Christus bring lewe ná die grens van die dood

Predikant: 
Jakob Mars
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-06-19
Teks: 
Heidelbergse Kategismus - Sondag 22
Preek Inhoud: 

Inleiding:

Geliefde gemeenste van ons Here Jesus Christus.

Alle mense, of hulle glo in die Here of nie, alle mense moet rekening hou met sekere harde feite in hierdie lewe. Die wêreld is vol swaarkry. Indien dit nie al reeds het nie, gaan swaarkry u êrens tref. Enigiets kan enige oomblik gebeur. 

Dis nie ‘n lekker gedagte nie. Inteendeel, dis so ‘n swaar gedagte dat ons dit liewers sou wou vermy. Jong mense probeer soms om glad nie daaraan te dink nie. Soos mens ouer word, word mens egter al meer gedwing om wel daaraan te dink. En selfs dan is mense geneig om sorge en kommer en die feite van die lewe te probeer verdrink deur allerhande verslawings. 

Een van hierdie feite is natuurlik die dood. 
As die Here nie in die volgende 100 jaar kom nie, sal elkeen van u wat hier sit waarskynlik al gesterf het. En voor daardie dag sou u die aftakeling van u liggaam moes ervaar. Hoe elke dag moeiliker en moeiliker word. En daarby nog hoe al u geliefdes een vir een na die Here geneem word.
So ‘n donker prentjie. Dalk voel u ongemaklik. Miskien is dit juis die tiepe gedagtes wat u probeer vermy.

Dalk verras ek u dan as ek sê dat die preek vanaand glad nie bedoel is om donker te wees nie. Inteendeel, vanaand se preek gaan oor troos en volkome saligheid! Dis juis teen die donker agtergrond van die dood en swaarkry waarteen mens hierdie troos en saligheid die duidelikste kan sien.

Troos en saligheid. Dis waaroor die preek vanaand gaan.
In ‘n sekere sin is dit ook presies waaroor die hele kategismus gaan. 
Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? (Sondag 1) Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.

Dis wat ons glo. Dis waar ons troos lê. Elkeen kyk vorentoe in die toekoms, en êrens daar in die vêrte (of dalk net hier voor), lê daar ‘n soliede, dik, streep getrek. Die lyn wat die lewe skei van die dood. Daardie lyn lê in ons almal se pad, en dit maak nie saak hoe hard ons probeer nie, ons kan nie verby daardie streep sien nie. Daar is ook geen eksperiment op aarde wat kan bewys wat anderkant daardie lyn lê nie. Daarom glo ons wat ‘n ander, Jesus Christus self, oor daardie lyn sê en wat aan die ander kant daarvan is. Hierdie kant van die lyn kan ons slegs glo en vertrou. Eendag sal ons self oor daardie lyn moet trap en dan sal ons met eie oë sien.

Aan die hand van Sondag 22, wat ‘n betroubare opsomming van ons geloof is, verkondig ek vanaand die Woord van God onder die volgende tema:

Christus bring lewe ná die grens van die dood.
Dit bring troos omdat

1)    Hy my siel direk tot hom sal neem
2)    Hy my liggaam gelykvormig sal maak aan Sy heerlike liggaam
3)    Hy my die ewige lewe skenk

Christus bring lewe ná die grens van die dood. Dit bring troos omdat Hy my siel direk tot hom sal neem.

Meeste van ons het al om ‘n ope graf gestaan. As u terugdink, wat kan u onthou van daardie moment? Die kis sak stadig af die grond in. Daar in die kis is die liggaam, dalk van oupa. Maar waar is oupa nou? Wat maak hy nou? Weet hy dat ons hom mis?
Deur die jare het mense al baie met vrae geworstel. Die vrae self het dalk oor die jare verander, maar die kern daarvan bly vandag dieselfde. 

Wat gebeur met ‘n Christen as hy sterf? 

Ook die kerk het baie geworstel, en soms is daar meer gesê as wat die Skrif ons toelaat om te sê. Dink maar aan die dwaalleer van die vaevuur - ‘n plek waar mense gaan wie in God se vriendskap sterf, maar wie nog steeds sondes het wat skoongebrand moet word voor die persoon die vreugde van die hemel kan betree. Hierdie dwaling is vandag nie meer so prominent nie. So lank na die reformasie sien ons duidelik die dwaasheid van ‘n idee waar daar sondes kan wees waarvoor Christus nie betaal het nie.

