Kyk op in geloof na die verhoogde Christus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-06-11
Teks: 
Dordtse Leerreels 2,4-5
Preek Inhoud: 

Ons bely dat Christus se dood oneindige krag het.

Dit is oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.

Hierdie stelling is nie dieselfde as dat die hele mensheid gered word nie.

Maar die feit dat daar nog mense hel toe gaan, lê nie aan sy kruisoffer nie.

Niemand sal ooit kan sê dat hy tevergeefs, of te laat, voor die kruis gekniel het nie.

Dat daar, dink aan wat die Kananese vrou aan Jesus gesê het, net ‘n paar krummels oor was wat van die tafel afgeval het vir die hondjies om te eet (Matt 15:27).

 

Tema: Kyk op in geloof na die verhoogde Christus

1 Daar is ‘n onbeperkte aanbod

2 Dit word aangebied aan sondaars

 

1 Daar is ‘n onbeperkte aanbod

Paragraaf 4 verduidelik hoe dit moontlik is dat dat die kruisoffer so kragtig is.

Dit is omdat daar Goddelike kragte betrokke was.

Christus was nie net mens nie, Hy was ook die eniggebore Seun van God.

Ewig en oneindig en almagtig.

Voordat die Vader sy Seun na die wêreld gestuur het, het Hy eers goed beplan.

Hy het die kostes bereken.

En die vertroue wat Hy in sy Seun gestel het, is nie beskaam nie.

Hy het geweet sy Seun kan dit doen, en Hy het dit gedoen.

Al was die las op sy skouers megaswaar, Hy het dit reggekry om dit tot die einde toe te dra.

 

Daarom kan die Evangelie sonder enige reserwe sê:

Elkeen, ja ieder en elkeen, wat in die gekruisigde Christus glo, sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê.

Vandag, in die 21ste eeu, nadat miljoene mense reeds van sy verdienste ontvang het, vandag kry mense nie te hore:

Wag net ‘n bietjie, kom ons kyk eers hoeveel daar nog oor is.

Dalk is die 144 000 geteldes wat gered gaan word nou al vol ...

Dalk is daar net nog ‘n paar krummels vir die hondjies oor ...

Nee, ook vandag klink die uitnodiging nog net so hartlik as op Pinksterdag:

Die belofte van vergewing van sondes en ewige lewe kom ook julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is (Hand 2:38-39), ook nog steeds in die 21ste eeu!

Solank die geskiedenis sal voortduur voordat Christus terugkom, al is dit nog duisende jare, steeds mag en sal en kan hierdie belofte sonder reserwe en sonder enige inperkings en sonder enige ‘terms and conditions’, terme en voorwaardes, klink, oor die hele wêreld, tot by almal wat daar ver is.

Wat ‘n heerlike Evangelie!

 

En daarom klink vervolgens ook aan julle die opdrag – ons wat al in die vryheid van Christus se koninkryk lewe – om ook dit aan ander bekend te maak.

Paragraaf 5 van die Leerreëls sê, daarom: “Hierdie belofte moet aan alle volke en mense ... sonder onderskeid en willekeur verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.”

 

Daar is al gevra: Wanneer het die tyd gekom dat sendingswerk verby is?

Geografies gesproke het sendelinge reeds teen die einde van die 19de eeu, die laat 1800s, die eindes van die aarde bereik – dit was toe hulle by die eilande in die Stille Oseaan oos van Nieuw-Zeeland aangekom het.

Kan ons sê: Vandag is daar in elke land, op prakties elke eiland ‘n kerk, dus sending kan maar ophou?

Nee, Christus het nie ‘n einddatum gekoppel aan sy opdrag aan die apostels, vlak voor Hy na die hemel opgevaar het nie.

Solank daar nuwe mense gebore word, sal sending en evangelisasie voortduur.

Sedert ek gebore is, om en by 50 jaar gelede, het die wêreldbevolking verdubbel, van 4 na 8 biljoen.

