Preek: Lukas 23:27-31
Via Dolorosa.
Dit het ‘n bekende uitdrukking geword vir die laaste fase van Jesus se lewe.
Via Dolorasa – weg van smarte.
Tradisioneel gesien as die roete wat Jesus afgelê het nadat hy deur Pilatus veroordeel is, die roete tot op Golgota.
In die Roomse tradisie word dit in 14 gebeurtenisse, of stasies, opgedeel, vanaf die veroordeling deur Pilatus, die kruis wat op sy skouers gelê is, die eerste keer wat Hy geval het, Jesus wat sy ma ontmoet, Simon van Cirene wat beveel word om die kruis te help dra, ‘n vrou met die naam Veronica wat Christus se gesig afvee, Jesus wat vir ‘n tweede keer val, die vroue van Jerusalem wat oor Jesus ween, ensovoorts.
Al hierdie stadia kom nie uit die Bybel nie, sommige kom uit apokriewe verhale, soos Veronica wat sy gesig afgevee het, en Jesus wat tot drie keer toe sou geval het.
In Roomse kerke vind mens dikwels skilderye of beelde van hierdie 14 gebeurtenisse op Jesus se lydensweg na Golgota.
Mense gebruik dit om die lydenstyd en Goeie Vrydag te herdenk.
Behalwe vir die apokriewe stories, is dit nie verkeerd om hierdie gebeurtenisse te herdenk nie.
Elke jaar in die periode rondom Goeie Vrydag en Paasfees herdenk ons die heilsfeite, hoe Christus tydens sy hele lewe op aarde gely het, maar veral aan die einde daarvan, soos die Heidelbergse Kategismus dit verwoord.
Vandag kyk ons na die laaste woorde van die Here Jesus, voordat Hy aan die kruis gehang is.
Dit was baie ernstige woorde, gerig tot die dogters van Jerusalem.
Kom ons kyk vandag of daar troos is, en soja, watter troos daar is in hierdie ernstige waarskuwing van Jesus.
Tema: Die troos in Jesus se laaste waarskuwing
Nadat Pilatus en Herodes, onder druk van die Jode, nie meer weerstand gebied het nie, was die koeël deur die kerk.
Die Joodse leiers het hulle sin gekry en Jesus kon nou weggeneem word om gekruisig te word.
Massas en massas Jode kort daarvoor geskreeu het: Kruisig, kruisig Hom!
Pilatus het hulle nog gewaarsku dat hulle ‘n onskuldige man kruisig, hy het sy hande in water gewas.
Maar die volk het verkies dat die misdadiger Barabbas liewer vrygelaat word.
En hulle het geskreeu: Ons worry nie, “Laat sy op bloed op ons en op ons kinders kom!” (Matt 27:25)
En nou het ‘n groot menigte van die volk Hom gevolg.
Waarskynlik die meeste van hulle was spotters, of soos ons dit vandag sou noem: ‘ramproeriste’.
Daarby was daar ook nog vroue wat rou bedryf en Hom beklaag het.
Letterlik staan daar, soos 2020-vertaling korrek vertaal: Die vroue het op hulle bors geslaan – ‘n algemene teken van rou in daardie tyd.
Was dit vroue wat lojaal aan Hom gebly het?
Het hulle huilende agter Hom aangeloop omdat hulle dit wat besig was om te gebeur, verskriklik erg gevind het, omdat hulle so oortuig was van sy onskuld?
Moontlik nie, gemeente.
Al was daar vroue wat Jesus trou tot die einde by die kruis gevolg het, dink aan sy eie ma, het ons hier met iets anders te make.
In daardie tyd was dit gebruiklik dat daar klaagvroue was, wat luidkeels geween het, elke keer as ‘n misdadiger weggelei is om gekruisig te word.
Hierdie geween was dan nie noodwendig opreg gemeen nie, eerder soort van beroepsmatig.
Die vroue wat Jesus gevolg en gedien het, het op hierdie oomblik ver, op ‘n afstand gestaan.
Hulle was nie deel van die luidkeelse geklaag nie.
Duidelik is dat Jesus het al hulle jeremiades gehoor het.
