Die Voorsienigheid van God is vertroostend

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2020-01-19
Teks: 
NGB artikel 13
Preek Inhoud: 

God het nie die wêreld geskape, teruggesit, ontspan en gerus nie.  Nee, Jesus self sê: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”  Wat doen Hy?  Hy onderhou en regeer hierdie groot heelal wat Hy gemaak het.  Hy het die note geskryf en dirigeer die simfonie van die geskiedenis en die skepping tot die finale einde.  God is teenwoordig.  Hier in hierdie oomblik.  In hierdie plek.  God is teenwoordig in elke oomblik, in elke ruimte.

Die God wat ons aanbid is nie ‘n God wat op een of ander manier slegs in verlossing betrokke is nie.  Ons moenie ons God beperk nie.  Ons God is betrokke in al die sake van die skepping, in die sake van die politiek en die ekonomie, Hy is betrokke in jou lewe elke sekonde van elke dag.  As Hy nie betrokke was nie, sou jy nie hier gewees het nie.  Hy stel belang in wêreldgebeure.  Hy stel belang in die debat oor klimaatsverandering.  Hy stel belang in die vernietiging van ekosisteme.  Hy dirigeer alle dinge ter wille van die kerk van Christus.  En Hy gee intiem om oor alle dinge – hoekom?  Want Hy het dit alles gemaak.  Hierdie gaan oor God wat alle dinge dirigeer tot sy heerlikheid.  Hierdie is die leer van voorsienigheid.

Hierdie leer maak die teenwoordigheid en realiteit van God heeltemaal onafwendbaar.  Hy is hier en dirigeer hierdie hele erediens.  Jy sal God teëkom wanneer jy buitentoe gaan en die dag geniet.  Hy is so betrokke dat selfs nie ‘n haar van jou hoof kan val in hierdie uur as Hy nie daarvan weet nie.  Elke blaar wat ek aan die boom sien, elke insek wat ek teëkom, konfronteer my met die bewys en die nabyheid en die mag van MY GOD!

 

Die Voorsienigheid van God is vertroostend:

  1. Hy onderhou en regeer die skepping
  2. Terwyl Hy nie die Outeur van die bose nie

 

God onderhou en regeer sy skepping

Het God “huistoe” gekeer na die skepping en met ‘n ander taak begin, en sy heelal aan selfregering oorgelaat?  Die Skrif is ondubbelsinnig duidelik hieroor.  Soos ons lees in Job: “As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer.” (34:14-15)  Met ander woorde, as God nie betrokke was nie, sou ons wees soos die liedjie wat lui: “stof in die wind.”  Werklik, dit is dikwels die oordeel van God oor die sonde.  Wanneer ons sondig, weerhou Hy sy voorsienigheid, en dinge keer terug na niks.

Ons sien dit in Jeremia, waar die profeet ons vertel dat die wêreld homself ongedaan maak as gevolg van die mense se sondes.  Nadat hy die mense se sondes in die vorige hoofstuk genoem het, sê hy in Jeremia 4:23-25a: “Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie.  Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, en al die heuwels het geskud.  Ek het gekyk, en daar was geen mens nie…”.

Herinner hierdie woorde jou aan iets?  Hy begin praat oor die aarde wat woes en leeg was.  Waaraan herinner dit jou?  Dan eindig hy met geen mense daar nie, asof hy die boog van Genesis 1 volg.  Genesis 1:2: “En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed…”.  Dit is die straf op Israel se sondes.  Sonde bring die verwoesting van die geskape orde.  Sonde is persoonlik, maar die gevolge daarvan is universeel.

Maar selfs dit is deel van sy voorsienigheid: God wat kies om sy hand te onttrek en sy mense oor te laat aan hulle sonde, waarvan die gevolg die dood is.  Inderdaad, as daar enige lewe gaan wees, as daar enigiets gaan wees, moet God aanhoudend werk.  Hy het nie net geskep nie, maar Hy onderhou sy skepping – sonder Hom sterf hulle.  Soos ons lees in Psalm 104: 29-30: “U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.  U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.”

Ook in die bekende gedeelte in Romeine leer ons dat alle mense, wanner hulle gekonfronteer word met die skepping, gekonfronteer word met God.  Die skepping is die sigbare bewys van die onsigbare.  Die materiële bewys vir die wesenlike God.  Dit is God se skepping en Hy sorg daarvoor deur sy Seun.  En hierdie bewyse is orals.  Handelinge 14:17: “al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.”  Inderdaad, aan die een wie se oë oop is  – “Die jong leeus brul om roof en begeer hulle voedsel van God” (Ps. 104:21).  Hulle weet dit is God wat aan die lelies van die veld meer heerlikheid gee as aan Salomo (Matt. 6: 28-29).  Dit is God wat die raaf voer, en Hy weet as ‘n mossie doodgaan.  God is teenwoordig in die gewone daaglikse oomblikke van ons bestaan.  Sien jy Hom?

