Preek: Lukas 17:1-10
Tema: Vrygekoop tot hoër diens
1e Tafel:
Daar was nog altyd 'n debat oor wat eerste kom: werk of eet?
Werk jy om te eet of eet jy om te werk?
Werk jy om geld te verdien sodat jy kos kan koop?
Of koop jy kos sodat jy genoeg energie het om te werk?
Vanuit 'n Christelike oogpunt is daar nog altyd gesê:
Die werk wat jy doen is nie primêr om geld te maak nie.
Maar jy doen jou werk met die bedoeling om die Here daarmee te dien.
Mens werk nie om te eet nie, mens eet om te werk.
Vir sommige werk op aarde ontvang jy 'n salaris.
Maar vir ander werk – wat net so noodsaaklik is – kry jy geen salaris nie.
Ouers kry nie ’n salaris omdat hulle hul kinders grootmaak nie, om net een voorbeeld te noem.
Alles wat ons doen, doen ons vir die Here.
Soos dit in Lukas 17 gestel word, ons doen net wat ons verplig is om te doen.
In Lukas 17 praat die Here Jesus met sy dissipels.
Hy waarsku hulle vir die struikelblokke op pad na die koninkryk.
Die pad na die koninkryk is vol valstrikke en slaggate.
Die Here Jesus verwys hier na al die teëstand wat hy en sy dissipels teëgekom het, veral van die Fariseërs.
Hulle het die Here Jesus nie waardeer nie, en dus ook nie sy dissipels nie.
Alhoewel Jesus 'n rabbi was, het hulle hom nie met die nodige respek behandel nie.
Hulle het Hom eerder minderwaardig behandel.
Hy was nie op dieselfde vlak as hulle nie.
Jesus het 'n slegte naam gehad, veral onder die Fariseërs, en dit omdat Hy 'n leraar was wat met tollenaars en sondaars omgegaan het (sien Lukas 15:1-2).
Hy is selfs deur 'n tollenaar gefinansier.
Hoe kan Hy 'n hoogs eerbiedwaardige rabbi wees?
En net so is die dissipels ook minderwaardig behandel.
Hoe reageer Jesus op hierdie situasie?
Die feit dat Hy nie hoog in die peilings onder die mense en veral onder die Fariseërs gevaar het nie?
Wel, Hy noem dit 'n struikelblok, ‘n versoeking.
Want dit het Hom opgeval dat sy dissipels hieroor ontsteld geraak het.
Hulle wou eintlik 'n bietjie belangriker wees, hulle wou 'n bietjie meer waardering hê.
Hulle, as Jesus se volgelinge, het gevoel hulle is geregtig op 'n bietjie meer respek.
Maar die Here hou net aan om te hamer op vergifnis – 'n houding van vergifnis teenoor sondaars soos tollenaars en prostitute.
Dit is wat ons motief moet wees, geen hoër aansien, nie meer status in die oë van die mense nie.
Stel jou net voor hoe erg dit sal wees, as as gevolg van jou behoefte aan status, jy 'n gebrek aan 'n vergewensgesindheid teenoor iemand sou hê.
Dink net wat dit vir daardie sondaar sou beteken.
Want dit was die geval met die Fariseërs.
Hulle gebrek aan vergewingsgesindheid het 'n struikelblok geword sodat mense soos tollenaars en hoere nie die koninkryk kon binnegaan nie.
Jesus het hieroor gesê: dit sal beter vir so iemand wees - so 'n Fariseër - om 'n meulsteen om sy nek te hang en hom in die see te gooi, as om een van hierdie kleintjies te laat struikel.
Die woord "kleintjies" is eintlik bedoel om hierdie minderwaardiges aan te dui, hierdie mense van laer status (sien ook Matt 11:11).
Kleintjies verwys na die tollenaars en hoere.
Dit is immers wat die Fariseërs oor hulle gedink het.
Hulle was minderwaardig, hulle was 'n verlore saak, hulle kon nie die koninkryk beërf nie.
2e Tafel:
Die Fariseërs se gebrek aan vergewingsgesindheid het ‘n struikelblok geword,
sodat mense soos tollenaars en hoere nie die koninkryk kon binnegaan nie.
Jesus het hieroor gesê: dit sal beter wees vir so iemand - so 'n Fariseër - om 'n meulsteen om sy nek te hang en hom in die see te gooi as om een van hierdie kleintjies te laat struikel.
Die woord "kleintjies" is eintlik bedoel om hierdie minderwaardiges aan te dui, hierdie mense van laer status.
Kleintjies verwys na die tollenaars en hoere.
Dit is immers wat die Fariseërs oor hulle gedink het.
Hulle was minderwaardig, hulle was 'n verlore saak, hulle kon nie die koninkryk beërf nie.
Jesus sê egter:
As jou broer sondig, bestraf hom, en as hy hom bekeer, vergewe hom.
