Die uitverkiesing is onderdeel van die Evangelie

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-02-19
Teks: 
Dordtse Leerreels 1,1-5
Preek Inhoud: 

Die Dordtse Leerreëls is ‘n ryk samevatting van die Evangelie.

Dit het ‘n boodskap vir jong en oud, al is dit nie noodwendig melkkos nie.

Dan bedoel ek nie net dat dit moeilik is om te verstaan vir jong kinders nie.

Ek bedoel ook dat dit nie maklik is om deur te sluk vir die ou sondige mens nie.

Die onbekeerde mens het nie ‘n aptyd vir hierdie waarhede nie.

Die onbekeerde mens is trots en wil nie buig voor ‘n soewereine God nie.

 

Vanaf vanaand maak ons weer ‘n begin met die behandeling van die Dordtse Leerreëls.

Al is dit nie in beton gegiet nie, is dit die kerkraad se gewoonte om die belydenisskrifte as volg te behandel:

Een keer die Heidelbergse Kategismus, dan die Nederlandse Geloofsbelydenis, dan weer die Heidelbergse Kategismus, dan die Dordtse Leerreëls, en so voorts.

Die Heidelbergse Kategismus kom die meeste aan die orde, maar die NGB en Dordtse Leerreëls kry dus ook hulle beurt elke soveel jaar.

 

Tema: Die uitverkiesing is onderdeel van die Evangelie

 

Voordat ons verder gaan, net enkele opmerkings oor die ontstaan van die Dordtse Leerreëls.

Soos ons weet, is hulle opgestel deur die Sinode in Dordrecht in Nederland in 1618 en -19.

Maar daar was ‘n voorgeskiedenis.

In die dekades daarvoor het die Humanisme sterk opgekom in Wes-Europa.

Hierdie optimisme in die mens het begin skuur teen dit wat die Bybel ons leer oor God se soewereiniteit, dat die mens volledig van Hom afhanklik is.

Arminius was ‘n professor in Nederland wat vir meer ruimte op hierdie punt gepleit het.

Hy is in 1609 oorlede, alreeds 10 jaar voor die Sinode van Dordrecht.

Sy volgelinge het egter veel verder gegaan.

Hulle het in 1611 ‘n dokument gepubliseer, genaamd die Remonstransie.

Dis hoekom hulle die Remonstrante genoem word.

Hulle word ook wel die Arminiane genoem, maar dit is ‘n minder korrekte tipering.

Hulle het nie in die eerste plek Arminius se idees verteenwoordig nie, maar hulle eie idees, en hulle het nog veel verder gegaan as Arminius.

Daarom praat ons oor die Remonstrante.

Hulle het dus in 1611 ‘n Remonstransie gepubliseer, bestaande uit vyf artikels waarin hulle pleit vir ‘n nuwe kyk op die uitverkiesing.

Kom ek noem hierdie 5 stellings van hulle Remonstransie kortliks.

- Eerstens, God verkies en verwerp ja, maar Hy kyk vooruit in die tyd wie gaan glo en wie nie, en verkies en verwerp op grond daarvan.

- Tweedens, Christus het in beginsel vir alle mense op aarde gesterwe. Dit is aan die mens om nou te kies of hy daarvan gebruik wil maak of nie.

- Derdens, die mens is nie so verdorwe dat daar niks goeds in hom oorgebly het nie.

- Vierdens, die mens kan kies om Christus se genade te verwerp.

- Vyfdens, sommige ware gelowiges volhard nie in die geloof nie, maar gaan verlore.

 

Hierdie vyf stellings is toe deur die Sinode van Dordrecht direk beantwoord in vyf hoofstukke.

In daardie hoofstukke is die Skriftuurlike leer herstel.

In die Engelse wêreld word in hierdie verband soms vyf begrippe genoem, saamgevat onder die akroniem TULIP, wat die Dordtse Leerreëls saamvat:

- Total depravity – totale verdorwenheid.

- Unconditional election – onvoorwaardelike verkiesing.

- Limited atonment – beperkte versoening.

