Paulus het die laaste hoofstuk afgesluit deur te sê: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” Dit is belangrik, want die woord “verheerliking” kom ’n paar keer hier voor. Dit gaan alles oor God se heerlikheid. Wat beteken dit om God te verheerlik? God word verheerlik wanneer ons ons onderwerp aan sy mag en heerskappy.
Dit is nooit goed vir ons, of vir die vergaderde kerk, wanneer ons die aandag op onsself vestig nie. Dit is ook nooit goed vir ons, of die vergaderde kerk, wanneer ons bid, sing, preek of getuig op ‘n manier wat die evangelie ondermyn nie. Elke aspek van ons lewens behoort eer aan God te bring. Of jy eet of drink, bid of profeteer: “Wat jy ook al doen, doen alles tot verheerliking van God” (1 Kor. 10:31).
Christus se onderwerping aan God die Vader terwyl Hy op aarde was, is die kern van die evangelie en van Paulus se opdrag hier. Christus het die volmaakte voorbeeld gegee van die waarde van hoofskap, gesag en nederigheid. Dit wat Paulus in die volgende verse sê, is op hierdie vers gegrond.
Vandag kom ons by een van die moeilikste gedeeltes in Korinthiërs. Dit is nie net moeilik om te interpreteer nie, maar dit is ook moeilik om te hoor. Dit klink vir ons aanstootlik, en dit is nie as gevolg van die hoofbedekkings nie, maar as gevolg van gesag. Selfs net om dit te lees – wat nog te sê om dit uit te lê en daarvolgens te leef – is gevaarlik om te doen. Maar dit is God se Woord.
Aan die een kant het ons ’n beginsel van gesag en onderwerping wat nie eintlik deur die kerkgeskiedenis heen bestry is nie.
En aan die ander kant het ons die toepassing van hoofbedekking wat kompleks is en waaroor gedebatteer is regdeur die kerkgeskiedenis.
Dit lyk of daar ’n probleem was met die orde wat God bepaal het. Die samelewing was besig om manlike en vroulike rolle deurmekaar te krap; mans het probeer om vroue en vroue het probeer om mans te wees. Niks anders as ons kultuur vandag nie. Die vrouens het gesê: “Ek kan doen wat ek wil. My man het nie gesag oor my nie, want ek is vry in Christus.” En Paulus sê: “Nee, jy kan nie so optree nie, want God het ons met verskillende rolle geskep.”
Alles tot verheerliking van God: onderwerping en gesag:
1. Die beginsel
2. Die praktyk
Die beginsel
Hy sê in vers 2: “EN ek prys julle, broeders, dat julle in alles aan my dink en aan die leringe vashou soos ek dit aan julle oorgelewer het.” Die tradisies wat hy in gedagte het, is nie vroeë kerklike liturgiese tradisies nie. Hy praat eerder van die evangelie self. Ons weet dit omdat hy later in die brief duidelik sê wat hy aan die Korinthiërs “afgelewer” het. Hy sê in hoofstuk 15: “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het...” en dan gaan hy voort om die evangelie te gee.
Paulus is bly dat hulle sy raad gevra het, “dat julle in alles aan my dink”. Die probleem is nie dat hulle verkeerd dink nie, maar dat hulle nie regte denke toepas nie. Hulle is soos diegene wat die Woord hoor en dan nie doen wat dit sê nie. Hy het lank en hard gearbei dat die noodsaaklike waarhede in hulle harte gegrif was. Daar is baie ander dinge wat hulle kan vergeet, maar hulle sal sekere dinge onthou. En hy prys hulle wat onthou het. Tog is dit een ding om te hoor en ’n ander ding om te doen.
Hy sê in vers 3, “Maar ek wil hê dat julle moet weet...” Paulus sê: “Ek probeer ’n baie belangrike punt maak. Luister aandagtig.”
Wat is sy punt? “...dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.” Hy stel die betwisbare waarheid tussen twee onbetwisbare waarhede. Die hoof van elke mens is Christus. Dit is ’n feit. En in hierdie konteks blyk dat Paulus veral oor mans en vrouens praat, soos ons later sal sien. Die ander onbetwisbare feit hier is dat “God die hoof van Christus” is.
