Die unieke funksies van wet en evangelie

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-09-17
Teks: 
Dordtse Leerreels 3/4 par 5-6
Preek Inhoud: 

Die Dordtse Leerreëls handel nie net oor die uitverkiesing nie, maar verskeie Bybelse onderwerpe wat daarmee saamhang.

As ‘n dokter kyk na die stelsel van bloedvate in die liggaam en die bloed wat daardeur vloei, kan hy dit nie in isolasie doen nie.

Daar is verskillende organe en stelsels wat die bloed beïnvloed.

Daar is organe soos mens se hart, longe, lewer, niere, vel ensovoorts.

Dit alles het ook ‘n impak op jou bloed.

As jou lewer of niere nie werk nie, gaan jou bloed nie skoon wees nie.

As jou longe nie werk nie, gaan die bloed ook nie sy werk kan doen om suurstof na elke deel van jou liggaam te vervoer nie.

As jou hart nie werk nie, gaan die bloed nêrens kan kom nie.

Dit is ‘n pragtige geheel, geskep om as liggaam saam te funksioneer.

So is ook die Skrif ‘n pragtige organiese geheel.

Haal jy een aspek uit, dan werk die res ook nie meer nie.

Daarom skenk hierdie hoofstuk van die Dordtse Leerreëls ook aandag aan die bekering van die mens tot God en die wyse waarop dit plaasvind.

Want, wie die uitverkiesing verwerp, tas ook hierdie leerstelling aan, en uiteindelik die unieke manier waarop ‘n sondaar verlossing mag ontvang.

 

In hierdie preek kyk ons na die Here se wet, saamgevat in die tien gebooie soos Hy dit aan Moses gegee het.

Maar meer spesifiek, ons kyk ook na die verhouding tussen wet en evangelie.

Wat is die funksie van die wet?

En, wat is die funksie van die evangelie?

 

Tema: Die unieke funksies van wet en evangelie

- Funksie van die wet

- Funksie van die evangelie

 

Kom ons begin by die wet en sy funksie.

Die Dordtse Leerreëls sluit dit wat elke mens eerste geneig is om te dink, direk uit.

Van nature dink ons as mense naamlik: OK, as dit die wet is, dan weet ek wat om nou te doen.

Nou gaan ek presteer, dit is my uitdaging in die lewe.

Van nature hou mense van uitdagings – ‘the sky is the limit’.

So sien mens dit in elke ander godsdiens.

Godsdiens, oftewel religie, is ‘n aantal voorskrifte hoe om te lewe.

Voorskrifte hetsy deur die gode geopenbaar, of deur die stigter van die betrokke religie neergelê.

Suksesvolle religieuse mense is hulle wat ver vorder met die nakom van hierdie voorskrifte.

Moslims het die sogenaamde vyf pilare.

Hulle moet bely dat Allah god is en niemand anders nie.

Hulle moet bid op die voorgeskrewe tye.

Hulle moet vas op die voorgeskrewe tye.

Hulle moet aalmoese gee vir die armes.

En ten minste een keer in hulle lewe moet hulle na Mekka reis.

Hoe beter jy hierdie voorskrifte nakom, hoe beter moslim is jy.

Die voorskrifte is soos ‘n leer, en elke tree wat jy klim, bring jou nader aan die hemel.

 

Dieselfde sien mens in die Boeddhisme.

Die beste Boeddhis is hy wat die meeste mediteer.

Dink aan die Boeddhistiese monnike wat hulle hele lewe daaraan wy om in ‘n klooster hoog in die berge te gaan woon en die hele dag te mediteer.

 

Hierdie strewe na volmaaktheid is die gevolg van die feit dat God die mens met ‘n gewete geskape het.

Die mens is geskape met ‘n morele kompas.

Dit is die sogenaamde natuurlike lig, soos die Dordtse Leerreëls sê.

Van nature is die mens ‘n idealis, hy dink hy kan homself red, hy dink hy kan self van hierdie wêreld ‘n beter plek maak.

Maar deur die sondeval het sy morele kompas, sy gewete, deurmekaar geraak, ‘corrupt’ soos ons in Engels sê.

Dit is tipies aan ‘n mens dat hy besef sommige dinge is reg en ander is verkeerd.

Maar die sondige mens steur hom egter nie meer aan die Goddelike maatstaf vir reg en verkeerd nie.

