Liewe gemeente van die HERE Jesus Christus.
Waardeur verkry die kerk eenheid? Op watter manier verkry God se kinders oorwinning? Na wie luister jy? Hoekom? Waarin stel jy jou vertroue vandag? Glo jy werklik dat die woorde van die Here waar en seker is, en dat dit bo alle twyfel waar is omdat Hy absoluut soewerein is? Dit is maar enkele van die vrae wat ons vandag sal beantwoord.
Die pad van vrede en eenheid word gevind in die God van waarheid en geregtigheid:
- Vrede en eenheid gebou op God se Woord
- Vrede en eenheid gebou op die wêreld se krag
Vrede en eenheid gebou op God se Woord
In 17:1 lees ons: “En sy seun Jósafat het in sy plek koning geword en hom versterk teen Israel.” Dit is ironies dat hy homself hier teen Israel versterk, terwyl hy in die volgende hoofstuk is hy daar in alliansie met Israel. Maar Josafat was 'n man wat gedoen het wat reg was in die oë van die HERE. Selfs in vers 4 word die punt duidelik gemaak dat hy “die God van sy vader gesoek en in sy gebooie gewandel (het) en nie gedoen (het) soos Israel nie.” Weer wil die skrywer hê dat ons duidelik die kontras met Israel moet sien soos hy opbou na hoofstuk 18. Josafat was die teenoorgestelde van Agab.
Ons lees: “En sy hart het moedig geword in die weë van die HERE.” Dit is ‘n refrein vir die volk van God deur die geskiedenis heen. Wees sterk en moedig! Dit is die oproep vir die mense in elke eeu! Moenie vrees as jy die Here se stryd voer nie. Of dit nou in die wêreld is, of vir die suiwerheid van die kerk. Die stryd is nie joune nie, maar wel Syne. As ons dus in die weë van die HERE wandel, is daar 'n bevrydende moed daarin. Die moed om Hom te volg, maak nie saak wat jou kanse is nie, want ons weet met die Here aan ons kant dat ons altyd die oorhand het.
Ons lees: “en verder het hy die hoogtes en die heilige boomstamme uit Juda verwyder.” Sy posbeskrywing hier is net soveel afbreekwerk as opbouwerk. Hy suiwer en reinig sy eie land van die afgodediens. Dit is gewoonlik hoe ons die eerste stap tot bekering gesien het. Hou op sondig. Verwyder die sonde uit jou lewe. Dit sou moeilik gewees het. Mense is geheg aan hul afgode. Maar hy vervang dit met iets wat soveel beter is. Hy stuur boodskappers uit om aan die mense die wet van God te leer. Ons kan daaraan werk om sonde uit ons lewens of uit die kerk te ontwortel, maar tensy ons dit vervang met die aanbidding van die een ware God, sal dit niks goeds tot gevolg hê nie.
Ek hou van die name van die mense wat hy stuur, v. 7-8. Sestien name word genoem. Name met betekenisse soos: “dienskneg van Jah”, wat ‘n verkorting is van Jahweh, of “Jah onthou”, “wie is soos Jah”, “geskenk van Jah” en “God gee”. Leviete met name soos: “Jah hoor”, “geskenk van Jah”, “Jah is Here”, “Jah is goed”, “Jah is (‘n) goeie Here”.
So gaan hierdie mense uit en gee onderwysing in die wet van die Here. Dit gaan daaroor om nederig met hulle God te wandel. En wat is die gevolg? Vers 10: “En 'n skrik vir die HERE het gekom oor al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was, sodat hulle nie teen Jósafat oorlog gevoer het nie.” Vrede. ‘n Vertroue op die Here lei tot vrede. Dit was nie vrees vir Josafat nie. Maar vrees vir die HERE. Daar is ‘n erkenning onder die nasies dat dit wat in Juda aangaan, 'n direkte gevolg van hulle God was. Hierdie leërs was nie net die leërs van Juda nie, maar die leërs van God, wat gesorg het vir die beskerming van sy erfenis teen die bose van buite, net soos wat die onderrig van die wet gesorg het vir beskerming van die mense van binne.
