Het jy dit al ervaar dat jy in ‘n groep gesit het, terwyl die mense praat oor jou en oor iets wat jy beleef het.
Almal is so entoesiasties om dit met mekaar te deel dat hulle mekaar omtrent in die rede val.
Die een weet nog beter wat met jou gebeur het as die ander.
Elkeen wil dit eerste vertel, en dit terwyl jyself daarby sit!
Uiteindelik na baie moeite kry jy almal soort van stil en vra:
Wil julle nog van my hoor wat gebeur het?
Stel julle nog belang om na my te luister, ek die een wat dit beleef het waaroor julle nou praat?
Soms hoor mense so graag hulleself dat hulle eintlik nie eens meer belangstel in wat werklik gebeur het nie.
Om iemand anders aan die woord te laat, en om regtig te luister, is nie altyd so maklik nie.
Ons is dikwels so gretig om ons eie opinie te gee, ons eie storie te vertel.
En soos wat ons dit doen, pas ons – of ons dit nou besef of nie – die storie aan sodat dit in ons verwysingsraamwerk pas.
En ons lig dit uit wat vir ons interessant en belangrik is, en ander details noem ons nie of vergeet ons selfs.
Dit is nou maar hoe ons as mense is.
Die ou mense het gesê: spreek is silwer, swyg is goud.
Dit is baie waar.
Om stil te bly en te luister is nie om passief te wees nie.
Goed luister en ‘n ander aan die woord te laat en nie in die rede te val nie, is iets wat inspanning vereis, veral selfbeheersing.
As ons vanaand aandag gaan skenk aan die tweede gebod, is dit baie aktueel.
Want as mense is ons net so gou geneig om God in die rede te val, of om Hom nie eers aan die Woord te laat nie, of om net selektief te luister na wat Hy sê.
Tema: Die tweede gebod roep ons op om God aan die Woord te laat
Vroeër het mense beelde gehad waarvoor hulle gebid en gekniel het.
Byvoorbeeld die standbeeld van ‘n kalf of ‘n bees of ‘n voël.
Hulle het gedink dat so ‘n beeld hulle kon help.
Ons weet gelukkig dat dit glad nie moontlik is nie.
Dus staan daar in die kerk geen beelde waarvoor ons kniel of bid nie, selfs ook nie beelde van mense nie.
As ons bid, bid ons tot God in die hemel, wat ons nie sien nie, maar ons weet wel dat Hy so almagtig is dat Hy ons wel sien en na ons luister.
Op sig is dit nie verkeerd om ‘n beeld te hê, byvoorbeeld in jou huis of in jou tuin nie, as versiering, maar nie om so ‘n beeld te dien nie.
Die tweede gebod handel egter nie slegs oor beelde nie, maar ook oor denkbeelde.
Wat is ‘n denkbeeld?
Dit is bepaalde gedagtes wat in jou kop bestaan oor iemand.
So kan mens ‘n verkeerde denkbeeld oor God in jou kop hê.
Byvoorbeeld dat jy dink dat God jou tog nie sal sien as jy sondig nie.
Dit is verkeerd, want God kan alles sien.
Hoe kry mens dan die regte denkbeeld oor God?
Dit gebeur as mens gereeld die Bybel oopmaak.
In sy Woord vertel God presies wie Hy is en hoe Hy is.
Ons het vanaand uit die Bybel ‘n gelykenis van die Here Jesus gelees.
Hierdie gelykenis het Hy met name aan sy dissipels vertel.
Net daarvoor was daar ‘n ryk jongman wat aan Jesus gevra het wat hy moes doen om te ewige lewe te beërwe.
Jesus het hom geantwoord dat dit nie voldoende is om jouself formeel aan al die gebooie te hou nie – dit natuurlik ook – maar dat mens jou hart aan God moet gee.
Daartoe het Jesus hom opgeroep met die woorde:
“gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, ... en kom hier, volg My.” (Matt 19:21)
So sal jy ‘n skat in die hemel ontvang.
Ons het gelees hoe die man teleurgesteld weggeloop het.
