In Christus het God mens geword

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2020-08-09
Teks: 
NGB artikel 19
Preek Inhoud: 

Goeiemiddag gemeente.  

Ons het ’n belydenis omdat daar sekere dinge is in die Christelike geloof wat nie onderhandelbaar is nie.  Dit help ons om staande te bly teen allerhande leringe.  Dit som die Skrif op en onderrig ons daarin.  Dit laat ons toe om mekaar aanspreeklik te hou.  Vandag gaan ons kyk na nog ’n leerstelling wat met die eerste oogopslag baie teoreties en moeilik lyk, soos die leer van die Drie-eenheid, maar wanneer jy dit van naderby bekyk, besef jy dat dit implikasies inhou vir alles in die Christelike geloof. As Jesus Christus nie perfek en volkome God en Mens was nie, dan is verlossing nie ’n werk van God nie en red dit nie die mens nie.  Dit is ‘n leë gebaar.  Die kruis word geledig van sy krag.

Om op te som:  Die twee nature van Christus het die oneindige na die eindige gebring.  Die ewige na die tydelike.  God na die mensdom.  En dit het op so ’n manier gebeur dat God nie verminder het en Hy slegs gedeeltelik mens geword het nie, en sy mensheid is ook nie verheerlik om goddelik te wees nie, maar Hy het sy mensheid tot die verste moontlike punt geneem van wat dit beteken om menslik te wees.  En terselfdertyd verhef dit God wat ’n volk vir Homself gered het, sodat ons in Hom die volheid van die mensheid mag geniet.

In Christus het God mens geword:

  1. Twee nature
  2. Een Persoon

Twee nature

“Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie, maar twee nature in een Persoon verenig.”  In hierdie punt sal ons fokus op die feit dat daar twee persone is, en in die volgende punt sal ons fokus op die feit dat hierdie twee nature onlosmaaklik in een Persoon voorkom.

Dus, kom ons praat oor hierdie twee nature.  Eerstens, en miskien die belangrikste, is dat hierdie nature afsonderlik en nie gemeng is nie.  Sy Godheid het nie met sy mensheid gemeng nie, ook het sy mensheid nie met sy Godheid gemeng nie.  Dit is belangrik.  Hoekom?  Want as sy mensheid met sy Godheid gemeng het, sou Hy minder as God geword het.  En as sy Godheid met sy mensheid gemeng het, sou Hy nie in alle opsigte soos ons geword het nie, maar sonder sonde.  Hy sou ’n supermens gewees het, nie ’n simpatieke Hoëpriester nie.  Hy sou nòg volkome God nòg volkome mens wees.  Maar ons bely dat Hy beide is.

Die Goddelike natuur bly ongeskape – sonder begin of einde – terwyl dit die hemel en die aarde vul; en die menslike natuur bly geskape – dit het ’n begin en ’n einde – dit bly ’n menslike liggaam.  Tot vandag toe is dit die geval.   Sy menslike natuur is steeds volkome menslik.  Hy is soos ons in elke opsig, tog sonder sonde, en nou ook onsterflik.  HY is die eersteling van ‘n nuwe mensdom.  HY is die volheid van die hele mensdom, en ons sal almal beklee word met sy onsterflike menslike natuur.  Ons sal wees soos die tweede Adam, nie soos die eerste Adam nie.  Die eerste Adam was uit stof, die tweede Adam was uit die hemel.

Eenvoudig gestel: die menslike natuur neem nie Goddelike eienskappe aan nie, soos byvoorbeeld alwetend, en almagtig en oneindig.  Nee.  Die menslike natuur is volkome menslik en bly 100 % menslik.  Tot vandag toe.  Soos ons in die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 47 bely: “Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie, maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie.”

Op dieselfde manier is die Goddelike natuur nie met die mensheid gemeng nie – Hy is en het nooit opgehou om die ewige Seun te wees nie – almagtig en ewig – selfs toe Hy die menslike natuur aangeneem het.  Die menslike natuur het op geen manier sy Godheid verminder nie.  As dit wel die geval was, sou Hy minder as God gewees het.  Want wanneer God met iets anders gemeng word, word Hy minder.  En dan kon Hy nie diegene wat in Hom glo, tot die uiterste red nie.

