Advent – seuns en dogters, weet julle wat hierdie woord beteken? Advent – dit kom van ‘n Latynse woord. Eintlik twee Latynse woorde: ad (wat beteken: na) en ventus (wat beteken: koms). Dus, advent beteken ‘aankoms’. En op die kerklike kalender word die vier Sondae vóór Kersfees ‘advent’ genoem, want dan berei ons voor vir die viering van die geboorte van Jesus Christus. Ons berei voor vir die viering van die aankoms (die advent) van Jesus Christus na hierdie aarde. En dit kom gewoonlik uit in die feit dat predikante in die Sondae voor Kersfees spesifiek aandag gee aan hierdie heilsfeit – in die prediking en in die liturgie. Dus, let maar daarop in die komende weke en jare.
Maar is dit al wat advent is – terugkyk op die koms van die Here Jesus in die krib in Betlehem? En ek vra dit nie omdat daardie gebeurtenis onbelangrik sou wees nie. Inteendeel, ek vra dit omdat ek dink ons nie halfpad besef hoe belangrik daardie gebeurtenis in werklikheid was en wat dit teweeg gebring het nie! Met advent kan ons baie maklik vasgevang raak in die gebeure rondom Kersfees: die engele in die nag, die herders op die ope velde, die wyse manne onder die ster, en die Kindjie in die krib – sonder om te besef wat presies daardie nag in Betlehem gebeur het. Want advent gaan nie net oor die koms van Christus na die aarde nie, dit gaan nie net oor daardie enkele gebeurtenis in die stal nie – nee, by Christus se advent is daar baie meer aan die gang. Advent gaan oor die koms van Christus, maar dit gaan daarmee saam ook oor sy wederkoms, en dit gaan ook oor die hele tyd tussen sy koms en sy wederkoms! Advent gaan oor die volheid van die tyd, oor die laaste dae. Advent gaan oor óns tyd en oor óns dae. By Christus se koms het iets gebeur wat elke dag daarna in ‘n ander lig plaas...
Tema: Met die geboorte in Betlehem het die volheid van die tyd aangebreek... en dit plaas elke oomblik van my lewe onder hoogspanning!
In die eerste paar verse van Galasiërs 4 beskryf Paulus vir sy lesers hoe dinge was vóór die koms (voor die advent) van Jesus Christus. Hy gebruik die beeld van ‘n minderjarige erfgenaam wat die erfenis eers ontvang wanneer die tyd, soos deur die vader bepaal, aangebreek het. En dit hoef nie by die dood van die vader te wees nie – in hierdie verse dui dit waarskynlik op ‘n sekere ouderdom wat die kind eers moet bereik voordat hy die erfenis ontvang. Nou, daardie spesifieke tydstip, wat deur die Vader in die hemel bepaal is, dít noem Paulus vervolgens in vers 4 “die volheid van die tyd”: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet.” Die volheid van die tyd word dus direk gekoppel aan die koms van die Seun van God – gebore uit Maria (of soos Paulus sê: gebore uit ‘n vrou) en gebore as ‘n Jood (of in Paulus se woorde: gebore onder die wet); die volheid van die tyd word direk verbind met (kom ons noem dit maar): Kersfees. Dis belangrik om hierdie verbinding te sien! Iets gebeur by Kersfees, by die geboorte van Christus, wat Paulus ‘die volheid van die tyd’ noem. Kom ons kyk of ons kan ontdek wat Paulus presies met hierdie begrip bedoel: die volheid van die tyd?
Enersyds is die volheid van die tyd natuurlik die vervulling van die voorafgaande tyd – die voorafgaande tyd waarin die erfgenaam onder voogdyskap gestaan het, kom tot ‘n einde. Andersyds, egter, sê hierdie begrip (die volheid van die tyd) nie net iets oor die tyd wat daaraan voorgegaan het nie; dit is nie maar net ‘n vervulling van die voorafgaande nie. Nee, die volheid van die tyd het ook alles te make met die tyd daarna; die volheid van die tyd sê iets oor die tyd ná Christus se geboorte. En wat dit presies is, word duidelik wanneer ons die ander gedeelte wat ons gelees het, hierby betrek. In 1 Petrus 1 het ons gelees dat die gelowiges deur die kosbare bloed van Christus losgekoop is (verse 18 en 19) – en dan wys vers 20 dat Christus alreeds voor die grondlegging van die wêreld bestem was om hierdie werk te kom doen, maar dat Hy in hierdie laaste tye geopenbaar is. Hier in 1 Petrus 1 word Kersfees – die openbaring van Christus – dus gekoppel aan die laaste tye. Die volheid van die tyd (van Galasiërs 4) is dus tegelykertyd ook die laaste tyd (1 Petrus 1)! Met die koms van Jesus Christus na hierdie aarde begin die laaste tyd, die laaste tydvak, die laaste periode in die geskiedenis. 2000 jaar gelede, in daardie stille nag, met die herders op die ope velde – toe het die geskiedenis sy laaste fase ingegaan!
