Die gebede van God se volk word word beantwoord in die Gesalfde

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2018-10-21
Teks: 
Daniël 9:20-27
Preek Inhoud: 

Vandag kom ons by een van die moeilikste gedeeltes van hierdie boek.  Miskien een van die moeilikste gedeeltes van Ou Testament.

Hou julle Bybels oop, en hou my aanspreeklik.  Wanneer ons by verse 24-27 kom, gaan ons spoed verminder en stadig daardeur werk.

Hierdie teksgedeelte maak ons nederig wanneer dit kom by hantering van die Skrif.  Soms kom ons by ʼn teks, veral die sg. “maklike tekste”, en ons dink ons weet wat dit sê en wat dit beteken.  Maar dit is die Gees wat die gedagtes van God aan ons openbaar.  Dit neem tyd om God se Woord te bestudeer.  Dit verg besinning, gebed, werk en dink.  Hierdie teksgedeelte leer dit vir ons.  Ons kan dit nie net lees en dan weer voortgaan met ons lewe nie.  Dan sal ons niks daaruit kry nie.  Ja, miskien het ons nie die antwoorde nie en miskien sal ons dit nooit kry nie.   Dit is God se Woord, nie ons woorde nie.  Ek verkondig God se Woord onder die volgende tema:

Die gebede van God se volk word word beantwoord in die Gesalfde:

  1. Die regverdige se gebede word gehoor
  2. Die regverdige se gebede word beantwoord

 

Die regverdige se gebede word gehoor

Vers 20: “Terwyl ek nog spreek en bid”.  Hou jy nie ook daarvan nie?  Daniël is nog steeds op sy knieë.  Hy kyk heel moontlik in die rigting van Jerusalem en hy is nog nie eers klaar voor die Skepper van die heelal nie. Die Skepper, wat alles deur sy Woord in stand hou, kom op daardie oomblik in daardie vertrek, want Hy het daardie man se gebed gehoor en Hy wil hom ʼn antwoord gee.  Let op: hy was besig om te praat en te bid, dit beteken heel waarskynlik dat hy besig was om hardop te bid.  Wanneer dit kom by jou persoonlike gebede is dit baie keer beter om hardop te bid, sodat jou gedagtes nie afdwaal terwyl jy daarmee besig is nie.  Gebede word gehoor.

Vers 20: “Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die Here my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God,”  Ek dink hierdie vers is ʼn sleutel tot die interpretasie en verstaan van dit wat later kom.  Hy was besig om om vergifnis te bid.  Dit sluit bekering in, soos ons verlede week gesien het, asook herstel.  Die antwoord op sy gebed sluit dus twee dinge in.

God se heilige berg kan nie herstel word sonder dat God sy volk vergewe en hulle reinig nie.  Dit kan ʼn berg wees, maar dit sal beslis nie heilig wees nie.

Kyk weer na hoe persoonlik dit is. My sonde.  My volk.  My God.

Vers 21: “terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, [...] ʼn vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer.”  Dit is ʼn onmiddellike antwoord van God. Hy stuur een van sy mees betroubare boodskappers, Gabriël, om hierdie antwoord te bring.  Die naam Gabriël beteken: “God is my krag.”

Daniël sê dat dit omtrent teen die tyd van die aandspysoffer was.  Dit is ongelooflik, want wanneer laas het Daniël die aandspysoffer gesien?  Daar was nie meer aandspysoffers nie, vir omtrent 60 jaar al nie meer nie. Dit sê vir ons iets omtrent Daniël.  Jy kan die man uit die stad van God haal, maar jy kan nie die stad van God uit die man haal nie.  Sy lewe is gekalibreer na en ingestem op Jerusalem; hy dra die gebruike en rituele van die ewige stad na aan sy hart.  Daniël was geliefd in die hemel, want hy het vir God gelewe.  Hier was ʼn man wie se lewensuitkyk op God en op die kerk gerig is.  Jy kon enigiets doen waaraan jy kon dink om hom so ver te kry om daarvan te vergeet, maar dit het nie gewerk nie omdat dit deel was van hom.  Sy bewuste oomblikke is deur God se verbondsredes oorheers.  Hy wou sien dat God se eer deur God se mense herstel word.  God het die gebede van ‘n regverdige dienaar verhoor.  Hierdie man se hart was gefokus.