Vandag is daar wel ander idees wat sterker op die voorgrond staan, bv. die dwaalleer van die sieleslaap, wat vroeër gebruik is om dié van die vaevuur teen te staan. Voorstanders van die sieleslaap sal sê dat die onderskeid tussen liggaam en ‘n siel nie Bybels is nie. Die “siel” saam met die liggaam, slaap tot Christus se wederkoms. Hierdie dwaling roof Christenskap van troos.

Die dwaling waarmee ons seker die mees bekend is vandag, in terme van die dood, is die van Ateïstiese materialisme. Voorstanders hiervan sê met hoogmoed: ons weet vir ‘n feit dat die geestelike wêreld nie bestaan nie. Ons weet vir ‘n feit dat daar agter die lyn van die dood niks is nie. 

En dus vra ek weer die vraag: waar is oupa? Waar is almal wat in die Here gesterf het? Dit is geldige vrae, en die Skrif is ook duidelik hieroor. 

Ons het vanaand die gedeelte van die Here se kruisiging gelees. Soos ‘n kwaaddoener is hy saam met kwaaddoeners gekruisig, een aan elke kant. Almal wat daar was, die verbygangers, die owerpriesters, die skrifgeleerdes, die ouderlinge en die soldate het die Here bespot. Op een stadium het selfs albei kwaaddoeners (Matthéüs 27:44), met spykers deur hul hande en voete, besig om gekruisig te word, die vermetelheid gehad om die Here te spot en te beledig.

Maar mens kan die werklikheid van die grens van die dood net so lank ignoreer. Daar kom ‘n punt wat die grens oorgesteek word en rekenskap gegee moet word van elke ydele woord. En daar op die grens van die van die dood het een kwaaddoener homself bekeer. 
Hy het gehoor van Christus en wie Hy sê hy is. Ons kan aflei dat hy deur sy bekering selfs iets verstaan het van wat Jesus daar aan die kruis besig was om vir hom te doen. 

En toe die ander kwaaddoener spot en sê: “As U die Christus is, verlos Uself en ons," het hy hom bestraf en gesê: Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? Ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.
Die kwaaddoener het ten diepste besef dat as hy na sy dood in die teenwoordigheid van die Allerheiligste God gaan staan, met niks om homself te verontskuldig nie. Vrees jý ook God nie.
En hy het vir Jesus gesê: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.
En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.

Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. Drie ure later het die Here sy laaste asem uitgeblaas en sy gees in die Vader se hande oorgegee (Lukas 23:46). Ja, en die kwaaddoener het ook gesterf. Daardie selfde dag het die soldate sy bene gebreek om hom vinniger te laat sterf (Johannes 19:31-32). 

Wie weet wat met sy liggaam gebeur het? Christus se liggaam is in die graf van Josef van Arimathéa gelê. Beide se liggaam het daardie dag hier op aarde agtergebly, en tog sê Jesus, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.

Dit is die wonderlike troos wat ons mag hê. As ek, of u, of ons geliefdes wat in Christus is, sterf, dan is ek direk by Christus. My siel word dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem (Sondag 22).
Dit is in vertroue in dié feit dat Paulus kan sê, “ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste” (Filippense 1:23). Paulus het nie ‘n sterk verlange om ‘n tyd lank te slaap nie, of te brand vir ‘n tydtjie, of om glad nie meer te bestaan nie, maar om by Christus te wees.

En dis presies ook ons troos, geliefde gemeente. Daar is baie dinge wat ons nie weet van die lewe na hierdie lewe nie. Maar een van die dinge wat ons seker mag weet, is dat wanneer ons in hierdie lewe die laaste asem uitblaas, ons siel direk by Christus gaan wees. Ja, ons liggaam sal begrawe word en verteer, maar my siel sal direk by sy hoof wees. En nie net my siel nie, maar al my geliefdes wat reeds in Christus gesterf het, is nou reeds in sy boesem. Al ons broers en susters. Ook die kwaaddoener aan die kruis. Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.
Dis ‘n wonderlike troos, gemeente. Maar dis nie al nie. Ons bely in Sondag 22 dat: nie alleen my siel ná hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word.

Dit bring ons dan by die 2de punt.

Christus bring lewe ná die grens van die dood, en dit bring troos omdat Hy my liggaam gelykvormig sal maak aan Sy heerlike liggaam.

Hierdie punt is baie belangrik, en een wat ons dalk geneig is om te vergeet. Luister ‘n keer mooi na hoe ons gesels.
“ek gaan eendag hemel toe,”
“hoe gaan dit eendag wees in die hemel?”
ens. 
So maklik vergeet ons dat die hemel nie ons eindbestemming is nie – die nuwe aarde is! Ja, die siele van ons geliefdes is nou reeds in die hemel met die Here, maar wat van hulle liggame? Dié is tog nog hier in die grafte! Wat maak dit saak? Is dit nie die siel wat belangrik is nie? Nee!