Dit is so anders as wat ons dikwels na die geskiedenis kyk, nie waar nie? Vir ons is Kersfees so ‘n bietjie in die middel van die tyd – ‘n paar duisend jaar wat daaraan voorafgaan (ons weet nie presies nie, maar dit is ongeveer hoe Christene dit bereken het), en ‘n paar duisend jaar wat tot dusver daarop gevolg het. Mmm... Kersfees val dus ongeveer in die middel. Maar, broers en susters, dit gaan hier nie oor chronologie nie. Dit gaan nie oor die hoeveelheid jare wat aan Christus se geboorte voorafgegaan en hoeveel tot nou toe daarop gevolg het nie. Dit gaan nie oor ons tydsberekening nie – dit gaan oor God se optrede in die geskiedenis! En Christus se geboorte is God se finale, beslissende optrede in die geskiedenis! Dit beteken nie dat God daarna nie meer handel nie, dit beteken nie dat God daarna nie meer spreek nie. Nee, allesbehalwe! Maar hoor weer wat ek sê: Christus se geboorte is God se finale, beslissende optrede in die geskiedenis. Daarmee bedoel ek: Christus se Persoon en optrede is so allesbepalend vir die geskiedenis, dat met sy koms (sy advent) die laaste fase van die geskiedenis aanbreek. Met sy geboorte, lewe, sterwe en opstanding betree ons die laaste bedryf in hierdie magtige toneelstuk wat God van begin tot einde bestuur. Dis effens vreemd, nie waar nie? Het jy al ooit ‘n toneelstuk gesien waarin die hoofrolspeler eers teen die einde op die toneel verskyn? Het jy al ooit ‘n boek gelees waarin die hoofkarakter eers op die laaste bladsy in die verhaal inkom? Nee, dit werk eerder andersom: die hoofpersoon verskyn al vroeg in die verhaal, want die verhaal draai rondom daardie persoon. Maar met Jesus is dit anders. Jesus kom aan die einde verhaal op die toneel, en met sy koms breek die laaste tye aan; met sy koms bevind ons onsself in (wat die Bybel noem) die laaste dae...
Die laaste dae – ‘n baie belangrike Bybelse gedagte. Die laaste dae – dan dink ons aan die toekoms. Die laaste dae moet nog kom, nie waar nie? Dis êrens daar voor, daar ver in die toekoms. O nee, broers en susters. Ons bevind onsself alreeds in die laaste dae! Kom ek probeer dit vir u aantoon met ‘n paar voorbeelde vanuit die Nuwe Testament (in die Ou Testament vind ons ook die uitdrukking ‘die laaste dae’, maar daar wys dit eintlik altyd vooruit, na ‘n gebeurtenis in die toekoms; maar in die Nuwe Testament is die uitdrukking ‘die laaste dae’ feitlik altyd ‘n huidige realiteit: ons is alreeds in die laaste dae). ‘n Paar voorbeelde:
Hebreërs 1:1: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (die dae van die Seun op aarde, van Jesus se lewe op aarde, is dus alreeds die laaste dae!). Hebreërs 9:26: “Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen” (voleinding van die eeue – dit is dieselfde as die volheid van die tyd van Gal. 4:4). 1 Johannes 2:18: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is” (toe Johannes hierdie geskryf het, was dit dus al die laaste uur). 1 Korinthiërs 10:11: “Maar al hierdie dinge (dit is nou al die voorbeelde uit die geskiedenis van Israel wat Paulus opnoem) het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (die eindes van die eeue het al aangebreek wanneer Paulus hierdie skryf). 2 Timotheus 3:1: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” – dit lyk toekoms, maar wanneer ons verder lees, dan sien ons dat dit alreeds ‘n werklikheid in Paulus se dae is. Nou, gemeente, daar is baie meer voorbeelde om te noem, maar ek gee ‘n laaste voorbeeld, waarskynlik die mees bekende en mees sprekende van almal – Handelinge 2:17, waar Petrus sy toespraak op die Pinksterdag begin met ‘n aanhaling uit Joël 2: “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alles vlees...” Wat belangrik is om te weet (en u kan dit nagaan), is dat die woorde “in die laaste dae” nie in Joël se oorspronklike profesie (Joël 2) voorkom nie; dus, Petrus voeg dit by! En daarmee wys hy dat die laaste dae reeds ‘n werklikheid is in sy tyd. Pinkster is deel van die laaste dae.
