Die Here skenk die geloof deur die geslagte

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-08-21
Teks: 
2 Timotheus 1:3-5
Preek Inhoud: 

Preek: 2 Timotheüs 1:3-5

 

Met hierdie jaar se tema, onderrig en laat onderrig, fokus ons met name op die oordrag van die geloof aan die jeug in die kerk.

Natuurlik is daar ook sending en evangelisasie, waar mense buite die kerk ook bewus onderrig word in die Evangelie.

Christus bou en vermeerder sy kerk inderdaad deur sending en evangelisasie.

Maar, en dit is waar ons hierdie jaar veral op fokus, Christus bou en onderhou en vermeerder sy kerk juis ook deur die opvoeding van die verbondsjeug, hulle wat as baba gedoop word en opgroei in die kerk.

Sending, evangelisasie, en verbondsonderrig aan die kerkjeug is aldrie belangrik.

Of mense buite of binne die kerk is, almal word in sonde gebore.

Aldrie is genademiddele waardeur die heilige Gees die geloof laat posvat in mense se lewens en waardeur Hy Christus se kerk bou.

 

Tema: Die Here skenk die geloof deur die geslagte

 

Ons teks is ‘n pragtige voorbeeld van die oorlewering van die geloof in die verbondslyn.

Paulus verwys daarna in sy eie geval, vers 3:

“Ek dank God, wat ek van my voorouers af in ‘n rein gewete dien ...”

Paulus bedoel om te sê, soos die 2020-vertaling dit weergee:

“Ek is dankbaar teenoor God, wat ek, soos my voorouers, met ‘n skoon gewete dien.”

Die geloof het in Paulus se lewe ‘n duidelike oorsprong gehad.

Die Heilige Gees het naamlik Paulus se voorouers gebruik.

Hulle het hom voorgegaan in ‘n gelowige lewe.

Paulus mog dit van hulle oorneem.

Hulle het hom onderrig in die diens van die HERE.

Mooi dat Paulus hier die woord voorgeslagte gebruik.

Die woord verwys nie net na sy eie ouers nie, maar ook sy oupas en oumas, sy grootjies, ensovoort.

Want sy ouers het die geloof ontvang van hulle ouers, en die weer van hulle ouers.

Paulus was uit die stam van Benjamin (Fil 3:5), en deur sy ouers is hy as ‘n vrome en wetsgetroue Jood opgevoed.

 

So sien ons die seën van die HERE deur die geslagte heen.

Dat Hy sy belofte nakom dat Hy sy barmhartigheid sal bewys aan die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, tot in die duisende geslag – Exodus 20:6.

Hierdie belofte word in Psalm 105 herhaal: “Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte”.

Die geloofslyn in Paulus se voorgeslagte tot by hom is ‘n pragtige voorbeeld hiervan.

En al is die voorgeslagte reeds oorlede, het Paulus, wat op daardie stadium op aarde gelewe het, die geloof voorgesit.

Hy het God met ‘n rein gewete gedien.

 

‘n Wesenlike onderdeel van hierdie diens aan die HERE is die gebed.

Paulus bid onophoudelik, nag en dag.

Dit is sy geloofsgewoonte.

En spesifiek in die konteks van hierdie brief, gaan sy gebed oor Timotheüs, sy geestelike kind.

Soos ouers in byna al hulle gebede aan hulle kinders sal dink, so Paulus ook met sy geestelike kind, Timotheüs.

Paulus verlang om hom weer te sien.

Hy sit gevange in Rome en hy het heimwee na hom.

Hy dink terug aan die vorige keer wat hulle bymekaar was, waarskynlik die moment toe hulle afskeid geneem het.

Want Paulus skryf: as ek aan jou trane dink.

Timotheüs het waarskynlik trane in sy oë gehad met die vorige afskeid.

Paulus verlang na die blye dag as hulle weer sal kan ontmoet.

 

En dan, wat hom veral met blydskap vervul, is as hy dink aan Timotheüs se ongeveinsde geloof.