Ons lees in verse 22-23: “En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig  te gee.  By die begin van jou smekinge het ʼn woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is ʼn geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die insig.”  Net eers drie dinge voordat ons verder gaan:

  1. ʼn Antwoord is gegee.  Wat het ek verlede week gesê?  As jy die beloftes van God bid, sal Hy jou hoor. Het jy agtergekom dat dit nou al die derde keer in drie verse is dat dit beklemtoon word dat Daniël antwoord gekry het sodra sy gebed begin het?  Dit is asof God hard en duidelik sê: “Ek HOOR jou, Daniël, en Ek sal antwoord.”  Geliefde gemeente, wanneer jy bid, hoor God jou.  Jesaja 65:24 sê: “En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, hoor Ek.”  Of Psalm 139:4 : “Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, Here, U ken dit geheel en al.”
  1. Gabriël noem Daniël “geliefd”.  O, om by die hemel geliefd te wees!  Dit is iets om voor te lewe.  Dit is so hartseer wanneer die kerk leef om by die wêreld geliefd te wees, eerder as om daarna te streef om by hul God geliefd te wees.  Mag God in sy almag dit so lei dat ons meer en meer vir die liefde van die hemel sal leef as vir die liefde van hierdie wêreld.  Ons moet elkeen na ons eie hart kyk en onsself afvra vir wie en wat ons leef.  Ek is so dankbaar wanneer ek by soveel mense hoor dat hulle leef om God en sy koninkryk te verheerlik, eerder as om ‘die vrede te bewaar’ en aanvaarbaar vir die mense te wees.
  1. Let op dat Gabriël in vers 22 aan hom insig en wysheid gee, maar in vers 23 word hy tog beveel om die gesig te verstaan.  Hier sien ons die wisselwerking tussen die mens se verantwoordelikheid en God se soewereiniteit.  Hierdie wisselwerking vind ons deur die hele boek.  God se soewereiniteit maak nie ons verantwoordelikheid om getrou te wees, enigsins minder nie.  Dit is die gebed van die regverdige wat beantwoord word.  Die gebed van diegene wat met opregte bedoelings en ʼn skoon hart na God toe kom.

Voordat ons na die antwoord toe gaan, wil ek dit duidelik maak dat dit waarna ons kyk, die antwoord op die gebed is.  Ons kan dit nie van die gebed losmaak en dit iets laat beteken wat glad nie met die gebed wat Daniël so pas gebid het, verband hou nie.  Dit sal ons help om hierdie verse te verstaan.

 

Die regverdige se gebede word beantwoord

Soos wat ons deur hierdie teksgedeelte werk, sal jy besef waarom ‘n bekende teoloog hierdie teks die “donker en somber moeras van Ou Testamentiese studies” genoem het.  Kommentators is dit eens dat hierdie die moeilikste gedeelte in Daniël is...  En dit is omtrent al waaroor hulle saamstem.

Vrae wat geopper word en waaroor mense verskil is byvoorbeeld:  Wat is die sewentig sewetalle?  Weke as ‘jare’?  En moet dit simbolies of letterlik verstaan word?  Is die Gesalfde in vers 25 dieselfde as die een in vers 26?  Die Geloofsbelydenis van Westminister stel dat nie alle tekste in die Bybel ewe verstaanbaar is nie, en in hierdie geval is dit ʼn eufemisme.

Maar dit is die Woord van God.  Geskryf tot ons voordeel. Soms verg dit werk, onderskeidingsvermoë, verstaan en volwassenheid.  Kom ons pak nou die harde werk aan.

Ons lees in vers 24: “Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.”  Dit is basies ʼn oorsigtelike vers wat praat oor wat na hierdie tyd sal gebeur.

Daniël sê dit is God se heilige berg en God sê in antwoord hierop dat dit ook Daniël se heilige berg is.  Die heilige stad van God is ook die heilige stad van sy mense.  Is dit nie ʼn ongelooflike antwoord op Daniël se gebed nie?  Maar God wys vir hom dat die tyd nog nie aangebreek het nie.  Daniël het in Jeremia gelees dat die ballingskap na sewentig jaar verby sal wees – die einste rede waarom hy gebid het.

