In die gemeente is gelowiges nie fanatiese selote nie, maar yweraars vir vrede.

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-10-09
Teks: 
Jakobus 3:13-4:3
Verwysing: 
Jakobus-reeks #6
Preek Inhoud: 

Dit is besig in Jerusalem – dis feestyd. Groot skares loop deur die strate, kindertjies hardloop en speel om hulle ouers, en verkopers prys hulle produkte aan. Skielik klink daar ‘n hartverskeurende gil – dit is ‘n vrou. Sy kniel geskok langs haar man op die grond – daar is ‘n dolk in sy sy; iemand het hom sopas gesteek. Die omstanders kyk om hulle heen – wie sou dit tog kon wees? Maar die dader het lankal in die skare verdwyn, onherkenbaar in ‘n see van mense. En intussen bloei die slagoffer dood – niks wat iemand daaraan kan doen nie. Die omstanders bewys hulle meelewe, maar in hulle harte dink hulle: “Ja, dis wat gebeur as jy ‘n tollenaar is, as jy met die vyand heul; dan moet jy weet dat die sikarii – die mes-manne – vir jou gaan kom!”

Gemeente, die toneel wat ek sopas geskets het, was nie onbekend in die strate van Jerusalem tydens die eerste eeu na Christus nie. Die sikarii – die mes-manne – was die mees fanatiese vleuel van ‘n rewolusionêre beweging wat bekend gestaan het as die Selote. Die Joodse historikus, Josefus, voer die ontstaan van die Selote terug na Judas, die Galileër, waarvan ons lees in Handelinge 5:37. Hy het in die jaar 6 n.C. in opstand gekom toe die Jode gedwing is om aan ‘n Romeinse volkstelling deel te neem. Die Selote was dus Joodse nasionaliste, wat geglo het dat hulle met wapengeweld die Romeinse juk van hulle moes afgooi. Hulle was teen enige iets of enige iemand wat die Romeinse oormag verteenwoordig het. Hulle het ook geweier om belasting aan die Romeine te betaal, wat verklaar waarom hulle die tollenaars so verag het. Hierdie Joodse nasionalisme, wat in 6 n.C. ontstaan het, het in die sestigerjare van die eerste eeu sy hoogtepunt bereik, en het uiteindelik daartoe gelei dat die Romeine besluit het om Jerusalem en die tempel te verwoes. Dit was in die veelbewoë jaar 70 n.C. Die bittereinders het nog ‘n paar jaar uitgehou deur hulleself in die bergvesting Masada op te sluit, maar toe hulle deur die Romeinse leër omring is en daar geen ontsnapping meer moontlik was nie, het hulle uiteindelik een vir een hulle eie lewe geneem – ‘n massa-selfmoord: 960 manne, vroue en kinders. Dit was die einde van die Selote...

 

Hoekom vertel ek hierdie geskiedenis vir u? Wel, Jakobus skryf sy brief tydens die hoogbloei van die beweging van die Selote; sy lesers, wat gelowiges uit die Jodendom was, was goed op hoogte met hierdie rewolusionêre beweging. En ons kry sterk die indruk dat die rewolusionêre gees van die Selote besig was om ook die gemeente te beïnvloed. Dit word in die eerste plek bevestig deur die tema wat Jakobus in ons teksgedeelte aansny – die strydlustige optrede van sommige gemeentelede, sodanig dat Jakobus hulle beskuldig van oorloë, vegterye en selfs moord (dink aan die sicarii – die mes-manne). En dit word in die tweede plek bevestig deurdat Jakobus tweemaal die Griekse woord zelos gebruik – eers in 3:14 waar dit met ‘afguns’ vertaal word, en daarna weer in 4:2 waar dit met ‘naywer’ vertaal word. Dus, die rewolusionêre en fanatiese gees van die Selote het die optrede van sommige gemeentelede begin stempel – en dit is teen hierdie agtergrond dat ons teks vorm aanneem.

Tema: in die gemeente is gelowiges nie fanatiese selote nie, maar yweraars vir vrede.

