Wanneer jy in Jesus Christus glo, dan is kerkkeuse nie opsioneel nie, maar ‘n roeping!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-10-23
Teks: 
NGB 28
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Christus het ons sopas in die doop verseker – só sê die doopsformulier – dat Marcel een met Hom is in sy dood en opstanding. Of soos die formulier van die Gereformeerde Kerke dit mooi stel: Marcel is in sy dood en opstanding ingelyf. Dus, hy is ingelyf in Christus. Maar is hy daarmee outomaties ook ingelyf in die kerk? Dis nie so ‘n eenvoudige vraag om te beantwoord nie – want, só sê die doopsformulier, die verbond bestaan uit twee dele (‘n belofte en ‘n eis), en in die eis word ook klein Marcel geroep en verplig tot ‘n nuwe gehoorsaamheid. Wat beteken hierdie gehoorsaamheid vir sy inlywing in die kerk?

Oor enkele weke gaan ons getuies wees van die openbare geloofsbelydenis van 10 jongmense. In die formulier vir die aflegging van belydenis van geloof word teruggegryp na hierdie gehoorsaamheid waarvan die doopsformulier gepraat het: “As kinders en erfgename het ons deel aan die volle rykdom van die weldade van hierdie verbond, maar word ons ook tot gehoorsaamheid aan en aanvaarding van die verbond geroep.” En om hierdie gehoorsaamheid te bewys, word die jongmense vervolgens die geleentheid gebied om vyf vrae te beantwoord. En die laaste van hierdie vyf vrae lui soos volg: “Beloof jy, terwyl jy nou deel mag hê aan die volle gemeenskap met die kerk van Christus, om as ‘n lewende lid van die kerk die bediening van Woord en sakramente ywerig te soek? Beloof jy om jou gawes gewillig en met vreugde aan te wend tot nut en saligheid van die ander lede en tot uitbouing van die koninkryk van God? Beloof jy dat jy jou aan die christelike vermaning en tug sal onderwerp as jy afvallig sou word in leer of lewenswyse?”

Dus, dit lyk vir my dat, hoewel Marcel deel is van die kerk (ja, hy is ons jong broeder!), daar nogtans ‘n tyd in sy lewe gaan kom wanneer hy, net soos die 10 jongmense oor ‘n paar weke, sy gehoorsaamheid gaan moet wys deur ‘n besliste en ‘n publieke keuse. Dit kan nie so wees dat, omdat hy vandag hier in die kerk gedoop is, hy maar net altyd deel van die kerk sal wees nie. Nee, sê die formulier, “verbondskinders moet, wanneer hulle tot die nodige insig gekom het hulle geloof openlik voor die gemeente bely.” En daardie geloofsbelydenis behels ook die openlike keuse om homself by Christus se gemeente te voeg. En wanneer hy, deur middel van die openbare geloofsbelydenis, deel kry aan die volle gemeenskap met die kerk – wat die nagmaal insluit – dan roep die nagmaalsformulier hom én almal, wat hierdie keuse gemaak het, op: “Daarom moet ons almal wat deur ware geloof in Christus ingelyf is, saam een liggaam wéés.” U sien dus dat inlywing in Christus deur die geloof, noodwendig gevolg moet word deur aansluiting by sy liggaam (die kerk), en dat dít weer noodwendig gevolg moet word deur ‘n aktiewe saamleef as een liggaam. Kerk-wees is nie maar net iets wat oor ons kom nie, ons is nie maar net altyd deel van die kerk nie. Nee, dit is ‘n geloofskeuse en ‘n geloofsaktiwiteit – elke keer maar weer! En dit is waaroor artikel 28 gaan...

Tema: wanneer jy in Jesus Christus glo, dan is kerkkeuse nie opsioneel nie, maar ‘n roeping!

