Die boodskap van 'n heilige God vir sy rebelse volk

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2024-11-10
Teks: 
Jesaja 6:8-13
Preek Inhoud: 

Verlede week het ons gehoor dat God Heilig, Heilig, Heilig is.  Hy is jaloers oor sy eie heiligheid en sal nie sy heiligheid met ‘n ander deel nie.  Die aarde sal gevul wees met sy heerlikheid.  Dit sluit ons hier vandag in. Ons God sal nie rus totdat sonde nie meer bestaan nie.  Totdat die kwaad uitgeroei is.  Totdat sy triomf voltooi is!  Dít is waaroor die belofte van die Doop gaan.  Dit gaan hier oor wat dit beteken om Jesus te volg, vir Anneke en vir die res van ons.

Hy is nie 'n God wat net die helfte van die pad stap nie.  Sy oordeel is werklik.  En Jesaja word vandag geroep om hierdie boodskap na die mense te bring.

Die boodskap van 'n heilige God vir sy rebelse volk:

1. Die boodskapper

2. Die boodskap

“Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur?  En wie sal vir ons gaan?"  Wie sal die boodskapper van die verbond wees?  Wie sal gaan?  Dit is die vraag.  Wie is dapper genoeg, moedig genoeg om oor God te praat, om die evangelie te deel, selfs wanneer dit vervolging beteken?  Wie is bereid om hier te staan en te sê – dit is my God – en ek sal alles vir HOM gee!  Maak nie saak of die wêreld teen my is nie – God is genoeg.

Wie is bereid om alles te waag?  Niemand.  Niemand, tensy hy verseker is dat alles aan hom gegee is nie.  Ons kan niks doen nie, tensy iets eers aan ons gedoen word!  Ten minste sal ons niks uit liefde en passie vir God doen nie!  Jy mag dit uit skuldgevoel of plig doen – maar nie uit liefde nie.  Jy kan nie deel wat jy nie het nie.  Dus, het jy God?  Het jy Jesus?  Dit is wat Anneke vandag sê!  God het my verander!  En ek begeer om vir Hom te lewe.  Dit is wat die ouderlinge en diakens vir jou wil hê.

Jy sien, tensy ons deur genade alleen aanvaar en vergewe word, kan ons gaan.  Genade maak jou vry om te dien.  Slegs genade.

Jesaja het God gesien!  Waarvoor kan hy nou bang wees?!  Hy is deur Hom aangeneem!  Wat kan hy vrees? “Hier is ek, stuur my!”

Dit herinner my aan 'n ander troonkamer-toneel in Openbaring waar die vraag gevra word: “Wie kan die boekrolle van die geskiedenis oopmaak?” en niemand is daar nie, totdat die leeu van Juda, die Lam wat geslag is, inkom!  Hy was in staat om dit oop te maak, want in gehoorsaamheid aan sy Vader het hy gesê: “Hier is ek, stuur my!” toe Hy na die kruis gestuur is – om die uiteindelike oordeel oor rebellie te dra.

“GAAN!” sê God!  Maar nie: “Gaan en maak dissipels nie,” maar eerder; “Gaan en maak die mense nog meer opstandig as wat hulle ooit was – totdat die oordeel volbring is.”

Gaan en sê: “Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie.”  Met ander woorde, as jy jou stomme afgode wil volg, wat nie kan waarneem nie al het hulle oë, wat nie kan luister nie al het hulle ore – dan sal julle soos hulle word!  Dit is God wat vir hulle sê – goed, as jy daardie pad wil loop – Ek sal jou daardie pad laat loop.  Jou wil geskied.

Ons ken hierdie gevoel wanneer ons ons afgode najaag – ons jaag rykdom of geld na, en aan die einde van jou lewe is jy so leeg van binne, sonder liefde, verhoudings, betekenis of hoop soos die papier wat jy nagejaag het.  As jy plesier najaag, kry jy nooit genoeg nie, en stadig maar seker suig dit die lewe, die verhoudings, die tyd en die geld uit jou, en jy word 'n leë dop. As jy jou morele goedheid najaag sodat jy dink God skuld jou iets, sal jy op een of ander stadium sal jy óf so trots en veroordelend wees teenoor ander dat jy die mense om jou breek en heeltemal alleen agterbly, óf jy sal verpletter word deur die spanning tussen wie jy weet jyself is en wie jy regtig is.

En Jesaja word geroep om na hierdie soort mense te gaan en vir hulle te vertel dat God hierdie geslag gaan oordeel.  Hy sal hulle oorgee.  Dit herinner aan Romeine 1 waar daar staan: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk.”  Hier het ons mense wat die waarheid onderdruk het!  Net soos wat romeine 1 drie keer sê dat God hulle sal oorgee, so verhard God hier die harte, “sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.”

