Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.
In die vorige preek oor Nahum het ons baie gefokus op God se jaloersheid. Vanuit Nahum 1 het ons gesien hoe God se jaloersheid na twee kante toe werk, spesifiek ook met betrekking tot Nineve en Juda. Ons het ‘n baie nou fokus gehad oor die jaloersheid van God en hoe dit beskryf word en ook die effek van God se jaloersheid na twee kante toe.
In Nahum 2 kry ons te make met ‘n uitgebreide oorlogsbeskrywing van Nahum. Nahum sien in sy gesig hoe Babel op trek na Nineve en die stad inneem. Dit word vir ons beskryf in vers 3-12.
In verse 3 en 4 sien ons hoe die Babiloniese weermag gereed maak en op trek na Nineve toe. Die krygsmanne maak gereed vir die oorlog, en hulle ysterstrydwaens in blink gepolitoer vir die oorlog. Dit skitter in die sonlig. As die strydwaens heen en weer trek dan lyk dit skoon soos ‘n weerligstraal. Met spoed en in orde trek hulle op teen Nineve.
In vers 5 verskuif die fokus terug na Nineve. Die koning dink aan sy dapper helde wat hom al baie oorwinnings besorg het. Hulle kan hom beskerm. Maar helaas, hulle struikel as hulle na die mure hardloop om dit te beskerm. Teen die tyd wat hulle by die muur aankom is die stormdak reeds opgerig. Dit is te laat. Die vyand is by die muur en hulle het beskerming. Dit beteken dat hulle die muur kan afbreek of stukkend maak om toegang tot die stad te verkry. Dit is dan ook wat gebeur in vers 6. Toegang word verkry tot die stad en die vyand begin dit verwoes. Daar is geen keer daaraan nie (vers 7). Dit is beslis, dit is vasgestel en kan nie verander word nie. Nineve word ontbloot en weggevoer. Niemand bly oor om die stad te verdedig nie (Vers 8).
Verder roof die vyand ook al die skatte van Nineve (vers 9). Dit was ‘n ontelbare hoeveelheid skatte wat hulle bymekaar gemaak het terwyl hulle ander volke verslaan en beroof het. Nou is dit Babel wat roof en plunder. Nineve is leeg en verniel. Die moed van die magtige Nineve is gebreek, ja hulle harte versmelt, hulle knieë wankel, en hulle gesigte word bleek (vers 10).
Dan vergelyk Nahum Nineve en die koninklikes met leeus. Die lêplek van die leeus is vernietig, daar is niks meer oor nie. Die magtiges is vernietig. Daar is geen meer toekoms vir die koning van Nineve nie (vers 11-12).
Ja, Babel vernietig Nineve en daar is geen oorblyfsel meer nie. Maar is dit al? Is dit al wat ons moet raaksien uit hierdie gedeelte? Nee gemeente, daar is baie meer, ‘n baie groter prentjie wat ons moet raaksien uit hierdie profesie van Nahum.
Ek mag aan julle vanoggend die evangelie verkondig onder die volgende tema en punte:
Tema: Babel vernietig Nineve, maar kyk dieper.
1.Die aanval op die volk bring die Here in beweging.
2.Die vernietiging van die vyand bring verlossing vir die volk.
Soos ons in die inleiding gesien het, gaan Babel Nineve inneem. Nineve sal verwoes word. Maar laat ons so ‘n paar tree terug staan en kyk na die groter prentjie van God se heilsgeskiedenis.
God het die Assiriërs gebruik in sy diens om Juda te straf vir hulle ongehoorsaamheid. Hierdie is nie ‘n onbekende verskynsel nie. Deur die geskiedenis van Israel sien ons hoe God heiden nasies gebruik om sy volk te straf. Dink maar aan die tydperk van die Rigters. Telkens gebruik die Here nasies om die volk te teister, om hulle te onderdruk, en dan bekeer die volk en wek die Here ‘n Rigter op om die volk te verlos.
