Die koninkryk van hierdie wêreld aanbid die mens

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2018-06-24
Teks: 
Daniël 3
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente, vandag kom ons by die volgende stryd tussen die koninkryk van God en die koninkryk van Babel: tussen God, die Koning van alle konings, wat aardse konings oprig en Nebukadnésar, wat afgode oprig.

  1. Die koninkryk van hierdie wêreld aanbid die mens
  2. Die burgers van die koninkryk van die hemel weier om neer te buig
  3. God red sy diensknegte deur die dood

Die koninkryk van hierdie wêreld aanbid die mens

Koning Nebukadnésar rig ’n goue beeld van God op wat 60 el lank en 6 el breed was.  Dit is omtrent 28 meter lank en 2 meter breed.

Hierdie beeld gaan net oor koning Nebukadnésar.  In die eerste paar verse word Nebukadnésar se naam sewe maal genoem.  Hy wou gehad het dat sy naam onthou word en hy wou die wêreld verenig.  Hierdie afbeelding was in wese ’n poging om die ou Babel te herbou. Om oor God en sy heerskappy in die geskiedenis te heers en om die koninkryk van die mens op te rig.  Soos Nietzsche gesê het: “As daar ’n god is, hoe kan ek dit verduur om nie daardie god te wees nie.”  Net soos wat almal in die vroeë kerk vir Caesar as Here moes erken, so wou Nebukadnésar gehad het dat almal moes erken dat Nebukadnésar die Here is.

Hierdie tipe optrede is steeds vandag duidelik sigbaar in lande waar daar ’n absolute regeerder is.  Jy kan enigiets aanbid, solank dit tweede kom ná jou lojaliteit aan die land.  Die Regeerder.  Of dit nou Mao, of Stalin, of die huidige regeerders van China of Noord-Korea is wat ’n beeld van hulself opgerig het op plekke waar mense bymekaarkom.  En dit maak nie saak wie of wat jy aanbid nie, solank dit tweede kom ná die staat.  Die Christendom is altyd ’n bedreiging vir die kultuur, want hulle diepste vertroue kan nie op die staat wees nie.

Dit is waarom ateïstiese state gelowe wil onderdruk.  Selfs in ons pluralistiese samelewing word daar vir ons gesê om ons geloof privaat te hou, en daarom sekondêr.

Koning Nebukadnésar vergader al sy belangrike regerende amptenare.  Dit moes omtrent indrukwekkend gewees het om daar op die plein te wees, met hierdie massiewe standbeeld in die middel, en mense van elke nasie en taal.  Regeerders en amptenare.  Die koninkryk van die wêreld kan dikwels van die buitekant af baie lyk soos die koninkryk van God.  Hulle het ook die inklusiwiteit, die mooi aanbidding met musiek. Hulle aanbidding sluit ook ’n gevoel van ontsag en erkenning van oppergesag in.  Die wêreld se koninkryk verkondig ook inklusiwiteit en diversiteit.  Hulle streef ook na eenheid en eenvormigheid.

Satan en die wêreld weet wat die mense nodig het, en hulle wil mense se hartsverlange vul sodat hulle harte afgelei word van hulle diepste verlange – om deur God liefgehê te word, en saam met Hom in ’n verhouding te lewe. Mense is gemaak na sy beeld en geroep om voor Hom neer te buig; hulle was nooit veronderstel om neer te buig voor ’n afbeelding wat hulle self gemaak het nie.

Maar Nebukadnésar gee aan hulle die opdrag (vs. 5): “sodra julle die geluid hoor van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.”  Dit is snaaks hoedat hulle nou iets moes aanbid wat opgerig moes word.  Dit was alles een groot vertoning, ’n charade om daarmee die mense te beïndruk.  Daar is musiek, daar is glorie; dit voel ontsagwekkend.  En almal neem hieraan deel!

Maar hierdie standbeeld moes rondgedra en opgerig word.  Dit was dood.  Leweloos. En kon niks op sy eie doen nie.  Dit is ’n sinnelose, onbesonne program.  Net soos wat ’n robot in aksie kom wanneer dit aangeskakel word, so sal hierdie skare klakkeloos optree wanneer die musiek begin speel.  So volg die wêreldse skare die kultuur, sonder om daaroor na te dink.  Die mense wat afgode maak en hulle vertrou sal soos hierdie mense wees.  Jy word wat jy aanbid.