Toe die skepsel, wat na God se beeld gemaak is, dink oor die skepping, kon hy nie ontsnap van die sin van ‘n hoër krag “binne, met en bo-oor” die tasbare wêreld van die vyf sintuie nie.  Maar tog dien hierdie idee van God se voorsienigheid slegs om hulle te veroordeel.  Alle mense beleef God se voorsienigheid, maar slegs as jy glo, word dit ‘n groot troos.  Want hierdie werk van regering en onderhouding is gedoen ter wille van dié op wie Hy sy verkiesende liefde geplaas het.

Die leer van die voorsienigheid is nou verbind met die skepping, wat verbind is aan die nuwe skepping, wat uiteindelik sy oorsprong vind in Jesus Christus.  Alle dinge bly saam in Christus, maar alle dinge word ook deur Christus versoen.  Ons lees: “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.  En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.  En Hy is die hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.  Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis – ek deur Hom – die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.” (Kol. 1:16-20)

Sien jy die vloei van hierdie gedeelte?  Alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape (die leer van die skepping).  Alle dinge bly saam in Hom (die leer van die voorsienigheid).  En wat sê dit vervolgens? – Hy is die Hoof van die liggaam, die kerk; Hy is die begin, die Eersgeborene uit die dood (die leer van die herskepping)!  ‘n Mens sien hoe nou die skepping verbind is aan die voorsienigheid, verbind is aan die herskepping.  En die outeur en voleinding is Christus.  Maar nie net die outeur en die voleinding nie, maar ook die middel tot daardie voleinding.  God is teenwoordig in Jesus Christus!  En dit is deur sy liggaam, die kerk, dat Hy die bediening van die versoening verkondig, dat alle dinge weer met Hom versoen word.  die voorsienigheid het ‘n doel – om alle dinge te herstel tot ‘n regte verhouding met God.  Ons het ‘n doel om te verkondig dat God in die skepping gekom het!  Sodat dit God mag verheerlik.

Dus, alle dinge is nie net in Hom geskape nie, maar hulle is ook vir Hom geskape, en deur Hom, soos ons kan lees.  Hulle was nie net in Hom, en vir Hom, en deur Hom geskape nie, maar hulle is in Hom saamgehou op hierdie oomblik.  Hoekom?  Om alle dinge met Hom te versoen deur die kruis.  En God dirigeer alles vir daardie doel!

God het dit gemaak, God regeer dit.  Heeltemaal.  Daar is geen mededinger nie.  Niks en niemand is op sy vlak nie.  Niemand is aan Hom gelyk nie.   Niemand sal Hom uitdaag nie.  Wat Hy sê, sal gebeur.  Dit beteken dat daar geen verrassing die troonkamer van God binnekom nie.  God het nog nooit gesê: “Oeps, ek het nie daaraan gedink nie!”  Nee, alles het gebeur volgens sy aanwysing.  Die simfonie gaan van beweging tot beweging, net soos Hy  dit bedoel het.  Al die pad tot by daardie groot eindstryd waaroor ons lees in Openbaring.

Niks gebeur sonder sy aanwysing nie.  Soos Job sê wanneer hy met sy vriende stry oor sy omstandighede: “Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel.  Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie?  In wie se hand is die siel van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees.” (12:7-10)  Gaan vra vir jou dierevriende, sê Job, lyk my hulle weet Wie is in beheer.  Hulle weet God is teenwoordig in die daaglikse oomblikke.  Jesus doen dit ook met ‘n meer positiewe voorbeeld: gaan kyk na die voëls en sien hoe God vir hulle sorg en oor hulle regeer!  Regeer Hy dan nie ook oor jou wat baie belangriker is in die koninkryk nie?

 

Terwyl Hy nie die Outeur van die bose is nie

Hy regeer oor alle dinge.  Hy regeer oor al die sake van die wêreld.  Verras dit jou?  As jy om jou kyk, is jy geskok?  Ek bedoel, wat van al die kwaad?  Wat van al die verkeerde dinge?  Hoekom is die goddelose voorspoedig?  Hoekom ly die regverdiges?  Dit is vrae wat die heiliges deur die geslagte heen vra.

