Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2017-11-05
Teks: 
Galasiërs 5: 26 - 6:10
Preek Inhoud: 

Verhoudings – dit is die lewe.  Eg, diep, blywend. Toegewyde verhoudings.  Verhoudings wat gee, wat opoffer.  Waarin jy nie net is vir jouself nie. Mense in so ʼn verhouding lyk of hulle ʼn oneindige toevoer van liefde en genade vir ander het. Hulle is sterk omdat hulle altyd eerlik is.  Maar daar is ʼn nederigheid in hulle eerlikheid.  Hulle praat nie omdat hulle reg wil wees nie, maar om die waarheid in liefde te praat. As ons ons plek voor God ken en wat ons in Hom ontvang het, kan ons nie opgeblase wees nie.

So beveel Paulus ons ,‘Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie. (5:26)

Die woord ‘verwaand’ (in Engels conceited) is in ouer vertalings ‘tevergeefse glorie’.  Die Griekse woord κενόδοξοι beteken letterlik ‘sonder glorie’ of ‘geen glorie’.  Om ‘sonder glorie’ te wees beteken dat jy desperaat is vir erkenning en bevestiging – desperaat om jouself te bewys.  Jy is leeg van enige glorie en daarom soek jy ander mense om daardie gat te vul en om jou beter oor jouself te laat voel. 

Ons almal weet daar is mense wat onseker is, maar hierdie woord neem dit na ʼn teologiese vlak.  In Romeine 1 en 2 sê Paulus dat ons gemaak is om God alleen te dien in alles wat ons doen.  Ons is vir Hom gemaak.  Ons is geskape om die woorde van God te hoor, ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg!’  Dit is al wat ons nodig het!  Mense het bevestiging en erkenning nodig. Elke vesel van ons wese is ontwerp om God te plesier en om sy bevestiging, ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg!’ te hoor.  Maar ons het God verwerp, ons het ons rug op Hom gedraai en sindsdien het ons probeer om dit êrens anders te kry.  Ons gaan verhoudings aan waarvan ons kan profiteer.

Ons praat ook op hierdie manier oor verhoudings, ons belê daarin.  Asof ons altyd soek na wins.  Is dit die moeite werd?  Wanneer dit gebeur, dan begin ons om mekaar uit te tart en te beny.  Uittart beteken dat ek jou kan klop.  Ek is beter as jy en ek gaan dit bewys.  Daardie ‘make-America-great’ soort van mense op ʼn persoonlike skaal.  Dit gaan alles oor jou eie grootheid en mense beter nie in jou pad staan nie.

Om ander te beny is die minderwaardigheidskompleks dat ons nie het wat hulle het nie en ons wil hê wat hulle het en dus beny ons mekaar.  Wanneer ons in ʼn verhouding gaan met hierdie houding, vra ons altyd ‘Hoe help dit om my beter oor myself te laat voel?  Hoe help dit my om die leegheid te vul?’ Ons gebruik en misbruik mense.  Dit is waarteen Paulus waarsku wanneer hy sê, ‘Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.

Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.

  1. Die Christen se liefde
  2. Die Christen se oes

Die Christen se liefde

In vers 1 lees ons, ‘Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.’  Hier beteken die woord geestelik nie ʼn spesiale elite groep Christene nie, maar dit beteken eenvoudig dat jy vervul is met die Gees.  Wanneer jy dus die regte houding oor jouself het, as jy nederig is en sagmoedig en die vrugte van die Gees het en jy sien iemand wat vasgevang is in ʼn sirkel, dan behoort jy hom of haar te korrigeer.  Miskien misluk hul verhoudings met ander altyd omdat hulle kortaf en onvriendelik is, of van die een werk na die ander spring vanweë ʼn swak karaktereienskap.  Jy moet hulle saggies reghelp.

