Die ellende waartoe eiewillige godsdiens lei

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-10-02
Teks: 
Rigters 17:6 & 13
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 17:6 & 13

 

Tot dusver het die boek Rigters telkens gefokus op individuele leiers, rigters soos Otniël, Ehud, Samgar, Barak, Gideon, Jefta, Simson.

Maar vanaf hoofstuk 17 kom ons in ‘n nuwe deel van hierdie Bybelboek.

Waar tot dusver die klem veral was op eksterne bedreiginge, kom die fokus nou op die geweldige afval binne God se eie volk.

In hoofstuk 1-16 is dit ook al genoem, elke keer as die Israeliete gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE(bv. Rigt 2:11), maar vanaf hoofstuk 17 is die fokus uitsluitend daarop.

Die totale godsdienstige en morele verval binne God se eie volk.

Die einde van die boek Rigters teken ‘n prentjie van Israel wat op die punt staan om in te stort;

wat balanseer op die randjie van die afgrond.

Hulle was wel in die beloofde land, maar het soos heidene geleef.

Elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë (Rigt 17:6).

Die Rigterskrywer beskryf enkele gebeurtenisse wat tiperend was vir hierdie tyd.

Soos die geskiedenis van Miga, sy ma en die Leviet.

 

Tema: Die ellende waartoe eiewillige godsdiens lei

 

Die ma het ’n vervloeking uitgespreek, want iemand het haar sak met silwerstukke gesteel.

Nou moet ons onthou dat volgens heidense denke ‘n vervloeking ‘n magiese uitwerking het.

Die ma het hierdie vervloeking uitgespreek ten aanhore van haar seun.

Met hierdie vervloeking bo sy hoof, moes hy wel praat.

En dit gebeur dan ook.

Miga besef dat die vervloeking nie net ‘n grappie was nie.

En dus bieg hy op dat dit hy was wat sy ma se geld gesteel het, en hy gee die geld terug.

 

Dit was natuurlik nou eers ‘n skok!

Nie in die eerste plek omdat die ma nie soiets van haar seun verwag het nie, maar veral omdat sy haar eie seun nou vervloek het.

Vandaar dat sy nie ‘n oomblik talm om direk ‘n seën uit te spreek nie:

Vers 2: “Mag jy geseënd wees deur die HERE, my seun!”

Om die vervloeking ongedaan te maak, moes sy so gou as moontlik positiewe uitsprake daarteenoor plaas.

‘n Seën om die vloek te neutraliseer.

Tipies heidense denke.

 

Maar nog steeds is die ma nie gerus nie.

Daarom skenk sy nou ‘n deel aan God.

Hoe meer positiewe dinge sy in die weegskaal kon lê teenoor die vloek, hoe beter.

Dan sal God hopelik daarvan afsien om haar seun te vervloek.

Sy heilig die geld plegtig aan die HERE, staan daar in vers 3.

Sy het ‘n vyfde van die bedrag gevat, want soiets staan daar in die wet van Moses – iets oor ‘n vyfde – 200 sikkels silwer, en dit het sy aan die goudsmid gegee.

Daarvan moes hy ‘n beeld maak.

‘n Gesnede en ‘n gegote beeld, staan daar.

Dit wil sê, ‘n beeld wat aan die binnekant van hout of metaal was, en aan die buitekant oorgetrek is met ‘n lagie silwer.

Waarskynlik was hierdie beeld ‘n kalf, ‘n kalf soos wat Aäron in die woestyn gemaak het.

‘n Kalf was ‘n heel gebruiklike beeld in daardie tyd.

‘n Kalf om die krag en vrugbaarheid van God in die hemel te simboliseer.

Hierdie beeld het ‘n indrukwekkende ornament in die heiligdom van Miga geword.

 

Tragies dat soiets in God se eie volk kon gebeur.

Ja, as dit nie vir die HERE se aanhoudende bemoeienis met sy verbondskinders is nie, sal ook ons vroeër of later terugval na die vlak van die heidendom.

Soos Paulus dit in Romeine 1 beskryf:

Hulle het “die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.” (Rom 1:23)

Dis presies wat hier gebeur het, toe Miga ‘n silwer kalf laat maak het.

