Liefde. Meestal wanneer ons aan liefde dink, kom die wêreldse, Hollywood-, wit-troue-op-‘n-strand-tipe liefde in ons gedagtes op. ‘n Liefde waaruit jy voordeel trek – waar jou behoeftes bevredig word deur die enigste liefde van jou lewe. In hierdie liefde is jy lief vir die ander persoon omdat jy lief is vir die manier waarop hy of sy jou laat voel. Jy is verlief, want dit voel goed, dit voel reg, dit maak jou emosioneel gelukkig wanneer jy aan die ander persoon dink. Hierdie liefde sal aan ons bevrediging gee op die kort termyn, maar dit eindig wanneer die gevoel eindig.
Daar is net een liefde wat vir ewig bly. En dit is die liefde van God. En alhoewel net hierdie liefde ons uiteindelik sal bevredig, sal dit ons ook iets kos. Dit sal ons iets kos omdat dit teenstrydig is met die natuurlike menslike liefde van sondaars.
Ons dink aan 1 Korinthiërs 13 as ‘n mooi en hartverwarmende gedeelte. Maar, soos een teoloog gesê het, dit is in werklikheid ‘n teks vol terreur. Dit gaan saam met die harde woorde van Jesus in die Bergpredikasie waar Hy sê dat ons ons vyande moet liefhê. En dit gaan saam met die woorde van Jesus aan die ryk jongman (Matt. 19), waar Hy vir hom sê om alles wat hy het te verkoop en die geld aan die armes te gee. En dit gaan saam met die woorde van Jesus in die Johannes-evangelie waar Hy sê: “... soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” (Joh. 13:34) Soos Hy ons liefgehad het!
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh. 3:16) Hy het ons liefgehad. Nou behoort ons mekaar lief te hê. Dit is deur hierdie liefde dat die wêreld sal weet dat ons sy dissipels is.
Die meeste van ons dink ons doen redelik goed as dit kom by die liefde. Ek bedoel hiermee, dit is nie asof ons iemand haat nie... en natuurlik sê die Bybel ek moet my vyande liefhê, maar ek hoef tenminste nie van hulle te hou nie. Ons kom al gou met selfregverdiging vorendag. Maar ek wil ‘n demper plaas op daardie verskonings. Want dit is wat dit is. Verskonings. Ons probeer redes vind hoekom dit nie nodig is dat ons uitreik na en diegene liefhet na wie ons nie wil uitreik en wil liefhê nie.
Dit wat Paulus hier hoofsaaklik aanspreek, is die goddelike liefde van God wat die kerk as liggaam saambind. Daarom kom hoofstuk 13 na hoofstuk 12. Wat meer is, hy spreek nie die Korinthiërs toe by ‘n spesiale geleentheid wanneer almal hulle verlustig in die bande van Christelike gemeenskap – nadat hulle pas Psalm 133 gesing het – nie. Nee, Paulus praat op hierdie manier oor die liefde in ‘n brief gerig aan mense wat mekaar aan die keel gryp. In plaas van aan mense wat almal straal van blydskap op ‘n vreugdevolle geleentheid, is sy woorde gerig aan mense onder wie daar ernstige konflik heers. En hy gee aan hulle ‘n liefde soos dié van die kruis – ‘n liefde soos dié van Chrisus. Dis nie net dieper as wêreldse liefde nie, maar inderdaad die teenoorgestelde daarvan.
Maar die grootste hiervan is die liefde...
-
Die motivering is die liefde
-
Die openbaring van die liefde
Die motivering is die liefde
“Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword.” Die motivering vir alles moet liefde wees! Wat het God daartoe gedryf om die wêreld te maak – sy liefde. Wat het veroorsaak dat God die wêreld verlos het – sy liefde. Wat red jou – die liefde van God wat in die persoon van Jesus Christus getoon en bewys word.
Paulus het dadelik begin met dit waarmee die Korinthiërs gespog het – spreek in tale. En hy sê dat om in tale te spreek, is net so irriterend soos ‘n ghong van die tempel wat sonder liefde lui. Die burgers het geglo die oorverdowende geklap en gekletter van die tromme was noodsaaklik om ‘n toestand van geestelike ekstase te bereik. Iemand wat aanspraak maak op groot spiritualiteit, maar nie liefde toon nie, kan net so irriterend wees! Trouens, dit is erger – dit is afgodery.
Hy sê: “En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.” Profete weet dinge wat vir ander verborge is omdat hulle ‘n openbaring van God ontvang, maar geen profeet het al ooit so ‘n alwetenheid gehad nie – met kennis van alle geheimenisse. En al sou hy elke goddelike geheim ken, tog sou hy niks wees sonder liefde nie. Die oomblik dat die liefde vir God en vir ander nie die motiverende beginsel is nie, het jy die opdrag verbreek waaraan die hele wet en die profete hang – LIEFDE!
