Preek: 1 Timotheüs 2:1-2
Deur die eeue is daar al baie geskryf en gedebatteer oor die verhouding tussen kerk en staat.
As mens na die Bybel teruggaan, is daar tekste wat baie duidelik aangee wat die houding van gelowiges teenoor hulle owerheid behoort te wees.
Ons kan glad nie beweer dat die Gees ons wat betref hierdie saak in die duister gelaat het nie.
In hierdie preek wil ek fokus op wat die Heilige Gees ons in 1 Timotheüs 2 leer wat betref ons houding teenoor die owerheid.
Tema: Christus roep op tot gebede vir die owerheid
- Deur hierdie gebede werk Christus aan ons
- Deur hierdie gebede werk Christus aan die owerheid
- Deur hierdie gebede werk Christus aan ons
Hierdie preek is nie net vir hulle wat in die politiek belangstel nie.
In 1 Timotheüs 2 gee Paulus ‘n opdrag – ‘n vermaning – vir almal.
Dit is ‘n opdrag tot gebed.
Die hele gemeente in Efese – daar waar Paulus vir Timotheüs agtergelaat het – moet ‘n biddende gemeente wees.
Hierdie opdrag geld egter nie net vir die gemeente in Efese nie.
In hoofstk 2:8 lees ons die woorde: “op elke plek”.
Dit dui op elke plek van samekoms.
Dit verwys na al die verskillende gemeentes, waar hulle ook al geleë was.
En so lees ons tot op vandag hierdie oproep as ‘n oproep van God vir alle gemeentes van alle tye en plekke om te bid vir die owerhede.
Toe Paulus destyds afskeid geneem het van die gemeente te Efese, het hy goed besef dat daar nog moeilike tye vir die gemeente sou wag.
Handelinge 20:29-30: “Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat ...”
Ook wat betref die houding teenoor die owerheid sou daar manne in die toekoms opstaan wat dwaalleer verkondig.
Daarom gee Paulus nou aan Timotheüs spesifieke instruksies, veral op daardie punte waar die Efesiërs kon begin dwaal.
En dit het dus ook gegeld vir hulle houding teenoor die owerheid.
Gemeente, dink u dat dit vir ons gemeente ook ‘n swak plek is?
Is daar rede om te sê dat ons houding teenoor die owerheid nie reg is nie?
Is daar onder ons ook hulle wat ‘n onbybelse houding teenoor die owerheid propageer?
Kan ons houding teenoor die owerheid ‘n oorsaak word waardeur ons gebed vir hulle belemmer word?
Die gemeente in Efese moes bekend staan as ‘n biddende kerk.
Paulus gebruik vier verskillende woorde: smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge.
Dit onderstreep die gemeente se omvangryke taak.
En dit is die gemeente se primêre taak wat betref die owerheid.
En nie net insidenteel nie.
Paulus gebruik die meervoud: gebede, danksegginge ...
Bid julle gereeld vir die owerheid?
Doen julle gereeld voorbede vir almal wat hooggeplaas is?
Ons skud soms ons kop as ons hoor wie daar in hoë posisies aangestel word.
Vriendjiespolitiek, sê ons dan.
Jong, onervare mense ...
Korrupsie, nepotisme ...
Gemeente, moenie dink dat dit in die Romeinse Ryk anders was nie.
Miskien juis daarom het die owerheidspersoneel nog des te meer ons voorbede nodig, ons smekinge.
En dan lees ons ook: danksegginge.
Hoe dikwels dank ons die Here vir die owerheid, vir die hooggeplaastes?
Baie keer vra ons onsself af of daar rede is om te dank, of daar wel iets is om voor te dank.
As daar iemand was wat kon kla oor die owerhede, was dit Paulus.
Hy is gestenig en amper dood agtergelaat, terwyl die owerheid nie ingegryp het nie.
Hy het gevange gesit, terwyl hy onskuldig was, meerdere male.
Een keer het hy selfs twee jaar lank vasgesit, terwyl die goewerneur, Felix, geweet het dat hy onskuldig was.
