Laat ons met volharding die wedloop hardloop

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-11-26
Teks: 
Dordtse Leerreels 5, paragraaf 1-3
Preek Inhoud: 

Ons begin vanaand met die laaste hoofstuk van die Dordtse Leerreëls.

Die Dordtse Leerreëls het die mooiste maar ook moeilikste hoofstuk vir laaste bewaar.

Dit gaan oor volharding.

Ek bedoel nie moeilikste in die sin van verstaan nie.

Dis nie so moeilik om te volg, as mens dit lees nie.

Maar met moeilikste bedoel ek, dis die moeilikste deel van ‘n mens se geloofslewe op aarde – naamlik om te volhard tot die einde.

As mens bekering vergelyk met volharding, is die laaste aansienlik moeiliker.

Dis soos ‘n atleet wat die 3000 meter hardloop.

As hy wegspring, is hy vol energie met ‘n stewige pas.

Maar rigting die einde, by die soveelste ronde om die veld, as die sweet orals afstroom, die son genadeloos bak, die bene pyn, die bors brand, die mild steek, dan is dit nie meer lekker nie, dan wens mens net die einde wil kom, en daar is selfs momente wat mens dit oorweeg om handdoek in te gooi.

Bekering is soos die wegspring, vol moed.

Volharding is na die soveelste rondte, wanneer dinge moeilik raak.

 

Tema: Laat ons met volharding die wedloop hardloop

1 Volharding is die moeilikste

2 Volharding is die mooiste

 

1 Volharding is die moeilikste

Wanneer jongmense geloofsbelydenis aflê, is dit ‘n feestelike dag.

Die gesigte straal waar hulle voor in die kerk staan.

Die ja-woord klink sonder twyfel.

Maar wanneer iemand oud geword het, die liggaam pyn, dalk is daar ernstige siekte, ook is daar die verdriet en rou en gemis na ‘n lang lewe wat sy littekens agtergelaat het, dan is volharding in die geloof ‘n heel ander saak.

Of, nog ‘n voorbeeld, wanneer ‘n sonde jou oormeester het, dalk alkoholisme, dalk owerspel, dalk ‘n broedertwis, ‘n konflik wat nie opgelos is nie, dan het volharding in die geloof ‘n stryd geword.

Maar, en dis die mooi kant, hierdie laaste hoofstuk van die Dordtse Leerreëls handel dan ook oor die grootste wonder wat die Here Jesus Christus deur sy Heilige Gees in ons lewens werk.

Wie in ag neem hoe gebroke die lewe is – soos die Doopsformulier dit verwoord – dit is ‘n voortdurende sterwe, wie in ag neem hoe sterk ons sondige geaardheid so dikwels nog die kop opsteek, wie in ag neem hoe verbete die Satan probeer, en dit tot op jou sterfdag, om God se kinders afvallig te maak, wie dit alles in ag neem, besef die immense wonder dat so baie van God se kinders volhard tot die einde toe.

Dit is ‘n wonder wat plaasvind waarvan ons slegs kan bely: Hierdie is nie ons werk nie.

As dit ons werk was, dan was daar geen katse kans dat ons enigsins tot die einde toe sou volhard het nie.

Dan sou ons lankal reeds handdoek ingegooi het.

En as ons sien dat sommiges wel handdoek ingooi, want die Skrif leer dat nie almal wat uiterlik lid van die kerk is, die wenstreep gaan haal nie, as ons dit sien gebeur, is ons net des te dankbaarder dat die Here Jesus my tog elke dag weer die krag gee.

Sommiges, soos die apostel Johannes skryf, “het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie, want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het, maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” (1 Joh 2:19)

Die Skrif noem iemand met die naam Demas as voorbeeld, wat uit die wedloop uitgestap het, “omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het” (2 Tim 4:10).

As ons dit sien gebeur, en dit gebeur ook in ons tyd, wanneer mense aan die kerk onttrek en hulle selfgekose weg in die lewe inslaan, dan word ons nie selfversekerd omdat ons wel nog in die wedloop bly nie, maar dit vul ons met verootmoediging, omdat ons so goed besef dat op eie krag ons al lankal uit die wedloop sou gewees het.

 

Die feit dat ons deel van Christus se kerk mag wees, is net genade.