Die Bybel is duidelik oor albei.  Wat sy mensheid betref: Hy is gebore uit die maagd Maria, Hy is haar seun, die vrug van haar skoot, ’n afstammeling van Dawid, het deel in ons vlees en bloed, en is soos ons in alle dinge, maar tog sonder sonde.  Hy het as klein baba opgegroei en het beleef wat dit is om honger te wees, dors te wees, te huil, aangeraak te word, woedend te wees, te ly en te sterf.  Jesus het vlees geword.  Hy het bene en ’n sy gehad, ’n kop, hande en voete, ’n siel, ’n gees, ’n gewete en ’n wil.  Hy was totaal en volkome mens.  Alles wat ons is, het Hy geword.  Behalwe dat Hy sonder sonde was.  Dus, ons kan saam met een van die ou kerkvaders bely: “Want die volle Christus het die volle ek aangeneem, sodat Hy verlossing kan skenk aan die volle ek, want wat onaanneemlik is, is ongeneeslik.”  Met ander woorde, as Jesus nie volkome mens geword het nie, sou Hy ons nooit volkome kon genees nie.  As God, in die Persoon van Jesus, nie volkome mens was nie, dan sou daardie deel van Hom wat nie mens was nie, ook nie kon opstaan of genees word nie.

Dit was so ernstig dat Johannes kon sê: “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris...” (1 Joh. 4:2-3)

Wat sy Godheid betref, Hy word uitdruklik God genoem in Romeine 9:5, Titus 2:13 en Johannes 1:1.  Jesus self sê Hy is die Alfa en die Omega, die eerste en die laaste, die begin en die einde.  Hy noem Homself die Seun van die Mens, wat in Daniël 7 met God geassosieer word.  Hy was almagtig (Hy het die see stilgemaak), Hy was ewig (Hy het voor Abraham bestaan), Hy was alwetend (Hy het geweet wie Hom sou verraai en Hy het mense se gedagtes geken), Hy is alomteenwoordig (waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde).  Hy word aanbid.

As Hy nie ware God was nie, sou Hy nie die sondes van die hele mensdom kon dra nie.  Want slegs die ewige kan ewige toorn verduur.  Verlossing sou dan nie van God gekom het nie.  En die hele boodskap van die Skrif is dat God en God alleen die mens kan red.  En uiteindelik sou Hy dan ook nie aan ons kon openbaar wie God is nie.  Want slegs God kan vir ons wys wie God is!   Op dieselfde manier kan slegs jy vir ander mense wys wie jy is.  As jy kies om dit nie te doen nie, sal niemand jou ooit leer ken nie.  Dit is oneindig meer waar van God.

As ons die enigste God op ’n verhoudingsvlak wil leer ken, dan moet Hy Homself aan ons openbaar.  As Hy slegs God was, en nie ware mens nie, of slegs mens was en nie waarlik God nie, sou daar nie ware gemeenskap tussen God en die mensdom, God en die wêreld, skepping en herskepping, natuur en genade, die ewige en die tydelike wees nie.  Slegs in Christus is dit waar.  In sy een Persoon.  Ek hoop dat julle insien waarom dit so belangrik is om te glo dat hierdie twee nature deel is van die een Persoon van Jesus.  En dat hulle afsonderlik en nie gemeng is nie.

Een Persoon

Die Persoon van Jesus het nie bestaan voordat die Goddelike natuur van die Seun Hom geskep en Hy geword het nie.  Op daardie oomblik van die menswording het Hy die menslike natuur op Hom geneem.  Ja, God het in die volheid van die tyd mens geword, in die sin dat Hy ’n persoon geword het.  Maar Hy was meer as ’n persoon.  Hy was ’n verteenwoordiger van ’n nuwe mensdom.  Daarom, wanneer Jesus praat, praat Hy as een.  Wat enige natuur van Christus ook al doen, Hy doen dit as een persoon.  Hy praat as Jesus.  Dit is ook belangrik – die eenheid van die twee – want as hulle nie in Hom verenig was nie, het God nooit die mens met God versoen nie.  Maar in Hom, op ’n onveranderlike wyse, is die mens met God verenig. Onsterflik.

