Ook Anno Domini [in die jaar van die Here] 2023 mag ons geduldig op Christus se koms wag!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2023-01-01
Teks: 
Jakobus 5:7-11
Verwysing: 
Jakobus-reeks #9
Preek Inhoud: 

Broers en susters,

Gisteraand[1] was dit die groot besigheidsmanne – deur Jakobus se oproep aan hulle het ons geleer wat dit beteken om ‘DV’ te sê: as die Here wil. Vanoggend is dit die plaasarbeiders se beurt. Ons beweeg dus vanaf die handelsfeer na die boerderysfeer – maar met dieselfde doel: hoe gaan ons as gelowiges die toekoms in, ook die toekoms wat 2023 genoem word? Eers (in verse 1-6) rig Jakobus hom tot die ryk grondbesitters wat, terloops, nie gelowiges is nie; hulle is nie lidmate van die gemeente nie. Die kans dat hulle ooit sou gelees het wat Jakobus oor hulle skryf, is dus baie skraal. En tog beskryf Jakobus uitgebreid hulle gierigheid, die onreg wat hulle die arbeiders aandoen deur hulle lone terug te hou, en die ellende wat as gevolg daarvan oor hulle sal kom. En hierdie beskrywing vorm dan die agtergrond vir Jakobus se oproep in verse 7-11 aan die gelowige arbeiders. Hoe gaan ‘n mens as gelowige die toekoms in wanneer jy soveel onreg moet verduur? Wel, sê Jakobus, “wees geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here” (vers 7). Dis in ‘n neutedop Jakobus se boodskap in ons teks: wees geduldig (driemaal: v. 7, 8 en 10), want die wederkoms is naby (weer driemaal: v. 7, 8 en 9).

Wees geduldig, want die wederkoms is naby – dit klink dalk vroom, maar is dit werklik wat ons wil hoor? Hoe naby is naby: die wederkoms duur nou al amper tweeduisend jaar! Hoe naby is die wederkoms werklik? Dit is ‘n verstaanbare vraag, en tog kan ons nie op hierdie manier meet nie. Die nabyheid van die wederkoms word nie gemeet in jare of eeue nie. Hiervan weet ons, volgens die hele Nuwe Testament, in elk geval niks nie. Nee, die nabyheid van die wederkoms word gemeet aan die werklikheid van die eerste koms! Ons is nie geduldig omdat ons weet dat die Here Jesus vanaand of môre, of oor vyf of tien jaar terugkom nie; ons is geduldig omdat ons weet dat Hy rééds gekom het. Die toekoms het reeds in die tyd ingebreek, die ewigheid is nie meer stil nie. Só weet ons dat die wederkoms op hande is – en daarom Jakobus se oproep: wees geduldig, hou moed! En met behulp van drie voorbeelde verduidelik Jakobus vir ons presies wat dit beteken om geduldig te wees terwyl ons op die wederkoms wag...

Tema: Ook Anno Domini [in die jaar van die Here] 2023 mag ons geduldig op Christus se koms wag! Wat dít behels, word aan ons geleer deur:

  1. Die landbouer
  2. Die profete
  3. Job

 

1. Die landbouer (vers 7) – hier gaan dit nie oor die groot grondbesitters waarvan Jakobus in verse 1-6 gepraat het nie; ook nie oor die arbeiders vir wie hy in verse 7-11 probeer bemoedig nie. Nee, hier gaan dit oor die egte boer – die boer wat met liefde sy land bewerk, daarop saai, en vervolgens wag op die kosbare vrug. Maar wat doen hy in die tyd tussen saai- en oestyd? Wat doen hy terwyl hy wag? Sit hy maandelank by die huis en werk op die boervrou se senuwees? Nee, sê Jakobus, hy beoefen geduld! Geduld totdat die vroeë reëns en die laat reëns gekom het. Nou is dit interessant dat, in Hosea 6:3, die reëns (veral die laat reëns) gebruik word as ‘n beeld van die koms van die HERE: “sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.” Dus, wanneer Jakobus sê dat die boer geduld beoefen totdat die vroeë en die laat reëns gekom het, dan lyk dit asof hy daarmee bedoel dat die boer geduld het tot op die wederkoms van die Here – want die wederkoms is immers die vrug waarop hy hoop en wag. Tot op die oomblik van die vrug (van die wederkoms) sit hy nie passief by die huis nie, maar is hy aktief besig om geduld te beeofen. En wat behels dit konkreet vir die boer? Wel, hy sorg dat die grond gesond bly, hy bestry die onkruid, hy kyk uit vir enige peste of plae wat die gewasse bedreig, hy sorg dat alles in plek is vir die oestyd. Die boer se beoefening van geduld is iets aktiefs!

