twee konings. Twee volke. Drie reaksies.

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-06-02
Teks: 
Mattheus 2: 1 - 12
Preek Inhoud: 

Eendag was daar wyse manne wat die sterre bestudeer het en hulle kennis van godsdienstige boeke gebruik het om sekere gebeurtenisse te voorspel.  Een nag het hulle ‘n ster gesien en nadat hulle dit saam by hul Dinsdagaand-studiegroep bespreek het, het hulle besluit dat dit beteken dat die Koning van die Jode gebore is.  En sommige van hulle het besluit dat hulle moes gaan kyk. 

Die kans is goed dat hulle van Babilon was, wat beteken het dat hulle meer as duisend km moes reis om daar te kom.  Verbeel jou dat hulle hul vriende en familie hiervan vertel.  Julle doen wat?!  Vir ‘n ster?!  Hierdie mense het regtig geglo wat hulle gesien het en geglo dat die reis van 1000 km die moeite werd was!  Hulle het geweet dat hierdie nie ‘n gewone koning was nie en die moeite werd was om so ‘n ver en swaar reis voor af te lê.

Hier was ‘n Koning wat aanbid moes word.  Hier was ‘n Koning wat die koers van die geskiedenis sou verander.

Vandag kyk ons in hierdie verhaal na

Twee konings.  Twee volke.  Drie reaksies.

  1. Twee konings
  2. Twee volke
  3. Drie reaksies

Twee konings

Wie is die koning van die Jode?  Dit is die vraag.  Koning Herodes of Koning Jesus?  In vers een lees ons dat Jesus in Betlehem gebore is “in die dae van koning Herodes”.  Hy was ‘n koning van die Jode.  Die vraag is: hoe het hy daar gekom?  Was hy die regmatige koning van die Jode?  Nee.  In feite was hy nie eers ‘n Jood nie; alhoewel briljant en ‘n groot politikus, was hy nie eers gebore uit ‘n koninklike geslag nie.  Hy was iemand wat op enige manier die mag sou verkry.  Verraad, moord, leuens, omkopery.  Noem maar op en hy het dit gedoen.  En deur al hierdie strategieë het hy vir homself ‘n taamlike koninkryk opgebou, nie deur homself op te offer nie, maar deur ander op te offer.  Hy het ongelooflike laste op die mense gelaai d.m.v. belastings om vir sy massiewe bouprojekte te betaal.  Hy was ‘n tiran, nie ‘n herder nie.  Een wat d.m.v. vrees geregeer het en nie liefde nie.  Een wat sy mag en eer ten alle koste sou beskerm en nie een wat sy mag en eer sou opgee nie.  Een wat geregeer het d.m.v. ‘n web van leuens eerder as in waarheid.

Hy het ‘n reputasie gehad dat hy wraaksugtig en kwaad geword het as hy op enige manier bedreig gevoel het.  Dit is baie maal die geval met die wêreld se diktators.  Hulle neig na paranoia.  Ons sien dit met Hitler van Duitsland, met Stalin van Rusland, met Kim Jung Yung van Noord-Korea of Mugabe toe hy Zimbabwe regeer het.  Hulle het absolute mag en tog voel hulle so kwesbaar en daarom oorreageer hulle met die geringste blyk van gevaar op hul greep op mag.  Dit is hoekom die hele Jerusalem so ontsteld was toe die wyse manne kom vra het na die Koningskind van die Jode wat gebore is.  Hulle het geweet dat dit baie goed moontlik was dat Herodes se woede na hulle sou uitgaan.  En hulle het hierdie man meer gevrees as wat hulle die Messias begeer het.  Veral na so ‘n lang wag.

Eendag het wyse manne van die Ooste na Jerusalem gekom en gevra:  “Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is?  Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.”  Wyse manne kom nie om Herodes met al sy groot bouprojekte te aanbid nie, maar die Koning van die Jode.  Dit sou daardie vername man baie ontstel het.  Of hulle het nie geweet hoe paranoïes Herodes was nie, of hulle het nie omgegee nie, want hulle daag net op en vra waar is die Koning van die Jode wat gebore is.  In teenstelling met Herodes wat deur politieke konkeling koning geword het, is hierdie man as koninklike gebore, soos wat ons in hoofstuk een gelees het.

Dit is ook interessant dat hierdie titel Koning van die Jode net hier en aan die einde van die boek voorkom.  Beide male uit die mond van heidene.  Die vraag word aan Jesus aan die einde van sy lewe deur ‘n ander wêreldse leier, Pilatus, gevra:  “Is jy die Koning van die Jode?”  En dit is hierdie titel wat bo sy kop in drie tale gespyker was, sodat die wêreld – die heidene – kon weet dat die Een wat daar so hulpeloos gehang het, die Koning van die Jode was.