Mens kan ook vertaal: opregte geloof.

Dit was nie net ‘n leë tradisie nie, dit was nie met bymotiewe nie.

Sy geloof was opreg, ‘n jongman wat sy lewe aan die HERE toegewy het.

En ook in Timotheüs se geval het die geloof ‘n duidelike oorsprong gehad.

Ook in sy geval het die Heilige Gees sy voorouers gebruik om die geloof in Timotheüs se lewe te bring.

Paulus trek ‘n parallel tussen sy lewe en die van Timotheüs.

Hulle het beide die voorreg gehad om van kindsbeen af in die verbond op te groei.

In Timotheüs se geval verwys Paulus spesifiek na die vroulike voorgeslagte.

Hierdie opregte geloof, skryf Paulus, het eers gewoon in jou grootmoeder, jou ouma Loïs, en toe ook in jou ma Eunice.

Skynbaar het Paulus Timotheüs se ma en ouma geken.

En dan, skryf hy, ek is oortuig dat hierdie opregte geloof ook in jou is.

 

Nou hoekom sonder Paulus hier spesifiek die vroulike lyn uit?

Om ‘n antwoord hierop te vind, moet ons bietjie nader ingaan op wie Timotheüs presies was.

Ons lees op meer plekke in die Nuwe Testament oor hom, en daaruit kry ons ‘n prentjie van wie hy was en van waar hy afkomstig was.

Paulus het Timotheüs waarskynlik die eerste keer ontmoet op sy tweede sendingsreis.

Daarna het hy met Paulus beging saamwerk tot aan die einde van Paulus se lewe.

En al was hulle nie altyd bymekaar nie, tog het hulle ook per brief kontak gehou.

Ons praat hier oor ongeveer die periode 49 – 64 na Christus, 15 jare.

Timotheüs was afkomstig uit die stad Listre, of dalk Derbe (Hand 16:12; 20:4), geleë in Klein-Asië.

Timotheüs se ma, Eunice, was ‘n Jodin.

Dit spreek vanself dat sy ouma, Loïs, dan ook ‘n Jodin was.

Soos ons weet het daar baie Jode in Klein-Asië gewoon, die Jode van die Diaspora.

Hulle was Godvresende Jode.

Timotheüs se pa was egter ‘n Griek (Hand 16:1,3).

Verder weet ons niks van sy pa nie.

Toe Paulus op sy sendingsreis in Listre en Derbe aankom, was Timotheüs reeds ‘n Christen, net soos sy ma wat in die Here Jesus geglo het.

Moontlik dat hy en sy ma en ouma tot geloof gekom het tydens Paulus se eerste sendingsreis, want ook toe was Paulus, saam met Barnabas, in Listre en Derbe (Hand 14:6-21).

Die feit dat Paulus hom sy seun noem, en dit meer as een keer in die Nuwe Testament (bv. 1 Kor 4:17; 1 Tim 1:2), dui moontlik daarop dat deur Paulus se Evangelieprediking Timotheüs na die geloof in Christus gelei is.

Wel is Timotheüs al van jongaf opgevoed in die kennis van die heilige Skrifte.

Dit lees ons in hoofstuk 3:15.

Sy ma en ouma het van jongsaf hom onderrig in die Ou Testament.

En danksy Paulus se prediking het hulle oë daarvoor oopgegaan dat die Ou Testament in Christus vervul is.

Paulus noem dit as hy skryf: dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.

Die Ou Testament, ja heel die Skrif, is dus nog steeds onmisbaar ook vir die nuwe verbond (2 Tim 3:14-16).

Paulus roep hom op om te bly by dit wat hy van jongsaf geleer het.

Hier sien ons die kontinuïteit tussen ou en nuwe verbond.

 

Op sy tweede sendingsreis besluit Paulus toe om Timotheüs saam te vat.

