Broers en susters,
Waaroor gaan artikel 14 presies? Die opskrif bo-aan die artikel gee vir ons die indruk dat dit oor ‘n verskeidenheid sake gaan: die skepping van die mens, sy sondeval, en die gevolge daarvan. Alles waar en belangrik (en al hierdie sake word op ander plekke uitvoeriger bespreek), maar wat is die spits / fokus van artikel 14? Ek reken dat ons omtrent tot by die helfte van die artikel moet lees voordat ons die spits ontdek; omtrent in die helfte van die artikel lees ons: “Daarom (let op hierdie woordjie: dit dui die konklusie van die voorafgaande aan!) verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word.” Dís waaroor dit gaan! Alles wat daaraan voorafgaan is ‘n aanloop tot hierdie fokus: die stryd oor die vrye wil. En alles wat daarop volg is ‘n Bybelse uitwerking daarvan. So aktueel was die vraagstuk oor die vrye wil in Guido de Bres se tyd dat hy uitgebreid in artikel 14 daarop ingaan.
Maar, gemeente, vir watter tyd is hierdie vraagstuk nie aktueel nie? Dit was aktueel toe Augustinus met Pelagius gebots het in die vierde eeu; dit was aktueel toe Luther sy geskrif “Die geknegte wil” teen Erasmus geskryf het en toe Calvyn met Pighius gedebateer het in die 16de eeu; dit was aktueel toe Arminius en die Remonstrante hulleself teen die Sinode van Dort vasgeloop het in die 17de eeu; dit was aktueel toe Jonathan Edwards sy “Vryheid van die wil” in die 18de eeu geskryf het; dit was aktueel tydens die Afskeiding van die 19de eeu. En soos ek hoop om vanaand vir u te wys: dit is vandag nog net so aktueel...
Die vrye wil – wat leer die Skrif ons daaroor? Het ons ‘n vrye wil? Indien wel, hoe? Indien nie, hoekom nie? Ons gaan helder moet formuleer, ons gaan duidelik moet onderskei. Want as ons hier skeef trap, dan gaan dit effek hê vir ons verstaan van artikel 15 (oor die erfsonde), artikel 16 (oor God se uitverkiesing), en ergste van alles vir artikel 17 en verder (oor die Persoon en werk van ons Here Jesus Christus). Kom ons kyk daarom of ons vanaand ‘n duidelike en Skriftuurlike beeld kan kry van wat met die vrye wil bedoel word.
Tema (as ‘n vraag): Is jy vry of nie? Ons gaan kyk na vier punte: in die eerste twee hoor ons twee antwoorde wat die wêreld vir ons aanbied op hierdie vraag (is jy vry of nie?), en in die derde en vierde punt hoor ons die Bybelse antwoord op hierdie vraag...
- Libertanisme
- Determinisme
- Gebondenheid-sonder-dwang
- Vryheid-in-verantwoordelikheid
1. Libertanisme – daarin hoor jy waarskynlik die Engelse woord ‘liberty’, vryheid! Die libertanisme – en sonder dat hulle eintlik daarvan bewus is, is die meeste mense vandag libertaniste – die libertanisme is van mening dat ons, mense, eers werklik vry is as ons egte en volledige keusevryheid het, as daar geen eksterne dwang is nie, en as my optrede nie vasgevang is in ‘n geslote kring van oorsaak en gevolg nie. Ek is eers vry as ek werklik self kan kies: ek verrig handeling a, maar ek kon net so goed daarvoor gekies het om op dieselfde oomblik handeling b te verrig, of ek kon daarvoor gekies het om geen handeling te verrig nie. Dit is hoe die meeste mense vandag na die wil van die mens kyk: ek is totaal vry om te doen wat ek wil. Of ten minste: elke mens behoort totaal vry te wees om te doen wat hy/sy wil.
Nou, op ‘n sekere vlak is daar natuurlik vryheid – om die vrye wil van die mens summier af te wys, is effens te eenvoudig. Ek staan, byvoorbeeld, in die winkel en ek moet kies watter soort sjokolade ek gaan koop. Daar is niemand wat my dwing om enige spesifieke sjokolade te kies nie – ek is vry om die sjokolade te kies waarvan ek hou. Dieselfde geld wanneer ek ‘n motor wil koop of ‘n studierigting kies. Uiteraard is daar eksterne faktore wat ‘n rol in my besluit kan speel (die beskikbaarheid van finansies wanneer ek ‘n motor kies, my aanleg wanneer ek ‘n studierigting kies), maar die punt is: wanneer dit gaan oor normale, alledaagse dinge, dan kan ons praat van ‘n sekere mate van handelingsvryheid.