 

1. Die bron waaruit ons lewenswandel voortkom...

Ons het, net soos verlede week, hoofstuk 2:12 saam gelees: “Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word.” Verlede week het ons gesien hoe Jakobus die ‘spreek’-gedeelte uitwerk in hoofstuk 3:1-12. In vandag se gedeelte sien ons hoe hy die ‘doen’-gedeelte uitwerk – dus, die optrede, die lewenswandel. En hy doen dit deur die lewenswandel van die gemeentelede te plaas binne die kader van die wysheid: “Wie is wys en verstandig onder julle?” – dis die vraag waarmee Jakobus begin (vers 13a). As ek die vraag hier sou stel, wie sou bereid wees om sy/haar hand op te steek? Wie sou die vrymoedigheid hê om te sê: “Ek dink ek het wysheid van die Here gekry...” Enige iemand? Jakobus sê: moenie jou hand opsteek nie, moenie dat jy wysheid het nie – wýs dit eenvoudig uit jou lewenswandel: “Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid tóón” (vers 13b). Moet dit daarom nie sê nie, wýs dit! Ons ken mos almal die spreekwoord: woorde wek, maar voorbeelde trek.

Maar Jakobus maak dit nog effens meer kompleks – hy sê nie slegs dat ons uit iemand se lewenswandel kan aflei of daardie persoon wysheid het of nie. Nee, hy sê: ons kan uit iemand se lewenswandel aflei watter soort wysheid daardie persoon het. Daar is naamlik twéé soorte wysheid: daar is die wysheid wat van bo kom, én dan is daar die wysheid wat aards, natuurlik en duiwels is (vers 15). En jy kan uit die lewenswandel aflei uit watter een van hierdie twee bronne iemand lewe – óf iemand lewe uit die wysheid van bo, óf iemand lewe uit die wysheid van onder.

 

Nou, die wysheid wat van bo kom, is natuurlik die wysheid wat van God af kom. Dink terug aan Jakobus 1:17: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte...” Maar die Skrif maak dit nog meer spesifiek. Op verskeie plekke, naamlik, word Christus die wysheid van God genoem. 1 Korinthiërs 1:24: “maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God...” Of Kolossense 2:3: “... Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.” Dus, die wysheid wat van bo kom, vind ons primêr in Christus, vind ons persoonlik wanneer ons baie naby aan Hom lewe, wanneer ons toelaat dat Hy ons lewe onder sy beheer neem. Maar daar is nog meer... want luister bietjie hoe Jakobus die wysheid van bo vir ons beskryf; vers 17: “Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig, ongeveins.” Herinner hierdie rytjie jou nie sterk aan wat Paulus in Galasiërs 5 oor die vrug van die Gees leer nie? Jakobus sê: “Maar die wysheid van bo is...” – dan volg die rytjie; Paulus sê: “Maar die vrug van die Gees is...” – dan volg daar ‘n soortgelyke rytjie. Dus, gemeente, die wysheid wat van bo kom, vind ons in Christus, en dit word in ons gewerk deur die Heilige Gees. Jy word dus nie met hierdie wysheid gebore nie, jy verkry dit ook nie in die eerste plek deur lewenservaring nie – nee, jy kry dit in ‘n lewende verhouding met jou Heiland, en wanneer die Gees jou hart vervul. Dan word jy werklik wys...

 

En daarteenoor staan dan die wysheid wat aards, natuurlik en duiwels is. ‘Aards’ staan hier teenoor hemels – hierdie wysheid kan homself nie losmaak van die sondige invloedsfeer van hierdie wêreld nie. ‘Natuurlik’ (of ‘nie-geestelik’, soos die 2020-vertaling dit het) staan hier teenoor geestelik – dit kom op uit die natuurlike mens, sonder dat die Gees dit werk. En ‘duiwels’ staan hier teenoor goddelik – net soos wat die sondige tong vanuit die hel aangesteek word (onthou jy nog Jak. 3:6?), so word die aardse wysheid ook vanuit die demone-wêreld aangepor. En dit kom setel uiteindelik in sondige menseharte. Kyk maar na hoofstuk 3:14: “Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het...” En, vra Jakobus in hoofstuk 4:1: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste (of dalk beter vertaal: van julle begeertes) wat in julle lede stryd voer nie?” Die wysheid van onder is dus diep gewortel in ons sondige, ongeestelike harte.