 

Verder het Miga van die geld ‘n skouerkleed gemaak.

Dit was ‘n soort voorskoot om aan te trek as ‘n mens vir God wou raadpleeg.

Hulle het dit ‘n efod genoem.

Die hoëpriester het so ‘n efod gehad, met die urim en die tummim daarop.

Dit was bedoel om die HERE te raadpleeg as daar nie duidelikheid was oor sy wil in ‘n bepaalde situasie nie.

Miga het dus vir homself ook so ‘n efod, so ‘n skouerkleed, gemaak.

Verder het hy nog huisgode gemaak, lees ons in vers 5.

Huisgode was klein afgodsbeeldjies, geluksbringertjies.

Elke Kanaänitiese gesin was in besit van sulke huisgode.

Dit het êrens op ‘n gewyde plek in die huis gestaan.

 

Al met al het Miga en sy ma nou ‘n komplete privaatheiligdom besit.

Wat egter nog ontbreek het was ‘n priester.

Maar waarom sou een van Miga se seuns dit nie kon doen nie?

Ja wie sal hom verbied om sy seun as priester te salf?

So sorg Miga vir sy eie godshuis, eie gesnede en gegote beeld, eie skouerkleed, eie huisgode, en ‘n privaatpriester.

En so sien mens, want met hierdie doel beskryf die Rigterskrywer hierdie gebeure, so sien mens dat die een sonde tot die ander lei.

Eers diefstal, toe die uitspreek van ‘n vervloeking, en toe allerlei bedenklike stappe om die vloek weer op te hef.

 

Maar gemeente, is die optrede van Miga en sy ma eintlik so abnormaal?

Is dit nie ook begryplik nie?

Dat jy iets kwaads met iets goeds kan neutraliseer.

Dat mens ‘n guns kan afkoop.

Dat mens ‘n transaksie kan verrig, nie net met mense nie, maar ook met God.

Wanneer ons ‘n ernstige sonde gedoen het, om dan ‘n klomp goeie dinge te doen.

God sal dit tog wel raaksien!?

Hy sal dit tog wel in berekening bring ...?

Gemeente, is dit nie hoe ons ook soms dink nie?

As jy weer goeie dinge doen, nadat jy ‘n ‘groot’ sonde begaan het, dan sal God minder hard op jou wees oor daardie verkeerde ding wat jy gedoen het ...

 

Geliefde gemeente, hierdie manier van denke mis die kern van die Evangelie.

‘n Mens kan nie geestelik met God handel dryf nie.

God is nie ‘n mens en Hy dink ook nie soos ‘n mens nie.

Want wie die HERE uit sy Woord ken, weet beter.

Wie die HERE werklik ken, voel nie die behoefte om Hom om te koop nie.

Wie die HERE werklik ken, ken Hom as die God van onvoorwaardelike vergewing.

So het die HERE Hom alreeds geopenbaar deur Moses, en so het dit nog duideliker geblyk toe sy eie Seun op aarde gekom het.

‘n God van onvoorwaardelike vergewing!

In sy wet, in sy Woord, wys Hy ons die weg van onvoorwaardelike vergewing.

 

Miga en sy ma het die HERE en sy Woord nie goed geken nie.

Hulle het ‘n verkeerde weg gekies.

Die Rigterskrywer vestig ons aandag op al hulle misstappe.

Al daardie maatreëls om die vervloeking op te hef was nie nodig nie.

Bely in jou gebed jou sondes, dit is al wat nodig is.

Moeiliker vra God nie.

Maar Miga en sy ma het dit vir hulleself moeilik gemaak.

Omdat hulle nie die HERE goed genoeg geken het nie.

Omdat hulle nie meer besef het dat God nie dink in terme van transaksies nie.

Omdat hulle nie meer kon glo dat die HERE werklik ‘n vergewende God is nie.

En dit het hulle duur te staan gekom.

As hulle tog maar net na die HERE se wet geluister het.

Hoe mooi staan dit in die wet.