Maar wanneer dit gaan oor dít wat werklik saakmaak in die lewe, soos die keuse tussen goed of kwaad, of die keuse vír of téén God – is ons dan nog steeds so vry? Lê die keuse tussen goed en kwaad, en die keuse vir of teen God – lê dit op dieselfde vlak as die keuse tussen ‘n Toyota of ‘n Ford, of tussen ‘n Coke of ‘n Fanta? Nee, gemeente, die Skrif is ondubbelsinnig dat dit nie die geval is nie. En artikel 14 sit vir ons ‘n keur van Skrifgedeeltes voor om dit te bewys! Die room van die Skrif word op ‘n skinkbord vir ons aangebied: “’n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie” (Joh. 3:27), “niemand kan na My toe kom as die Vader ... hom nie trek nie” (Joh. 6:44), “wat die vlees bedink, is vyandskap teen God” (Rom. 8:7), “die natuurlike mens kan die dinge van die Gees van God nie aanneem nie” (1 Kor. 2:14), en “dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehare (Fil. 2:13). In die keuse tussen goed en kwaad, in die keuse vir of teen God, is ons nie vry nie. O ja, eens was ons vry! Daar was ‘n tyd in die tuin van Eden toe die kerkvader Augustinus se bekende Latynse uitspraak nog gegeld het: posse non peccare – in staat om nie te sondig nie. Maar daardie tyd is lankal agter ons. Nou geld nog slegs: non posse, non peccare – nie in staat om nie te sondig nie.
En dit is wat die libertanisme – en die grootste deel van die mensdom vandag – eenvoudig nie wil aanvaar nie. Hulle wil nie aanvaar dat ons die vryheid wat ons gehad het, verspeel het en sodoende slawe van die sonde geword het nie. En daarom word hierdie Bybelse leer veragtelik weggegooi; hierdie Bybelse spieël waarin elke mens kan sien dat hy of sy ‘n slaaf is, word verwerp – “niemand sal van my ‘n slaaf maak nie!” Ek is vry om te doen wat ek wil, ek is vry om te wees wie ek is. In die libertanisme is vryheid konsekwent ‘n onbeperkte vryheid – dis ‘n vryheid sonder grense, sonder reëls, sonder norme. Klink dit mooi en aanloklik? Net doen wat jy self wil? Voordat jy antwoord gee, dink vir ‘n oomblik hieroor na: is ‘n vis werklik vry as hy self (sonder enige eksterne dwang) kan kies of hy op die land of in die water wil woon? Nee, gemeente, ‘n vis is werklik vry wanneer hy binne sy water-habitat bly – en dan kan jy dalk verontwaardig uitroep dat dit ‘n beperking van die vis se vryheid is, maar almal weet dat die vis sal doodgaan as hy buite die water moet oorleef. Dus, wat is werklike vryheid vir daardie vis? Of toegepas op die mens: is die mens werklik vry as hy kan doen net wat hy wil?
In die tweede plek kyk ons na die determinisme...
2. Vanaf die libertanisme slaan die wêreldse pendulum deur na die ander uiterste: determinisme. Weereens hoor ons daarin ‘n Engelse woord: ‘determine’. In Afrikaans: bepaal of beskik. Volgens die determinisme is ons nie vry om te wees wie ons wil wees en om te doen wat ons wil doen nie. Nee, wie ons is en wat ons doen word vír ons bepaal (‘determine’ = vandaar determinisme). Nou, met die eerste oogopslag klink dit meer Bybels as die libertanisme: immers, as Christene glo ons ook, op grond van die Skrif, dat die gang van ons lewens bepaal word (deur God!); ons glo dat God soewerein die hele wêreldgeskiedenis en elke menselewe bepaal. Maar is dit wat die determinisme bedoel: dat daar, soos wat artikel 13 van die NGB sê, ‘n goeie God is wat alles in hierdie wêreld volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie? Allesbehalwe! In die determinisme is daar geen plek vir God nie. Nee, wie ek is en wat ek doen word nie bepaal deur ‘n god nie, maar word (volgens die determinisme) bepaal deur my gene en my opvoeding. Nature & nurture – volgens die determinisme kan jy nie daaraan ontsnap nie, en is daar dus ook geen sprake van ‘n vrye keuse nie.
