Toe Jesus vir Mattheüs ontmoet het, het niemand van hom gehou nie. Hy was een van daardie verraaiers: ‘n Jood wat belasting vir die Romeine ingesamel het. Maar alles het verander die dag toe hierdie Man van Nasaret hom ontmoet het en hom met ‘n bevel wat jy nie kan ignoreer nie, aangesê het: “Volg My.” Nou, heelwat jare later, kyk hy terug en dink oor hoe vreeslik naïef hy daardie dag was. Eers was hy nie seker oor hierdie man nie. Om eerlik te wees, hy het nie eintlik durf glo dat hierdie man, genaamd Jesus, Hy – die Messias – kon wees nie. Hy het geweet dat Hy belangrik moes wees, dalk ‘n profeet, maar die Messias? Hy onthou selfs dat hy agterna gehardloop het toe hulle Hom gevange geneem het en Hom aan ‘n kruis gehang het, hoe hy alles van ‘n veilige afstand aanskou het.
Maar drie dae later het alles verander toe hy hierdie Man ontmoet in ‘n klein kamertjie waar hulle bymekaargekom het – lewend. Van daardie dag af het alles verander. Dit is asof hy die heilige geskrifte met ‘n heel nuwe perspektief kon lees en verstaan. Dít is waarvan God al die tyd gepraat het! Dié seun van Abraham, dié seun van Dawid, was die Here en die Redder van die wêreld! Hy was die Beloofde Een! En nou, ‘n paar jaar later, het hy besluit om sy tyd saam met hierdie man neer te skryf, om aan sy eie mense, die Jode, te wys dat Hy die Messias was, die Beloofde Een. En hy begin met 16 verse met name. ‘n Genealogie. ‘n Familiegeskiedenis.
Iemand het onlangs aan my ‘n boek gewys wat hul familiegeskiedenis amper 300 jaar terug volg, selfs verder as die Voortrekkers! Hulle was trots daarop om die boek van hul familielyn aan my te wys, en tereg. Ek was beïndruk om dit te sien. Waar ons vandaan kom – ons wortels – sê heelwat oor wie ons is. ‘n Stamboom is belangrik, veral as jy daarop aanspraak maak om van ‘n sekere etnisiteit te wees, en nog meer as jy daarop aanspraak maak om ‘n afstammeling van adellikes te wees. Van dag het ons so ‘n stamboom voor ons. Want sien, Jesus was deur en deur ‘n geskiedkundige figuur. Jesus is gebore uit twee jong ouers wie se familie getrou hul voorgeslag vir amper 2000 jaar van die mens se geskiedenis opgeteken het.
Wêreldryke het gekom en gegaan: van die Hetiete tot die Egiptenaars, van die Siriërs tot die Assiriërs, van die Babiloniërs tot die Perse, van die Perse tot die Romeine. Wêreldmagte het opgekom en is verslaan, of het in die grafkelders van die geskiedenis ineengestort. Konings en koninginne het vir kort tye oor die wêreld heerskappy gevoer, en gedink hulle het alles in pag tot die dood selfs vir hulle oorwin het.
Terwyl dit alles gebeur het, was daar ‘n koninklike lyn wat groter as hulle almal was. ‘n Lyn wat nie kon doodloop nie. ‘n Koninklike lyn wat op ‘n manier bo die geskiedenis gestaan het – wat staande gehou is deur ‘n goddelike belofte: eers aan ‘n vrou in ‘n tuin dat haar saad die slang se kop sal vermorsel, daarna aan ‘n Arabier met die naam Abraham, toe aan een van sy agter-agterkleinkinders Juda, en toe 400 jaar later aan Dawid. Daardie man was Jesus. En Hy heers vandag. Vandag: ‘n Jood, ‘n afstammeling van Abraham, ‘n seun van Dawid, sit op die troon van die heelal.
Jesus Christus, die seun van Abraham, die seun van Dawid, staan in die middelpunt van die geskiedenis.
- Jesus Christus: die Seun van Abraham, die Seun van Dawid
- Jesus Christus: die res van die familie
Jesus Christus: die Seun van Abraham, die Seun van Dawid
Die Jode het geweet daar was iets spesiaals aan hulle. Hulle was God se uitverkore mense, soos Romeine 9 sê: “Aan hulle het die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees – Hy wat oor alles is.” Dis duidelik dat Paulus ook Jesus se geslagsregister gelees het. Die Jode het geweet dat die Messias waarop hulle gewag het, hul eie vlees en bloed sou wees wat die beloftes aan Abraham sou vervul.