Merkwaardig: Nie perde of strydwaens, of vestings nie, maar onderrig en – soos ons later sal sien – aanbidding is die sleutel tot Juda se nasionale veiligheid. As Juda die Here se bevele ken en bewaar, as hulle eenvoudig in sy weë wandel, sal Hy die nodige veiligheid bied. As hulle Hom ophef met lof, gaan Hy voor in die oorlog met hul vyande! Dit is interessant dat die vrees van die nasies eers kom nadat Josafat die mense van God se wet geleer het, nie nadat ons gehoor het van al die leërs wat hy aan die einde van hoofstuk 17 in elke stad versamel het nie. Aan die einde van hoofstuk 17 begin ons wonder of hy sy vertroue in sy militêre mag gaan plaas. Altesaam 1,16 miljoen mans word hier genoem om 'n land kleiner as die Wes-Kaap te verdedig.
En reg in die middel van hoofstukke 17 en 19 het ons hoofstuk 18 waar ons sien waartoe vertroue in menslike mag lei. Maar voordat ons daarop ingaan, kom ons kyk kortliks na wat gebeur in hoofstuk 19.
Dit is eers toe God hom red en hom waarsku, dat hy homself bekeer in hoofstuk 19:4 : “en hy het weer uitgegaan onder die volk, van Berséba af tot by die gebergte van Efraim, en hulle laat terugkeer tot die HERE, die God van hulle vaders.” Die profeet sê vir hom dat God se toorn oor hom is oor wat hy gedoen het, en hy waarsku die regters tereg en waarsku die volk “sodat hulle hul nie skuldig maak teen die HERE en 'n toorn oor julle en oor julle broers kom nie.” Hy stel regters in elke stad aan en stel ook hooggeregshofregters in Jerusalem aan. Dit is ongelooflik. Tree regverdig op en wees barmhartig! Stel jou voor dat elke regter oordeel asof hy namens God oordeel. Om regverdig met God te wandel, is om geregtigheid vir almal te begeer. Hy sê vir hulle: “Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die HERE; en Hy is by julle in die regspraak. Mag die skrik vir die HERE dan nou op julle wees...” Om reg te oordeel is moeilik, veral in hierdie wêreld. En ons is soveel meer bewus daarvan in hierdie land! Dit is geen wonder nie dat hy vir hulle sê: “julle moet sterk wees en dit doen. En mag die HERE met die goeies wees!”
Ons sien in hoofstuk 18 hoeveel ‘n kompromie kan kos.
Vrede en eenheid gebou op die wêreld se krag:
Ongehoorsaamheid, oorlog, leuens. Swakheid
Hierdie gedeelte begin met: “En toe Josafat rykdom en eer in oorvloed gehad het, het hy hom verswaer met Agab.” Jy wonder hoekom hy so iets gedoen het! Heel waarskynlik omdat hy die koninkryk weer wou verenig. Maar dit was nie die wil van die Here nie. Die enigste manier waarop die koninkryk verenig sou word, is nie deur 'n huweliks-alliansie (die werk van die mens) nie, maar deur getrouheid aan God. In gehoorsaamheid aan die waarheid is daar eenheid. Daar kan nie ware evangelie-vrede en eenheid wees nie, tensy dit op die waarheid van God se Woord in gehoorsaamheid gegrond is.
Hy het sy seun met die dogter van Agab en Isebel laat trou, met verwoestende gevolge vir die huis van Dawid. Trouens, hierdie dogter van Isebel sou later die lyn van Dawid amper heeltemaal uitwis. Inderdaad is die saad van die slang en die saad van die vrou altyd in konflik. Daar kan geen vrede wees tussen goed en kwaad nie. Lig en duisternis. Lewe en dood. Sonde en geregtigheid. Die saad van die slang en die saad van die vrou. Soos Jehu sê in hoofstuk 19 vers 2: “Moet 'n mens die goddelose help, en het u lief die wat die HERE haat? Daarom kom daar nou 'n toorn op u van die HERE.”