In vers 8 trek Jakobus die lyn deur na sy lesers: “Julle moet óók geduldig wees...” Dus, tot op die wederkoms van die Here Jesus moet sy leser aktief geduld beoefen. Nou, ons het gehoor wat dit vir die boer beteken, maar wat beteken dit konkreet vir Jakobus se lesers? Wel, dit beteken konkreet dat hulle geduldig moet wees in die situasie van onreg waarin hulle hulself bevind. Hulle word wreed uitgebuit deur die groot grondbesitters, hulle lone word teruggehou (vers 4), hulle word veroordeel (vers 6 – waarskynlik het die ryk grondbesitters die regbanke misbruik om die armes onder hulle duim te hou), hulle word vermoor (vers 6 – waarskynlik deurdat hulle onmenslik hard moes werk en geen lone daarvoor ontvang het nie). Maar in dit alles, sê Jakobus vir sy lesers, beoefen baie bewustelik en baie aktief die vrug van die Gees, die vrug van geduld. En doen dit deur julle harte te versterk (vers 8). Teenoor die rykes wat hulle harte vet gevoer het vir die slagdag (vers 5), word Jakobus se lesers opgeroep om hulle harte sterk te maak. Dit beteken dat hulle hulself innerlik sterk moet maak, hulle moet ‘n innerlike weerstand opbou teen die druk wat van buite op hulle afkom. En dit doen ‘n mens deur jou geloof steeds weer te rig op die beloftes van die Here en deur te volhard in die gebed.

Maar, gemeente, vers 9 wys vervolgens dat die geduld nie slegs buitentoe gerig is nie, maar ook na binne: “Moenie teen mekáár sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie.” Jakobus weet baie goed dat moeilike en swaar tye ook die onderlinge verhoudings onder druk kan plaas. Onderlinge verskille kan baie maklik ontaard in skerp teenstellings. Wanneer dit spannend word in die gemeente, kom die verskille aan die lig, neem die irritasies toe, en gaan baie energie verlore aan interne rusies. En daardeur loop die gemeenskap gevaar. Jakobus sien by die klein gemeente van gevlugte Christene dat hulle teen mekaar begin sug, oor mekaar begin kla. “Oppas daarvoor”, sê hy, “dit is nie nodig nie; meer nog, dit is gevaarlik. Want daarmee kom julle ook onder die oordeel” (vers 9). Ja, die Regter staan voor die deur – en dit is onheilspellend vir die rykes wat hulle harte vetgevoer het, maar dit is ook gevaarlik vir julle as julle teen mekaar begin sug. Die komende Regter, Jesus Christus, behoort ook ons gedrag teenoor mekáár te bepaal.

 

