God se Koninkryk teenoor die Mensdom

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2018-05-13
Teks: 
Inleiding op die boek Daniël
Preek Inhoud: 

 

In ʼn tyd van vrees en onrus – met baie oorloë om ons heen en waar mense spot en protesteer, eerder as om dialoog te voer.  In ʼn tyd waar dit so moeilik is om die waarheid van fiksie te onderskei, in ʼn tyd waar moord verskans word as 'n vrou se reg.  In ʼn tyd waar die magte van die wêreld wedywer vir mag en eer.  In ʼn tyd waar Christendom gerangskik word tot die private sfeer van die lewe en waar ons gevra word om slegs by die huis te glo – asof dit moontlik is.  In ʼn tyd waar geloof behandel word as ʼn opinie en opinies hanteer word as feite.  In ʼn tyd waar dit lyk of die kerk verswelg word, kan hierdie boek nie meer relevant wees nie.  In hierdie tyd het ons Daniël meer as ooit nodig.

Ons het Daniël nodig vir die vertroosting dat God die God van die Geskiedenis is.  Ons het dit nodig vir die aanmoediging om trou te bly – en lojaal teenoor ons Koning, maak nie saak hoe dinge vanuit ʼn aardse perspektief lyk nie.  Ons het dit nodig vir die geloof om te weet dat niks uit sigself sal voortbestaan nie – behalwe sy Koninkryk.  Sy Koninkryk is ʼn ewigdurende koninkryk. 

Hierdie is ‘n boek wat ons nie soseer vertel wat Daniël doen nie, maar wat God doen.  Nie oor Daniël se groot werke nie, maar God se werke.  Nie oor Daniël se geloof nie, maar oor Daniël se vertroue op God se trou.  Daar is ook ‘n paar visioene aan die einde van Daniël wat ons so maklik oorslaan.  Maar hierdie visioene is deel van God se Woord.

God verklaar homself as die God van geskiedenis in hierdie boek – ʼn geskiedenis, ʼn verhaal wat na ʼn sekere punt toe beweeg.  “Wees getroos”, sê God deur Daniël Ek sal by jou staan in die hede en jou beskerm in die toekoms.”  In die laaste hoofstukke sê God:  “Laat ek die gordyn van die geskiedenis wegtrek, Daniël, om jou te wys wat Ek is die toekoms gaan doen.  Die Seun van die mens gaan kom!  Bly getrou – en sien die redding wat Ek vir jou sal bewerk.  Ek is soewerein”  Die EK IS is soewerein in die geskiedenis.  En nie net in die geskiedenis nie, maar in my lewe.

Wat ek vandag graag wil doen is om ‘n oorsig oor die boek te gee.  Daar is so baie vrae wat hierdie boek en temas omring, dat ek ‘n bietjie tyd daaraan wil bestee.

Laat ons dus na hierdie boek kyk ... en begin by Daniël, dan die datum en laastens kyk ons na die belangrikste temas. 

Die man Daniël

Daniël:  ʼn staatsman, ʼn politikus en ʼn profeet.  Sommige het hom as Babiloniër beskou, sommige as Persies en almal het hom as ʼn Jood gesien.  ʼn Man wat wysheid gehad het.  Nie die aardse wysheid nie, maar ʼn hemelse wysheid.  Een wat vooruit gesien het.  Nie ʼn man wat sy oë op die aarde gerig het nie, maar ʼn man wat bly opkyk het na God.  Hy was ʼn man wat in die waarheid geglo het.  ʼn Onwrikbare man wat sou sterf vir sy oortuigings.  Hy het sy God meer liefgehad as enige iets en was deeglik bewus van sy mense se sondes.

Hy het geweet dat daardie sondes die redes was hoekom hy op die ouderdom van 14 of so, weggeruk is uit sy huis, familie en alles wat vir hom bekend was en as ʼn vreemdeling geleef het in ʼn vreemde land totdat hy omtrent 90 jaar oud was.  Hy het wêreldleiers sien kom en gaan in sy leeftyd en selfs die opkoms en val van hele ryke.  Soos baie mense wat tot die ouderdom van 90 leef en die val van die Sowjet Unie en die Britse Ryk gesien het. Hulle het ook tot die slotsom gekom hoe klein en kort die lewe van magtige mans is en selfs die koninkryke waaroor hulle geheers het.  Vandag hier, môre weg.  Maar een ding wat vir ewig sou bestaan was die woord van sy God.