Ons lees byvoorbeeld in Levitikus 6:7 “dan moet die priester vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE, en dit sal hom vergewe word – enigiets wat ‘n mens doen, waardeur hy skuldig word.”

Miga en sy ma het gedink hulle moes self hulle probleme oplos.

Maar hulle kon nie.

Want uit ‘n transaksies kry ons nie die sekerheid van vergewing nie.

God dink nie in terme van transaksies nie.

God is ‘n barmhartige Vader.

‘n Vader wat sy kinders vergewe as hulle hul sondes bely.

‘n Vader wat in Christus vergewing skenk.

‘n Vader wat sy gebooie gegee het om sy kinders te beskerm.

 

Ons gaan verder met die geskiedenis van Miga in Rigters 17.

Miga was aangenaam verras toe hy hoor dat die man, wat onverwags daar opgedaag het, ‘n Leviet was.

Hy was uit Betlehem afkomstig, waar niemand skynbaar meer vir hom werk gehad nie.

Die Leviete was die mense wat die volk moes onderrig gee.

Hulle was die kategete, die Bybelonderwysers, van vroeër.

Maar in Betlehem het niemand blykbaar meer die noodsaak van katkisasie ingesien nie.

Die wet van die Here was ouderwets en uit die mode.

Die volk was nie meer in die woestyn nie, maar het nou in Kanaän gewoon.

Heel ander tyd, heel ander omstandighede, heel ander samelewing.

Met die gevolg dat daar ook nie meer na die Leviete omgesien is nie.

Soos ‘n bedelaar moes hy op soek gaan of iemand êrens dalk vir hom ‘n werkie gehad het.

En die geluk was aan sy kant.

Want Miga het belanggestel, veral toe hy hoor dat hierdie man ‘n Leviet was.

Skynbaar het Miga nog wel iets van die Bybel geweet, altans dat die HERE aan die Leviete ‘n kultiese taak opgedra het.

Miga het selfs gedink, toe hy die Leviet in diens neem, hy doen iets goeds.

Hy sê: “Nou weet ek dat die HERE aan my goed sal doen, omdat ek ‘n Leviet as priester het.” (Rigt 17:13).

 

Maar dit is dan des te meer tragies dat hierdie Leviet vir Miga niks verder gehelp het in die regte rigting nie.

Hy het gewoon ingeval by Miga se eiewillige godsdiens.

Hy was heel tevrede met die karige salaris wat Miga hom aangebied het.

En dat hy as synde Leviet nie die werk van ‘n priester mog verrig nie, naamlik offer en die Here raadpleeg deur die skouerkleed, die efod, ‘n taak wat God slegs vir die nageslag van Aäron afgesonder het, dit was vir hom geen onoorkomlike beswaar nie.

 

Kortom, gemeente, ‘n droewige situasie.

‘n Leviet sonder werk, omdat God se volk katkisasie, onderrig in die wet, nie meer nodig geag het nie.

‘n Leviet wat bereid was om enigiets te doen vir geld, ook as dit op gespanne voet met die HERE se wet gestaan het.

En mense uit God se volk, soos Miga en sy ma, wat eintlik net ‘n godsdienstige funksionaris gesoek het, wat ampshalwe die heilige handelinge kon verrig, die heilige handelinge wat deur hulle verdraai is tot heidense bygeloof.

En die Leviet, wat veronderstel was om beter te weet, was ook ongehoorsaam aan God se wet.

Eiewillige godsdienstigheid.

Die enkele elemente van die ware godsdiens wat daar nog oorgebly het, wat nog ‘n bietjie aan Moses se wet herinner het, was heeltemal verdraai en aan die eise van die tyd aangepas.

Mense wat self uitmaak hoe hulle God wil dien.

In stryd met die tweede gebod: Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie.

 

Miga het by homself gedink:

As ek ‘n Leviet as priester het, dan moet die HERE my wel seën.

Gemeente, dit is miskien wel die ergste wat in die kerk kan gebeur.

Terwyl ‘n mens dink dat hy iets goeds vir God doen, gaan hy teen sy gebooie in.