Wanneer hierdie vrae ontstaan, moet ons maak soos die Skrif sê en onsself herinner aan God se beloftes.  En sien dat God selfs die kwaad tot sy beswil laat keer.  In terme van persoonlike kwaad wat deur God gebruik is, ken ons die verhaal van Josef se broers wat hom as ‘n slaaf aan Egipte verkoop het.  Josef bely dat dit God se werk was.  In terme van maatskaplike kwaad, kan ons dink aan God wat die mees kwaadaardige nasie, die Assiriërs, ophef om Israel te verslaan, waarna die Babiloniërs die Assiriërs verslaan.  Dit help my om weer te glo dat God in my tyd iets doen met die kwade in ons persoonlike lewe en in ons gemeenskap.

En bowenal moet ons kyk na die kruis.  As God in volle beheer was deur die gruwelikste daad in die geskiedenis te gebruik in die kruisiging van God se eie Seun, Jesus, die Messias, vir die beswil van die mensdom, dan is Hy sekerlik in beheer van al die kwaad wat in ons tyd gepleeg word.  Dit was God se voorbeskikte plan dat Jesus oorgelewer is aan die leiers en gekruisig is deur die wêreld se mees onregverdige veroordeling ooit.

Die kragte van die donkerte is weer en weer en weer gefnuik, hulle planne om te verwoes word deur die soewereine God gebruik om Homself in sy mense te verheerlik.  Die nasies mag woed, die mense mag hulle kettings afgooi, maar die een op die hemelse troon lag (Ps. 2).

Maar dit bring ons by ‘n eeu-oue vraag: as God soewerein is en as alles volgens sy plan loop, dan hoef ek mos nie verantwoordelik te wees vir enigiets nie?  En dit is waar die belydenis ook hierdie onderwerp benader met diepe nederigheid en tog eerlikheid.  Want die duidelike antwoord is: ja, ons is verantwoordelik.  Die Nederlandse Geloofsbelydenis sê: “Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie.”

God se soewereinitieit en ons verantwoordelikheid is nie wedersyds eksklusief nie.  Dink byvoorbeeld aan hierdie verklaring in Jesaja 10:5: “Wee Assur! die roede van my toorn en ‘n stok is hy – in hulle hand is my grimmigheid!”  Met die eerste oogopslag maak dit nie sin nie.  As Assirië die werktuig van God se toorn is, hoekom sou Hy wee en veroordeling oor hulle uitspreek?  Hoe kan ‘n volk onder Goddelike veroordeling beland en terselfdertyd gebruik word as God se stok van toorn?

Eerstens:  God hou Israel heeltemaal verantwoordelik vir hulle ongeloof, heeltemaal verantwoordelik vir hulle afgodery, heeltemaal verantwoordelik vir hulle opstand en hulle verwerping van Hom, sy Woord en sy aanbidding.  So Hy roep die Assiriërs op teen hulle.  Kyk na vers 6: “Ek sal hom stuur teen ‘n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ‘n vertrapping te maak soos modder van die strate.”  Dit is sterk, beslissende taalgebruik.

Maar Assirë sien dit slegs as ‘n geleentheid om nog ‘n land en nog ‘n god te verslaan, hulle erken nie God deur hierdie land te verslaan nie, en daarom hou God hulle verantwoordelik en sê: “... dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië en oor die gepraal van sy hoë oë.” (vs. 12)  Ek sal die koning van Assirië straf oor sy trots en selfversekerdheid.  Met ander woorde, kwaaddoeners doen kwaad nie omdat hulle gedwing word nie, maar deur hulle eie kwaadaardige bedoelings.  Sondaars wil sondig, daarom sondig hulle.  Maar God gebruik dit steeds vir sy eie doel.

En Jesaja probeer nooit om dit op te los of om dit weg te verduidelik, wat baie as ‘n teenstelling sou sien, nie.  Die Skrif gee geen aanduidings dat God se toorn teen Assirië enigiets behalwe regverdig, redelik en gepas is nie.  Inderdaad, ons sou dit beskou as redelik en regverdig.  Op dieselfde manier as wat jy God se straf oor Israel sou sien as regverdig.

Die Bybel bekommer hom nie oor die versoening van goddelike oordeel met enige menslike aannemings oor reg of regverdigheid nie.  Soms wil ons dit hê van God.  Ons wil die Regter van die hele aarde beoordeel.  Ons wil hê dat God op ons eie standaarde aanspreeklik moet wees.  Ons wil Hom verstaan.  Ons wil Hom in ‘n boks druk.  Maar as Hy ons standaarde van regverdigheid gehad het, as Hy deur ons verstaan sou kon word of in ons boks pas, sou Hy ‘n baie klein God wees.