Maar hier sê God sewentig maal sewe tydperke sal verbygaan voordat jou gebede heeltemal beantwoord sal wees.  Dit kan heel moontlik ʼn vervulling van Levitikus 26:28 wees waar God sy volk deur middel van Moses waarsku dat, as hulle in hul ongehoorsaamheid volhard, Hy hulle “sewevoudig” sal straf.  Daar sal 490 jaar van ballingskap wees, stilte van God.  Geen profete, geen woord nie.  Die ballingskap word in ʼn sekere sin verleng.  Maar dan sal hulle terugkeer, en sal die uittog (eksodus) en terugkeer wonderliker wees as wat enigeen ooit van sou kon droom!  Dit gaan ongelooflik wees.  Dit sal nie ʼn eksodus uit Babel, of uit Egipte wees nie.  Dit sal die eksodus uit sonde na die teenwoordigheid van die koninkryk van ewige geregtigheid wees.

Soos ons aan die einde van vers 24 lees: “om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sonde vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om die ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.”

Enigeen wat dit lees, selfs die kinders, sal dadelik aan die een Persoon dink wat hierdie dinge vervul.  Jesus, die MESSIAS.  Die vraag is, het Hy dit alreeds gedoen of moet dit nog gebeur?  My antwoord is: beide.  Hierdie profesieë is alles reeds in Christus voltooi, en tog is dit nog nie tot volheid gebring nie.  Kom ons kyk na elkeen afsonderlik:

“om die goddeloosheid te voleindig”.  God is ʼn God wat stadig is om toornig te word.  Hy is lankmoedig en geduldig met sy volk.  Hy het vir Abraham gesê dat 430 jaar sal verloop voordat sy nageslag die beloofde land sal erf, want “die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.” (Gen. 15:16)  Toe Christus gekom het, het die sonde in ʼn sekere sin sy hoogtepunt bereik, en dit moes geoordeel word.  Die Bybel sê in Galasiërs 4:4 : “toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur”.

“om die maat van die sonde vol te maak”.  WOW!   ʼn Einde aan sonde.  ʼn Einde aan die wrede siklus van sonde.  Regdeur die Ou Testament is sonde bo-op sonde gestapel.  Die offers was ʼn simbool daarvan dat God dit wou vergewe.  Bring dank aan Jesus Christus wat ʼn einde aan die sonde gebring het, soos ons in 1 Petrus 2:24 lees: “wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid kan lewe”.  Jy is regverdig.  Hy het ʼn einde aan die sonde gemaak.  Eendag sal jy volmaak wees.  Hy sal ʼn einde aan die sonde maak.

“om die ongeregtigheid te versoen en om die ewige geregtigheid aan te bring”.  Ek hou hiervan.  Om versoening te bring vir die ongeregtigheid.  Of meer letterlik, om ‘die boosheid te bedek’, of om ‘versoening te bewerkstellig’, of om ‘vrede te bring’.  Hier sal die toorn van God nie op sy volk neerkom nie, want daar sal Een wees wat vrede teen God se toorn sal bring, Een wat ons sondes sal bedek.  WOW.  Jy sien, sonder hierdie bedekking is ons deur God vervloek.  Ons is God se vyande.  Ons is God-verdoemd.  Hier is Iemand wat daardie toorn en verdoemenis neem, en dit versoen,  en vrede bring.  Hy bring ewige geregtigheid.

“om gesig en profeet te beseël”.  Wat sê Openbaring – die boek wat so nou aan Daniël verbind is en deurgaans van Daniël gebruik maak?  Dit sê heel aan die einde in hoofstuk 22 vers 18: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesieë van hierdie boek hoor: as iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.”  Visioene en profesieë sal verseël word. Jesus was die laaste Woord van God.  Hierdie boek is nou gesluit.  Daniël het dit 500 jaar voordat dit sou gebeur, voorspel.

“om wat hoogheilig is, te salf”.  Jesus, ons Here, het versoening vir ons sondes gebring, in die mees Heilige Plek: God se teenwoordigheid.  Soos die brief aan die Hebreërs lui: “[Hy het] nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, eenmaal ingegaan in die heiligdom en ʼn ewige verlossing teweeggebring.” (Hebr. 9:12)

Die een wat sê dat die evangelie van Jesus Christus nie in die Ou Testament gevind word nie, moet ʼn vers soos hierdie een lees.  Die evangelie is reeds in die Ou Testament geopenbaar, alhoewel nie volledig nie.  Dit is God wat tot Daniël roep: “Ek HOOR!”  En Ek sal hierdie gebed beantwoord.  Ek sal jou gebed waarmaak.  Ek sal getrou wees aan my beloftes, ten spyte van al die sondes van my volk.

Met dit in gedagte, kom ons kyk na verse 25-27, waar aan ons vertel word oor die tyd van ingryping.

Vers 25: “Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle, en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word”.  Dus, hierdie sewentig sewetalle word verdeel in 62 sewetalle en een sewetal.