Wanneer ons as bruid van Christus na die tafel van die Here kom om die huweliksfees van die Lam te geniet, hernu ons ons huweliksverbond met Jesus, ons Man, en verwerp ons alle ander mans – alle ander tafels. Daar is geen ander fees wat ons bywoon nie. “Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie. Of wil ons die ywer van die Here opwek?” (1 Korinthiërs 10: 21-22) Ons is getroud met Christus en word verbied om ons met enige ander te verbind.
Jesus roep sy kerk op tot eenheid. Hy bid dat sy kerk een sal wees, en ons ook. Maar die kerk kan nie deur afgode verenig word nie. Nee, die enigste moontlike pad na eenheid is 'n oorlog van uiterste vernietiging teen die afgode.
Dit herinner my aan die waarskuwing wat Paulus gee in 2 Korintiers 6:14-18, en miskien dink Paulus selfs aan hierdie gedeelte as hy sê: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.”
Dit sou 'n groot waarskuwing vir die volk gewees het na die terugkeer om hulle geensins met ander nasies te verbind nie. Veral deur die huwelik. As jy Esra en Nehemia lees, sal jy sien watter groot probleem dit was. Wat het die kerk met die wêreld te doen? Niks. En dit sal lei tot hartseer en pyn.
Maar kom ons keer terug na die begin. Josafat gaan na Samaria vir 'n fees. In Kronieke gaan dinge nooit goed wanneer 'n koning van Dawid weggaan van die huis af nie. Die uitverkore koning hoort in die uitverkore stad waar die tempel is wat deur die Here uitverkore is. Maar hy is daar, en Agab doen moeite om hom vreeslik te bederf. En dit laat hom baie belangrik voel.
En dan lees ons dat Agab “hom aangehits (het) om teen Ramot in Gílead op te trek”. Daardie woord is dieselfde woord wat gebruik word wanneer Satan Dawid ‘aangehits’ het om die troepe te tel en Dawid daarvoor gestraf is. Ons kan amper sê dat Agab hier funksioneer as 'n sataniese mag. Om die Dawidiese koning te versoek om sy mag verkeerd te gebruik. Soos wat Satan die groot Seun van Dawid versoek het om sy krag te gebruik om Homself te bevoordeel.
Dit sou vir Josafat beter gewees het as vers 3 en 4 van hoofstuk 18 omgedraai was. Eerste moes hy: “Raadpleeg tog eers die woord van die HERE”. Maar dit is nie so nie, en Josafat stem in om op te trek en gee sy woord. Van watter nut is sy massiewe leër as hy dit nooit gebruik nie? Maar deur dit te doen, behandel hy Agab as 'n wettige koning van Israel. Dit is interessant dat hy in vers 1-3 net Agab genoem word, en nadat Josafat hom in vers 4 verbind, word hy “die koning van Israel” genoem.
Nadat hy reeds sy woord gegee het, sê hy vir Agab dat hy die HERE wil raadpleeg. Agab doen wat hy die beste doen, en roep al sy valse profete bymekaar. Nie net een nie, maar 400 van hulle. Hy betaal graag mense om vir hom te sê wat hy wil hoor. En hulle sê nie regtig iets nie. In die Hebreeus staan daar net: “Trek op, en God sal dit in die hand van die koning gee.” Wat gee? En vir watter koning? Dit is vaag genoeg dat, ongeag wat, hulle sal reg wees. Iets sal in die hand van iemand gegee word. Net soos ons kultuur vandag; ons taal is beroof van die werklike waarheid uit vrees dat iets vir iemand sal aanstoot gee. In ons terapeutiese kultuur is daar min ruimte vir die waarheid.
Ons hou daarvan dat mense ons vertel wat ons graag wil hoor, in so ‘n mate dat ons nie eers luister na wat hulle sê nie. Baie politici is aan bewind en die mense betaal hul salarisse, want hulle sê presies wat mense van hulle verwag om te sê. Beroemde sterre volg blindelings die nuutste tendens of populêre kultuur wat aan die orde van die dag is. Die kerk word nie verniet die pilaar van die waarheid genoem nie. So is daar ook baie predikante wat betaal word omdat hulle hul so goed van hul taak kwyt om vir mense presies te vertel wat hulle wil hoor, sonder om iets wesenliks te sê. Maar Josafat ken sy buurman darem so ‘n bietjie en sê: “Is hier nie 'n profeet van die HERE nie?”