Hy het geleef totdat God se volk die nuus gekry het dat hulle na hul eie land kon terugkeer.  Sy lewe is ʼn getuienis van God se beloftes. 

Datering

Daniël is een van daardie boeke wat ongelowige geleerdes reg tussen die oë tref.  Hulle moet mentale toertjies maak sodat hulle dit nie hoef te glo nie.  Die rede hiervoor is dat Daniël se visioene, veral die een in hoofstuk 11, histories so akkuraat is, dat liberale geleerdes eenvoudig nie wil glo dat hierdie boek geskryf is vierhonderd jaar voordat hierdie gebeurtenisse presies so plaasgevind het soos wat voorspel is.  Dit sou wees asof Martin Luther al die belangrikste wêreld gebeurtenisse tot voor die Tweede Wêreldoorlog voorspel het. 

Uiteindelik kom dit neer op die vraag of God regeer oor elke menslike historiese gebeurtenis wat ooit in die geskiedenis plaasgevind het, vanaf die antieke Hititiese ryk tot die Siriese oorlog, van die opkoms van president Trump, tot die verlies van jou hare, of nie.  Dit is die vraag.  Glo ons in ʼn God wat weet en die geskiedenis regeer?  En die tweede vraag wat opduik is of jy die betroubaarheid van die Woord in hierdie boek vertrou.  Sal jy jou lewe daarvoor op die spel plaas? 

Daar is mense, selfs evangeliese, wat probeer om hierdie boek na die gebeurtenisse wat voorspel is, te dateer.  Maar dit sou van die boek Daniël ‘n bedrog maak.  En al daardie mense wat hulle lewe gegee het omdat hulle in hierdie boek geglo het, het hulle lewe vir ‘n vals boek gegee.  Soos een skrywer sê: “As die voorspellings nie feitlike verklarings is van gebeurtenisse wat nog moet plaasvind nie, dan is hierdie boek niks meer as ‘n vreemde stukkie fiksie van ‘n antieke wêreld wat geen reg het om die gewete te bind nie.  Dit mag ons vermaak.  Maar as dit nie histories is nie, dan is dit niks beter as ‘n mitologiese verslag nie.  Met ander woorde, ‘n laat datering vir Daniël vereis dat die skrywer gelieg het – ‘n skurk van die hoogste orde.  ‘n Leuenaar wat generasies van gelowiges aangemoedig het om onmoontlike kanse te aanvaar, vanweë die beloftes wat in die boek gevind word.  Dit is hoekom die datering van hierdie boek so belangrik is en ek tyd daaraan wil bestee.

Vir die wat Daniël op sigwaarde neem en glo dat Daniël die boek geskryf het, dateer die boek ongeveer 6 eeue voor Christus.  Vir hulle wat glo dat dit onmoontlik is om gebeurtenisse vierhonderd jaar in die toekoms te voorspel, of sê dat dit geen verskil aan die betekenis van die boek maak of die gebeurtenisse histories is nie, sal die boek rondom die 2de eeu vC dateer.  Laat ons kortliks na die feite kyk.

Allereers is Daniël een van die enigste boeke saam met Esra, wat ten minste gedeeltelik in Aramees geskryf is.  Die Aramees in Daniël is oor die algemeen baie na aan die taal van die sesde eeu wat in antieke papirusse en Esra gevind is.  Derhalwe is die Aramees ʼn sterk argument vir ʼn sesde eeuse datering.”  Die trotse onafhanklike Jood van die 2de eeu sou NOOIT ʼn deel van ʼn heilige boek in ʼn heidense taal geskryf het nie.

Tweedens vind ʼn mens ook ʼn aantal Persiese woorde in Daniël.  Hierdie woorde is ouer Persiese woorde, wat beteken dat hulle net in die geskiedenis van die taal voorkom tot ongeveer 300 vC.  En daarna vind ons dit glad nie.  Dit sou heeltemal sin gemaak het as Daniël ʼn man was wat in die Persiese hof gedien het.  Dit is presies wat die skrywer van die boek beweer in Daniël 10:1 “In die derde jaar van koning Kores...”