En so sien jy hoe in ander religies allerhande soms die vreemdste onderskeide gemaak word tussen reg en verkeerd.

So is, hoe krom ook, alle religies die produk van die mens se strewe om goed te wees, om die gode te beïndruk, om self jou toekoms te verdien, jou eie saligheid te verseker.

 

En, wat kommerwekkend is, in die Christelike geloof sien mens steeds ook die neiging van mense om terug te keer tot hierdie – kom ons noem dit – ‘default setting’ van die ou mens.

Want dis met hierdie oer-houding van die mens wat hy die Evangelie buite werking stel.

God gee nie sy wet om die mens aan te moedig om self die paadjie te stap en sy eie redding te verdien nie.

Van die begin af is dit duidelik – daardie paadjie sal geen mens enduit kan stap nie!

 

Daarom het die wet ‘n ander funksie, en daarna verwys paragraaf 5:

Die wet vlek die grootheid van die sonde oop.

Eina.

Die wet kla die mens van sy skuld aan.

Eina.

Inderdaad, die wet is baie krities op ons, en soos ons weet, is dit vir ‘n mens pynlik om kritiek te ontvang.

Tog doen God dit baie bewus met sy wet.

Hoekom?

In paragraaf 5 staan:

Die wet maak die sondige natuur kragteloos.

Ons sondige natuur is dat ons self wil regkom, self ons saligheid wil verdien.

Die wet sny by voorbaat daardie moontlikheid af.

Die eis van die wet is net te hoog.

Soos die spreekwoord sê: Jy pluk nie vere van ‘n kaal hoender af nie.

Daar’s niks oor nie.

Daar’s niks om te verdien nie.

 

Wet en Evangelie het daarom verskillende funksies.

En solank mens dit nie besef nie, sal dinge altyd troebel bly, en die gevaar dreig dat ons van die geloof net nog ‘n religie maak.

Die wet is nie soos ‘n leer waarmee ons na die hemel kan opklim nie.

Toe Paulus nog ‘n Fariseër was buite Christus, was hy lief vir die wet.

Want hy het gedink dat dit ‘n leer was waarmee hy kon opklim en steeds meer aanvaarbaar vir God kon word.

Na sy bekering het hy egter heel anders na die wet begin kyk.

Die wet is eerder ‘n leer wat ons laat afdaal al hoe dieper na die hel toe.

Elke gebod wat jy hoor, is nog ‘n tree ondertoe.

Want by elke gebod moet jy erken dat jy dit oortree het, en dat dit ook ‘n rede is om jou te straf.

 

Kom ek noem ‘n voorbeeld om dit te verduidelik.

In die hospitaal is daar masjiene wat X-strale kan neem.

Of nog meer gevorderd, CT-scans.

Die funksie van so ‘n scan is om ‘n 3D-beeld van elke deel van jou liggaam te maak.

X-strale word uit alle hoeke geneem, en ‘n rekenaar voeg dit dan saam.

Daarna kan ‘n dokter wat opgelei is om ‘n CT-scan te gebruik, daarna kyk om te sien of iets abnormaal is.

Abnormaal beteken, hy vergelyk dit met hoe ‘n gesonde liggaam, ‘n gesonde orgaan, behoort te lyk.

As daar ‘n afwyking is, as iets anders lyk, weet hy iets is verkeerd.

 

Ons kan die wet vir ‘n oomblik met ‘n CT-scan vergelyk.

Dit maak ‘n baie gedetailleerde en in-diepte diagnose van ‘n mens.

Die doel van ‘n CT-scan is egter nie om jou gesond te maak nie.

Dis nie sy funksie nie.

Daarvoor is dit nie ontwerp nie.

Dit diagnoseer net.

Daarna, op grond van die uitkoms, moet die dokter besluit watter medisyne hy kan voorskryf, of watter operasie daar sal moet plaasvind.

Die funksie van ‘n CT-scan is die maak van ‘n analise.

Daarenteen is die funksie van medisyne om te genees.

 

Dit is, in kort, ook die verskil tussen wet en Evangelie.

Die wet lê die sonde bloot, dit oortuig van sonde.

Soos artikel 5 sê: Dit vlek die “grootheid van die sonde oop”.

Jy mag dalk bekommerd wees omdat jy ‘n snaakse hobbel in jou lyf voel, maar veel meer weet jy nie.