Dus, as jy aan ‘n Jood wil bewys dat Jesus die Messias is, sal jy eers moet bewys dat Hy ‘n Jood was. Dit is presies wat Mattheüs doen. Vers 1: “Die geslagsregister van Jesus Christus (of die Messias), die seun van Dawid, die seun van Abraham.” Die Christus, die Messias, moes ‘n etniese Jood wees. Nie ‘n Afrikaan, Europeër, Asiaat of Amerikaner nie, maar ‘n Jood.
Indien daar enigiets was wat ‘n Jood daarvan kon oortuig om verder te lees, dan is dit die eerste vers in Mattheüs. Hy wou ‘n boeiende inleiding skryf, sodat hulle die boek nie sou kon neersit nie. As daar iets was wat daarin sou kon slaag, dan was dit om aan hulle in Hoofstuk 1 vers 1 te vertel: “Ek ken iemand wat die seun van Dawid is, die seun van Abraham. Sy naam is Jesus en Hy is die Christus – die Messias.”
Die Messias: waarna die hele wet en die profete gewys het. Die Een waarop hulle almal gewag het. Die doel van hulle geskiedenis.
Israel was die uitverkorenes van God. Hulle het geweet hulle verhaal was deel van iets groters: ‘n verhaal wat eendag sou lei tot die seëning van al die nasies. Hulle het geweet die geskiedenis is besig om in ‘n rigting te beweeg, hulle het die geskiedenis teologies verstaan. Dit is dalk die tragedie van die tyd dat ons daar in ons generasie nie teologies aan hierdie geskiedenis gedink word nie. As ‘n verhaal wat deur God geskryf is, deur die lewens van mense. Elkeen gelei en gerig deur God, sodat sy Woord vervul en sy beloftes waar sou word. God is aan die werk in hierdie lys. Hy is die bestuurder van die geskiedenis. Hy lei dit na die bestemming wat Hy beplan het. Soos iemand eenkeer gesê het: “Geskiedenis is die bundel van miljoene biografieë.” Ek vra julle dus om hierdie deel deur Joodse oë te lees, asof dit jou familie was. Hulle het die verhaal van hierdie name geken.
Elkeen is die resultaat van God se belofte. Elkeen was deur en deur mens, met hul eie verwagtings en drome, gesinne en families, sterk punte en swak punte. Ons moderne wêreld is so individualisties dat ons die groot verhaal vergeet. God het die verhaal van die mensdom geskryf deur hierdie mans en vroue, en deur die generasies gewerk. Hierdie name lei êrens na toe – dit wat ons hier lees, is die verhaal van God se getrouheid aan sy beloftes, deur goeie tye, asook deur die mees goddelose tye. Hul name is vir ewig ingegraveer deur die vinger van God. God skryf ‘n verhaal wat baie groter is as enigeen van ons.
“Die geslagsregister van Jeus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham.”
Abraham: die man wat eerste gekies is om die belofte verder te dra ná die sondvloed en verwoesting van die wêreld – ‘n man na wie die belofte van land gekom het en ‘n volk so groot dat hulle meer sou wees as die sterre in die hemel en die sand van die see.
Dawid: die koning van daardie land en daardie mense, ‘n man na God se hart, die man wat die belofte ontvang het dat een van sy kinders altyd op sy troon sal sit! God het ‘n erfenis belowe – ‘n koninkryk waar sy mense in vrede sal woon. Hy het vir hulle ‘n koning belowe wat vir ewig en altyd oor daardie erfenis sal heers.
“Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham.”
Aanskou Hom: die Joodse man van vlees en bloed wat die beloftes aan Abraham en Dawid in een gekombineer het. Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham, is die erfgenaam van daardie beloftes. Hy is die Seun. Die Seun wat aan Eva belowe is, die Seun wat aan Abraham belowe is. Die Seun wat aan Dawid belowe is. Die ware Jood! Deur Wie die nasies geseën sou word, en deel van God se Israel sou word.