Die eerste paragraaf vat hierdie realiteit saam.

Hulle wat geroep en deelgemaak is van die gemeente van die Here Jesus Christus, hulle wat die Heilige Gees wederbaar – wederbaar is ‘n teenwoordige werkwoord, die wedergeboorte is iets wat besig is om plaas te vind – hulle is juridies verlos van die heerskappy en slawerny van die sonde.

Dit is Christus se regverdiging van ons lewens.

Dit  is gedoen, geen twyfel.

Tog, en nou kom die noodsaak van volharding ter sprake, in hierdie lewe word ons nie heeltemal van ons bedorwe natuur en bestaan verlos nie.

Dis nog nie hemel op aarde nie.

 

En dit het gevolge, paragraaf 2 verduidelik dit:

Daar is nog daaglikse sondes van swakheid.

Let op hoe dit geformuleer is.

Danksy Christus se regverdiging, danksy die Gees se inwoning, leef ons nie meer vir die sonde nie.

Die duiwel en ook nie my eie ek sit meer op die troon nie.

Die heerskappy en slawerny van die sonde is gebreek.

Die Here Jesus Christus is Koning in my lewe.

Ek is nie meer opstandig en rebels nie.

Maar terselfdertyd is ek nog nie sondeloos nie.

Elke dag moet ek nog steeds bid soos Jesus geleer het: Vergeef ons ons sondes.

Daar is naamlik nog sonde uit swakheid.

Daar is nog ‘n swakheid in my wat my in sondes laat val.

Maar dit gebeur teen my herskape wil in.

En ook moet ons erken, selfs ons allerbeste werk is nog gebrekkig.

En dit noodsaak ‘n voortdurende stryd.

Ek kan nie sê: Ek is bekeer, nou lê die sonde agter my nie.

Dit is selfbedrog.

Ja ek is bevry van die slawerny van die sonde, maar daar is nog ‘n ou mens, ‘n bedorwe natuur in my.

En hier kom die volharding in.

Ons moet ons bedorwe natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees.

Ons ou mens gaan ons van tyd tot tyd wanhopig maak.

Dink aan Paulus se wanhopige kreet: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom 7:24)

Dit is ‘n opdraende stryd, maar nie ‘n hopelose ongewisse stryd nie.

Dit besef Paulus ook.

Waarskynlik kort voor sy sterwe skryf hy dankbaar aan Timotheüs:

“ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” (2 Tim 4:7)

Ons mag elke dag ons toevlug neem tot die gekruisigde Christus, met die gevolg dat ons môre weer met nuwe krag kan begin, met ‘n skoon bladsy.

En met die sekerheid dat die Gees sy goeie werk sal voortsit.

Dat die dag sal kom dat ons dankbaar dieselfde as Paulus sal ken sê.

Paragraaf 2 noem ‘n paar dinge waaruit die Gees se werk blyk:

- gebed;

- heilige beoefening van godvresendheid;

- verlange om die volmaaktheid te bereik;

- en die oë steeds op die wenstreep gefokus hou, daardie dag as ons van hierdie sterflike liggaam losgemaak gaan word, om met die Lam van God in die hemel te regeer.

 

En alhoewel die Gees ons uiterste inspanning vereis, in terme van die voorbeeld hierbo, die sweet moet aftap, die bene moet pyn, die bors moet brand, die mild moet steek, tog bely ons:

Ons sal nie tot die einde in die genade kan volhard as ons aan ons eie kragte oorgelaat was nie.

Dus ja, volharding is die moeilikste.

Maar God sy dank, die Heilige Gees vuur ons aan, Hy stel ons in staat, Hy is ons Afrigter, Hy hou ons fyn dop en dra ons as ‘t ware deur die lewenswedloop.

Paragraaf 3 skryf: God is getrou, Hy bekragtig ons, Hy bewaar ons tot die einde toe.

 

(Tema: Laat ons met volharding die wedloop hardloop

1 Volharding is die moeilikste)

 

2 Volharding is die mooiste

Die Dordtse Leerreëls behandel hierdie werklikheid van volharding uitgebreid in reaksie op die Remonstrante, wat in hulle optimisme die volharding van gelowiges aan hulleself oorgelaat het.