Geestelike gawes verander nie die hart nie, selfs al mag dit die lewe hervorm. Wat Paulus hier bedoel is, soos John Owen dit noem, gawes sonder genade. Jy kan dalk groot dinge doen wat ander help, maar tog self ‘n volkome vreemdeling wees vir die Gees-bewerkte innerlike transformasie wat ‘n ware kennis van God meebring.
Dit is hoekom Paulus nie naastenby so baie bid vir gawes of vir groot prestasies in die bediening nie, maar waarvoor bid hy? In die brief aan die Efésiërs bid hy dat hulle “die liefde van Christus ken wat die kennis oortref”. In die brief aan die Filippense bid hy dat hulle “liefde nog meer en meer oorvloedig mag word”. In die brief aan die Thessalonicense dank hy God vir hulle liefde! Wat van Bellville? Is liefde die dryfkrag agter alles wat ons doen? Is dit hoekom ons die dinge aangaande God bestudeer? Is dit hoekom ons ons teologie liefhet? Sodat ons God en ander beter kan liefhê? Of bloot om beter as ander te wees? Sien die wêreld Christus in ons as gevolg van ons liefde?
“En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.” Moenie jou lewe op die altaar van martelare mors as jy dit nie uit liefde doen nie. As jy dit doen om die krag van jou geloof te bewys, of om uit te staan in die geskiedenis, of om een of ander ander rede – moenie jou lewe mors nie. Dit is afgodery. As julle dink dat die vergelyking met hierdie afgodery ekstreem is, dan herinner ek julle aan wat Johannes sê in 1 Johannes 4:8: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” Is jy ‘n liefdevolle mens? Ek vra nie of jy gereformeerd is, of lees, of kerk toe gaan, of hoeveel jy opoffer nie. Ek vra of jy liefhet. Indien nie, wen jy niks nie.
Niks nie. Jy kan lewendig verbrand word en dit sal tot geen voordeel vir jou wees nie, want jy probeer iets bewys of iets bereik. Maar die liefde probeer nie iets bewys nie. Wanneer ek my vrou liefhet, probeer ek nie myself aan haar bewys nie. As dit so was, sou dit oor my gaan en nie oor haar nie. Liefde is heeltemal anders gefokus. Ouers se liefde vir hul kinders is die naaste wat dalk hier op aarde daaraan kom. Dit is heeltemal anders gefokus. Dit gee en gee en gee weer, en deur liefde te gee, word dit al hoe meer. Dit is nie bekommerd oor die self nie. Dit was ‘n probleem in Korinthe. Almal het te veel in hulself belanggestel om lief te hê.
Soos Johannes sê, dit is hoe ons weet wat liefde is: Jesus Christus het sy lewe vir ons afgelê. Daar is net een suiwer en vlekkelose voorbeeld van liefde in die menslike geskiedenis. Wil jy die volmaakte liefdesdaad sien? Die enigste een? Kyk na die kruis, en laat jou liefde so ‘n liefde wees! Hoekom? Vir die vreugde wat Hom voorgehou word! Wat is daardie vreugde? Dat ek en jy tot in alle ewigheid in daardie liefde sal deel! En hoe lyk daardie liefde in die praktyk? Wel, Paulus gaan voort.
Dit is nie die goed wat God gee wat die belangrikste is nie, maar die verhoudings wat God gee.
Die openbaring van die liefde
In die volgende verse definieer en beskryf Paulus hierdie liefde. Hierdie verse geen vir ons die inhoud en die beskrywing van die liefde. En hierdie liefde word openbaar in uiteenlopende en moeilike verhoudings met mekaar in die liggaam van Christus.
“Die liefde is lankmoedig.” Kom ons staan ‘n bietjie hierby stil. Die liefde is lankmoedig, dit is geduldig. Wat beteken dat die ander kant ook waar is. Ongeduld is nie liefde nie. Ons bely so maklik: ek sukkel om geduldig te wees. Ons moet sê: ek sukkel regtig om lief te hê. Hoekom? Want ongeduld toon ‘n groter liefde vir jouself as vir die ander. Mense is ongeduldig wanneer hul eie tyd belangriker is as enigiemand anders se tyd.
Sou jy ‘n ander se tyd belangriker as joune geag het, dan sou jy eindeloos geduldig wees. Dit is goddelike liefde. Dink aan Christus se geduld met julle, geliefdes. Dit is nie verniet dat die Ou Testament God so dikwels beskryf as geduldig en lankmoedig nie. Stadig om kwaad te word.
