Regverdig voor God

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-04-10
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 23
Preek Inhoud: 

Daar was ‘n man met steeds oplopende skulde.

Hy het nie meer vreugde in sy lewe gehad nie.

Nêrens kon hy kom nie of hy het skuldeisers teen die lyf geloop.

Op ‘n dag kry hy ‘n brief van ‘n ryk man.

Hy moes bank toe gaan om ‘n bankkaart te ontvang, wat voldoende daarop het om sy skuld af te betaal en verder ‘n normale lewe te lei.

Toe die arm man die brief lees, kon hy dit nie glo nie.

Maar ten einde raad het hy tog maar by die bank ‘n draai gemaak.

Die ryk man het nie as ‘n leuenaar bekend gestaan nie, dus wie weet ...

By die bank aangekom, het hy die brief gewys.

Hulle het sy ID gevra, en toe blyk dat daar inderdaad ‘n bankkaart vir hom gereed gelê het.

En tot sy verbasing het die bankkaart gewerk.

Binne ‘n week het hy sy skulde afbetaal.

Dit alles het hy te danke gehad aan die brief, waarmee hy na die bank gegaan het, met ‘n bietjie vertroue dat dit dalk waar kon wees.

As hy die brief nie sou geglo het en nie na die bank gegaan het nie, sou hy nog steeds sy skulde gehad het.

Maar hy het dit probeer, en toe blyk dat dit waar was.

 

Tema: Regverdig voor God

1 Danksy Jesus Christus

2 Deur geloof in Hom

 

1 Danksy Jesus Christus

Wat baat dit jou dat jy dit alles glo?

Dit is die vraag wat ons besighou.

Met ‘dit alles’ word verwys na die Apostoliese Geloofsbelydenis, die 12 artikels, wat in die voorafgaande Sondae behandel is, van Sondag 7 tot 22.

Opvallend is dat ons hierdie vraag al eerder teengekom het.

Elke keer weer: wat is die nut, wat baat dit jou ... dat jy dit glo?

Dit gaan nie oor rasionele waarhede wat niks vir jou lewe beteken nie.

Maar dit het ‘n direkte impak.

Dink aan v/a 36:

“Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?”

Dink aan v/a 45:

“Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?”

Dink aan v/a 58:

“Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?”

En nou, ten slotte, word hierdie vraag weer gestel:

Wat baat dit jou dat jy dit alles glo?

Op hierdie vraag volg ‘n kort antwoord.

Ek is naamlik voor God regverdig.

Ek is ‘n erfgenaam van die ewige lewe.

Die tweede is ‘n logiese gevolg van die eerste.

Regverdig voor God maak my ‘n erfgenaam van die ewige lewe.

 

Dan gaan die Kategismus verder met die vraag:

Jy sê dit wel, maar hoe is jy regverdig voor God?

En dan volg ‘n uitgebreide antwoord waarby ons nou gaan stilstaan.

Sentraal in hierdie antwoord staan Jesus Christus.

Want sy verdienste word deur God op ons rekening geplaas.

Soos Romeine 3 sê: Ons word gratis geregverdig deur sy genade.

Ons kry volledige genoegdoening, geregtigheid en heiligheid, wat Christus op ons naam oormaak.

Moenie probeer om op jou eie geregtigheid te vertrou nie.

Wat Jesus in Mattheüs 5:20 sê, is ‘n waarskuwing:

“Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as die van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.”

As jy dit as mens probeer, dan is dit alreeds ‘n amper onmoontlike opgawe om die vlak van die Fariseërs te ewenaar.

Maar vir God is dit nog lank nie genoeg nie.

Jesus noem die Fariseërs witgepleisterde grafte.

Aan die buitekant het hulle miskien regverdig gelyk, aan die binnekant was dit een en al vuiligheid en sondigheid.

Neem dus liewer direk jou toevlug tot die volmaakte geregtigheid van Christus.

Slegs so kan jy heeltemal regverdig word.

God moet dit vir jou doen.

Romeine 8:33-34 sê: “God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel?”

Dit is geen halfslagtige, gebreklike, gedeeltelike regverdigheid nie.

Dit is volmaak, die rekening is volledig betaal.

 

En nou vra jy:

Geld dit ook vir my?

Vir wie almal geld dit, hierdie regverdiging in Christus?

Ons kan begin met te antwoord:

Aan almal in die kerk skenk God hierdie belofte.

Selfs aan klein babatjies wat in die kerk gebore word.

Ook hulle kry die belofte by hulle doop.

Selfs babatjies wat sterf voordat hulle gedoop kon word, ook hulle het deel aan hierdie belofte.

Ook verstandelik ernstig gestremde kerklidmate, wat miskien nooit in verstaanbare woorde kan uitspreek dat hulle glo, ook hulle ontvang die belofte van geregtigheid.

Ook hulle is ryk in Christus.

 

Nou die volgende vraag:

Wie kry nie hierdie belofte nie?

Dit lê in die eerste plek voor die hand:

Hulle wat nie deel van die liggaam van Christus is nie, sy liggaam – sy gemeente.