Oor die laaste twee dekades het die wêreldbevolking met 1,5 biljoen mense gegroei.

Op die internet is daar webwerwe wat byhou elke keer wanneer daar ‘n baba êrens op aarde gebore word.

Dit is meer as een baba per sekonde.

Nou is die projeksie dat die wêreldbevolking gaan afplat in die loop van die 21ste eeu.

Nieteenstaande sal daar elke jaar, totdat Christus terugkom, nuwe mense op aarde gebore word.

En Christus se kerk het van Hom die taak ontvang om aan hulle sonder onderskeid en willekeur die blye Evangelie te verkondig, met die eis tot bekering en geloof.

‘n Heerlike boodskap, en ook ‘n heerlike taak, om dit bekend te maak aan elke mens, wat in sonde ontvang en gebore is.

En dit geld vir elke mens, dat hy in sonde ontvang en gebore word.

 

Elke mens in elke eeu mag hoor: Daar is krag in Christus se bloed om sondaars te red, selfs al sou werklik en letterlik alle sondaars op aarde massaal na Hom toe kom.

Daarom moet die Evangelie aan almal sonder onderskeid verkondig word.

Die Remonstrante het vir die Gereformeerdes beskuldig dat hulle, met hulle siening op die uitverkiesing, eintlik verhinder word om die Evangelie vryuit te preek.

Julle, het hulle beweer, kan nie die vrye genade aan almal aanbied nie.

Julle moet julle prediking beperk tot hulle wat uitverkies is.

 

Maar, gemeente, dit is hoegenaamd nie waar nie.

As Gereformeerdes bely ons dat die Evangelie aan almal gepreek moet word.

Christus het self sy dissipels beveel, Markus 16:15:

“Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”

Meer universeel, meer allesomvattend kon Christus dit nie gestel het nie.

Vir die dissipels was dit nie vir misverstand vatbaar nie.

Nie net na Israel, nie net na die verlore skape van Israel in die Diaspora moet hulle gaan nie, met die hoop dat daar dalk ook nog ‘n paar krummeltjies sal oorbly vir die heidene nie.

Nee, soos die wonder van die vermeerdering van die brode, vir almal is daar genoeg om versadig te word.

Dis nie soos met Esau wat agter die net gevis het, toe sy broer Jakob hulle pa Isak se eerstegeboorteseën voor hom weggesteel het nie.

Die kruis se seëninge hou nooit op nie.

Dit is ‘n lewensboom wat elke maand van die jaar vrugte dra (Openb 22:2).

 

Hierdie universele uitnodiging lei egter nie tot alversoening nie.

Die apostels het nie gepreek: Christus het ook vir jou gesterwe nie.

Maar hulle het gepreek: Christus het vir sondaars gesterwe.

Dit klink dalk dieselfde, maar dit is nie.

Christus het gesterf vir sondaars wat in geloof na Hom opkyk.

Wat hierdie goeie nuus glo en tot bekering kom.

Christus het nie vir elkeen gesterwe nie.

Christus het vir Nikodemus gesê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie (Joh 3:16).

Jesus vergelyk dit met die koperslang wat Moses in die woestyn moes maak.

Die Israeliete wat deur die giftige slange gepik is en besig was om dood te gaan, moes opkyk na die slang.

Moses moes die koperslang hoog in die lug hou, sodat elkeen dit kon sien.

God het nie vir Moses gesê: Gaan wys die slang net vir die en die en die en die, want net hulle wil Ek hê moet bly lewe nie.

Daar was ‘n algemene aanbod, oproep aan almal: Kyk op na die slang, dit sal jou lewe red!

Net so, bedoel Christus, word Hy vandag gepreek.

Predikers se taak is om die gekruisigde Christus as ‘t ware hoog op te lig, sodat die hele wêreld Hom kan sien.

Nie almal het destyds na die koperslang opgekyk nie, al kon hulle.