Ons wil nou resultate sien, of ten minste binne die volgende maand of so, en daarom gee ons so dikwels moed op met mense. Maar in die kerk het ons ‘n lankmoedige, geduldige liefde. ‘n Liefde wat bly. ‘n Liefde wat die lang pad stap. Geduld is die openbaring van Jesus se liefde.
“Die liefde is vriendelik.” Hier het ons weer ‘n werkwoord. ‘n Teenwoordige aktiewe werkwoord. Liefde word gewys of gedemonstreer. Kyk vir ‘n oomblik om jou rond, en let op dat jy vanoggend nie die enigste een in hierdie gebou is nie. So baie kry seer. Sommige dieper as wat jy jou kan voorstel
Hoe lyk vriendelikheid vir die mense aan jou linkerkant, aan jou regterkant? Agter jou, en voor jou?
Vriendelikheid is die vermoë om van jouself te gee, sonder om iets terug te verwag. Goedhartigheid beteken om goed aan ander te doen sonder dat dit afhanklik is van hul karakter, gedrag of reaksie hierop. Dit beteken dat niemand in beginsel uitgesluit word nie. Ons moet liefdevolle goedhartigheid betoon aan almal in nood wat oor ons pad kom. Dit is die naaste soos gedefinieer deur Jesus in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.
Vriendelikheid erken mense se moeites. Dit toon opregte sorg aan alle mense; dit breek die spiraal van woede en wrok. Dit is nie iets wat ons af en toe moet doen nie. Net soos wat jy nie af en toe lief is vir jou vrou nie. Dit moet voortdurend gedoen word. In die Bybel is goedhartigheid of goedertierenheid een van die belangrikste eienskappe van God – sy liefdevolle goedertierenheid, sy troue liefde. Vriendelikheid is ‘n uitdrukking van die nuwe lewe: ‘n nuwe self, ‘n nuwe skepsel, ‘n getransformeerde persoon en ‘n getransformeerde gemeenskap.
Wil jy groei? – dink aan sy liefdevolle goedheid teenoor jou. Goedhartigheid, vriendelikheid is ‘n openbaring van Jesus se liefde.
“die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie”. Sommige dink dat die negatiewe eienskappe wat hier genoem word, ‘n beskrywing van die situasie in Korinthe is. En alhoewel ek saamstem, dink ek dit is ‘n beskrywing van ‘n verlore mensdom – van die ou natuur. En niks hiervan maak sin nie, tensy jy aan ander mense verbonde is. Dit gaan oor hoe ons as kinders van God aan mekaar verbonde is. Dit werk homself uit in diverse en moeilike verhoudings.
En ek bedoel die kerk as ek sê divers en moeilik. Etnies en kultureel divers. Sosiaal en ekonomies divers. Dit is moeilik om hierdie beskrywing te probeer uitleef met diegene met wie ek ‘n gemeenskaplike kultuur en sosiale status deel. Hoeveel te meer as ons hierdie mense in dieselfde liggaam bymekaar bring. Die plaaslike uitdrukking van God se kerk gaan divers wees. En die een ding wat verenig is die Gees in die band van die liefde.
“die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie”. Om jaloers te wees en om te spog en groot te praat is teenoorgestelde kante van dieselfde munt. Dink daaraan: as jy iemand werklik liefhet – as jy hom of haar beter as jouself beskou – hoe kan jy ooit daardie persoon beny? Jaloesie is wanneer iemand meer wil hê, en spog is wanneer iemand dink dat hy alles het. In albei gevalle vergelyk jy jouself met iemand anders. Maar uit liefde doen jy dit nie. Daar is geen vergelyking van “is hulle beter as ek” of “is ek beter as hulle” nie. Die liefde van God in Christus skakel beide uit. Daar is niks om te beny nie – ons het Christus aangeneem; daar is niks om in te roem nie – dit was nie uit onsself nie, maar ‘n geskenk uit liefde. ‘n Persoon wat jaloers is of spog, ken eenvoudig nie die liefde van Christus nie.
“is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie”. Hier verwys “opgeblase” letterlik na opgeblase met lug. Dit is die mense wat slimmer is as ander, en ryker as ander, regverdiger en meer beroemd as ander, en hulle weet dit. Weer eens, die liefde dink nie aan wat ‘n mens het nie, maar aan wat ‘n mens gee. Hierdie mense het dikwels min geduld en tree dikwels al gou onwelvoeglik, oneervol op. Maar liefde doen die teenoorgestelde.
“soek nie sy eie belang nie”. Letterlik staan daar in die Grieks: “[Liefde] soek nie homself nie.” Dit is beter, want soms dring die liefde aan op sy eie manier as die evangelie op die spel is. Maar nooit om selfsugtige redes nie. Dit lê voorkeure, gerief, reputasies, vryhede, regte en soms tot ons eie lewens neer vir die beswil van iemand anders. Hoe goed sal dit nie wees nie as ons almal ophou om aan te dring op ons eie manier van doen.
