Soiets het nog nie gebeur nie ...

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-04-30
Teks: 
Rigters 19:30
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 19:30

 

Ons lig in ‘n donker wêreld.

Dit is die tema vir ons as gemeente vanjaar.

By die woorde donker wêreld dink ons deesdae veral aan beurtkrag.

Soiets het nog nie gebeur solank as wat ons in hierdie land woon nie, hoor ons die ou mense sê.

Dikwels sit ons vir ure sonder elektrisiteit, nie net as gevolg van die beurtkrag nie, maar ook omdat die infrastruktuur so oud is dat die krag elke nou en dan trip.

En dan het ons dit nog nie oor die grootskaalse diefstal van kabels en elektrisiteitsmaste nie.

Die ergste donkerte is nie soseer die afwesigheid van krag nie, maar die absolute selfsugtigheid van mense wat hulleself help en nie ‘n saak het watter negatiewe impak dit op ander het nie.

Selfsug en selfverryking is die duisternis.

Mense dink net aan hulleself.

Hulle wense moet koning kraai.

En dit is dan nie net hulle wat die land verwoes deur op ongekende skaal te steel nie.

Dis ook hulle wat dalk nie steel nie, maar net hulleself wil bevredig.

Wat hulle nie aan God of gebod steur nie.

As hulle behoefte het, het hulle ‘n reg op seks, ongeag wat God se gebooie daaroor sê.

As hulle nie aan gewone seks behoefte het nie, maar aan teennatuurlike homoseksualiteit, ook dan het hulle die reg om dit te doen.

God nog gebod mag hulle keer.

Dit is die duisternis van ons wêreld.

Die hele samelewing is in die greep daarvan, jonk en oud, wit en swart, ryk en arm.

Ek, ek, ek, en die res kan vrek.

 

Ons sien ook hoe die hele sosiale, politieke en morele struktuur van die samelewing verbrokkel.

Mens sien dit in die verkeer.

Verkeersreëls word steeds meer oortree.

Nie net omdat daar totaal onvoldoende gepolisieer word nie.

Mense verloor al hoe meer die innerlike moraal om die verkeersreëls te gehoorsaam, nie net uit vrees vir straf nie, maar ook uit naasteliefde.

 

Verval is daar op verskeie fronte.

En elkeen wat eerlik is moet erken, ons is ook daarby betrokke.

‘n Landelike dag van veroormoediging is nodig, vir nie-Christene en vir Christene.

 

Nou is dit nie die eerste keer dat so ‘n situasie in die wêreldgeskiedenis plaasgevind het nie.

Die Bybel is nie vreemd daaraan nie.

God se Woord berei ons voor op sulke tye en gee ons ook rigting om deur sulke tye te kom.

Die Rigtertyd was by uitstek ook so ‘n tyd.

Die skrywer sê: Elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.

Daar word nie iemand uitgesluit nie.

Daar was ‘n landswye verval, en selfs soos uit vandag se hoofstuk blyk: Daar was totale anargie.

 

Gemeente, hoekom staan so ‘n hoofstuk in die Bybel?

Is Christus in hierdie hoofstuk?

 

Tema: Soiets het nog nie gebeur nie ...

 

Hierdie hoofstuk begin met die refrein van die Rigterboek:

“En in dié dae was daar geen koning in Israel nie.”

Die opmerking berei ons solank voor.

Hier kom weer iets wat jou sal ontstel.

Die chaos gaan voort.

 

Nadat die boek Rigters ‘n aantal rigters behandel het, sluit dit af met ‘n paar hoofstukke waarin daar geen rigters is nie.

As voorbeeld gee die skrywer enkele gebeurtenisse as ‘n dwarsdeursnit van hoe die samelewing in daardie dae gelyk het.

Soos hierdie insident van ‘n Levitiese man met sy byvrou uit Betlehem-Juda.

Die noukeurige leser moet reeds hier sy wenkbroue lig.

Hoekom vat hy haar as byvrou, hoekom nie as sy vrou nie?

