Die HERE verkies ‘n Gideonsbende

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-01-15
Teks: 
Rigters 7:2 & 9
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 7:2 & 9

 

Dit is 2023 en ons mag weer ‘n begin maak met ‘n nuwe kerklike jaar.

Elke Sondag twee eredienste.

Vandag het die Kerkblad weer verskyn.

Hierdie week begin die katkisasies weer.

Die kerkraad gaan hierdie week sy openingsvergadering hou.

Die Bybelstudies kom weer op dreef.

Planne word gemaak, die Kerkkalender hang of lê êrens in ons huise, met al die datums reeds vasgestel vir allerlei dinge.

 

Wat gaan hierdie jaar vir ons as gemeente bring?

Gaan dit ‘n opdraende- of ‘n afdraendepad vir ons as gemeente wees?

Gaan daar kinders gebore word?

Gaan daar mense te sterwe kom?

Gaan ons groei in aantal of nie?

Gaan ons groei in diepgang?

 

Kom ons luister vanoggend weer na woorde wat deur alle tye heen hulle waarde behou, die woorde van lewe, God se Woord self.

 

Tema: Die HERE verkies ‘n Gideonsbende

 

Gideon was ‘n mens soos elkeen van ons.

Daar is geen rede om hom op ‘n verhoog te plaas nie.

In die vorige hoofstuk kan mens lees hoe geduldig die HERE met Gideon moes wees.

Hoe hy gesukkel het in sy geloof.

Dit het die nodige tyd geneem voordat Gideon sekerheid gehad dat dit die HERE is wat hom roep, en dat die HERE met hom sal wees.

Die HERE het hom naamlik geroep in die stryd teen die Midianiete, maar dit was veral ‘n stryd teen die afgod van die Midianiete, teen Baäl, wat Israel ook begin dien het.

Uiteindelik het Gideon gegroei in sy vertroue op die HERE alleen.

Aan die begin van hoofstuk 7 word Gideon betekenisvol Jerubaäl genoem, stryder teen Baäl.

Maar dit wil nie sê dat alles toe net voor die wind sou gaan nie.

Gemeente, as jy 100% op God vertrou, werk dit nie so dat God vir jou as beloning ‘n maklike lewe gaan gee en alles net voor die wind sal gaan nie.

 

Nou hier in hoofstuk 7 wil dit voorkom of die HERE met Gideon se emosies speel.

Nadat Gideon die leiding op hom geneem het en hy dit reggekry het om baie manskappe te versamel  op ‘n strategiese plek, kom die HERE met ‘n baie rare opdrag.

Vir ‘n aanvoerder wat op die puntjie staan om ‘n groot veldslag te veg, moes Gideon ‘n totaal irrasionele ding doen.

Pleks van die manskappe moed inpraat, veral die wat nog bang was, sê die HERE dat hy die banges moes huis toe stuur.

Normaalweg werk dit in weermagte so dat die banges, hulle wat deserteer, net daar en dan doodgeskiet word.

Of ten minste dat hulle wat nie vir diensplig opdaag nie, in die gevangenis kom.

Maar nee, die HERE se oorlogswette is anders, en sy bevel was vir geen misverstand vatbaar nie.

Sy oorlogswette in vind ons in Deuteronomium 20.

Daardie wette begin soos volg:

“As jy na die oorlog uittrek teen jou vyand en perde en strydwens sien, ‘n volk meer in getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie, want die HERE jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het, is met jou.”

Dit is die vernaamste, die HERE vra vertroue in Hom.

Daarna kom daar ‘n sifting.

Ons lees in die oorlogswette dat diegene wat ‘n nuwe huis gebou het en nog nie ingetrek het nie, mag huis toe gaan.

Verder, die wat ‘n wingerd geplant het en nog nie een keer geoes het nie, mag ook huis toe gaan.

Wie verloof is maar nog nie getroud nie, mag ook huis toe gaan.

En wie bevrees is en week van hart, ook hy mag teruggaan huis toe. Hy mag die ander nie aansteek met sy kleingeloof nie.