Maar wat gebeur wanneer die vyand te ver gaan. As hulle hul vergryp aan die volk van God en buite die vasgestelde grense van God se oordeel gaan. Gemeente dan bring dit God in beweging. Maar laat ons nie dink dat God onkant gevang word deur die vyand se vergryp nie. Dit is nie asof die Here sien sy volk word vernietig deur die vyand en nou moet Hy skielik ‘n plan maak omdat hy nie gereed was daarvoor nie. Nee, dit is nie hoe God is nie. Hy is alwetend, almagtig, en alomteenwoordig. Hy sien die kwaad wat die heiden nasies aan sy verbondsvolk aanrig, self nog voordat hulle dit aanrig. God ken die hart van die mens, en daarom sien God die kwaad raak lank voordat die vyand die kwaad aanrig.
As ons terug gaan in die geskiedenis dan sien ons telkens weer hierdie patroon raak. Wanneer die vyand hulle aan die volk van God vergryp dan kom die Here in beweging.
Dink maar aan die geskiedenis van die volk Israel toe hulle in Egipte was. Vir ‘n tyd lank het Israel in vrede in Egipte gewoon. Maar toe daar ‘n nuwe koning opstaan wat nie van Josef en die geskiedenis van Israel geweet het nie, het hy begin om vyandig te staan teenoor die volk. Hy word bang omdat hulle ‘n groot volk word en beraam planne om die volk klein te maak. Eers deur harde, slawearbeid, en dan wanneer dit nog nie die gewenste uitwerking het nie, dan besluit hy om die lewe van die kinders aan te val. Alle seuntjie wat gebore word moet gedood word.
Dit is verskriklik gemeente. Die volk van God is in nood. Maar die Here is egter nie doof vir die geweeklaag en geween van die volk nie. Hulle gebede styg op tot God. God ken hulle smarte. God begin dan om ‘n weg te berei om verlossing te bewerk vir sy volk. Moses, die man van God word voorberei om die volk uit te lei. God stuur Moses, saam met Aaron, na die Farao. Moses vra dat Farao die volk moet laat trek. Maar telkens verhard die koning sy hart. Self na die 9 plae verhard Farao telkens weer sy hart.
Eers wanneer die eersgeborenes sterf, dan laat Farao die volk trek. Ons ken die geskiedenis. God kom in beweging en berei ‘n pad van verlossing vir sy verbondsvolk.
As ons terug kom na die situasie van Nineve en die Assiriese ryk dan moet ons ook besef dat die Here die een is wat die Assiriese ryk vernietig. Kyk maar na Nahum 2:13. Ek het dit teen jou, spreek die HERE van die leërskare, en Ek laat jou strydwaens in rook opgaan; en Ek sal jou roof van die aarde verdelg. Drie maal “Ek”, die HERE. Hy is die een wat in beweging kom as die volke teen Juda is. In die 2020-vertaling word dit baie duidelik gestel: Dis Ek teen jou, Nineve! God teenoor die vyand.
Ons kan dit verder bevestig met wat ons lees in Jesaja 10:5-7. Ja, Assirië is ‘n roede in die hand van die Here en hy word gestuur teen ‘n roekelose nasie, naamlik Juda. Assirië is dus ‘n instrument in die hand van die Here om sy volk te tugtig. Maar wee Assur, of te wel Assirië. Die Here bepaal grense waarbinne die volk aangeval mag word, maar die Assiriërs steur hulle nie aan daardie grense nie. Waar die Here hulle gebruik om sy volk te tugtig, dink Assirië anders daaroor. Sy hart bedoel nie om die volk te tug nie, maar om te verdelg (Jes. 10:7).
Wat dus net tugtiging moet wees oor die volk van God word ‘n aanval van die vyand. En daarom kom God in beweging. Hy sal dit nie duld nie. As ons dan verder lees in Jesaja 10 dan sien ons ook dat Assirië gestraf word. Kyk maar na Jesaja 10:25-26. God se toorn gaan uit teen hulle om hulle te vernietig. Die Here sal oor hulle die gesel swaai en verslaan. Gemeente dit is duidelik dat die Here die een is wat aan die werk is.