Twee soorte wysheid, twee bronne – een van bo, van God af, in Christus en deur die Gees. En die ander van onder af, gevoed vanuit die demone-wêreld, en gesetel in ons sondige harte. Uit watter bron lewe jy? Wel, sê Jakobus, dis nie so moeilik om uit te vind nie – kyk maar net na die optrede, na die lewenswandel. Want hierdie twee soorte wysheid produseer twee totaal verskillende optredes in die gemeente. Dit is ons tweede gedagte.  

 

2. Hierdie bronne produseer: vrede of naywer...

Jakobus gebruik ‘n hele reeks terme om te beskryf hoe mense optree wat vanuit die wysheid van bo lewe, en hoe mense optree wat vanuit die wysheid van onder lewe. Maar daar is twee terme, wat Jakobus gebruik, wat – ek dink – sentraal staan en die verskil duidelik maak.

Vir die wysheid van bo is dit die term: vrede. Die wysheid van bo – en elkeen wat deur daardie wysheid gelei word – soek altyd na die vrede in die gemeente. Kyk maar na vers 17: die wysheid van bo is vredeliewend. En dit word verder uitgewerk in vers 18: “En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir (dalk beter vertaal: ‘deur’) die wat vrede maak.” Dis ‘n interessante vers, nie waar nie? Gewoonlik saai ‘n mens saad, en dan hoop jy dat daar vrug sal groei. Maar hier word die vrúg gesaai. Die vrug van die geregtigheid, dus die resultaat van ‘n regte verhouding met Christus deur die Gees – dít word gesaai, dit word teruggeploeg in die gemeente, en dit word gedoen in alle rus en vrede. En jy sien dit by mense: mense wat in vrede met Christus lewe (mense wie se verhouding met Christus reg is), hulle ontvang so baie uit hierdie herstelde verhouding; die herstelde verhouding lewer so ‘n groot opbrengs. En hierdie opbrengs mag (en wil!) hulle weer terugploeg, dit mag (en wil!) hulle opnuut saai in hulle verhouding met ander. Mense wat vrede met Christus het, is daarop uit om in vrede met hulle mede-gelowiges en ander naaste te lewe. En dit kom uit op soveel wonderlike maniere: hulle is sagmoedig (vers 13 – dus, hulle werk sag en beskeie met ander); hulle is vriendelik (vers 17 – of soos die 2020-vertaling dit het: bedagsaam; hulle dink aan ander se belange); hulle is geseglik (vers 17 – dit beteken hulle is bereid om te luister, hulle staan daarvoor oop om met goeie argumente oortuig te word en hulle opinie te verander); hulle is vol barmhartigheid en goeie vrugte (vers 17 – hulle is onbaatsugtig gerig op die naaste); hulle is onpartydig (vers 17 – hulle kies nie kant nie, maar gee aan elkeen wat hom toekom); hulle is ongeveins (vers 17 – daar is by hulle nie verborge motiewe nie, hulle het geen geheime agenda nie, wat jy sien is wat jy kry). Al hierdie vrugte saai hulle, ploeg hulle terug in die gemeente – en hulle doen dit met soveel rus en vrede. Sonder om gesien te wil word, sonder om ‘n ophef te maak, sonder om hulle stem dik te maak gaan hulle hul gang – saai hulle oral waar hulle kom. Hulle dien die vrede in die gemeente!

