Die Nagmaal gaan alles oor die evangelie

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2023-04-30
Teks: 
1 Korinthiërs 11:17-34
Preek Inhoud: 

Liewe Gemeente van die Here Jesus Christus.  

Ons behoort aan Hom.   Dit is hoekom ek sê: “Gemeente van die Here Jesus Christus”.  Ons is met Hom verenig deur Sy dood en opstanding. Dit is die evangelie. Die eenvoudige, wonderlike evangelie.  God het dit alles gedoen.  En dit is waaraan ons herinner word elke keer as ons die Nagmaal vier.

Die Nagmaal gaan alles oor die evangelie:

  1. Eenheid van die evangelie
  2. Herinnering, verkondiging en verwagting van die evangelie
  3. Selfondersoek en waarskuwing van die evangelie

Eenheid van die evangelie

17 Maar terwyl ek dit beveel, kan ek dit nie prys nie dat julle saamkom, nie ten goede nie maar ten kwade.  Paulus was in 'n moeilike situasie met hierdie kerk.  Hulle het hom raad gevra, maar hy het ook geweet dat daar oor elkeen van hierdie vrae sterk verdeeldheid was.  As leraar stel hy nie net belang in die waarheid nie, maar ook in ware versoening binne die kerk.  Daarom antwoord hy: “Goeie insigte!  Maar julle moet ook onthou ...”.  Ons kan dit ook die “ja, maar”-vorm van argumenteer noem.

In Hoofstuk 7 was dit: “Ja, dit is goed om enkellopend te bly, maar as jy nie die gawe het nie, behoort jy te trou.” In hoofstuk 8 en 9 was dit: “Ja, jy is vry in Christus, maar moenie daardie vryheid gebruik om jou broer vir wie Christus ook gesterf het, seer te maak nie.”  In hoofstuk 10 sê hy: “Ja, alles mag geoorloof wees, maar nie alles is opbouend nie."  Maak dit sin?

Dit is hoekom hierdie gedeelte so treffend is.  Hy kan geen positiewe opmerking maak nie.  Geen lof nie.  Daar is niks goed in wat hulle doen nie.  Wanneer dit gaan oor die viering en herinnering, die kern van wat dit beteken om 'n Christen te wees, sê hy: “Ek kan nie aan 'n goeie ding dink om oor julle te sê nie.”  Trouens, hulle maak dit selfs erger deur net bymekaar te kom.

Hy gaan voort om te verduidelik:  18 Want in die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit. 19 Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word.

Verdeeldheid.  Daar is 'n paar redes daarvoor.  Daar is goeie verdeeldheid wanneer mense in die kerk Christus blindelings volg en ander dit raaksien, gekonfronteer voel, en negatief reageer.  Sommige mense hou nie daarvan as hulle weergawe van Christenskap omgekrap word nie.  Maar dikwels wanneer dar verdeeldheid in die kerk is, is trots die oorsprong.  Dit is die kern van alle wêreldse verdeeldheid.  Waar daar nie hoogmoed of trots is nie, is daar ware gemeenskap met God en mekaar.

Besef dit: die kern van alle verdeeldheid is trots.  Trots en hoogmoed veroorsaak verdeeldheid, meer as enige ander sonde.  Dit is waarom trots die kern van alle sonde kan wees.  Dit is die skeiding tussen God en mens, en mens en mens.  En dit is wat ons hier sien gebeur.

Hy praat oor hierdie verdeeldheid en trots wanneer hy sê:  20 As julle dus saamkom, dan wil dit nie sê dat julle die nagmaal van die Here eet nie. 21 Want as julle eet, gebruik elkeen eers sy eie ete; en die een het honger en die ander is dronk.  Dit is moeilik om te weet presies wat die situasie was. Maar dit blyk om iets te wees soos:  In die Romeinse wêreld het hulle daardie tyd waarskynlik 'n 10 dag-werksweek gehad.  Maar die Christene het elke sewende dag bymekaar gekom.  Dit het beteken dat dit vir die destydse heidense wêreld 'n normale werksdag was.  Daarom moes die kerk baie vroeg en laat in die dag, voor en na werk, vergader.

Wat moontlik gebeur het, was dat die rykes vroeër ophou werk het en die middag kon geniet; hulle eerste sou opdaag en ‘n lekker glasie pinotage en heerlike kos saamgebring het.  Daarna het die ambagsmense opgedaag, die messelaars, die dagwerkers, en hulle het hul toebroodjies gebring.  En ná hulle sou die slawe kom wat niks gehad het nie.  Wat moes wag tot hulle meester gaan slaap het voordat hulle kon uitgaan.  Teen daardie tyd het die rykes al deur 'n paar bottels gegaan, en die ‘gees’ wat by die nagmaal gevier is, was alles behalwe die Gees van Christus wat die liggaam van Christus verenig.