Kom ons gaan nog bietjie verder in die geskiedenis wanneer die volk in ballingskap sit in Babel. Die bose Haman haat die Jode, veral Mordegai wat weier om voor hom te buig. Uit haat en woede gaan hy na koning Ahasveros. Daar vra hy toestemming om die verstrooide en afgesonderde volk, dit is Juda, te verdelg. Hierdie versoek word toegestaan. Gemeente, ons weet hoe die geskiedenis verder verloop, hoe Ester na die koning gaan en hom en Haman nooi vir ete, hoe Mordegai verhoog word deur die koning, hoe Ester dan by ‘n tweede maaltyd die bose plan van Haman bekend maak en dit so deur die Here gelei word dat die Joodse volk hulle kan verdedig. Ja, daar was ‘n aanval op die volk van God, maar die Here kom in beweging om daardie aanval te stuit.
Gemeente, as die vyand sy hand uitsteek na die volk van God, dan is hy in feite besig om sy hand teen God uit te steek. Wie teen die volk van God beraam, beraam teen die Gesalfde van die Here.
Die duidelikste voorbeeld hiervan sien ons in die NT, in Handelinge 9. Saulus is besig met dodelike aanvalle op die kerk van Christus. Hy het volmag gekry om mense van die Weg te vervolg en na Jerusalem te bring as gevangenes. Oppad na Damaskus stuit God hierdie wrede vervolging. Dan is dit opmerklik om te sien wat die Here vir hom sê. Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Nie waarom vervolg jy die Christene, of die volk nie, nee, waarom vervolg jy My.
Ja, gemeente, dit is dus wat ons ook moet raak sien in die profesie van Nahum. God is aan die werk, ook deur die diens van Babel. Dit gaan nie net oor die profesie dat Nineve gaan val deur die aanval van Babel nie, maar dit gaan dat die Here aan die werk is. Hy is besig om te werk omdat sy volk aangeval word, en daarom ook Hyself wat aangeval word.
Maar nie net in daardie tyd nie, maar ook vandag nog is die Here aan die werk. Deur die geskiedenis word die kerk van Christus aangeval en bedreig. Maar God sit nie stil nie gemeente. Hy is aan die werk. Die Seun van God vergader, beskerm, en onderhou sy gemeente, van die begin van die wêreld af tot die einde toe (Sondag 21). Ja tot die einde toe. Dit beteken dat Christus vandag nog besig is met sy werk in die kerk. Christus is vandag nog besig om sy kerk te beskerm.
Christus beskerm sy gemeente teen die aanvalle van wêreld. Ons kan in alle vryheid nog saam vergader en vrylik getuig van Jesus Christus. Ja, daar gaan tye kom wanneer dit nie so gaan wees nie. Tye waar ons nie vrylik en openlik die Woord van God mag verkondig nie omdat dit liefdeloos blyk te wees, soos bv., om sonde uit te wys en aan te spreek. Alhoewel dit nog nie so is in ons land nie, moet ons nie vergeet dat daar lande is waar dit wel so is nie. Lande waar daar nie gepreek mag word teen homoseksualiteit en alles wat daarmee saamgaan nie.
Of in lande waar slegs die president, of Allah aanbid mag word, dink maar aan Noord Korea, of baie van die lande in die Midde Ooste. Maar ook daar is Christus besig om sy kerk te beskerm en te vergader. Laat ons nie nalaat om ook vir daardie Christene te bid nie, en dat die koninkryk van God ook in daardie lande mag kom. Dat die werk van die duiwel vernietig mag word, en daar vryheid kan wees.
Dit bring ons dan ook by die tweede punt.
Die vernietiging van die vyand bring verlossing vir die volk.