- Irresistable grace – onweerstaanbare genade.

- Perseverance in the faith – volharding in die geloof.

As mens die eerste letter van elkeen van hierdie woorde vat, kry mens die woord TULIP, ‘n maklike manier om die essensie van die Dordtse Leerreëls te onthou.

 

En nogmaals, waar elke hoofstuk uiteindelik oor gaan, was die soewereiniteit van God.

Dit was die groot debat.

Die Remonstrante het steeds meer afgewyk in die rigting van ‘n mensgesentreerde godsdiens, onder invloed van die Humanisme.

Die Dordtse Leerreëls wou slegs die eer en aanbidding van God vashou, soos die Skrif so duidelik leer:

“Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.” – Romeine 11:36. 

 

Dit wil voorkom of die woord uitverkiesing en nog meer die woord predestinasie vir mense tot nagmerries kan dryf.

Magtelose mense in die hande van ’n wrede God, wat met hulle maak soos Hy wil, sonder dat hulle ’n invloed daarop het en sonder dat dit hulle fout was.

Dit is dikwels die persepsie wat in die wêreld gekoester word oor hierdie terme.

Met die gevolg dat baie mense liewerste nie wil praat oor uitverkiesing nie.

 

Tog is dit so dat die leer van die uitverkiesing uit die Bybel kom.

Maar, maak die Dordtse Leerreëls duidelik, nie hierdie verdraaiing van die uitverkiesing asof die mens hulpelose slagoffers is nie.

Die regte leer van die uitverkiesing vorm deel van God se geopenbaarde wil, nie van sy verborge wil nie.

Hy het in sy Skrif bekend gemaak dat Hy ’n ontelbare aantal mense uitgekies het vir die ewige lewe.

Hy het ook in die Skrif openbaar dat Hy ander gelaat het in die ellende waarin hulle hulleself gestort het.

God het egter nie geopenbaar wie die uitverkorenes en wie die verworpenes is nie – dit is deel van sy verborge wil.

En dit is nie vir ons om dit te probeer uitsnuffel nie.

 

Maar, omdat die Bybel praat oor die uitverkiesing, beteken dit dat ons dit nie in die prediking mag vermy nie.

As dit Bybel daaroor praat, is die prediker verplig om ook daaroor te preek.

Wat wel wesenlik is, is dat die prediker die uitverkiesing sal verkondig op die manier hoe God dit bedoel het, naamlik eerstens om mense onder die indruk te bring van sy soewereiniteit, en tweedens as ’n bron van troos vir God se kinders.

Dit is opvallend hoe die uitverkiesing in die Skrif na vore kom in die konteks van lofprysing.

Neem byvoorbeeld Efesiërs 1, waar Paulus lofprys omdat God ons verkies het in Christus.

Die uitverkiesing word hier nie genoem as iets wat mens bang maak nie, maar as ’n rede om dankbaar te wees en God te prys.

 

Daar is inderdaad ’n verkeerde manier om oor die uitverkiesing te praat, en juis dit is die rede hoekom baie mense bang geraak het vir hierdie leer.

Byvoorbeeld as die uitverkiesing slegs aangebied word vir hulle wat die merktekens van die uitverkiesing vertoon.

Hierdie manier van prediking werp die mens weer terug op homself, pleks van dat hy na Christus kyk om sy uitverkiesing raak te sien.

 

Tot sover, gemeente, ’n aantal inleidende opmerkings oor die Dordtse Leerreëls en die leer van die uitverkiesing.

 

Kom ons begin nou by artikel 1.

Wat belangrik is om raak te sien, is dat artikel 1 begin by God se geopenbaarde wil.

Dit begin by Genesis, die eerste boek van die Bybel.

Artikel 1 begin nie in die ewigheid, by een of ander denkbeeldige oomblik toe God sou uitgekies het nie.

Nee, dit is sy verborge raad.

Daarmee het ons niks te make nie.

Ons beperk onsself tot sy geopenbaarde raad, dit wat Hy aan ons in die Bybel bekend gemaak het (sien ook NGB art. 13).