 

En teenoor die vrede (die vredesoekende en die vredeskeppende, wat ons kry wanneer ons vanuit die wysheid van bo lewe) is daar die uitstaande kenmerk van die wysheid wat van onder kom, en dit is: naywer (zelos – dink terug aan die inleiding oor die Selote). Naywer – dit is ‘n soort fanatisme. En Jakobus praat van hierdie fanatisme nie as iets wat buite die gemeente plaasvind nie (hoewel daar natuurlik ook), nee, hy praat van kerklike fanatisme. Kerklike fanatisme – dit is mense wat lyk asof hulle baie ywerig is vir die kerk en die geloof, maar innerlik word hulle deur verkeerde motiewe gedryf. Innerlik, sê Jakobus in vers 14, is daar bittere afguns en selfsug in hulle harte. En daar waar afguns en selfsug is, sê vers 16, daar is wanorde en allerhande gemene dade. Jakobus werk dit verder uit in hoofstuk 4:1 en 2 – hierdie aardse wysheid veroorsaak oorloë en vegterye: “Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie” (4:2). Gemeente, kerklike fanatisme is so gevaarlik – dit lyk vroom, maar dit is NIE! Dit lyk vroom om fanaties op te staan teen die regering se belastings en teen die regering se regulasies – onder die dekmantel van “God is die enigste Koning aan wie ek gehoorsaam is” (dis, terloops, wat die Selote van die eerste eeu ook gesê het) – maar dit is nie vroom nie. Dit lyk dalk asof jy ywerig vir die Here opstaan wanneer jy oor allerhande dinge wat in die gemeente gebeur, en waarmee jy nie saamstem nie, byvoorbeeld van die nagmaal af wegbly, maar dit is nie noodwendig ywer nie – dit is baie dikwels naywer, gedryf deur selfsug in die hart. Dit lyk dalk baie gelowig om oor elke ding waarmee jy nie saamstem nie, briewe aan die kerkraad te skryf met groot woorde en aanhalings uit die Skrif, maar dit is nie noodwendig gelowig nie.

En natuurlik is daar tye wanneer ons vir die waarheid moet opstaan; natuurlik is daar tye dat ons soos Maarten Luther moet sê: hier staan ek, ek kan nie anders nie. Maar 1) jy moet baie seker van jou saak wees voor jy dit doen (onthou: die wysheid van bo is geseglik – staan oop vir argumente, staan oop om van mening te verander), en 2) wanneer jy wel seker is van jou saak op grond van die Woord van God, dan is daar vervolgens ook ‘n manier waarop jy dit behoort te doen. Om jouself as die voorvegter vir Christus se saak voor te hou, lyk dalk indrukwekkend, maar dit is nie.

 

Broers en susters, Christene moet nooit fanaties wees nie. Hulle moet met hart en siel – met groot ywer (só het ons gesing in Psalm 119) – die Here dien, maar nooit fanaties nie. Ons is nie Selote nie! Ons lewe nie by die wysheid wat vanuit ons eie harte kom nie – ons lewe by die wysheid wat van bo kom. En daardie wysheid soek altyd die vrede in die gemeente – ook wanneer daar tye kan wees dat die waarheid gepraat moet word. As daardie tye kom, dan moet ons die waarheid praat – rustig, oop vir ander insigte, en soekend na die vrede wat Christus vir sy gemeente verdien het. Dít is die wysheid van bo!

Maar hoe kry ons daardie wysheid? En hoe onderskei ek in my eie lewe tussen die wysheid van bo en die wysheid van onder? (want baie dikwels is dit ‘n stryd wat in ons eie gemoed gevoer word; dit is nie net ‘n kwessie van: jy lewe by die wysheid van bo, en hy lewe by die wysheid van onder; nee, dikwels stry die twee wyshede binne-in ons). Dit bring ons by ons laaste gedagte.

 