Met hierdie vers kondig Mattheüs aan dat Jesus, die Koning van die koninkryk, gekom het. Toe Jesus op die geskiedenistoneel verskyn het, kondig Hy aan dat die koninkryk van God gekom het! Die tyd het aangebreek! Die lig het in die donker verskyn! SJOE! As hierdie sin jou nie die res van die boek sal laat lees nie, weet ek nie watter een dit sal regkry nie!
Hier op bladsy 1 vers 1 van die Nuwe Testament kry ons die nuus dat daar uiteindelik iemand op die toneel verskyn het wat aanspraak maak op die besonderse titel Messias (of Christus). Nadat ek hierdie woorde gehoor het, kan ek nie wag om verder te lees nie! Om te lees hoe hierdie Koning na die aarde gekom het, oor sy geboorte!
Neem eers gou kennis van twee dinge voordat ons verder gaan. Eerstens, hierdie geslagsregister is deur en deur geskiedkundig. Mattheüs wil hê julle moet almal die ware geskiedenis sien. Mattheüs praat oor die werklike verlede, die werklike voorouers van Jesus, die werklike geskiedkundige verhale tot en met die Christus-gebeurtenis. Indien die geskiedenis van Israel die agtergrond vorm van die Christus-gebeurtenis, dan moet ons sorg dat ons die feitelike geskiedenis van Israel verstaan. Die Ou Testament is uiters belangrik vir die verstaan van wie hierdie man genaamd Jesus is. Indien jy nie die verhaal van God se mense van die begin af ken nie, sal hierdie verhaal en die name niksseggend wees. Die woord Christus (of Gesalfde) sal vir jou niks beteken nie. Dis amper asof jy by ‘n groep vriende sit wat oor iemand praat vir wie jy nie ken nie: jy kan nie saamgesels nie.
Tweedens, hierdie geskiedenis is sterk teologies. Die skrywers van die Ou en Nuwe Testament boekstaaf nie bloot die feite van die geskiedenis nie. Inteendeel, hulle deel die geskiedenis met die spesifieke doelwit om God se werk aan te toon. Hierdie verhaal word vertel met ‘n spesifieke doel, dus sluit dit nie al die besonderhede in nie. Maar Mattheüs skryf om ‘n punt te maak.
Dit is waarom Mattheüs ‘n paar name uitlaat. Hy gebruik die hele geslagsregister van Rut 4 en voeg ‘n paar name uit Kronieke by, sodat hy drie keer veertien generasies het. Ons lees in vers 17: “Al die geslagte dan van Abraham tot Dawid is veertien geslagte, en van Dawid tot die Babiloniese ballingskap veertien geslagte, en van die Babiloniese ballingskap tot Christus veertien geslagte.” Waarom veertien? Wel, die naam Dawid is dieselfde as die getal veertien in Hebreeus. Hier is die GROOT 14. Die Groot Koning. Die ewige Een van Psalm 2 wat vir ewig op Sion sit! Wat met ‘n ysterstaf sal regeer! Die een wat die volke na Israel sal bring, en hulle met sy volk sal verenig. Dít is geskiedenis, dít is teologie! Is dit nie wonderlik nie?
Wanneer jy dus die Bybel lees, lees dit as geskiedenis met ‘n teologiese betekenis. Enersyds is daar diegene wat dit slegs as geskiedenis lees en wat sal probeer om te bewys hoe alles perfek inpas by die geskiedkundige gebeurtenisse, en hulle mis die teologiese boodskap. Andersyds is daar diegene wat die Bybel as suiwer teologie lees, en sê dat die geskiedenis eintlik ‘n mite is, ‘n illustrasie om ‘n punt tuis te bring. En hulle mis die punt dat God die God is wat werklik daar is, en wat deur werklike geskiedkundige gebeurtenisse werk.
Buitendien, daar was ‘n rede waarom God Luther op dieselfde tyd as die drukpers laat opgang maak het, daar is ‘n rede waarom Protestante Amerika ontdek het, daar is ‘n rede waarom ‘n man soos Nelson Mandela gelewe het aan die einde van apartheid. Daar is ‘n rede waarom Jesus presies op daardie tydstip gekom het. Daar is ‘n rede vir elke gebeurtenis in die geskiedenis; elke gebeurtenis in jou lewe. Want die Een in Wie dit alles byeenkom, regeer. Dit bring ons by ons tweede punt.
