Die weg van herlewing ...

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2021-10-10
Teks: 
2 Kronieke 29:20 - 31
Preek Inhoud: 

Kronieke eindig op ‘n hoë noot. Dit eindig met die herlewing van die volk van God onder die koningskap van Jehiskia en Josia.  Dit is ‘n teken van wat gaan kom.  So baie wat ons het van Jehiskia word nêrens in Kronieke gevind nie.  En dit is mooi!  Verlede keer het ons gesien hoe hy die deure van die tempel oopgemaak het – ‘n simbool van die oopmaak van deure na die teenwoordigheid van God.  En vandag sal ons sien hoe versoening lei tot herstelde gemeenskap en aanbidding.  Ons sien herlewing.  ‘n Seun van Dawid herstel die koninkryk tot die regte verhouding met God, en verenig Israel en Juda onder een koning. Uit die donkerste nag word een van die grootste herlewings in Israel se geskiedenis gebore. Uit die swartste dag kom hoop vir alle mense.

Die weg van herlewing ...

1.    Begin by die vashou aan vorige beloftes,

2.    Word gelei deur die koning,

3.    Vereis belydenis en vergifnis,

4.    Veroorsaak vreugde, gemeenskap en gehoorsaamheid,

5.    En eindig in aanbidding.

 

Begin by die vashou aan vorige beloftes

Abraham, Isak, Jakob, Aäron, Moses, Dawid, Salomo.  Hierdie hoofstukke gaan in die eerste plek oor God en sy trou deur al die geslagte heen.  Hulle gaan oor ‘n volk wat dit erken, en nie hulle identiteit vind in hoe groot of sterk hulle is nie, maar in die heilshistoriese beloftes van hulle God.

Wie is ons?  Dit is die vraag wat die volk van God altyd moet vra.  En ons vind die antwoord in die Woord van God.  Ons word diep gevorm deur die heilsgeskiedenis.  Net soos die geskiedenis van ‘n volk se wette, kultuur en oorloë dit vorm, so is dit in die Koninkryk van God.  Die Koninkryk van God word meer deur heilsgeskiedenis gevorm as deur enigiets anders.  Of dit behoort so te wees.

Daardie geskiedenis is in hierdie boek opgeteken.  Hierdie boek gaan oor God – en sy beloftes.  Sy verbond.  Sy heerlikheid.  Sy liefde.  Sy geregtigheid.  En slegs in die lig van hierdie boek weet ons wie ons is.  Jehiskia het hierdie diep waarheid geken.  Kyk maar na al die verse wat terugverwys na die Woord van God, na ‘n ander tydperk in Israel se geskiedenis.  Hoofstuk 29 vers 21 verwys na Aäron, vers 25 na Dawid en na die siener Gad en die profeet Natan.  Vers 26 verwys weer na Dawid, vers 30 na Dawid en Asaf. In hoofstuk 30 vers 6 het ons ‘n oproep om terug te keer na die God van Abraham, Isak en Jakob. Vers 16 het ‘n verwysing na Moses. En so gaan dit aan en aan.

’n Kerk wat nie deeglik gebou is op Skriftuurlike geskiedenis nie, sal die pad byster raak.  Wil ons herlewing hê?  Wil ons hê dat God moet werk?   Dan moet ons hier begin.  Ons moet terugkyk om vorentoe te beweeg. En hierin is die pad van herlewing.

Word gelei deur die koning

Kom ons begin by hoofstuk 29.  Onthou dat die koning ongeveer die eerste twee weke van sy regering besig was om die vullis van Agas se regering op te ruim.  Hy het onmiddellik begin, en sy dringendheid blyk duidelik uit 29 vers 20: “Daarop maak koning Jehiskía hom vroeg klaar...”.  Ons kan aanneem dat dit die oggend was nadat die tempel en al die gereedskap geheilig is.  Hy mors nie tyd nie.

Die koning se leierskap en inisiatief blyk uit die hele teks van vandag.  Die seun van Dawid lei die volk in die teenwoordigheid van God.  Hy neem die inisiatief.  Vers 20: hy “laat die owerstes van die stad bymekaarkom”.  Vers 21: “en hy het aan die seuns van Aäron, die priesters, gesê om dit op die altaar van die HERE te offer”.  En in vers 24 het “die koning ... die brandoffer en die sondoffer vir die hele Israel beveel.”  Vers 25: “En hy het die Leviete opgestel by die huis van die HERE”.  Vers 27: “En Hiskía het bevel gegee om die brandoffer op die altaar te offer”.  Vers 30: “Daarop gee koning Jehiskía ... aan die Leviete bevel om die HERE te prys”, om te sing.  In vers 31 word die volk genooi om nader te kom.  Dit is die seun van Dawid wat die gemeenskap met God herstel.