Gemeente, ‘die volheid van die tyd’, ‘die laaste dae’, ‘die laaste tye’, ‘die laaste uur’, ‘die eindes van die eeue’, ‘die voleinding van die eeue’ – as jy enige van hierdie uitdrukkings in die Nuwe Testament teëkom, dan dui dit eintlik altyd op ‘n reeds bestaande realiteit – toe, maar nou nog! Petrus het reeds in die laaste dae gelewe, Paulus het reeds in die laaste dae gelewe. Maar die hele kerkgeskiedenis daarna speel hom af in die laaste dae: Augustinus het in die laaste dae gelewe, Calvyn het in die laaste dae gelewe, Abraham Kuyper het in die laaste dae gelewe, ons lewe in die laaste dae! En dit het alles te make met die koms, met die advent van Jesus Christus in die krib! Dit gaan dus nie in die eerste plek daaroor dat ons oppad is na die laaste dae êrens ver in die toekoms nie; nee, op daardie stille nag het die laaste dae in ons wêreld ingekom; die ewigheid het in die tyd ingekom.
Dit is dan ook die heel eerste betekenis van die groot woord ‘eskatologie’! Eskatologie = die leer van die laaste dinge – dan dink ons aan wat nog moet kom, aan Jesus se wederkoms, die opstanding van die dooies, die laaste oordeel, die nuwe hemel en aarde. Nee, eskatologie is NOU! En dít bepaal ook ons visie op die sogenaamde Duisendjarige ryk van Openbaring 20. In vandag se Christendom beskou die meeste Christene die duisend jaar as ‘n letterlike duisend jaar êrens in die toekoms. ‘n Letterlike Duisendjarige vrederyk, waarin Christus as Koning sal heers hier op aarde, verkieslik op Dawid se troon in Jerusalem. Nee, gemeente, die duisend jaar van Openbaring 20 is ‘n simboliese getal (soos so baie simboliese getalle in Openbaring) wat die volheid van die tyd aandui tussen Christus se eerste koms in Betlehem en sy wederkoms op die wolke. Daardie hele periode (hoe lank dit ook mag duur – ons weet nie!) is die duisend jaar van die laaste uur! Verstommend, hoe in die Bybel die laaste uur ‘n duisend jaar kan duur. Oppas daarom vir allerhande invloede van chiliaste, premillennialiste, postmillennialiste (groot woorde, gaan lees maar op wat dit beteken), wat jou wil laat glo dat die duisend jaar nog moet kom. Wees waaksaam, want die laaste uur het reeds aangebreek, die laaste dae is reeds hier, die duisend jaar loop al! En dit het alles te make met die geboorte in die krib...
Voel u die spanning? Voel u hoe skielik die hele lewe – elke oomblik, elke dag – onder geweldige druk te staan kom? Nee, nie spanning omdat ons nie weet of ons gered is nie. Ons is immers losgekoop deur die kosbare bloed van Jesus Christus (soos Petrus ons leer in 1 Petrus 1:18-19), sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang en sodat ons kan uitroep ‘Abba, Vader’ (so voeg Paulus by in Galasiërs 4:5-7). Dus, geen onsekerheid nie – inteendeel, ons het die heerlike sekerheid dat ons aan God behoort! En tog plaas beide Paulus en Petrus ons lewens onder die spanning van die laaste dae.
Paulus, aan die een kant, wonder verbaas en hartseer hoe die Galasiërs weer kon terugkeer na die swakke en armoedige eerste beginsels deur dae en maande en tye en jare waar te neem (Gal. 4:9-10). Paulus roep dit uit: julle hou julle besig met die kalender – maar kyk na die horlosie! Dit is die laaste uur, dit is kort voor middernag, en julle wil julleself besig hou met allerhande onbenullighede – watter dae moet ons gedenk, en watter tye moet ons waarneem? Doen ons nie maar dieselfde in die kerk vandag nie, broers en susters? Ons stry oor die vreemdste dinge, ons maak ‘issues’ van onbenullighede: kyk maar na die kerkraadsagenda en na sommige gesprekke wat tussen gemeentelede gevoer word. Ons maak onbelangrik wat belangrik is, en ons maak belangrik wat onbelangrik is. En intussen loop die tyd, intussen slaan die horlosie alreeds twaalf uur! Ons kan dit nie bekostig nie. In die laaste uur kan ons nie bekostig om met onbenullige dinge besig te wees nie; in die laaste uur gaan dit net oor een ding: geloof in Jesus Christus, totale oorgawe aan Hom! Daar val die beslissing, soos Jesus ons self leer in Johannes 3:18: “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” Sien u, die belissing val nie eendag in die toekoms nie, die beslissing val vandag, nou, met die vraag: glo ek in Jesus Christus of nie?