Uiteindelik is die historiese akkuraatheid waarmee Daniël oor gebeurtenisse is sy eie tyd (die 6de eeu vC) skryf, wat selfs sommige kritici verbaas. Een ongelowige geleerde erken:  “Ons sal waarskynlik nooit weet hoe die skrywer geweet het dat die nuwe Babilon die skepping van Nebukadneser was, soos opgrawings bewys het... en dat Beltsassar, wat net genoem word in Babiloniese rekords en in Daniël, as koning gefunksioneer het toe Kores Babilon in 538 ingeneem het.”  Niemand wat in die 6de eeu vC geskryf het, kon oor geskiedenis van die 2de eeu geskryf het met soveel historiese akkuraatheid.  Daar is meer bewyse, maar jy kry die punt.

Geliefdes, die Woord van God is waar, betroubaar en voorspelbaar. En dit is feitlike geskiedenis.  Elkeen van hierdie verhale het regtig gebeur.  God het sy volk in ʼn baie donker en eensame tyd, toe hulle gevoel het dat hulle geen mag en invloed het nie en tot die uiterste gedruk is, vertel dat EK IS IN BEHEER!  Ek het die verlede en die hede in my hande.  EK is wie EK is. In vandag se wêreld gee dit ons hoop wanneer die kerk meer en meer invloed verloor en, in wat ʼn mens ʼn soort ballingskap kan noem, gaan.

Veral in hierdie morsige politieke tyd in ons land se geskiedenis, moet ons vashou aan ons onwankelbare geloof in ʼn soewereine God wat die geskiedenis lei.  Ons moet as kerk absoluut kan vasstaan op die Woord van God:  om dit as geheel en al betroubaar en waar te vertrou. 

Niemand plaas sy lewe op die spel vir iets waarop hulle, soort van, vertrou nie.  Die tyd sal kom wanneer jou geloof getoets gaan word – jou lewe sal op die spel wees.  Op daardie oomblik wat God ver weg lyk en jy alleen voel, sal jy dan nog steeds vashou aan die beloftes?  Sal jy steeds vashou aan die feit dat die soewereine een jou Vader is?  Hy sal jou bly vashou as jy syne is.  Hy sal sy kinders nie laat vernietig of verslaan word nie, maak nie saak hoe verslaan en uitgeput hulle voel nie.

Sal daar ‘n kerk in ons kultuur wees?  Respekvol.  Opreg.  Wat nie vertrou op politieke mag, of geld nie.  Maar op die Woord van God.  Wetende dat Hy soewerein is.  Sy Woord is seker.  Ons sal deur die geloof lewe en nie op wat ons sien nie.

Temas

Die grootste tema van Daniël is loshande die soewereiniteit van God.  Absolute, totale heerskap van God.  Hy doen wat Hy wil, wanneer Hy wil ter wille van sy volk en sy eer.  Daniël se boodskap is:  “God is soewerein en Hy heers oor alles en Hy sal uiteindelik alle menslike boosheid oorwin.”  In kontras met groot boosheid en menslike trots staan die ewige Vors en die Seun van die Mens, wat uiteindelik totaal en al sal oorwin.

Die geskiedenis beweeg vorentoe gemeente – moenie dit ignoreer nie.  Elke skynbaar  ongelooflike toevalligheid is ʼn optrede uit voorsorg deur die almagtige God.  Ons sien dit selfs deurgaans in die moderne geskiedenis.

Soos een skrywer sê:  “Veronderstel dat Brittanje nie die ‘Enigma’ kodeer masjien se kode gebreek het nie.  Sou die ‘Battle of Britain’ en selfs die Tweede Wêreldoorlog anders verloop het?  Sê nou maar Hitler het nie sy pantservoertuie terug gehou by Dunkirk (Duinkerken) en in plaas daarvan vliegtuie gestuur?  Sou 150 000 Britse soldate gevange geneem en doodgemaak gewees het, en so nogmaals die verloop van die oorlog verander het?  Is dit nie merkwaardig dat Hitler se vervolging van die Jode van die beste wetenskaplikes uit Duitsland na die VSA en Engeland gedryf het?  As hy dit nie gedoen het nie, dan is dit nie heeltemal onmoontlik dat Hitler ʼn atoombom sou ontwikkel het voor Amerika?  Hoe sou die geskiedenis van die laaste 50 jaar dan gelyk het?  Sê nou maar dat Krushchev nie gehuiwer het met die Kubaanse missielkrisis en ʼn atoomoorlog het uitgebreek?  Hoe sou die wêreld vandag gelyk het?  Christene kan onmoontlik veronderstel dat enige van hierdie gebeurtenisse en miljoene ander, klein en groot, buit God se beheer was nie.”  Sê nou maar De Klerk het nie vir Mandela vrygelaat nie.  Sê nou maar dat Mandela nie gebore is op die tyd wat hy was nie. Jy kan na die geskiedenis kyk en ʼn tema raaksien – koninkryke en nasies kom en gaan, maar die kerk bly oor.