Duidelik is getalle as sulks nie vir die HERE deurslaggewend in die stryd nie.

 

So verwag die HERE nou ook van  Gideon om sy oorlogswette toe te pas.

Stuur die banges huis toe, die wat kleingelowig is.

En gemeente, die effek was ook nie kleinskalig nie.

Dit was nie nodig om dit twee keer te sê nie.

Twee en twintig duisend, dit is meer as die helfte!

Twee derdes het huis toe gegaan.

Het dit daarmee te make dat so baie in God se volk afvallig geraak het?

Dat so baie ook vir Baäl ontsag begin kry het en nie meer vir die HERE alleen nie, nie werklik vertrou het dat die HERE hulle van so ‘n oormag Midianiete sou kon bevry nie?

Elke generaal se moed sou in sy skoene sak.

Net tienduisend het oorgebly.

 

Soos gesê, dit lyk of die HERE met Gideon se emosies speel.

Hy gee eers vir hom 32 000 man. In Hebreeus is dit 32 elafim – 32 leërafdelings.

Hebreeuse kenners stoei nog met die vraag of ‘n leërafdeling letterlik ‘n 1000 man was, of dalk bietjie minder.

Maar in elk geval, al was dit letterlik 32 000 man, nog steeds was dit minder as die Midianiete, doe Amalekiete en al hulle bondgenote, waarvan ons lees in vers 12 dat hulle soos sprinkane in menigte was, en hulle kamele ontelbaar soos die sand aan die seestrand.

Nietemin, al is hulle reeds ‘n minderheid, van die HERE mog die wat bang was en gebeef het, huis toe gaan.

 

Gideon bly met 10 duisend man oor.

Maar ook dit was nie die einde nie.

Daar kom ‘n tweede sifting, nog veel drastieser.

Gideon is stomgeslaan, 10 duisend was skynbaar nog steeds te veel.

Die HERE beveel Gideon om sy manskappe af te bring na die water.

In vers 1 lees ons dat Gideon en die manskappe laer opgeslaan het by die fontein Harod.

Behalwe dat dit ‘n strategiese plek was, was dit gewoon nodig met soveel duisende mense, om by ‘n plek te kampeer waar daar water was.

En daardie dag het Gideon, op bevel van die HERE vir die manskappe, afdeling vir afdeling, geleentheid gegee om by die fontein te kom water drink, en terwyl hulle drink, hulle noukeurig dopgehou.

Die resultaat was, en dit op bevel van die HERE, dat 9 700 man huis toe moes keer en slegs 300 oorgebly het.

Die HERE beproef Gideon tot die uiterste.

Hy gee hom ‘n leërmag, en daarna neem Hy dit weer van hom af.

Duidelik wil Hy vir hom leer dat hy nie op sy leërmag moet vertrou nie.

 

Nou voordat ons verder gaan, kom ons staan vir ‘n oomblik stil by hierdie sifting.

Uit die manier van drink moes Gideon ‘n seleksie maak.

Oor hierdie drinktoets het eksegete al baie kopgekrap.

Die HERE sê vir Gideon: Daar is die wat met hulle tong die water gaan oplek soos ‘n hond.

En dan is daar die wat op hulle knieë vooroor gaan buig om te drink.

Op grond hiervan moes Gideon hulle sif.

 

Gemeente, aanvanklik het ek gedink die HERE het op hierdie manier die beste soldate vir Gideon uitgesoek.

Dit was hulle wat nie heeltemal op hulle knieë afgebuk het nie, maar vinnig water opgelek het en steeds waaksaam gebly het.

Op hierdie manier het die HERE dus gesorg dat Gideon net die beste manne aan sy sy kry, die keursoldate, die spesiale magte.

Die vraag is dus:

Was hierdie proef ‘n middel om te onderskei tussen geoefende soldate en amateurs?

 

Maar toe ek die kommentare op hierdie hoofstuk lees, blyk dat baie uitleggers dit juis andersom sien.