Gemeente, as die Here in beweging kom teen die vyand, dan kan mens weet dat dit nie goed gaan eindig vir die vyand nie. Ons het reeds in die vorige preek gesien dat daar geen mens is wat teen die toorn en grimmigheid van God bestand is nie. Ook vanuit ons teks word dit sigbaar dat ook die groot stad Nineve nie bestand is teen die Here wat in beweging kom nie. Babel verwoes die stad en die Assiriese ryk gaan ten gronde.
Maar dit is nie al waaroor dit gaan nie. Die fokus is nie net op Nineve wat verwoes word nie, nee daar sit meer agter die verwoesting van die vyand. Ons sien dit duidelik raak in vers 2: Want die HERE herstel die heerlikheid van Jakob net soos die heerlikheid van Israel, want plunderaars het hulle geplunder en hulle wingerdlote verniel.
Kyk dieper gemeente, wanneer die Here die vyand vernietig, dan beteken dit verlossing vir God se verbondsvolk. Jakob se heerlikheid word herstel. Jakob se naam en sy ere word herstel deur die HERE.
As daar staan dat die heerlikheid herstel word soos die heerlikheid van Israel, dan moet ons nie dink aan die twee stamme ryk wat herstel gaan word soos die tien stamme ryk nie. Dit kan nie, want die tien stamme ryk het nooit werklik terug gekeer uit ballingskap nie. Hulle is nie so herstel soos Juda nie. Waarop dit waarskynlik dui is op die heerlikheid wat die verenigde ryk onder die regering van konings Dawid en Salomo gehad het. Die vyand het Juda geplunder en verniel, hy het hulle land verniel, maar daar kom ‘n einde daaraan. Die heerlikheid van Jakob sal weer herstel word soos in die dae van Dawid en Salomo.
Reeds in hoofstuk 1 van Nahum sien ons die verlossing. Lees gerus weer Nahum 1:12-13. Die juk van Nineve sal afgegooi word. Ook in Jesaja 10 lees ons daarvan. Jesaja 10:27: En in die dag sal sy las afgly van jou skouer en sy juk van jou nek, en die juk sal tot niet raak vanweë die vettighied. Die Here kom in beweging, en wanneer die vyand verslaan word is daar verlossing vir die volk van God. Die juk word afgegooi en die land word herstel.
As ons weer terug gaan in die geskiedenis en kyk na die gebeure wat in die eerste punt genoem is, sien ons weereens hierdie patroon raak, naamlik die patroon dat die vyand se verwoesting verlossing vir God se volk beteken.
Ons het gesien hoe die Here besig was om ‘n pad van verlossing te berei vir sy volk uit Egipte. Die hand van die Here was swaar oor Egipte met die plae wat God gestuur het. En dan met die tiende plaag bereik dit ‘n hoogte punt. Die Here stuur ‘n verderwer na Egipte om sy hand te slaan aan al die eersgeborenes. (Eksodus 12:23). Ja, gemeente, die HERE tref al die eersgeborenes in Egipte, en dan kom daar verlossing. Israel word uit Egipte weg gestuur deur die Farao self. Die verderwer kom en daardeur word daar verlossing bewerk vir die volk van God.
As ons dan weer na ons teks kyk dan sien ons dat daar ‘n Verwoester teen Nineve optrek. Hierdie verwoester het ons gesien was Babel, wat Nineve verwoes het. Maar as ons dieper gaan kyk dan moet ons raaksien dat die ware Verwoester die HERE. Ons het in die eerste punt gesien dat dit die HERE is wat besig is. Hy is die een wat teen Nineve is, wat hulle laat opgaan in rook.
Ons kan dus die Verwoester sien as die HERE self. Hy is die een wat optrek teen Nineve. Hy is die een wat die vyande verwoes. En daarmee saam is dit ook die HERE wat sodoende die heerlikheid van sy volk herstel, wat vir hulle verlossing aanbring as die vyand vernietig word.
Daar is dus ‘n pragtige eenheid in hierdie hoofstuk wat ons moet raak sien. Vers 1 en 2 saam met vers 13 omarm die gebeure in vers 3-12. Ja, Babel is die volk wat beskryf word wat Nineve verwoes (vers 3-12), maar dit is die HERE wat in beheer is (verse 1,2,13). Hy is die een wat sy volk verlos van die vyand wat hom self vergryp aan die volk van God.
