Doen dit omdat jy is wie jy is: ‘n kind van die Vader

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2020-07-12
Teks: 
Mattheus 6: 1 - 4, en 16 - 18
Verwysing: 
Bergpredikasie
Preek Inhoud: 

Ons kom vandag by die tweede hoofgedeelte of die tweede punt van Jesus se preek.  Die tema vind ons in Matthéüs 6:1.  In Matthéüs 5:1-16 het ons die inleiding en die agtergrond van die hele preek gesien.  Dan, in verse 5:17-48, sou die teksvers van die tema kon wees: “Wees dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”  En nou is ons by die derde punt van die preek.  Dit gaan oor hoe om jou regverdiging uit te leef.

Hierdie hoofgedeelte deel Hy in drie onderafdelings.  Vs. 2: “wanneer jy liefdadigheid bewys”, vs. 5 & 7: “wanneer jy bid”, en vs. 16: “wanneer jy vas”.  Hulle eindig almal met dieselfde woorde: “en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde” (vs. 4, 6, 18).  Dit gaan daaroor om ‘n hart te hê wat sy armoede erken en gee, bid en vas vanuit daardie plek van armoede.  ‘n Hart wat nederig is, honger en dors na God, genadig, suiwer en in vrede.  Dit is om in Christus te wees.

Die wêreld haat skynheiligheid in die kerk, en dis reg. Ons moet dit haat. Dit is nie Christenskap nie. Dit is ‘n mensgemaakte geloof. Ek dink dat die wêreld dit so haat, omdat hulle weet dat dit waar is van hulself. Skynheiligheid leef in elke hart. Die skynheilige is die een wat na uiterlike kyk en nie na die innerlike nie. Die Christen begin met die innerlike lewe in die lig van God se aanwesigheid. Dit is waaroor dit hier gaan. Aangesien die Bybel meer tyd aan die gebed spandeer in hierdie gedeelte, wil ek graag volgende keer daaroor praat. Vandag wil ek praat oor gee en bid.

Doen dit omdat jy is wie jy is: ‘n kind van die Vader.

  1. Gee
  2. Bid (volgende week)
  3. Vas

 

Gee

“Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie 'n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie.  Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg.”

Dit is die punt.  Hoekom gee jy geld?  Doen jy hierdie dinge vir God, omdat jy sy kind is, of vir mense, om naam te maak en ‘n nalatenskap agter te laat?  Gee jy sodat mense kan sien hoe vrygewig jy is?  Gee jy omdat jy verplig voel?  Gee jy omdat dit is wat jou ouers jou geleer het?  Hoekom gee jy? Gaan dit oor ‘n tydelike aardse naam en ‘n nalatenskap of ewige nalatenskap in Christus?

Baie mense gee om te ontvang.  Soos belasting- aftrekkings.  Dit is vir my so ironies. Niemand wil vandag erken dat die mens basies sondig is nie, hoekom sou die regering dan belasting-aftrekkings aanbied as mense basies goed is?  Sal mense nie gee uit die goedheid van hulle hart nie of eenvoudig na aanleiding van die behoefte nie?  Ons regering sê wyslik: “ons twyfel!”  Mense gee om te ontvang.  Hulle soek publisiteit, agting, belastingbesparings...

Hoekom gee jy?  Gee jy net omdat dit is wie jy is as ‘n Christen?  ‘n Gewer aan wie alles gegee is?  Jy sien, om waarlik te gee, vloei uit ‘n verstaan van jou eie armoede en die jammerte wat God aan jou bewys het.  Om waarlik te gee, word gedoen uit dankbaarheid en nie uit ‘n begeerte om erkenning nie.  Die waarde van dit wat jy gee, is nie hoeveel jy gee nie, maar met watter gesindheid jy gee.  God gee nie om hoeveel jy gee nie; Hy gee om vir dit waaraan jy vashou.  Dit wat jou vuiste nie wil laat gaan nie.

Dit is hoekom die Here kan sê dat die weduwee wat ‘n pennie gegee het, meer gegee het as al die ander.  Ons sou sê: “nee, sy het nie!”  Sy het nie die kerk se begroting enigsins aangevul nie!  Die bietjie wat sy in die tempel se skatkis gegooi het, kon nie die rekeninge betaal nie.  Maar dit is nie hoe dit in God se ekonomie werk nie.  God voorsien in die behoeftes van die kerk.  Nie ons nie.  Hy gebruik ons.

Moenie dink dat God ons geld nodig het nie.  As jy gered is en jy Christus en sy werk ken, dan is daar geen manier dat jy nie sal gee nie.

