Die klein wonder baan die weg vir die groot wonder

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-11-20
Teks: 
Lukas 1:56
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 1:56

 

As ons nagmaal vier, dink mens normaalweg aan die einde van Jesus se lewe op aarde.

Toe het Hy die nagmaal ingestel, die aand voor sy sterwe.

Toe is Hy aan die kruis gehang en het sy bloed gevloei.

Toe het Hy betaling gedoen vir die sondes.

Toe het Hy uit die dood opgestaan en kort daarna na die hemel opgevaar.

Tog het elke dag van Jesus se tyd op aarde te make gehad met daardie groot doel aan die einde van sy lewe, waarvoor Hy deur sy Vader na die aarde gestuur is.

Ja selfs elke dag voor sy geboorte.

Die hele Ou Testament was ‘n voorbereiding op sy koms, van die dag af toe die sondeval plaasgevind het.

 

Ons teks kom uit die allerlaaste periode van die ou bedeling, toe die koms van die Messias baie konkrete gestalte begin aanneem het.

Soos ‘n vliegtuig wat na ‘n lang vlug gedaal het, al vanaf die lughawe sigbaar is, en waarvan die wiele al uit is, gereed om te land.

 

Ons teks handel oor die buitengewone omstandighede wat direk aan die Messias se geboorte voorafgegaan het.

 

Tema: Die klein wonder baan die weg vir die groot wonder

 

Maria was ‘n jong vrou wat waarskynlik nog by haar ouers gewoon het.

Sy was verloof aan Josef – sien Mattheüs 1:18.

In daardie tyd het dit ingehou dat Josef se ouers ‘n huweliksooreenkoms met Maria se ouers gesluit het.

Vanaf daardie oomblik was hulle wetlik aan mekaar verbind.

Hulle het egter eers saam gaan woon nadat die huweliksfees plaasgevind het.

In daardie tussentyd, toe Maria dus al wetlik aan Josef behoort het, het sy in verwagting geraak.

Ons sien hierin God die Heilige Gees se akkurate beplanning.

Jesus sou wettig in Josef se gesin gebore word.

En toe, nadat Maria die berig van die engel ontvang het en die Heilige Gees nuwe lewe in haar geskep het, het sy, soos ons kan aflei, op aandrang van die engel direk vertrek na Elisabet, wat familie van haar was.

Die engel het haar naamlik meegedeel dat hierdie hoogs bejaarde vrou in verwagting was – ‘n wonder op sig.

By Elisabet aangekom, dit was letterlik aan die ander kant van die land, want Nasaret en die bergland van Juda lê minstens 100 kilometer uit mekaar, dus ‘n reis van meer as een dag, het sy daar vir ongeveer drie maande gebly.

 

Ons lees nie dat sy by haar vertrek vir Josef ingelig het nie.

Wel staan daar in Mattheüs dat Josef nie deur Maria nie, maar deur ‘n engel op die hoogte gebring is van die situasie, naamlik dat sy verloofde in verwagting was.

Dit was om die vermoede wat hy gehad het dat Maria ontrou was, en sy voorneme om in stilte van haar te skei, uit sy kop weg te neem.

Om in stilte van haar te skei was ‘n edele besluit van Josef, om sodoende – soos ons lees in Mattheüs 1:19 – haar nie in opspraak te bring nie.

Volgens die wet van Moses moees iemand wat ontrou was, gestenig word.

Dit het ook gegeld vir die tyd van verlowing, as die huwelik al wetlik gesluit was maar die paartjie nog nie saamgebly het nie.

Maar terwyl hierdie plan by Josef besig was om vorm aan te neem, lees ons dat die engel aan hom verskyn om die ware toedrag van sake aan hom mee te deel.

Die verskyning van die engel aan Josef was so dus die regte tydsberekening deur die Here.

 

Ook ontvang Josef nou die naam wat hy aan die toekomstige kind sal moet gee.

So skakel die hemelse Vader Josef hier in en gee hom die taak om ‘n aardse vader vir sy Seun te word.

Dit is naamlik die reg van ‘n vader, dit is wat van ‘n vader verwag word om aan te kondig met watter naam ‘n kind deur die lewe sou gaan.

En dan kan ons ook in Mattheüs 1 lees dat Josef, die oomblik toe Maria teruggekeer het, haar as vrou geneem het, alhoewel hy geen gemeenskap met haar gehad het voordat sy haar eerste kind gebaar het nie.

Maria het dus drie maande by Elisabet gebly.