Toe God die mens geskape het, het hy die mens as ‘n geheel geskape. God het die stof van die aarde in ‘n menslike liggaam gevorm, en daarna die asem van die lewe in sy neus geblaas, so lees ons in Genesis 2. Hy het die mens met ‘n liggaam en ‘n siel toegerus. As een geheel. Die siel en die liggaam was nooit veronderstel om te skei nie. Alby is deel van die menslike persoon. Die liggaam is nie, soos sommige dink, bloot die voertuig van die siel nie. Asof die liggaam nie belangrik is nie. Nee, beide die liggaam en die siel is deel van die een mens. 

Die dood bring dan iets onbeskryflik onnatuurlik in die prentjie. Iets gebeur wat nooit deel van die ontwerp was nie. Die siel en die liggaam word op ‘n onnatuurlike manier van mekaar losgeskeur. Losgeskeur. Die een geheel word in stukke gebreek. 

Die liggaam is net so veel mens as wat die siel is. Die twee is ewe belangrik in God se oë. Vir hierdie rede is dit ook goed om daarop te let hoe van die liggame van afgestorwenes gepraat word.
Ek het al gehoor: daardie liggaam is nie regtig so en so nie. Dis net ‘n dop wat oor is.
Dis nie waar nie, geliefdes, daardie lewelose liggaam is nog steeds deel van die persoon, al is die siel op ‘n onnatuurlike manier losgeskeur.

Maar hoe sal ons dan ooit kompleet wees? 
Ja, my siel sal wees by die Here, maar wat van my liggaam? 
Rondom hierdie vraag is dan ook baie ander vrae. Hoe kan ‘n liggaam na selfs ‘n week in die graf opgerys word? Hoe kan ‘n liggaam na 100, 200 jaar weer inmekaargesit word? Wat is dan nog daarvan oor?
En selfs al word my liggaam wonderbaarlik opgewek, hoe sal dit wees? Sal ‘n persoon wat op hoë ouderdom gesterf het ‘n jong liggaam kry? Sal ‘n persoon wat as baba gesterf het ‘n ouer liggaam kry? Sal ek so en so kan herken?

Met sulke vrae moet ons versigtig wees, want die Bybel gee ons nie al die antwoorde wat ons graag wil weet nie. Wat ons wel glo en bely, is dat hierdie einste liggame, tog radikaal anders, opgewek sal word.
Die Apostel Paulus verduidelik dit in 1 Korinthiërs 15. Dit wil voorkom dat daar sommige in die kerk van Korinte was wat nie in die opstanding van die liggaam geglo het nie.
Paulus bevestig eers die realiteit en noodsaak van die opstanding en grond dit in die opstanding van Christus - die eerste gedeelte van die hoofstuk. In vers 35, waar ons vanaand begin lees het, antisipeer hy ‘n teenargument op alles wat hy gesê het, en daarom gee hy aandag aan die aard van die liggame waarmee ons opgewek sal word. Waar die Jode in die eenheid van die mens, liggaam-siel, geglo het vanuit die Ou Testament, en dat die siel weer tot God opgeneem word (Prediker 12:7), terwyl die liggaam in die toekoms opgewek sal word (Daniel 12:2), was die kerk in Korinte meer beïnvloed deur Griekse filosowe wat slegs in die onsterflikheid van die siel geglo het. U sal onthou hoe die Ateners in Handelinge 17 heel gretig na Paulus wou luister, tot hy van die opstanding begin praat het. Die teenargument wat Paulus dus antisipeer in 1kor15:35 is eenvoudig, en bestaan uit twee vrae - hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle?

Die eerste vraag - hoe word die dode opgewek, beantwoord Paulus in vers 36.
“Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie.”
Paulus gebruik hierby ‘n illustrasie vanuit die landbou. ‘n Saadjie moet eers geplant word en as’t ware sterf, voor dit kan groei. Van daardie saadjie sien ons niks oorbly nie. Maar nog meer belangrik - geen mens kan ‘n saad maak groei nie. Die Griekse woord vir “lewendig word” in hierdie vers, is dan ook passief - wat jy saai, word nie lewendig gemaak as dit nie eers gesterf het nie. Die klem is op wat God doen. Dis God alleen wat die saad laat ontkiem, wortel laat skiet, en laat groei. Niks kan lewendig word as God dit nie lewe gee nie. Dit geld vir plante, vir ons geestelike lewe, en ons liggame.