Die verwaande persoon sal sê, ‘Wat kry ek hieruit?  Hier is niks vir my nie.  Hierdie persoon gaan niks vir my beteken nie.’  Al wat ek doen is gee, gee, gee;  ek het mos my eie afsprake en doelstellings.’ Weereens het jy die logiese houding van die mark.  Gaan daardie persoon my kan help om mense te ontmoet wat ek wil ontmoet?  Hoe kan ek my brose gevoel om ʼn goeie persoon te wees, versterk?  Dit kan wees hoekom ʼn verwaande (of leeg van glorie) persoon in so ʼn verhouding sal belê.  Sodat hy hulle gedurig kan red en beter oor hulself kan laat voel.

Maar Paulus vra vir ʼn verhouding wat ʼn unieke identiteit het, een wat genees is van die behoefte vir leë glorie.  Een wat nie in ʼn verhouding ingaan om te sien wat jy daaruit kan kry nie, hoe jy jou selfbeeld en die brose gevoel oor jouself kan versterk nie.  Wat mense uitbuit of gebruik.  Maar ʼn verhouding wat tevrede is met die evangelie en ʼn vernude identiteit in Christus het – een wat reeds vervul is met die glorie van die hemel deur die Gees van Christus.  In Hom alleen kan ons die goedkeuring van ons God hoor, ‘Mooi so, goeie getroue dienskneg.’  In Hom alleen kan ons mekaar se laste dra soos vers 2 sê, ‘Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus’.

Ons volg net ons meester, die groot draer van laste. ‘Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart.’   Jesus Christus is die lasdraer van sy mense;  Hy het ons neerdrukkende gewig na die graf gedra en dit vir ewig begrawe, sodat ons in sy opstanding mag opstaan tot ʼn nuwe lewe, ʼn lewe waar ons waarlik vry sal wees om onsself te kan gee vir wie ook al oor ons pad kom en sodoende mekaar se laste te kan dra.

Ons doen dit op ʼn mooi manier met huisbesoek.  Jy kan jou laste met jou ouderling deel.  Ek is dankbaar daarvoor.  Maar hier is daar ook ruimte vir groei.  Ons is hier om mekaar se laste te dra.  ʼn Baie goeie manier om dit prakties te doen is om iemand te hê wat jou aanspreeklik kan hou of iemand met wie jy gereeld bid en wat gereeld vra hoe dit met jou lewe gaan.  Nie op ʼn oppervlakkige, hoe-gaan-dit manier nie.  Maar op ʼn diep, geestelike vlak.  Hoe gaan dit met jou geestelike lewe met die Here?  Hoe gaan dit met jou huwelik?  Hoe vaar jy met die sondes van die lewe? Met die dwaal van die oë.  Hoe gaan dit by die werk?  Waar kan jy groei?  Verbeel jou dat elkeen van ons so ʼn verhouding buiten ons onmiddellike familiekring het, hoe baie sou ons nie kan groei nie!

Getroude paartjies, julle kan ook ʼn ander paartjie wat jy kan vertrou soek wat jou kan help om te groei.  Jonger mense, moenie bang wees om ʼn ouer persoon te vra of hulle bereid is om elke maand vir ʼn uur of so met jou te praat oor geestelike dinge nie, om jou te mentor.  Ouer persone, neem die inisiatief en vra die jonger mense onder ons.  Ons het mekaar nodig.

As ek ʼn las van 50kg het wat ek nie kan dra nie en jy kom my help?  Wat gebeur dan?  Dan dra ons saam elkeen 25kg.  Jy sien, jy kan nie in ʼn verhouding ingaan sonder om daardie las op te tel nie, maar wanneer jy daardie las optel, word dit ligter by wyse van spreke.

Jonathan Edwards skryf enkele antwoorde na aanleiding van besware wat mense het om die armes te help.  Een van hulle was, ‘Ek kan dit nie bekostig nie.’  Hy sê as jy nooit gee sonder dat dit vir jou ʼn las is, ‘hoe vervul jy dan daardie reël om mekaar se laste te dra?’  Ons moet bereid wees om te ly saam met ons buurman en ʼn deel van sy laste op onsself te neem.  As jy nooit belas wil word met ander mense se probleme nie, dan is dit moeilik om ʼn Christen te wees.  Want die hele doel waarom Christus gekom het, was omdat Hy jou probleem syne gemaak het sodat ons ʼn verhouding met God kon hê.  Nie om sy goedkeuring te soek nie (ons het dit), maar om verhoudings met mekaar aan te gaan.

