: Psalm 85

Ps 62:1-4

Teks Psalm 85

Preek

Ps 85:3,4

Gebed

Kollekte

Ps 89:1,3,10,17

Seën