Maar, so kan ons lees in Hand 24:26-27, Felix het gehoop dat Paulus aan hom geld sou gee om uit te kom.
Felix het, soos ons vandag sou sê, vir ‘n ‘bribe’ gewag – omkoopgeld.
Maar toe dit nie gebeur nie en Felix uiteindelik opgevolg word deur Festus, het Felix Paulus maar vrygelaat, egter ook uit verkeerde motiewe.
Ons lees dat hy aan die Jode ‘n guns wou bewys ...
As daar iemand was wat, menslik gesproke, reg gehad het om die owerhede te bekritiseer, op te roep tot verset, al was dit maar passiewe verset, was dit Paulus.
Desnieteeenstaande vermaan hy die gelowiges om vir die owerhede te bid.
Vermaan kan ook vertaal word, soos in Engels: I urge you.
Dit is nie ‘n vryblywende saak nie.
Nou is daar onder ons ook mense wat net soos Paulus destyds, ‘n slagoffer van die owerheid was of is.
Slagoffer van die feit dat die owerheid sy posisie misbruik het, of nagelaat het om sy taak uit te voer.
Persoonlik kan ek sê dat ek ook in so ‘n posisie verkeer.
‘n Broer van my is vermoor, terwyl die polisie weinig gedoen het om die moordenaar op te spoor.
Die polisie het selfs die dossier weggemaak.
Saam met ander was ek slagoffer van ‘n gewapende roof.
Weer eens het die polisie weinig gedoen om die rowers vas te trek.
En baie onder ons kan soortgelyke verhale vertel.
Dit is verstaanbaar dat ons dikwels sug as ons moet bid vir die owerheid, dat ons ‘n weerstand daarteen ervaar.
Tog klink die Woord van God vandag duidelik tot elkeen van ons.
Ons word vermaan om dit wel te doen.
Christus dring daarop aan dat ons dit wel doen.
Ons persoonlike gebede, ons kerklike gebede mag nie net om onsself draai nie.
Juis in ons gebede moet ons uitreik na ‘n wêreld in nood.
Wat sou die wêreld gewees het, hoe sou alle mense gewees het, hoe sou die toestand van die owerheid gewees het, as daar niemand was wat vir hulle bid nie?
Gemeente, glo u nog in gebed, in die krag van gebed?
Hoe bevoorreg is ons owerheid nie dat daar elke Sondag, ja selfs elke dag, hier in ons land talle gebede opstyg na die hemel vir hulle welsyn!
Hierin staan die kerk vandag in dieselfde skoene as die gelowiges van die verlede.
In die Ou Testament het die profeet Jeremia die ballinge opgeroep:
“soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê.” (Jer 29:7)
Die vroeë kerk het gebid vir die heidense keisers.
In die brief 1 Clemens lees ons die gebed: Gee eensgesindheid en vrede aan ons en aan alle wêreldbewoners ..., aan die owerhede en aan hulle wat op aarde oor ons regeer.
En ‘n ou Christelike gebed vir Keiser Marcus Aurelius het soos volg gelui: ons, wat vir u heerskappy bid, sodat u heerskappy sal oorgaan van vader op seun ... en u ryk groei en gedy, sodat almal hulle aan u mag onderwerp. Dit is ook in ons voordeel, sodat ons ‘n vreedsame en rustige lewe kan lei en bereidwillig alles wat ons opgedra is, ten uitvoer kan bring (Smeekskrif van Athenagoras, +/- 177 nC).
In laasgenoemde gebed hoor mens duidelik woorde wat aan 1 Timotheüs 2:2 ontleen is:
“sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei”.
Die NGB verwys ook eksplisiet hierna in artikel 36, wat oor die owerheid handel.
Hierdie rustige en stil lewe is in die eerste plek nie die positiewe uitkoms van ‘n goeie regering nie.
Maar dit is in die eerste plek die gevolg van ons gebed vir die owerheid.
As jy naamlik vir iemand bid, kan jy daardie persoon nie haat nie.
Gebed en haat gaan nie saam nie.
Gebed bevry jou van haat.
