Nuwe mense sing met dankbare harte tot opbou van mekaar en tot eer van die Here

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-08-25
Teks: 
Kolossense 3:16
Preek Inhoud: 

Preek: Kolossense 3:16

 

Hierdie brief is geskryf aan die gelowiges in Christus wat in die stad Kolosse was (Kol 1:2).

Paulus het hierdie gebied, en waarskynlik ook hierdie stad, besoek tydens sy 2e en 3e sendingsreis.

Die kerk te Kolosse is egter nie deur Paulus geplant nie, maar deur Epafras.

Epafras was ‘n medewerker van Paulus.

Die oomblik wanneer Paulus hierdie brief geskryf het, was net nadat Epafras hom in die gevangenis besoek het.

Paulus het naamlik in die tronk gesit.

Soos ons uit die boek Handelinge weet, het Paulus meer as een keer in die tronk gesit.

Waar hy presies op hierdie oomblik was, is nie heeltemal seker nie.

Dit was òf toe hy in die tronk was in Caesarea, òf in Rome onder huisarres, êrens in die jare 59-62 na Christus.

Epafras, wat goed bekend was met die situasie in die gemeente van Kolosse, het Paulus op die hoogte gebring van een en ander.

Danksy die nuusberigte van Epafras was Paulus in staat om hierdie spesifieke brief te skryf.

 

Tema: Nuwe mense sing met dankbare harte tot opbou van mekaar en tot eer van die Here

 

In hoofstuk 3 roep Paulus op tot heiligmaking.

Hy stel dit baie sterk: Julle is saam met Christus opgewek.

Dit sê hy vir mense wat nog nie gesterf het nie.

Maar tog, ons nuwe lewe, ons ewige lewe, begin nou al, nie eers as ons gesterf het nie.

En die Heilige Gees, die gawe wat Christus vir ons gegee het, laat hierdie nuwe lewe steeds meer gestalte kry.

Christus het ons die Gees geskenk, en nou beveel Hy wat Hy moontlik gemaak het:

“soek die dinge daarbo wat Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” (Kol 3:1,2)

Onderdeel hiervan is – aan die negatiewe kant – dat ons daardie deel van ons wat op die aarde gerig is, doodmaak.

Paulus bedoel dinge soos onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, gierigheid – vers 5-8.

Maar die positiewe kant is dat ons ons nuwe mens aantrek, wat gekemmerk word deur: goedheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld, ontferming, en veral die liefde – vers 12.

En ook, dis waarna ons vandag kyk, onderdeel van die nuwe lewe is om te sing, te sing uit dankbaarheid vir die Here.

 

Om te sing is nie opsioneel nie, dis ‘n bevel.

Eintlik is dit ‘n innerlike teenstrydigheid.

Wie wil nie sing as hy bly is nie?

Sing is mos iets wat lekker is!

En as die Here so goed vir ons is, wil ons mos tot sy eer sing!

 

Maar dan kom die vraag: Wat moet ons sing wat tot eer van die Here is?

Dit is hier waaroor die teks ons een en ander leer.

Dit geld ook vir die gedeelte wat ons uit Efesiërs gelees het.

 

Wat voorop staan in ons teks is die oproep: Laat die woord van Christus ryklik in julle woon.

Wie nie die woord van Christus ken nie kan nie sing nie.

Sy Woord is mos die blye boodskap, dit wat ons per slot van rekening bly maak.

As ons vol van sy Woord is, sal dit ons bly maak.

Soos die spreekwoord sê: Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Dit staan dus voorop.

 

Nou die res van ons teks.

Om dit goed te verstaan, is dit belangrik om net te noem dat daar in die grondteks, in die ou Grieks, nog nie leestekens was nie.

Dit het tot gevolg dat ons nie altyd presies weet waar ‘n sin ophou en ‘n nuwe een begin nie.

As mens byvoorbeeld na die 2020-Vertaling kyk, sien jy dat die sinne daar anders ingedeel is.

In die Ou Vertaling vorm die woorde in alle wysheid deel van die eerste sin, maar in die 2020-Vertaling vorm dit deel van die tweede sin.

Dus nie: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid”.

Maar: “Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid”.

Dit maak meer sin.

As mens vermaan, moet dit in wysheid gebeur.

 

Dan is dit opvallend dat leer en vermaan in ons teks gekoppel word aan sing.

Dis nie iets waaraan mens sommer dink nie.

Maar dit staan hier.