Gemeente, geduld na buite en geduld na binne – dit is die beoefening van die vrug van die Gees in die tyd tot die wederkoms van Jesus Christus, ook in 2023. Geduld na buite in ‘n land waar die onreg soms baie naby kom – ja, ook ons word oor die hoof gesien vir werk en tenders, ook ons jongmense word geïgnoreer wanneer dit kom by universiteitstoelating. Ons lewens en besighede kom onder druk deur swak landsbestuur, kragonderbrekings en korrupsie. Ons Bybelse waardes word bestry deur liberale gedagtes oor aborsie en seksualiteit. Wee diegene wat hierdie onreg pleeg! Maar hoe moet ons in die jaar wat voorlê met hierdie onreg omgaan? Natuurlik moet ons aanspreek wat verkeerd is en moet ons regstel wat reggestel kan word. Maar daar gebeur in hierdie wêreld soveel onreg wat nie herstel word nie. Hoeveel konflikte bly nie onopgelos nie? Hoeveel lelike dinge word nie soms oor jou of my vertel, waarvan die onwaarheid eers eendag aan die lig sal kom nie? Maar die Regter staan voor die deur – in die laaste gerig sal Hy die waarheid aan die lig bring, sal Hy boos noem wat boos was, sal Hy reg laat geskied, en sal Hy die raaisels oplos. Met alle onreg in hierdie wêreld en in ons land – sosiaal, maatskaplik, polities en ook persoonlik – is die verleiding groot om wraak te wil neem. Maar Jakobus stook die arbeiders nie teen die groot grondbesitters op nie; ja, hy kritiseer die maatskappy van sy dae, maar hy doen dit in die lig van die wederkoms. Die Regter kom, daarom is dit nie nodig vir die gelowiges van sy dae om as regters op te tree nie. En so ook nie vir ons nie.

Maar ook geduld na binne – met mekaar. Die Here bring baie verskillende soorte mense bymekaar in sy gemeente, verskillende gedagtes, verskillende oortuigings. Medegelowiges in die gemeente maak soms ander keuses as wat ek maak. Hoe gaan ons daarmee om? Dertig jaar gelede skryf ‘n predikant by sy afskeid van hierdie einste gemeente (wat toe nog een gemeente was) die volgende: “Hier lê my grootste bekommernis oor die gemeente van Pretoria. Daar word so baie ‘teen mekaar gesug’. Mense het hulleself lankal teruggetrek uit die gemeenskap en soek nie geestelike opbouing van mekaar nie. Hulle verwag dit nie eers meer nie.” Dit was dertig jaar gelede. Hoe is dit vandag, broers en susters? Aanvaar ons mekaar as geskenke van Jesus Christus... ook al is daar dalk verskille? Is ons werklik een in die geloof, ook wanneer dit soms moeilik gaan?

Die geduld van die landbouer – mag die Here dit in sy genade aan ons skenk anno domini 2023, na buite sowel as na binne. Vervolgens let ons op die voorbeeld van die profete.

 

2. “Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete...” (vers 10) Eers was dit die landbouer – sommer enige landbouer, enige boer. Nou is dit die profete – dit raak meer spesifiek. Jakobus verwys hier konkreet na die profete van die Ou Testament. Ons weet van hierdie profete dat elkeen van hulle in opdrag van God gespreek en opgetree het – dikwels met kritiek teenoor die leiers en die volk, kritiek op sowel die godsdienstige as die maatskaplike lewe van hulle tyd. Dit het vir hulle baie lyding meegebring – hulle is gespot en gesmaad, soms is hulle in die gevangenis gegooi of selfs doodgemaak. Dink aan die lyding van Jeremia wat geslaan en gevange geneem is; dink aan die verlies van Esegiël wie se vrou oorlede is, en dan laat die Here hom nie toe om haar begrafnis by te woon nie; dink aan die hartseer van Hosea in sy huwelik met die hoer. Die lesers van Jakobus se brief het sekerlik van hierdie lyding geweet – immers, in daardie tyd was daar baie geskrifte in omloop wat die lewe en die martelaarskap van die profete beskryf het. In sy onderrig noem Jesus ook die profete as voorbeeld van mense wat lyding moes verduur en geduld beoefen het: “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg ... want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het” (Mt. 5:11-12). En in Hebreërs 11 word die profete genoem as voorbeelde van mense wat baie gely het: hulle het deur die geloof “bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het” (verse 32-34).