Jy sien dat sommiges gee, omdat hulle glo dat hulle ekstra geld het om te gee.  Ons dink dat al die geld wat ons verdien, ons s’n is, en dat ons daarmee kan doen wat ons wil.  Wanneer ons so dink, dan glo ons ook dat ons erkenning moet kry as ons van “ons geld” weggee. Ek bedoel nie baie nie, maar ‘n bietjie, nè?  Mense moet weet hoeveel ek opoffer.

Soms kan die kerk hierdie probleem groter maak deur die groot donateurs te eer en te dink dat die kleiner bydraes minder belangrik is.  Vir God kan die een ‘n miljoen rand en die ander een R2 gee.  As die een wat R2 gee dit met die regte gesindheid doen, is dit meer werd as die miljoen rand.  Jesus sê as jy dit doen om erkenning te kry en nie om erkenning te gee nie, sal jy jou beloning hê.  “Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg.”  Hulle sal besef hoe ryk jy was, en hoeveel jy weggegee het.  Jesus sê om dit weg te gee is nie ‘n weerspieëling van heiligheid nie.  Die vraag is: waar is jou hart?

Wanneer Jesus in die kerk oor geld praat en om te gee, dan gaan dit nooit oor geld en gee nie, dit gaan oor jou hart.  Jesus het nooit vir geld gevra nie.  Nooit ‘n kollekte gehou nie.  Nooit ‘n fondsinsameling om sy reis na Jerusalem te ondersteun nie.  Tog praat Hy die hele tyd oor geld.  Hoekom?  Want die manier waarop jy met jou besittings omgaan, is ‘n teken van wie jy is.

Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.”

Dit gaan oor die hart waarmee jy gee.  ‘n Atleet weet dat as jy jou spiere oefen – byvoorbeeld om ‘n kolf te swaai wanneer die bal na jou toe kom – jy nie stop om te dink wat jy doen nie.  Of ‘n wêreldklas musikant wat ure lank geoefen het, wat presies weet watter note om te speel, en dit vir hom tweede natuur word.  Dit is iets wat ons doen sonder om te veel daaroor te dink.

Jy ken die verhaal in Matthéüs 25:31-40 waar Hy oor sy tweede wederkoms praat en almal van mekaar skei, aan sy linker- of aan sy regterkant.  Dié aan die regterkant is regverdig, die skape.  Hulle het die hongeriges gevoed, die naaktes geklee, die siekes en gevangenes besoek.  Onthou jy hulle reaksie toe Jesus hulle in die koninkryk verwelkom het en hulle goeie werke geprys het?  Wat het hulle gesê?  Hulle het gesê: “Wanneer het ons al hierdie dinge gedoen?”  Hulle het nie eens besef wat hulle gedoen het nie.  Hulle het hulself vergeet.  Dit is maar net wie hulle was.

Is jou diepste verlange: “Kyk hoeveel gee ek” of: “Kyk wat het God gegee”?  Dit is die vraag hier.  Wie staan hier sentraal?  Jy of God?  Wie is die een wat waarlik gee?  Jy of God?  Soos wat Jakobus sê: “Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte.”

Jy sien, deur te gee laat jy die wêreld los, sodat jy meer en meer jou greep op hierdie wêreld sal verloor en die Vader en sy liefde sal vasgryp.

Jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou beloon.  Hy sien jou hart.  Hy ken jou.  Hy sal jou seën.  Hy sal vir jou voorsien.  Hierdie seëninge is natuurlik in die toekoms, maar word reeds in die hede geniet.  Hoe meer jy hierdie weg volg, hoe minder sal jy deur geld beheer word.  Of deur ander mense.  Jy sal vreesloos leef, omdat jy God vrees.  Jy sal sonder angs leef, omdat jy God vertrou.  Jy sal in tevredenheid leef, omdat jy God ken.  Ja...  en om te vas help ons om dit meer en meer te besef.

 

Vas

“En wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas.”

Allereers net ‘n verduideliking.  Dit sê: “Wanneer julle vas...”  Dit impliseer dat Christene vas, maar dit is nie ‘n gebod nie.  Net eenmaal in die Ou Testament op die dag van versoening.  En daardie dag is vervul in Christus.  As jy in die Nuwe Testament soek na ‘n gebod om te vas, sal jy dit nie vind nie.  Let dit op.  Dit is belangrik.

As jy nie vas nie, sal jy nie die leierskap van die kerk aanstoot gee nie; die enigste persoon wat ‘n verlies gaan ervaar deur nie te vas nie, is jy.  Want Bybelse vas sal jou iets belangriks leer.  Let op dat ek sê Bybelse vas. Wat beteken dat daar ‘n manier is om nie te vas nie.