Hierdie prentjie verduidelik hoekom Paulus sê:  22 Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie?  Met ander woorde, gaan huis toe as dit is wat julle doen!  Jy eet in elk geval nie die Nagmaal nie.  Hoekom gebruik jy die kerk van God asof dit jou huis is?

Ons is gaste aan Sy tafel.  Ons is by Sy huis.  Met die gaste wat Hy genooi het, nie jou vriendegroep nie.

Of verag julle die gemeente van God, en maak julle dié beskaamd wat nie het nie?  Trots lei tot die vernedering van ander.  En dit is wat besig was om te gebeur.  Soos die armes wat met niks opgedaag het nie, en die kos reeds op was.

Wat is die punt?  Hulle tree glad nie op soos die liggaam van Christus nie.  Hulle onderwerp hulle nie aan mekaar nie.  Hulle dien nie mekaar nie.  Hulle eet nie saam nie.  Hoe ons mekaar behandel, is 'n teken van wat ons van God dink.  Hulle het nie te veel omgegee vir die res van die liggaam nie, solank hulle genoeg gehad het.  Niemand het vir die ander gewag nie.  En sommige mense het selfs dronk geword.

Wat sal ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Hierin prys ek julle nie.  Hy is nogal nadruklik.  Hy is teleurgesteld dat die kerk wat hy so getrou geleer het, die tafel so misbruik dat dit onherkenbaar as die Nagmaalstafel geword het.

Herinnering, verkondiging en verwagting van die evangelie

Herinnering

23 Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; 24en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. 25 Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.

Daar is nogal baie meningsverskille regdeur die kerkgeskiedenis en tussen kerke oor wat presies bedoel is toe Jesus brood geneem het en gesê het: Dit is my liggaam wat vir julle is.

Maar die sentrale opdrag wat Hy hier gee, is:  doen dit tot my gedagtenis.  Vir Jode het die handeling van onthou nie net beteken om te onthou nie, maar ook om die gebeure te herroep wat betekenis vir jou lewe het.  Vir die Jood was die onthou soveel dieper as wat dit vir ons is.  Dit is nie net ‘n herinnering nie – dit is ‘n werklikheid wat gevorm het wie ons is.

Jy sou dink ons as Christene sal nooit vergeet nie.  Hy het ons sondes in Sy eie liggaam aan die kruis gedra.  Ons het die Heilige Gees as waarborg van die ewige lewe ontvang.  Ons is deur God aangeneem, en ons lewens is saam met Christus in God verborge.  Wie kan soiets vergeet?!

Moet daar regtig vir ons gesê word: “En nou, moenie dit vergeet nie”?  Ja.  Omdat ons so vinnig vergeet en dinge as vanselfsprekend aanvaar.  Ons begin aan baie verskillende dinge dink, selfs goeie dinge.  Wat is op die agenda vir die volgende vergadering.  Wie moet besoek word.  Wie voorsien die koffie.  Die klank en video moet georganiseer word; waaroor gaan die volgende reeks van preke wees.  Die orrel of die klavier.  Hoe sal beurtkrag die erediens beïnvloed.  En skielik, voor jy dit besef, word wat noodsaaklik is, bloot as vanselfsprekend aanvaar terwyl al hierdie ander dinge voorrang geniet.

Dit is 'n skokkende ding dat ons die Verlosser wat Sy lewe prysgegee het, sal vergeet.  Maar ons doen dit.

Daarom moet ons nooit dink dat ons te oud is nie.  Nooit dink dat ons al hier vervy is nie.  Moenie ophou om daaroor te praat nie.  Dit laat my dink aan daardie lied:

Bring my die ou, ou tyding

die tyding van Gods heil
van Jesus sondaars liefde

die liefde sonder peil.
 

O bring dit my eenvoudig

soos vir ‘n kindjie klein
want ek is swak en nietig

ja hulpeloos en onrein.

Bring my die tyding duidelik

dat ek dit kan verstaan
vertel my hoe die Heiland

my van die vloek ontslaan.
 

Bring my die tyding dikwels

want ek vergeet so gou
lank voor die middag hitte

smelt reeds die more dou.

 

Bring my die tyding saggies

laat my daar stip op let

Ek is ‘n arme sondaar –

Slegs Jesus kan my red!

 

Bring my die tyding telkens,

Sodat dit my kan wees

‘n bron van troos en sterkte,

Veral in smart en vrees.
 

Bring my dieselfde tyding

en wil my dan versterk
as wêreldsin en sonde

in my verslapping werk.
En as ek gindse glorie

met brekende oog aanskou
bring my dan nog die tyding

“slegs Jesus kan behou.”
 