Lukas skryf: Jesus het Homself omgedraai, Hy het iets gehad om vir hulle te sê.
En wat Hy dan sê, is baie opmerklik.
Jesus stel hulle nie gerus nie.
Iets soos: Ja, dit is verskriklik erg wat nou gebeur, dit is tereg dat julle op die bors slaan en weeklaag.
Maar dit is heeltemal onnodig.
Want Ek gaan nou wel gekruisig word, maar op die derde dag sal Ek weer opstaan!
Dit het Jesus nie nou gesê nie.
In die verlede het Hy dit wel al voorspel.
By herhaling, aan sy dissipels, dat Hy weer sou opstaan.
Hoekom sê Jesus dit dan nie nou aan hierdie vroue, die dogters van Jerusalem nie?
Hoekom sê Hy iets wat hulle, altans so klink dit, net nog dieper in die put in stoot?
Is daar enige troos in hierdie woorde van Jesus, hierdie laaste onderrig van Hom, voordat Hy aan die kruis opgehang is?
Dit klink baie somber.
Jesus vermaan hulle om nie oor Hom te huil nie.
Daar is veel meer rede om oor hulleself en hulle kinders te ween.
Hierdie uitspraak is opmerklik.
Hierdie woorde van Jesus sluit aan, is ‘n reaksie op wat die volk kort gelede geskreeu het:
“Laat sy op bloed op ons en op ons kinders kom!” (Matt 27:25)
Jesus sê as ‘t ware: Dit wat julle geskreeu het, oppas, want dit gaan waar word!
Julle moet eerder oor julleself en julle kinders ween!
En dan wys Jesus vooruit.
Daar kom dae, daar kom ‘n tyd, wat so verskriklik vir julle kinders sal wees, dat hulle sal sê:
Gelukkig is die onvrugbares!
Gelukkig is die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie!
Gemeente, normaalweg is die omgekeerde waar.
Om onvrugbaar te wees is ‘n lewenslange verdriet, ‘n kruis, wat sommiges moet saamdra.
Om ‘n kind te kry is een van die grootste wonders wat ons op aarde kan beleef.
Maar in die tye wat kom, sê Jesus, sal die onvrugbares juis gelukkig geprys word.
Dit laat mens bietjie dink aan die verskriklike oorlog wat tans in Ukraïne woed.
As mens daardie beelde van verwoesting sien, en die miljoene vlugtelinge wat die land verlaat, dan verstaan mens dit.
Ma’s wat met babatjies moet vlug, dit is soveel moeiliker.
En wat nog erger is, is die bekommernis wat ‘n ma oor haar kind op haar hart dra.
Wat as sy en haar kind van mekaar geskei word, as die ma nie meer weet waar haar kind is nie?
Ek het afgelope week ‘n foto sien verbykom van ‘n ma wat met groot letters op haar kind se rug sy naam geskryf het, en verskillende telefoonnommers, sou hulle van mekaar geskei word.
En wat selfs nog erger as dit is, is as ‘n ma haar kind moet verloor as gevolg van al die wreedhede.
Dan verstaan mens wat Jesus sê, dan is dit beter om onvrugbaar te wees, in sulke tye.
Daardie tye wat kom sal so erg wees, sê Jesus, dat die mense eerder sal wens hulle is dood.
Hulle sal vir die berge begin sê: Val op ons!
Vir die heuwels: Bedek ons!
Liewerste dit as om in die hande van wreedaardige vyande te val, wat jou sal verkrag, wat jou kind voor jou oë sal vermoor, wat ten slotte jou ook om die lewe sal bring.
Dan sal mens eerder wil hê ‘n berg val op jou en jy is direk dood.
Hierdie uitspraak onderstreep hoe verskriklik die oordeel gaan wees.
Jesus se woorde herinner aan die profeet Hosea, waar God se afvallige volk, Samaria, ook roep:
Berge, bedek ons!
Heuwels, val op ons! (Hos 10:8)
En dan sluit Jesus sy woorde af met ‘n spreekwoord:
Want as hulle dit doen aan die groen hou,t, wat sal met die droë gebeur!
Wat bedoel Jesus hiermee?