Dit wil sê dat sy in haar vierde maand van swangerskap was, toe sy teruggekeer het na Nasaret.

 

Al hierdie berekeninge is nie sonder betekenis nie.

Ons kan hieruit aflei hoe meesterlik die hemelse Vader die gebeurtenisse gelei het.

Ons bely nie toevallig dat alle skepsele so in sy hand is, dat niemand sonder sy wil hom kan roer of beweeg nie (Sondag 10).

Die HERE het dit so gelei dat Maria en Josef daardie eerste maande van haar swangerskap geen kontak gehad het nie.

Maria was selfs aan die ander kant van die land.

‘n Skinderstorie dat Josef die eintlike pa moes wees, is so voorkom.

En ook die feit dat Maria daardie tyd juis by Elisabet was, was deel van God se plan.

Sy het oorgebly by ‘n ou egpaar, waarskynlik haar oom en tannie.

En dit juis noudat Elisabet op wonderbaarlike wyse op haar ouderdom in verwagting was.

Hierdie plek, by Sagaria en Elisabet, was die plek deur God uitverkies vir ons Middelaar om sy eerste drie maande op aarde deur te bring.

So het die hemelse Vader gesorg dat daar geen aanleiding kon wees vir verkeerde vermoedens nie.

En daar by Sagaria en Elisabet, selfs nog voordat Johannes die Doper gebore was, het hy al die wegbereider vir die Messias geword.

Die klein wonder baan die weg vir die groot wonder.

By Maria se aankoms vertel Elisabet vol verwondering: “toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.” (Luk 1:44)

 

Oor die wonder van Elisabet se swangerskap was daar geen twyfel nie.

Almal was verbaas oor wat daar besig was om te gebeur in die huis van Sagaria.

En dit geld ook vir die gesig wat hy in die tempel gesien het, en oor die feit dat hy met stomheid geslaan is.

In hierdie omgewing plaas God sy Seun vir die eerste drie maande.

Johannes sy voorlper, en Jesus wat later sou volg in die weg wat hy gebaan het.

Dit was ‘n weg van verwondering, van die oomblik af dat Johannes deur sy ma verwag is.

En dit sou so bly, want in later dae het Johannes die Doper uitgegroei tot ‘n groot en gerespekteerde profeet onder die volk.

So baan Johannes, van die allereerste begin af, die weg in die harte van God se volk om weer te let op hulle God wat wonders doen.

Die kleiner wonder baan die weg vir die groot wonder.

Dat daar ‘n noue verband is tussen Elisabet en Maria, word vir die mense duidelik, en so ook tussen die baba wat Elisabet verwag en die kind van Maria.

So het God deur die wonder van Johannes se geboorte al die weg gebaan vir die Messias se geboorte.

‘n Wonder wat die wonder by Elisabet by verre sou oortref, naamlik die ontvangenis deur die Heilige Gees en die geboorte uit die maagd Maria van God se Seun.

In hierdie groter historiese konteks kry ons teks sy betekenis.

Dit is een skakel in die komplekse en fyn beplande geskiedenis van God se verlossingsplan.

 

En wat so indrukwekkend is, is dat die hemelse Vader al vantevore rekening gehou het met kleingeloof of ongeloof by sy volk.

Dink net hoe mense sou gereageer het as Maria vir hulle vertel het dat ‘n engel aan haar verskyn het met ‘n verhaal dat sy swanger gaan word sonder omgang met ‘n man.

Dit sou vir hulle nie net ongeloofwaardig wees nie, maar ronduit ‘n aanstoot.

Hoe durf ‘n jong meisie so iets te beweer?!

Maar die Vader het in sy beplannign dit so gelei dat daar by die mense geen aanleiding was om so te dink nie.

En ook, omdat Josef en Maria ver uitmekaar was, die vermoede weg te neem dat Josef die vader kon wees.

Toe Maria as verwagtende vrou terugkeer uit die bergland van Juda, daar waar die wonder plaasgevind het van ‘n bejaarde vrou wat ook in verwagting was, het die mense die twee swangerskappe outomaties met mekaar in verband gebring.

As Elisabet op so ‘n wonderbaarlike manier in verwagting was op haar ouderdom, dan moet dit wat Maria vertel het oor die engel en sy boodskap, nie ligtelik opgevat word nie.

 

So, deur dinge so te beplan, kom God sy kleingelowige volk tegemoet.

Hy beskerm hulle teen ‘n skeptiese houding.

Want laat dit duidelik wees, ondertussen was Satan nie passief nie.

Toe hy besef dat die volheid van die tyd aangebreek het, het hy uiteraard met ‘n teenoffensief begin.