Veral in die sfeer van die geslagsideologie kom hierdie gedagte geweldig sterk na vore. Ek is homoseksueel, ek is lesbies, ek is transgender – nie as ‘n vrye keuse nie, maar omdat ek so gebore is. Ek het nie daarvoor gekies nie, dis wie ek is. En as ek nie sou wees wie ek is nie, dan is ek nie meer getrou aan myself nie, dan is ek nie outentiek nie, dan probeer ek iemand wees wat ek nie is nie. Hoe dikwels hoor ons nie hierdie retoriek nie? En die retoriek is so sterk dat ons skaars nog ‘n weerwoord daarteen het. Maar behalwe in die sfeer van die geslagsideologie hoor ons hierdie gedagtes ook in die gewone lewe, soms selfs in die kerk: ek kan nie help dat ek my vrou en kinders so lelik hanteer nie, dis maar hoe dit vroeër by ons huis gegaan het; of: ag, as jy sy pa geken het, dan verstaan jy hoekom hy so optree; of: haar optrede het alles te make met haar grootword-jare. Jou lewe en optrede – wie jy is en wat jy doen – word dus bepaal deur jou gene en deur jou opvoeding: determinisme. Geen vrye keuse nie, maar (en dis belangrik!) daarmee saam ook géén verantwoordelikheid nie: my omstandighede, my gene, my opvoeding, my pa wat gedrink en my ma geslaan het, my ras wat so swaar onderdruk is, my seksuele oriëntasie wat so gespot is – alles kry die skuld en word as oorsaak aangewys, maar die persoonlike verantwoordelikheid is weg...
En dis juis op hierdie laaste punt dat ons die determinisme so sterk moet afwys. Want, ja, natuurlik speel my gene ‘n rol, en sonder twyfel het my opvoeding ‘n invloed op my, en dalk ís dit so dat mense as homoseksueel of lesbies gebore word (terloops, die laaste woord hieroor moet nog gespreek word), maar dit alles neem nie jou verantwoordelikheid weg nie! Pragtig praat die profeet Esegiël daaroor in hoofstuk 18 van sy profesie: hy wys daar dat elke volgende generasie verantwoordelikheid moet neem vir sy eie lewe en optrede. Pa is dalk regverdig, maar sy seun goddeloos – elkeen dra sy eie verantwoordelikheid; pa is dalk goddeloos, maar dit beteken nie dat sy seun dit hoef te wees nie – elkeen dra sy eie verantwoordelikheid. Só leer die Here ons deur Esegiël. Maar die determinisme wil van hierdie eie verantwoordelikheid niks meer weet nie: alles en almal kry die skuld, en ekself kan my hande in onskuld was. Maar die Here laat dit nie toe nie: die siel wat sondig, dié moet sterwe – dis sy duidelike boodskap aan Israel in Esegiël 18.
-----------------
Hier het ons (in kort) twee wêreldse antwoorde op die vraag: is jy vry of nie? Die een antwoord gee ‘n absolute ‘ja’, die ander ‘n absolute ‘nee’. Albei wil-wil so aan ‘n deeltjie van die Bybelse waarheid raak, maar uiteindelik ontaard albei van hierdie gedeeltelike waarhede in volledige leuens. Volledige leuens wat mense laat voortleef in die duisternis van hulle sonde. Maar wat sê die Skrif dan oor die vrye wil?
3. Die eerste aspek van die Bybelse antwoord waarop ons wil let (en dit is ons derde gedagte), is: gebondenheid-sonder-dwang.
