Die HERE se werk in sy kinders se lewens

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-08-14
Teks: 
Job 1:1-5
Preek Inhoud: 

Preek: Job 1:1-5

 

Elke ouer se grootste nagmerrie is as sy kind iets moet oorkom.

Sodra ‘n ouer ‘n kind ontvang, bekruip daardie gevoel jou.

Al beskerm jy jou kind hoe goed ook, jy kan nie die kind se veiligheid waarborg nie.

Daar is siektes wat skielik kan toeslaan, waaroor jy as ouer geen beheer het nie.

En al bestuur jy hoe versigtig, daar is ander padgebruikers wat ‘n ongeluk kan veroorsaak, wat vir jou kind lewensbedreigend kan wees.

En as jou kind ouer word, neem die gevare net toe.

Jou kind begin self aan die verkeer deel te neem.

Jou kind kom al hoe meer met ander mense in aanraking.

En al stuur jy jou kind na die beste skool, ook daar kan jou kind geboelie word.

Ook daar kan jou kind onder die invloed van slegte vriende kom.

Al is jy die spreekwoordelike helikopter-ma, jou kind se lewe kan jy nie waarborg nie.

En as jou kind grootgeword het, wil jou kind ook bewus onder jou beskerming uitkom.

Jy kan ‘n ‘tracker’ op jou kind se foon installeer, maar jou kind gaan dit self afsit.

Kortom, hoe ouer jou kind word, hoe meer sal jy as ouer moet terugstaan.

Nie dat die onderrigting van jou kind ophou nie, maar die aard verander wel.

As ‘n kind onder die HERE se seën opgegroei het en Hom leer liefkry het, en as jou kind belydenis van geloof afgelê het, dan betree jy as ouer ook ‘n nuwe fase.

Dis nie dat jou taak as ouer verby is nie, maar dit het wel anders geword.

 

Tema: Die HERE se werk in sy kinders se lewens

 

In die geskiedenis wat ons vanoggend uit die Bybel gelees het, vind ons ‘n pragtige voorbeeld daarvan.

Job het tien kinders van die HERE ontvang, 7 seuns en 3 dogters.

Die boek Job begin met die opmerking dat hy ‘n vrome, opregte en Godvresende man was, wat afgewyk het van die kwaad.

Ons kan aflei dat hierdie ook sy opvoeding gekenmerk het.

Sy 10 kinders mog opgroei in ‘n Godvresende huis.

Hulle het die seëninge van die verbond geniet.

En Job het ook die verbondseis nagekom, deur sy gesin voor te gaan in die weë van die HERE.

En met verloop van tyd toe Job se kinders grootgeword het, vroue en mans gekry het, het hulle uit die huis uitgetrek, en Job se direkte invloed op hulle lewe het sodoende minder geraak.

Tog, soos dit by ‘n Godvresende ouer werk, was sy kinders nie uit sy gedagtes nie.

Hulle was veral nie uit sy gebede nie.

Pragtig wat ons in vers 5 lees: Job het steeds sy kinders voorgegaan in die diens aan die HERE.

Mens kry die gevoel dat Job en sy kinders met hulle gesinne saam op ‘n plaas, elkeen in eie huis, gewoon het.

Die kinders kon goed met mekaar oor die weg kom.

Omstebeurt was hulle gewoond om by mekaar te kuier.

Daar was vaste afgesproke dae waarop elke gesin vir die maaltyd gesorg het.

Dit was vrolike byeenkomste, daar is geëet en wyn gedrink.

‘n Idilliese prentjie word hier geskets.

Daar was nie onmin nie, daar was ook nie gebrek nie.

Job was een van die rykste mense van sy tyd, vers 3: die man was ryker as al die kinders van die Ooste.

 

Maar by Job was dit nie so dat sy rykdom hom by God weggetrek het nie, en die noodsaak van om op Hom te vertrou, laat verflou het nie.

Ook was dit in sy huisgesin ook nie so dat die rykdom, soos so dikwels die geval is, onmin tussen familielede veroorsaak het nie.

En dit alles, so word dit hier beskryf, danksy die feit dat Job ‘n vroom en opregte, Godvresende man was.

‘n Lewe in diens van die HERE maak gelukkig op aarde.

Dit bring voorspoed, geestelik en materieel.

 

En, soos ek genoem het, steeds het Job sy gesin voorgegaan in die diens aan die HERE.