As ons dan weereens ‘n paar tree terug neem en kyk na die groter plan van God se heilsgeskiedenis, dan moet ons raak sien dat hierdie verlossing van Juda ‘n gebeurtenis is wat deel maak van die groter heilsgeskiedenis van God se volk.
Van die sondeval af is God besig met daardie verlossingsplan. Daar is ‘n deurlopende stryd tussen die slang en die vrou, tussen die Satan en die Verbondsvolk. En keer op keer sien ons hoe die Here in beweging kom en die vyand vernietig en sodoende ook verlossing bring vir die volk.
Ons moet dus nie net stilstaan by die verlossing van Juda uit die mag van Nineve nie, maar ons moet verder kyk na die uiteindelike verlossing wat gekom het deur Jesus Christus. Van die begin af was God aan die werk om die verlossing van sy volk te bewerkstellig deur sy Seun Jesus Christus. En op die regte tyd het God sy Seun ook gestuur om verlossing vir sy kinders te bewerk deur die vyand te oorwin.
Dit is volbring! Gemeente, die stryd is gewen. Jesus Christus het die dood oorwin. Die mag van die Satan is gebreek, die mag van die sonde is gebreek. Dit is vernietig. En daardeur is daar vir ons verlossing en heerlikheid (vers 2). Die vyand se vernietiging het vir ons verlossing gebring.
Maar gemeente, hoe ervaar ons nie nog die aanvalle van God sy vyande teen sy kerk nie? Van alle kante af kom daar aanvalle teen die kerk. Daarom moet ons ook bid. Bid soos Christus ons geleer het. Laat u koninkryk kom. Want wat bedoel ons as ons dit bid? Bewaar u kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees. (Sondag 48).
Totdat die volkomenheid van u ryk kom. Gemeente, laat ons na daardie dag verlang, die dag van die wederkoms. Want dan sal ons in die volkomenheid van die verlossing deel. Dan sal ons dit in sy volheid ervaar en beleef.
Op daardie dag sal die groot hoer geoordeel word, en die bloed van die Here se diensknegte sal op haar gewreek word (Openbaring 19:2). Ja op daardie dag sal ons die bruilof van die Lam saam met die Lam vier. Salig is die wat genooi is na daardie bruilofsmaal. Laat ons ons dan ook gereed maak vir daardie bruilof.
Maar hoe doen ons dit? Daarvoor kan ons terug gaan na Sondag 28. Regeer ons so deur U Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp. Ons berei onsself voor deur gehoorsaam te wees aan die Woord van God. Ons word deur sy Woord en Gees regeer. Dan gaan dit nie meer oor ons eie gevoelens en opinies nie, maar dit gaan oor wat God deur sy Woord en Gees vir ons sê.
Laat ons dus ons onderwerp aan die Woord en Gees van God, sodat ons nie vyande van God is nie. Anders geld vir ons dat die Here teen ons optrek. Ja gemeente, laat ons as gemeente ons onderwerp aan die Woord van God en deur sy Gees gelei word, sodat daar in die dag van oordeel nie vir ons gesê word nie: Dit is Ek teen julle, VGK Pretoria, maar dat daar vir ons gesê word: Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot! (Openbaring 19:5). Ja, gemeente, laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom. Laat ons ons daarop voorberei gemeente en ons gereed maak om te deel in die volheid van die verlossing omdat die vyand dan volledig uitgeroei en vernietig sal wees.
Amen.
Votum en Seën
Psalm 92:1, 4, 5.
Wet
Psalm 119: 59, 60.
Gebed
Nahum 2
Openbaring 19:1-10
Psalm 60: 1, 3.
Nahum 2:1,2,13.
Woord verkondiging
Sb 29: 2, 5, 8.
Gebed
Kollekte
Sb 29: 9.
Seën