Gebed dra vrug in jou lewe, in die sin dat jy ‘n lewe kan lei in Godsvrug en waardigheid.
Godsvrug kan ook vertaal word met Godvresendheid.
En ‘n biddende onderdaan is ‘n waardige onderdaan.
Dit dus in die eerste plek.
Die gebed het ‘n gunstige invloed op jou lewenswyse, jou ingesteldheid en optrede in die land waarin jy bly.
Deur die gebed vir die owerheid werk Christus aan jou!
Gebed het ‘n gunstige invloed op jou houding teenoor die owerheid.
Dit is waartoe Christus ons in die eerste plek oproep, as Hy ons vermaan om te bid vir die owerhede, vir konings en alle hooggeplaastes.
Want juis deur hierdie gebede vir die owerheid werk Christus aan ons, sorg Hy dat ons ‘n rustige en stil lewe in alle Godsvrug en waardigheid lei, hoe ontstuimig dit ook polities rondom ons is.
(Tema: Christus roep op tot gebede vir die owerheid
- Deur hierdie gebede werk Christus aan ons)
- Deur hierdie gebede werk Christus aan die owerheid
Tweedens het gebed ook ‘n positiewe invloed op konings en hooggeplaastes, en vervolgens op die bestuur van die land.
Let wel, dit is die tweede.
As die bestuur van die land ‘n chaos is, beteken dit nie ons hoef nie meer vir die owerheid te bid nie.
Dit kanselleer nie gebed uit nie.
Wat soos ons gesien het, eerstens is gebed bedoel om ons gesindheid reg te hou.
Deur gebed werk Christus aan ons, of daar nou ‘n goeie owerheid is, of ‘n mislukking van ‘n owerheid.
Maar tweedens, deur die gebed werk Christus ook aan die owerheid.
Waar gebed intern die vrug dra dat dit vir jou ‘n rustige en stil lewe gee, ‘n lewe gedefinieer deur die woorde Godsvrug en waardigheid.
Ekstern het die gebed ook ‘n invloed op die owerheid en sy regering van die land.
Die vrug van goeie regering is ook dat onderdane ‘n stil en rustige lewe kan lei.
Hierdie sin moet ons nie in algemene terme lees, asof ons as onderdane reg het op ‘n stil en rustige lewe, dat niemand ons gaan pla sodat ons rustig in ons huise, of op ons plase, kan bly woon, dat ons met ons motors op paaie sonder slaggate kan ry, dat ons in die aande kan rondwandel in die strate sonder gevaar, en noem maar op nie.
Natuurlik is sulke dinge die vrug van Godvresende hooggeplaastes se regering van ‘n land.
Tog is dit nie die primêre doel van ons gebed vir die regering nie.
Paulus skryf: sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.
As gelowiges moet ons lewe op aarde gekenmerk word deur Godsvrug – Godvresendheid – en waardigheid, oftewel onberispelikheid.
Dit is ons doel op aarde, juis dat ons deur so ‘n lewenswandel ander ook tot Christus kan bring.
Dit lees ons in die volgende verse: Want God ons Verlosser wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
Ons bid dus nie primêr vir ‘n goeie owerheid sodat ons ‘n lekker lewe kan lei op aarde en dat ons ons welvaart ongehinderd kan vermeerder nie.
Dan draai ons gebed uiteindelik net weer om onsself, dan kom ons in die vaarwaters van die sogenaamde voorspoedsteologie, die sogenaamde welvaartsteologie, asof die doel van die owerheid primêr is dat sy burgers ryk kan word.
Die primêre taak van die owerheid – soos artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dit verwoord – om die Woordbediening te beskerm, sodat deur die Woordbediening alle afgodery en valse godsdiens teengegaan en uitgeroei kan word, die ryk van die antichris vernietig kan word, die koninkryk van Christus bevorder kan word, ja sodat God deur elkeen geëer en gedien sal word.
Ook hier hoor ons weer die echo van dit wat ons in 1 Timotheüs 2 lees: God wil dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
God wil dat almal die Middelaar, Christus Jesus, leer ken, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal.