En ’n mens sien dit regdeur sy lewe: alomteenwoordig en beperking, ewigheid en tyd, kreatiewe almag en kreatuurlike swakheid.

Dit is nie asof Hy iemand gevind het wat alreeds ‘n mens was en in Hom gewoon het nie.  Nee, Hy is verwek. Hy het self die mens, wat voorberei is vir hierdie taak, geskep – en Hy het dit op Homself geneem of in sy goddelikheid aangeneem – sodat Hy sowel goddelik as menslik sou wees.  Die Seun van God in die persoon van Jesus Christus het ’n begin gehad.  Dit was nie die begin van die Seun – wat van ewigheid af was – nie, maar dit was die begin van die persoon van Jesus Christus.  En as mens en God het Hy as een gepraat.  Hy het nie gesê nie: Voordat Abraham geleef het, het my Goddelike natuur bestaan.  Of dit nou sy Goddelike natuur of sy menslike natuur is, Hy praat soos ’n persoon: Ek was.  Op dieselfde manier as wanneer ek vir iemand sê: “Ek sal vir jou ’n brief geskryf”; ek sê nie: “My vingers het ’n brief getik en my tone het niks daarmee te doen gehad nie.”  Ons kan dus sê dat Christus vir ons sondes gesterf het; alhoewel dit sy menslike liggaam was wat opgehou het om te lewe en te funksioneer, was dit Christus as persoon wat vir my sondes gesterf het.

Hy was mens.  Hy was God.  Nie slegs in voorkoms nie, maar in werklikheid.  Hierdie nature was onlosmaaklik.  Selfs in die dood.  Het julle gesien wat die belydenis sê:

“Hierdie twee nature is so saam in een Persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie.  Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus ’n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het.  Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het.  Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees; dit was in Hom toe Hy ’n klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe ’n kort tydjie nie geopenbaar nie.”

Hy het nie net soos ’n mens gelyk nie; Hy het in werklikheid mens geword.  Soos Paulus vir Timotheüs sê: “Daar is een Middelaar tussen God en die mense, die MENS Jesus Christus” (1 Tim. 2:5).  As selfs net een deeltjie van sy menslike natuur uitgesluit word van gemeenskap met God, is daar ’n element van die hele mensdom wat van God geskei bly, en word die hele skepping nie met God versoen nie, maar slegs ’n deel daarvan.

Wie is hierdie persoon wat ons Jesus noem?!  Hy was die Woord wat by God was en was self God wat vlees geword het (Joh. 1).  Hy was die weerspieëling van God se heerlikheid en die presiese Beeld van God se wese (Kol. 1) wat aan ons vlees en bloed deelagtig geword het en soos ons geword het in elke opsig (Hebr. 4).  Hy was, soos Romeine 9:5 sê: “aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees – Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid.”  Hoewel Hy die Beeld is van die onsienlike, die Eersgeborene van die hele skepping, is Hy nogtans ook die Eersgeborene van die dode.  Hoewel Hy die seun van Dawid is, is Hy ook Here. Hoewel Hy op hierdie aarde gewandel het, bly Hy steeds in die boesem van die Vader (Joh. 1:8).

Hy is die lydende Dienskneg en tog Here van die kerk. Hy het alle mag prysgegee en terselfdertyd heerskappy oor alle dinge gehad.  Hy is as mens veroordeel, maar sal ook oor die lewende en die dooies oordeel.  Hy was mens.  Tog was Hy God.

Dit is ook belangrik omdat ons in Jesus die paradys weer teruggekry het – waarvan die kern die gemeenskap met God is.  In Christus het ons perfekte gemeenskap, sonder om God en mens te vermeng wat lei tot panteïsme, of om God te skei van die mens wat lei tot dualisme of deïsme.

Wat is die punt van dit alles?  Wel, dit het groot gevolge vir die skepping en herskepping; vir verlossing en vir die mate van ons sonde.