3. Bid vir die wysheid van bo...

Ons weet van die Selote dat, wanneer hulle uitgetrek het om ‘n politieke moord te gaan pleeg (een soos wat ek in die inleiding beskryf het), dat hulle dit al biddende gedoen het (amper soos radikale moslem vandag wat ‘n selfmoord-bomaanval pleeg – net voordat en terwyl hulle die knoppie druk, bid hulle verwoed). Maar dikwels doen ons dieselfde, nie waar nie? Ons bedek ons strydlus en ons fanatisme baie vroom onder die dekmantel van gebed. Maar, sê Jakobus, bid en moord pleeg, bid en baklei, bid en fanaties wees – dié twee kan nie saamgaan nie, dié twee pas nie bymekaar nie. En dis die rede waarom Jakobus enersyds kan sê: julle bid wel, maar julle bid verkeerd (vers 3), terwyl hy net daarvoor nog gesê het: julle bid nie (einde van vers 2). Hoe kan hy sulke teenstrydige uitsprake maak? Want hoewel sy strydlustige lesers wel gebid het, het hulle verkeerd gebid. Gebed beteken immers om jouself oor te gee aan God; gebed is ten diepste ‘n saak van selfoorgawe, van jouself prysgee. “Laat u wil geskied” – dit verklaar die Kategismus as: “Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee om aan u wil ... alleen gehoorsaam te wees...” (HK, Sondag 49). Maar dis nie wat hierdie strydlustiges onder Jakobus se lesers wou doen nie – hulle wou nie regtig hulle eie wil prysgee nie, hulle wou nie regtig doen wat Gód van hulle vra nie. Nee, hulle wou doen wat húlle wou doen... en daaroor het hulle ‘n mooi gebedsousie gegooi. Dus, selfs diegene wat uit die wysheid van onder lewe, bid wel – maar hulle bid verkeerd, hulle bid om dit in hulle eie welluste deur te bring (einde vers 3). Hulle bid om hulle eie doeleindes te bereik, hulle bid om hulleself te regverdig. Maar, sê Jakobus, dit is eintlik nie meer gebed nie.

 

En dan vat Jakobus ons subtiel terug na die begin van sy brief, daar waar sy lesers geworstel het met die vraag hoe hulle gelowig op hulle omstandighede behoort te reageer. Daar het hy vir hulle gesê: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word” (1:5). Sien u die kombinasie van wysheid en gebed? Dit is Jakobus se antwoord vir diegene wat verlang om vanuit die wysheid-van-bo te lewe. Bid daarvoor – werklik jou eie wil en ego en begeertes prysgee. Bid dat die Here van jou en my, en van hierdie gemeente, ‘n vredeliewende gemeente sal maak – nie vredeliewend in die sin dat ons die waarheid onder die mat invee nie (dit is in elk geval nie ware vrede nie), maar vredeliewend in die sin dat ons die ander se belange soek, bereid is om na die ander te luister, sag met die ander sal werk, en altyd opreg sal wees. Bid dit van die Here, vind dit in Christus en deur die krag van sy Gees. En mag daar dan vrede – ware vrede – in hierdie gemeente heers.  

------------------------

Tydens sy lewe op aarde het Jesus twaalf dissipels om Hom heen versamel. Hulle name word op verskeie plekke in die evangelies gelys, en ons vind daardie twaalf name ook weer in Handelinge 1. En as jy nou daardie name deurgaan, dan sien jy iets baie besonders. In Jesus se dissipelkring vind ons sowel ‘n tollenaar as ‘n Seloot – Mattheus (die voormalige tollenaar) en Simon (die voormalige Seloot; hy word ook ‘die Yweraar’ genoem) sit saam aan die voete van die Here Jesus; twee manne, wat mekaar onder normale omstandighede verag het, word broeders in die geloof; twee manne, wat in die samelewing mekaar se dood gesoek het, word medewerkers in die boodskap van die lewe. Dit is die wonder van God se genade. Ook vandag nog. Tollenaars, mense wat net vir hulle eie sak lewe, word bekeer en begin vir hulle naaste lewe. Selote, mense, wat in hulle oënskynlik ywer net hulle eie begeertes uitleef, word bekeer en word yweraars vir hulle broers en susters. Mag die Here gee dat hier in ons midde voormalige tollenaars en voormalige selote saam soek na die vrede vir die gemeente. In die wysheid van Christus, en deur die krag van die Gees.

Amen

Liturgie: 

Votum & Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 119:17 en 50 (ywer)

Gebed

Lees & teks: Jakobus 3:13-4:3 (lees ook: Jakobus 1:5, 2:12) 

Sing Ps. 119:5 en 38 (wysheid)

Preek

Amenlied Ps. 40:4-6

Gebed

Geloofsbelydenis (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Skr. 16:1, 3, 5, 7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.