Maar dit is alles ’n charade, en ons teks wys dat dit alles ‘n grap is deur die manier waarop dit geskryf is.  As hierdie teks hardop in Aramees gelees sou word, sou dit in ’n gelag ontaard het omdat dit so dom klink, net soos wat afgodery ook dom is – met al die sinnelose herhaling; jy doen dit net omdat al die ander mense dit doen.  Maar die afgode voor wie hulle hul neerbuig, kan nie hoor of sien of selfs beweeg nie.  Dit is hoe die Bybel afgodery hanteer.  As die grootste, hartseerste grappe wat Satan en ons harte op ons uitgehaal het.  Die herhaling van die teks en die outomatiese gedrag word amper soos ’n verslawing uitgebeeld.  Wanneer jy buig vir die verslawings van die wêreld, verloor jy ’n deel van jouself.

Maar die gevolge daarvan om nie neer te buig nie, skep ’n groot probleem.  HY sê in vers 6: “En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word.”  Sommiges mag verlei word deur te dink: vind net ’n middeweg. Dan kan jy in beheer bly en ’n invloed hê.  Ons vra onsself af: Wat sal gebeur as ons alle invloed verloor op die staat en die kerk?

Maar die mense wat op hierdie manier dink, verstaan nie werklik God se soewereiniteit nie.  Dat God nie enigiemand in magsposisies of invloedryke posisies nodig het om sy wil te volvoer nie.  Hy het gehoorsaamheid nodig: onvoorwaardelike gehoorsaamheid ongeag die uitkoms.  As koning Nebukadnésar hierdie tipe gehoorsaamheid vra, hoeveel te meer die almagtige Regeerder van hemel en aarde.

Die koning van hierdie aarde, koning Nebukadnésar, maak selfs sy eie miniatuur hel, waarheen hy mense stuur indien hulle hom nie aanbid nie.  ’n Brandende oond.  Dit is dus veilig om te sê dat met al hierdie motiverings, die faktor van ontsag, die feit dat almal dit gedoen het en die feit dat jy sou sterf indien jy dit nie doen nie, sou dit die beste opsie wees om net ’n vinnige buiginkie te maak en in jou hart te maak asof jy dit nie gedoen het nie.  Maar, geliefdes, dit wat ons doen – ons aksies – verraai aan die wêreld en onsself wie ons is.  Aan jou vrugte sal jy geken word, sê die Here Jesus.

Let ook op hoe Nebukadnésar dit regkry dat mense hom gehoorsaam.  Vrees, of beloning, wat nie vanuit ’n suiwer liefde vir hom kom nie.  Dit is anders as Christus se uitroep na ons.  Ons Koning se regering is een van liefde.  Ons aanbid Hom omdat Hy ons liefgehad het.  Ons aanbid Hom nie omdat Hy gesê het: Aanbid my of anders gaan jy hel toe, nie.  Nee, ons was reeds in die hel.  Hy het sy lewe vir ons afgelê en het deur die hel gegaan om ons uit die hel te haal, sodat ons Hom kan aanbid en Hom kan liefhê.  Hy wil nie jou geforseerde of uiterlike aanbidding hê nie.  Of aanbidding omdat al die mense na jou kyk nie.  Hy wil jou hart hê.  En dit is iets wat geen aardse koning van iemand kan afdwing om te gee nie.  Hulle mag dalk die uiterlike vertoning kry, maar jy kan nie werklik liefde en aanbidding van die hart afdwing nie, dit moet vrywillig gegee word.

Die burgers van die koninkryk van die hemel weier om neer te buig

So het hierdie kakofonie in elk geval begin, en mense van alle tale, stamme en nasies buig neer voor hierdie bees van ’n afgod.  Hulle het almal soos een man neergebuig.  Die groepsdruk was te groot.  Die hele kultuur het dit gedoen, en dit het gelyk of dit werk.  Na dit alles was daar vrede en voorspoed.

Net drie mense, waarvan ons weet, het nie neergebuig nie.  Drie mense wat ongemaklik rondstaan terwyl almal rondom hulle neerbuig.  Drie mense is bereid om te sterf deur hom nie te aanbid nie.  Hulle beskou die dood as ‘n beter opsie.  Hulle maak nie ’n bohaai daarvan nie. Hulle dra nie borde van protes rond terwyl hulle dreunsing dat hulle nie wil neerbuig nie.  Nee, hulle bly eenvoudig net staan.  Stil, vreesloos en gelowig. 