God vervul sy doel in ruimte en tyd – op hierdie aarde – deur individue.  Sy koninkryk word nie gevestig op ʼn buitenruimse misterieuse wyse nie, maar deur die lewe van mans en vroue – vlees en bloed.  My en jou.  Wat ons bring by die tweede tema wat deur hierdie boek loop.

God se Koninkryk teenoor Mensdom

Die koninkryk van God staan teenoor die wêreld se koninkryke.  Die stad van die mens teenoor die stad van God.  Die punt wat Daniël maak is dat alhoewel die tempels en die ryke van hierdie wêreld sterk en onverwoesbaar lyk, sal hulle bly val, maar God se Koninkryk sal bestaan tot in ewigheid.  Nietzsche het gesê:  “God is dood”, maar in feite is Nietzsche dood.  Of waar is die groot ryke en tempels van die 20ste eeu?  Waar is die groot Britse ryk wat so baie mense aanbid het en ʼn kwart van die wêreld oorheers het?  Waar is die tempel van kommunisme?  Waar is die tempel van apartheid?  Waar gaan die tempel van Hollywood, of Silicon Valley, wat die Weste vandag aanbid, môre wees?  Maar die tempel van God wat nie met hande gemaak is nie bly staan en die koninkryk van God is lewendig.

Dawkins en Hitchens sê dat ateïsme die einde van God is.  Regtig?  Ek sê dat ateïsme maar net die nuutste god in die geskiedenis geskep het:  naturalisme.  God het geloof reeds lank gelede voorspel deur sy dienaar Paulus toe hy gesê het dat die mense die geskape dinge aanbid eerder as die Skepper.  Hierdie wêreld se koninkryke wat gebou is op groot humanistiese ideologieë, is maar net ou filosofie in ʼn nuwe verpakking.  Satan bou maar net sy koninkryk op dieselfde ou verskuiwing van die sand van leuens, verval en dood.

Daniël moedig ons aan om die koms van die koninkryk deur die oë van die verlossingswerk van die geskiedenis te sien kom.  Hy het na die koning se eerste koms uitgekyk;  ons kyk uit na die wederkoms van die koning.  Hy het gewag op die vestiging van die koninkryk en op die rots Jesus Christus, ons kyk uit na die vervulling wanneer die rots groei en die hele aarde vul.

Die koninkryk van God was uiteindelik net ʼn toekomstige belofte vir Daniël – sy koninkryk was ingehuldig met Jesus Christus.  Ons leef in die tyd van die koninkryk.  Sy koninkryk word op hierdie aarde gebou.  Ons uiteindelike bestemming is nie die hemel nie, dit is reg hier op aarde.  ʼn Aarde wat die wederkoms van die Erekoning sal sien, wanneer Hy weer sal kom om alles nuut te maak.  Jesus Christus kom nie om nuwe dinge te maak nie, maar om alle dinge nuut te maak.  Ons werk hier is nie tevergeefs nie – dit het ewige waarde.  Daniël sien dit, hy gee homself oor aan die Woord wat hy geroepe is om te doen.  Want jy dra by aan die ewige koninkryk van God.  Dit bring ons by die derde tema.