In die verlengde van hierdie taak van die owerheid lê ons taak as gelowiges om ‘n Godvresende en waardige lewe te lei.
Die owerheid moet ‘n stabiele situasie waarborg – rustig en stil – sodat die Woordbediening kan voortgaan.
Vandag, in die greep van ‘n humanistiese wêreldbeeld, word die owerheid se taak veral gedefinieer in terme van die vermeerdering van die welvaart van alle burgers en die beskerming daarvan.
Die meer linkse politieke partye pleit vir die ekonomiese opheffing van die armstes van die armes.
Die meer regse politieke partye beloof die beskerming van die besittings en goedere en bates van diegene wat dit alreeds besit.
Maar die hele politieke bestel – sowel links as regs – draai eintlik om materie, dit is in wese materialisties, oor watter politieke party dit ook gaan.
Die Skrif leer ons egter dat die owerheid se taak gefokus moet wees op die eer van God en die redding van alle mense.
En dit geld ook vir ons taak op aarde.
Ons taak is om in alle Godsvrug en waardigheid mense na Christus te lei, die Middelaar tussen God en mense.
Ons primêre strewe op aarde is nie die vermeerdering van welvaart nie, maar die vermeerdering van die koninkryk van Christus.
Ons verlang na die herskepping van alle dinge, die nuwe aarde, waar daar wel ongekende welvaart sal wees vir almal wat dit mag beërf, geestelike sowel as materieel, waar daar geen honger meer sal wees nie, waar die strate van goud sal wees, waar ons almal as konings sal heers.
Egter dan nie in egoïstiese terme nie, maar alles met die doel om God ewig te loof en te prys.
Sowel die owerheid en die kerk, elkeen op eie terrein, moet toewerk na daardie doel.
Ons gebede tot die owerheid moet daarop gerig wees.
Laat ons bid dat die owerheid bevry word uit die materialistiese paradigma.
Dat hulle sal besef dat rykdom vir almal nie geluk en vrede in die land gaan bring en waarborg nie, net soos armoede dit nie doen nie.
Laat ons en hulle eerder ter harte neem wat die Skrif sê:
“gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.” (Spreuke 30:8-9)
Laat ons bid dat die owerheid hierdie Godgegewe taak weer mag raaksien.
Laat ons bid dat alle Christene in ons land – en ook onder die hooggeplaastes in ons land is daar heelwat Christene – laat ons bid dat hulle hierdie regte perspektief sal hê op hulle werk en op hulle lewe in die algemeen.
Inderdaad, nie alle hooggeplaastes is dieselfde nie.
Daar is korruptes, daar is eerlikes.
Daar is onbekwames, daar is bekwames.
Daar is Christene, daar is atheïste, Moslims, en noem maar op.
Maar, soos Calvyn geskryf het in sy kommentaar op 1 Timotheüs 2:
Dit is ons taak, nie net om te bid vir hulle wat alreeds bekwaam is nie, maar ons moet God bid dat Hy slegte mense goed sal maak.
Ja deur ons gebede werk Christus aan die owerhede!
En laat ons ook nie vergeet om te dank nie.
Soos ek genoem het, het Paulus alle rede gehad om oor die owerhede en hooggeplaastes te kla.
Tog proe ons in sy briewe ‘n sfeer van dankbaarheid vir die feit dat daar owerhede is.
In Romeine 13 skryf hy: “want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede.” (vers 4)
Behalwe vir daardie kere wat die owerhede volledig gefaal het in Paulus se lewe, vind ons ook voorbeelde in die Skrif waar die owerhede Paulus beskerm het.
Daar was byvoorbeeld die owerhede van Asië, staan daar in Handelinge 19:31, wat Paulus se vriende was.
Hulle het ‘n berig na hom gestuur en hom gesmeek om homself nie in die skouburg van Efese te begeef nie, want dit sou vir hom lewensgevaarlik wees.
Verder het die stadsklerk van Efese die mense in die skouburg tot bedaring gebring.
Daar was naamlik ‘n groot volksoploop – vergelykbaar met die gespuis wat onlangs in Kwazulu Natal alles stukkend geslaan het.