Ons het hier dus twee konings.  ‘n Koning van die hemel en ‘n koning van die aarde.  Die kontras in hulle lewens kon nie groter gewees het nie.  Die een het in vrees gelewe, geregeer deur ‘n web van leuens, omkopery en verdrukking en gesterf terwyl hy gespog het dat hy ‘n koning is.  Die ander Een het in liefde en waarheid regeer en saam met ander gesterf terwyl Hy sy goddelikheid bely het.  My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.  Dit is die koninkryk van die hemel wat op hierdie aarde deurbreek.  En hierdie kontras word reeds in die begin van Matteus voorgestel.  Die een wat vir ons ‘n houvas is.  Die ander een net nog ‘n magshonger man.  Vir wie dien jy?  Vir wie wil jy tevrede stel?  Dit is die vraag.  Wat ons by die tweede punt bring.

Twee Volke

Ons hoor in vers een dat die mense wat gekom het om die koning te aanbid “sterrekykers uit die ooste” was.  Buitelanders, geen Israeliete nie.  Nie mense van wie jy sou verwag dat hulle die Messias sou kom soek nie.  ‘n Mens sou verwag dat die Israeliete op die uitkyk sou wees.  Maar hierdie mans het uit die Ooste gekom, waarskynlik Babilon, waar daar nog steeds ‘n groot gedeelte van die Joodse volk sou wees, wat kan verklaar hoekom hulle geweet het wat hierdie ster kon beteken.  Hoe het hulle geweet?  Ons is nie seker nie.  Waarskynlik was dit deur die profesie van Bileam in Numeri 24:17 dat hulle geweet het dat hierdie ster ‘n koninklike konneksie gehad het.  Ons lees daar:  “Ek sien hom, maar nie nou al nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer (heerser) kom uit Israel op.”  Dit is interessant om op te let dat Bileam ook nie ‘n Israeliet was nie en ook nie uit die Ooste gekom het nie.  Hulle het hul kennis saamgestel uit die Joodse OT tesame met hulle kennis van die sterre en een en een bymekaar getel.

Drie Reaksies

Hierdie wyse manne kom na Jerusalem en begin vrae vra.  “Waar is die Koning wat gebore is?  Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.”  Hierdie titel “Koning van die Jode” sal nie weer verskyn tot in hoofstuk 27 nie waar dit die klagte teen Jesus opsom.  Dink jouself nou in dat jy ‘n koning van ‘n land is en mense kom in die hoofstad en begin vrae vra:  “Waar is julle koning?”, terwyl jy daardie land regeer.  Ek kan dink dat dit baie ontstellend is.  Herodes voel natuurlik bedreig, soos ons in vers 3 lees.  As daar ‘n ander koning was, sou dit sy outoriteit ondermyn en hy het niks daarvan gehou nie.  Die koninkryk van ons Here is ‘n bedreiging vir elke wêreldse koninkryk.  Dit beteken dat die mense van daardie koninkryk altyd trou is aan ‘n hoër mag.  Dit is die eerste reaksie op Jesus.  Vyandigheid.  Dit is die reaksie van so baie mense wat weier om hul eie koningskap op te gee. Hulle word kwaad, want hulle wil hul nie onderwerp nie.  Hulle wil hul eie lewe lei.  Dus spot hulle.  Jesus is ‘n bedreiging vir die humanitêre manier van dink en leef in ‘n sondige wêreld.  Herodes het geweet wat op die spel was met die geboorte van hierdie koning.  En dit is nie ‘n mooi Kersverhaal nie, dit is ‘n konflik van koninkryke.  Hy verstaan wat op die spel is, in teenstelling met die mense van Jerusalem. 

Ons lees in vers 3:  “En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom.”  Die mense in Jerusalem was waarskynlik ontsteld omdat hulle gedink het dat dit tot meer bloedvergieting deur Herodes sou lei.  Maar hierdie reaksie wys dat hulle uiteindelike trou nie aan die Messias was nie, maar aan hul eie lewe.  Hul begeerte om hul eie lewe te behou was groter as hul begeerte om hul Messias te sien en te aanbid.  Want wat het die volk van God gedoen toe daardie mense die vrae begin vra het?  Niks. 