Ek hou van wat hy sê in 29 vers 31: “Nou het julle jul aan die HERE gewy; kom aan en bring die slagoffers en die lofoffers na die huis van die HERE.”  Dit is ‘n bevel, ‘n evangelie-oproep!  Deur die koning!  Kom, almal wat afgesonder is, neem deel aan die aanbidding.  Dit is Christus wat ons aanhoudend roep!  Kom, julle is gereinig, geheilig, gewas!  Kom aanbid!  Laat jou lewe vernuwe!

In hoofstuk 30 stuur hy boodskappers uit na die verste uithoeke van sy koninkryk.  Hy nooi almal uit na ‘n groot feesmaal, en roep alle mense op om hulle van hul sondes te bekeer en hulle voor die HERE te verootmoedig.  Hierdie boodskappers word gestuur met ‘n boodskap van genade, wat gepaard gaan met ‘n sterk teregwysing aan God se verbondsvolk.

Dit herinner aan die dag toe Jesus die sewentig na al die stede van Israel gestuur het.  Dit is ‘n boodskap van bekering! Ses keer word die woord “bekeer” gebruik.  Drie keer met verwysing na ‘n oproep om terug te keer, en drie keer met verwysing na die belofte van die HERE se terugkeer.  As hulle terugkeer na God, sal God na hulle terugkeer!  Dit is ‘n evangelie-belofte!

Nietemin, sommiges spot met die koning se boodskappers.  Dit is vandag nie anders nie.  Maar vir hulle wat wel kom, doen die koning voorbede (30 vers 18).  Die HERE hoor die gebed en genees die volk.  Die seun van Dawid bemiddel namens die volk.  En hulle word genees.  As ons herlewing wil hê, moet ons die leiding van die Seun van Dawid, ons Koning, volg, en doen wat Hy sê.  Ons moet sy roepstem hoor en ons verootmoedig, sodat Hy vir ons kan intree en ons genees kan word.

Benodig belydenis en vergifnis

Na die donker tye van Agas is die eerste ding wat gedoen word die bring van offers vir die vesoening van sondes.  En die versoening moet volledig wees, want die sonde is omvattend!  Nie net in diepte – ‘n totale rebellie – nie.  Maar ook in breedte – die hele Israel.  Niemand was onskuldig nie. Vir herlewing om te gebeur moet daar ‘n besef van sonde wees, en ‘n terugkeer weg van daardie sonde.

Sewe bulle, sewe ramme, sewe lammers, sewe bokke as sonde-offer vir die koninkryk en die heiligdom. Sonde het die hart van die volk van God in die tempel binnegdring, en daarvoor was versoening nodig.  Sewe is die getal van volheid.  Hul sonde was volkome.  En vir wie is dit geoffer?  Vir die hele Israel.  Dit word twee keer genoem in vers 24.  Hulle het hul hande op die bokke se koppe geplaas as teken dat die  sonde op hulle gelê word, sodat hulle vir die volk sou sterf.

Liewe verbondskinders, ons wals nie net in God se teenwoordigheid in nie.  Ons kom in die Naam van Christus, die Lam wat vir die hele Israel geoffer is!  Vir die hele volk!  Ons sonde is diep – totale verdorwenheid.  Dit is wyd – almal het gesondig.  Eers wanneer die offer gebring is, sien ons dat die koning die volk uitnooi na die teenwoordigheid van God.  Slegs deur die vergieting van bloed is daar vergifnis van sondes.

En in hoofstuk 30 word die hele volk uitgenooi om hulle sondes agter te laat.  Die koning sê: moenie so hardnekkig en hard van hart wees nie.  Verootmoedig julleself en soek die HERE.  God gee nie goedkoop genade nie (vers 7 tot 10).  God gee genade sodat ons kan terugkeer en aanhoudend kan groei.  Laat jou sondes agter en sondig nie meer nie.  Dit is waaroor die Pasga gaan wat hulle gevier het.  Vryheid van die skuld en die mag van die sonde.