Deur te sing, spesifiek te sing tot eer van God, deur daardie aksie gebeur dit ook dat gelowiges mekaar leer en vermaan.

 

En dan kom die vraag: Wat bedoel Paulus met daardie drie woorde:

Psalms, lofsange en geestelike liedere?

Trouens, in Efesiërs 5:18-19 gebruik hy presies dieselfde woorde:

“word met die Gees vervul. Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere”.

 

Gemeente, oor hierdie woorde van Paulus is daar heelwat diskussie.

Wat bedoel Paulus presies daarmee?

Neem die woord Psalms, is dit die Psalms van die Ou Testament?

Aan die een kant is daar uitleggers wat beweer dat hierdie woord nie eers na die bekende 150 Psalms van die Ou Testament verwys nie.

Die woord psalm was 'n algemeen gebruikte woord in die tyd van die Nuwe Testament, wat gedui het op ‘n lied wat gesing is onder die begeleiding van ‘n snaarinstrument.

 

Heeltemal aan die ander kant van die spektrum is daar uitleggers wat beweer dat die drie woorde psalms, lofgesange en geestelike liedere aldrie uitsluitlik na die 150 Psalms verwys.

Dit hou verband met die siening dat slegs die 150 Psalms in die erediens gesing mag word.

Hulle voer aan dat die ander twee woorde, lofgesange en geestelike liedere, dus ook na die Psalms van die Ou Testament verwys.

Hulle verwys na die gebruik van hierdie woorde in die Septuaginta, dis die ou Griekse vertaling van die Ou Testament.

Paulus sou dus uitsluitlik na die '150' verwys het met hierdie drie woorde.

Verder noem hierdie uitleggers dat die woord geestelik in “geestelike liedere” na die Heilige Gees se inspirasie verwys.

En ook dat die woord geestelike ‘n byvoeglike naamwoord is vir al drie hierdie woorde.

 

Dit is dus die twee uiterstes, hoe ons teks uitgelê word.

Aan die een kant hulle wat sê dat dit glad nie oor die 150 Psalms van die Ou Testament gaan nie.

Aan die ander kant hulle wat sê dat dit slegs oor die ‘150’ van die Ou Testament handel.

 

Hoe moet ons hierdie woorde interpreteer?

Belangrik in eksegese is dat ons altyd kyk na hoe die eerste hoorders dit verstaan het.

In hierdie geval, die Kolossense.

Wat het hulle verstaan, toe hulle Paulus se brief ontvang en daardie drie woorde psalms, lofsange en geestelike liedere daarin lees?

Wel, as mens na die Griekse taal uit daardie tyd kyk, dan is daar geen duidelike onderskeid tussen die drie woorde nie, hulle is vir ‘n groot deel sinoniem aan mekaar.

Die woorde is nie tegniese terme met elkeen ‘n afgebakende definisie nie.

Kom ek verduidelik dit met ‘n voorbeeld in Afrikaans.

Neem die drie woorde huis, woning, en blyplek.

Dis ook drie woorde wat sinoniem is.

Die een is dalk bietjie deftiger as die ander, maar basies word dieselfde bedoel.

As ek vir iemand vra: Waar is jou huis? Of ek vra: Waar is jou woning? Of: Waar is jou blyplek, dan gaan hy vir my dieselfde antwoord gee.

 

Wat is die implikasie hiervan vir ons teks?

Die implikasie is dat ons nie die manier hoe ons hierdie woorde vandag gebruik, op ons teks kan toepas nie.

Vir ons is die woorde Psalms en Gesange twee woorde met ‘n heeltemal verskillende betekenis.

Met Psalm verwys ons na daardie 150 liedere in die Bybel wat ons Psalms noem.

Met Gesang verwys ons na liedere wat nie ‘n direkte beryming uit die Bybel is nie.

Maar hierdie onderskeid is daar dus nie in ons teks nie.

Psalms is liedere met snaarbegeleiding, dis wat bedoel word, waaronder ook die ‘150’ van die Ou Testament.

Maar daar was in daardie tyd ook ander liedere as die ‘150’ wat psalms genoem is.

Daar was byvoorbeeld die Psalms van Qumran, ‘n boekrol waarin daar ook verskeie andere liedere is wat psalms genoem is.

As ons in die Nuwe Testament egter lees oor die Boek van die Psalms, soos in Lukas 20:42 en Handelinge 1:20, dui dit wel op die '150’.