Is dit wat ons doen by die Nagmaal?  Of is dit iets wat ons doen, omdat ons dit doen.  Vergelyk dit met wat in Maleagi gebeur waar die HERE vir hulle sê: “Julle feeste stink.”  Jy gaan net deur die rituele.  Hulle het nie eers nagedink oor wat hulle doen nie.  Die kerk kan ook so wees – ons aanvaar eenvoudig dit is ons reg.  Uit gewoonte, of een of ander bygeloof, eerder as 'n ware begeerte om deur Hom gevoed te word, en Sy dood en opstanding te verkondig.

Verkondiging

Maar ons is nie net verenig rondom die evangelie deur die herinnering daarvan nie, maar ook deur ons verkondiging.  Soos Paulus sê: “26 Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.Die evangelie is goeie nuus wat bedoel is om verkondig te word!  Dit was Franciskus van Assisi wat blykbaar gesê het: “Verkondig die evangelie en, indien nodig, gebruik woorde.”  Of hy dit werklik gesê het, weet ons nie.  En hoewel daar 'n mate van waarheid daarin steek, staan die stelling op sigself nie regtig nie.  Omdat die woord evangelie “goeie nuus” beteken.

Dit is soos om die aandnuus te probeer vertel: deel asseblief die nuus met ons en, indien nodig, gebruik woorde.  En wat is die nuus wat ons verkondig?  Die Here se dood!  Dit is die evangelie wat verkondig moet word.

Wat is hierdie evangelie?  Heel eenvoudig, wat God in Christus Jesus gedoen het.  Of meer uitgebreid, wat God vir ons in Christus Jesus gedoen het, veral deur Sy dood en opstanding.  Of nóg meer uitgebreid: Wat God vir ons in Christus Jesus gedoen het, veral deur Sy dood en opstanding wat gelei het tot die wegneming van ons sonde, die ontvangs van die Heilige Gees as waarborg van wat nog kom, aanneming in Christus, en daarvolgens erfgename van God.  Sien jy, dit is alles afhanklik van Sy kruis en opstanding!  En wanneer ons eet en drink, verkondig ons in die openbaar aan mekaar en aan elkeen wat kyk, en bowenal aan die geestelike magte van die duisternis, dat God oorwin het in Christus!

Verwagting

En ons onthou nie net die evangelie om dit ons eie te maak, en verkondig die evangelie om dit met ander te deel nie; ons sien ook in hierdie maaltyd uit na die vervulling daarvan.  Dit sê: Totdat Hy kom.  Hierdie maaltyd is 'n tydelike ding.  'n Sakrament sal nie meer nodig wees wanneer die teken en seël vervul is nie.  100 miljoen jaar in die hemel en ons sal dit nie meer vier nie.  Net soos die pasga daar was om terug te kyk, het dit ook vorentoe gekyk.  Veral later het hulle die gewoonte aangeneem om die bekers aan die einde van die maaltyd op te lig en te sê: “Volgende jaar in Jerusalem!”  In 'n sekere sin is dit wat ons doen!  Ons sê: “Volgende keer in die nuwe Jerusalem!”

Selfondersoek en waarskuwing van die evangelie

Die nagmaal bied gereeld geleentheid vir geestelike en morele selfondersoek.  27 Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.  Die vraag is wat dit beteken om die beker van die Here op 'n onwaardige wyse te drink.  Dit het te doen met die manier van ons benadering, nie met ons nie.  Dit sê nie wie onwaardig is, eet en drink 'n oordeel oor homself nie.  Nee.  Dit sê wie dit op 'n onwaardige wyse doen.  Die vraag is nie of jy perfek is en al jou sake agtermekaar het nie.  Maar eerder: kom jy met geloof, berou, bekering en liefde vir Christus en Sy mense. Kom jy omdat jy jou behoefte ken en sien?

As jy na die nagmaal toe kom, maar jy het sopas met jou inkomstebelasting bedrog gepleeg, of jy is regtig lief vir jou pornografie, of jy is afknouerig by die huis.  As jy na die nagmaalstafel toe kom en dink dit maak nie saak hoe jy lewe nie – dan het jy nie behoorlike selfondersoek gedoen nie.

Wat is selfondersoek dan?  Wel, ek kan vir jou sê wat dit nie is nie.   Dit is nie ‘n obsessiewe introspeksie nie.