Hierdie soeke na vergifnis gaan gepaard met ware berou.  Nadat die tempel gereinig is, en die mense hulle eie offers bring en hulle amper gereed is om die Pasga te vier, lees ons in 30 vers 14: “En hulle het hul gereedgemaak en die altare verwyder wat in Jerusalem was; ook al die wierookaltare het hulle verwyder en in die spruit Kidron gegooi.”  En weer, na die fees in Jerusalem, lees ons in hoofstuk 31 vers 1: “En toe dit alles ten einde was, het al die aanwesige Israeliete na die stede van Juda uitgetrek en die klippilare verbrysel en die heilige boomstamme omgekap en die hoogtes en die altare uit die hele Juda en Benjamin en in Efraim en Manasse afgebreek totdat hulle dit vernietig het”.  Stukkend.  Afgekap.  Vernietig – almal! Hulle hou nie op totdat alle sonde, alle afgodediens, afgekap is nie.  Daar is geen ophou by die meeste, of by amper almal nie.  Maar alles!  Dit is gewelddadige taal.  Dit herinner ons aan wat die Nuwe Testament ons sê wat om te doen: kruisig!  Maak dood!  Die stryd aan hierdie kant van die ewigheid is nie klaar voordat alle sonde en sondige natuur uit die weg geruim is nie.

Ware vergifnis lei ook tot ‘n passie vir heiligheid.  ‘n Passie om ontslae te raak van alles wat jou mag hinder om te aanbid, wat jou weghou van die teenwoordigheid van God!  En ‘n toewyding aan alles wat van God is!  Dit sou ‘n sterk teregwysing gewees het vir die mense in die tyd na die ballingskap wat in hul deftige huise gewoon het terwyl die tempel van God in puin gelê het.  Dit is asof die outeur wil sê: wil jy ware herlewing sien, ware vreugde en vrede, wat jare van menslike inspanning nie kon bewerkstellig nie, dan moet jy jouself toewy aan die werk van die HERE!

Dit bring ons by die volgende punt:

Veroorsaak blydskap, gemeenskap en gehoorsaamheid

Vreugde

Probeer jou indink dat jy daar was in die eerste twee maande van Jehiskia se regering!  In dié twee maande is die land omgekeer!  Die mense se harte was na bo gerig.  Hier was ‘n man wat die HERE wou volg.  Hy het die verbondsbeloftes van God geken en het geweet dat hulle slegs in Hom hul hoogste vreugde kon vind! Hul grootste vreugde het daarin gelê dat hulle in staat was om vergifnis te vind.  Daarom is daar gesing terwyl die offers opstyg!  Daar is soveel sang in hierdie boek.  Het jy dit opgelet?  En dit word beveel, dit is nie opsioneel nie.

Die offers vir die sonde was ‘n uitnodiging aan Israel, terug na die teenwoordigheid van God in aanbidding. Ons is geskape vir gemeenskap met God!  Om Hom te geniet.  Die simfonie word gelei deur die priesters en die Leviete met simbale, harpe, liere en trompette!  Kan jy jou dit indink!  Lees vers 28, en stel jou voor dat jy deel van hierdie vergadering is.  Die tempel is pas skoongemaak, en versoeningsoffers is gebring.  Hulle is vrygemaak!  Vry van die tirannie van die sonde!  Dit is geen wonder dat die volgende hoofstuk na die Pasga lei nie.  Dit is ‘n maaltyd wat vryheid verteenwoordig.  Daar is rede om te sing, om musiek te maak!  Musiek laat die hart die realiteit voel van dit wat geglo word!

Hierdie hoofstukke is propvol emosie.  Dit is nie net uiterlike aksies nie, maar ook innerlike hartsverandering!  Nadat hulle in vers 29 klaar was met offer, lees ons in vers 30: “... en hulle het met blydskap die lofsang aangehef en gebuig en aanbid”.  As die verhouding met die Verbondsgod herstel word, bring dit ‘n vreugde mee wat alle aardse vreugde oortref!  Dit wil jou laat sing en uitroep!

Kyk na die Pasgafees!  Dit was groot, en is selfs verleng tot sewe dae!  Dit was die fees van die aardse mense in die Ou Testament.  Hoeveel meer rede het ons om fees te vier en God te loof en te prys!  Ons is vir ewig losgekoop deur bloed, nie van sewe bokke nie, maar deur die vlekkelose Lam van God – die ware en ewige bloed van die verbond – wat vir eens en altyd vir ons gestort is!  Ons is vrygemaak vir ‘n lewe van aanbidding!  Hierdie fees waarheen ons uitgenooi word, sal nooit eindig nie.  Die omvang is soveel groter. Ons is geroep na hemelse feeste, ‘n hemelse tabernakel, verleng tot in ewigheid!