Maar die CT-scan gaan vir jou kan vertel dat dit ‘n kwaadaardige en aggressiewe tumor is.

Die wet is baie goed daarin om die mens se diepste ellende oop te vlek.

Dit is sy funksie.

Daardie funksie vervul die wet voortreflik.

Dit openbaar die benarde situasie van die mens tot in alle detail.

Maar die wet help die mens nie verder nie.

En die sogenaamde lig van die natuur help hom nie verder nie.

Net God kan self iets doen, deur die krag van die Heilige Gees.

Sy krag bereik ons deur middel van die Woord, ook wel genoem die bediening van die versoening.

Die Woord is die Evangelie van die Messias.

Daardeur het God besluit om gelowiges, sowel in die Ou en Nuwe Testament, salig te maak.

Dus, geen natuurlike lig, geen wet, maar wel die Evangelie.

 

Dit bring ons nou by die funksie van die Evangelie.

Want die funksie van die Evangelie is dat dit red van sonde.

As mens nie hierdie basiese onderskeid maak nie, kom daar allerlei probleme.

As wet en Evangelie verwar word, of vermeng word, dan kry mens ‘n verwronge godsdiens.

Eintlik opvallend, dat mens in alle godsdienste die funksie van die wet vind, al is dit dan in verdraaide vorm, met heel ander reëls, maar tog is dit daar – gebooie en verbooie.

Maar in geen ander godsdiens vind mens die funksie van die Evangelie nie.

Die blye boodskap van vrye genade, nie eers ‘n klein bietjie daarvan vind mens in ‘n ander godsdiens nie.

Die wet beveel.

Maar die Evangelie skenk.

Die Evangelie sê nie wat ons moet doen nie, maar wel wat Christus gedoen het!

Vrye genade, dat ek kan en mag staatmaak op die werk van Iemand anders, my Here Jesus Christus en sy voltooide werk!

Dink aan die pragtige Bybelvers: “Want God het – wat vir die wet onmoontlik was ... deur sy eie Seun ... die sonde veroordeel” (Rom 8:3).

 

Laat dit duidelik wees, Paulus en die hele Nuwe Testament skryf die wet nie af nie.

Dit is en bly bitter noodsaaklik.

‘n Gevolg van die funksie van die wet is wel dat ‘n Christen ‘n soort haat-liefde verhouding daarmee het.

Dink weer aan ‘n CT-scan.

Niemand gaan vrywillig vir ‘n CT-scan, of omdat dit sy stokperdjie is nie.

Normaalweg sien ‘n mens daarteen op om deur so ‘n ding te gaan.

Tog, as die dokter dit voorskryf, moet dit gebeur.

Dit kan ‘n stap wees op pad na genesing.

Daar moet eers ‘n diagnose gemaak word van wat fout is.

Dit is die funksie van ‘n CT-scan.

Die CT-scan doen sy werk goed as hy die slegste in jou te voorskyn bring.

As hy vir jou sê wanneer daar slegte nuus is en dit nie wegsteek nie.

Maar daardeur word dit nie ‘n slegte masjien nie.

Dit is juis sy funksie.

Sy funksie is nie om te genees nie, maar dit kan wel die weg oopmaak na genesing deur juis die fout aan te toon.

 

So is dit vir ‘n Christen nie aangenaam om na die wet te luister nie.

Want die wet bring die slegste in ons na die oppervlakte.

Daarom haat ons die wet, wil ons nie daarna luister nie.

Ons wil liewers gesond wees, ons wil nie herinner word daaraan dat ons nie siek is nie, laat staan dat oopgevlek word dat ons ongeneeslik siek is.

Maar dit is die funksie van die wet, juis om dit te doen.

Broer, suster, ervaar jy ook, as jy Sondag na die wet luister, dat dit die slegste in jou blootlê?

Of is die lesing van die wet maar vir jou ‘n roetine, wat jou nie eintlik baie skuldig laat voel nie?

Moenie jou ore vir die wet sluit nie.

Dis soos iemand wat nie vir ‘n CT-scan wil gaan omdat hy bang is daar is dalk slegte nuus.

Besef, die wet is ‘n baie doeltreffende middel wat God skenk.

Toe die volk Israel by die berg Sinaï gekom het, was hulle vreesbevange vir die weerlig en donderweer bo-op die berg.