Vers 3 sê, “Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself. ”  In Lukas 11 leer Jesus sy dissipels van die gebed en êrens sê Hy, “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?”  Hy noem sy dissipels sleg.  As jy dink dat jy sleg is... Dit is die helfte van die evangelie:  ons is niks.  Wat ʼn ellendige mens, sê Paulus van homself.  Sê dit ʼn paar keer vir jouself.  Sê dit ʼn slag hardop.  Dit laat jou omtrent so klein voel.  Maar dit is die een kant van die evangelie.

Die manier om dit te oorkom is nie om in ʼn verhouding te wees wat jou goed laat voel nie.  Dit is wat jy sal doen as jy as jy verwaand is, dan is jy leeg – leeg van glorie.

Nederigheid is die weg na die kruis.  En in daardie aanhoudende nederigheid sal jy groei ervaar, jou verheffing.  Hoe nader jy aan die kruis kom, hoe meer sal jy dit raaksien en hoe minder sal jy jouself met ander vergelyk.

Soos vers 4 en 5 verduidelik, Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie. Want elkeen sal sy eie pak dra.” Elkeen van ons moet voorraadopname doen van dit wat ons verstaan van die evangelie.  Elkeen moet sy hart ondersoek en kyk of die vrugte wat hy dra regte geesvervulde vrugte is, of eerder iets soos nagemaakte Kersfees ornamente wat aan ʼn boom gehang word.  Dit is so maklik vir iemand wat dink dat hy dit gemaak het, ʼn ouderling of ʼn ouer lidmaat, of lewenslange lidmaat, om op iemand neer te kyk as ‘minder geestelik’.  En die teenoorgestelde is ook waar. Hoe maklik is dit nie vir iemand wat rêrig sukkel en sê “as ek maar net soos daardie persoon was en nie al hierdie bagasie gedra het nie.”

Liewe broer, liewe suster, God het ieder en elke persoon in hierdie gebou op hul eie unieke paadjie in die lewe gestel met sy eie uitdagings, hartseer en versoekings.  Daar is nie een van ons wat dieselfde paadjie in die lewe loop nie.  Elkeen van ons is geroep om ons eie unieke pad in die lewe te loop, om ons eie las te dra en ons eie dade te toets.  Hou dus op om jouself met ander te vergelyk.  En loop die pad wat God in sy wysheid vir jou uitgesit het.

Let asseblief daarop dat ‘pak’ hier nie dieselfde is as ‘las’ in vers 2 nie.  Pak is hier iets soos ʼn koffer met lewensgebeurtenisse wat God jou gegee het.  Mag ons wat in die kerk opgegroei het nooit waag om neer te kyk op die een wat struikel en wat net tot geloof gekom het na ʼn lewe van dwelms of alkohol nie.  ʼn Lewe wat vertel word deur die tatoes op sy lyf.  Aan die einde van Johannes praat Jesus met Petrus en vertel hom basies dat hy doodgemaak gaan word vir Jesus.  Petrus sien Johannes verby stap en sê, “wat van hom?”  En Jesus antwoord, “Wat gaan dit jou aan?  Volg jy my.”  Ons is almal geroep om eenvoudig te volg maak nie saak in watter stadium ons is nie.  Dit bring ons kortliks by die laaste punt.

Die Christelike oes

In vers 6 lees ons, Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee.” Weet jy wat bemoedig ʼn predikant of ouderling meer as enige iets anders?  Wanneer hulle die effek hoor van die woord van Christus wat in die gemeente leef!  Wanneer jy verwaand is, dan dink jy dat jy die reg het om te kritiseer en om sinies te wees en jouself terug te hou.  Hierdie soort mense sal altyd negatiewe dinge vind om te sê oor die kerk. Maar die een wat vervul is van die Gees, sal juig en jubel oor wat die Woord vir hulle gedoen het.  Nie net in woorde nie, maar hy sal ook bereid wees om sy geld by te dra by dit wat hy sê.