Na afloop van elke feesmaal het hy die inisiatief geneem om die volgende oggend vroeg brandoffers te bring.

Hy het ‘n brandoffer gebring vir elkeen van sy kinders afsonderlik.

Hy het baie beeste en kleinvee gehad, maar sonder om suinig te wees, het hy daarvan aan die HERE geoffer.

 

Nou hoekom het Job hierdie offers gebring?

Om te offer in die Ou Testament het hand aan hand gegaan met gebed.

Soos die offerreuk opgestyg het, so het die gebede van die HERE se kinders na Hom opgestyg.

So het Job altyd weer vir sy kinders gebid.

Hoewel dit baie goed met sy kinders gegaan het, hoewel hulle en hulle gesinne ook Godvresend was, tog het daar altyd ‘n bietjie onsekerheid in sy ouerhart agtergebly.

Sê nou maar sy kinders het gesondig en God in hulle hart geseën ... – vers 5.

Hierdie vertaling klink verwarrend.

Hoe kan jy sondig en dan tegelyk God seën?

Die 2020-vertaling vertaal hier presies die omgekeerde: God in hulle hart gevloek.

Ons het hier te make met wat genoem word ‘n eufemisme.

Iets word bewus sagter, minder konfronterend, gesê as wat dit is.

In 1 Konings 21:10 & 13 vind ons ook ‘n voorbeeld daarvan, waar die ou vertaling dieselfde woord wel met vervloek vertaal.

Die woord geseën word hier gebruik, maar die omgekeerde word dus bedoel.

Mens sou dalk ook die woord verwens kon gebruik.

Job was dus bang dat sy kinders deur al die voorspoed en al die feesmale en wyn wat hulle geniet het, sou sondig.

Tipies ‘n bietjie angsvallige vroomheid van ‘n besorgde ouer.

 

Vandag kan ouers nog steeds hiermee assosieer.

Hoe dikwels is jy nie in jou hart onrustig nie oor die vraag of dit goedgaan met jou kinders, en dan veral die geestelike welstand van jou kinders.

As dit materieel voorspoedig met jou kinders gaan, is jy uiteraard dankbaar, maar dit neem nie die besorgdheid oor hulle sieleheil weg nie.

En soos ‘n goeie ouer het Job vir sy kinders gebid, dat God hulle tog sou vashou.

As jou kinders grootgeword het, moet hulle self die keuses in hulle lewe maak.

Jy kan hulle nie meer optel en saamvat kerk toe nie.

Tog het Job alles in sy vermoë gedoen.

Ter geleentheid van die offers het hy sy kinders laat haal.

En onderdeel daarvan om aan die HERE te offer, was om jouself te heilig.

Dit is eerstens ‘n kultiese term hier: Hulle moes hulleself was, skoon klere aantrek.

Dit alles om gereed te maak om die HERE te ontmoet.

Natuurlik moes hierdie kultiese rituele ook te make hê met die etiese toestand van jou hart.

Nie net van buite gereinig nie, maar ook van binne.

So het Job steeds alles daaraan gedoen om sy kinders te bewaar by die diens aan die HERE.

 

Hierin kan Job vir ons ‘n voorbeeld wees.

En dan bedoel ek nie dat Job volmaak was nie.

Uiteindelik gaan hierdie Bybelboek nie oor Job nie.

Uiteindelik is wat die Heilige Gees ons in hierdie Bybelboek wil leer, dat God groot dinge in mense se lewens kan regkry.

Laat ons ook so, al het ons nie meer die laaste woord in ons volwasse kinders se lewe nie, tog met ons voorbeeld hulle voorgaan in die diens aan die HERE.

Job het telkens die inisiatief geneem om aan die HERE te offer.

En hy het sy kinders aktief daarby betrek.

Net so roep Godvresende ouers vandag hulle kinders aktief op om ‘n biddende lewe te lei.

Om Sondag as ‘n feesdag te vier.

Om jouself te heilig, oftewel te reinig, reg te maak vir kerk, mooi en skoon geklee na die huis van die HERE te gaan om daar in sy teenwoordigheid te mag wees.

As kinders en kleinkinders sien hoe hulle ouers, hoe oupa en ouma dit elke Sondag doen, dat laat dit ‘n indruk agter.