In elk geval, ons lees dat sy hom verlaat het.

Die ou vertaling skep misverstand as daar staan: “sy byvrou het by hom gehoereer”.

Dit klink asof sy owerspel gepleeg het.

Mens kan ook vertaal, soos die 2020-vertaling: “Maar sy byvrou het ‘n afkeer van hom gekry en van hom af weggegaan”.

‘n Vertaling wat dalk meer sin maak in die lig van hoe hierdie man later ontpop.

Sy was nie ontrou aan hom omdat sy agter ander mans aangeloop het nie, maar sy was ontrou omdat sy hom verlaat het.

Moontlik het sy deurgeloop onder huislike geweld.

Sy het teruggegaan na haar vader se huis.

Daarheen het sy gevlug vir veiligheid.

En daar was sy so vier maande lank, toe haar man daar opdaag.

Hy het haar weer kom haal.

Dan lees ons die hele uitgerekte verhaal oor hoe hulle weer daar probeer wegkom het.

Die man wou weer teruggaan, maar die vrou se pa het hulle die heeltyd vasgehou, sy gasvryheid het geen einde gehad nie.

Skynbaar was hy ingenome met die feit dat sy dogter weer ‘n man en onderdak gevind het.

Na 5 dae het die man heeltemal sy humeur verloor, sy goed gepak en weggetrek met sy byvrou.

Maar omdat dit al later in die dag was, reeds middag, het hulle nie so ver gevorder nie.

Toe hulle by Jebus verbykom, wat nog nie so ver van Betlehem af was nie, oorreed sy dienaar hom om daar oor te slaap.

Maar omdat hierdie stad – die latere Jerusalem – op daardie stadium nog ‘n heidense stad was, besluit die man om tog deur te gaan tot hulle by ‘n stad kom wat aan Israeliete behoort het.

Ons sou vandag sê, ons ry eerder bietjie verder as om in ‘n township te oornag, totdat ons by ‘n dorp van ons eie mense kom.

Wie weet ontvang ons geen gasvryheid in so ‘n vreemde plek nie.

Baie wrang, in die lig van wat hierna gaan gebeur.

Heel moontlik sou hierdie heidense stad, Jebus, veiliger gewees het as Gibea.

Teen laat skemer kom hulle toe by Gibea aan wat aan Benjamin behoort het – dit was volksgenote.

Daar steek hulle toe vas op die plein, want niemand was bereid om gasvryheid te verleen nie.

Alreeds kommerwekkend, want dit was normaal in daardie dae.

Dit is wat die HERE van sy volk verwg het.

Dink aan sy gebod in Levitikus 19:

“Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ‘n kind van die land wat onder julle is.” (vers 34)

As hulle so moes wees teenoor vreemdelinge, hoeveel te meer teenoor hulle eie volksgenote!

Net ‘n ou man, ‘n man wat dalk vroeër beter tye geken het, het toe hy uit die veld van sy werk af kom, hulle jammer gekry en in sy huis opgeneem.

Hierdie ou man was self ‘n vreemdeling in die dorp, nie ‘n Benjaminiet nie.

Hy was uit Efraïm en het tydelik daar gebly.

Hy het aangedring dat hulle saam met hom kom.

Hy het die slegheid en onsedelikheid van die mense van die stad geken.

 

Toe hulle net binne is, hulleself gemaklik gemaak en geëet en gedrink het, klink daar ‘n harde gebons op die deur.

Skynbaar was dit in hierdie dorp normaal dat ‘n bende mans in die aande die strate kon onveilig maak, terwyl die res in hulle huise weggekruip het.

Letterlik word hierdie manne seuns van Belial genoem.

Waardelose gespuis, duiwelskinders.

Skynbaar was daar nie polisie om sulke tipes in toom te hou nie.

En, hierdie manne was nie net ‘n spul verkragters nie, hulle was ook Sodomiete.

Hierdie term verwys na die geskiedenis van Sodom, toe die mans van die stad ook ander mans wou verkrag.

Ja byna tot in alle details is wat hier gebeur dieselfde as wat destyds in Sodom gebeur het.