Hulle wat nie deel daarvan wil word nie.

Maar, in die tweede plek, ook hulle wat wel lid is van die kerk, maar die belofte van God verag.

Byvoorbeeld hulle wat onverskillig is.

Elkeen van ons hier in die kerk word as sondaar gebore – geen verskil.

Elkeen ontvang dan die belofte van God: Jy word geregverdig, elke keer as jy in gebed, in Christus se naam, vergifnis vra.

Wie egter onverskillig is, wie nie bid nie, word ook nie geregverdig nie.

 

Dit is ‘n belangrike punt.

God regverdig jou nie sonder jou medewete nie.

In die voorbeeld uit die inleiding moes die arm man bank toe gaan.

God wil dat ons sy belofte vertrou, dat ons na Jesus gaan en om vergewing vra.

Slegs hulle wat gelowig in Christus se naam vergewing vra, kry kwytskelding.

Ons is almal brandarm.

Maar ons kan nie uitgepraat raak oor daardie ryk man, ons Here Jesus Christus, nie.

Ons kan nie sy volmaakte geregtigheid genoeg prys nie.

Hy deel dit uit, en geloof in sy volmaakte offer maak vir ons ‘n toekoms oop van bevryding, sonder skuld.

 

Dit bring ons by die tweede punt:

(Tema: Regverdig voor God

1 Danksy Jesus Christus)

 

2 Deur geloof in Hom

Ons is al gou geneig om te dink dat iemand wat baie gelowig is, baie minder sal sondig.

Maar volgens Sondag 23 werk dit anders.

Iemand wat baie gelowig is, is iemand wat oor homself erken dat hy nog midde in die sonde lê.

‘n Diep gelowige is nie iemand wat uitstraal dat hy so goed en heilig leef nie.

‘n Diep gelowige is iemand wat elke keer na God vlug om vergewing te vra, in Christus se naam.

Maar, doen iemand wat baie gelowig is, dan regtig nog net soveel sondes as byvoorbeeld ‘n onverskillige kerklidmaat?

Gemeente, as mens dit objektief bekyk, seker nie.

Alleen, daardie gelowige sal nooit trots daarop wees nie.

Hy sal altyd homself skaar by al die ander sondaars.

Hy sal absoluut nie pretendeer of uitstraal dat hy beter is nie.

 

Dit wil, aan die ander kant, ook nie sê dat hy ander se sondes goedpraat nie.

Hy sal ander wel oproep tot bekering.

Hy sal duidelik maak dat mens nie in sonde mag lewe nie.

Maar hy sal nie die aandag op homself vestig, op sy voorbeeld, op sy onbesproke lewenswandel nie.

Hy sal jou aandag onmiddelik vestig op Christus.

Hoe ryk geseënd mens is as Christus Heer van jou lewe is.

Christen wees, dit is ‘n lewenswyse gerig op Christus.

Ons roem nie in onsself nie.

Ons roem in die genade van Christus.

Dit is presies wat ons vandag gedoen het toe ons nagmaal gevier het.

Ons verhef ons harte, ons kyk op na Christus.

Sy geregtigheid is my rykdom, my vryspraak.

 

Nogmaals, dit is nie so dat sy regverdiging outmaties is nie.

Dit is nie so dat ons alreeds 2000 jaar gelede, toe Christus gekruisig is, dat ons reeds toe al geregverdig is nie.

Uiteraard het Christus toe al betaal, die ‘kapitaal’ verwerf.

Maar die regverdiging van jou lewe vind van dag tot dag plaas, in die hede.

Elke keer as jy in gebed vra vir vergifnis, pleitende op Jesus se offer.

Dan vind daar regverdiging plaas, dan vind – soos Luther dit genoem het – die vrolike ruil plaas.

Jy kan ook nie sê, ek is op daardie dag en uur bekeer, en nou is my lewe geregverdig tot die dag van my dood nie.

Nee, regverdiging vind van dag tot dag plaas.

God se belofte van vergifnis, dit lê inderdaad gereed, tot jou sterfdag.

Maar wie nie elke dag tot God bid nie, wie nie in geloof na Jesus opkyk nie, kry nie vergewing nie.

Net soos die arm man.

As hy nie die bankkaart gebruik nie, kry hy nie geld om sy skulde af te betaal en ‘n goeie lewe te lei nie.

 

Maar, en daarop vestig v/a 61 ons aandag, hierdie ‘klein moeite’ om te bid, dit op sigself is nie ons regverdiging nie.

Selfs die feit dat ons bid, en die feit dat ons glo, is genade.

As Christus ons nie opgesoek het en ons geleer het om te bid nie – dink aan hoe Hy dit met sy dissipels gedoen het; en as sy Gees nie met my saambid nie, dan sal my selftrots, my ou sondige mens, weer oorneem en ek sal nie sover kom om te bid nie.

Wat het ons, waartoe is ons in staat, wat ons nie ontvang het nie?

Selfs dat ons bid is genade.

 

Maar wie bid en om Jesus’ wil vergewing vra, kry dit ook werklik, hoe groot sy sondes ook is.