Die Remonstrante het nie God se hulp ontken nie.

Genade plaas hulle in die wedloop, natuurlik, maar die wedloop moet hulle self hardloop.

Uiteindelik is God se trou afhanklik van ons trou.

Volharding word ‘n voorwaarde, nie ‘n geskenk nie.

Die wat hulle bes doen, die sal God bystaan.

Dieselfde basiese uitgangspunt is ook die geval in die Rooms Katolieke leer.

Daar is heiliges wat so goed hardloop dat hulle nog vol energie by die wenstreep uitkom.

Soveel goeie werke, dat hulle selfs nog aan ander kan uitdeel.

 

Daarenteen beklemtoon die Dordtse Leerreëls dat die volharding nie ons eie werk is nie.

Die Leerreëls verduidelik meer uitgebreid wat die Gereformeerdes alreeds in die Heidelbergse Kategismus Sondag 21 bely het, dat die Seun van God vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, vergader, beskerm en onderhou.

Die woord onderhou dui op die volharding waartoe Christus hulle in staat stel.

 

Maar dit maak van die gelowiges nog nie stokke en blokke nie.

Daardie beskuldiging van die Remonstrante, en van die Roomses, is nie waar nie.

Gelowiges is nie passief nie.

Christus se werk deur sy Heilige Gees sluit nie jou inspanning uit nie, dit sluit dit in.

Nadat die Gees jou wil vernuwe het, span Hy nou jou wil in dat jy self ook kies om elke dag opnuut jouself daartoe te verbind om vol te hou.

In jou lewe van heiligmaking, jou geestelike stryd, moet jy sweet, moet jy pyn ervaar.

As ‘n kind van God se lewe net rustig voortkabbel, sonder storms, sonder stryd, dan is dinge nie reg nie.

‘n Kind van God se lewe moet gekenmerk word deur ‘n stryd teen dit wat nog in hom sondig is.

As jy daagliks bid, maar diepgaande berou is nie deel daarvan nie, dan stagneer jy.

As jy net fokus op ander se foute en beswaarlik op jou eie, dan bedroef jy die Heilige Gees.

Die Heilige Gees gee jou alles om te volhard, nou roep Hy jou op om dit ook te gebruik.

‘n Kind van God kan nie dieselfde bly nie.

Jy moet aanhou in die goeie rigting, daar moet progressie wees.

Soms ja, is ons soos ‘n atleet wat sommer op die baan gaan sit, wat nie meer kans sien nie.

Bid dan dat die Gees jou weer op jou voete sal tel, jou sal aanmoedig, begeester, om weer die een voet voor die ander te sit, sodat jy meter vir meter vorder rigting die wenstreep.

Hou jou oë gerig op die Leidsman en Voleinder van die geloof, soos die Bybel vir Jesus noem, dan sal jy die krag kry om aan te hou.

Solank daar progressie is, al is dit maar ‘n “geringe begin”, soos die Kategismus dit noem (Sondag 44).

Dit is iets wat ons nederig hou.

 

En wat ook ‘n feit is, en dit besef ons lank nie altyd nie, is dat terwyl ons met die wedloop besig is, Christus ons vyande op ‘n afstand hou.

Want ons volharding in die geloof word nie net bedreig deur ons eie swakheid nie, maar ook deur ‘n sondige wêreld en deur die duiwel.

Christus hou hulle op ‘n afstand.

Laat ons Hom ook elke dag in ons gebed herinner om dit te doen.

Sodat die duiwel nie ons van agter probeer trip nie.

As jy tydens die wedloop van agter gepootjie word en teen die grond neersloeg, dan kan jou moed maklik gebreek word.

Bid dat die Here dit sal voorkom.

Want tot die laaste meter voor die einstreep sal die duiwel dit nog probeer doen.

Op jou sterfbed sal hy nog sy bes doen om jou te laat twyfel, sodat jy handdoek wil ingooi.

Maar, broer, suster, vertrou die Voleinder van die geloof.

Jy hoef nie tydens die wedloop heeltyd agterom te kyk nie.

Dit gaan jou spoed breek, dit gaan jou moed breek.

Vertrou dat Christus se engele om jou is, sodat jy jou voet teen geen klip sal stamp nie, jou op die hande dra.