“word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie”. Ons weet almal dat "prikkelbaarheid die emosionele lanseerplek vir woede is”. Dit neem nie lank vir ‘n prikkelbare persoon om kwaad te word nie. Of as hulle nie kwaad word nie, word hulle bitter en gegrief. Hoeveel van ons het nie al hierdie gevoel gehad nie? Dit kom voort uit die ou mens. Die sondige natuur. Die vlees. Nie van God nie.
“is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.” Dit herinner aan die probleem van Korinthe in hoofstuk 5 waar hulle oor hul sonde gespog het. Nee, sê Paulus! As jy iemand liefhet, gaan jy hom keer om die verkeerde ding te doen. As jy lief is vir ‘n dwelmverslaafde, gaan jy alles in jou vermoë doen om hom van sy dwaalweg te laat afsien. As jy jou kinders liefhet, sal jy hulle dissiplineer.
Soos Augustinus gesê het: “Die liefde moet ywerig daarin wees om reg te stel. Skep behae in goeie gedrag, maar maak reg wat sleg is. Wees lief vir die persoon, maar nie vir die foute van die persoon nie: God het die persoon gemaak, maar die persoon alleen het die fout gemaak.”
“Dit bedek alles”. Dink aan wat Jesus bereid was om te dra ter wille van liefde – die liefde van sy Vader vir dié wat aan hom gegee is. Dink aan die diepte van die geloof wat Jesus in die Vader gehad het – om sover te gaan dat alles van Hom weggeneem word, insluitend sy verhouding met die Vader – ter wille van liefde. Hy het letterlik alle dinge gedra, insluitend die pyniging van die ewige hel ter wille van die liefde vir jou. As Hy jou so liefhet, sal ons ander verdra. Dit is die soort liefde wat ook in die familie van Christus ervaar word.
“glo alles”. Daarom, as ons veilig is in die liefde van die Verlosser, sal ons nie net ons medegelowiges verdra nie, maar die beste van hulle dink. Dit glo die beste van ander.
As gevolg van ons sonde is ons geneig om die beste oor onsself en die slegste oor ander te dink. Wanneer ons dit doen, maak ons die deur oop vir laster, skinderpraatjies en ‘n magdom ander euwels. Ons word trots in sondige plesier wanneer ons hoor van die morele mislukking van ‘n medegelowige. Maar die Kategismus sê: “My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder.” (So. 43, vr. & antw. 112)
As dit die manier is waarop ons na ander kyk, dan begin ons beweeg van sinisme na hoop! “hoop alles”. Aangesien die liefde alles hoop, kan geen Christen ooit sinies wees nie. Ons hoop op God se beloftes, net so seker soos Jesus se leë graf, verlig ons lewens. Op ons beurt kan ons hoop deel met diegene wat hopeloos is.
En as ons die standvastigheid van hoop het wat Christus aan ons en vir mekaar gee, sal ons bereid wees om alles te verdra om saam met hulle te wandel. Om hulle daarheen te bring.
“verdra alles.” Ja, die liefde verdra alles! Ons gee so gou moed op. Ons is so swak. Liefde verg moed, krag en uithouvermoë.
En julle weet waar ons hierdie liefde wat ongelooflik geduldig is en ‘n liefde wat standhou, nodig het – in die kerk waar verhoudings uiteenlopend en moeilik is! Ons het die liefde van Christus nodig.
Soos Jesus sê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Joh. 13:35) Paulus sê: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê...” (Rom 13:8). Wanneer diegene wat nie tot geloof in Jesus Christus gekom het nie, na die kerk kyk, kyk hulle met verwondering, omdat ons lewe saam ‘n blywende, selfopofferende, aantreklike liefde vertoon? Is Jesus aantreklik vir diegene buite die kerk, omdat diegene wat beweer dat hulle Hom ken, ‘n bonatuurlike liefde vir mekaar toon? As dit nie die geval is nie, kan dit wees dat ons nie altyd aandag gee aan die prioriteit van die liefde nie? Dat ons regtig nie dink dat die grootste hiervan die liefde is nie?
Liewe gemeente, ek is so dankbaar dat ons die liefde van Christus in ons midde mag ervaar. Dit gebeur in die gewone lewe. ‘n Aanmoediging daar, geduld hier, ‘n daad van vriendelikheid daar. Uitreik met ‘n telefoonoproep. Dit is niks anders as die liefde van Christus wat deurvloei nie. Die liefde wat in ons harte uitgestort is. Laat ons mekaar liefhê.
Amen.