Hy sou eerder een profeet van die HERE hoor, as 400 profete van oraloor wat enige god dien. En ons lees Agab se antwoord in vers 7: “… maar ek haat hom, want hy profeteer oor my niks goeds nie, maar altyd onheil.” Wel, wat moet ‘n profeet doen as die koning ‘n bose man is? Miskien weerspieël dit jou hart, en nie die profeet nie, Agab? Agab se werklike konflik was met God. 'n Geharde sondaar kan nie die waarheid hanteer nie. Hulle haat dit om die waarheid te hoor. Hulle vergader saam met dié mans wat sal sê wat hulle jeukene ore wil hoor.
Hierdie twee konings sit op die dorsvloer by die poort van Samaria (v.9). Wat is die nut van 'n dorsvloer? Om die koring van die kaf te skei. Die nuttige van die nuttelose. Dit wat gewigtig is van dit wat deur die wind weggewaai word. Terwyl hulle Miga laat haal, wat toevallig in die tronk is – ‘n teken van hoe baie Agab van hom gehou het – raak 'n ander profeet baie passievol. Hy moes gehoor het dat Josafat 'n profesie van die HERE wou hê, en hy het sommer een opgemaak. Nou moet Josafat ‘n keuse maak na wie hy gaan luister.
Die boodskapper wat Miga moes gaan haal, sê vir hom wat hy moet sê. Stem net saam. Ons dink mos almal dieselfde, ‘praat uit een mond’. Jy sien hier weer die tema van eenheid. Sal dit wêreldse eenheid wees, of ‘n goddelike eenheid gebaseer op die Woord van God en die waarheid? Miga antwoord en sê: "So waar as die HERE leef, wat God my sal sê, dit sal ek spreek!”
En jy kan jou indink hoe Miga daar aangeloop kom met ‘n stem wat drup van sarkasme as hy sê: “Trek op, en u sal voorspoedig wees, en hulle sal in julle hand gegee word.”
Agab kan die sarkasme maklik herken. Miskien het hy dit al baie by Isebel gehoor. Daarom sê hy: “Sien jy, ek het vir jou gesê! Hierdie man het nooit iets goeds om te sê nie!” Agab hoor graag mooi dinge. Hy wil 'n terapeutiese profeet hê, nie iemand wat die waarheid praat nie. Maar toe vertel Miga hom die waarheid in vers 16 en sê aan hom dat hy doodgemaak en Israel verstrooi sal word.
Klaarblyklik was een van die gevalle engele vrywillig om hierdie taak te doen. Aangesien Agab mislei wou word, sou God hom gee wat Hy wou hê, deur 'n gewillige gevalle engel te gebruik wat deur gewillige ontroue profete gewerk het. Maar dit is weer eens ter wille van die mense daar! Hy sê duidelik: dit is 'n leuengees! En hy het onheil oor jou gespreek! Die keuse is nog steeds daar! O, die genade van God aan ‘n geharde sondaar! Hy hoef nie te gaan nie! Hy kon net daar en dan berou getoon het. Selfs vandag gaan die waarskuwing uit. Hierdie visioen word ook vir ons gegee. As jy nie na die Woord van God wil luister nie, sal daar vernietiging kom!
As mense hierdie gedeelte lees, kom daar baie vrae by jou op oor die verhouding tussen goed en kwaad, maar ek dink die belangrikste punt is baie duidelik en dit is ook baie vertroostend. 'n Goeie God is absoluut soewerein bo die bose. Daar bestaan geen twyfel nie. Dit is 'n troos vir die volk van God dat selfs die bose na die goeie sal draai. En dit sal inderdaad lei tot die vernietiging van die bose deur 'n regverdige straf. Die feit dat hierdie profeet die visie gedeel het, is terselfdertyd 'n ekstra ondersteuning daarvan dat dit wat hy sê, waar is!