 

Die politieke skeur het regdeur God se volk geloop – die skeur wat deur God self geïnisieer is as gevolg van die sonde van Salomo en die volk; die skeur wat uiteindelik aan Jerobeam tien van die twaalf stamme sou gee, en aan Salomo se nageslag slegs twee (Juda en Benjamin). Hierdie politieke skeur, wat so grafies uitgebeeld is toe die profeet Ahia sy nuwe mantel in twaalf stukke geskeur het, was Gód se wil, sy plan. Maar, gemeente, Jerobeam (wat die groot begunstigde in hierdie skeuring is – immers, hy het tien dele gekry) word nadruklik opgeroep om van die politieke skeur nie ‘n skeur in die kerk te maak nie. Hy mag regeer oor alles wat sy siel begeer (kyk maar na vers 37 van 1 Konings 11), maar daar is perke! Perke wat bepaal word deur God se verbintenis aan Dawid en aan Jerusalem (vv. 32, 34, 36, en 38). God se uitverkore koning (Dawid en sy nageslag) en God se uitverkore plek (Jerusalem met die tempel); die verbondskoning en die verbondsdiens – hierdie twee is ononderhandelbaar! Jerobeam se heerskappy moet binne hierdie grense plaasvind. En dit sou hy doen as hy, soos wat hy in vers 38 opgeroep word, sou wandel in die weë van die Here deur te doen wat reg is, en God se insettinge en gebooie sou onderhou. Dus, polities was Israel op daardie stadium in geweldige beroering, sodanig dat Jerobeam ten einde laaste selfs moet vlug vir sy lewe (vers 40), maar godsdienstig het daar niks verander nie. Israel, al twaalf stamme, was steeds die één kerk van die Here, en Jerusalem (met die tempel) was steeds die plek waar God aanbid wou word.

 

Maar wat gebeur? Wel, kom ons lees saam uit 1 Konings 12:26-30...

U sien, die kerklike eenheid begin vir Jerobeam ‘n probleem word! Jerobeam begin die kerklike eenheid as ‘n bedreiging vir sy eie koninkryk beskou. En daarom laat hy twee goue kalwers maak – een in Bet-el (in die suide van die tienstammeryk) en een in Dan (in die verre noorde van die tienstammeryk). En hy roep sy ryk op: “Julle het nou lank genoeg opgegaan na Jerusalem – hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het.” Ons moet mooi luister na wat Jerobeam sê: dit is geensins sy idee om ‘n ander god te begin vereer nie – immers, hy praat van die god/gode wat die volk uit Egipte laat optrek het. Jerobeam wil dus steeds die God van Israel dien, maar nie meer in Jerusalem nie; nie meer saam met die kerk waar God haar bymekaar geroep het nie. En daarmee veroorsaak Jerobeam, by die reeds-bestaande politieke skeur, nou ook ‘n kerkskeur: julle hoef nie meer na Jerusalem kerktoe te gaan nie, julle kan sommer hier naby na Bethal en Dan gaan! En, so lees ons dan in vers 30, hierdie saak het tot sonde geword vir die volk. En die sonde gaan van kwaad tot erger, want ons lees enkele hoofstukke later van koning Agab dat hy nie net by Jerobeam se sonde van kerkskeuring bly nie, maar nog verder gaan deur die Baal te begin dien (1 Kon. 16:31-32).  

 

Sien u, gemeente, hoe lewensgevaarlik dit is om jouself van die kerk, waar Gód dit vestig en saamroep, afsydig te hou? Sien u die geleidelike geestelike agteruitgang onder die tienstammeryk? Sien u die verval? Eers afskeiding van die kerk in Jerusalem, vervolgens eiewillige godsdiens (die goue kalwers), en ten slotte afgodery (Baal)... En hoekom was hierdie afskeiding van die kerk in Jerusalem so gevaarlik vir Jerobeam en sy tien stamme? Of andersom gestel: wat was so besonders aan die kerk in Jerusalem? Want, broers en susters, in Jerusalem het die Here gekies om sy Naam te laat woon; dáár was immers sy huis, die tempel. En daar in die tempel het die Levitiese priesters namens die volk opgetree (dit is daarom opmerklik om te lees dat Jerobeam, nadat hy die kalwers in Dan en Bet-el opgerig het, die Levitiese priesters uit sy grondgebied verwerp het en sy eie priesters aangestel het – 2 Kron. 11:14-15 – maar dit net terloops...). Daar in die tempel in Jerusalem het die altaar van die versoening gestaan, daar in die tempel is die offers gebring vir die sondes van die volk, daar het die priesters in gebed vir die volk ingetree, daar het die onderrig in die Skrifte plaasgevind. Daar in die tempel was die totale diens van die versoening!