Onverskilligheid.  Dit is die tweede reaksie.  Die nasies het gekom om te aanbid en die volk van God lyk onverskillig.  Hulle help slegs om Hom dood te maak.  Klink dit bekend?   In sy inleiding skou Matteus vooruit op dit wat in die res van die boek sal volg al die pad tot by die kruis waar die godsdienstige leiers verenig met die wêreldse leiers om die Heer van Heerlikheid te kruisig. 

Ons sien hier presies dieselfde ding, behalwe dat dit hier Herodes is wat die godsdienstige leiers om hulp vra en aan die einde van die storie vra die godsdienstige leiers vir Rome se hulp.  Ons lees: “En hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom  en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. En hulle het vir hom gesê: ‘Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: ‘En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.“

Hy kom nie van een van die hoë en magtige plekke nie.  Maar Betlehem van alle plekke, nie groter as ‘n duisend inwoners nie.  Nie Rome nie.  Nie Jerusalem nie.  Maar Betlehem.  Daardie klein ou dorpie.  Maar dit is die dorp van koning Dawid.  Wat Matteus hier doen, is onmiskenbaar.  In daardie klein dorpie is die Koning, die Messias – wie se geskiedenis teruggaan tot voor die tyd en wie se koninkryk vir ewig bevestig sou word – gebore.  Maar jy, Betlehem, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie!  Waarom?  Want uit jou sal ‘n leidsman voorkom – ‘n leidsman wat nie in tirannie en vrees heers nie.  Maar ‘n herder Koning. Hy sou die ware herder van Israel wees, net soos Dawid.  Oor en oor sien ons al hierdie sterk verwysings terug na koning Dawid.  Dit was die plek waar Samuel hierdie jong man gevind het, besig om sy skape op te pas en hulle teen die leeus te beskerm.  Dit is asof Matteus alles probeer om die Jode en ons almal te laat sien dat hierdie man wat in Betlehem gebore is, die groot seun van Dawid was, die ware herder van sy volk. 

Hier is die mense wat veronderstel was om die herders van Israel te wees, wat die geboorteplek van die ware herder verkondig.  Hulle het al die antwoorde, hulle ken hul Bybels.  Hulle ken hul Bybels beter as wat hulle hul Bybels leef.  Soos Paulus sê:  “wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.”  Baie maal is die evangelie van Jesus Christus reg voor ons oë, en tog handel ons nie daarvolgens nie.  Ons wend geen poging aan om in beweging te kom nie.  Ons is te gemaklik in hierdie lewe van ons.  Ons is te besig om ons oor ons eie klein lewetjie te bekommer, ons oë neergeslaan, na die aarde toe, eerder as opwaarts na die hemel terwyl ons God vra om ons na Hom te lei.  O, het hierdie aankondiging God se mense maar in beweging gebring!  Maar nee, dit het nie gebeur nie.

Dit is verbasend waarom die mense met al die kennis nie ten minste vir hulself gaan kyk het of hierdie gebeurtenis waar is nie.  Die Bybel was reg toe dit gesê het dat sy eie mense Hom nie sou herken nie.  Die koms van die Koning.  Geen invloed op my nie.  Die koms van die Koning, geen probleem vir my nie.  Die koms van die Koning?  Ag, ek het ander werk om te doen.  Daar is dalk baie sulke mense in die kerk. As jy ‘n Bybelvasvra sou hou, sou hulle heel goed vaar.  Maar as jy hulle sou vertel dat God in die vlees 5 kilometer hiervandaan is – laat staan 1000 km – sal hy Hom saam met my gaan ontmoet?  Hoe baie sal nie net hulle koppe skud nie? Nee, ek het ‘n vergadering, ‘n ooreenkoms om te maak, ‘n wedstryd om te kyk, ‘n middagslapie om te vat.  Op die ou end is die goeie nuus net goed totdat jy iets daaromtrent doen, en eers dan word dit goeie nuus vir jou. 

Ons lewe in ‘n onverskillige wêreld!  Mag dit nie die geval in die kerk wees nie.

Herodes is vyandig.  Die volk van God onverskillig.  Wat van die wyses?

Laat ons van hulle ‘n les leer.  Ons het die Skrif, ‘n ryk geskiedenis, die prag van die belydenisse, maar wat doen ons daarmee?  Dit is so maklik om apaties te word – gemaklik – onverskillig.  Glo my, ek weet.  Maar ons mag pleit vir die Gees van Christus om ons oë oop te maak, om ons spirituele passie om Christus te leer ken, te vernuwe.  Nie net om van Hom te weet nie.  Maar dat ons elke week wanneer ons die Woord hoor, telkens na die Here Jesus Christus sal hardloop, Hom aanbid en aan Hom geskenke bring.  Om van hierdie nuwe gelowiges te leer, op wie ons so maklik neerkyk, en na hulle op te kyk en te sien hoe passievol hulle begeer om vir Jesus te leef en Hom te sien.