Selfs tot sewe keer.
Ja, inderdaad, hierdie ruimhartige vergifnis van Jesus was nogal kontroversieel.
Die Fariseërs het hom kwalik geneem dat hy saam met tollenaars en hoere aan dieselfde tafel geëet het.
Die Fariseërs het die gesindheid van die oudste seun gehad in die gelykenis van die verlore seun.
Maar die Here Jesus het sy dissipels geleer:
Moenie soos die oudste seun wees nie.
Wees voorbereid om jou broer te vergewe wanneer hy na jou terugkom.
Wees bereid om hom alles te vergewe wat hy gedoen het.
Dit is die styl van my koninkryk, en ons sal nie hiervan afwyk nie.
Ook nie as dit veroorsaak dat ons ’n laer status kry nie.
Dit is dus wat aan die hand was.
Die dissipels was bekommerd oor hulle status.
Is dit regtig nodig – het hulle gevra –dat ons ons status verloor net om hierdie tollenaars en hoere te akkomodeer?
Jesus se vergewingsgesindheid was 'n bietjie moeilik om te sluk.
Daarom vra hulle vir Jesus – vers 5:
Here, gee ons meer geloof.
Nou die manier waarop hierdie sin uit Grieks vertaal word, kan verwarrend wees.
In die oorspronklike teks staan letterlik:
Here, voeg by ons geloof.
Wat het die dissipels hiermee bedoel?
Mens moet dit sien teen die agtergrond van die vrees van die dissipels dat hulle al hoe minder status het.
Hulle word nie meer ernstig geneem nie.
In hierdie verband vra hulle nou vir Jesus:
Here, gee ons tog ‘n bietjie meer geloofwaardigheid.
Want daar is niemand wat ons meer ernstig opneem nie.
Kan U nie sorg dat u volgelinge ’n bietjie meer waardering, ‘n bietjie meer status kry nie?
Dat die Fariseërs ons begin behandel as die volgelinge van 'n baie eerbiedwaardige rabbi?
Pla dit U nie, dat niemand ons ernstig opvat nie?
Ons het ’n baie sterk boodskap, maar ons kort geloofwaardigheid, ons kort invloed.
Here, gee ons meer geloof – dit wil sê – Here, gee ons meer geloofwaardigheid, meer status, dat die mense regtig na ons luister, dat hulle uit die pad gaan vir ons!
Jesus se antwoord op die vraag van die dissipels is eintlik baie ontnugterend.
Jesus sê: As julle geloof gehad het soos 'n mosterdsaadjie, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê:
Word ontwortel en in die see geplant, en hy sou julle gehoorsaam wees.
'n Moerbeiboom was bekend as 'n boom wat stewig in die aarde staan, wat nie met die eerste beste storm omwaai nie.
Maar wat bedoel Jesus hiermee?
Hy bedoel: My liewe dissipels, al kry jy nul in die meningspeilings, al is julle geloofwaardigheid so klein soos 'n mosterdsaadjie, dan kan julle nog steeds baie invloedryk wees!
Moenie agter eer en status aangaan nie.
En dan vertel Jesus nog 'n gelykenis.
Hy vergelyk sy dissipels met slawe.
’n Slaaf moet sy werk doen – ploeg, of vee oppas.
Hy moet sy werk doen want dit is sy plig, nie omdat daar 'n groot beloning op hom wag nie.
Na 'n dag se werk moet 'n slaaf nie dink daar wag ‘n feesmaal op hom nie.
Normaal is, as 'n slaaf huis toe kom, dat hy eers sy baas moet bedien.
Daarna kan hy self eet en uitrus.
'n Slaaf moet nie van sy baas verwag om hom te beloon asof hy 'n groot guns gedoen het nie.
Dit is gewoon sy daaglikse werk.
En so, sê Jesus, geld dieselfde vir julle.
Doen net jou werk getrou.
Jou geloofwaardigheid is dalk nie veel in die oë van die wêreld nie, maar steeds moet jy jou werk doen.
Moenie verwag dat jy op aarde geëer gaan word nie.
'n Slaaf word nie geëer nie.
Solank hy sy plig teenoor sy meester nakom.
As die dissipels deur die Fariseërs verag word, as hulle as 'n onbeduidende groep beskou word, dan moet hulle daarmee tevrede wees.
Dit is nie nodig dat almal hulle eer nie.
Hulle moet ook nie skaam wees dat hulle die Here Jesus se eiendom is nie.
Al spot die wêreld met hulle, al wat vir hulle moet saak maak, is of hulle hul Here tevrede gestel het.
3e Tafel:
'n Slaaf moet nie van sy baas verwag om hom te beloon asof hy 'n groot guns gedoen het nie.
Dit is gewoon sy daaglikse werk.
En so, sê Jesus, geld dieselfde vir julle.