Hierdie spreekwoord herinner aan die profeet Esegiël wat namens die HERE aan Juda moes sê: “Ek steek ‘n vuur in jou aan wat in jou elke groen boom en elke droë boom sal verteer; die uitslaande vlam sal nie uitgeblus word nie” (Eseg 20:47).
As jy vuur maak vir braaivleis, het jy droë hout nodig.
Normaalweg gaan ‘n vuur dood as jy nat hout, groen hout, op die vuur gooi.
Tensy die vuur so warm is, dat dit selfs groen, nat hout, verbrand.
Wat bedoel Jesus met hierdie beeldspraak: Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur?
Let op, gemeente, dat die eerste deel van hierdie sin in die teenwoordige tyd is, en die tweede deel in die toekomende tyd.
Daar gebeur nou, in die hede, iets met die groen hout.
Gemeente, met die groen hout verwys Jesus naamlik na Homself.
As die Romeinse soldate dit doen met Hom, die groen hout, wat sal hulle dan nie in die toekoms met Jerusalem, die dor hout doen nie?
As hulle so wreed is met Hom, die groen hout, hoe wreed sal hulle nie met Jerusalem wees nie?
Groen hout dui op lewe, hout wat nie dood is nie, hout wat nie siek is nie, hout wat gesond is.
Hierdie groen hout, Jesus self, ondergaan nou die oordeel.
Maar, soos ons weet, vuur kry nie gou vat op groen hout nie.
Tog, as ons besef dat hierdie oordeel oor Jesus nie net die werk van die Romeinse soldate is nie, maar God in die hemel se oordeel, dan verstaan ons dat hierdie oordeel so swaar is, die vuur van hierdie oordeel so warm is, dat dit ook die groen hout sal verbrand.
Die hemelse Vader is self hier besig om ‘n groen boom uit te kap, ‘n gesonde boom wat dit nie verdien het nie.
Dit wys natuurlik op sy Middelaarswerk, gemeente!
Hier word ‘n onskuldige Man gekruisig, en dit vir ons!
Dit is wat ons vandag mag herdenk!
En Jesus besef hoe groot die oordeel is wat Hy nou in die gesig staar.
Hy sal sy lewe moet aflê, juis ter wille van hulle wat dorre hout is.
Maar, en daarvoor waarsku Jesus Jerusalem.
Hierdie Godsoordeel gaan ook oor Jerusalem kom.
Tussen hakies, gemeente, die uitdrukking dogters van Jerusalem kan ons opvat as ‘n verwysing na die hele Jerusalem, oftewel God se verbondsvolk wat hulle Messias verwerp het.
Ook in die Ou Testament word die term dogters van Jerusalem al gebruik om Jerusalem vermanend aan te spreek (bv. Jes 3:16).
En, in teenstelling tot Hom, is Jerusalem droë hout, nie nat hout nie.
Hulle is droog, ja geestelik dor en dood in hulle ongeloof en opstand teen God, in hulle verwerping van die Messias.
Dink net hoe hoog gaan die vlamme brand, as hulle vat kry op hierdie droë hout!
Jerusalem het geweier om hulleself te laat ent op Jesus, die lewende stam.
Wie as lote in Hom ingeënt is, sal groei en lewe, sal groen en vrugbaar wees.
Maar Jerusalem was soos ‘n dorre boom.
En, soos Jesus gewaarsku het, Lukas 3:9: “Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
Hierdie oordeel, waarsku Jesus die dogters van Jerusalem, hang bo julle koppe!
Wees eerder daaroor bekommerd!
Wees oor julleself en julle kinders bekommerd, nie oor My nie.
Maar gemeente, hierdie oordeel wat Jesus aankondig, doen Hy nie uit wraak nie.
Hy is eerder begaan, bekommerd, besorgd oor hulle.
Nie net oor hierdie dogters van Jerusalem nie, selfs oor die mense wat nou so haatlik teenoor Hom is en wat Hom so spot – die Romeinse soldate.
Enkele verse later, toe Jesus aan die kruis hang, hoor ons hoe Hy vir God vra:
“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (vers 34)
Selfs in die ergste lyde vra Jesus medelyde vir hulle wat Hom kruisig.