Hierdie volksoploop wou Paulus en sy metgeselle om die lewe bring, omdat hulle kritiek gehad het op hulle godin Diana.
Die stadsklerk het hulle egter daarop gewys dat daar ‘n regsorde in die stad bestaan, en dat Demetrius die silwersmid alle reg het om ‘n saak teen Paulus aan te span.
Daar word naamlik hofsittings gehou, en die regters sal dan onpartydig oordeel.
Deur hierdie optrede het die stadsklerk Paulus en sy metgeselle se lewe gered.
Hierin was hy ‘n instrument in die hand van Christus, wat die voortgang van die Woordbediening verseker het.
En broers en susters, behalwe vir al die kritiek wat ons het, is ek seker dat elkeen van ons ook aan meerdere voorbeelde kan dink hoe die owerhede ons gehelp het.
As jou baas jou onregmatig probeer afdank, daar is wette in die land wat werknemers beskerm.
As werknemers begin optogte hou – dink aan wat onlangs by Huis Herfsblaar gebeur het – is daar polisie teenwoordig om wet en orde te handhaaf.
En so kan daar nog voorbeelde opgenoem word.
In 1 Timotheüs 2:1 roep die Skrif ons dan ook eksplisiet op tot danksegginge.
As daar by Paulus rede was tot dankgebede, des te meer by ons!
Tans is daar by sommiges twyfels of die owerhede die reg het om die aantal mense te beperk wat eredienste mag bywoon, te midde van die Covid19-pandemie.
Voordat ons egter konklusies trek – laat ons in lyn met die Goue Reël van Christus – Mattheüs 7:12 – goed ondersoek wat die motiewe van die owerheid daarmee is.
Is die owerheid werklik besig om die vryheid van godsdiens bewus in te perk?
Dat daar teenstrydighede in die owerheidsbeleid is, dit verseker.
Waarom mog dobbelhuise oop wees, en kerke nie?
Vroeër vanjaar is daar briewe aan die owerheid geskryf om daarop te wys.
Dit lyk of die owerheid hierdie kritiek ter harte geneem het.
Tydens die derde golf is die beleid meer konsekwent gemaak, al het ons ons vrae of die materiële, die ekonomiese welstand van die burgers vir die owerheid belangriker is as die geestelike welstand ...
Nog genoeg rede om vir die owerheid te bid.
Christus roep ons op tot aanhoudende gebed vir die owerheid, nie net insidenteel nie.
Want deur hierdie gebede werk Christus aan ons.
Hy keer dat daar haat in ons harte begin groei, of hoogmoed, of egoïsme, ensovoorts.
En deur hierdie gebede werk Christus ook aan die owerheid.
Kom ons vertrou Christus, dat Hy ook ons gebede vir die welsyn van die owerheid sal gebruik, dat Hy ook daarmee berge sal versit.
Amen.
Voedingsriglyne:
Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike deurdenking en meditasie.
- Noem ‘n voorbeeld waar die huidige owerheid nie hulle Godgegewe taak volbring het nie, waardeur jy benadeel is.
- Noem ‘n voorbeeld waar jy baat vind / gevind het by die bestuur van die land deur die huidige owerheid.
- Hoe dikwels bid jy vir die owerheid?
- Kan jy in jou hart ‘n mate van haat teenoor die owerheid waarneem? Hoe kan jy daardie haat uit jou hart uitkry?
- Hoekom is owerhede reg oor die wêreld so gefokus op die materiële welvaart van hulle onderdane?
- Hoe kan ons as gemeente met die Woord profeties uitreik na die owerheid (nasionaal, provinsiaal, munisipaal)?
Votum
Seën
Ps 33:7,8
Gebed
Wet
Ps 119:14
Skriflesing: Romeine 13
Ps 72:1,5
Skriflesing: 1 Timotheüs 2:1-8
Ps 20:9
Teks: 1 Timotheüs 2:1-2
Preek
Ps 61:5,6
Gebed
Kollekte
Ps 84:5,6
Seën