Jesus se onderwerping aan die Vader se wil het die evangelie moontlik gemaak. God die Seun het mens geword; Hy het opgetree namens Adam se geslag; en Hy was aan die Vader gehoorsaam selfs tot die dood toe.
Dus, die voorbeeld vir beide die man se onderwerping aan Christus en die vrou se onderwerping aan die man word gevind in die onderwerping van Christus aan God. Hy sê niks nuuts of radikaals hier nie. Hy herhaal dit in Efesiërs 5. Die vrou se vrywillige onderwerping aan haar man as haar Godgegewe gesag wys op ’n pragtige manier die nederigheid van die koninkryk van Christus. En die man se oproep om ’n lewe van opoffering te leef soos Christus geleef het, is slegs moontlik as hy in Christus is.
Hierdie orde van onderwerping het nie net die verlossing moontlik gemaak nie, maar is ook gekoppel aan die heerlikheid en eer van God die Vader as die uiteindelike rede vir alle dinge. Dit is waaroor dit gaan as ons in onsself of in God roem. Dit is hoekom hy eindig met vers 12b: “... maar alles is uit God.”
Maar let op: die feit dat Christus Hom aan die wil van die Vader onderwerp, moet genoem word saam met die feit dat Christus nie tweedeklas is nie. Die feit dat Hy Hom aan die Vader se wil onderwerp, maak Hom nie minder gelyk aan die Vader nie – dit maak Hom nie anders in die essensiële aard van sy wese nie. Maar vir Christus om Hom aan die Vader te onderwerp, was ’n aanduiding van God se ewige doel vir wat goed en reg was. Daarom, geliefdes, op dieselfde manier waarop vroue hul onderwerp aan die leierskap van mans as ouderlinge in die kerk en as mans in die huis, maak hulle nooit en op geen manier tweedeklas nie. Ook nie minderwaardig op enige vlak nie. Maar hulle onderwerping is ’n aanduiding van hul gewilligheid om die heerlikheid van God te erken op die manier waarop Hy ons gemaak het.
Die praktyk
“Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan; maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan; want dit is een en dieselfde asof haar hoof geskeer is.” Hier kom die vrae al gou na vore. Wat is hierdie hoofbedekking? En hoekom is dit goed vir 'n vrou om een te dra en nie 'n man nie? En wat bedoel Paulus met profeteer en bid? Weerspreek hy homself as hy in 1 Korintiërs 14 sê: “Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê.”
Eerstens is dit belangrik om die idee van profesie te verstaan. ‘n Profesie is 'n Woord van God. Ek dink die ekwivalent hiervan is dalk om die Bybel in openbare eredienste te lees. Ons moet onthou dat die Kanon nog nie in daardie tyd voltooi was nie. Daarom moes hierdie profesieë getoets word om die geldigheid daarvan te bepaal. Hulle was dus nie presies soos die profete van die Ou Testament nie. Dit is nie asof mense in die Ou Testament 'n groep van drie mense bymekaar sou kry om te sien of dit wat Jesaja gesê het, waar is nie. Ons sal meer hierop ingaan in hoofstuk 14. Wat ons nou kan sê is dat hulle geprofeteer of gebid het op 'n manier wat opgestaan het teen 'n God-geordende struktuur.
“Want as 'n vrou se hoof nie bedek is nie, laat sy dan ook haar hare afsny; maar as dit vir 'n vrou lelik is om haar hare af te sny of te skeer, laat sy haar hoof bedek.” Ons weet dat dit in die eerste-eeuse Korinthe gebruiklik was om die koppe van slawe en veroordeelde egbrekers te skeer. Hy suggereer ook dat heilige prostitute by die plaaslike tempel van Afroditus ook nie die gebruiklike hoofbedekkings van gewone vroulike burgers van Korinthe gedra het nie. Daarom, sê Paulus, as jy nie 'n hoofbedekking dra nie, kan jy net sowel al die pad gaan en jou kop heeltemal skeer. Maar aangesien dit skandelik is, laat sy haar kop bedek.
Dit is hoekom ek dink dat die beginsel van gesag duidelik is in hierdie gedeelte, maar die praktyk het iets beteken in daardie kultuur wat dit duidelik nie meer in hierdie kultuur beteken nie. Dus, wanneer 'n vrou in daardie kultuur nie haar kop bedek het nie, sou dit iets beteken wat dit wel in ons kultuur beteken. Dit was 'n uitdrukking van vryheid en bevryding.