Laat ons eers hierna kyk.  Jesus sê: “En wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie;”  Die geestelike leiers het Maandae en Donderdae gevas. Wanneer hulle gevas het, het hulle nie aandag aan hul persoonlike higiëne gegee nie.  Hulle sou hul baarde laat groei; hulle sou somber lyk.  Hulle het ‘n godsdienstige superheld-mantel aangetrek.  Hulle was die heiliges, beter as al die ander mense.  En hulle wou hê dat almal dit moes weet.

Maar Jesus speel hier heerlik met woorde.  ‘n Geveinsde (skynheilige) is iemand wat ‘n masker op sy gesig sit en homself verbeel dat hy ‘n karakter in ‘n toneelstuk speel.  En hier trek die godsdienstige leiers (skynheiliges) lang gesigte (sit hul maskers op) om te maak of hulle iemand anders is – goddelik.  Maar die mens agter die masker is nie dieselfde nie.  Hulle doen dit vir die gehoor en Jesus sê dat hulle hul beloning kry. Die gehoor keur dit goed.

Dit lyk of dit vandag ‘n groeiende tendens is om op sosiale media te deel dat jy vas.  Moenie.  Vas net. Moenie vir iemand sê nie.  Ek weet jy sal nie so baie ‘likes’ kry nie.  Maar die belangrikste ‘like’ is in elk geval nie op Facebook nie.

Dan sê Hy vir ons hoe om te vas wanneer ons vas.  Hy sê: ”Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig,

sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.”

Met ander woorde, moenie ‘n masker opsit nie.  Moenie iets verander nie.  Gaan net normaalweg aan met jou lewe.  Want vas gaan nie daaroor om raakgesien te word nie, dit gaan daaroor om die Vader se liefde bo alles te stel.  Vas is iets tussen jou en God. Miskien is dit hoekom ons so min inligting oor vas in die vroeë kerk het.  Ons weet dat baie op Woensdae en Vrydae gevas het, maar daar is bitter min daaroor geskryf.  Hulle het dit aan niemand bekend gemaak nie. Dit nie geadverteer nie.  Hulle het nie eers soveel daaroor geskryf nie.

Hoekom?  Want vas het altyd ‘n oog op die Vader – die onsigbare Een.  Om honger na God bo honger na kos te stel.  Die vraag wat vas beantwoord is: “Glo jy dat God iets beters vir jou het?”  Deur te vas sê jy: “JA!”

Laat ek verduidelik:  Diere het ‘n ongelooflike begeerte om te oorleef. Die mens het dieselfde sterk begeerte. Ons noem dit primêre begeerte.  Kos, seks, slaap, oorlewing.  Meestal liggaamlike begeertes.   Dit is die sterkste begeertes van die ervaring en word meestal onmiddellik bevredig.  Maar ek wil hê jy moet weet dat dit nie ons diepste begeertes is nie.  Ons is na die beeld van God geskape en het ‘n gees, dus sal ons diepste begeertes na Hom wees.  Begeerte na gemeenskap met God.  Begeerte om deur Hom aanvaar en liefgehê te word, begeerte om tuis te wees by Hom.  Dit is ons diepste begeertes.

Die probleem met sonde is dat dit ons primêre begeertes ons diepste begeertes maak.  Sonde maak die primêre begeertes soos kos, seks, vermaak en die bevrediging daarvan die belangrikste.  Dit is die vleeslike natuur.  Sodat hierdie begeertes ons geestelike begeertes (vir die Vader) en die groter geluk van hul vervulling verduister.

Sonde draai die orde van begeerte om en plaas die skepsel bo die Skepper.  Dit verminder die geestelike begeertes en maak die vleeslike begeertes die belangrikste.  Dit is wat die sondeval gedoen het.

Baie van julle ken die verhaal: die sondeval het gebeur omdat Adam en Eva ‘n vrug geëet het.  ‘n Vrug!  Al die pyn, lyding en bose in die wêreld – die bron van menslike verdorwenheid lê in die eet van ‘n verbode vrug deur ‘n egpaar.  Satan het na Eva gekom en op daardie oomblik het sy God liefgehad, maar nie meer as wat sy die vrug wou hê nie.  Daar was niks fout met die vrug self nie.  Die probleem was Adam en Eva se hart. Ons lees in Genesis 3: “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet (begeerte van die vlees) en dat hy 'n lus was vir die oë (begeerte van die oë), ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry (trots van die lewe); en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.”

Johannes sê: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie.  As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” In en deur Christus word ons begeertes herrangskik.

Op hierdie punt was Eva nie deur God gegryp nie.  Sy het nie die visie van God gehad nie.  Van sy liefde, sy karakter, sy sorg, sy heiligheid, bo alles.  Op hierdie punt het sy haarself meer liefgehad as vir God.  Eva se begeertes het wanordelik geword.  Haar primêre begeerte het haar diepste begeerte geword.  Eva kon nee gesê het.  Dit is wat vas ons vertel.