Die profeet Hosea se woorde pas soos ‘n handskoen op hierdie geskiedenis: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” (Hosea 4:6)

Hierdie gebrek aan kennis was nie omdat die HERE Homself onbetuigd gelaat het, omdat sy Woord afwesig was nie.

Inteendeel.

Die geskiedenis van Miga soos in hoofstuk 17 beskryf, vind plaas in die gebergte van Efraïm.

Juis in hierdie landstreek het daar ‘n ryke geskiedenis gelê.

Josua het hier begrawe gelê (Rigt 2:9).

Ehud het hier sy trompet geblaas (Rigt 3:27).

Debora het hier gerig (Rigt 4:5).

En ook Gideon was nie ‘n onbekende in Efraïm nie (Rigt 7:24).

‘n Landstreek dus met ‘n ryke geskiedenis.

Die afval was nie omdat die HERE Homself onbetuigd gelaat het nie.

Dit was omdat die volk self die Woord van die HERE aan die kant geskuif het.

Die jeug is nie meer opgevoed in die wet van die HERE nie, katkisasie is nie meer as noodsaaklik beskou nie.

Broer, suster, is jy soos Miga?

Is julle gemotiveerd oor die katkisasies?

Is jy gemotiveerd oor Bybelstudie?

Is jy ‘n Miga, wat nie meer JV toe gaan nie?

Vind jy kerkgeskiedenis ook nie belangrik nie – dit wat in die verlede met God se volk gebeur het?

Skeep jy kerkgeskiedenis op skool af, omdat dit nie ‘n eksamenvak is nie?

 

Maar, gemeente, as u die HERE nie ken nie, as u sy Woord nie ken nie, kry u ook nooit sekerheid nie.

Die gevolg was dat Miga gedink het dat hy self sy probleme moes oplos.

Met sy rituele het hy probeer om die straffende God op afstand te hou.

Die God in wie se naam hy vervloek was, deur sy eie ma.

Miga het ‘n Leviet as priester in diens geneem.

‘n Instruksie uit die wet van God het hy volgens sy eie behoeftes geïnterpreteer.

Moontlik het hy dit met die beste motiewe gedoen.

Maar dit was vir die HERE nie aanvaarbaar nie.

Geliefde gemeente, die HERE eis nie toevallig dat ons moet lewe soos Hy dit wil hê nie.

Hy eis nie toevallig dat ons Hom dien soos Hy voorskryf nie.

Hy doen dit juis tot ons behoud.

Miga en sy ma se lewens het vasgedraai as gevolg van hulle eie plannetjies.

As hulle die HERE se Woord sou geraadpleeg het, was hulle probleme vinnig opgelos.

Maar helaas.

 

Die Rigterskrywer wil vir ons iets belangrik leer.

As ons God se Woord nie liefhet nie, kry ons ‘n ongelukkige lewe.

As jy deur jou eie sondes in die penarie kom, moenie dit self probeer oplos nie.

God se Woord wys ons die pad van skuldbelydenis en vergewing.

In sy Woord openbaar Hy dat daar versoening moontlik is.

Hy skenk aan ons die bediening van die versoening.

Dink aan die diens by die tabernakel in die Ou Testament.

Dink veral aan die vervulling daarvan in ons Here Jesus Christus.

 

In die dae van Miga was daar geen koning in Israel nie.

Elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.

Ook Miga, ook sy ma en die Leviet.

Hulle sou geweldig gebaat het by ‘n Godvresende koning.

Maar hulle het letterlik alles verloor.

In die volgende hoofstuk kan ons lees hoe die Daniete het hulle hele heiligdom leeggeroof het, en selfs die Leviet saamgevat het.

Alles het skeefgeloop.

Hierdie geskiedenis is ‘n illustrasie hoe dit met die hele volk gegaan het.

Die hele samelewing het ontspoor.

Tragies hoe die diens aan die HERE in ‘n totale godsdienstige chaos kon ontaard.

En Miga het dit nie eers besef nie.

Dit was miskien die ergste.

Mense wat dwaal, wat die HERE se Woord, sy wette nie meer ken nie, wat selfs dink hulle bewys die HERE ‘n guns met hulle godsdienstigheid.