Nou, juis hulle word deur Jakobus as voorbeeld van lyding en geduld aan sy lesers voorgehou. Maar, voeg hy by, onthou dat hulle in die Naam van die Here bly spreek het. Hulle het vasgehou aan die Woord van die Here, ook al het hulle baie dikwels die vervulling daarvan nie meer beleef nie, en ook al het hulle – soos wat Petrus sê (1 Pet. 1:10-11) – baie dikwels nie die betekenis en die implikasies van wat hulle moes verkondig, verstaan nie. Maar hulle vasgehou aan die Woord van die Here! Daar lê die sleutel van hulle geduld – dít is hoe hulle hul harte sterk gemaak het in die aangesig van die lyding wat hulle moes verduur. Hou vas aan die Woord van die Here! Gelukkig – so spreek Jakobus die profete salig in die eerste woorde van vers 11 – gelukkig, welgeluksalig is hulle wat hierdie lyding verdra het en vasgehou het aan die Woord van die Here!

 

En nou wil Jakobus hê dat sy lesers – én ons – húlle as voorbeeld moet neem, met die implikasie dat ons hulle voorbeeld ook moet navolg. Hoe beoefen ons geduld tot op die wederkoms van ons Here? Ons hou vas aan sy Woord, net soos die profete! Ons luister aandagtig daarna in die eredienste op Sondae – val dit jou ook nie op dat gemeentelede deesdae makliker van die eredienste af wegbly nie? Veral die tweede diens? Wat, dink jy, doen dit aan ons geduld, aan ons lewende verwagting van die wederkoms, wanneer ons chroniese erediensversuimers word? Ons luister aandagtig daarna by die gemeentelike Bybelstudies – kom ons doen hierdie jaar weer opnuut moeite om hierdie gemeentelike Bybelstudies by te woon, aktief deel te neem, saam met die ander heiliges te begryp wat die hoogte en diepte, en lengte en breedte van God se liefde in Christus is (Ef. 3). Ons luister aandagtig daarna in ons persoonlike Bybelstudies – neem die tyd, die rus om in jou binnekamer stil te word voor die Here wat spreek; stel jouself oop om sy stem te hoor.

Broers en susters, dit is deur vas te hou aan die Woord van die Here dat ons harte versterk word; dit is deur vas te hou aan die Woord van die Here dat ons weerbaar word teen die onreg wat van buite-af op ons afkom. Dit is deur vas te hou aan die Woord van die Here dat ons mekaar kan waardeer vir wie ons is en nie teen mekaar sal begin sug nie. Dit is deur vas te hou aan die Woord van die Here, net soos die profete van ouds, dat ons lyding en onreg kan verduur tot op die koms van die Here.

En dan let ons ten slotte nog op Job.

 

3. Job – van die algemene boer, na die profete van die Ou Testament as groep, eindig ons nou by hierdie spesifieke individu. “Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job...” (vers 11) – ja, inderdaad, dit was verskriklik wat Job moes verduur. Almal en alles in een dag weg: al tien sy kinders dood, al sy besittings weg, sy aansien verlore, sy liggaam geskend met ‘n ernstige siekte, sy vrou teen hom. Hartverskeurend – niemand van ons sal dit ‘n ander toewens nie. Maar was Job regtig so lydsaam soos wat Jakobus in vers 11 sê? Daar is tekens daarvan, maar daar is ook tekens van die teendeel. Aan die een kant aanvaar Job gelowig wat die Here oor sy lewe gebring het: “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!” (Job 1:21) Maar aan die ander kant sien ons Job vrae vra, hoor ons hom uitroep, sien ons hom worstel met sy vriende (en met God!) oor die rede vir hierdie onheile wat hom getref het. In hoofstuk 3 vervloek hy sy eie geboortedag en wens hy dat hy maar liewer by sy geboorte gesterf het. En in die grootste deel van die boek weier hy om te aanvaar dat enige sonde van sy kant af die rede vir hierdie rampe is, en wonder hy oor die regverdigheid van God. Duidelik het God dit ook so ervaar, want teen die einde sê Hy vir Job: “Jy is mos so slim, jy weet mos alles? Kom, Ek sal jou ondervra, dan onderrig jy My” (Job 38:3, 40:2). Hoekom sou Jakobus, in die lig hiervan, nou vir Job verhef tot die toppunt, die standaard van geduld en lydsaamheid?