En dan nie dat hulle kerk toe gaan om ander te beïndruk, of net uit tradisie nie, maar omdat hulle werklik verlang na die vergewing van hulle sondes.

Die HERE beloof dat Hy die gehoorsaamheid van ouers sal seën tot in die duisendste geslag – dink aan die tweede gebod.

‘n Mooi voorbeeld hiervan vind ons in ons teks.

 

Nou hang dit wat kort hierna sou gebeur, natuurlik soos ‘n donker skaduwee oor hierdie eerste verse van die boek Job.

Op een dag word al Job se kinders met hulle gesinne, en al Job se besittings uitgewis.

Was dit dan alles die moeite werd, is die eerste gedagte wat by jou opkom.

Wat was die nut van al daardie baie kere wat Job vir sy kinders geoffer het?

So gebeur dit ook vandag nog, en mag dit ons soveel moontlik bespaar bly, dat ‘n kind uit hierdie lewe weggeruk word.

En by Job was dit van so ‘n omvang soos mens selde op aarde vind.

Hoekom, hoekom, hoekom?

Wel, weer eens gemeente, die boek Job is tog ‘n boek van troos.

Soos ons in die Kategismus bely, dat niks per toeval met ons in hierdie lewe gebeur nie, ook nie die teëspoede nie.

Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit die almal red die HERE hom, sing Dawid in Psalm 34 (Ps 34:20).

In die boek Job word duidelik openbaar dat al hierdie rampe Satan se skuld was.

Dit eerstens.

Maar tweedens was dit nie buite God se beheer nie.

En soos ek genoem het, met hierdie geskiedenis het God geïllustreer wat Hy op aarde in sondige mense se lewens, te midde van baie gebroke omstandighede, kan regkry.

Satan het vir God uitgedaag, dat Job slegs so Godvresend en gehoorsaam is, omdat hy van alle kante deur God met seëninge oorlaai word.

Satan het God uitgedaag: Neem net sy voorspoed weg, en dan sien ons weer.

Wel, dit het toe gebeur, God het daardie ruimte vir Satan gegee.

En eie aan sy karakter het Satan toe dood en verderf op aarde gesaai.

In een dag se tyd het hy vir Job berooid en totaal gebroke gelaat.

En in die tyd daarna het hy ook nog vir Job dodelik siek gemaak, en ook nog dit reggekry dat Job sy eie vrou haar rug op hom gedraai het.

As daar enigsins omstandighede op aarde is wat ‘n mens sal laat wonder of God wel bestaan, en of dit wel sin het om God te dien, en of dit wel sin het om baie moeite te doen om jou kinders Godvresend op te voed, dan is dit omstandighede soos hierdie.

Omstandighede soos hierdie pleit eerder vir die waarheid van die leuse: Laat ons eet en drink, want môre sterwe ons.

Tog het God Job se lewe en sy tragiese omstandighede gebruik om aan Satan en aan die hele wêreld – beginnende by Job se vriende – te illustreer wat hy in ‘n mens se lewe op aarde kan regkry.

En dan nie net ‘n voorspoedige klop-disselboom lewe nie, maar ook ‘n lewe geteken deur die littetekens van groot verliese.

En ja, daar is weinig dinge wat ‘n groter litteken agterlaat as die verlies van ‘n kind.

Tog het, ter beskaming van die Satan, Job nog steeds bely:

“Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!” (Job 1:21)

Dit was God se groot werk in sy kind se lewe.

 

Ons lewe vandag duisende jare na Job.

Tog het die mees basiese dinge nog nie op aarde verander nie.

Ja, daar is voorspoed en geluk en rykdom.

Ja, daar is die kinderseën.

Maar ook vandag is daar nog teenslae, armoede, en ook die werklikheid dat kinders voor hulle ouers te sterwe kom.

En ja, ook vandag gaan Satan nog rond en soek wie Hy kan verslind.

Maar God sy dank het een ding op aarde wel drasties verander.

Job het al daaroor geprofeteer:

“Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.” – Job 19:25.

Mens kan ook vertaal, soos die 2020-vertaling: sal Hy op aarde opstaan.

Die Verlosser wat leef staan hier in kontras met ’n aarde geteken deur dood en verderf.

Oorspronklik vind ons hier vir Verlosser die woord Losser.

In die Ou Testament het die HERE die sogenaamde losser opgedra om ’n familielid uit die greep van armoede te verlos, om vir ’n familielid wie se man gesterf het, nageslag te verseker.