 

So begin artikel 1 by Adam en Eva se sondeval, en die feit dat alle mense skuldig staan aan die vloek en ewige dood.

Dis ook die volgorde wat Paulus volg in die boek Romeine.

Voordat hy by die uitverkiesing en verwerping kom (sien byvoorbeeld hoofstuk 9), skenk hy aandag aan die sondeval en die verskriklike dinge waartoe die menslike ras gekom het – dink aan Romeine 1-3.

Jode sowel as Grieke, dit wil sê kerkmense sowel as onkerklikes, lê onder die vloek, onder God se oordeel.

Dit sluit my en jou in.

Daarom sing ons nie net oor Dawid nie, maar ons sing ook oor onsself in Psalm 51:5:

“in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”

Ons is nie arme slagoffers nie, ons staan persoonlik skuldig voor God.

Ons is verantwoordelik vir ons eie situasie en moet aan God rekenskap gee.

Ons erken dat God alle reg het om ons gewoon in ons ellende te los, die ellende waarin ons onsself gedompel het.

 

So, dit is hoe die Dordtse Leerreëls begin, en tereg.

Nie ’n filosofiese of teologiese redenering oor die uitverkiesing nie, maar verootmoediging.

O God, ek het gesondig, ek verdien u oordeel, nie u genade nie!

O God, dit sal heeltemal korrek wees as U nooit weer na my sal wil kyk nie, dit is wat ek verdien!

Verneder jouself voor God.

Op jou knieë, soos ’n arm bedelaar.

Dit is waar ons moet wees.

Uit onsself probeer ons telkens om beter te lyk, ’n beter indruk te maak.

Nee, ’n nikswerd, dis wat ek en jy is.

 

Na hierdie ontnugterende eerste artikel, gaan die Dordtse Leerreëls verder al agter die Skrif aan.

Maar hierin is God se liefde geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh 4:9; Joh 3:16).

Die mens kan niks tot sy redding bydra nie, maar God het iets gedoen aan die mens se benarde situasie.

Hy het besluit, om redes wat ons nie sal kan deurgrond nie, om sy eie Seun na hierdie wêreld verlore in sonde te stuur.

En weer eens, kom ons volg rustig die spoor wat die Skrif trek.

Laat ons nie spring na konklusies nie.

Nee, ons is onder die vloek.

En ons moet raaksien met absolute verwondering dat God sy hand uitgesteek het.

Ons weet nie waar en wanneer en wie gered gaan word nie.

Maar ons sien wel hierdie uitgestrekte hand.

Dit is iets om ons oor te verwonder!

Hy offer op wat vir Hom die liefste is, sy eie eniggebore Seun!

Absolute verwondering!

 

Gemeente, broer, suster, laat ons hier begin.

Nog voordat jy aan jouself dink, en of jy uitverkies is.

Begin deur in verbasing te staan en kyk na hierdie uitgestrekte hand vanuit die hemel.

Het jy absolute verwondering oor die feit dat God self ’n plan gemaak het om sondaars te red?
Inderdaad, dit is Hy, dit is sy werk.

Hy, in sy genade, stuur boodskappers uit oor die aarde met hierdie blye boodskap.

Deur die bediening van hierdie boodskappers word sondaars opgeroep tot bekering na en geloof in Jesus Christus sy Seun.

’n Wonder dat Hy dit doen!

Hy gee nie net die moontlikheid tot versoening deur sy Seun nie, Hy sorg ook dat hierdie boodskap op die regte plekke uitkom.

Hy sorg vir die ‘lieflike voete’ wat hierdie boodskap na die uithoeke van die aarde dra.

 

So gemeente, ons volg nog steeds die Skriftuurlike lyn.

Ons begin by die feit dat Christus gepredik word en gratis aangebied word aan sondaars.

En as dit die geval mag wees dat jy een van hulle is, een van daardie sondaars is by wie hierdie blye boodskap uitgekom het, besef asseblief wat besig is om te gebeur!

Besef watter immense voorreg dit is wat jou te beurt val!