In lyn met dit, gee die kategismus ook ‘n baie eenvoudige antwoord:
Hoe word ons liggaame opgewek? Deur die krag van Christus. Hierdie selfde liggaam van my, sal deur die krag van Christus opgewek en weer met my siel verenig word.

Maar met met hoedanige liggaam word die liggaam dan opgewek? Vir Grieke sou dit ondenkbaar wees dat iets verganklik enigiets met onverganklikheid te make kan hê nie. Wat soek ‘n verganklike liggaam nou op die nuwe aarde?
En Paulus stem saam - lees maar vers 50: “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.”

En juis daarom is sy voorbeeld uit die landbou so kragtig. ‘n Saadjie het sekere karakteristieke. Hierdie een is rond, glad, het ‘n harde dop, en dalk selfs ‘n skerp punte aan die een kant. Maar niemand kan deur net te kyk na ‘n koring korrel, weet hoe die plant gaan lyk nie. Die saad en die plant is intiem verbind aan mekaar, die een kom uit die ander, en tog is dit twee verskillende dinge. Die saad is nie die plant nie, en die plant is nie die saad nie. Die glorie van die plant oortref ook onbeskryflik die glorie van die saad. Dis is hierdie verhouding wat ons huidige liggame nou het met ons toekomstige liggame. Ons toekomstige liggame is heeltemal anders, en tog verbind aan ons huidige liggame.

Vers 42 en verder: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. 'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek.

Nou is dit belangrik om Paulus reg te verstaan. Met “vlees en bloed,” en “natuurlike liggaam,” bedoel hy nie dat ons ons nie materiële liggame gaan hê nie. Hy gebruik ‘n Semitiese uitdrukking waarmee  hy “verganklike liggaam” bedoel. Verganklike liggame kan inderdaad nie die koninkryk van God beërwe nie. Daarom kry ons geestelike liggame, waarmee Paulus nie bedoel dat ons geeste sonder liggaam gaan wees nie, maar dat ons liggame onverganklik gaan wees. Sonde en dood gaan geen plek in daardie liggaam hê nie. Geestelike liggame in die sin dat dit deur Christus vernuwe is, gelyk aan syne, verheerlik, onmoontlik om te sondig, onmoontlik om te sterf. Geestelik in die sin dat dit die perfekte tuiste sal wees vir ons gees wat weer met ons liggaam sal verenig, en vir die Gees van God!

Daar is baie vrae rondom  die liggame wat ons te wagte staan. Sal ons soos Christus deur mure kan loop? Sal ons mag eet? ens. Maar laat ons nie verstrengel word in al daardie vrae nie. Laat ons fokus en hoop op dit wat ons wel weet, want dis waar ons troos lê. Ons sal nooit weer sterf nie. Ons sal nie meer kan sondig nie, en alle effekte van sonde sal verwyder wees. Ons liggame sal nie afgetakel word deur ouderdom nie. Geen siekte, geen honger. Geen blindheid, of verlamming. Geen begeerte om te sondig nie.

In kort - God sal vir ons ‘n liggaam gee waarin ons Hom ewig kan prys.

Dit bring ons by die 3de punt.

Christus bring lewe ná die grens van die dood. Dit bring troos omdat Hy my die ewige lewe skenk.

Ons het vanaand die geskiedenis gelees net voordat Jesus vir Lasarus opwek. Jesus het vir Martha gesê: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?
Hoe sou u antwoord? 
Dit is natuurlik belangrik dat ons verstaan wat met ewige lewe bedoel word. 
Ewige lewe beteken nie bloot “onsterflik” (“immortal” in Engels) nie. Dis nie bloot ‘n nimmereindigende voortbestaan nie. Selfs die ongelowiges het dit in ‘n sekere, tog afgryslike, sin.
Daniel 12:2 sê: “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.”
Nee, vir die ongelowige is ewige voortbestaan ‘n hartseer werklikheid.
Maar ook vir gelowiges beteken ewige lewe ook nie bloot ‘n ewige kontinuasie van wat ons reeds besit nie.
Ons sterf. Lasarus is opgewek en het weer gesterf. Ons doopformuliere noem hierdie aardse lewe niks anders as ‘n voortdurende sterwe nie.
En tog bely ons die ewige lewe. Wat is dit?
Meeste van ons het gedagtes aangaande dit wat die ewige lewe nie behels nie.
Geen hartseer, geen verdriet, geen honger, geen dors, geen huwelik, geen son, geen see.
En dan dink ons dalk, Ja! Of, ai tog… of, hoe kan dit?