Voordat die Gesalfde kom, sal daar 7 sewetalle en 62 sewetalle wees.  Die eerste sewe verwys na die tyd toe Kores aan die bewind was.  Hy was tot aan die einde van die Ou Testamentiese profesie aan die bewind.  Dit was die tyd toe Jerusalem herbou is.  Ons lees aan die einde van vers 25: “dit [sal] herstel en opgebou word, pleine en slote, maar in die tye van benoudheid.”  Dit verwys heel moontlik na die tyd van Nehemia. ‘n Mens kan in sy verhaal lees van al die teenspoed wat die volk gehad het toe hulle die tempel herbou het.  Dit is ʼn onmiddellike antwoord aan Daniël.  “Julle sal teruggaan, en dit sal herbou word.”

Die 62 sewetalle verwys na die tyd tussen die twee testamente, toe God ‘stil’ was.  ʼn Tyd waarin daar geen direkte openbarings was nie.  So ver, so goed.  Maar wat gebeur na die 62 sewetalle?  Ons lees dit in vers 26.

Vers 26: “En na die twee-en-sestig sewetalle, sal ʼn Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom”.  Na die 62 sewetalle sal die Gesalfde uitgeroei word en niks hê nie.  Dit is hoe alles, volgens vers 24, afgehandel word.  Ons lees oor die Gesalfde in Jesaja 53:5 “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel, die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”  En in vers 8: “Hy [is] afgesny uit die land van die lewendes.”  Met ander woorde, Hy sal niks hê nie.  Of, die Nuwe Testamentiese profesie: God het in Christus Homself tot niks gemaak.  Hy het die gestalte van ʼn slaaf aangeneem.  Hy het Homself verneder en aan die dood gehoorsaam geword, tot by die dood aan die kruis.  En Daniël verbind elke woord met mekaar.  Dit wat Daniël toegelaat is om te sien, is ongelooflik!  In hoofstuk 7 het hy die heerlikheid van die Seun van die mens gesien, en hier sien hy Hom in sy vernedering.

Dan, tydens die laaste sewetal van die 62, in vers 26: “en die volk van ʼn vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ʼn oorstroming wees.”  Ek dink dat dit ʼn verwysing is na die Romeine wat Jerusalem vernietig het.  Dit was onder bevel van generaal Titus, in 70 nC.  Daar word gesê dat sy weermag soos ʼn vloed oor Jerusalem gekom het.  Dit het ʼn finale en beslissende einde aan die ou verbond se offer-stelsel gemaak.  En dit is nooit weer hervat nie.

Josephus, ʼn persoonlike getuie van die gebeure, beweer dat meer as 1 100 000 mense tydens die aanvanklike beleg gedood is, waarvan die meeste Jode was.  97 000 mense is gevang en as slawe aangehou.  Baie het gevlug na die gebiede rondom die Mediterreense see.  Titus het, so word gesê, geweier om ʼn krans van oorwinning te aanvaar.  Hy het gesê: “Daar is geen eer daarin om mense te verslaan wat deur hulle eie God verlaat is nie.”  Tydens die beleëring van die stad was daar ʼn groot hongersnood, met die gevolg dat kannibalisme aan die orde van die dag was.  Daar word gesê dat sommige moeders selfs hul eie kinders geëet het.  Daar was soveel kruisigings dat hout uiteindelik onbekombaar was.

En dan staan daar aan die einde van vers 26: “tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.”  Dit is waarom ek nie seker is of dit ten volle vervul is nie.  Dit klink nie asof dit verby is nie. In die Hebreeuse teks word dit so verwoord asof dit nog ‘n proses is, iets wat nog aanhou om te gebeur.  Oorlog sal aanhou, tot die einde toe.  En baie verwoestings word voorspel.  Dit lyk nie asof dit hier ophou nie. Nog oorloë en nog verwoestings sal plaasvind.  En wanneer jy na die wêreldgeskiedenis kyk, maak dit sin.

Dit wat in vers 27a staan, loop parallel met dit wat in vers 26 staan: “En hy sal een week lank met ʼn baie sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou.”  Dit kan parallel met en as ʼn verdere verduideliking van vers 26a gelees word: “En na die twee-en-sestig sewetalle sal ʼn Gesalfde uitgeroei word”.  Jesus maak ʼn einde aan die offer deur Homself te offer of ‘af te sny’.  Soos dit in Hebreërs 9:26 staan: “nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy  offer weg te doen.”