Miljoene mense het nie hierdie voorreg nie.

Miljoene mense gaan verlore sonder dat hulle hierdie boodskap ontvang.

Voordat hulle die Naam kon hoor, die enigste Naam onder die hemel deur wie daar redding is.

Broer, suster, jy sit nou in die middel van ’n wonder!

Jy is nie gebore in ’n Boeddhistiese familie nie.

Jy het opgegroei in ’n Christelike familie.

Jy het ouers gehad wat jou opgevoed het in die waarheid.

Jy het tuis, op skool, op katkisasie, geleer van die Naam, die enigste Naam onder die hemel wat garant staan vir die ewige lewe.

Week in week uit hoor jy sy Naam vanaf die kansel.

Broer, suster, jy sit in die middel van ’n wonder!

In groot verwondering kan ons beaam wat Paulus in Handelinge 13:26 gesê het:

“vir julle is hierdie woord van verlossing gestuur.”

Nie omdat daar in jouself enigiets was wat dit nader getrek het nie.

Slegs vrye en soewereine genade, dat God vir jou sê:

Ek het geen behae in jou dood nie, maar in jou bekering en in jou lewe!

Hoe kan dit, hoe is dit moonlik, dat God dit vir my en jou sê, sulke onbelangrike, meer nog, sulke vuil en sondige mense?

 

Geliefde gemeente, herken, erken hierdie wonder.

En daarom, kom kerk toe elke keer as die Woord gepredik word.

Moenie dat jou plek hier leeg is nie.

Besef dat dit nie toevallig is dat die verkondiging van hierdie heerlike Naam by jou uitgekom het nie.

 

Maar besef ook die ander kant.

Want ons bly steeds die lyn van die Skrif volg.

Met hulle by wie Hy die Evangelie gebring het, sluit God ’n verbond.

Hy skenk hulle sy beloftes, Hy oorlaai hulle daarmee.

Hulle geniet ’n lewe en ’n toekomsvooruitsig wat hemels is.

Maar in sy verbond kom die HERE ook met sy bedreiging.

Daarop vestig paragraaf 4 ons aandag:

“Die toorn van God bly op mense wat hierdie evangelie nie glo nie.”

Dus, gemeente, as jy so ’n bevoorregte mens is dat die Evangelie by jou uitgekom het, besef wel dat dit nie ’n vryblywende saak is nie.

Omarm dit in dankbaarheid.

Ja, hulle wat die evangelie aanneem en die “Verlosser, Jesus, met ’n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos”.

Hy skenk hulle die ewige lewe!

 

Besef die Woordverkondiging is nie net ’n stigtelike boodskap, die mening van ’n mens nie.

Namens God roep hy jou op tot geloof en bekering!

Dit is die taak van die predikers deur God gestuur om sondaars op te roep tot geloof en bekering.

Weer eens, dit is die lyn van die Skrif.

Die uitverkiesing en verwerping is nie deterministies nie.

Op ’n vir ons onverklaarbare wyse het God plek gemaak vir die prediking van die Evangelie, en vir sondaars se reaksie op die prediking van die Evangelie.

En dit, sonder dat die uitverkiesing daarvan afhanklik raak – dink aan die eerste stelling van die Remonstrante – God kyk nie vooruit in die toekoms wie gaan glo en wie nie, om op grond daarvan te verkies nie.

Nee, die geloof is nie die grond, die oorsaak van die uitverkiesing nie, dis andersom.

Geloof is die gevolg van, die vrug van God se genadige uitverkiesing.

Dis bo ons vuurmaakplek, ons kan dit nie verstaan nie.

Maar dit is wel die werklikheid!

God verstaan die werklikheid, ons so dikwels nie.

 

En so gebeur dit dat daar tweeërlei reaksie is op die verkondiging van die Evangelie.

Aanvaarding en verwerping.

Hulle wat dit aanvaar, word bevry van die vloek.

Hulle wat dit verwerp, bly onder die vloek.