Aanleiding hiervoor kon gewees het dat die broeders in Listre en Ikonium ‘n goeie getuienis oor hom gegee het.

Handelinge 16:2 “Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikonium.”

Ook was daar profesieë met betrekking tot Timotheüs uitgespreek - 1 Timotheüs 1:18.

Skynbaar is die gawes om ‘n dienaar van die Woord te word, al vroeg in hom raakgesien.

Paulus verwys daarna terug as hy Timotheüs aanspoor: “Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge.” – 1 Timotheüs 4:14.

 

Verder weet ons, omdat sy pa ‘n Griek was, dat hy nie besny was nie.

Paulus het hom toe besny.

Timotheüs was geregtig op die Joodse besnydenis, omdat sy ma ‘n Jodin was.

Paulus het dit gedoen, vir die geval dat die Jode aanstoot sou neem.

Hy het alles gedoen om nie ‘n struikelblok in die Jode se pad te lê nie, ‘n struikelblok wat die Jode moontlik as verskoning kon gebruik om nie na die Evangelie te luister nie.

 

Soos ek genoem het, het Timotheüs baie jare saam met Paulus gewerk.

Onder andere het hulle saam gearbei in Filippi, Thessalonika, Berea, Korinthe en Efese.

Veral in Efese was Timotheüs vir ‘n geruime tyd.

En toe Paulus in Rome was, was Timotheüs ook by hom.

Hoe dit verder met Timotheüs in sy lewe gegaan het, lees ons nie in die Nuwe Testament nie.

Net dat hy nog in die gevangenis was, maar ook weer losgelaat is.

Hebreërs 13:23: “Julle moet weet dat die broeder Timotheüs vrygelaat is, saam met wie ek julle sal sien as hy spoedig kom.”

Volgens die oorlewering in die kerkgeskiedenis het Timotheüs in later jare weer gearbei in Efese, en is hy daar oorlede tydens ‘n volksoproer.

 

Om saam te vat, gemeente, Timotheüs het nie ‘n maklike lewe gehad nie, maar wel ‘n pragtige lewe in diens van die Evangelie.

Of hy self getroud was en kinders gekry het, weet ons nie.

As dit so was, kan ons daarvan uitgaan dat hy die kosbare skat van die geloof ook weer aan hulle oorgdra het.

 

Gemeente, soos u weet, behandel ons hierdie jaar die tema onderrig en laat onderrig.

Ons teks het in hierdie verband ‘n ryk boodskap.

Die opmerklike werklikheid dat die geloof deur die geslagte heen oorgedra word.

Dit was waar in Paulus se geval

Dit is ook waar in Timotheüs se geval.

En wat so mooi is by laasgenoemde, is die rol wat juis die vroulike voorgeslag hierin gespeel het.

So dikwels onderbeklemtoon ons die amp van moeders in die opvoeding van hulle kinders.

Ons tyd fokus so dikwels net op dat die vrou skynbaar agtergestel is, omdat sy nie in die besondere ampte dien nie.

Maar haar amp in die opvoeding van haar kinders, dit word so dikwels oor die hoof gesien.

Hulle is, soos dit in Engels heet, the first line of defense, om die Satan weg te hou uit hulle kinders se lewe.

Die goeie lewe in diens van die HERE mag ‘n verbondskind van geboorte af by sy ma leer.

Daardie eerste jare is die mees deurslaggewende jare.

Nie verniet skryf Paulus dat Timotheüs al van kleins af die Skrifte geken het.

Sy ma Eunice het hier ‘n onmisbare rol gespeel.

Sy het op haar beurt gedoen wat haar ma, Loïs, ook gedoen het toe sy klein was.

Daarom die oproep aan alle ma’s en ouma’s vandag:

Maak tyd om jou kind op te voed.

Pa’s, spreek eksplisiet julle waardering uit vir al die ure wat julle vroue tuis besig is om jou kinders te vorm.