Nadat Herodes die vraag gevra het wanneer die ster verskyn het, stuur hy hulle op weg en sê:  “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.” 

En so het die wyse manne op hul weg na Betlehem gegaan, in gehoorsaamheid aan die Skrif.  Dit is interessant dat selfs hier die ster hulle net sover kon neem, hulle het die Heilige Skrif nodig gehad.  Die Bybel lei hulle daarheen en die ster bring hulle na die huis.  Soos ons in die teks gelees het:  “En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek.  En kyk die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was.”  Daar, bo-oor die plek van die Koning, het die môrester opgegaan.  En daar staan dat hulle met baie groot blydskap verheug was.  Dit is die reaksie wat ‘n mens van die Jode, die volk van God, sou verwag het.

VREUGDE.  Nie net vreugde nie, maar groot vreugde!  Vreugde het oorgeloop, hulle kon hulself nie beheers toe hulle buite daardie huis gestaan het nie.  Dit is die oortreffende trap om te sê dat hulle groot blydskap gehad het. 1 – hulle was met blydskap verheug. 2 – hulle was met groot blydskap verheug. 3 – hulle was met baie groot blydskap verheug!  Hierdie mense was verheug soos nog nooit tevore nie.  Hulle het nog nooit die Koning van die volke ontmoet nie.  Dit is waarvoor hulle al die pad gekom het.  Dit was die oomblik, hulle sou die Koning ontmoet!  Die Koning van die Jode!  Hulle het gevind wat hulle gesoek het.  Soek My en julle sal My vind!  Daar het hulle voor daardie plek gestaan in groot afwagting!

Ons lees in vers 11:  “En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys.”  Die Kind word voor Maria genoem.  Hoekom?  Want hierdie verhaal gaan oor die Baba.  En aanbidding is die enigste toepaslike reaksie.  Hulle aanbid nie vir Maria nie, hulle aanbid die baba seun. 

Hulle aanbid.  JC Ryle sê:  “Ons lees in die hele Bybel van geen groter geloof as hierdie nie.”  Dit is nie net wat hulle gedoen het nie, maar wie wat gedoen het! Wie aanbid hier?  Herodes?  Die Joodse leiers nie?  Nee!  Die Joodse volk?  Nee!  Maar die heidene!  Dit is goeie nuus van groot vreugde vir AL die mense!  Hy is God met ons.  Die Verlosser.  Die einde van die reis vir iemand wat Jesus soek, is aanbidding.  Hulle staan nie, of jubel nie, of waai nie.  Hulle val op plat op hul gesigte.  Hierdie Baba is die rede waarom die ster in die eerste plek daar was, hierdie Baba wat gemaak het dat die wyse manne van ‘n ver land gekom het, al die opskudding in Jerusalem veroorsaak het, ook Herodes se onsekerheid.  Hierdie Baba draai die wêreld onderste-bo en Hy is nog nie eers ‘n jaar oud nie. 

Matteus het sy volk opgewek deur vir sy eie mense die profesieë te vertel!  Dit was heidene, selfs konings van die eindes van die aarde, wat hierdie Koning sou besoek en neerval en aanbid.

En eers dan maak hierdie heidene hul geskenke oop.  Dit laat my dink aan Psalm 72:  “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde. Die bewoners van dor plekke sal voor hom kniel, en sy vyande sal die stof lek.  Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied, die konings van Skeba en Seba belasting aanbring.  Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien.  Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.“

Wie is Hy vandag vir jou?  Hoe ver sal jy gaan?  Wat sal jy opgee?  Is jy vyandig, onverskillig of vervul met vreugde en hier om te aanbid?  Herodes.  Gekonfronteer met die evangelie en hy haat dit.  Niks anders as weersin in ‘n gekruisigde Verlosser nie.  Ander, soos die godsdienstige leiers, is onverskillig – meer bekommerd oor hulself as oor die waarheid van hul profesie wat hulle van voor tot agter geken het.  Hulle is net te gemaklik en gee nie om nie.  En die wyses wat ‘n groot afstand gereis het.  Om te aanbid.  Neer te buig.  Wie is jy vandag?

Laat ons onsself bekeer van ons onverskilligheid en ons lewe agter ons laat om hierdie Koning te soek.  Die enigste gebore Koning van die Jode!  Mag ons vervul word met vreugde en neerbuig in aanbidding voor ons Koning en aan Hom ons geskenke bring, ons lewens, ons alles.

Amen.