So kyk vandag nie almal in geloof op na Jesus Christus nie, al kry hulle die geleentheid.

Maar die prediker kan nie redeneer – daardie mense, of daardie stad, of daardie land, hulle gaan volgens my nie opkyk na Christus nie, hulle gaan nie na my luister nie, dus ek gaan hulle vermy.

Dit was die profeet Jona se benadering tot Ninevé, maar God het vir hom baie duidelik gemaak dat dit nie so werk nie.

Baie duidelik klink die oproep aan die jong prediker Timotheüs: “Dit is ‘n betoubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red” (1 Tim 1:15).

Sondaars ...

Daardie een woord beskryf die hele wêreldbevolking sonder uitsondering, ook al die 8 biljoen wat vandag lewe.

Daar is en bly dus ‘n onbeperkte aanbod vir die hele wêreld.

Christus se redding word in die prediking verhoog sodat elke mens dit kan sien.

 

(Tema: Kyk op in geloof na die verhoogde Christus

1 Daar is ‘n onbeperkte aanbod)

 

2 Dit word aangebied aan sondaars

 

Dit is, in kort, ‘n prediker se taak:

Om goeie nuus aan sondaars te verkondig.

‘n Prediker kan nie redeneer: Ek moet die Evangelie bring aan hulle wat goeie mense is nie.

Sulke predikers sal hoogmoediges net in hulle skynheiligheid versterk.

Maar aan die ander kant is daar nog ‘n valkuil vir ‘n prediker.

Hy maak ook ‘n fout as hy dink hy moet die Evangelie se beloftes bring aan mense wat reeds daarna op soek is, wat reeds hulleself verootmoedig het, wat reeds bewus is van hulle sondes en besef dat hulle ‘n Redder nodig het, wat reeds die dieptes van hulle ellende besef.

Dan span mens die wa voor die perde.

Want dit is nou juis wat die Evangelie doen.

Dit is die Evangelie wat verootmoediging werk, tot besef van sondes bring.

Die Evangelie is nie ‘n beloning vir hulle wat nederig is en reeds tot besef van hulle sondes gekom het nie.

Die Evangelie is die Gees se instrument om mense te oortuig van sonde, om nederigheid te werk in sondaars wat almal baie hoogmoedig gebore word.

 

Hier lê die gevaar dat ons in onsself begin grawe en onsself begin afvra of ons wel nederig genoeg is, voordat ons in aanmerking kom vir die belofte van die Evangelie, voordat ons dit vir onsself mag toeëien.

Ook dan weer word daar van ‘n mens ‘n lys kwalifikasies verwag, al word dit nie goeie werke genoem nie, tog kom dit op dieselfde neer.

As dit so was, dan sou die effek van die Evangelie wees dat dit mense onseker maak.

En ongelukkig word die Evangelie soms so verdraai, met die gevolg dat die prediking mense meer onseker as seker maak, met die gevolg dat net ‘n handjievol mense durf om nagmaal te vier.

Die meeste mense word banggepraat: Hierdie boodskap is waarskynlik nie vir my nie, want ek weet ek is nog nie jammer genoeg vir al my sondes nie, ek weet ek gaan hierdie komende week weer in sonde val, ek weet ek is nog so swak ... hoe kan ek durf om volgende Sondag nagmaal te vier?

Maar gemeente, dit is nie Bybels nie.

Die Evangelie word bedien aan sondaars soos hulle is, en hulle word opgeroep om op te kyk na die kruis net soos hulle is en in daardie toestand waarin hulle is, al is hulle nog nie nederig genoeg nie, al besef hulle by verre nog nie hoe baie sondes hulle het en hoe erg hulle sondes is nie.

 

Die goedkeuring wat ‘n sondaar nodig het om die Evangelie te mag glo, lê nie in homself nie.

Daardie goedkeuring word reeds verskaf in die aanbied van die Evangelie.