Dit is nie vanselfsprekend dat jou kinders in die geloof opgroei, dat hulle as hulle groot is, belydenis van geloof aflê, dat hulle ook op ‘n dag soos vandag saam nagmaal vier nie.

Daaraan ten grondslag lê vele ure, ja jare se liefdevolle toewyding, dat jou vrou daar was vir jou kinders.

En uiteindelik kom die eer aan God toe.

Want dit is nie ons as ouers se prestasie nie, want Hy het die geloof ook in ons gewerk, en ook weer in ons ouers, en oupas en oumas.

Dit is net genade as geslagte lank mense in die verbond mag lewe.

 

En dit is nog iets wat ons uit die teks kan leer.

Dis nie so dat dinge in die Nuwe Testament anders werk as in die Ou Testament nie.

Paulus noem in ons teks een voorbeeld uit die Ou, en een uit die Nuwe Testament.

As hy na sy eie voorouers verwys, dan gaan dit oor die Ou Testament.

Behalwe miskien vir sy pa, het hulle gelewe voor die Here Jesus se werk op aarde.

Paulus se voorgeslagte was nie Christene nie, maar wel gelowige Jode.

Hulle het in die ou verbond gelewe, en die geloof is van geslag tot geslag oorgedra.

Die tweede voorbeeld in ons teks kom egter uit die nuwe verbond.

Eunice en Loïs was ook Jode, maar hulle het Christene geword.

Maar duidelik het die oordrag van die geloof in die nuwe verbond nie verander nie.

Ook in die Nuwe Testamentiese tyd is geloofsopvoeding van geslag op geslag ‘n baie belangrike middel wat Christus gebruik om sy kerk te vergader en te onderhou.

Dus nie net sending en evangelisasie nie.

Net so wesenlik is die verbondsonderrig aan die jeug binne die kerk.

Laat ons daarom hierdie middel koester, nie suinig wees in ons tyd en geld om die jeug te onderrig en te laat onderrig nie.

Want daarop rus so ‘n ryke seën van die Here!

 

Ons mog vandag weer nagmaal vier.

Ou mense en jong mense was aan tafel, selfs in sommige gevalle kleinkinders saam met hulle ouers en grootouers.

En dan is daar nog ‘n groot hoeveelheid jeug wat hier in die erediens aanwesig is, wat nog nie aktief saamvier nie, maar tog hier is, in die proses is om te groei in die kennis van die heilige Skrifte, in die diens aan die HERE.

Wat destyds in die eerste Christelike gemeentes gestalte gekry het, geloofsoordrag deur die geslagte, dit gaan nog steeds voort selfs nou 2000 later.

Laat ons bid dat die Here Jesus nie die kandelaar in uit ons midde sal wegneem nie.

Maar dat ons kindskinders ook in dieselfde ongeveinsde, opregte geloof mag lewe.

Laat ons trou bly aan sy Woord, en mag die Here dit met sy seën bekroon, ook in die nuwe generasie.

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: 2 Timotheüs 1:1-18

Teks: 2 Timotheüs 1:3-5

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wie was Paulus se voorgeslagte?
  2. Wie was Timotheüs se ma en ouma, en hoe het hulle met die Evangelie in aanraking gekom?
  3. Hoe was Timotheüs ‘n kind van Paulus?
  4. Kan mens die opvoedingstaak van ‘n ma ‘n amp noem?
  5. Noem drie genademiddele waarmee die Heilige Gees die kerk van Christus bou.
  6. Wat is jou eerste herinnering aan die Bybel en die geloof?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 78:3,4

Wet

Sb 26:10,11

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Nagmaalsviering

1e tafel: 2 Timotheüs 1:1-5; Ps 105:1,2

2e tafel: 2 Timotheüs 1:6-18; Ps 105:3,4

3e tafel: Lofverheffing;  Ps 105:5,6

Dankgebed

Teks: 2 Timotheüs 1:3-5

Preek

Sb 15:1,3

Gebed

Kollekte

Ps 128:1-4

Seën