En die Chaldeërs het dit raakgesien.  Miskien was hulle jaloers omdat hierdie manne bevorder is na hoër posisies, soos ons in hoofstuk 2 gelees het.  Waaroor dit ook al gegaan het, hierdie manne was soos die jonger boetie wat nie kan wag om sy broers te gaan verklik wanneer hulle iets verkeerd gedoen het nie. Hulle gaan na die koning en sê in verse 9–12: “Mag die koning vir ewig lewe!  (Terloops, daar is net een Koning wat vir ewig lewe.)  Het u nie gesê dat as die mense die geluid van al die musiekinstrumente hoor, dat hulle moet neerbuig en aanbid, want andersins wag die dood vir hulle nie?  Wel, raai wat?  Ons het drie manne gesien wat geen aandag geskenk het aan die woord van die koning nie en wat nie u gode of die goue beeld wou aanbid nie.”

Wel, toe kry Nebukadnésar een van sy bekende woede-uitbarstings en basies sê hy (in vers 13 tot 15): “As julle nie hierdie keer na my luister nie, gaan ek julle dadelik in die klein hel werp wat ek geskep het.  Ek sal die ergste aan julle doen.  Ek gaan julle doodmaak.  En wie is die God wat julle uit my hande sal red?” 

“Wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?”  Sien julle die arrogansie?  Hierdie man glo dat hy die mag het oor lewe en dood.  In daardie pluralistiese samelewing was daar geen god wat die mense nie kon beheer nie.  Nebukadnésar het gedink hy was ten minste gelyk aan en dikwels sterker as die gode.  Maar vanuit die Bybel se perspektief is dit ’n ontsaglike groot arrogansie.  Onnoselheid selfs.

En nou kom ons by die klimaks van die verhaal.  Hier is die klimaks van geloof – wat sal gebeur?  Wat sal hulle antwoord wees?

Die antwoord is verstommend.  Die moeite werd om te memoriseer.  “Ons ag dit nie nodig om u hierop ’n antwoord te gee nie.  As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.”  Basies: Moenie jou tyd mors nie, want ons sal dit nie doen nie.  God is God, en Hy sal doen wat Hy wil.  Die vrees wat jy aan ons probeer afdwing, sal nie ons geloof in God oorwin nie.  Perfekte liefde werp alle vrees weg. Of, soos Johannes sê: “En dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het.”

Net vier vinnige, belangrike opmerkings, voordat ons verder gaan:

Eerstens, let op dat hulle algemene hoflikheid en respek nie verminder het nie, ten spyte van hul dapper woorde.  In elke sin spreek hulle hom aan as koning.  Hulle erken hom as magtig.  Kom ons moedig mekaar aan om altyd te praat met vrymoedigheid, maar met respek.

Tweedens, hulle is heeltemal onwillig om verskoning te vra vir hulle standpunt.  Hulle sê nie: “Jammer, maar ons kan nie dit doen nie.”  Hulle is nie jammer nie; hulle sê eenvoudig dat hulle nie kan nie.  Moenie jammer wees oor iets waaroor jy nie werklik jammer is nie.

Derdens, hulle twyfel nie aan God se vermoë om hulle te red nie, en hulle sê dit ook: “God is nie ’n gyselaar van ander gode of mense of regeerders of ander nie.  God kan absoluut red. Selfs teen die wette van natuur in.

En vierdens, of God hulle sal red of nie, dit kan hulle nie weet nie – en dit het niks te doen met hulle finale antwoord nie.  Getrouheid is nie afhanklik van ’n ontsnappingsplan nie.  Hulle kies getrouheid omdat dit die regte keuse is, selfs al kos dit hulle hul lewens.

Om op te som:  Die moed wat ons nodig het in ’n anti-Christelike era, is beleefd en standvastig.  Dit vra nooit om verskoning vir God nie.  Dit glo met blydskap dat God enigiets kan doen, maar dit is bereid om alle moontlike pyn te verduur, eerder as om te onderhandel vir ’n opregte gehoorsaamheid.  Soos Job sê: “Al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom.”