Gemeente, laat ons liewers kyk na wat die ewige lewe wel behels. Dit is waar ons troos lê.
Laat ons daarvoor teruggaan na die begin. In Sondag 3 word die vraag gevra, “Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?”
Die antwoord: “Nee, God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God, sy Skepper, reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.

Dit is die ewige lewe. Om elke dag, tot in ewigheid, in die salige teenwoordigheid van God te mag lewe en Hom in alles te mag loof en prys.
Hierdie gawe het die mens, toe hy in aansien was, gevat, en omdat hy dit nie verstaan het nie en sy uitnemendheid nie besef nie, het hy dit vertrap (NGB 14 parafrase).

En dis presies dit wat Christus kom herstel het. Dit is die ewige lewe wat Hy bring. Nie onsterflikheid waarin ons die sondige begeertes van ons harte sou kon uitleef nie, want dit sou ‘n voortdurende sterwe wees. Maar Christus herstel die verhouding tussen God en mens deur die prys vir ons sondes te betaal. Slegs in Hom het ons ewige lewe. Ewige lewe om elke oomblik tot eer van God te leef. Ewige lewe waarin ons begeertes ooreenstem met God se wil. Ewige lewe waarin ons Hom loof en prys in die kleinste detail van ons lewens. En dit is waar ons troos en saligheid lê. Nie in die eerste plek in die afwesigheid van verdriet en of ons die of daardie persoon gaan herken nie. Maar in God se liefdevolle teenwoordigheid.

Die ewige vreugde besit ons nog nie volkome nie. Die HK sê dat ons nou slegs ‘n begin van daardie vreugde besit. In hierdie lewe reeds ervaar ons slegs ‘n klein voorsmakie van die lieflike werklikheid van die ewige lewe. Hy Het sy Gees vir ons gegee, ons is wedergebore deur die Gees, ons het ‘n afkeer van die sonde en ons lewens getuig daarvan. 
En tog, in hierdie lewe is daar nog elke dag dinge wat ons aandag aflei van God. Nou, in hierdie aardse lewe kan ons God nie elke oomblik loof en prys nie, al wil ons, en al moet ons.

Dit behoort nie so te wees nie maar dis waar. Mense wat sleg ry in die verkeer... Die land se departemente wat nooit werk nie… Bekommernisse oor ons toekoms… Selfs vriende en familie wat verkeerdelik teenoor ons handel… Alledaagse dinge wat ons aandag van God af trek. Ons sondig so maklik. So vinnig is ons hart weer vol sondige gedagtes en woorde wat nie by ons nuwe lewe in Christus pas nie. En juis in hierdie oomblikke, wanneer ons berou het oor ons sonde mag ons vorentoe kyk na die volkome saligheid wat vir ons voor lê. En ons mag troos daarin vind dat omdat ons nou reeds ‘n klein begin van daardie saligheid het, ons sekerheid het oor dit wat ons te wagte is. Die saligheid wat ons nou reeds het, is soos die dun skrefie lig van die son wat oor die horison kom. Ons het reeds bietjie daarvan, en die feit dat ons dit reeds het en dat ons ervaar hoe daardie skrefie groei, dit is bewys daarvan dat ons binnekort die volle glorie van daardie saligheid sal besit. As ‘n mens nog nooit die son gesien het nie, sal jy nie jouself kan voorstel met wat se glorie dit skyn nie. En so is dit met die volkome saligheid wat ons te wagte staan. Die HK praat van ’n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie. En daardie saligheid is ons sin. Om te maak wat ons wil? Ja! En u begeerte sal wees om daarin God ewig te prys selfs in die mees alledaagse ding. Hierdie saligheid kan slegs in Christus gevind word.

Glo u dit?

Christus het vir Martha gesê: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Geliefde gemeente, glo u dit?

Wees dan getroos dat Christus almal wat in hom is die ewige lewe skenk. Die lewe mag ons nou reeds begin ervaar. Hierdie lewe gaan voort vir die wat in Christus sterf sodat hulle nou al by Hom in die hemel mag wees. Maar dis nie waar die Christen se troos stop nie. Hierdie lewe sal ons, na die opstanding, in Christus-gelykvormige, verheerlikte liggame vir ewig leef. Vir ewig, in volkome saligheid, tot eer van God. Hier lê ons troos.

Amen.