Getrouheid teen alle verwagtinge

Daniël was in ballingskap – op 14-jarige leeftyd.  Dit was nie sy fout nie, kan jy dalk sê, hy was een van die getroues.  Maar hy het na ʼn vreemde land gegaan, vreemde gebruike en vreemde gode.  Hierdie land sou alles in sy vermoë doen om enige herinnering aan God uit sy gedagtes te elimineer.  Hulle sou enige iemand doodmaak wat nie aan hulle ideale voldoen nie.  Hy was alleen.  Hoe het hy getrou gebly?  Hy het getrou gebly, nie omdat hy so goed was nie, maar omdat God getrou was.  Sy God sou nooit teruggaan op die beloftes aan Adam, aan Abraham, Isak en Jakob, aan Dawid, aan die profete nie.  NOOIT, OOIT het God een van sy beloftes maar ʼn bietjie verbreek nie.

In die meeste konflikte waarin ons onsself bevind, nie die minste oor die Evangelie en die lewe en gesondheid van God se volk nie, weet ons nie wat die uitkoms gaan wees nie.  Daardie kennis is alleen aan God voorbehou.  Maar ʼn Christen se geloof moet nooit verwar word met fatalisme nie;  God se soewereiniteit is nie gelyk aan die mens se fatalisme nie.  Nooit moet ons vertroue in God se uiteindelike oorwinning ons eie passievolle betrokkenheid, voorbidding en invoeging in die sake wat God se verbondsvolk raak nie.

In feite moet God se soewereiniteit presies die teenoorgestelde doen – dit moet ons ʼn hoop gee wat ons dryf om vir ʼn beter môre te werk – om by te dra aan die bouwerk van Christus se koninkryk in alles wat ons doen.  Dit is nie net predikante wat dienaars van die koninkryk is nie, dis ons almal.

Hierdie is nie ʼn stryd wat gou verby is nie.  Dit is ʼn stryd van generasies, ʼn stryd van verbonds getrouheid deur elke generasie heen soos wat die waarheid deurgegee word in woord en daad.  Elke generasie hou vas en kyk na Jesus as die een wat ons voorwaarts roep deur sy woord en Gees.  Daniël het geweet dat die honderde jare en vier koninkryke later sou wees voordat die koninkryk ingelui sou word en die koning sou sê: “bekeer julle want die koninkryk van God is naby!”  Intussen moes die Israeliete in geloof lewe.  Deur Daniël se boodskap het God sy volk voorberei vir die langtermyn:  ʼn langtermyn met moeilike tye wat voorlê.

Deur al die eeue het die koninkryke van die wêreld probeer om die koninkryk van God te oorwin, deur vervolging en moeilike tye, deur tye van sukses en oorvloed.  Maar die punt van Daniël is dat net wanneer die bose magte hulle hoogste of volle potensiaal bereik, word hulle afgesny.  Want dit is nie die groot en magte despote wat in beheer is nie, maar die hoogste God.

Gevolgtrekking

As ons na hierdie boek kyk vir die res van die jaar, bid ek dat ons sig op God vergroot sal word.  Nie net is Hy soewerein nie, maar hy gee om wat ons van Maandag tot Saterdag doen.  Ons is almal in voltydse diens in die koninkryk.  24/7.

Hierdie boek sal ons aanmoedig om ons oë op Jesus te hou en deur Hom te leef in ʼn wêreld wat nie Christelik is nie of meer post-Christen word.  Met ander woorde ons gaan die vraag van die Psalmis vra:  “Hoe kan ons die lied van die Here sing in ʼn vreemde land?”  Hoe kan ʼn Christen, wie se burgerskap in die hemel is, die Here se lied as ʼn vreemdeling op hierdie aarde sing?  Die beginsels wat Daniël se lewe regeer het – genade, geloof, Skrif, gebed, gemeenskap, gehoorsaamheid, hoop – gee vir ons die antwoord.  Wat beteken dit om ʼn Christelike wêreldbeskouing te hê.  Wat beteken dit om in Christus te glo – en wat se betekenis gee dit vir elke dag.  Jou werk, jou huis of jou skool.

My geliefde broeder en suster in Jesus Christus, alhoewel ons soos skape ter slagting gelei word, alhoewel die wereld rondom ons ineenstort, die ekonomie soos ʼn baksteen in die diepte van die see sink, en ons mensgemaakte beskermings in die lewe verkrummel.  Wat ook al gebeur, dit sal alles goed wees – vanweë sy liefde wat in Jesus Christus ons Koning is.  Hy gee om.  Hy is in beheer.  Vertrou op Hom om te voorsien, ongeag wat kom, vir alles.  Liggaam en siel.

Amen