Die wat gelek het, moes op hulle mae gaan lê om dit reg te kry.

Daar word aangevoer dat die opmerking “met hul hand na hul mond” nie in die Septuaginta staan nie.

Dus, hierdies wat soos ‘n hond gelek het, was juis die dom soldate, wat skynbaar heeltemal plat gaan lê het.

God het dus vir Gideon die domste soldate uitgekies, die wat die minste geoefen was, die minste geskik vir die oorlog, en dit juis om Gideon nog meer te laat vertrou op die HERE alleen.

Nie die dapper en ervare soldate sou die oorwinning gee nie, maar Hy.

Al die beter en meer ervare soldate moes Gideon huis toe stuur.

Tot sover verskeie eksegete.

 

Nou is dit gelukkig nie nodig om tussen een van hierdie twee opsies te kies nie, gemeente, want daar is ‘n beter uitleg.

En dan moet ons veral let op twee woorde, naamlik gelek en hond.

Onthou, ‘n hond was in daardie tyd nie ‘n troeteldier nie, maar ‘n veragtelike dier, ‘n aaseter.

En die woord gelek kan ook vertaal word met geslurp, net soos ‘n hond drink met die nodige lawaai.

Hierdie driehonderd man se manier van drink word dus met ‘n hond vergelyk.

Dis nie regtig ‘n kompliment nie.

Dit dui eerder op onverfynde maniere, ongemanierd, barbaars.

En dit is die punt waaroor dit gaan.

Die HERE kies hier ‘n groep vanuit die laagste stande van die bevolking.

Mense waarvoor die meerderheid hulle neuse optrek.

So die onderskeid is nie tussen geoefende en ongeoefende soldate nie, maar tussen belangrik en beskaafd aan die een kant en ongebelangrik en veragtelik aan die ander kant.

 

En is dit nie ‘n tipiese manier van werk, ‘n tipiese keuse wat God dikwels maak nie?

Dink aan Dawid, die veragtelike skape-oppasser, die jongste uit die gesin.

Dink aan Betlehem, klein veragtelike dorpie, teenoor die hoofstad Jerusalem.

Dink aan Josef en Maria, onbelangrike mense uit Nasaret ...

Kan daar iets goeds uit Nasaret kom?

Die punt waaroor dit gaan, staan duidelik in vers 4 – die HERE sal hulle uitsoek, nie Gideon nie.

As Gideon kon uitgesoek het, sou hy natuurlik die keurtroepe, die spesmagte gevat het.

Maar nie die HERE nie.

En die opdrag wat Gideon later ontvang, die gevegsplan, was ook nie werklik ‘n onderneming wat by spesmagte gepas het nie, eerder by amateurs.

Geen komoeflering, geen bekruiping van die vyand nie, geen bewapening nie, maar hulle moes onbeskermd op die vyandige kamp afstorm met baie lawaai en helder verlig.

 

Ook vandag soek die HERE uit wie Hy in sy Gideonsbende wil hê.

En dit is nie noodwendig die wyses en aansienlikes van hierdie wêreld nie.

Dus moenie jou neus optrek vir die broer of suster wat langs jou sit nie, want die HERE het hom of haar ook uitgekies.

 

Net gou oor die leë kruike.

Dit het die HERE ook voorberei.

In vers 8 lees ons dat die 300 die padkos van die manskappe geneem het.

Hoekom eintlik?

Was dit omdat die padkos van die 10 duisend wat huis toe gegaan het, nodig was vir die oorlewing van hierdie klein groepie van 300 soldate?

Nee, want soos ons agteraf weet, dit het nie ‘n lang uitgerekte oorlog van weke of selfs maande geword nie.

In een nag sou dit verby wees.

Die rede is omdat die padkos in kruike gebêre was, en dis die kruike wat God nodig gehad het.

Daarmee sou Hy in een nag die vyand in hulle hand gee.

Dit was God se verrassende plan.