Dit kon hy nie doen nie.
Hy het baie goedere besit.
In reaksie hierop sê Jesus:
Dit is geweldig moeilik vir ‘n ryke om die koninkryk van die hemel binne te gaan.
In reaksie hierop was die dissipels effens teleurgesteld.
Wie kan dan gered word?
Hierop het Jesus toe geantwoord dat alle dinge by God moontlik is.
Hierdie antwoord het die dissipels weer bietjie moed gegee.
Petrus het vervolgens die woord geneem, skynbaar opgelug en ook ‘n bietjie trots:
Here, ons het wel alles prysgegee en ons het u wel gevolg!
Kan u ons miskien solank net ietsie vertel oor hoe groot ons beloning, ons skat, in die hemel sal wees?
Op hierdie vraag het Jesus toe uitgebreid antwoord gegee.
Hy begin met die versekering dat elkeen wat Hom gevolg het, later saam met Hom op die troon sal sit en regeer.
Onthou dat in die ou nabye ooste ‘n troon nie ‘n enkele stoel was nie, maar ‘n soort verhoog waarop meerdere mense kon plaasneem.
Elkeen mag by Hom plaasneem, elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of akkers prysgegee het ter wille van sy Naam.
Hulle sal selfs van Hom vele male meer as hierdie dinge terug ontvang, ja selfs die ewige lewe.
Maar met hierdie antwoord is die Here Jesus egter nog nie klaar nie.
In vers 30 sê Hy: “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”
Hierdie raaiselagtige spreuk verduidelik Jesus vervolgens in ‘n gelykenis.
Dit gaan oor n huisheer wat werkers nodig gehad het en na die mark gegaan het.
Daar het hy onderhandel en ‘n dagloon vasgestel.
Wat egter opval is hoeveel keer die huisheer na die mark gegaan het, dit lyk nie baie produktief nie.
Ook het dit nie ekonomies sin gemaak, veral nie om die werkers wat eers laat in die middag begin werk het, ook ‘n dagloon te betaal nie.
Tog is dit presies die boodskap wat Jesus wil oordra in verband met hierdie huisheer.
Skynbaar was hierdie man se eerste prioriteit nie sy plaas, sy besigheid, sy oes, sy eie wins nie.
Skynbaar was hierdie man meer bekommerd oor of elke arbeider aan die einde van die dag huis toe kon gaan met ‘n volledige dagloon; dat elke arbeider daardie aand die hongerige mae van sy kinders kon voed.
Inderdaad, die huisheer was amper meer op die mark as in sy wingerd: 6 uur, 9 uur, 12 uur, 3 uur en ook nog 5 uur in die middag.
Ook kry ons nie die indruk dat hy net vinnig mark toe gegaan het, om daarna weer terug te gaan plaas toe nie.
Die huisheer het uitgebreid almal opgesoek en aangespreek wat op die markplein was.
Hy het ook nie net geskikte en gewillige arbeiders saamgevat nie.
Selfs hulle wat net daar rondgehang het en glad nie lus was vir werk nie, het hy saamgevat.
Daardies wat hy eers om 5 uur saamgevat het, het nouliks gewerk.
Hulle moes eers plaas toe loop, miskien het hulle nie eers ‘n halfuur gewerk nie.
Wat is Jesus se bedoeling met hierdie gelykenis?
Onthou die konteks, gemeente: Dit gaan nog steeds oor die onderwerp waaroor Hy met die dissipels in gesprek was: Wie beërf die koninkryk van die hemel?
Op hierdie punt het Jesus se prediking ‘n baie belangrike boodskap.
Dit kom na vore veral aan die einde van die gelykenis.
Heel demonstratief begin die huisheer om die dagloon uit te betaal, eers aan hulle wat die laaste begin werk het.
Net ‘n halfuur gewerk, nog geen sweepdruppels op hulle voorkoppe nie.
Hulle het eintlik die hele dag in die skaduwee op die plein sit en niksdoen.
Eintlik verstaanbaar dat die ander arbeiders nogal verontwaardig was, toe blyk hulle kry dieselfde bedrag.