Van daaraf het God sy wet gegee.

Die wet is soos donderweer en bliksem.

Dit skud jou lewe, dit laat rillings oor jou rug loop.

Dit is die Heilige Gees wat daarmee in jou werk.

Juis om daarna, soos in die hospitaal, ‘n afspraak met die dokter te maak.

Hy is in staat om ‘n diagnose te maak van wat hy sien, en om dan medisyne voor te skryf.

En so ontvang ons medisyne van ons Heiland, ons Heelmeester.

Sy dood aan die kruis is die geneesmiddel.

Sy kruis is, om by hierdie beeldspraak te bly, die lewensboom!

“[E]n die blare van die boom is tot genesing van die nasies.” (Openbaring 22:2)

 

En wat so wonderlik is, noudat ons genees is deur Hom, kry die wet ‘n tweede funksie.

Die Heilige Gees gebruik nou die wet om ons toekomstige lewe van dankbaarheid vorm te gee.

Vandaar die haat-liefde verhouding.

Want nou, as verlostes, word die wet vir ons ook ‘n lus en liefde.

Nie dat ons nou wel in staat is om die wet na te kom nie.

Maar wel het ons nou ‘n hartlike begeerte en strewe om daarvolgens te lewe.

En danksy die Gees se werk in ons mag ons inderdaad vordering maak met so ‘n lewe.

Hy maak dit nuut.

Hy is ons Vernuwer.

Nou is die wet soos ‘n ploeg wat die grond van ons lewe omploeg en gereed maak vir die saad van die Evangelie, sodat sodra dit daarin val, dit kan begin groei.

Vir ‘n ware gelowige is die wet nie net meer iets wat hy haat nie, maar ook iets wat hy begin liefkry.

Dink aan hoe Psalm 119 sing oor die wet van die HERE:

“Aan u wet, my hoogste vreugde, is my liefde toegewy” (Ps 119:14 berymd).

“Vir u wette dra ek liefde” (Ps 119:42 berymd).

Broer, suster, as hierdie woorde vir jou nog te mooi klink, vra dan vir die HERE, ook met Psalm 119:

HERE, “Sterk my, red my; laat die liefde tot u wet in my ontwaak” (Ps 119:43 berymd).

 

Ons is nog nie weer op die vlak waar Adam en Eva was voor die sondeval nie.

Hulle was destyds in staat om volgens die wet te lewe.

Toe was die wet vir hulle soos ‘n vriend, dit was nie iets wat hulle bang gemaak het nie.

Maar in hierdie lewe bly die wet tog daardie eerste funksie ook in ons lewe hou.

Elke keer as ons dit weer hoor, dan wonder ons, net soos wanneer mens vir ‘n CT-scan moet gaan: Wat gaan daar nou weer iets verkeerd wees?

En eintlik weet ons al dat iets verkeerd is, ons voel dit aan ons lyf.

Maar die wet gaan dit net nog veel dieper blootlê.

Daardie funksie behou die wet dus tot die dag wat ons sterf.

Maar God sy dank, ons weet ook dat na hierdie scan daar ‘n baie goeie Geneesheer vir ons wag, in wie se hande ons veilig is!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Psalm 119:41-48, 97-104, 121-128; Romeine 3:21-31 & 7:7 – 8:4

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3-4, 5-6

Tema: Die unieke funksies van wet en evangelie

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wat is die funksie van die wet nie as dit oor die uitverkiesing van ‘n mens gaan?
  2. Wat is die funksie van die wet wel as dit oor die uitverkiesing van ‘n mens gaan?
  3. Hoekom moet die wet die slegste in ons blootlê?
  4. Voel jy skuldig as jy op Sondae na die 10 gebooie luister?
  5. Dank jou Geneesheer vir sy redding, en bid jou Vernuwer dat Hy kragtig in jou sal werk!

 

 

Liturgie: 

Votum: Sing Ps 121:1

Seën

Ps 130:3,4 (2e beryming)

Gebed

Skriflesing: Psalm 119:41-48, 97-104, 121-128

Ps 19:4,5

Skriflesing: Romeine 3:21-31 & 7:7 – 8:4

Ps 19:6

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3 & 4, par 5-6

Preek

Ps 119:14,42,43

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 24:2,3,6

Seën