Ons kan dus daarvan uitgaan dat Paulus in ons teks met die woord psalms beslis ook aan die ‘150’ gedink het.

Maar in ons teks is dit nie Paulus se bedoeling om te onderskei tussen geïnspireerde en nie-geïnspireerde liedere nie.

Dis nie die kwessie hier nie.

Uit ons teks kan ons nie die gevolgtrekking maak dat die ‘150’ die enigste liedere is wat in die samekomste deur die gelowiges gesing mag word nie.

Die gelowiges word dikwels in die Ou Testament opgeroep: "Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied” – Psalm 98:1 – dink aan laasweek Sondag se preek (sien ook: Ps 96:1, Ps 33:3; Ps 98:1; Ps 144:9; Ps 149:1).

Al gee die HERE duidelike opdragte oor die instelling van die tempeldiens in die Ou Testament, is daar nêrens in die Bybel 'n gebod dat slegs die '150' in die gemeentelike byeenkomste gesing mag word, en nie ook nuwe liedere nie.

 

Paulus se opdrag in hierdie verse kan dus nie gelees word as 'n opdrag om slegs die '150' in die gemeentelike byeenkomste te sing nie.

Paulus gebruik drie woorde wat mekaar aanvul en versterk, met die bedoeling om te beklemtoon dat daar gesing moet word!

Behalwe vir die woord psalms, is daar ook die woorde lofsange en geestelike liedere wat gedeeltelik sinoniem is.

Die Griekse woord vir lofsangehymnos – het in daardie tyd gedui op ‘n lied met ‘n religieuse inhoud.

En die woord vir geestelike liedere hodès – het ook gedui op godsdienstige liedere.

 

Paulus roep dus op om ‘n wye skala aan liedere tot eer van die Here te sing.

‘n Wesenlike onderdeel daarvan is natuurlik die 150 Psalms, maar nie net nie.

Dink aan die Here Jesus wat self verwys na Psalms uit die Ou Testament (bv. in Lukas 20:42; 24:44).

Hy het ook die ‘150’ met sy dissipels gesing.

Maar aan die ander kant is dit ook nie reg om te meen dat daar niks meer gesing is nie.

 

Dit is juis die werk van die Gees in ons wat ons dryf om ook nuwe liedere te sing.

Die woord geestelik in ons teks moet eintlik met ‘n hoofletter geskryf word.

Dit verwys na die Heilige Gees.

Maar Paulus bedoel nie daarmee dat al die Kolossense geïnspireerde Bybelskrywers moes word nie, maar wel dat hulle met die Gees vervul mag word (sien ook 1 Kor 2:15; 3:1).

Tussen hakies, die Deputate vir Liturgiese musiek het ‘n mooi dokument opgestel wat verder hieroor handel, oor die sing van psalms, lofsange en geestelike liedere.

In die kader van ons jaartema – Ons nuwe lewe is ‘n jubelende lewe – wil die kerkraad hierdie jaar nog hierdie dokument met die gemeente bespreek.

 

So wat is Paulus se boodskap dan vir die Kolossense, en ook vir ons vandag?

Gemeente, sy oproep is die geweldige beklemtoning DAT daar gesing moet word!

Paulus stapel as ‘t ware drie sinonieme woorde opmekaar om dit te beklemtoon.

Driedubbel roep hy die Kolossense op om te sing.

Sing met dankbare harte tot eer van die Here!

Dit is julle heiligmaking!

Daaruit blyk dat die Heilige Gees in julle werk.

 

En dit is dan ook die toepassing, ‘n toepassing wat veral vir ons tyd geweldig aktueel is.

Want wat ons tyd veral kenmerk is dat daar al hoe minder gesing word en al hoe meer passief na musiek geluister word.

Dit het natuurlik te make met die tegnologiese ontwikkelinge van die afgelope jare.

Eers het die langspeelplate gekom, toe die sogenaamde bandjies, toe die cd’s, en deesdae is alles digitaal beskikbaar.

Die beste musiek kan ons nou orals luister, in ons huise, motors, en met oorfone waar ons ook al is.

Vroeër is daar baie meer gesing.

Die jongmense kan maar vir ons bejaardes vra, hoe hulle Sondagaande saamgesing het rondom ‘n traporrel by die huis.

Daar is Psalms gesing, Gesange, en sommer baie ander liedere.

Dit was vrywillig, dit was nie ‘n verpligting nie.

Kosbare herinneringe!