 

Gemeente, hoe wys dit nie vir ons dat lydsaamheid nie dieselfde is as om alles maar net lydelik te aanvaar nie; lydsaamheid is nie gelatenheid nie. Lydsaamheid is nie agteroorsit sodat Gods water oor Gods akker kan vloei nie. Lydsaamheid beteken baie dikwels groot worsteling, groot stryd. Worsteling met God self; stryd om sy wil in ons lewens te verstaan. Job doen dit! Job is by tye kwaad – nee, hy word nie skielik ‘n ongelowige nie, maar hy bring vir seker sy gevoelens van woede en onreg voor die Here. Hy bring sy klagte, sy argumentasie, sy pleidooi, sy geroep na God toe. In sy wanhoop, in sy donkerste oomblikke praat Job met God, skreeu hy dit uit tot God, worstel hy met God, worstel hy om te verstaan. En net so wil Jakobus nie hê dat sy lesers maar soos ‘n sak patats inmekaar moet val en moet oorgee nie – want dit bevorder nie noodwendig ons verhouding met God nie. Nee, Jakobus wil hê dat sy lesers in al hulle stryd nader aan God sal kom. Net soos Job! Wanneer Job aan die einde van sy worsteling met God kom, dan sê hy: “Volgens hoorsê het ek van U gehoor” – volgens hoorsê! Job sê eintlik: ag, voorheen ek maar net van U gehoor. Maar nou, sê hy, nou het my oog U gesien! Gemeente, dit is waar elkeen van ons moet kom: nou het my oog U gesien! Dit is die verhouding wat Jakobus by elkeen van ons wil sien voordat Christus terugkom. En om daarby uit te kom, sit ons nie gelate agteroor en laat maar kom wat moet kom nie. Nee, daarvoor kry ons Job as voorbeeld: aanvaar God se soewereiniteit, ja, maar worstel om sy weg met hierdie wêreld en met jou persoonlik te verstaan. Worstel met God, vra jou vrae soos Job: hoekom die Leviatan? Hoekom die seekoei? Hoekom die krokodil? Sodat ons nader aan God kan kom, sodat ons kan kom by die punt waar ons kan sê: “Ek weet nie, ek weet nie hoekom daar ‘n Leviatan en ‘n seekoei en ‘n krokodil is nie, ek weet nie hoekom God hierdie ramp in die wêreld toegelaat het nie, ek weet nie hoekom hierdie seer my getref het nie, maar Hy weet! En ek vertrou Hom!

Job was nie die toppunt van gelatenheid nie, maar hy het met God geworstel. En dis hoekom Jakobus hom aan ons voorhou as voorbeeld van hoe ons besig behoort te wees in die tyd tot die wederkoms van Christus. Worstel met God, vra jou vrae, groei in jou verhouding deur hierdie worsteling, en kom so by die punt waar jy kan sê: nou het my oog U gesien!

 

Gemeente, so gee Jakobus vir ons ‘n rigtingwyser vir hoe ons, ook in 2023, gelowig die toekoms mag ingaan: leer om in al jou beplanning beskeie te wees deur DV te sê en uit te leef, as die Here wil – so het ons gisteraand gesien. Maar leer ook hoe om aktief-geduldig te wag op die wederkoms van Christus. Aktief-geduldig deur, soos die landbouer, geduldig te wees teenoor die onreg van buite en geduldig te wees met mede-gelowiges na binne; aktief-geduldig deur, soos die profete, vas te hou en besig te wees met die Woord van die Here. Aktief-geduldig deur, soos Job, met God te worstel en so te groei in jou verhouding met Hom. Dit alles is geen kitsresep nie, maar dis wel die padkaart om Christus te ontmoet. Leer om die kaart te lees, bly gelowig op die pad, en dan sal ook 2023 vir jou anno domini wees, die jaar van ons Here.

Amen

 

[1] Preek op Oujaarsaand oor Jak. 4:13-17

Liturgie: 

Votum & Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

Sing Ps. 33:10 en 11 (wag!)

Wetslesing

Sing Ps. 99:4 en 5

Gebed

Lees: Jakobus 5:1-11

Kollekte

Sing Ps. 65:7 en 9

Teks: Jakobus 5:7-11

Preek

Sing Ps. 27:4 en 6

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 42:5 en 7 & Ps. 43:5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.