In die eerste plek die skepping:  Die menswording wys watter waarde en belang God aan sy skepping heg, veral sy kosbaarste mens in die skepping.  Dat die ewige tydelik geword het.  Dat God as kind ’n gewone lewe gelei het.  Dat Hy geëet en gedrink het.  Dit gee betekenis, dit wys die waarde en gee waarde aan elke menslike lewe.

Wat die herskepping betref:  Ons sal soos Hy wees.  Volkome mens.  In sy opstanding neem Hy die mensdom tot die verste moontlike punt van wat mense moontlik kan wees, sonder om hulle in God te verander.  Dit wil sê om die twee nature te meng.  Die herskepping sal baie heerliker wees as die eerste skepping.  Ons gaan nie terug na Eden toe nie; ons gaan vorentoe na die nuwe Jerusalem, die stad van God. In Christus sal die mensdom se opgewekte wese nie, soos Adam, geneig wees tot die dood nie.  Maar ons sal onsterflik wees soos Jesus.  Ons sal beklee wees met die onverganklike, nie met die verganklike nie. Daar sal geen vloek oor hom hang, soos wat Adam in die boom gehad het nie.

Wat die verlossing betref:  Kyk wat die belydenis hieroor sê: “Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur sy swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.”  Deurdat Hy God is, het Hy die dood oorwin.  Slegs die krag wat dinge uit niks tot stand bring, het die krag om lewe uit die dood te bring.  Slegs God kon die toorn van God op die sonde dra.  Ons sou verbrysel gewees het.

Hy was ware mens, want Hy moes ons gebrokenheid na die graf toe dra.  Hy moes soos ons wees, want God sou nooit iemand anders straf vir die mens se sondes nie.  Adam het gesondig; Adam moes betaal.  Die tweede Adam moes soos die eerste Adam wees, behalwe vir die feit dat, as Hy hulle skande sou dra, Hy perfek moes wees.  En so was Hy ook.  Hy het naak gehang, sodat die eerste Adam weer geklee kon word. Die mens Jesus is verlaat, sodat die mens weer geliefd sou wees.  Die mens Jesus is vir sonde geoordeel, sodat die mens genade kan ontvang.

Met betrekking tot die sondigheid van sonde, dit wys vir ons presies hoe boos die sonde is.  Dat God in die persoon van Jesus aan die kruis moes hang vir ons sonde.  O, geliefde gemeente, as jy werklik wil rou oor jou sonde, moenie let op hoe seer dit jou gemaak het of hoe dit jou ander verhoudings beskadig het nie; kyk eerder na wat dit aan die Seun van God gedoen het.  Mediteer oor die kruis.  Laat dit elke muur van eiegeregtigheid afbreek, en laat jouself toe om gebroke te wees voor die kruis, terwyl jy Jesus daar sien, een persoon as God en Mens.  Daarom is die nagmaal so noodsaaklik, dit herinner ons aan sonde en ons behoefte aan Christus!  Bid dat ons binnekort weer daaraan sal kan deelneem!

Dus, om op te som:  Jesus se twee nature is nie “bymekaar gemeng” nie, hulle is ook nie saamgevoeg tot ’n nuwe God-mens natuur nie.  Hulle is afsonderlik, maar funksioneer as ’n eenheid in die een persoon van Jesus.  Dit word die Hipostatiese Eenheid genoem.  Sommige fokus op die Godheid en sê dat Hy nie heeltemal mens was nie; ander fokus op sy mensheid en sê dat Hy nie werklik God was nie.  Die Christen hou albei bymekaar.

Soos hierdie preek uit die vierde eeu dit so mooi stel:

Hy was honger, tog het Hy duisende gevoed.

Hy was dors, tog het gesê: “Wie dors het, laat hom na my toe kom”.

Hy was moeg, tog was Hy die rusplek vir die vermoeides.

Hy bid, tog hoor Hy alle gebede.

Hy ween, tog maak Hy ’n einde aan alle geween.

Hy het gevra waar Lasarus neergelê is omdat Hy mens was, tog het Hy hom uit die dood opgewek omdat Hy God was.

Hy is verkoop vir dertig sikkels silwer, tog koop Hy die wêreld terug teen ’n ewige prys.

Hy het gesterf, tog leef Hy, en deur sy dood het Hy die dood oorwin. 

 

Amen.