En laastens, in vers 27b lees ons: “en op die vleuel van gruwels sal daar ʼn verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat verwoes is, uitgestort word.”  Dit moet in parallel met en ter verduideliking van vers 26b gelees word, en ek dink dat dit hier weer eens wys op ʼn einde na die val van Jerusalem.  Daar sal ʼn beslissende einde wees, wat deur God vasgestel is.

Al hierdie dinge is nog nie afgehandel nie.  Die Nuwe Testament leun swaar op hierdie boek om ons verby hierdie gebeure te laat kyk.  Die stryd is nog nie verby nie, en hoe nader ons aan die einde kom, hoe hewiger sal die geveg word.  Satan is soos ʼn vasgekeerde hond, sy dae is besig om min te raak.  Satan en die Antichris sal hulle bes doen om hulle afsku jeens die lewendige tempel van God, die kerk, voorop te stel.  Of dit nou met geld, seks of mag is.  Dwaalleer of vervolging.  Maar ons weet dat die een wat hom verset, vernietig sal word.  Ons lees dit in 2 Tessalonisense 2:8 : “En dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.” Verwoestings gaan voort.  God se kerk val nog steeds, en word nog steeds van binne en van buite aangeval. In elke eeu kom Antichriste na vore.  Die oorlog gaan aan, vandag ook.  Maar die einde, wat al reeds voorbestem is, sal kom.  Daar is  alreeds ʼn definitiewe einde in die geskiedenisboek van die hemel neergeskryf.  En dit sal oor die Antichris uitgestort word.

God sal oorwin.  Dit is Hy wat die datum van die einde vasgestel het.  Ons weet nie of dit môre of eers oor 100 jaar sal wees nie.  Wat ons wel weet, is dat dit gaan kom!  En ons word geroep om getrou te bly. 

ʼn Paar dinge om oor na te dink:

  1. Hierdie teksgedeelte sê aan Daniël: Ek sal My beloftes in die geskiedenis vervul!  Menslike geskiedenis!  Jou God het die presiese tye en datums en geskiedkundige gebeurtenisse onder sy beheer.  Daar sal ʼn einde aan die boosheid kom.   ʼn Finale, volkome einde aan al die verkeerde dinge, die sonde, die opstand.  Alles wat verkeerd is, sal herstel word.  Maar dit sal deur lyding gebeur.  Die kerk volg die pad van die kruis.  Die sonde van Adam sal nie vir ewig oor hierdie aarde heers nie, want die tweede Adam het die mag van sonde oorwin.
  2. Die gebed van ʼn regverdige man is kragtig en effektief (Jak. 5:16).  Ons het die voorreg om met God te praat en Hom in gebed te hou.  Ek weet van myself dat ek soms in my eie krag antwoord.  Ons leun òf op aktivisme waar ons al ons hoop op ons eie werke plaas, òf ons word passief, en neem aan dat niks uit die vloed van boosheid en verdrukking kan groei nie.  Daniël 9 daag ons uit om op ons knieë te gaan, beide wanneer ons bid en wanneer ons geantwoord word.
  3. Ons lewe in ʼn eeu waarin alles vinnig moet gebeur.  Maar onthou dat God se tyd en ons tyd nie dieselfde is nie.  Ons verwag dat alles nou moet gebeur, verkieslik al vroeër as nou.  Ons het kitskos en vinnige antwoorde.  En soms spoel dit oor na ons verhoudings – met God en met ons naaste.  Ons wil vinnige heiligmaking hê.  Vinnige versoening.  ʼn Vinnige bevryding van die sonde.  Ons wil hê dat ander heilig moet wees en hulle moet bekeer, verkieslik teen môre op die laaste.  Maar God se tydsberekening vir heiligmaking en vernuwing van die wêreld, om dinge te herstel, is baie groter as wat ons dink.  God werk stadig, maar perfek.  Hy sal nie iets onvoltooid laat nie.  En net omdat God soewerein is, beteken nie dat alles glad sal verloop nie.  Die 69 sewetalle word deur beproewing en moeite gekenmerk.  Ons moet die moeilike pad volg om by die heerlikheid uit te kom.

Kom ons glo dat God sy beloftes sal vervul, en dat ons deel is van daardie vervulling.  Kom ons bid en keer terug tot Hom.  Laat ons dan geduldig wag vir die Here in ons lewe, en in ons kerklike lewe, om voort te gaan, om te beweeg en om kragtig volgens sy wil te werk.

Amen.