Jesus het gekom sodat ons God kan ken.  Met ander woorde, sodat ons Hom kan waardeer, Hom kan liefhê bo alles.  Na 40 dae van vas het die verleier na Jesus gekom, en Jesus was honger.  Hy wys ons dat die diepste begeerte die Vader is.  Hy oorwin waar ons verslaan is.

Dit is wat Hy ons hier leer.  In hierdie drie dinge – gee, bid en vas – word ons begeertes herrangskik sodat die liefde vir die Vader bo alles sal kom.  Deur te gee veg ons teen die begeerlikheid van die oë, deur te bid veg ons teen die trotsheid van die lewe en deur te vas veg ons teen die begeerlikheid van die vlees!  Ons leef in Christus eerder as volgens die eerste Adam.

Op die ou end gaan vas nie daaroor om iets op te gee nie, maar om iets veel groters te ontvang.  Dit is die doel van vas.   Wanneer God eerste kom, kan alle ander dinge ordentlik geniet word, nie as dinge om voor te leef nie, maar as dinge om te geniet.

Vers 18 sê: “sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.”

Die Vader in die hemel sal jou vergelde (beloon).  Hemel beteken in die Bybel eenvoudig God se plek.  Die plek waar Hy woon.  Dit is dus nie so dat die skatte in die hemel eksklusiewe dinge is waarvoor ons moet wag nie.  Nee, ons mag die skatte in die hemel nou reeds ontvang.  Ons kan God nou reeds geniet as ons Hom bo alle dinge soek.  Ons kan vrede, en rus, liefde en sekuriteit, vreugde en tevredenheid ervaar in Hom.

Wanneer ons primêre begeertes eerste kom, sal ons onrus ervaar; kompetisie en onsekerheid; jaloesie en ontevredenheid.  Maar as die Vader eerste kom, dan begin die hele lewe in plek val.  En hoor my asseblief. ALLEEN as jy reeds in Christus is, is dit moontlik.  Jy kan nie nee sê vir hierdie dinge (geld, self en voedsel) tensy jy nie eers ja sê op God se weg na God se beloftes nie. Jy kan nie nee sê nie tensy jy eers ja sê vir Jesus.

Jesus gee sielsbevrediging, nie net ‘n vol maag nie. Gemeenskap met God, nie net ‘n vlugtige seksuele plesiertjie nie.  Geestelike lewenskrag, nie net fisiese gesondheid nie; ewige lewe bo net ‘n tydelike lewe.  Die een is aards en dit is goed.  Die ander is hemels en dit is beter.  By verre.  As jy fokus op die aardse dinge, sal jy uiteindelik nie een van die twee hê nie; as jy fokus op die liefde van die Vader, sal jy beide hê.  Dit is wat vas ons help om te besef.  Dit trek ons oë af van die primêre begeertes en plaas prioriteit op ons diepste begeertes.

Dit is baie relevant in ons tyd.  COVID het baie van ons weggeneem – baie aardse sekuriteit.  Hoe jy op hierdie verlies reageer, is ‘n goeie teken van waarvan jy eet en drink.  Van Jesus, of hierdie aarde.  Dit is geen oordrywing nie dat vir baie mense Paulus se woorde aan die kultuur van sy tyd, dat “hulle god hul buik is”, baie waar is vir ons kultuur.  Dit gaan oor gewigsverlies of die laaste dieet.

Om te vas is nie sodat jy jou kalorieë kan tel of beter kan lyk nie, dit is sodat jy jou seëninge kan tel en jouself kan week in die Vader se liefde en sy Woord.  Sy Woord is lewe.  As ons vas sê ons:  Ek leef nie vir my aptyt nie – my liggaamlike aptyt, seksuele aptyt of materiële aptyt.  Daarom, met selfbeheersing (een van die vrugte van die Gees), gaan ek ophou om onophoudelik aan die tafel van die wêreld te knibbel.  Dit is hopelik wat Covid-19 sommige van ons geleer het.

So ja, vas is nie ‘n gebod nie, maar dit sal help.  Die Bybel gee verskeie voorbeelde hoekom ons sal vas, soos berou oor sonde, rou oor ‘n groot verlies, voor die verkiesing van ampsdraers.  Maar die hoofrede waarom ons vas, is om ons honger na God te voed en ons honger na die wêreld te verminder.  Ironies genoeg is die beloning vir vas ‘n honger en dors na God – ‘n groter aptyt vir Hom.  En hy wat honger en dors na Hom sal volgens die Skrif versadig word.  Wil jy graag ‘n vetter, beter gevoede siel hê?  Dan is my voorstel om te vas.

En vier fees met God en geniet van die liefde van die Vader.  En dit deel met die wêreld. Dit is wat ons leer deur die gee van aalmoese en vas.

Amen.