Dit is duidelik uit alles wat Lukas skryf.

Sy evangelie loop uit op die antiklimaks van die volk wat deur Satan opgehits word om te skreeu dat hulle eerder verkies dat Barabbas vrygelaat word, eerder as die Messias deur hulle Verbondsgod gestuur.

Wat hulle betref kon Jesus maar gekruisig word.

En dit terwyl Pilatus tot drie maal getuig het dat hy geen skuld in Jesus kon vind nie.

Satan was onder die indruk dat sy teenoffensief besig was om suksesvol te word, toe die hele volk onder leiding van die Sanhedrin, van Fariseërs en Sadduseërs, hulle eie Messias verwerp het, en selfs sy eie dissipels het nie die moed gehad om daarteen op te staan nie.

Tog was dit uiteindelik nie Satan nie, maar God wat die oorwinning op Golgota behaal het.

“Dit is volbring”! het sy Seun geroep.

Die doel hoekom Hy na die aarde gekom het, was volbring.

Die skuld was betaal.

En as bewys daarvoor het Hy uit die graf opgestaan.

 

Gemeente, elke vers in die Evangelie handel in wese hieroor.

Hoe God met onnavolgbare bekwaamheid en akkuraatheid sy heilsplan ten uitvoer gebring het.

En dit geld selfs vir die kort sinnetjie in ons teks: Maria het by Elisabet omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe.

Bely ons nie dat God ons voetstappe bepaal nie?

Dat Hy, soos daar in Spreuke staan, die hart van konings lei soos waterstroompies.

Dat niks per toeval in hierdie lewe met ons gebeur nie.

Hoeveel te meer was dit nie waar by Maria, wat God se eie Seun verwag het!

Die Almagtige het elke beweging elke sekonde noulettend dopgehou.

Hoekom het sy na Elisabet gereis?

Hoekom het sy drie maande daar gebly?

Was dit net haar eie voorkeur?

Nee, soos sy gewillig bely het: “Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord.” (Luk 1:38)

In God se draaiboek was hierdie afspraak met Elisabet al vooraf beplan.

Die eerste ontmoeting tussen die Messias en sy wegbereider.

En toe Maria in haar vierde maand terugkeer, was sy sigbaar swanger.

Want ook met haar, net soos met Elisabet, het ‘n wonder plaasgevind.

Na min of meer ses maande sou Maria weer die lang reis na die suide onderneem, hierdie keer vergesel van haar eggenoot Josef.

Josef wat ook deur die engel op die hoogte gebring is van die wonder, en die taak wat vir hom gewag het.

Hierdie keer was die bestemming van die reis nie die huis van Elisabet nie, maar Betlehem, sodat die profesie van Miga vervul kon word dat die Messias gebore sou word in die stad van Dawid.

Ook daar sou Satan later alles doen om die Messias se koms te dwarsboom.

Dit het selfs gelei tot die wreedaardige moord op al die jong kindertjies van Betlehem.

Maar weer het hy nie geslaag nie.

Te midde van alle teenstand hou God die leiding.

Al hierdie gebeurtenisse was die aanloop tot die groot oorwinning wat sy Seun op aarde sou behaal, die hoogtepunt van die Evangelie.

Dit wat ons vandag weer mag herdenk.

 

Intussen het die heilsgeskiedenis nie stilgestaan nie.

Christus sit nou op sy verhewe troon.

Al vele eeue in die nuwe bedeling dek Hy sy tafel vir sy bruid op aarde.

Ook vandag voed en verkwik Hy ons vir ons lewe op aarde en vir die ewige lewe.

Want ook in ons tyd is die Satan nog aktief, en probeer om God se plan te dwarsboom, hierdie keer sy plan met ons lewens.

Maar, danksy Christus se oorwinning, weet ons dat hy sonder sy wil hom nie kan roer of beweeg nie, en ons sy kinders niks kan aandoen nie.

Danksy Christus is ons verseker van ons hemelse Vader se beskerming.

As Hy selfs sy eie Seun nie gespaar het maar terwille van ons aan die kruisdood oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? (Rom 8:32)

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 65:1

Wet

Ps 130:2-4 (1e beryming)

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Lukas 1:26-38; Ps 65:2

2e tafel: Lukas 1:39-56; Ps 65:3,4

3e tafel: Danksegging; Ps 65:5,6

Dankgebed

Teks: Lukas 1:56

Preek

Sb 10:1,2

Gebed

Kollekte

Sb 10:3-6

Seën