Preek: Openbaring 1:4-5a
Toe ek klein was, het dit altyd op my baie indruk gemaak as die seën in die kerk uitgespreek is.
‘n Seën soos die een in ons teks het ek nog nie werklik verstaan nie, dit is moeilike woorde vir ‘n klein kind.
Tog, die feit dat almal staan, die feit dat die dominee sy hande in die lug steek.
Op een of ander manier kom ‘n klein kind agter: Dit is die belangrikste oomblik in die erediens.
Nou moet ek stilstaan!
Daar is iets heiligs aan wat nou gebeur!
Geliefde gemeente, oud en jonk, ek mag u vandag die Evangelie bring met hierdie indrukwekkende seën uit Openbaring 1.
Tema: Ervaar die seëngroet van God Drieënig!
Die apostel Johannes is op Patmos.
‘n Eiland in die Middellandse See wat gebruik is, soos Robben Eiland in Suid-Afrika, as gevangenis.
Johannes was ‘n spesiale apostel vir Jesus.
Hy verwys in sy Evangelie na homself as die een wat Jesus liefgehad het.
Johannes het vir Jesus baie goed geken.
Maar nou, op hierdie stadium het Johannes al heelwat ouer geword.
Dit is al heelwat jare gelede wat Jesus se hemelvaart plaasgevind het.
En ineens, vertel Johannes in Openbaring 1, ineens het Jesus weer aan hom verskyn.
Die manier waarop Johannes Hom beskryf, wek die indruk dat hy Hom aan die een kant herken het, maar aan die ander kant dat Hy tog anders was.
Van agter het Jesus hom ineens aangespreek.
Dit was ‘n indrukwekkende stem, soos ‘n besauin, soos die magtige gebruiks van baie waters.
Johannes het homself omgedraai om te sien wie dit is.
En dan gee hy ‘n nogal detail beskrywing.
Die volgende word uitgelig.
Dit was Een soos die Seun van die mens.
Seun van die mens, dit was ‘n uitdrukking waarmee Jesus dikwels na Homself verwys het toe Hy op aarde was.
Johannes bedoel dus: Hierdie persoon wat aan hom verskyn, het soos Jesus gelyk.
Johannes het dus sy Heiland herken.
Maar tog was Hy ook anders.
In die beskrywing proe mens ‘n sekere afstand.
Daar was iets verhewe in hierdie Persoon, wat anders was as toe Jesus op aarde was.
Dit het eerstens uit sy uiterlik geblyk.
Hy het ‘n kleed aangehad wat tot op die voete hang – heel koninklik.
Hy was gegord om die bors met ‘n goue gordel.
‘n Goue gordel – dit het Jesus nie gedra toe Hy op aarde was nie.
Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu – teken van ewigheid.
Sy oë soos ‘n vuurvlam – teken dat niks Hom ontgaan nie.
Sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond.
En sy stem soos die stem van baie waters.
Alles dinge wat nie eie was aan Jesus toe Hy op aarde was nie.
Maar nou is dit hoe Hy dus gelyk het in sy verheerlike, sy verhoogde staat.
Die verskil met sy aardse tyd blyk tweedens ook uit hoe Hy Homself voorstel.
Jesus stel Homself voor met die volgende beskrywing:
Ek is die Alfa en die Omega, die eerste en die laaste (vers 11 &17).
Ek is die lewende. Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid (vers 18).
Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood (vers 18).
Dit is alles baie verhewe, baie koninklike beskrywings, passende by Hom wat troon in die hemel.
Om saam te vat, ‘n weersiens tussen Johannes en Jesus, maar tog nie soos van ouds nie.
Die geskiedenis, die heilsgeskiedenis het aanbeweeg.
Christus is verhoog, Hy regeer ewig as God vanuit die hemel.
Waar Johannes destyds saam met Jesus aan tafel gelê het, aan sy bors, lees ons nou dat Hy soos ‘n dooie geval het aan sy voete.
Dit as gevolg van hierdie hemelse heerlikheid, wat Jesus afgelê het toe Hy op aarde was, maar wat Hy nou weer gehad het.
Ja Hy is God!
Dit blyk ook uit die seëngroet waarmee die Openbaring begin.
‘n Seëngroet wat vir ons baie bekend is, omdat ons dit dikwels aan die begin van die erediens hoor.
Kom ons kyk nou na hierdie indrukwekkende seën, waarmee Christus die sewe gemeentes in Klein-Asië, en ook ons gemeente, groet.
Om hierdie seën te verstaan, is belangrik om te besef dat dit trinitaries is.
Dit wil sê, ons vind al drie Persone van die Drieëenheid daarin.
Net soos ander voorbeelde van die seën in die Nuwe Testament, dink aan 1 Korinthiërs 13:13:
Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees ...
Duidelik trinitaries.
So is ook hierdie seën.
Dit begin met God die Vader, wat soos volg beskryf word:
“Hom wat is en wat was en wat kom ...”
Dit dui uiteraard op sy ewigheid, en dat Hy die Aanwesige is.