Dink aan Lot, wat ook gaste ontvang het, besoekers wat op die plein wou oornag.

Maar Lot, wat geweet het wat in sy stad aangaan, het hulle oorreed om in sy huis te oornag.

Tog het die gespuis van die stad die besoekers reeds gesien en sodra dit donker was, hulle kans gevat.

Ook hulle wou die besoekers misbruik, ‘n homoseksuele skanddaad.

En ook daar lees ons hoe Lot toe sy eie dogters aangebied het.

Die eerste lesers van die boek Rigters moes die ooreenkomste direk herken het, en so ook ons.

Wellus en vreemdelingehaat, dis is wat hierdie mans dryf.

 

Gemeente, in daardie tyd was homoseksualiteit onder die heidene nie ongewoon nie.

Dit was selfs deel van die heidense godsdiens.

Israel het, teen God se opdrag in, nie alle Kanaäniete uitgeroei nie.

Nou sit hulle met al die verkeerde invloede.

Ook Israeliete raak homoseksueel aktief, bevredig hulle welluste op watter wyse ook al.

God se wil was anders.

Homoseksuele omgang is vir Hom ‘n gruwel – Levitikus 18.

Mense wat dit beoefen het, moes gestenig word.

In sy wet verwys die HERE spesifiek na wat in Kanaän aangegaan het:

“deur al hierdie dinge is die heidene verontreinig wat Ek voor julle uit verdryf. So het die land dan onrein geword; en Ek besoek sy ongeregtigheid daaraan, sodat die land sy inwoners uitspuug ... Laat die land julle dan nie uitspuug as julle dit verontreinig nie, soos dit die nasie uitgespuug het wat daar voor julle was.” (Lev 18:24-28).

Ook vandag laat God toe, in sy regverdige oordele, dat ‘n land sy inwoners uitspuug.

Vir elke land op aarde geld dat dit deur die eeue deur verskillende volke bewoon is.

Maar ‘n volk kan van die aardbodem af verdwyn, as die land waar hulle woon hulle uitspuug.

Want die land behoort aan die HERE, en as die mense daar nie volgens sy wil lewe nie, gaan daar ‘n dag kom dat hulle uitgespuug word.

 

Maar gemeente, nog het die storie nie sy dieptepunt bereik nie.

Die ou man, wat ons as lesers al begin waardeer het, laat nou ook die wenkbroue lig.

Eers praat hy mooi en probeer hierdie spul verkragters rustig te maak.

Maar wat hy dan as alternatief voorstel, is ‘n mokerslag vir elkeen wat nog ‘n bietjie moraal oorgehou het.

Hoe op aarde is dit moontlik dat hy sy eie dogter, en ook die besoeker se byvrou, instede aanbied vir die bende verkragters?

Die ou man noem die Sodomie nog ‘n skanddaad, maar skynbaar nie dat sy eie jong dogter verkrag mag word nie.

Onbegryplik.

In elk geval, ons lees dat die man sy byvrou buitentoe gebring het, en hulle het haar die hele nag lank misbruik.

Groepsverkragting word dit deesdae genoem.

En hulle het haar soos dood agtergelaat.

 

En net as ons dink die storie het nou wel sy dieptepunt bereik, gaap daar skielik nog ‘n afgrond.

Die man, waarvan ons in die begin van die hoofstuk gelees het dat hy na sy byvrou se hart gepraat het om haar oor te haal om weer met hom saam te kom, hierdie man ontpop hom nou as ‘n sadis.

Wat was sy bedoeling dat hy na haar hart gepraat het, dat hy skieliek so ‘liefie-diefie’ na haar toe was?

Skynbaar het dit wel effek gehad, want sy het hom toe in haar pa se huis ingenooi.

En ook haar pa was ingenome met die feit dat die man weer in sy dogter belang gestel het.

Hy het moeite gedoen, sy gasvryheid het geen einde geken nie.

 

Tog ontpop die Leviet homself nou as ‘n sadis.