“Want 'n man moet die hoof nie bedek nie.” Met ander woorde, jy is nie 'n vrou nie, en moenie die skoonheid van die manier waarop God die geslagte geskep het, meng nie. "omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man." Toe ek hierdie gedeelte gelees het, was dit duidelik dat die vers ons so ongemaklik maak dat ons dit selfs as aanstootlik beskou. Die Bybel skaaf teen ons moderne kulturele norme, en die feit dat dit so skokkend vir ons ore is, is dalk 'n teken dat ons hierdie norme ons eie gemaak het.
Hoe moet ons hierdie teks verstaan? In verhouding met vers 8 en 9: “Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man.” Paulus sê dat elkeen die heerlikheid weerspieël van die een uit wie hulle geskape is. Hy het die vrou uit die man gemaak. Nie andersom nie. En sy vertoon die heerlikheid van die man van wie sy gekom het. Dit sê niks oor die waarde of waardigheid van die twee nie. Dit gaan oor die manier waarop God man en vrou geskep het. Verder sê hy niks wat die Bybel nie in Genesis 2 sê nie.
As jy dit met Genesis 2 vergelyk is dit duidelik. Die vrou is geskep om die hulp en helper van die mens te wees. Adam het in die tuin geloop, en daar was geen helper wat vir hom geskik was nie. Dus het God ‘n vrou uit Adam gemaak.
Vir daardie chauvinistiese manne wat op een of ander manier dink dat dit die verduideliking is wat jy nodig het hoekom jy nie die skottelgoedwasser hoef uit te pak of te stofsuig nie: hou op om so te dink. Die Bybel is baie duidelik teen chauvinisme en feminisme. Dit gaan daaroor om eer aan die ander te gee, waarin God uiteindelik al die eer kry vir die perfekte struktuur en orde van die skepping. Wat die Bybel sê is ’n uitdrukking van ‘n wonderlike beginsel. Dit sê nie dat die man nie veronderstel is om die vrou te help, hand by te sit of selfs vir haar te sterf nie. Daar staan ook niks wat negatief is oor die vrou nie. Chauvinisme en feminisme is onbybels.
Die belangrike hier is hoe God die wêreld met struktuur en gesag geskep het. En in daardie tyd was 'n simbool van daardie gesag die hoofbedekking, en daarom sê Paulus: “Daarom moet die vrou 'n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.” Hy verwys moontlik hier na die gevalle engele. Die minagting van gesag wat by die engele begin het. Hy het oor die skepping gepraat, en hy gaan verder om vir hulle te wys wat gebeur het toe die engele in opstand gekom het, oorlog verklaar het en die gesag heeltemal verontagsaam het. Dit het alles in die hemel begin en daarom is dit niks nuuts nie.
Maar gesag beteken nooit onafhanklikheid nie. Nie vir die vrou of vir die man nie. Ons het mekaar nodig. En dit is duidelik vir enige mens wat verstand het. Die engele was nie onafhanklik van God nie, en so is die vrou ook nie onafhanklik van die man nie. Maar die omgekeerde is ook waar, soos hy sê: “En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder die man nie. Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die vrou; maar alles is uit God.”
Hy gaan terug na die skeppingsorde om ons interafhanklikheid te wys. Om die waarheid te sê, ons is ons lewe aan mekaar te danke. Die vrou is uit die man gemaak, en die man is uit die vrou gebore. Die een kan nie eers sonder die ander bestaan nie. As hierdie afhanklikheid verstaan word, is dit pragtig, want een mens lei en die ander volg. En albei het mekaar lewenslank nodig. Opofferende gesag en gewillige onderwerping loop hand aan hand. Net soos die man uit die vrou kom en die vrou uit die man.
In ‘n sekere sin is dit soos 'n dans. Enigiemand wat weet hoe om te dans, weet daar kan nie twee leiers of twee volgelinge wees nie. Nee, vir die dans om perfek te werk, moet die leier en die volger hul rolle perfek ken. Trouens, die dans van die geslagte verheerlik God. Ek dink miskien het Paulus 'n prentjie in gedagte gehad van 'n waterval van die heerlikheid van God na Christus na die man na die vrou, terwyl sy heerlikheid uitgestort word. En niemand hou daardie heerlikheid vir homself nie, maar gee dit in onderdanigheid op sodat die heerlikheid eindig by God van Wie alles kom. Soos daar staan: "Alles is uit God."