Deesdae stel weinig mense meer daarin belang om ‘n traporreltjie of klavier in huis te hê.

Daar staan wel ‘n groot ‘flat screen’ – ‘n lewende bewys vir ons passiewe vermaak.

 

Daar is natuurlik niks daarmee verkeerd om musiek te luister nie.

Maar feit is dat ons die laaste tyd al hoe meer verbruikers van musiek geword het, en al hoe minder makers van musiek.

Die verbruikersmentaliteit met betrekking tot musiek, moontlik gemaak deur die tegnologie, begin die maak van musiek steeds meer te verdring.

 

Hoe leef ons as Christene te midde van hierdie ontwikkeling?

Is ek reg as ek sê dat die meeste van ons op Sondag in die kerk sing, maar dat daar deur die week amper nie meer gesing word nie?

Dit met uitsondering van die Gereformeerde skole, waar daar nog wel baie gesing word – psalms, lofsange en geestelike liedere, en natuurlik die handjievol mense wat in die koor is.

 

Is dit dan so erg om nie te sing nie?

Die antwoord is ronduit ja!

Die Bybel roep ons telkemale op om te sing, spesifiek om die HERE te loof met sang en lied.

Is dit dan verkeerd om nie te sing, maar om wel na geestelike musiek te luister?

Die laaste is nie verkeerd nie.

Maar dis wel verkeerd om nie te sing nie.

Net soos ons self moet bid en nie net na ander se gebede luister nie, so moet ons ook self sing!

 

Sommige mense sal sê: Ek kan glad nie sing nie.

Hierdie stelling moet oor die algemeen met ‘n knippie sout geneem word.

Alle mense kan wiskunde doen, al is dit natuurlik so dat sommiges briljant daarin is en ander nie.

Almal kan sommetjies maak of hulle in die winkel nie te veel betaal het nie.

So kan alle mense ook leer om te sing, al sal nie almal van ons opera’s en aria’s kan sing nie.

Dis wel so dat hoe minder mens sing, hoe minder mens dit regkry.

Dan word ons stemme lui.

 

Dit is dus die boodskap van ons teks.

Die Heilige Gees roep ons op:

“Regverdiges, wees bly!

En sing 'n lied daarby!

Verheug u in die HEER!

Lofsing sy Naam tot eer” (Ps 97:5)

 

Mag ons Here Jesus Christus deur sy Heilige Gees ons daarvoor die krag en lus gee.

Ons is mos tempels van die Gees.

By die tempel behoort mos liedere te klink!

Paulus skryf sy brief aan die Kolossense uit die gevangenis.

Selfs daar het hy lofliedere gesing!

 

Ons nuwe lewe is ‘n jubelende lewe.

In hierdie hoofstuk wys Paulus uitdruklik daardie verband aan.

Ons teks sê dit so duidelik.

Die nuwe lewe word gekenmerk deur die sing van psalms, lofsange en geeselike liedere.

Ons sing met dankbare harte tot eer van die Here.

Nuwe mense sing met dankbare harte tot opbou van mekaar en tot eer van die Here.

Ons nuwe lewe is oppad na ’n eindbestemming, dit is die doel van ons vernuwing.

Daardie bestemming is wat Johannes in Openbaring mog sien:

“ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan.” (Openb 21:1)
Op daardie nuwe aarde pas mense wat vernuwe is.

Die Heilige Gees maak ons nuut sodat ons eendag ’n plek kan kry op daardie herskape aarde.

En sowel in die hemel asook op die herskape aarde gaan sang en musiek ‘n onmisbare rol speel.

Dis wel duidelik, veral uit die Bybelboek Openbaring.

“Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openb 5:9)

En Openbaring 14:3: “En hulle het 'n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge”.

 

Kom ons sê amen op die Heilige Gees se oproep in ons teks, deur nou Psalm 40 te sing:

’n Nuwe lied ruis oor my lippe nou, ‘n lofsang aan God toegesing. ‘n Ganse skaar wat my omring, sal ‘t sien en vrees en op die HEER vertrou.

So leer en vermaan ons mekaar as ons met dankbare harte tot eer van die Here sing.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 33:1,2

Wet

Ps 33:11

Gebed

Skriflesing: Efesiërs 5:1-21

Ps 97:7

Skriflesing: Kolossense 3:1-17

Ps 98:1

Teks: Kolossense 3:16

Preek

Ps 40:2,4

Gebed

Kollekte

Ps 149:1-4

Seën