Ek hoop u verstaan dit, gemeente.

Laat ek herhaal: Elkeen wat die Evangelie hoor, kry goedkeuring – goedkeuring om van Christus se verdienste gebruik te maak.

So nou, broer en suster, op hierdie oomblik, nou jy na die Evangelie sit en luister, nou kry jy goedkeuring om Christus se redding toe te eien.

Dus, as ‘n sondaar, wie dit ook is, onder die prediking van die Evangelie sit, dan is daarmee die goedkeuring gegee.

So eenvoudig is dit.

As daar vandag in hierdie kerk ‘n verskriklike sondaar sit, iemand wat vir die eerste keer in sy lewe kerk toe kom, iemand wat ek weet nie wat alles op sy kerfstok het nie, ook vir hom geld:

Omdat hy vandag hier in die kerk sit en opkyk na die dominee wat die Evangelie aan hom preek, daarin lê vir hom reeds die goedkeuring dat hy daardie Evangelie ook vir homself mag vat.

Daar is geen enkele rede hoekom hy na hierdie erediens as hy die kerk uitstap moet skuldig voel as hy vir homself sê: Ek glo dat hierdie Evangelie ook vir my bedoel is, nie.

Hy mag dit sê.

Hy mag uitroep: Ek wil gered word, Here Jesus!

En na hierdie diens mag hy die sekerheid hê: Here Jesus, U wil my red.

Bekeer my, dan sal ek my bekeer.

 

So laat dit dubbel duidelik wees, gemeente:

Vandag se preek is nie net bedoel vir julle wat kerklidmate van hierdie gemeente is nie.

Ook nie net vir die gaste hier aanwesig wat wel lid is van ‘n ander gemeente nie.

Vandag se aanbod van genade is opreg bedoel vir elke sondaar wat dit hoor.

En as daar inderdaad vandag hier in ons midde ‘n verskriklike sondaar sit wat ek weet nie wat alles op sy kerfstok het nie, dan mag hy vandag ook in hierdie kerk hoor:

Welkom, jy is hier in goeie geselskap, want ons is almal ook net sulke sondaars soos jy.

Selfs meer nog, soos Paulus vir Timotheüs geskryf het:

Christus het in die wêreld gekom om sondaars te red, “van wie ek die vernaamste is” (1 Tim 1:15).

Hier sit selfs groter sondaars in die kerk as jy.

So moenie ontuis voel nie.

Onder hierdie keurige mense wat rondom jou hier in die kerk, is daar beslis groter sondaars as jy!

Net soos Paulus destyds was, al het hy opgegroei as een van die strengste godsdienstige mense.

 

Geliefde gemeente, dit is dus die vrye aanbod van genade, die onbeperkte ongekwalifiseerde oproep van die Evangelie, wat vandag vanaf hierdie preekstoel klink, en net so op die sendingsveld.

Daar is mense wat hiermee probleme het.

Hulle sal sê hierdie vrye aanbod van genade, hierdie universele oproep tot geloof en bekering, is Remonstrants.

Jy kan nie dit doen nie.

Die prediking moet meer gekwalifiseerd wees, in die sin dat dit onderskeidelik moet wees.

Daar is mense wat nie veronderstel is om hierdie aanbod te hoor nie ...

Of, as hulle dit hoor, hulleself dit toe te eien nie.

Maar weer eens, gemeente, om so te redeneer is nie Bybels nie.

En weer eens, die vrye en universele aanbod van genade is nie dieselfde as alversoening nie.

Met sy universele aanbod roep Christus sy skape, die wat die Vader aan Hom toevertrou het, uit die wêreld na Hom toe.

Met hierdie selfde aanbod laat Hy die res sonder verontskuldiging.

Hulle kan nie later sê: Dit was oneerlik, ons het nie hierdie aanbod ontvang nie.