Watter soort van roeping tot die bediening is dit?  Ek is dankbaar dat dit nie die ouderlinge en diakens se roeping vir hierdie termyn is nie.  Maar een ding wat ons kan leer is dat Jesaja se roeping nie afhanklik is van 'n groot kerk of baie bekeerlinge nie, daar is geen uiterlike vrug van sy bediening nie. Trouens, dis die teenoorgestelde.  Die bediening was gegrond op getrouheid aan die verkondiging van die Woord van God, en dit is nie asof die Woord geen uitwerking sou hê nie!  Dit sou!  Dit sou die mense verhard op die pad wat hulle gekies het om te gaan!

Baie van julle vra nou seker: “Waarom?” Ek weet ek het gevra toe ek hierdie preek geskryf het!

Dit lyk nie regverdig nie!  En Jesaja wonder ook!  Hy vra die vraag: “Hoe lank, Here?”  En die antwoord is nie juis meer bemoedigend as die boodskap waarmee hy gestuur is nie: “Totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners, en die huise sonder mense en die land verwoes is tot 'n wildernis, en die HERE die mense ver verwyder het en die verlatenheid groot is in die land.”  En dan, asof dit nie genoeg is nie, sal dit wat oorbly weer verwoes word: “En as nog 'n tiende deel daarin is, sal dit weer wees tot verwoesting; maar soos by die terpentynboom en die eikeboom – as hulle omgekap word – ‘n stomp oorbly ...”

Basies totdat my oordeel volkome is, sê Hy!

Laat ek probeer verduidelik:  Mense sê dikwels: "Ek kan nie glo in 'n God wat oordeel nie!"  Regtig?  Gaan jou God niks doen aan al die boosheid in die wêreld nie?  Gaan jou God toelaat dat die gierigheid, die mishandeling, die misbruik van die skepping net voortgaan, en almal ewe liefhê?  Dit klink nie na 'n God wat enigiemand sal wil hê nie.

Maar ons het 'n God van volmaakte geregtigheid.  En om ons lief te hê en te omhels moet Hy ons sonde oordeel.  Vir dié wat in Christus is, is 'n God wat nie oordeel nie, nie 'n meer liefdevolle God nie, maar 'n minder liefdevolle een!  Dan is dit 'n God wat nie bereid is om tot die uiterste te gaan om jou te red nie, wat nie omgee oor die kwaad nie!

As jy nie in ware geregtigheid glo nie, sien jy nie die diepte van God se liefde in Christus aan die kruis nie.  Jy verwyder God se oordeel, en op die ou end het jy 'n minder liefdevolle God.  ’n God wat nie vir jou hoef te ly nie, vir jou hoef te sterf nie.  Dan het jy net ’n God wat nie omgee wat jy doen nie.  Maar dit is nie wie die Heilige van Israel is nie!

Dink daaraan.  Sal hierdie heilige God tevrede wees totdat alle sonde uitgeroei is?  Weg?  God se oordeel is die reaksie van ’n goeie en liefdevolle God op sonde.  Die sondes van die mense het gelei tot hulle verwydering uit die land.  Of dit Adam uit die tuin van Eden was, of Israel in ballingskap.  En telkens weer lees ons dat dít is waar sonde eindig.  Dood.  Ballingskap.

Of dit nou sonde onder die mense of sonde in die hart is – dit moet tot by die wortel aangespreek word!  Daar mag niks oorbly nie.  Soos ons lees: “En as nog 'n tiende deel daarin is, sal dit weer wees tot verwoesting...”

Die vraag word dus ’n werklike een.  Is daar enige hoop?!  Sal God sy beloftes hou ten spyte van die volk se mislukkings?  Jy kry 'n voorsmakie van Jesaja se wanhoop aan die einde van sy bediening wanneer hy in Jesaja 64:1, 10, 12 sê: “Ag, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal ... U heilige stede het 'n woestyn geword; Sion het 'n woestyn geword, Jerusalem 'n wildernis.  ...  HERE, sal U by hierdie dinge U bedwing?  Sal U swyg en ons uitermate verdruk?”

Is daar hoop?  Nee – tensy God optree.  Tensy God red!  God moet sy volk ontbloot sodat hul enigste hoop in Hom gevind kan word.

Ons moet leeggemaak word van alle sonde en selfregverdiging as ons ooit gevul wil word met die evangelie. Daarom bely Anneke vandag dat sy glo: “al is jy in sonde ontvang en gebore en nog steeds tot alle boosheid geneig...”  En totdat ons kom by die punt van totale hopeloosheid om onsself te red, hoor ons die volle gewig van Jesaja se uitroep en die volle heerlikheid van die evangelie.  Woorde is nie genoeg nie.  Al sy prediking is genoeg om te veroordeel, maar nie om te red nie. Ons het meer nodig – ons het nie ’n gedagteverandering nodig nie, maar ’n hartsverandering.  Ons het God nodig om die skynbaar ondeurdringbare muur wat ons sonde van sy heilige hemel skei, te breek!  Ons het Hom nodig om die hemele oop te skeur.