Maar hy word daarvoor deur ‘n mede-profeet in die gesig geslaan en in die tronk gegooi, maar nie voordat hy uitroep nie: “Volke, luister almal saam!” Shema! Daardie beroemde woord wat die begin van die gewildste tekste vir die Jode is! HOOR o Israel, die HERE, jou GOD, is een! Hy is nie verdeeld nie! Net die een of die ander profeet is reg! Albei kan nie reg wees nie!
En in die slotsom van die verhaal kom ons agter watter profeet die word van waarheid gespreek het. Ek is nie seker hoekom Josafat nog voortgegaan het met die plan nadat hy die Woord van die Here gehoor het nie. Selfs goeie Christene het gebrek aan goeie onderskeidingsvermoë in sommige areas van hulle lewens. Hulle kan goeie Christene wees, maar dit lyk asof hulle nie altyd onderskeidingsvermoë het nie. Dit is soos wanneer ons ouers vir ons waarsku en sê dat iets ‘n slegte afloop gaan hê, maar dan doen jy dit in elk geval nog steeds.
Agab is skelm. Hy twyfel aan sy eie profete se voorspelling en probeer homself vermom, asof hy vir God kan wegkruip. Amper soos Adam en Eva probeer doen het. Maar in plaas daarvan dat hy die stem van God hoor roep, word hy met 'n pyl van God getref.
Vers 33 sê: “Toe het ‘n man in sy eenvoudigheid die boog gespan en die koning van Israel getref tussen die aanhegsels en die pantser.” Sommer net ‘n man. Ons ken nie sy naam nie. Sy boog in die lug gespan en net 'n willekeurige pyl geskiet en dit het die perfekte plek getref waar dit Agab sou doodmaak. Dink jy dat jy vir God kan wegkruip? Dink jy dat God se Woord nie waar sal word nie? Ons kan luister na wat ons wil en die waarheid ignoreer. Maar dan sal die waarheid jou soek en jou doodmaak. Want ons God is soewerein, selfs oor die willekeurige man wat willekeurig ‘n willekeurig pyl afskiet.
En Josafat? Hy roep uit dat die Here genadiglik tot sy redding kom! En hy onttrek hom. En terwyl Agab sterwend lê, het Josafat teruggekeer na die veiligheid en vrede van sy huis in Jerusalem. Die vrede van die huis van Dawid in Jerusalem. Tog is hy tereggewys oor sy dwaasheid en is aangesê dat sy oordeel sou kom; maar tog is hy bemoedig, omdat God die volmaakte regter is. En gesien het dat hierdie man goed in hom gehad het en sy hart daarop ingestel was om die Here te soek!
En dit lyk inderdaad asof hy sy les geleer het. Hy het geleer hoe om reg te oordeel, deur die oordeel van die Here, en nou wou hy hê dat die hele Israel dieselfde moes doen! Hy keer terug huis toe en stel regters aan. Wat in die Naam van die HERE vir die HERE oordeel onder die vrees van die HERE.
Hoe vind die kerk dus eenheid? In die waarheid van God se Woord. Dit is die diepste band wat jy met enigiemand kan deel. Die liefde van Christus.
Na wie luister jy? Hoekom? Hou jy van vleiery? Haat jy dit as iemand jou tereggewys? Soms is 'n teregwysing die genadigste ding wat iemand ooit vir 'n ander kan doen. Luister na diegene wat nie bang is om die waarheid te praat nie.
Waarop stel jy jou vertroue vandag? Glo jy eerlikwaar dat die Here se woorde waar en seker is, en dat dit bo alle twyfel waar is omdat Hy soewerein is? Sy Woord sal waar word. Vertrou Hom. Vir ewig en altyd. Nie een van sy woorde sal op die grond val nie, net soos daardie pyl nie kon val voordat dit sy teiken gevind het nie!
Die pad van vrede en eenheid word gevind in die God van waarheid en geregtigheid.
Amen.