Op die volgende huisbesoek, moenie eers dink aan al die dinge wat verkeerd is in die kerk nie en dit waarvan jy nie hou nie, maar dink aan hoe Christus in jou werk, hoe jy gegroei het en deel dit.  Die predikant en die ouderling sal diep bemoedig weggaan. Ek is so geseënd om te hoor van seëninge van Bybel studiegroepe, of hulle wat begin is met die oog op gebed, van hulle wat vrygewig was wanneer ander in nood was.  Ek verheerlik God as gevolg daarvan.  Dit is die mense wat saai om die Gees te maai en om die ewige lewe te maai.

As ons in vers 7 en 8 lees, “Moenie dwaal nie;  God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mense saai, dit sal hy ook maai.  Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai;  maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.”   Dit klink soos ʼn bedreiging.  Maar dit is nie.  Dit is eenvoudig ʼn ware stelling.  “God laat Hom nie bespot nie”.  Jy kan God nie mislei nie, God sien alles en weet alles.  As jy in die vlees wil saai en dink, “Wat gaan God doen? Ek gaan voort om my verhoudings te gebruik om myself te bevoordeel eerder as om dit te gebruik om van myself te gee.”  Dan sal ons in die vlees saai, ons saai net vir hierdie wêreld en God sal ons oordeel.  Ons dink nie langtermyn nie, bv met die dood en oneindigheid in gedagte.

As ons vir hierdie lewe leef, dan sal ons aanhou om mekaar te byt en verslind en vernietig word.  En ons sal ʼn pad van verraad agterlaat, en gebroke verhoudings waar ons gaan.  Maar die ander kant is ook waar.  As ons met Christus gekruisig is en hy leef in ons met sy Gees, dan saai ons nie om onsself te plesier nie, maar die Gees van Christus wat in ons leef.  Dit gaan nie daaroor om onsself te plesier nie, maar God – en so sal ons die ewige lewe maai.  En ons sal die stem van die regter hoor ego deur die howe van die heelal, met ʼn stem van bevestiging waarna ons harte hunker, “Mooi so, goeie en getroue dienskneg! Gaan in die vreugde van jou heer.”

Liewe gemeente, heiligheid is ʼn oes – dit wat jy oes hang alles af van wat jy saai.  Dit is die mees basiese beginsel van boer.  As jy koring saai, sal jy koring oes.  Sommige Christene saai uit gewoonte na die vlees en wonder hoekom hulle nie ʼn oes maai nie.  Soos John Stott sê, “Elke keer wanneer ons toelaat dat ons gedagtes ʼn wrok huisves, ʼn grief vertroetel, onsuiwer fantasieë toelaat, of verval in selfbejammering, saai ons in die vlees.  Elke keer as ons bly hang in slegte geselskap wie se verraderlike invloed ons nie kan weerstaan nie, elke keer wanneer ons in die bed lê wanneer ons op behoort te wees en te bid, elke keer wanneer ons pornografie kyk, elke keer wanneer ons kwaad is en sukkel om onsself te beheers, dan saai ons, saai ons in die vlees.  Sommige Christene saai elke dag in die vlees en wonder hoekom hulle nie heiligheid maai nie.  Heiligheid is ʼn oes, of ons dit maai of nie, hang byna heeltemal af van wat en waar ons saai.”