Jesus Christus: die res van die familie
Nog ‘n ding wat hierdie geslagsregister ons leer, is dat die hele geskiedenis na hierdie punt toe vloei. Die hele geskiedenis het gedruk en beweeg na sy koms toe en die hele geskiedenis vloei vanuit hierdie punt. Ons bepaal selfs ons kalender hiervolgens! Voor Christus en na Christus. Hy verteenwoordig alles wat voor Hom plaasgevind het, en Hy is die een wat alles rig wat na Hom plaasvind. In ‘n sekere sin is Hy die begin en die einde van geskiedenis. Die begin van die geskiedenis soos ons dit ken in Adam se val het by Hom geëindig, en Hy het ‘n nuwe, ewige koninkryk op aarde gevestig, deur sy kerk. Jesus, die Man in die middelpunt van dit alles. God het ons menslike geskiedenis betree en regeer nou daaroor aan die Vader se regterhand.
Kom ons kyk van nader na hierdie Koning se familie. Reeds van die begin af kan ons sien dat Hy nie ‘n perfekte familie gehad het nie. Toegegee, daar is pragtige verhale in die lewens van sommige van hierdie mans, maar oor die algemeen was hierdie geslagslyn deurspek met sonde en verwerping van God. Party het God gevolg; ander het Hom verwerp. Hulle was almal sondaars. Ja, daar is manne soos Boas, Dawid en Josía.
Maar kyk na iemand soos Agas, wat selfs sy eie seun in die vuur geoffer het en God se tempel kaalgestroop het sodat hy die koning van Assirië kon omkoop, wat vir God gewys het hy was nie heeltemal so betroubaar soos die koning van Assirië nie. Of Manasse, wat altare vir afgode in God se tempel gebou het en al die hemelliggame aanbid het. Hy het ook sy seun geoffer en towenary en waarsêery beoefen. Lees wat daar oor hom geskryf staan: “Hy het Israel nog meer kwaad laat doen as die heidense volke wat die Here vernietig het toe die Israeliete die land binnegekom het” (2 Kon. 21:9). En: “Hy het baie onskuldige mense in Jerusalem doodgemaak” (2 Kon. 24:4).
En dit is in hierdie lyn van mense waarin God sy Seun gestuur het. In hierdie deurmekaar, disfunksionele familie. Jy kan teruggaan en die verhale lees. Die geslagslyn self roep amper uit: Ons het ‘n redder nodig! Ons benodig ‘n koning wat ons sal lei op die pad van regverdigheid en nie van verdrukking nie; wat in vrede sal heers en nie in bloedvergieting nie; wat ons sal uitlei uit ballingskap en aan ons ‘n tuiste sal gee.
Hulle was in ballingskap vanuit die land wat aan hulle belowe is deur Abraham toe God hulle deur Moses uit Egipte gelei het. En ook nou eindig die lyn in ballingskap, en Jesus kom om sy mense uit te lei. Soos ons lees in vers 17: “van die ballingskap tot Christus, veertien geslagte.” Hier is die Een wat sy mense uit ballingskap, uit slawerny, sou lei. Verlos ons van die bose! Verlos ons van slawerny! Verlos ons van alles waarvan ons onsself nie kan verlos nie.
Dus, die eerste ding wat hier uitstaan is die deurmekaarspul van hierdie geslagslyn wat weens sonde in ballingskap eindig. Tweedens, en moontlik meer boeiend, is die insluiting van vier vroue. Dit was uiters buitengewoon vir vroue om opgeteken te word in Joodse geslagsregisters. En hierdie is ook nie die vroue wat ons sou verwag nie. In plaas van Sara of Rebekka kry ons Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Uría. Waarom? Om mee te begin, al vier het ‘n vroeëre verbintenis met seksuele immoraliteit. Tamar het haar skoonpa verlei, en Ragab was ‘n prostituut. Rut was deel van die Moabiete, ‘n groep mense wat sy oorsprong in bloedskande het en wat Israel op die verkeerde pad gelei het deur seksualiteit (Gen. 19; Num. 25). Die kind wat gebore is vir Uría se vrou het sy bestaan te danke aan ‘n buite-egtelike verhouding met koning Dawid. Maar daar is nog meer. Al vier vroue het heidense verbintenisse gehad. Tamar en Ragab was Kanaäniete; Rut was ‘n Moabiet; Uría se vrou was getroud met ‘n Hetiet. God is hier besig om iets aan ons te vertel deur hierdie vroue.