Wel, eers was hy kwaad, nou is hy WOEDEND!  Mense word kwaad as hulle nie die erkenning ontvang wat hulle dink hulle verdien nie.  Dit neem hulle geluk weg.  Want hulle soek die goedkeuring van mense.  Hulle word kwaad en depressief as hulle dit nie kry nie.  Sy oë is gevul met woede en hy sien hulle nie meer as die adviseurs wat hy geken het en vir wie hy ’n tweede kans sou wou gee nie.  Nou wil hy hulle net doodmaak. Hy was so kwaad, so gevul met woede, dat hy wou hê dat hulle tot as verbrand.  Hy gee bevel dat die oond sewe keer warmer gemaak moet word en beveel die sterkste soldate om die drie manne vas te bind sodat hulle geen wegkomkans het nie.  Hy gaan vir hulle wys wie se gode die baas is. Hy vat geen kanse met hulle God nie.  Hy gaan vir hulle die toorn van die koning van die aarde wys.

God red sy diensknegte deur die dood

Die vuur is so warm en hy is so haastig om hulle dood te maak dat die sterkste soldate ook doodgaan wanneer hulle die drie manne in die oond gooi.  Die ironie is dat die manne wat die koning gehoorsaam, doodgaan, en diegene wat hom nie gehoorsaam nie, bly lewe.  Sien jy dit raak: die vraag is nie of God sy mense in die lewe op aarde sal bewaar nie, selfs al is die hele wêreld teen hulle; maar of die konings van die wêreld, die koninkryk van die duisternis, sy burgers aan die lewe kan hou.

Die hele wêreld kyk toe hierdie manne in die oond gegooi word, terwyl hulle met afwagting wonder wat sal gebeur.  Kan hulle God hulle van die dood red?  Was daar ’n God wat mense van Nebukadnésar kon red? Want hierdie mense het nie die dood net-net ontsnap nie, hulle was verby die punt van uitkomkans.  Hulle was reeds in die vuur, die ryk van die dood.  Hulle was oorgegee aan die verterende vlamme, soos wat die hele Israel oorgegee was aan Babel.  Hulle het die lyn van lewe na dood oorgesteek, hulle het in die put geval, hulle was verlore.  Of so het dit voorgekom, maar dit was hier in die vuur waar God die meeste sigbaar was; dit was in Babel waar God steeds bly werk het.  Dit is in ’n wêreld wat lyk of hy die kerk verwerp het en hulle oorgegee het aan die dood, waar God se liefde steeds aanhou.  Ja, ons God is ’n God wat van die DOOD red!  Hy verlos deur die dood!  Ons moet saam met Hom sterwe om saam met Hom te lewe.  Ons sien hier ’n teken van oorwinning oor die dood, ’n motief wat sy klimaks bereik in hoofstuk 12.

Ons leer hier ook weer wat die koste van dissipelskap is.  Die Evangelie bied alles in Christus, maar dit vereis ook alles.  Ons hoef dalk nie ons lewe te gee nie, maar is ons gewillig om nee vir onsself te sê?  In ons alledaagse stryd, vertrou ons heeltemal op God?  Hierdie toetse is die suiwerende vuur.  Sal jy jou lewe verloor om daardeur jou lewe te verkry?  Dit is wat die Here van al sy dissipels vereis.  Is hulle totaal en al syne, of is daar iets in hulle lewe wat kosbaarder is as Hy?  O, mag die genade van God ons so in besit neem dat ons ons klein gevegte vir mag, beheer en invloed sal opgee en dit alles by die kruis neerlê waar alles aan ons gegee is, en mag ons dan die lewe van die kruis leef.  Die lewe van totale genade.

Soos een kommentator sê: “Hierdie is die geloof van beginsels; as ons hulle jeugdige eweknieë onthou, dat hulle ballinge was in ’n vreemde land en dat hulle voor die grootste monarg van die hele aarde gestaan het, met geen magtige vriende wat hulle kon beskerm nie, en met die vreeslikste dood wat hulle bedreig, mag ons die genade bewonder van God wat hulle so ryklik beklee het in hierdie beproewing en die godsdiens aanhang wat hulle in staat gestel het om so opreg en moedig standpunt in te neem.”

Die magtigste man het ’n plek in die voorste ry, en hy spring van sy troon af in verwondering.  Hy is nie meer so koninklik nie; hy kan homself nie beheer nie, en hy kyk na sy adviseurs en vra hulle: “Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie?” Hulle antwoord: “Sekerlik, o koning.” Dan sien jy hoe hy met vrees en verbasing met sy vinger na die oond wys en sê: “Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ’n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ’n godeseun.”  Baie mense glo dat hierdie vierde persoon die pre-geïnkarneerde Christus was.  Indien dit so is, het hierdie man geen idee hoe naby hy aan die waarheid was toe hy gesê het dat dit soos ’n godeseun lyk nie.  Hy was nie ’n seun van die gode nie; Hy was die Seun van die God.  Wat saam met hierdie mense gewandel het, en wat hulle van die vuur beskerm het.  En Hy sal almal beskerm wat hulle vertroue op Hom stel.