 

Oppervlakkig lyk hoofstuk 17 na ‘n positiewe storie.

Miga, wat die geld gesteel het, erken sy oortreding.

Ma en seun is weer op goeie voet.

‘n Vloek word verander in ‘n seën.

Miga en sy ma se planne werk uit.

Hulle rig ‘n pragtige heiligdom in waarmee hulle die HERE wil dien.

Oppervlakkig lyk dit alles heel mooi.

 

Maar wie dieper grawe, sien die absolute chaos raak.

Eintlik lyk dinge diep treurig.

Soos die Rigterskrywer telkens herhaal:

Elkeen het gedoen wat goed was in sy eie oë.

Eiewillige godsdiens.

Die tweede gebod het vir Miga nie veel gesê nie, dat jy die HERE nie met behulp van ‘n gegote beeld mog dien nie.

Die geskiedenis van die goue kalf in die woestyn was waarskynlik vir hom onbekend.

As hy dit sou geken het, en hoe dit toe met die volk afgeloop het, sou hy dit beslis nie in sy kop gehaal het om self ook so ‘n kalf te kry nie.

Duidelik het die Leviete, wat veronderstel was om die volk in die Woord van die HERE te onderrig, nie meer hulle taak gedoen nie.

En daardie Leviet wat toe daar opgedaag het, het self duidelik ook nie die HERE se wet geken nie, en hom in elk geval nie daaraan gesteur nie.

Dit was die mees tragiese, dat hierdie mense oortuig was dat hulle goed doen, terwyl hulle lynreg teen God se gebooie ingegaan het.

 

Uit die hele boek Rigters blyk dat troue diens aan die HERE nie ‘n vanselfsprekende saak is nie.

Ook ons sou uit onsself soos Miga en sy ma en daardie Leviet gewees het.

En as die HERE dit nie verhoed nie, is ons en ons kinders net so goed in staat om af te gly na so ‘n toestand van eiewillige godsdiens.

Ons sien dit rondom ons gebeur, hoe kerke afvallig raak, hoekom sou dit nie ook met ons gebeur nie?

 

Kom ons gryp met beide hande ons Here Jesus Christus aan, as Hy in die Woord tot ons kom.

Wat ‘n voorreg dat ons onder die bediening van sy versoening mag sit, elke Sondag weer.

Kom ons bid dat die HERE tog nie sy kandelaar uit ons midde sal verwyder nie.

As jul vandag sy roepstem hoor, verhard jul nie, maar neig jul oor, merk op die roep van sy ontferming (Ps 95:4).

 

Uit onsself is ons net soos Miga, sy ma en die Leviet.

Ons eiewillige godsdiens, al is dit goedbedoel, trek ons die afgrond in.

Maar Christus bevry ons van ons eiewillige godsdiens.

Dit is genade dat Hy ons oë oopmaak vir die katastrofale gevolge daarvan.

Dat Hy ons uit genade weer na Homself toe trek.

En dan mag ons elke keer weer dankbaar uitroep:

Hoe heerlik is dit nie, dat ek nie aan myself oorgelewer is nie, maar dat ek met liggaam en siel aan my troue Saligmaker, Jesus Christus behoort!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Rigters 17

Teks: Rigters 17: 6 & 13

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Noem voorbeelde van Rigters wat in Efraïm aktief was.
  2. Noem voorbeelde waaruit blyk dat die priester wat by Miga opgedaag het, nie die HERE se wet geken het nie.
  3. Wat was ‘n efod?
  4. Verduidelik hoekom Miga en sy ma nie die wonder van vergewing ervaar het nie.
  5. Wat leer die geskiedenis van Miga, sy ma, en die Leviet vir jou persoonlik, en vir ons as gemeente gesamentlik?
  6. Noem voorbeelde van eiewillige godsdiens in ons tyd.
Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 72:1,2

Wet

Ps 119:62,63

Gebed

Skriflesing: Rigters 17

Ps 115:1-6

Teks: Rigters 17:6 & 13

Preek

Ps 95:4,5

Gebed

Kollekte

Ps 115:7-9

Seën