As deel van die voorgeslag van Jesus vereer hy hierdie vroue, en hy verhoog hulle as ‘n bewys van sy getrouheid nie net aan Israel nie, maar aan die hele sondige mensdom – heidene ingesluit. Net soos wat daar groot sondaars onder die mans in Christus se lyn was, so was hierdie nie perfekte vroue nie. Hierdie geslagslyn wys aan ons dat die verlede nie maak wie jy in Christus is nie; in Christus is jy opnuut gebore; jy is ‘n nuwe skepping. Die oue het gegaan, die nuwe het gekom.
Hy het nie gekom om die regverdiges te red nie, maar sondaars. In hierdie vroue sien ons ‘n prentjie van die mense vir wie Christus gekom het. Dit was nie net vir die beroemde vroue van die stamvaders nie, maar vir hierdie vroue met bagasie. Die evangelie van Mattheüs gee ‘n prominente plek aan vroue as mede-erfgename, saam met mans, van die ewige lewe. Hulle is die eerstes om die goeie nuus te hoor (Maria); die eerstes om die goeie nuus te glo. Dit was per slot van rekening die saad van die vrou wat gekom het om die kop van die slang te vermorsel.
Die vroue hier is dus nie ‘n fout nie, maar ‘n hoogtepunt van die geslagsregister. Hierdie name, veral hierdie vroue, vertel die verhaal van God. Ons sien sonde en donkerheid, en die onvermoë om volgens die wet te lewe. Maar toe kom die Lig in die wêreld en alles verander.
Mattheüs sê hierdie is dié verhaal van die hele geskiedenis. Die verlede in Adam se sonde is donker, maar die lig het gekom. Die saad sal die slang vermorsel. Die sonde en sy trawant die dood sal nie die oorwinnaars wees nie! Die hele Joodse Ou Testament beweeg na hierdie punt toe! Mattheüs gaan deurentyd terug na die Ou Testament en sê: “Kyk net ‘n bietjie hierna! Kyk daarna! Dit praat oor die koms van hierdie Man oor wie ek skryf! Dit praat oor Jesus.”
God self het hierdie verhaal geskryf om die wêreld voor te berei vir sy Seun. Hy sê: “Ek het die geskiedenis tot hierdie punt gebring. Ek het al hierdie lewens versigtig ingeweef in die pragtige tapisserie waarvan die middelpunt hier is.” Dus, vandag begin ons hierdie reis na Kersfees nie deur vorentoe te kyk nie, maar deur terug in die geskiedenis te kyk na God se werk in die lewe van gewone mans en vroue soos ek en jy. Elke naam is belangrik, nie oor dit wat hulle gedoen het of wie hulle was nie, maar omdat hulle verenig was met die familie van Jesus Christus.
Hierdie name illustreer die mensheid van Christus. Hy het in hierdie gemors gekom. Die volmaakte Seun van God, deur wie hulle almal geskep is, is in hierdie familie gebore. Deur sy Gees is hierdie name ingegraveer om ook vir ons te leer dat, as ons ons name in die ewigheid ingegraveer wil hê, ons onsself in Hom moet vind. As deel van sy familie. Hy is die Enigste Een wat ons uit die lyn van Adam kan verlos. Hy is die Lig van die wêreld.
Die lig van Christus het teruggeskyn oor die generasies heen en betekenis aan die lewe en geskiedenis gegee, en die lig van Christus skyn vorentoe na sy kinders vandag. Deur geloof in Hom is ons verenig met sy Joodse familie. Danksy Hom is ook ons name in die ewige lewe ingegraveer, vir altyd verenig en deel van die familie van Jesus, die seun van Dawid, die seun van Abraham. Nadat Hy opgevaar het, het die Koning die volgende vanuit die hemel gesê (Op. 3:5): “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.” Hy is die Koning van die geskiedenis en Hy lei dit nog ‘n keer tot die oomblik van sy wederkoms. Dit is geskiedenis. Dit is sý geskiedenis.
Amen.