En na sy kruisiging en opstanding sou daar nog jare van genadetyd aanbreek.
Tye waarin die apostels Jesus se woorde sou herhaal, en ook vir die Jode sou sê:
“En nou, broeders, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle owerstes” - Handelinge 3:17.
In hierdie woorde van Petrus echo Jesus se kruiswoorde: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
En Paulus kon vir die heidene in Athene sê: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.” (Hand 17:30)
Inderdaad, die HERE is genadig en geduldig.
Hy gee baie tyd, voordat sy oordeel kom.
Maar ons weet, gemeente, dat Jerusalem inderdaad deur God geoordeel is, ongeveer 40 jaar later, in die jaar 70.
Eerder in sy prediking het Jesus ook al Jerusalem vir hierdie oordeel gewaarsku.
Ons kan terugdink aan sy profetiese rede – Lukas 21.
Met hierdie laaste woorde voor sy kruising herinner Hy daaraan.
Dink aan sy verdrietige en ontroerende woorde: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt 23:38)
As mens in geskiedenisboeke lees hoe die verwoesting van Jerusalem gebeur het in 70 nC, was dit inderdaad hartverskeurend.
Die geskiedskrywer Flavius Josefus skryf uitgebreid daaroor.
Eers is die stad uitgehonger, en daarna verbrand.
In stede wat uitgehonger word, gebeur die verskriklikste dinge.
Daar is selfs mense wat mekaar begin opeet, en moeders wat hulle eie kinders met hongerige oë aankyk.
Mens wil liewers nie daaraan dink nie.
Inderdaad, dan liewers kinderloos as dit.
En daarna, toe die Romeine uiteindelik die stad binngekom het, is die tempel verwoes, en toe is die hele stad afgebrand.
Die vlamme was versengend warm, soos wat hulle vat gekry het op die droë hout.
Tog, gemeente, profeteer Jesus nie net oor daardie gebeurtenis, die verwoesting van Jerusalem nie.
Sy laaste onderrig was ook oor die laaste oordeel, die groot oordeelsdag, wat ook vir ons nog in die toekoms lê, wat ook ons en die wêreld van vandag bo die hoof hang.
En inderdaad, as ons vir ‘n oomblik nadink oor hoe versengend warm die vlamme van daardie oordeel gaan wees oor ‘n aarde wat vol is van dor hout, dan is mens inderdaad geneig om uit te roep: Berge, val op ons!
En dan maak dit sin om die onvrugbare gelukkig te prys.
Want inderdaad, die hele wêreld gaan dan omgekeer word.
Gemeente, wat is die boodskap van hierdie laaste onderrig van Jesus, eerstens vir die vroue, en tweedens vir ons?
Jesus praat met gesag.
Hy kondig ‘n oordeel aan wat sal gebeur na sy kruisdood.
Hierdie finale oordeel is ‘n integrale deel van die Evangelie, want ons sien dit ook elke keer terug in die prediking van die apsotels.
Dink aan wat Paulus in Athene gesê het: God het ‘n dag bepaal “waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel ...” (Hand 17:31)
Dit is ‘n ernstige waarskuwing.
Maar Paulus mag ook die evangelie bring, dat daar ‘n moontlikheid is om aan die oordeel te ontsnap.
God het naamlik ‘n Man aangestel in wie se Naam ‘n mens gered kan word, “en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” (Hand 17:31)
Soos die dogters van Jerusalem, moet ons ook rekening hou met hierdie oordeel.
Maar hierdie waarskuwing van Jesus aan die vroue wat Hom op sy via dolorosa gevolg het, staan nie op homself nie.
Hierdie waarskuwing is nie fatalisties en onafwendbaar nie.
Want nadat die oordeel homself oor Jesus voltrek het, het Hy in heerlikheid opgestaan.
En die blye boodskap is, dat elkeen wat in Hom glo, wat op Hom ingeënt is, bestand sal wees teen daardie oordeel.
Wie ‘n loot is geplant op die stam Jesus, is groen en gesond en lewendig, en geen vuurvlamme sal ooit vat op hom of haar kan kry nie.