En dit is wat gebeur het toe Hy sy enigste Seun gestuur het – die getroue en ware Israeliet, wat gekom het om te doen wat die ontroue Israel nie kon doen nie en om die oordeel te dra wat die ontroue Israel verdien het!  Wat in Jesaja se verwerping en skynbaar vrugtelose bediening gebeur het, is vervul in Jesus se verwerping en skynbaar vrugtelose bediening.  Jesus sê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!  Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37-38)

Jesus sou die Een wees wat uiteindelik Jesaja se bediening vervul het.  Wie het oorgebly wat aan die einde van sy bediening na Hom sou luister?  Niemand nie.  Nie een nie.  Selfs sy naaste dissipels het nie verstaan nie.  Hy was verwerp, verag.  Sy Woord het die mense se harte verhard totdat hulle uiteindelik teen Hom gedraai en Hom doodgemaak het.

Ja, Jesus haal hierdie woorde aan in Matthéüs 13:14 en Paulus in Handelinge 28:26!

Dit was die plan van God.  Die verwerping van sy boodskap en sy kruisiging beteken redding!  Die oordeel van God is verlossend!  Die laaste reël sê: “... so sal die heilige geslag die stomp daarvan wees.”  En ons lees in Jesaja 11:1: “Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Isai...”  Daar is hoop, soos ’n boot wat op die vloedwaters dryf.  Soos 'n kruis in die middel van duisternis kom daar 'n loot uit 'n afgekapte boom.

Die afkap moes gebeur sodat die ware loot kon groei.  Dit was die verwerping van Jesus wat gelei het tot redding vir alle mense, en die verwerping deur die Jode wat Paulus gedwing het om vir die heidene te preek! Ons het vandag die evangelie as gevolg van die vervulling van Jesaja 6!  Dit is met woorde uit Jesaja 6 dat Lukas die boek Handelinge afsluit; hy sê in Handelinge 28:28: “Laat dit dan aan julle bekend wees dat die heil van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister!”

Die vraag is: het julle ore om te hoor?  En harte om te verstaan?  Slegs as God dit verleen.  Jy sien, tensy God na ons toe kom, het ons net so min hoop soos Israel.  Maar Hy het gekom!  Die hemele is geopen; die Gees is uitgestort!  Soos Johannes skryf aan die sewe gemeentes: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Soos Esegiël dit stel: “En Ek sal hulle een hart gee, en 'n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle 'n hart van vlees gee, sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen.” (11:19-20)  “So sê die Here HERE: In die dag as Ek julle reinig van al jul ongeregtighede, sal Ek die stede laat bewoon, en die puinhope sal opgebou word.  En die verwoeste land sal bewerk word, in plaas dat dit ‘n wildernis is voor die oë van almal wat verbygaan.  En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden ...” (36:33-35)  Ja, mag die water van sy Woord ons maak soos die tuin van Eden.

Sien jy dit?  God gaan nie byvoeg tot ons menslike inspanning nie.  Hy breek dit af – sodat alles van Hom en tot Hom kan wees.

As herhaaldelik aan my gesê word om my te bekeer, om my lewe te verander en dit op God te rig, sal niks gebeur nie.  Ek sal bly vashou aan my ontwerpersklere, my opleiding, my loopbaan, my familie, my tyd, my ‘wat ook al’.  Ek het krag van buite nodig om my anders te maak, om my te breek, om my dramaties te verander.  Dit is nodig dat ek Jesus sien.  Hy het alles prysgegee en was leeg gelaat – verlate, alleen en in ballingskap om my te soek wat in ballingskap was.  Om my te soek en te vind.  Hy kom na jou toe.  Sien jy Hom, die Een wat vir jou afgekap is – sodat jou afkapping nie tot die dood mag wees nie, maar tot die lewe!

Lewe en lig het gekom!  Dit is weens die totale vernietiging dat daardie loot soveel hoop dra!  Hy kan lewe uit die dood bring.  Klip in vlees verander.  Dit is nie ons krag, dade, innerlike sterkte, geestelike dissipline, geloof of selfs ons bekering nie.  Dit is God se krag wat goeie dade, innerlike sterkte, geestelike dissipline, geloof en bekering gee.  En ons sien daardie krag van genade vandag wanneer 'n jong dogter staan in die genade wat sy ontvang het, en sê dat deur die genade van God is dit haar “voorneme om deur die genade van God in hierdie leer tot die einde van haar lewe standvastig te volhard, die verbondsgemeensakp met God te onderhou, Hom van harte lief te hê en in gehoorsaamheid aan sy Woord te dien.”

Eers wanneer daardie ou boom afgekap is, en die ware loot begin groei, kan alles omgedraai word.  En in plaas van verharding sien ons genade, in plaas van verwoesting sien ons groei, in plaas van vervloeking sien ons seën.  Dit is alles ter wille van Christus!

Amen.

Liturgie: 

Lees:     Jesaja 6                           

Teks:     Jesaja 6 : 8 – 13                           

Sing:      Psalm 100 : 1 – 4             

                Psalm 79 : 5, 6, 8, 9    

                Psalm 81 : 9, 12, 13, 15

                Skrifberyming 22 : 1, 2, 10, 11    

                Lied 273  (belydenis)

                Psalm 134 : 3, 4  (ampsdraersbevestiging)

                Lied 305