 

Nou wil dit nie sê ons hoef nooit voor te berei, as ons met die vyand in die poort praat, om die bekende uitdrukking uit Psalm 127 te gebruik nie.

Ons moet onsself bekwaam, voorberei, om ons geloof te kan verdedig, en om ander oor te haal tot die geloof, om die aanslae op die kerk af te weer.

Solank ons bly besef dat die HERE uitkoms sal gee, en dan so dikwels op ‘n vir ons onverwagte en onverklaarbare wyse uitkoms sal gee.

 

Gideon se vertroue is op die proef gestel.

Sal hierdie God wat in die verlede wonders gedoen het, wat in die verlede groot veldslae met ‘n klein minderheid gewen het, sal Hy dit ook nog in die hede kan doen?

Sal Hy met so weinig voetsoldate die Midianiete op hulle duisende kamele kon verslaan?

Maar al het God Gideon se geloof op die proef te stel deur sy leër drasties te verminder, tog het Hy hom nie wanhopig gemaak nie.

Want Hy gee vooraf aan Gideon die boodskap van oorwinning.

Vers 9: Ek gee dit in jou hand.

En ook hier kom die HERE Gideon se kleingeloof tegemoet.

Selfs uit die vyand se mond kry hy te hore hoe bang die Midianiete vir Gideon was, al was hulle in die meerderheid.

Ons lees hoe die bygelowige Midianiete in die leërkamp waarde aan ‘n droom geheg het.

En daardie droom was natuurlik nie toevallig nie!

Ons lees hoe die HERE daarvoor gesorg het dat Gideon dit ter ore kom.

En ook die feit dat Gideon Baäl se altaar en heilige boomstam afgekap het – sien die vorige hoofstuk – het die Midianiete ter ore gekom.

‘n Man wat dit met hulle god Baäl doen, en niks kom hom oor nie ...

Skynbaar kon Baäl niks teen hom doen nie ...

Dit het die vyand onseker gemaak, om die minste te sê.

 

Gemeente, dieselfde gebeur ook met ons.

Ons weet dat ons stryd teen ’n oënskynlike oormag nie onbeslis is nie.

In Christus, omdat Hy aan ons kant is, is ons alreeds oorwinnaars.

En al voer vyande hulle tirades teen die kerk en teiken hulle die gelowiges, tog besef hulle:

Mog dit waar wees, soos daar in die Bybel staan, dat Christus uit die dood opgestaan het.

En mog dit waar wees, soos die Bybel sê, dat daar ‘n ewige straf wag vir hulle wat nie voor Hom buig nie, dan gaan ons ‘n baie donker toekoms tegemoet.

Ongelowiges, onkerklikes, onderdruk hierdie gedagte, hulle skreeu dalk des te harder, maar diep binne knaag daardie besef wel.

 

Vervolgens vertel die Rigterskrywer hoe die driehonderd met ramshorings en leë kruike en fakkels in die donkerte van die nag ‘n groot lawaai gemaak het.

Die helse lawaai het die Midianiete in hulle bygelowige voorgevoelens bevestig, en hulle het laat spaander.

Hulle het selfs teen mekaar losgebrand.

En ook dit was nie toevallig nie.

Soos ons in vers 22 lees: Dit was die HERE wat dit veroorsaak het.

En vervolgens was al wat die Israeliete eintlik hoef te gedoen het, om die vyand wat alreeds besig was om te vlug, agterna te jaag.

Die HERE het die oorwinning gegee, en hulle moes dit net afrond.

 

Dit is die kern van die boodskap.

Al het Gideon uitgegroei tot ‘n groot leier, is dit die HERE wat die oorwinning gegee het.

Gideon was ook ‘n mens, wat in sonde ontvang en gebore is.

Hy was afkomstig uit ‘n gesin waar die afgod Baäl vereer is.

Daar was niks uit homself wat hom meriete gegee het nie.

Die HERE moes telkemale geduld met hom hê, weens sy kleingelowigheid.

Twee, tot drie keer toe het hy ‘n bonatuurlike teken van God gevra.