Ons sien dieselfde spanning tussen goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid in Handelinge 2.  Tydens Petrus se preek op Pinksterdag het hy gesê: “Israeliete, luister na hierdie woorde!  Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet – Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;” (vs. 22-23)

Christus het onder God se gesag gesterf, in sy tyd en volgens sy plan.  Maar tog!  Tog was Israel skuldig – beide deur hulle aandeel in sy dood en vir hulle mislukking om in Hom as die Messias te glo.

Maar in die gebed van Handelinge 4, in vers 28, lees ons dat al hierdie skuldige siele saamgespan het “om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.”  Jesaja 53:10 stem saam, en identifiseer die Here as die Een verantwoordelik vir die Seun se dood: “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak;”  Dit beteken nie dat dié wat Christus doodgemaak het, onskuldig was nie!  Die mense was heeltemaal in opstand, en lus om te moor, en vir hulle was dit ‘n daad van suiwer kwaad.  Maar daardie daad was in God se oë die begin van die einde van die kwaad.

Ons sien die skynbaar teenstellende waarhede van goddelike soewereinitieit en menslike verantwoordelikheid hehaaldelik, in elke deel van God se Woord.  Maar die Skrif probeer nooit om die skynbare spanning op te los nie.  Ons moet onthou dat dit nie ons taak is om God te hou by die standaarde wat ons klein verstand dalk mag voorstel nie.  Hy Self is die standaard van ware geregtigheid, en Hy handel nooit op ‘n manier wat in teenstelling is met sy geregtigheid, regverdigheid, liefde of genade nie.

Hoekom is dit so belangrik vir ons?  Omdat ons kan dink: “As God ons in elk geval gaan red en dis alles genade, en God is in beheer, dan gee dit nie om as ek ‘n bietjie sonde doen nie.”  Of: “As God die simfonie van die skepping en die geskiedenis dirigeer na ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, dan gee dit nie om hoe ek hierdie een behandel nie!”  Dit is ‘n leuen van die hel.  God gee om.  En sal alle sulke mense verantwoordelik hou.

Soos Paulus sê: sal ons aanhou sonde doen sodat die genade mag toeneem?  BESLIS NIE!  Daar is geen manier dat dié wat in Christus is, nie ook vir die skepping sal omgee nie, nie ook die sonde – persoonlik en maatskaplik – meer en meer sal haat nie; hulle verstaan selfs dat sonde God se genade laat toeneem en dus ook die heerlikheid van die werk van Christus aan die kruis.

Ons kan vrede vind in sy soewereiniteit en voorsienigheid.  Want Hy regeer alle dinge, onderhou alle dinge, en voer alle dinge tot hulle bedoelde voleinding, en is terselfdertyd nie die Outeur van die sonde nie, maar gebruik die kwaad tot ons beswil.  Op hierdie manier is God se voorsienigheid onlosmaaklik verbonde aan verlossing.  Hy regeer alle dinge ter wille van dié wat verkies is in Christus.  Dit is ‘n groot vertroosting.

En dit is nie asof hierdie geskryf is deur ‘n man wat nooit oor hierdie vrae gedink het nie.  Die persoon wat hierdie artikel geskryf het, se lewe was voortdurend in gevaar.  Hy moes sy eie gemeente besoek in die geheimenis van die nag en moes altyd wonder oor veiligheid.  Maar hierdie artikel gee glad nie ‘n teken van sy frustrasie of onsekerheid nie.  Hy was heeltemaal veilig in die hande van sy genadige, wyse en sowereine God en Vader.  Selfs met al die kragte van die kwaad en versoeking teen hom opgestapel.

Ek hoop jy sien hoe dit jou help om te leef as ‘n gelowige te midde van hierdie wêreld vol kwaad, pyn en lyding en donkerte.  Hierdie leer gee jou ‘n rede om elke dag aan te pak en te vertrou dat God iets daardeur bereik.  Dat Hy werkend is, dat Hy naby is.  Hy is teenwoordig.

 

Oordeel nie die Here volgens swak gevoel nie,

Maar vertrou Hom vir sy genade;

Agter 'n fronsende voorsienigheid

Steek Hy 'n glimlaggende gesig weg.

 

Sy doel sal vinnig ryp word,

En elke uur ontvou;

Die knop het dalk 'n bitter smaak,

Maar soet is die blom.

 

Amen