En Petrus, aan die ander kant, wys wat dit in die praktyk beteken om in geloof in Jesus Christus in die laaste dae te lewe: Hy sê in 1 Petrus 1:13: “Omgord die lendene van julle verstaan, wees nugter, en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus – dus, wees gereed, wees waaksaam, Christus is oppad! En verder die oproep in vers 16: “Wees heilig, want Ek is heilig”. En volgens vers 15 geld hierdie heiligheid vir ons hele lewenswandel. Ons kan nie volgens die begeerlikhede van hierdie wêreld lewe nie (vers 14) – ons kan nie voortgaan met die sonde asof daar nog baie tyd oor is nie. Nee, sê Paulus in vers 17, ons is vreemdelinge in hierdie wêreld en vir hierdie wêreld. Die wêreldse lewe behoort vir ons vreemd te wees. En as dit so is, dan sal ons ook vreemd wees vir die wêreld. Soos Petrus sê in hoofstuk 4:4: “Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saam loop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie...” Maar so vreemd soos wat ons vir die wêreld is, en so vreemd soos wat die wêreld vir ons is, so vertroud mag ons (moet ons!) met mekaar, met ons mede-gelowiges wees: “As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart (vers 22). Geloof in Jesus Christus lei in hierdie laaste dae nooit tot losbandigheid nie, maar tot ‘n heilige lewenswandel.
-----------------------
As die Here wil, hoop ons om volgende week Sondagaand ‘n bietjie te kyk na die wederkoms (die volgende advent) van Jesus Christus op die wolke, en alles wat daarmee saamgaan. Ons het dikwels heelwat vrae hieroor – soms teregte vrae, soms nuuskierige vrae. In ons belewing is die wederkoms (met alle gebeure daaromheen) die regte eindtyd. Maar, gemeente, soos u hooplik nou gesien het, doen ons nie reg aan die Skrif – en aan die koms van Jesus Christus in die krib! – as ons die eindtyd in die eerste plek na die wederkoms toe verskuif nie. Die eindtyd (die laaste dae!) begin by die geboorte van Christus – tóé het die Koninkryk van God naby gekom (Mt. 4:17). En die eindtyd kom tot sy voltooiing by die wederkoms. In die teologie word hiervoor dikwels die terme ‘d-day’ en ‘v-day’ gebruik, terme wat uit die Tweede Wêreldoorlog kom: ‘d-day’ verwys na die slag van Normandië in Junie 1944, toe die geallieerde troepe die slag geslaan het wat die Duitse weerstand gebreek het. Maar toe was die oorlog nog nie onmiddellik verby nie – dit het eers ‘n jaar later gekom, in Mei 1945, met ‘v-day’ – ‘victory day’! Sien u, ‘d-day’ (die beslissende slag), en ‘v-day’ (die einde van die oorlog). Dit is die ‘reeds’ en die ‘nog nie’ waarin ons vandag lewe. Christus se geboorte, sy werk aan die kruis, en sy opstanding is ‘d-day’ – daar het Hy die satan se kop vermorsel, daar is die oorwinning behaal. En dit maak dat ons vandag in die laaste dae lewe, in die laaste uur. Voel die spanning daarvan, kyk na die tyd, hoor hoe die horlosie twaalf-uur slaan – daar is geen tyd om oor onbenullighede te stry nie! En Christus se wederkoms is ‘v-day’ – dan gaan ons die finale oorwinning vier, in die teenwoordigheid van alle uitverkorenes, voor God se troon, op ‘n nuwe hemel en aarde. Daaroor hoop ons om volgende week te praat – dit is nou as Christus nie intussen teruggekom het nie...
Amen
Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Skr. 24:1 en 2
Geloofsbelydenis (Nicea)
Sing Skr. 24:3
Gebed
Lees: 1 Petrus 1:13-25
Galasiërs 4:1-11
Kollekte
Sing Skr. 24:4 en 5
Teks: Galasiërs 4:4
Preek
Amenlied Skr. 24:6
Gebed
Slotsang Skr. 24:7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.