God kan nie deur hulle beskuldig word van dubbele standaarde, van ‘n verborge agenda, van ‘n gebrek aan transparansie wat betref die verkondiging van die Evangelie en die aanbod van genade nie.

 

Ook is dit nie so dat die Evangelie by sommiges makliker ingang vind as by ander nie.

Ons is almal sondaars sonder onderskeid.

Mog die saad van die Evangelie by iemand in vrugbare aarde val, sal hy later moet bely dat dit die Heilige Gees was aan wie daardie vrugbare grond te danke is.

Juis die Evangelieprediking, synde die instrument van die Gees, het die grond vrugbaar gemaak.

Deur die Evangelieprediking word die hart van klip vermurwe.

Deur die Evangelie oortuig die Heilige Gees ‘n sondaar van sonde, geregtigheid en oordeel, soos Jesus die werk van die Gees saamgevat het in Johannes 16:8.

Die vrug van die Evangelieprediking is terselfdertyd hoop en berou.

Dit is die ervaring van bevryding, maar ook die ervaring van skuldbewustheid.

Die twee kom saam.

Die bevryding van skuldvergiffenis help jou om jou sonde onder oë te sien.

Dit spoor jou aan om met al hoe meer sondes uit jou hede en verlede na die kruis te gaan.

Jy hoef hulle nie meer weg te steek, uit vrees dat die Heiland dan in jou teleurgesteld gaan wees nie.

Al wat jy hoef te sê vir Christus is:

Here, ek het in vandag se preek gehoor dat die Evangelie bedoel is vir sondaars.

Wel Here, hier is ek, die definisie van wat ‘n sondaar is pas perfek op my.

Daardie woord beskryf my vir die volle 100%.

Daarom Here, hier is ek, ‘n sondaar, wat u hulp nodig het.

Wat ‘n heerlike boodskap!

Christus het nie gekom om regverdiges te red nie, want as dit so was, dan was dit ‘tickets’ met ons.

Maar God sy dank, Christus het gekom om sondaars te red!

Daarom, asseblief Here, red my!

Bekeer my, dan sal ek my bekeer.

 

Geliefde broer en suster, sal elkeen van julle so vir volgende Sondag se nagmaal voorberei!

Vandag gebruik die Heilige Gees die Evangelieprediking om die begeerte vir vergifnis in jou te werk.

Om alle hindernisse af te breek, of dit die hindernis is dat jy eintlik te sleg daarvoor is, of dalk die hindernis dat jy ‘n nogal goeie mens is.

Die Evangelie noem elkeen van ons – oud en jonk, ampsdraer of nie-ampsdraer, predikant of daardie persoon wat die eerste keer in sy lewe ‘n kerk besoek – die Evangelie noem elkeen van ons ‘n sondaar.

En jy, sondaar, ontvang die oproep: Kyk op na die kruis!

Jy wat besig is om te sterf nadat die duiwel, die slang, jou gepik het,  kyk op, dis jou laaste kans.

Christus sê vir jou – Johannes 6:40: dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat opkyk na die Seun en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Numeri 21:5-9 & Johannes 3:1-21

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 2,4-5

Tema: Kyk op in geloof na die verhoogde Christus

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wat het Jesus bedoel met dit wat Hy vir die Kananese vrou gesê het (Matt 15:26-28)?
  2. Hoekom kan die Evangelie van vergewing van sonde sonder enige beperkings aan die ganse mensdm aangebied word?
  3. Kan ‘n mens evangeliseer met die boodskap: Christus het ook vir jou gesterwe?
  4. Wat leer Christus vir ons met die geskiedenis van die koperslang in die woestyn?
  5. Wanneer word aan ‘n sondaar goedkeuring gegee om die Evangelie van redding toe te eien?
Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 5:4,6,7,10

Gebed

Skriflesing: Numeri 21:5-9 & Johannes 3:1-21

Ps 51:6

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 2,4-5

Preek

Sb 15:4-7

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 25:3-5

Kollekte

Sb 24:3,6

Seën