Hou jou rug gedraai op Satan en die sondige wêreld, kyk vorentoe, fokus op jou Leidsman.

 

En dit gaan ook nie help as ander vanaf die kantlyn heeltyd vir jou skreeu:

Hou aan, want jy is ‘n wenner!

Nee, ek is nie ‘n wenner nie.

Deesdae se mensbeeld gooi ons terug op onsself.

Dit is die klimaat waarin kinders deesdae opgevoed word:

Daar word heeltyd vir hulle gesê: Jy is ‘n wenner!

En die heeltyd moet die kind net hoor: goed so, goed so!

Kinders wat so opgevoed word, raak later ontnugterd.

Hulle het opgegroei met die idee wat hulle ouers en onderwysers hulle wysgemaak het, naamlik dat hulle net altyd wenners is.

Maar dan gebeur dit dat hulle sleg doen in hulle matriekeksamen.

Of hulle haal nie die eerste rugbyspan nie.

Of hulle wen nie die sangkompetisie nie.

En dan val hulle in ‘n gat.

Hulle kom agter hulle is nie so volmaak soos wat hulle gedink het nie, hulle is nie wenners nie.

Ons help nie ons kinders om hulle so op te voed nie.

Laat ons hulle bewus maak van die wedloop, die geestelike stryd op aarde, en dat hulle nie self op eie krag die eindstreep gaan haal nie.

Laat ons hulle leer om hulle oë te fokus op hulle Leidsman.

Dat Hy ook die Voleinder van hulle geloof is, Hy in wie se Naam hulle gedoop is.

Dat sy Heilige Gees in hulle woon en hulle die krag gee om in hierdie lewe nie moed op te gee nie, blymoedig te bly en te volhard selfs te midde van ‘n terugslag.

 

Geliefde gemeente, ek het die preek begin met die opmerking dat die vyfde hoofstuk van die Dordtse Leerreëls die moeilikste is.

Volharding tot die eindstreep is moeilik.

Maar juis hierin skitter des te meer die Here se werk.

Daarom is hierdie hoofstuk ook die mooiste.

Ja volharding is die mooiste.

Daarin skitter die Heilige Gees se werk in ons die meeste.

Ja volharding is die mooiste wonderwerk.

Dit vind elke dag plaas, heel konkreet en prakties, in die lewe met sy mooi maar ook moeilike dae.

Daarin is die Here aanwesig.

Daarin bewaar Hy ons.

Daarin laat Hy selfs die vrugte van die Gees sigbaar word.

 

Hierdie week gaan die wedloop weer voort.

Hierdie week gaan ons elke dag weer moet bid: Vergeef ons ons sonde.

Want ons swakheid is nog daar, al het ons die Here waarlik lief.

Maar onthou Jesus se woorde as dinge vir jou te veel raak: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle ... en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matt 11:28-30)

Onthou om na Hom te vlug, want Hy ken ons, Hy ken ons stryd:

“Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.” (Ps 103)

Daarom weet ons “dat Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.” (Fil 1:6).

Hou vol, kyk vorentoe, die oë gerig op die Voleinder van die geloof.

Hy sal sorg dat niemand jou uit sy hand ruk nie.

Wie tydens sy lewe Hom as Leidsman het, sal die wenstreep haal.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: 2 Timotheüs 4:6-22 & Hebreërs 12:1-15

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 5, par 1-3

Tema: Die Heilige Gees behandel ons nie as willose domkoppe nie

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wat is makliker, bekering of volharding?
  2. Hoekom is volharding sowel moeilik as mooi?
  3. Lees die verse in die Bybel waar die geloofslewe met ‘n wedloop vergelyk word.
  4. Noem ‘n episode in jou lewe toe jy wou handdoek ingooi. Hoe het die Heilige Gees jou toe weer opgetel?
  5. Dank die Here vir die wonder van volharding, en vra Hom om hierdie wonder ook aan jou te gee tot die einde.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 16:1,3

Gebed

Skriflesing: 2 Timotheüs 4:6-22

Ps 125:1-4

Skriflesing: Hebreërs 12:1-15

Ps 125:5-7

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 5,1-3

Preek

Sb 39:1-5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 43:3,4-6

Seën