Onregverdig dat die slampampers net soos hulle behandel word.
Dit is mos nie eerlik nie?
Nou die vraag waaroor die gaan: Is hierdie huisheer ‘n goeie man of nie?
Doen hy die arbeiders onreg aan?
Nee, hy betaal wat hy beloof het.
Eintlik is hy te goed vir hierdie wêreld.
Is jou oog verkeerd, boos, omdat ek goed is?
En dan herhaal Jesus weer die raaiselagtige spreuk: “So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste” (vers 16).
Nou wat bedoel Jesus dus?
Sê nou maar, gemeente, die ryk jong man, wat nounet teleurgesteld weggeloop het, sê nou maar hy sou tog, miskien slegs ‘n dag voor sy sterwe, wel tot geloof kom ...
Jesus sê tog: Wat by mense onmoontlik is, is by God wel moontlik!
Dan beteken dit dat die man dus langs die dissipels ook ‘n plek in die koninkryk van die hemel sal ontvang!
Arbeiders van die eerste uur langs arbeiders van die laaste uur.
In teenstelling tot die dissipels – dis nou die arbeiders van die eerste uur – wat hulle lewe lank hulle kruis agter Christus aan moes dra – het die ryk jongman wat dit betref ‘n baie makliker lewe gehad.
Hy is nie soos die dissipels bespot, vervolg of selfs gemartel nie.
Tog ontvang hy ook dieselfde beloning.
Is dit wel reg?
Maar dan vra God: Is jou oog boos, omdat Ek goed is?
Teen die moordenaar aan die kruis sê Jesus: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.
God bepaal dit, en God is goed.
Dit is dus Jesus se boodskap met hierdie gelykenis.
En dit bring ons weer by die tweede gebod.
God wil nie dat ons ‘n verkeerde beeld en ook nie denkbeeld van Hom maak nie.
Hy wil aanbid word soos Hy is.
Soos Hy Homself in sy Woord bekend maak.
Ons kan nie met Hom redeneer – waarom sus, en waarom so – nie.
Waarom laat U dit toe – dit is mos nie eerlik nie?
Dit is mos nie eerlik dat ongelowiges so baie voorspoed geniet nie?
En so kan nog baie vrae en klagtes opgenoem word.
Wat God van jou vra, is: Glo in My soos Ek is.
Wil jy wel dat Ek goed is?
Aanvaar jy dat Ek goed is, ook na ander mense toe, mense vir wie jy dit dalk nie sou gun nie?
Of is jou oog kwaad, omdat Ek goed is?
Hierin skuil ‘n essensiële boodskap vir die arbeiders van die eerste uur.
En dan dink ons eerstens aan die dissipels wat Jesus al vanaf die begin gevolg het.
En ons dink aan elke kerklid, wat al vanaf sy geboorte die Here dien.
Watter denkbeeld het jy van God?
Is jy bereid om jou denkbeeld te korrigeer ooreenkomstig dit wat God in sy Woord sê?
Die voorbeeld wat Jesus noem is nie vergesog nie.
Jy, wat vanaf jou jeug al elke Sondag twee keer kerk toe kom, jy wat altyd jou Kategismus geleer het, jy wat altyd keurig doen wat behoort gedoen te word, is jou hart ook by die Here?
Of kla jy omdat vir jou gevoel God soms te goed is vir ander?
Ons kan in hierdie verband ook dink aan die gelykenis van die verlore seun.
Eintlik was die verlore seun die oudste seun wat altyd tuis gebly het.
Hy wat altyd keurig die regte ding gedoen het.
Was hy ook met sy hart daarby betrokke?
Watter denkbeeld het hy van sy pa in sy kop gehad?
‘n Indringende boodskap.
Nie dat die huisheer die troue arbeiders wil verkleineer nie.
Hy spreek hulle aan met vriend.
Hy is op soek na hulle hart.
Volgende week mag ons weer nagmaal vier.
Om aan tafel te gaan, hoef jy nie eers jou ‘diensstaat’ te wys, hoeveel ure jy al vir die Here gewerk het nie.