Doen net jou werk getrou.
Jou geloofwaardigheid is dalk nie veel in die oë van die wêreld nie, maar steeds moet jy jou werk doen.
Moenie verwag dat jy op aarde geëer gaan word nie.
'n Slaaf word nie geëer nie.
Solank hy sy plig teenoor sy meester nakom.
As die dissipels deur die Fariseërs verag word, as hulle as 'n onbeduidende groep beskou word, dan moet hulle daarmee tevrede wees.
Dit is nie nodig dat almal hulle eer nie.
Hulle moet ook nie skaam wees dat hulle die Here Jesus se eiendom is nie.
Al spot die wêreld met hulle, al wat vir hulle moet saak maak, is of hulle hul Here tevrede gestel het.
Dit is dus die posisie van Jesus se volgelinge.
Geen dank of huldeblyke van die wêreld nie.
As jou verwagtinge so is, sal die Christelike lewe vir jou 'n teleurstelling wees.
Al wat vir jou saak moet maak, is wat die Here van jou dink.
En as die Here nog steeds besluit om vir jou 'n beloning te gee vir jou werk, is daardie beloning bloot 'n kwessie van genade.
Die Heidelbergse Kategismus verwys hierna (HK 24).
Ons goeie werke kan nie bydra tot ons verlossing nie.
Selfs ons beste werke is met sonde bevlek.
Dit is andersom.
Ons goeie werke getuig van die groot werk van die Here in ons.
As die Here my nie gekoop het nie, as ek nie sy eiendom geword het nie – sy slaaf in die woorde van Lukas 17 – dan kon ek nie goeie werke gedoen het nie.
My goeie werke is geheel en al te danke aan die goeie omstandighede waarin die Here my geplaas het.
Die Kategismus vra tereg die volgende vraag:
Verdien ons goeie werke dan niks?
Die antwoord is: Nee.
Nie omdat hulle nie goed is nie.
God self noem hulle goed.
Maar bloot omdat daar niks oor is om te verdien nie.
Ons het reeds alles ontvang: die verlossing en ewige lewe in Christus!
Wat wil ons nog meer hê?
MY GENADE IS VIR JOU GENOEG!
En as die Here besluit om ons te beloon, is dit nie uit verdienste nie, maar uit genade.
Maar, vra die Kategismus, gaan dit ons nie onverskillig maak nie?
Nee, iemand wat in Christus ingeplant is, kan nie anders as om vrug te dra nie.
Hy is die wingerdstok, ons is die lote.
Wie in Hom bly, dra baie vrugte.
Maar sonder Hom kan jy niks doen nie. (Johannes 15:5)
En so word ons op hierdie Nagmaalsondag weer opgeroep:
Kyk op na jou Verlosser.
Vind waardering by Hom.
Hy het ons vrygekoop tot hoër diens!
Besef dat ons diensknegte van Hom is.
Dat ons met liggaam en siel aan Hom behoort.
Dat wanneer ons ons hele lewe, nie net op Sondag, nie net 40 uur per week nie, maar ons hele lewe aan Hom wy, dat ons net doen wat ons moes gedoen het.
Laat ons ons daarin verheug dat ons reeds ons loon ontvang het, alreeds voordat ons begin werk het.
Ja nou al mag jy en ek lewe met die sekerheid van die ewige lewe.
Dit is wat Christus aan die nagmaal beloof.
Die Fariseërs het Jesus geminag omdat Hy saam met tollenaars en hoere aan dieselfde tafel geëet het.
Maar die Here Jesus het Homself nie vir hulle geskaam nie.
Ja, die Here Jesus skaam Homself ook nie om met ons aan dieselfde tafel te sit en te eet nie.
Dit is die Evangelie van die nagmaalstafel.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Lukas 15:1-10 & 17:1-10
Teks: Lukas 17:1-10
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Wat verlang die dissipels as hulle vra: “Here, gee ons meer geloof”?
- Wat bedoel Jesus met die opmerking: “As julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad ...”?
- Hoekom vergelyk Jesus sy dissipels met ‘n slaaf wat bloot sy Meester moet behaag?
- Is daar mense waarvoor jy jouself skaam en saam met wie jy nie aan tafel sou wou sit nie?
- Dank God dat sy Seun Homself nie skaam om saam met ons aan tafel te sit nie.
- Wat beteken dit dat jy vrygekoop is vir hoër diens?
Votum
Seën
Ps 43:3,4
Wet
Ps 123:1
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Apostoliese Geloofsbelydenis
Ps 37:2
1e tafel: Lukas 15:1-10 & 17:2; Ps 116:5
2e tafel: Lukas 17:1-10; Ps 116:7
3e tafel: Lukas 17:10; Ps 116:9
4e tafel Lofverheffing; Ps 116:10
Dankgebed
Kollekte
Sb 9:4,5
Seën