Dus, dit het nie daaroor gegaan dat die tweestammeryk, waar die tempel gestaan het, beter was as die tienstammeryk nie, dat hulle waardiger as die res van die volk was nie – nee, uiteindelik word hulle, as gevolg van hulle sonde en afgodery, net soos die tienstammeryk uit die land in ballingskap weggestuur. Jerobeam en die tienstammeryk moes nie by die kerk in Jerusalem bly oor die ménse daar nie – maar oor die Gód wat gekies het om sy Naam daar te laat woon! “Dit is my rusplek, sê die Heer. Hier vestig Ek my huis en troon, en hier wil Ek vir ewig woon. In Sion is my seën groot, hier red Ek armes uit die nood, hier is versadiging met brood” – so het ons gesing uit Psalm 132. Dit is die rede waarom dit so gevaarlik was vir Jerobeam en sy mense om hulle van die kerk in Jerusalem af te skei.

 

En dieselfde geld nog steeds vir die kerk vandag. Kom ons wees eerlik – as ons vir die mense hier in die kerk gebly het, dan het die meeste van ons al geloop. Hoeveel van ons is nie al seergemaak of teleurgestel deur mede-gelowiges nie? Hoeveel het nie al ‘n onaangename ervaring met ‘n ouderling of predikant gehad nie? Dit is nie verniet dat so baie mense vandag, wat hulleself Christene noem, meen dat hulle die kerk nie nodig het nie – “die kerk bring my mos nie in die hemel nie?!” En daarom klínk dit met die eerste oog opslag ook baie hoogmoedig wanneer artikel 28 bely dat die kerk ‘n heilige vergadering is van hulle wat verlos word en dat daarbuite geen saligheid is nie – ons huiwer selfs om dit na te sê. Want is óns dan so heilig? Is daar buite óns geen saligheid nie?

Maar, gemeente, ons belydenis sê hierdie dinge nie op grond van die mense in die kerk nie (hoewel die lewens van die gelowiges nie onbelangrik is nie, soos ons sal sien in artikel 29). Maar die vergadering van die kerk is nie heilig uit haarself of danksy jou en my nie – maar (lees weer artikel 27) danksy die bloed en die Gees van Jesus Christus. En buite die kerk is daar inderdaad geen saligheid nie – nie omdat die kerkmense so spesiaal is nie, maar omdat ons in die kerk die saligmakende leer en tug van Jesus Christus vind (waarvan art. 28 praat). Buite die kerk is daar geen saligheid nie – nie omdat jy en ek in die kerk sit nie, maar omdat die evangelie van genade hier klink! Omdat hier gepreek word, omdat hier gedoop word (soos vanoggend), omdat hier die nagmaal bedien word, omdat hier met liefde getug word. Omdat in die kerk die bediening van die versoening te vinde is! Die saligheid is hier! Calvyn praat pragtig hieroor wanneer hy die kerk die moeder van die gelowiges noem: “vir wie God hulle Vader, is die kerk hulle moeder”. En dan sê hy daaroor: “Daar is geen ander toetrede tot die lewe tensy die kerk ons in haar skoot ontvang, aan ons geboorte skenk, ons aan haar borste voed en ons onder haar beskerming en leiding bewaak nie; … hierby is daar buite haar skoot geen hoop op sondevergifnis en geen hoop op saligheid nie…” Hoor u dit: buite die kerk geen hoop op saligheid nie!