Kyk net hoeveel vreugde ons hier het: in hoofstuk 29 vers 30 en weer in vers 26.  En die tema word herhaal in 30 vers 21, en verse 23 en 25.  En as jy nog steeds dink dat hulle nie vol vreugde was nie, lees dan 30 vers 26.  Vreugde, blydskap, sang.  Dit is ‘n volk wat werklik verstaan wat gebeur, en wat oorweldig is met die goedheid en genade van God!  Ek hoor dit gereeld as die kerk besonder aangeraak word deur die Woord van God, en die Heilige Gees daadkragtig werk.  Ek hoor dit in die stemme van God se volk!  Hulle kon nie harder sing nie, selfs al sou hulle probeer het!  Ek dink ons vergeet soms dat sang reg deur die Skrif sentraal gestaan het by die volk van God.

Liewe gemeente, ek hoop die Heilige Gees bewerk hierdie realiteit in die kerk – nou, in ons kerk!  Dat ons met vreugde vervul sal word as ons deur ons Koning uitgenooi word om aan die tafel te kom sit, terwyl ons aan Christus se offer dink en weet dat al ons sondes vergewe word.  As ons uitsien na die Bruilof van die Lam. Ek en jy het gemeenskap met GOD!

Gemeenskap

Die offers is vir die hele Israel gebring en die hele Israel word uitgenooi, in 30 vers 1.  En in vers 6 lees ons dat die boodskappers na die hele Israel gestuur is.  In 30 vers 25 sien ons die vergadering van Juda en die vergadering van Israel verenig.  Dit is net in aanbidding, dit is net in die evangelie, dit is net in die kerk waar daar ware eenheid is.  Nie ‘n mensgemaakte eenheid nie, maar ‘n eenheid deur God bewerkstellig.

 

Het jy opgelet hoe tevergeefs die pogings tot dusver was om eenheid tussen die noordelike en die suidelike stamme te bereik?  Daar was pogings deur huwelike, oorloë en verdrae.  Maar sonde het oorlog en stryd gebring, ballingskap en die dood.  Aanbidding het hulle rondom een tafel saamgebring. Terwyl hulle met mekaar  gemeenskap gehad het, het hulle ook gemeenskap met God gehad.  En daarna het hulle, eensgesind in die reformasie, alle afgode deur die hele land verwyder en vernietig.  Daar is eenheid in aanbidding en eenheid as jy in dieselfde rigting beweeg, weg van die sonde, na God toe.

Eindig in aanbidding

En wat is die antwoord op die evangelie?  Oorvloedige danksegging en ‘n diep begeerte om te volhard in die werk waarmee begin is en om die werk te beskerm.

En dit lees ons in hoofstuk 31, wat so begin: “En toe dit alles ten einde was...”.  Wat gebeur hier?  Die herlewing bring ware vrugte voort.  Jy weet dit is eg as dit op die lang termyn vrugte dra.  As mense nie net praat nie, maar doen.

En dit is presies wat ons in hoofstuk 31 sien.  Oorvloedige vrygewigheid.  Hierdie mense wil sien dat die tempel herbou en onderhou word.  Hulle wil nie die tempeldeure weer gesluit hê nie. Hulle is bereid om nie net die afgode en sonde in die landte vernietig nie, maar ook om in oorvloed hulpbronne te gee wat die ware aanbidding van God sal bevorder.  Dit is ‘n getuienis teen diegene wat na die ballingskap in pragtige huise gewoon het, terwyl die tempel nie herbou is nie.  Maar ook teen die kerk deur al die eeue wanneer mense meer tyd en hulpbronne aan hulle welstand bestee as aan die kerk en die koninkryk van God.

Daar is ‘n begeerte by die volk om toe te sien dat die aanbidding van God nie sal kwyn nie, en dat die herlewing volgehou word.  Dit is nie maar net ‘n geestelike opwelling nie, maar ware aanbidding.  Dit is pragtig om die harte van die mense daaragter te sien. Die koning gee die leiding in die skenkings, maar die mense het oorvloedig gegee met vreugdevolle harte!  Hulle is daaraan herinner wie hulle is.  Hulle is vergewe.  Bevry uit slawerny.  Hulle is die volk van die Verbondsgod.  ‘n Volk wat geskape is om Hom te aanbid en te vereer.  En hulle het gegee.

Wat ‘n bemoediging is dit vir die kerk van alle eeue!  Dat ons ons Koning sal volg, terwyl ons aan die eeue oue beloftes vashou en daardeur gevorm word.  Dat ons kom om Hom te aanbid deur die bloed van die Lam en te deel het aan sy oorwinning oor die sonde en die dood.

Laat ons hier weggaan en elke argument en gedagte wat teen God is, uitwis.  Laat ons gee sodat sy magtige werk kan voortgaan!  Laat ons niks anders begeer nie as om in geloof te antwoord op God se beloftes.

Amen.