Soos Paulus skryf: Vir die een is die Evangelie ’n reuk van die dood, vir die ander ’n reuk van die lewe (2 Kor 2:16).

 

En hulle wat dit verwerp en dan verlore gaan, hulle het dit – dit beklemtoon paragraaf 5 – enkel en alleen aan hulleself te wyte.

Dit lê beslis nie by God nie, maar by die mens.

Natuurlik sal sondaars wat hulle verhard, moord en brand skreeu.

Hulle sal skreeu: Dit help tog niks of ek bid, of ek kerk toe gaan, of ek Bybel lees, of ek ’n goeie lewe lei, as God my nie wil red nie, dan is dit nou eenmaal so. Daaraan kan jy niks verander nie, al het jy die beste bedoelings ...

Hoe absoluut ondankbaar is dit as iemand so iets sê, en dit terwyl die Evangelie aan hom verkondig is!

Pleks van dat hy in dankbaarheid die Evangelie omhels!

 

En weer eens, ons weet nie wie gered word en wie verlore gaan nie.

Ons ken net God se geopenbaarde wil.

En dit is: Neem die Evangelie aan!

Omhels Jesus, die Verlosser, met ’n ware en lewende geloof!

So maak jy jou uitverkiesing vas, jou uitverkiesing wat van voor tot agter God se soewereine genade is!

 

Maar as jy dit verwerp, is dit aan die einde van die dag omdat jy nie wil buig voor Christus se heerskappy nie.

Omdat jy nie jou lewe onder sy beheer wil plaas nie.

Moenie dat jou hardkoppigheid die oorhand behou nie.

 

Gemeente, so gee die eerste 5 paragrawe ons die basiese kontoere uit die Evangelie, die konteks waarin ons die uitverkiesing as openbaring van God ontvang.

Ons verstaan dit nie, maar aanvaar dit in geloof.

Die wat volhard in sondes en verlore gaan, dit lê aan hulleself, hulle kan net hulleself blameer.

Maar die wat salig word, by hulle lê dit nie aan hulleself nie.

Hulle sing vol verwondering: Uit genade is ons gered, deur geloof, en dit is nie uit onsself nie. Dit is die gawe van God (Ef 2:8).

Ja, dit is genadiglik aan ons gegee om in Christus te glo (Fil 1:29).

 

Geliefde gemeente, om af te sluit.

Moenie vra: Is ek uitverkies? nie.

Maar vra: Is ek geroep? Is ek uitgenooi vir die bruilofsfees?

Die antwoord op hierdie vrae is ondubbelsinning: JA!

God roep jou na Homself toe.

Hy skenk sy eie geliefde Seun.

Bly vashou aan sy Seun, Jesus Christus.

Die uitverkiesing is onderdeel van hierdie Evangelie!

Maak soos Jakob destyds gemaak het met die Engel van die HERE.

Hy het Hom vasgehou, hy wou Hom nie los nie.

Jakob het vir Hom gesê: “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.” (Gen 32:26)

Klou jy net so aan jou Heiland vas!

In Hom, in Christus, is jou uitverkiesing vas en seker.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Efesiërs 2:1-10; 1 Johannes 4:7-21; Romeine 11:33-36

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,1-5

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Hoekom begin die Dordtse Leerreëls by die geskiedenis van die sondeval en nie êrens in die ewigheid nie?
  2. Wat het die prediking met die uitverkiesing te make?
  3. Wat het die nagmaal met die uitverkiesing te make?
  4. Is dit korrek as die Dordtse Leerreëls sê dat ons die Evangelie moet aanneem?
  5. Probeer om hierdie week in jou gebede die Here te prys vir sy genadige uitverkiesing!

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 24:1,2

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit deur sing van Onse Vader)

1e tafel: Skriflesing: Efesiërs 2:1-10; 1 Johannes 4:7-21; Romeine 11:33-36; Sing: Sb 24:3

Lofverheffing & Gebed

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,1-5

Preek

Sb 24:5,6

Gebed

Geloofsbelydenis: NGB art. 16

Ps 33:6

Kollekte

Ps 87:3-5

Seën