Hy was daar, Hy is daar, Hy sal kom.
Hierdie uitdrukking herinner aan hoe die HERE Homself aan Moses voorgestel het: Ek is – Jahweh (Ex 3:14).
Ek is daar, trou aan my verbond, deur alle tye heen.
Dan kom die seën by die Heilige Gees.
Die Gees word hier nogal opmerklik beskryf: “die sewe Geeste wat voor sy troon is”.
Dit klink vir ons vervreemdend.
Ons glo mos net in een Heilige Gees?
Soos ons in die Geloofsbelydenis van Athanasius bely: Daar is “een Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie.”
Hoe kan daar dan sprake wees van sewe Geeste soos ons in vers 4 lees?
Om dit te verstaan moet ons onthou dat die boek Openbaring baie gebruik maak van simbole, van metafore.
Daar word byvoorbeeld gepraat van die 144 000 wat gered sal word, hoewel nie bedoel word dat slegs en alleen soveel mense in die hemel gaan kom nie.
Dit gaan veel en veel meer wees.
So is die sewe hier ook ‘n simboliese getal.
In die 2020-vertaling staan daar ‘n kanttekening by hierdie vers wat sê:
“Die sewe Geeste moet verstaan word as benaming van die Heilige Gees in sy veelvuldige en omvattende werking.”
Dit is ‘n korrekte beskrywing.
Laat ons nooit vergeet nie dat God ons verstand te bowe gaan.
Ons kan Hom nie in ‘n boksie plaas nie.
Dit geld vir sowel Vader, Seun en Heilige Gees.
Die Seun is byvoorbeeld God, maar het ook mens geword.
‘n Kombinasie wat ons nie kan verklaar nie.
En soos daar drie Persone in een God is, iets wat ons ook nie kan verstaan nie, so bestaan die Heilige Gees uit sewe Geeste.
In Jesaja 11 lees ons, daar is die “Gees van wysheid en verstand”.
Daar is die “Gees van raad en sterkte”.
Daar is die “Gees van kennis en van die vrees van die HERE” (Jes 11:2)
Net soos die Drieëenheid, kan ons die sewevoudige Heilige Gees nie verstaan of verklaar nie.
Maar die Skrif openbaar dit so aan ons.
Hierdie benaming vir die Heilige Gees vind ons ook in Openbaring hoofstuk 3, 4 en 5.
Neem byvoorbeeld hoofstuk 5:6:
“En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.”
Ook in hierdie vers ontmoet ons al drie Persone van die Drieëenheid.
Duidelik verwys hierdie uitdrukking sewe Geeste dus na die Heilige Gees.
Niemand kan die Gees vasvang nie.
Hy is soos sewe oë wat God uitstuur oor die hele aarde.
Niks ontgaan sy blik nie.
En orals, tot die verste uithoeke van die aarde, word sy invloed sigbaar.
Ja ook vandag in hierdie erediens, en in hierdie nagmaal, en in die mense wat hier in die kerk sit, sien ons die werk van die Heilige Gees.
Kom ons gaan verder met die seën in ons teks.
Ons het nou al gefokus op die Vader en die Heilige Gees.
In die derde plek kom nou die Seun.
Hy word die uitvoerigste beskryf:
“Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde”.
‘n Pragtige indrukwekkende beskrywing.
Johannes sien vir Jesus, maar dit is nie meer soos toe Hy op aarde was nie.
Die tyd het aanbeweeg, heilsfeite het plaasgevind.
Die heilsfeite word genoem:
Hy is die eersgeborene uit die dode – dit wat ons met Paasfees vier.
Hy is die Owerste oor die konings van die aarde – dit wat ons met Hemelvaart vier.
En, staan daar, Hy is die getroue Getuie, die betroubare Getuie.
Sy Woord, sy getuienis, is betroubaar.
Op aarde is sy Woord ‘n vaste fondament, ‘n vaste baken.
En in die hemel is sy getuienis ook getrou, daar waar Hy voor die Vader vir ons pleit.
Hy, die getroue Getuie, bring hemel en aarde weer bymekaar.
Al met al, wat ‘n heerlike seën, waarin beskryf word wie God Drieënig is!
En dan die wonderlike woorde aan die begin: Genade en vrede vir julle.
Vrede is die gevolg van die genade wat beskikbaar gekom het deur Jesus Christus.
Vrug van sy genade is vrede.
Vrede tussen God Drieënig en die sewe gemeentes in Klein-Asië.
Dis wat God Drieënig vir die sewe gemeentes in Klein-Asië sê.
Wat ‘n voorreg!
Hierdie gemeentes was verre van volmaak.
Ons lees nogal verontrustende, ronduit skokkende dinge oor sommige van daardie gemeentes.
Tog is dit gemeentes wat aan Christus behoort, waar Hy sy kandelaar geplant het, waarheen Hy sy engel gestuur het, verwysende van die Woordbedienaar in elke gemeente.
Hulle ontvang hierdie seën van onskatbare waarde.