God se oordeel oor Jesus was so heftig dat dit selfs die groen hout verbrand het.
Maar danksy sy kragtige middelaarswerk hoef ons nooit so ‘n groot oordeel te ondergaan nie, en is ons as groen hout veilig, beskerm teen die vuurvlamme van die eindgerig.
Veilig, omdat ons ingeplant is op Christus.
Geliefdes, dit is die troos wat daar uit hierdie somber teks tot ons kom.
Inderdaad, in Jesus se laaste publieke prediking op aarde – want dit is wat hierdie woord is – skuil daar ‘n groot troos.
Daar is ‘n heerlike troos in Jesus se laaste waarskuwing.
Dit klink strydig, dat ‘n somber teks, ‘n waarskuwing vol vermaning, dat dit vertroostend kan wees.
Tog is dit tipies van die Evangelie.
Vandag herdenk ons Christus se kruisdood.
Dit is die verdrietigste gebeurtenis van die wêreldgeskiedenis, maar tog vier ons dit.
Want ons sien die groter prentjie.
Die Skrif openbaar aan ons God se heilsplan.
En dan maak alles sin.
Goeie Vrydag staan nie los van Paassondag nie.
En in Jesus se vermaning aan die klaagvroue klink sy besorgdheid oor hulle.
Hoe graag sou Hy nie wil dat hulle en hulle kinders gered word, aan die oordeel sal ontsnap nie!
Het Jesus sy dissipels nie al vroegtydig gewaarsku nie:
Wanneer julle hoor van oorloë en die gerugte van oorloë, en die gruwel van die verwoesting, dan moet julle vlug, uit die stad uit, die berge in.
En “wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie.” (Matt 24:19-20)
Dieselfde waarskuwing gee Jesus vir hierdie klaagvroue.
Hy wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom – 1 Timotheüs 2:4.
So is Christus se waarskuwing genade.
Die feit dat Hy na hulle omgedraai het, moeite gedoen het om hulle aan te spreek, is genade.
Die feit dat Hy tyd neem vir jou en my, is ook genade.
Sy Woord openbaar aan ons wat aan die einde van die tye sal gebeur, die groot oordeelsdag wat op koms is.
Dit sal God se regverdige oordeel oor hierdie opstandige wêreld wees.
Maar Christus bied vir ons ontsnapping aan die oordeel.
Hy is die Lewensboom, immergroen.
Hy het met sy kruisiging en opstanding die ewige lewe verwerf.
Hy het ‘n herskape, verheerlikte liggaam.
Geen oordeelsvlamme sal vat op Hom kry nie.
En so ook nie elke loot wat op Hom ingeplant is nie.
Jy sal immergroen bly, en vrug dra, ja selfs deur die oordeel heen.
Hy, ons Here Jesus, is ‘n boom wat diep en vas geplant is, en sy wortels uitsprei by die waterkant.
En ons is sy vrugbare volle drag van somervrugte (Psalm 1).
Alle eer aan Hom!
Prys Hom, die gekruisigde, vir sy genade en ontferming.
Loof Hom, wat opgestaan het.
Hy leef, en ons sal leef saam met Hom!
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Lukas 23:26-49
Teks: Lukas 23:27-31
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Na wie verwys Jesus met die uitdrukking: dogters van Jerusalem?
- As Jesus vir die dogters van Jerusalem sê dat hulle eerder oor hullself en hulle kinders moet ween, is dit sy antwoord op watter uitspraak van die volk vroeër op daardie selfde dag?
- Op watter oordeel (oordele) wys Jesus in hierdie teks?
- Wat bedoel Jesus met die uitdrukking: groen hout en droë hout?
- Hoe kan jy beskerm word teen die toekomstige laaste oordeel?
- Watter troos is daar vir jou in Jesus se laaste publieke prediking op aarde?
Votum
Seën
Ps 63:1,3
Gebed
Skriflesing: Lukas 23:26-49
Sb 7:4,8
Teks: Lukas 23:27-31
Preek
Ps 1:2,3
Gebed
Geloofsbelydenis: Lees HK Sondag 15
Sb 6:1,2,4,6
Kollekte
Ps 30:3,5,8
Seën