Nie net het hy haar oorgegee aan ‘n bende groepsverkragters nie, ook die volgende môre toon hy geen enkele medelye nie.

Hy het self ‘n goeie nagrus gehad, maar dit traak hom nie wat daardie nag met sy byvrou gebeur het nie.

Kortaf beveel hy haar om op te staan dat hulle kan vertrek.

Toe sy geen teken van lewe gee nie – die teks openbaar nie of sy dood was of dalk net bewusteloos nie – het hy haar op die esel gelaai en na sy woonplek getrek.

En dan eindig hierdie gedeelte met nog ‘n bomskok van ‘n berig.

By die huis aangekom, vat hy sy mes en sny haar in twaalf stukke, een vir elk van die twaalf stamme.

Die skrywer laat dit in die midde of sy nog lewendig was die oomblik toe hy haar met sy mes in stukke gesny het.

Die ledemate, die stukke, is toe versprei tot in die uithoeke van die land.

Totale morele chaos.

Sy byvrou is nie eers ‘n begrafnis waardig nie.

En om te bedink dat al hierdie deur ‘n Leviet gedoen is.

Hulle wat God se wet moes ken, en die volk daarin moes onderrig.

 

Al ligpuntjie in hierdie geskiedenis, al is dit bitter flou, is die laaste sin, ons teks.

Naamlik dat die mense tog geskok was.

So iets, was die reaksie, het nog nie gebeur sedert die uittog uit Egipte nie.

Hierdie keer was die mense dus wel ontsteld.

Hierdie keer groei daar verontwaardiging.

Verontwaardiging wat tot aksie lei.

‘n Aksie waaroor mens in die volgende hoofstuk kan lees.

Die hoop vlam op dat die dieptepunt nou bereik is.

God se volk staan op teen die morele verval.

Maar, net om dit nou al te sê, ook daardie spontane reaksie in die volgende hoofstuk sou uitloop op nog ‘n dieptepunt, nog ‘n afgrond van chaos en ellende.

En ook het ons nog nie die laaste van die Leviet gesien nie.

In die volgende hoofstuk kom nog ‘n duistere karaktertrek van hom aan die lig.

Waar is die einde?

Hoe diep kan die land nog val?

 

Dis soos in ons land, as iemand vermoor word, dan haal dit nie meer die koerante nie.

Maar as ‘n kind verkrag word, en daarna die ledemate en kop afgekap word vir towery, dan haal dit die koerant.

As iemand uit die gevangenis ontsnap, haal dit nie die nuus nie.

As iemand ‘n ander persoon in die tronk onherkenbaar verbrand en dan maak of dit hy is en vervolgens ontsnap, ja dan trek dit nog die aandag.

 

Neem dit tog ter harte, gee raad en spreek!

Met hierdie wanhopige versugting eindig die gedeelte.

 

Sonder God en sy gebooie dobber ‘n samelewing rond op ‘n eindelose oseaan van relativisme.

As elkeen doen wat goed is in sy eie oë, lei dit tot morele chaos.

‘n Samelewing sonder God lei tot immoraliteit, met name ‘n samelewing wat God in die verlede wel geken het.

Ons sien hier hoe God se volk ineenstort, omdat dit sy anker verloor het.

Hulle is oorgelewer aan hulle eie drifte.

Al is geen nasie vandag die direkte opvolger van Israel van die ou verbond nie, tog sien ons dieselfde in lande wat voorheen Christelik was.

Post-Christelike Europa.

Die VSA, Canada, Australië, New Zealand, Suid-Afrika.

En meer spesifiek, ons sien dieselfde ook in kerkverbande.

Die kerk is wel die direkte opvolging in die nuwe verbond van  God se volk in die Ou Testament.

Soveel kerke het stadig maar seker verswak deur die akkomodasie van dwaling, deur die gedoog en later goedpraat van ‘n verkeerde lewenswyse.

Kerklidmate rek die grense op, kerkrade is al hoe versigtiger om die tug toe te pas.

Hierdie kenmerk van ‘n ware kerk verdwyn op die agtergrond.