Dit klink miskien snaaks, maar dit is ‘n rede wat baie mense daarvan weerhou om te bid.

Hulle vind dat hulle skuld te groot is.

God sal dalk ander vergewe – daardie kerklidmate wat regtig goed lewe.

Maar my skuld is te groot.

God sal my tien teen een straf.

Dit wat ek gedoen het, of dit wat in my lewe aangaan, dit is te erg vir vergewing ...

 

Geliefdes, dit is die kromste redenering.

God vergelyk nie die een mens met die ander nie.

Of jou skuld hemelhoog is, of dalk glad nie groot in mense se oë nie, vir God is almal se skuld ewe groot.

Elke mens wat in die spieël van God se wet kyk, word oortuig van sonde wat genoeg is om in die hel gestraf te word.

Met sy wet oortuig God ons van ons sonde, ons opstand teen Hom.

Maar daar bly dit nie by nie.

Want hoekom moet ons in die spieël van die wet kyk?

Om te besef dat ons self totaal onmagtig is.

Die Heilige Gees gebruik die wet om ons te laat vlug na Christus toe.

Wie dink hy is skoon, wie nie in die spieël van die wet kyk nie, ervaar nie die behoefte om na Christus te hardloop nie.

Maar hoe vuil jy ook is, Christus kan reinig, Hy kan bevry van alle sonde en dood.

 

En aan hierdie weldaad, sê Sondag 23, het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart aanneem.

Hierdie woorde is ontleen aan Johannes 3:18:

“Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

 

Kom ons bekyk hierdie heilsfeit nog een keer van naby.

Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart aanneem ...

Hoe gebeur dit presies?

Daar staan: met ‘n gelowige hart.

As ek glo, skenk God my die geregtigheid van Christus.

God skenk dit.

Die woord skenk kan op verskillende manier gebruik word:

Jy kan byvoorbeeld sê:

Ek skenk ‘n glas vol water.

Word dit ook hier bedoel, dat God ons volskenk met geregtigheid?

Hierdie voorbeeld laat ons dink aan hoe die Roomse kerk die genade benader.

Die Kategismus is per slot van rekening opgestel met die Roomse dwaalleer op die agtergrond.

Deur die sakrament van die doop, sê die Roomse kerk, word die genade in ‘n kind ingeskink.

En elke keer as jy nagmaal vier, word die beker van jou lewe bietjie voller geskink.

So ontvang jy die genade as ‘t ware outomaties.

En hopelik het jy teen die einde van jou lewe genoeg nagmaal gevier, en genoeg sakramente gebruik het, sodat jou lewensbeker vol genoeg is.

 

Maar die woord skenk kan ook anders gebruik word.

Iemand skenk jou die versekering dat daar genoeg geld op die bankrekening sal wees om te gebruik, elke keer as jy nodig het.

God gee ‘n versekering, ‘n belofte.

Dit is wat die Kategismus hier bedoel:

Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart aanneem.

Elke dag moet jy na Christus gaan om genade te ontvang.

Dit doen jy in gebed.

En as jy gebid het, is alles vergewe, dan is jou lewensbeker tot die rand vol, dit stroom selfs oor.

Alle skuld is gedelg.

Jy is nie oppad om jou beker vol te kry, en hopelik sal dit vol genoeg wees teen die einde van jou lewe nie.

Elke dag, nadat jy gebid het vir vergewing, stroom jou beker oor.

Wie ‘n biddende lewe lei, hoef geen skuldelas te dra nie.

 

Dit is die verskering wat Christus ons met die nagmaal skenk.

En in Christus se naam nooit ek u uit, roep ek u op, pleit ek, geliefdes:

Maak in die komende week elke dag gebruik hiervan.

Maak gebed jou daaglikse gewoonte.

Moenie soos ‘n stout kind draaie om jou pa of ma probeer loop nie.

Moenie God probeer vermy nie.

Gaan in gebed tot Hom.

Ervaar sy oorvloedige genade in Christus.

Jy word geregverdig elke dag is jy in gebed dit vra.

Elke dag sal jou beker oorstroom.

So eenvoudig is dit, niks meer nie.

Sola Gratia.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Romeine 3:9-30

Preek nav Heidelbergse Kategismus Sondag 23

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Waaruit kan ons aflei dat dit in die Kategismus nie net oor dorre verstandelike waarhede gaan nie?
  2. Ontvang verstandelik gestremde mense, wat nie kan praat nie, ook regverdiging uit die geloof?
  3. Wanneer vind regverdiging (‘die vrolike ruil’) in ‘n mens se lewe plaas?
  4. Wanneer het ‘n mens genoeg genade ontvang om salig te kan word?
  5. Hoekom is ek nie op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik nie?
  6. Wat is die verskil tussen iemand met ‘n sterk geloof en iemand met ‘n swak geloof?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 71:1,2

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Viering van Nagmaal

          Skriflesing: Romeine 3:9-30

          Ps 97:1

Lofverheffing & gebed

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 23

Preek

Ps 40:5,6

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 143:8,9

Kollekte

Ps 40:8

Seën