En, gemeente, aan die begin van hierdie erediens het u ook hierdie seën ontvang.
Ook oor die Maranata-gemeente kan verontrustende dinge gesê word.
Nietemin het Christus sy kandelaar hier geplaas, sy Woordbedienaar hierheen gestuur.
Hy maak bemoeienis met hierdie gemeente.
Wat ‘n voorreg!
Ons mag lewe onder ‘n oop hemel.
As gemeente skuil ons onder die vlerke van God Drieënig.
Daardie arendsvlerke is van Hom wat is en wat was en wat kom, van die alomteenwoordige sewe Geeste, en van Hom wat die dood oorwin het, wat die Owerste, die Koning oor die konings van die aarde is.
Wat ‘n gerusstelling in ‘n wêreld wat vol is van korrupte leiers wat net na hulle eie belange omsien.
Wat ‘n beskerming!
Wat ‘n seën van onskatbare waarde!
Vandag hoor en sien en proe ons die goedheid van God Drieënig.
Ons sien die gedekte tafel.
Ons proe die brood en wyn.
Ons hoor die betroubare Getuie wat in die prediking tot ons kom.
En ons hoor die seën.
Gemeente, ervaar die seëngroet van God Drieënig!
Ons mag vandag hierby stilstaan, dit oordink, dit oorpeins.
Soms is dit goed om dit weer bewus te doen.
Soms, om net ‘n ander voorbeeld te noem, is dit goed om weer vir ‘n oomblik stil te sit en bewus na te dink oor wie jou man, of jou vrou, vir jou is.
Wat hy, wat sy alles vir jou beteken.
Of wie jou pa en jou ma vir jou is.
Of wie jou kinders vir jou is.
Ons lewe raak soms gejaagd en oppervlakkig.
Ons lewe saam in dieselfde huis, maar ons lewe aan mekaar verby.
Ons besef nie meer die groot geskenk van ‘n man of vrou, ‘n pa en ma, ‘n kind nie.
Dit maak mens dankbaar as jy vir ‘n oomblik die moeite neem om na te dink wat daardie persoon in jou lewe beteken.
So doen ons vandag ook, as ons oorpeins wie God Drieënig is.
Ons doen dit nie rasioneel, dat ons Hom probeer verklaar nie.
Dit doen ons ook nie met ons familielede nie.
Maar ons oordink wat hulle vir ons beteken.
Hoe anders, hoeveel moeiliker, hoeveel eensamer die lewe sou gewees het as hulle nie daar was nie.
Des te meer, hoe sou ons lewe gewees het as God Drieënig nie daar vir ons was nie!
Wel, eenvoudig, daar sou nie vir ons ‘n lewe gewees het nie.
Daar sou geen toekomshoop gewees het nie.
Die lewe sou uitsigloos en sinneloos gewees het.
Ons teks word gevolg deur ‘n lofprysing, ‘n sogenaamde doksologie.
Laat ons hierdie lofprysing ook uitroep vandag – ongelukkig is daar nie ‘n Skrifberyming wat dit berym het nie:
“Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.”
‘n Pragtige lofprysing, so gepas vir by die nagmaal.
Op hierdie Nagmaalsondag proe en ervaar ons wie Hy is, die Vader wat is en wat was en wat kom, die sewe Geeste, en die getroue Getuie, Jesus Christus, Hy wat deur sy offer hemel en aarde weer versoen het, Hy wat die dood oorwin het, Hy wat almagtig is en regeer oor die konings van die aarde.
En dit alles kort saamgevat in die seëngroet wat ons aan die begin van die diens ontvang het.
Lof, eer sing ons voor God,
die bron van alle lewe –
die Vader, Seun en Gees,
almagtig en verhewe.
Drie-eenge God, ons roem
u krag en majesteit.
O Heer, ons wil U noem:
ons God in ewigheid!
(Gesang 5)
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Openbaring 1:1-20
Teks: Openbaring 1:4-5a
Tema: Ervaar die seëngroet van God Drieënig!
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Hoe word God die Vader in hierdie seën genoem? Wat word daarmee bedoel?
- Hoekom word die Heilige Gees die sewe Geeste genoem? Wat word daarmee bedoel?
- Hoe verskil Johannes se beskrywing van Christus se voorkoms met toe Hy op aarde was?
- Hoe verskil Johannes se beskrywing van Christus se stem met toe Hy op aarde was?
- Ervaar jy die oomblik as die seën uitgespreek word, as ‘n heilige oomblik?
Votum
Seën (Openb 1)
Ps 31:3,15
Wet
Sb 42:1,2,5
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van die Onse Vader)
Apostoliese Geloofsbelydenis
Sb 50:7
1e tafel: Skriflesing: Openbaring 1:1-8; Sing: Ps 115:7
2e tafel: Skriflesing: Openbaring 1:9-20; Sing: Ps 115:8
3e tafel: Lofverheffing; Sing: Ps 115:9
Dankgebed
Teks: Openbaring 1:4-5a
Preek
Ps 72:10
Gebed
Kollekte
Ps 133:1,2
Seën