Daar is ʼn gesegde wat lui:  “Saai ʼn gedagte, maai ʼn daad, saai ʼn daad, maai ʼn gewoonte, saai ʼn gewoonte, maai ʼn karakter, saai ʼn karakter, maai ʼn bestemming.” Christenskap gaan alles daaroor om die klein dingetjies reg te doen.  Hoe jy op die verkeer reageer, hoe jy optree na ʼn lang dag, jou gebedslewe, hoe jy die Bybel lees, hoe jy vir jou vrou sê dat jy haar liefhet.  Is dit maklik om hierdie gewoontes te ontwikkel?  Kom ʼn oes outomaties binne?  Elke boer sal sê dis harde werk – en die weg van die evangelie is nie anders nie.  Maar dit is die moeite werd.  Elkeen van ons wat hier sit sal maai wat ons saai.  Wat saai jy?

“Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.”  Moenie opgee nie.  Jy sal moeg word.  Maar dis soos enige goeie wedloop.  No pain, no gain.  Hardloop die wedloop.  Lê jou lewe af vir ander.  Gaan hulle privaat ruimte in om te dien, om te sê, “Laat ek die ander kant van jou las dra, laat ons dit saam dra.” Gelowige, dit sal nie maklik wees om aanmekaar nee te sê vir jou selfsugtige, sondige natuur nie.  Veral nie as die wêreld aan die kant van die sonde is nie.

Die wêreld sê “doen wat die beste vir jou is”, die Bybel sê “ag ander beter as jouself.” Die wêreld sê “moenie weerloos wees nie”, die Bybel sê “bely mekaar jul misdade en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word (Jak 5:16).” Die wêreld sê “moenie so baie van jou tyd en geld weggee nie”, die Bybel sê “sterf jou ou mens af (Joh 3:3-7) .

Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”  Dit is die opsomming.  As Gal 5:26 die negatiewe opsomming van hierdie preek was, dan is dit die positiewe een.  Laat ons goed doen aan almal.  ʼn Christen is ʼn mens wat allerhande goeie dinge doen aan allerhande mense.  Om goed te doen beteken dat ons aan mense se behoeftes wat daar is voldoen.  Dit beteken om die onkundiges te leer, om die buurtwag te help.  Dit beteken om vir mense te bid en Jesus Christus met hulle te deel.  Om goed te doen beteken om elke goeie ding te doen, dit is moontlik om te doen terwyl jy die lewenspad waarop jy geplaas is bewandel.  Die goeie dinge moet gedoen word beide binne en buite die kerk.  Maar veral aan hulle wat deel is van die familie van gelowiges.  Die feit dat ons omsien na mekaar is ʼn pragtige getuienis van God se genade.  Laat ons daarin groei!

Een kommentator sê dit “ʼn Christen plaas ʼn baie sterker eis op my gevoelens, my arbeid, my eiendom.  Hy is my broer, my suster, net so geïnteresseer soos ek in die bloed en liefde van ons Verlosser.  Ek verwag om die ewigheid met hom in die hemel te spandeer.  Hy is die verteenwoordiger van ʼn onsigbare Verlosser en Jesus sien alles wat ter wille van my broeder gedoen word, asof dit aan homself gedoen is.  Vir ʼn Christen om onvriendelik met ʼn Christen te wees is nie net verkeerd nie.  Dit is monsteragtig.”

Deur nie goed te doen aan mense binne die kerk nie, mishandel ons die liggaam van Christus, deur ander hier lief te hê en goed te doen, vereer ons dit.  Om goed te doen aan alle mense – dit is die uitleef van die evangelie.

Die hart van die verlossing is dit: my lewe vir joune.  Sonde sê, “jou lewe vir myne. Jou behoeftes vir my.”  Deur die sondige natuur te saai, probeer ons om die oseaan van God se bevestiging te vul met ʼn eetlepel van ʼn mens se aanvaarding, en dit sal opdroog.

Maar Jesus sê, my lewe vir jou.  Ek offer vir jou.  Elke egte liefde is vervangend, self opofferend.  Liefde is nie liefde totdat jy dit weggee nie.  Probeer dit en jy sal nie teleurgesteld wees nie.  Wees geduldig, wees ywerig.  Leef die evangelie.  Leef dit en hoor die stem van God Almagtig, “mooi so goeie en getroue dienskneg.”

Amen