Job vertrou dat God ’n Losser sal voorsien wat hom uit die stof sal oprig, van die ashoop waarop hy tereg gekom het.

Job vertrou dat God ’n Losser sal voorsien wat sy naam op aarde in ere sal hou, al het al sy kinders nou gesterwe.

Sonder om Hom by name te ken, het Job hier oor die Here Jesus Christus geprofeteer.

God het Hom as Losser uit die hemel gestuur.

Hy het op die aarde gekom, ’n aarde geteken deur dood en verderf.

 

So al is alles op aarde nog soos in Job se tyd, het dit wel ten goede verander.

Ons lewe nou vanuit die sekerheid dat die Verlosser gekom het.

Dat Hy die dood oorwin het.

As dit nie so was nie, dan kon ons eerder maar ons tyd op aarde gebruik het om te eet en te drink, omdat ons môre sterwe.

Maar nee, Christus het opgestaan – 1 Korinthiërs 15:20 – en daarom het dit sin om te midde van alle gebrokenheid tot standvastig, onbeweeglik en altyd oorvloedig te bly in die werk van die Here, omdat ons weet dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is nie – 1 Korinthiërs 15:58.

Hierin mag ons Job navolg, wat al is al sy kinders van hom af weggeneem, tog nie gesondig het en aan God niks ongerymds toegeskrywe het nie – Job 1:22.

So kry God groot dinge ook in ons lewens reg!

En ons weet: My Verlosser leef.

Selfs mag die Satan nou nie meer – soos destyds by Job – in die hemel kom om God se kinders aan te kla nie.

Na Jesus se Middelaarswerk is hy uit die hemel verban.

Daarom: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees ... Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God?” (Rom 8:31-33)

Job was een van God se uitverkorenes.

In sy lewe het duidelik geword wat God in ’n sondige mens kan regkry.

Vandag werk God ook in jou en my lewens.

Ook vandag sien ons die HERE se werk in sy kinders se lewens.

As ons net die tyd neem en terugkyk, sal ons sien wat God al alles in ons lewens gedoen het.

Dit gee vir ons moed vir die toekoms.

Moenie moed opgee nie, hou jou oë gefokus om jou Losser.

Wie na Hom opkyk, ons Here Jesus Christus, en alles van Hom verwag, vind in Hom die sekerheid van sy uitverkiesing.

In die Bybelboek Jakobus word ons opgeroep om Job se lydsaamheid na te volg.

Dit was nie tevergeefs nie, God het ’n einddoel met Job gehad.

Al lyk dit aan die begin nie so nie, tog was die Here in Job se lewe vol medelye en ontferming – Jakobus 5:11.

God belowe nie dat ons lewensdae net voorspoed en jolyt gaan wees nie, net soos ook in Job se lewe nie die geval was nie.

’n Regverdige se teëspoede kan selfs meer wees as die van ’n goddelose.

Wees daarop voorbereid.

’n Enorme verdriet soos die verlies van ’n kind word gelowiges ook nie altyd bespaar nie.

As jou lewe net voorspoed is, onthou dat daarin ook ’n gevaar kan skuil.

Moenie daarin jou hoogste vreugde soek nie.

Bly gefokus op jou Verlosser.

Slegs deur Hom sal die hoogste vreugde kom, op ’n nuut herskape aarde. Dan sal daar nie meer sulke dinge gebeur soos wat met Job gebeur het nie.

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Job 1

Teks: Job 1:1-5

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoe het Job sy kinders voorgegaan in die diens aan die HERE?
  2. Wat beteken dit dat Job sy kinders geheilig het (vers 5)? Hoe kan ons dit vandag doen?
  3. Wat beteken die sin: “Miskien het my kinders gesondig en God in hulle hart geseën”?
  4. Watter verband is daar tussen die woord Losser en Verlosser in die Bybel?
  5. Wat is ‘n ouer se grootste vrees vir sy kind?
  6. Wat is die hooftema van die boek Job? Ervaar jy dit ook in jou lewe?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 34:1-3

Wet

Ps 34:4,5,6

Gebed

Skriflesing: Job 1

Ps 78:2

Teks: Job 1:1-5

Preek

Ps 34:7-9

Gebed

Kollekte

Ps 147:5,7

Seën