Dit is dus duidelik dat beide die man en die vrou uit God kom en dus heeltemal gelyk is in waarde, in hulle bydrae tot die samelewing, op geestelike vlak, en op intellektuele vlak. Ons maak daardie onderskeid. Nie die Bybel nie.
Net omdat President Ramaphosa 'n deur God gegewe gesag het, beteken dit nie dat sy lewe van meer intrinsieke waarde is as joune nie. Dit beteken eenvoudig dat hy 'n groot gegewe verantwoordelikheid dra om te lei, en ons om te volg.
En so eindig Paulus met vers 13-16: “Oordeel self: Is dit betaamlik dat 'n vrou met onbedekte hoof tot God bid?” Dit is 'n retoriese vraag wat die antwoord verwag: nee, dit is nie. Daarom gaan hy voort en vra: “Of leer ook die natuur self julle nie dat as 'n man lang hare dra, dit vir hom 'n oneer is nie; maar as 'n vrou lang hare dra, dit vir haar 'n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as 'n bedekking?” Langer hare onder die mans in daardie kultuur sou 'n simbool van homoseksualiteit gewees het. Die meeste mense kan op 'n afstand die verskil tussen 'n man en vrou sien wanneer hulle na die persoon se hare kyk. Geslag is binêr; dit lê nie op 'n massiewe spektrum nie. In hierdie geval, wanneer 'n man sy hare lank dra, op die manier waarop vroue dit dra, is dit tot sy skande. Wanneer 'n vrou lang hare het, wys dit die beeld van heerlikheid wat sy as 'n individu dra, en die eer wat sy aan die man bring. Vir vroue was die lang hare 'n teken van hul vroulikheid. As sy dit sou skeer, soos ons vroeër gelees het, sou dit 'n teken wees dat sy 'n bekeerde egbreekster of prostituut was.
Wat hy sê, is dat – maak nie saak in watter samelewing jy ook al leef nie – daar is 'n vroulike en ‘n manlike afdeling in die klerewinkel. As ek kerk toe sou kom, aangetrek soos 'n vrou, is dit die taak van die ouderlinge om dadelik na my toe te kom, te keer dat ek preek en te sê: “Johan, dit is 'n skande dat jy soos 'n vrou aantrek. Dit is nie die rol wat God vir jou gegee het nie.” En dieselfde moet van die vrou gesê word. As vroue probeer om soos mans aan te trek, om die rol van 'n man te vervul, moet ons sê: dit is skandelik.
En Paulus eindig met: “Maar as iemand meen om twisgierig te wees, ons het nie so 'n gewoonte nie, en ook die gemeentes van God nie." Met ander woorde, as jy wil twis, verbreek jy die eenheid met die kerke wat Paulus geplant het, asook die kerke wat die ander geplant het. En eenheid, soos ons sal sien, is iets waaroor Paulus baie in die volgende paar hoofstukke praat.
Dus, om af te sluit: Dit gaan hier oor gesag en onderwerping wat eer aan God bring. Christus, wat Homself aan God onderwerp het, is ons voorbeeld. Jesus Christus is die beliggaming van beide die heerlikheid van God en die heerlikheid van die mens. Geen ander mens hou die heerlikheid vir homself nie. Die heerlikheid van God vloei van Hom af na sy skepping, na die man, en na die vrou. Ons ontvang daardie eer en buig ons knieë gewillig voor daardie gesag om die eer aan die man, aan Jesus, en uiteindelik aan die Vader terug te gee! Dit is orde; dit wat hierdie wêreld doen, is chaos. Dit is skoonheid; dit wat hierdie wêreld vir ons wys is, 'n gemors. Dit is struktuur; dit wat die wêreld wil hê, is anargie.
Daar is so ‘n groot verwarring in die wêreld. Laat dit nie so wees in die kerk nie. Want die kerke van God het deur die geskiedenis heen geen ander praktyk gehad nie. Hoekom sou ons dan wel?
Amen.