 

Beteken dit dat daar buite die kerk geen salige is nie? Dat daar buite die kerk geen gelowige is nie? Nee, gemeente, dit is nie wat ons sê nie. Die Here het die saligheid – die heerlike evangelie van Jesus Christus – aan sy kerk geskenk en aan sy kerk verbind. Maar dit beteken nie dat Hy self ook aan die kerk gebonde is nie, en dat Hy daardeur niemand buite die kerk salig kan maak nie. Die geskiedenis van Agab se dae wys dat Hy dit vir seker kan doen. Immers, op die dieptepunt van die tienstammeryk se afval en goddeloosheid onder koning Agab, bevind die profeet Elia homself ook op ‘n geestelike laagtepunt – hy is depressief, hy is neerslagtig: “Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek, en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het...” (1 Kon. 19:14). Maar dan wys die Here vir hom: ja, die tienstammeryk het inderdaad die kerk verlaat, die tienstammeryk het die saligheid – wat in die tempel in Jerusalem te vinde is! – versmaad. Maar Ek is nog steeds in staat om my saliges bymekaar te maak: “Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baal gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie” (1 Kon. 19:18).

Dus, die Here maak sy kinders bymekaar – ook buite die grense van die kerk. Ons dank Hom vir hierdie genade, en dit hou ons klein en beskeie. Maar die feit dat God ook buite die kerk sy kinders bymekaar kan maak (en Hy doen dit!), gee óns nie die reg om onsself van die kerk afsydig te hou nie. Dit het Elia kort daarvoor nog gewys – in sy stryd met die Baalpriesters op die Karmel in 1 Konings 18. Wanneer dit sy beurt is om die Here om vuur te vra, dan herstel Elia heel eerste die altaar van die Here: “Daarop neem Elia twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders – tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees – en hy bou met die klippe ‘n altaar in die Naam van die HERE...” (1 Kon. 18:31-32). Met hierdie herstelde altaar-van-twaalf-klippe wys Elia vir die volk: die kerkskeur, wat aanvanklik deur Jerobeam veroorsaak is, en wat onder Agab tot afgodery gelei het – daardie kerkskeur is onwettig! Israel behoort nie apart te vergader in Bet-el of Dan nie, en nog minder in die tempel van Baal. Nee, Israel moet weer na Jerusalem kerktoe gaan; hulle moet net soos én saam met Juda die Here dien! Dus, die heropbou van die altaar met die twaalf stene is ‘n oproep aan die tienstammeryk om hulleself weer by die kerk in Jerusalem te voeg.

 

En dit is ‘n oproep wat vandag nog net so kragtig klink in ons belydenis: “niemand, wat sy stand en status ook al is, mag hom in selftevredenheid van die vergadering van die kerk afsydig hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig.” Luister mooi: aansluit én verenig. Die eenheid van die kerk is nie slegs ‘n saak van lidmaatskap nie, dit beteken nie slegs om as lidmaat van die kerk geregistreer te wees nie. Dit is nie genoeg om maar net te sê dat jou naam in die lidmateregister van die VGK Pretoria staan nie. Op dié manier het talle mense in die verlede, maar ook vandag nog, hulle christenskap begrond. Maar nee, om jouself aan te sluit én te verenig, beteken ook om werklik deel te wees, jou insette te lewer, en soos die belydenis sê: saam te buig onder die juk van Christus.