Obsessiewe introspeksie kyk binne onsself en fokus net op hoe sondig ons is.  Ons probeer regtig sleg voel oor ons sonde, en sodra ons regtig sleg voel, begin ons eintlik goed voel oor hoe sleg ons voel.  Die vlees gryp selfondersoek aan as 'n geleentheid om ons gedagtes teen ons te draai.  Introspeksie is bedrieglik omdat dit dikwels lyk asof ons die regte ding doen: ons is nie onverskillig teenoor ons sonde nie – ons wil dit soek!  Maar wanneer daardie introspeksie ons selfgesentreerd maak in plaas van Christus-gesentreerd dan ondermyn ons ons geloof.  En dit is die probleem, dit fokus op die sonde sonder om na Christus te kyk.

Maar ware evangeliese selfondersoek kyk na die kruis – en daar sien ‘n mens die verskriklikheid van sonde in die kruisiging, maar terselfdertyd die vergifnis van sondes in Christus.  Die evangelie bring balans in die selfondersoek.  Ons leer dat ons nie verander word deur onsself te aanskou nie, maar deur Christus te aanskou (2 Korintiërs 3:18).  Volgens Robert Murray M'Cheyne se bekende gesegde: “Vir elke keer wat jy na jouself kyk, kyk tien keer na Christus.”

Die evangelie bring waarheid en genade tot selfondersoek.  Slegs wanneer ons geborge is in die liefde van God vir ons in Christus, word ons bemagtig vir selfondersoek wat nederig, selfversekerd en vrugbaar is.  Die evangelie bring krag na ons selfondersoek.  Selfondersoek hoef nie emmers water te wees wat op die vure van ons geloof gegooi word nie; waar jy begin om te sê: “Hoe kon God my ooit liefhê?!”  Dit kan eerder brandstof wees.  Ons kan sien waar God in ons werk, en ons kan in vertroue vorentoe beweeg met die wete dat Hy wat 'n goeie werk in ons begin het, dit tot voleinding sal bring (Filippense 1:6).

Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.

As jy dit nie doen nie, word die nagmaal gevaarlik, sê hy. 29 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor himself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie.

Paulus praat nie net van sonde teen die kerk wanneer hy praat oor die onderskeiding van die liggaam nie.  Hy sê dat dit gaan oor die liggaam en bloed van Christus.  Met ander woorde, geloof moet uitgeoefen word.  Jou verstand, jou hart, moet hierby betrokke wees.  Ons kyk verby die sakramente, na dit waarvan die sakramente 'n teken en seël is.  En dit is ernstig genoeg dat daar ‘n waarskuwing aangeheg word.  30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en 'n aantal het ontslaap.

Sommige van hierdie mense het reeds fisies gesterf.  Dit het waarskynlik nie ewige veroordeling beteken nie, maar dit kan ook geïmpliseer word.  Die nagmaal is bedoel om 'n seën te wees.  Om ons te leer om te onthou, te bely en te ondersoek.  En terug te keer na die kruis.  Wanneer ons die kruis onverskillig behandel, neem ons die bedreiging van die kruis op onsself.

31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.  32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.  33 Daarom, my broeders, as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar;  34 en as iemand honger het, laat hom by die huis eet, sodat julle nie tot 'n oordeel saamkom nie.  Die ander sake sal ek reël wanneer ek kom.

Inderdaad, soos jy jouself aan die voet van die kruis oordeel, so word ons juis nie geoordeel nie!  Dit is die ironie. Maar wanneer ons dit nie doen nie, stuur die Here soms siekte of dood sodat iets ergers ons nie mag tref nie!  Soms is siekte of dood die gevolg van sonde.  Soms.  Soos in Johannes 5, wanneer Jesus vir die man wat Hy genees het, sê: “Gaan en moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”  Of Ananias en Saffira toe hulle vir die Heilige Gees gelieg het in Handelinge 5.  Dit gebeur gewoonlik in tye van intense herlewing en die openbaring van die teenwoordigheid van God.

Onthou dus, liewe gemeente, net omdat alles in die kerk net soos voorheen voortgaan, is dit nie altyd 'n teken van God se seën nie, maar dat Hy sy teenwoordigheid onttrek het, en dit is 'n veel groter oordeel!  Want kyk, die feit dat die Korintiërs juis oordeel ervaar het, wys dat hulle met die lewende God te doen gehad het.  Dat die Heilige Gees werklik aktief was.

Die probleem was dat hulle dit vir hulself gebruik het!  Eerder as tot voordeel van die gemeenskap.  Dit is hoekom God se oordeel werklik is, want Sy seën is werklik!  Laat ons onsself dus ondersoek dat ons die rykdom van Sy seën kan ervaar.  Sodat ons die diepte van gemeenskap kan ervaar.  Sodat ons met ons sonde gekonfronteer kan word, en ons ons daarvan kan bekeer.  Sodat ons heilig kan wees, soos Hy heilig is – onsself voorberei vir die wederkoms terwyl ons die nagmaal vier totdat Hy kom.

Amen.