Sy vertroue op God het maar stadig in plek gekom.

Maar gaandeweg het vertroue die plek van die wantroue en angs ingeneem.

Die HERE het hom laat uitgroei tot ‘n leier.

Maar aan die einde van die dag was dit nie Gideon se militêre skranderheid, of die van sy spesiale magte, of selfs sy geloofsvertroue wat Israel gered het nie.

Dit was God se toewyding aan sy verbond, aan sy belofte, dat Hy met sy volk sou wees.

 

Later in die Skrif, in Hebreërs 11, ontmoet ons weer vir Gideon.

Want Gideon se lewe getuig ook van die geloof waartoe die Hebreërskrywer ons aanspoor:

“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebr. 11:1)

En, gaan die skrywer van Hebreërs verder: “wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal, wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, ... krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het.” (Hebr 11:32-33)
Duidelik wou God vir Gideon leer dat hy nie op sy leërmag moet vertrou nie, maar slegs op God se Woord.

 

En vandag, aan die begin van 2023, is dit wat die HERE vir ons met hierdie Bybelhoofstuk leer.

Ook ons is ‘n spreekwoordelike Gideonsbende, nie meer as 300 nie.

Graag sou ons meer wou gewees het.

Graag sou ons wou sien dat baie mense, ook van buite die kerk, by ons aansluit.

Dat sending en evangelisasie duidelike vrugte afwerp.

En natuurlik moet ons nadink en evalueer en onsself krities ondersoek op hierdie gebiede.

Maar as alles net voor die wind gaan, is daar ook die gevaar dat ons selfvoldaan raak.

Die gevaar van grootspraak – kyk net wat ons reggekry het!

Laat ons eerder aan die begin van ‘n nuwe jaar opkyk.

Die HERE moet dit doen!

Laat die wat bang is, onseker, kleingelowig, huis toe gaan.

Of liewer, laat hulle ook opkyk en dit van Hom verwag.

Al soveel keer het Hy uitkoms gegee, so dikwels uit onverwagte hoek, op onverklaarbare wyse.

Ontvang jou krag uit swakheid.

Ook met ‘n Gideonsbende kan ‘n leër op die vlug gedryf word.

Die HERE verkies self sy Gideonsbende.

 

Israel moes ‘n lig vir die nasies wees.

Hulle kon dit wees deur alles van hulle God te verwag, geen behoefte aan ander gode te hê nie.

Hulle kon dit wees deur te getuig hoe ‘n voorreg dit was om deel van sy uitverkore volk te wees.

 

Net so kan en moet ons vandag ‘n lig in ‘n donker wêreld wees.

Praat groot van die HERE!

En vertel ook vir ander hoe dankbaar jy is om by sy gemeente te mag wees.

Ja praat positief oor sy kerk.

En daar is mos so baie rede om positief te wees!

Hoe goed is dit nie om by hierdie groep mense te behoort!

Hulle, die gemeenskap van die heiliges.

In sy genade het Hy ook jou uitgekies om deel van hierdie bende te wees.

En die aanvoerder is vandag nie meer Gideon nie, maar ons Here Jesus Christus.

Die stryd wat ons vir Hom stry is nie onbeslis nie.

Hy het reeds die oorwinning behaal.

En nou versamel Hy sy skape.

Hulle is nie altyd wyses en aansienlikes op aarde nie.

Maar vir hulle is daar wel ’n toekoms op aarde.

Hulle, die sagmoediges, sal die aarde beërwe (Matt 5:5).

 

Gemeente, al is ons ‘n Gideonsbende, laat ons met vertroue ‘n nuwe jaar tegemoet gaan.

Anno Domini, die jaar van ons Here Jesus Christus 2023.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 75:1,5

Wet

Ps 79:5,6,9

Gebed

Skriflesing: Rigters 7

Ps 20:5,6,7,8

Teks: Rigters 7:2 & 9

Preek

Ps 22:11,12

Gebed

Kollekte

Ps 127:1-4

Seën