En, gemeente, om dit van harte te kan doen, beteken dat jy nie met verdeelde aandag lid kan wees nie. Jy kan nie met jou een voet in die kerk staan en met jou ander voet in die wêreld nie. Sê ek daarmee dat ons wêreldvreemd moet wees. Nee, ons staan voluit in die wêreld – immers, ons werk en speel elke dag in hierdie wêreld – maar dan wel altyd as toegewyde kerklidmate. Ek staan nie in die wêreld as wêreldling nie, ek staan in die wêreld as skaap van die kudde van Christus – híér, in die kudde, is my lewe; híér lê my primêre roeping. En daarom kan artikel 28 ook sê dat dit die plig van alle gelowiges is om hulle af te skei van dié wat nie aan die kerk behoort nie. Moet daarom nie in die kring bly rondhang van dié wat nie aan die kerk behoort nie. Pasop daarvoor dat die swaartepunt van jou vriendskapsbande en sosiale kringe buite die kerk lê. Vriendskappe met mense buite die kerk van Christus (let mooi op hoe ek dit stel – ek sê nie: “vriendskappe met mense buite die VGK” nie; nee, ek sê: “vriendskappe met mense buite die kerk van Christus”) – hierdie vriendskappe is nie onmoontlik nie, maar dit mag nóóit onvoorwaardelike vriendskappe wees nie. Dit is altyd vriendskappe waaraan ‘n voorwaarde verbonde is, naamlik die oproep aan daardie mense om hulle te bekeer en hulle te voeg by die kerk van Jesus Christus. Broers en susters, moenie vir jouself ‘n heenkome vind in die wêreld en tussen wêreldse vriende nie, vind vir jouself ‘n heenkome in die kerk – want daar is die Naam van Christus, daar is die versoening. Sukkel jy daarmee? Is dit vir jou moeilik om ‘n plekkie in die kerk te vind? Dit is moontlik – die openheid en gasvryheid en vriendelikheid voldoen nie altyd aan die standaarde wat God gestel het nie; ons omgang met mekaar (en met gaste) laat soms veel te wense oor. En dit mag gerus genoem word… Maar moet dít nie die sentrale oorweging maak nie; maak jou sentrale oorweging die oproep van ons belydenis om jou by die kerk te voeg. Daar is die saligheid, ook jou saligheid!

 

En daarmee saam gaan dan die oproep van artikel 28 om, wanneer jy jouself onder die juk van Christus gebuig het, om volgens die gawes wat God aan jou gegee het die ander lede in die opbou van hulle geloof te dien. Nogmaals, dit is nie genoeg om maar net te sê dat jou naam in die lidmateregister van die VGK Pretoria staan nie. Jy kan nie maar net op die kantlyn staan en kyk hoe ander in die gemeente aktief is nie. Nee, jy het ook gawes gekry. Die liggaam sukkel as ‘n klein deeltjie alles moet doen; die gemeente trek swaar as net enkeles hulle gawes gebruik. Om jou by die kerk te voeg, beteken om aktief daarvan deel te wees. Om aktief deel te neem aan die eredienste, elke Sondag – tweemaal! Om aktief deel te neem aan die Bybelstudies en ander gemeentelike aktiwiteite. Om aktief te sorg vir die ander lidmate. So kom die kerk tot haar volle, Skriftuurlike funksionering.

----------------------

Terug na klein Marcel...

Hy is reeds ingelyf in Christus en in sy kerk – en daarvan is vandag se doop ‘n teken en ‘n bevestiging. Maar dit is nie ‘n kwessie van: eenmaal deel van die kerk, altyd deel van die kerk nie. Hy gaan opgroei – en sy ouers gaan hom leer en onderrig oor Christus en die kerk. En by die katkisasies gaan hy geleer en onderrig word. En by die skool. En deur sy oupas en oumas. En deur ons, die gemeentelede (so is ons immers opgeroep). Totdat hy oud genoeg is en gereed is om te sê: ek verstaan Wie Christus en wat sy kerk vir my is, ek verstaan dat ek in die kerk die leer en die tug van Christus vind, ek verstaan dat ek hier die saligheid vind. Ek wil deel daarvan wees! Dis wat daardie 10 jongmense oor enkele weke gelede gaan doen. Op ‘n baie spesiale manier gee hulle gehoor aan die oproep van artikel 28. Dit is ‘n oproep waaraan elkeen van ons voortdurend gehoor moet gee. En dit is ‘n oproep wat ons sonder skroom moet laat uitgaan na ander om ons heen: buite die kerk is daar geen saligheid nie! Nie omdat ons so spesiaal is nie, maar omdat die evangelie hier klink!

Amen

Liturgie: 

Votum en Seën: Ons hulpe is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 132:5, 9 en 10

Wetslesing

Sing Ps. 9:3, 7 en 12

Gebed

Doop

  • Doopsformulier
  • Vrae + bediening
  • Dankgebed
  • Sing Skr. 24:1

Lees:   1 Konings 11:26-40

Teks:   NGB art. 28

Preek

Amenlied Ps. 48:1, 4 en 5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 122

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.