En so ontstaan die voedingsbodem om verkeerde dinge uiteindelik ook goed te praat.

Ongetroud saamwoon, Sondae net een keer kerk toe gaan, Sondae ander vir jou laat werk deur die winkels en restaurante te besoek, verkeersreëls te oortree, godlose musiek en films te geniet.

Ontrou aan jou eie gemeente.

Jou gemeente soos ‘n supermark behandel.

Sodra iets jou nie aanstaan, skuif na ‘n ander gemeente.

So erodeer die morele integriteit van God se kinders stadig maar seker.

Hierdie laaste hoofstukke uit Rigters is nie aangename leesstof nie.

Tuis slaan mens dit liewer oor as daar klein kinders is.

Tog staan hierdie geskiedenis in die Bybel.

 

Soiets het nog nie gebeur en is nie gesien van die dag af dat die kinders van Israel uit Egipteland opgetrek het tot vandag toe nie ... (vers 30).

‘n Skokkende uitspraak.

‘n Ontnugtering wat mens nie net hier vind nie, maar meer dikwels in die Bybel.

Die grootste ontnugtering van die geskiedenis was toe God se eie verbondsvolk hulle Messias aan die kruis opgehang het.

Nog nooit was dit so donker in Israel nie.

Geen ‘total blackout’, geen ‘total collapse of the system’ – bekende terme deesdae – sal ooit so duister wees nie.

Die diepste afgrond waarin Israel homself gestort het.

 

Gemeente, hierdie hoofstuk skreeu na ‘n koning.

‘n Regverdige koning.

‘n Messias-koning, om ‘n volk wat totaal van die pad afgeraak het, weer tot hulle sinne te bring.

Hoe groot is God se genade, dat Hy na al hierdie dinge sy kinders nie afgeskryf het nie.

Dat Hy tog Godvresende konings gestuur het – dink aan Dawid.

En in Christus het die lig tog geseëvier.

Soiets het nog nooit gebeur nie, het die mense gedink toe dit totaal duister word van die 6de tot 9de uur toe Jesus aan die kruis gehang het.

Soiets het nog nooit gebeur nie, het die omstanders in wanhoop uitgeroep en op hulle borste geslaan (Luk 23:48).

Maar God sy dank, so iets sal ook nooit weer gebeur nie!

Nooit weer sal dit op aarde weer so donker wees nie!

Golgota het net een keer gebeur.

Een keer was genoeg.

 

Gemeente, ons lig in ‘n donker wêreld is nie onsself nie.

Uit onsself dwaal ons ook af, verval ons ook moreel tot op die vlak van hierdie Leviet en die Belialseuns van Gibea.

En laat ons eerlik wees, soms lyk dit of die verval in ons eie geledere momentum optel.

Ons lig is Christus, die Goeie Herder, wat sy kinders by sy kudde oppas.

Laat ons naby Hom bly, ook in donker tye.

Tye waarin ons samelewing totaal ontspoor.

Laat ons bid vir beter tye.

Tye waarin die lig weer helderder sal skyn.

In ons land, ook in ons eie huise.

Nie die lig van Eskom nie, maar die lig van die Evangelie.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Rigters 19

Teks: Rigters 19:30

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wat is die doel van die laaste hoofstukke in die boek Rigters?
  2. Noem ‘n paar dinge wat baie kommerwekkend is, in die lig van God se wet wat Hy aan sy volk gegee het.
  3. Is dit vandag nog steeds so dat homoseksualiteit lei tot die destruksie van ‘n samelewing?
  4. Hoe kan ons ‘n lig wees in ‘n land wat al donkerder word?
  5. Noem ‘n voorbeeld waar jou eie lewe te ek-gerig is. Hoe kan jy daaroor heen kom?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 4:1,2

Wet

Ps 119:1,2

Gebed

Skriflesing: Rigters 19

Ps 81:13-15

Teks: Rigters 19:30

Preek

Ps 73:1,12

Gebed

Kollekte

Ps 4:3,4

Seën