Soos Hy sê in Jesaja 43: “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!  As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.  Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland.”

Die koning kom nader aan die ingang en nou is dit nie meer ’n bevel van woede nie, maar ’n bevel van vrees, verwondering en verbasing.  Hy roep die “knegte van die allerhoogste God” om uit te kom.  Soos hulle uitkom, word hulle dadelik deur die wêreld omring, omdat hulle hierdie wonderwerk wil aanskou. Hierdie drie is gered van die kloue van die dood, in ’n sekere sin opgewek, teruggebring uit die dood.

God kan red van die toorn van die magtigste koning en kultuur, maar niemand kan red van die toorn van God nie, behalwe Jesus.  Ons God is ’n verterende vuur.  Soos 2 Tessalonisense 1 sê: “Hy (sal) wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.  Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte.”

Dit is Jesus, en Jesus alleen, wat van die vuur kan red.  Dit is sy Naam alleen, want Hy het deur die vure van die hel gestap en hulle het probeer om Hom te verteer, maar hulle het tot niet gegaan, ontledig van hulle mag.  Deur sy almagtige krag kry ons die krag om staande te bly.  Dus, wees sterk in die Here en in sy magtige krag!  En bly standvastig!  Hy sal jou red, nie net-net nie, maar heeltemal, skoon, net soos wat hierdie manne gered is.  Daar sal nie een haar van jou hoof val nie, selfs al stap jy deur die poorte van die dood.

Maar Nebukadnésar se reaksie is nie een van bekering of ware aanbidding nie.  Hy praat van die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, maar nie van sy God nie.  Tog word hy geforseer om Hom te prys.  Die wêreld is dikwels beïndruk met die kerk – sy krag in tye van swakheid, sy gewilligheid om te ly, sy moed ten spyte van alles.  Maar totdat hulle die genade van God vir hulself toe-eien, is daar geen omkering nie. Nebukadnésar was beïndruk met God se mag.  En Hy wil hê dat mense bang moet wees vir hierdie God en Hom respekteer, daarom dreig hy hulle met die vernietiging van hulle huise.  Maar God wil nie hê dat mense bang vir Hom moet wees nie, maar Hom moet liefhê.  Die Christendom werk nie met geweld nie.  Dit is hoe die wêreld werk.  En Nebukadnésar gebruik wêreldse mag.

En dan eindig hy deur vir hulle weer ‘n bevordering te gee.  Keer op keer word hulle vervolg, keer op keer verhef God hulle.  Net soos die wêreld daarop uit is om God se kinders onder te kry, so is God meedoënloos besig om sy kinders te eer deur hulle lyding.  Soos een geleerde gesê het: “die lyding is die snoeimes waarmee Hy oorvloediger vrugte kan voortbring.  Die dood is die manier om te lewe, die kruis die pad na oorwinning.”

Die koning sê dat hierdie manne bereid was om hulle lewe oor te gee eerder as om enige ander god as hulle eie God te aanbid.  Dit is die les vir ons vandag.  Dink jy dat God die beste vir jou wil hê, selfs meer as wat jy wil hê?  Dat Hy volkome vreugde vir jou wil hê, meer as wat jy dit wil hê?  Dat Hy jou meer liefhet as wat jy jouself het?  Dat jy Hom kan vertrou tot in ewigheid en verder, selfs al sê die hele wêreld anders? Hoe ver strek ons vertroue?  Twyfel jy hieraan?  Twyfel jy dat Hy van die dood kan red?  Dat Hy kan red, selfs in die minderheid?  Voel jy klein, kerk?  Wees vol moed, want jou God is met jou!

Jy wil sien of dit waar is!  Kyk!  Kyk na die Een wat vir jou deur die hel gegaan het!  Hy is nie net ’n gewone mens nie, Hy is die Seun van God, sodat Hy jou by die hand kan neem en jou tot in die ewigheid kan lei vanuit die hel tot in die glorieryke vryheid wat jy as kind van God geniet.  Amen.