Die Skrif leer vir ons (teenoor die libertanisme) dat elke mens ‘n slaaf van die sonde is. Soos wat artikel 14 sê: die mens het deur die sondeval sy hele natuur verderf; hy het in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword. Nou, hierdie Bybelse leer van die totale verdorwenheid roep soms vrae by ons op, want kan ongelowiges dan niks goeds doen nie? Wat van my buurman, wat nie in die Here glo nie, maar tog sy tuinman en huishulp so goed behandel? Wat van daardie ongelowige besigheidsman wat soveel vir ander mense doen? Hier het ons te make met die klein oorblyfsels waarvan artikel 14 praat, en wat die Dordtse Leerreëls (3/4:4) noem: die bietjie van die lig van die natuur wat nog oorgebly het. Dank die Here vir hierdie klein oorblyfsels, dis sy genade! Want dit beteken dat die mens nie so sleg lewe as wat hy potensieel sou kon nie – en dit maak die lewe leefbaar. Maar maak hierdie klein oorblyfsels mense goed? Kan ek sê dat my ongelowige buurman of daardie ongelowige besigheidsman ‘goeie mense’ is omdat hulle soveel vir ander doen? Nee, want in die Bybel word die goeie gemeet aan die vraag: is dit tot eer van God? En geen ongelowige kan dit van enige van sy goeie dade sê nie, selfs al word sy goeie dade ook vanuit die diepste bewoënheid vir sy medemens gebore. Wat nie tot eer van God is nie, is voor Hom sondig en verderflik. Dus sê ons nogmaals: teenoor die libertanisme leer die Skrif ons dat elke mens ‘n slaaf van die sonde is. Of in Jesus se woorde in Johannes 8:34: elkeen wat die sonde doen, is ‘n dienskneg van die sonde. Die menslike wil – waarvan die libertanisme sê dat dit vry is om te doen wat hy wil! – is in werklikheid verkneg aan die sonde.
Maar beteken dit nou dat die mens onder dwang staan? Want dis die beeld wat ons by ‘n slaaf het, nie waar nie? ‘n Slaaf is iemand wat onder dwang lewe – hy is onder dwang in slawerny en hy moet onder dwang sy take verrig. Is dít hoe ons die mens moet sien – hy is ‘n slaaf van die sonde, nie omdat hy wil nie maar omdat hy nie anders kan nie? Nee, gemeente, die Skrif leer ons (teenoor die determinisme) dat die goddeloosheid en verdorwenheid van die mens nie onder dwang gebeur nie. En as jy mooi lees, dan sien jy dit ook in artikel 14: die mens het homself willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp. Willens en wetens – dit geld van Adam en Eva, maar dit geld ook vir elke mens ná hulle. Uit die feit dat die Skrif die vrye wil van die mens ontken, moet ons nie die konklusie trek dat die mens daarmee onder dwang staan nie. Die mens sondig gewilliglik, sy slawerny is sy keuse!
En vir daardie keuse staan elke mens voor God verantwoordelik. Die mens het geen verontskuldiging nie – dis ‘n term wat ons in artikel 14 teëkom, wat vervolgens ook deur die Dordtse Leerreëls gebruik word (3/4:4), en wat teruggaan op Romeine 1:20: “God se onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.” Geen verontskuldiging nie... Niemand kan eendag vir die Here sê: dit was my ouers se opvoeding, of dit is maar geneties (jammer, niks wat ek daaraan kan doen nie), of ek kan nie help dat ek in so ‘n woonbuurt moes grootword, of dit is nie my skuld dat ek as deel van hierdie onderdrukte ras gebore is nie. Hoeveel begrip hierdie dinge ons ook al kan (en behoort te) gee, hoeveel dit ook al verklaar – die persoonlike verantwoordelikheid word daarmee nooit weggeneem nie.
Elke mens – wat sy omstandighede en gene ook al is – sondig vrywillig en moedswillig. Hy kán nie anders nie, dis waar, maar hy wíl ook nie anders nie. Gebondenheid-sonder-dwang. En elke mens staan daarmee verantwoordelik voor die Here. En dis wanneer ons in daardie posisie staan, broers en susters, dat die tweede deel van die Bybelse antwoord so kosbaar word, en dit is ons laaste gedagte: vryheid-in-verantwoordelikheid.