Al wat die Here wil sien, is jou hart.
Aan sy tafel nooi Hy uit ervare arbeiders en onervare arbeiders, maak nie saak nie.
Al wat saak maak is dat hulle in sy goedheid moet glo en alles daarvan verwag!
Nou moet hierdie gelykenis ons nie laat oorreageer na die ander uiterste toe nie.
Asof ‘n Christelike lewensstyl glad nie belangrik is nie.
Asof die diens aan die Here, soos die blyk uit troue kerkbesoek, persoonlike gebed, Bybelstudie, finansiële offers, asof dit nie belangrik is nie.
Juis wel.
As jou hart daarby is, bly jou lewe nie dieselfde nie.
Dan wil jy Christus volg, in alle opsigte.
Dan wil jy sy gebooie nakom.
En ‘n redenasie dat jou hart wel by die Here is, maar dat jy verder jou eie koers in die lewe vaar, dit kan nie.
Dan span jy die Here voor jou karretjie, as jy dink God vind alles goed wat jy doen.
Dit is ook ‘n verkeerde denkbeeld van God.
Asof God in sy Woord geen gebooie vir ons lewe gegee het nie.
As jy sy gebooie ignoreer, of jou eie interpretasie daaraan gee, ook dan is jy nie ‘n navolger van Christus nie.
Ook dan volg jy jou eie denkbeelde.
God is goed.
Sy Seun se offer is daar vir sondaars.
Vir die moordenaar aan die kruis.
Vir die persoon wat op sy sterfbed, deur die nood gedrewe, die eerste keer tot Hom bid.
Hy wat sy hele lewe ‘n goddelose lewe gelei het.
God is goed.
En sy goedheid is daar ook vir laatkomers.
Maar dit beteken nie dat sy Woord en sy gebooie ineens irrelevant word nie.
Want ook sy Woord, ook sy gebooie is goed.
Sy wil is net so goed soos Hy self is.
Daarom wil God aan die Woord wees in jou lewe.
Hy wil dat jy Hom leer ken uit sy eie Woord.
Nie deur ander boeke, of deur beelde, of deur wat ander mense oor Hom skryf nie.
Toets jou denkbeeld daarom reëlmatig aan die beeld wat God oor Homself openbaar.
Ken jy Hom werklik?
Of leef jy met ‘n karikatuur van Hom?
Dit is nie moeilik om kritiek te hê op ‘n karikatuur nie.
Maar as die Bybel oopgaan, dan spreek God self.
Laat ons ‘n luisterhouding aanneem.
Spreek Here, u dienskneg luister.
Hier is ek, om u wil te doen, soos in u Boek,
Die wonderskrif wat nooit vergaan ... dit wil ek, HEER, van ganser harte soek.
Ek bied U hart en hande in will’ge offerande – al wat ek is en het;
Diep in my ingewand waar liefd’en ywer brand, dra ek u heil’ge wet.
Is hierdie pragtige woorde uit Pslam 40 nie die diepste bedoeling van die 2e gebod nie?
Ons hoor hier iemand wat met sy hele hart die HERE soek, en Hom vind in sy Woord, die wonderskrif.
Iemand wat so onder die indruk is van sy goedheid, dat hy met liefde en ywer sy wil wil doen.
Laat ons hierdie psalm nou ook van harte sing as ons amenlied.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Mattheüs 19:16-20:16
Preek nav Heidelbergse Kategismus Sondag 35
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Wat bedoel Jesus met die uitspraak: “baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” (Matt 19:30)?
- Hoe laat jy God aan die Woord in jou lewe?
- Watter verband het Jesus se gelykenis in Matt 20:1-16 met die tweede gebod?
- Wat is die heersende denkbeeld in ons samelewing oor God?
- Is daar iets in jou denkbeeld oor God wat reggestel behoort te word?
- Wat leer die nagmaal ons oor wie God werklik is?
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 73:1
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 19:16-20:16
Ps 86:6-8
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 35
Preek
Ps 40:4,5,6,8
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 73:11,12
Seën