4. Teenoor die Joodse verontwaardiging dat Jesus durf impliseer dat hulle (wat kinders van Abraham is) vrygemaak moet word, wys Jesus in Johannes 8:34 dat Hy van ‘n ander slawerny praat as waaraan hulle gedink het. Hy wys vir die ongelowige Jode dat hulle ten diepste slawe is van die sonde en van ongeloof (vers 34). En as slawe van die sonde is hulle posisie in die huis van Abraham glad nie so seker as wat hulle gedink het nie (vers 35) – slawe kan immers enige oomblik uit die huis weggestuur word, jou plekkie is nie vir ‘n oomblik veilig nie; die heer kan môre besluit dat hy jou nie meer nodig het nie. Dit is slegs die vrye seun – dit is slegs die kinders! – wat ‘n permanente plekkie in die huisgesin het. En hierdie posisie van kind is nie ‘n aangebore posisie soos wat die Jode gedink het nie – dit is ‘n posisie wat uit genade geskenk word deur Abraham se groot seun, Jesus Christus. Slegs deur geloof in Hom verkry ons die vryheid van ‘n seun of ‘n dogter wat altyd in die Vaderhuis mag bly.
En so leer die Here Jesus ons wat ware vryheid is – vryheid is nie politieke vryheid, soos wat die Jode gedink het nie. Vryheid is ook nie ekonomiese vryheid, soos wat die EFF vir ons vertel nie. Vryheid is ook nie seksuele vryheid, soos wat die LGBTQ-beweging ons wil laat glo nie. Ware vryheid is wanneer Jesus Christus ons vrymaak van die slawerny van die sonde. Dit is die grootste denkbare vryheid – vry van die sondelas wat ons altyd druk. En onthou, hierdie vryheid waarin Christus ons plaas, is nooit ongebondenheid nie. Dis nooit “ek kan maar doen wat ek wil nie”. Die vryheid waarin Christus ons plaas (deur sy bloed en deur die geloof!), is vryheid-in-verantwoordelikheid. Kyk maar na verse 31 en 32 van Johannes 8: vry om in Jesus se woord te bly, vry om sy dissipels te wees. Die ware vryheid maak van ons dissipels, volgelinge van Jesus Christus, en dit maak ons gehoorsaam aan sy woord.
Ag, en die wêreld lag vir ons daaroor. Die wêreld lag vir mense wat homoseksuele gevoelens het, maar wat daarvoor kies om Christus na te volg en nie aan daardie gevoelens uiting te gee nie. Die wêreld lag vir gelowige paartjies wat – met val en opstaan – daarvoor kies om die seksuele omgang te bewaar vir die huwelik. Die wêreld lag vir gelowiges wat eerder daarvoor kies om op Sondae die Here in sy huis te ontmoet as om op ander plekke hulle vermaak te vind. Die wêreld lag, want hulle verstaan nie ons vryheid nie. Maar as gelowiges is ons maar te dankbaar om gehoorsaam te wees aan die Een wat ons waarlik vrygemaak het.
----------------------
Het die mens ‘n vrye wil? Nee, nie in sy sondige, ongeredde toestand nie. En as verlostes dan? Wel, wie in Jesus Christus glo, word vrygemaak! Impliseer hierdie bevryding dat die gelowiges ‘n vrye wil het? Miskien is dit die beste om in hierdie geval te bly by die taal van ons belydenis, die laaste woorde van artikel 14: “daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God as Christus dit nie in die mens tot stand bring nie.” Dus, wanneer Christus in ons werk, dan kom daar harmonie tussen God se wil en my wil. En hoe lyk hierdie harmonie? Wel, hoor hoe pragtig beskryf die Dordtse Leerreëls dit vir ons (3/4:11): “In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos ‘n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.” Treetjie vir treetjie word ons dan verlos van ons sondige wil, terug na die wil van God. Totdat ons kom by die volmaaktheid. Onthou jy nog, in die begin was dit posse non peccare (in staat om nie te sondig nie), ná die sondeval het dit geword non posse non peccare (nie in staat om nie te sondig nie), maar eendag sal dit wees non posse peccare (nie meer in staat om te sondig nie). Want dan is my wil volmaak bevry om God te dien!
Amen
Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Amen.
Sing Ps. 66:5-7 (vryheid en bevryding!)
Gebed
Lees: Johannes 8:31-36
Sing Ps. 31:1, 2 en 6 (Bevryder!)
Teks: NGB, art. 14
Preek
Amenlied Ps. 124:3 en 4
Gebed
Geloofsbelydenis (singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 116:2, 5 en 6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.