Moses se gebed word verhoor deur die instelling van die O.T. versoeningsdiens

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Deuteronómium 10
Preek Inhoud: 

Ps 48: 1, 2
Ps 48: 4, 5
Ps 19: 4, 5, 6, 7
Ps 65: 2, 3
S.B. 14: 1, 2
Lees: Hebr. 9: 1 - 14
Teks: Deut. 10: 1 - 9

Broeders en susters,

Ons het verlede week uit Deut. 9 gehoor dat die lewe van Israel maar ternouernood gespaar is. Hul sonde by Horeb met die goue kalf waarby hulle 'n fees gevier het, was so groot dat dit die onmiddellike einde van die Verbond beteken het. God wou met so 'n volk niks meer te doen hê nie.

Omdat Moses onmiddellik die erns van die situasie ingesien het, het hy 'n tweede periode van vas en bid begin, om met al sy kragte die Here tot ander gedagtes te probeer bring.

In daardie voorbidding deur Moses het ons ons toe vorige sondag verdiep. Ons het iets gevoel van die wanhoop van Moses toe hy sien dat die hele Verbond op die spel staan. God praat immers van Israel nie meer as 'my volk' nie, maar Hy sê: Moses, dit is jou volk wat jy uit Egipte gelei het.

Moses moes toe al sy kragte as Middelaar ingooi om die doodsdreiging vir Israel af te keer. In sy gebed gebruik hy alle argumente wat hy het om die Here weer met sy volk te versoen.

Omdat Moses dit alles vertel in 'n terugblik, as 'n waarskuwende les uit die geskiedenis, weet ons al dat die gebed van Moses verhoor is. Die volk word gered op voorbidding van Moses.

En tog bly vir ons die vraag spannend hoe die Here dit sal doen. Die Here kan mos nie sommer die sonde verbygaan nie? Die Here kan tog ook nie net terwille van Moses met die volk aangaan nie. Maar hoe kan Hy dan nogtans voortgaan?

Wel, die antwoord op daardie vraag kry u in die begin van hoofstuk 10 van Deuteronomium.

Ek bedien vir u die Woord van die Here soos volg:

MOSES SE GEBED WORD VERHOOR DEUR DIE INSTELLING VAN DIE O.T. VERSOENINGSDIENS

  1. die rykdom van die versoeningsdiens
  2. die beperktheid van die versoeningsdiens

Dit is baie duidelik, gemeente, dat Moses 'n baie belangrike plek ingeneem het in die geskiedenis van die verbond van die Here met sy volk Israel. Moses was nie slegs die leier van die volk Israel nie, maar hy was veral die ampsdraer wat in opdrag van die Here na sy volk Israel in Egipte toegegaan het. En as die Here tot Israel spreek dan is dit amper altyd deur middel van Moses.

Daarom is dit heeltemal korrek dat Moses dikwels die Middelaar van die Ou Verbond genoem word. In daardie funksie het ons die vorige keer Moses besig gesien. As Middelaar pleit hy by God vir die belange van die volk. Ons kan dit selfs so stel: die voortbestaan van die Verbond lê heeltemaal in hande van die Middelaar.

En juis nou het ons 'n probleem. Want Moses is 'n sterflike mens. As nou steeds die toekoms van die verbond deur die Middelaar Moses bewerk moet word, dan wonder ons: wat gaan gebeur as Moses nie meer daar is nie? Op die oomblik dat Moses die woorde van die boek Deuteronomium aan die volk voorhou, weet hy reeds dat hyself nie aan die intog in Kanaan sal deelneem nie. Hy sal voor die tyd afsterwe.

Ons kan selfs sê: dit is die groot probleem van die hele boek Deuteronomium. Israel is 'n hardnekkige volk. Moses moes al 'n hele paar keer die toorn van die Here afgekeer het, maar hoe moet Israel nou verder sonder Moses? Hoe kan die Verbond standhou sonder Moses se voortdurende voorbidding? Dit is die groot vraag.

Dus al sou die Here die vernietiging waarmee Hy in hoofstuk 9 dreig nie uitvoer nie, dan nog is daar die vraag: Hoe nou verder?

Wel, die reaksie van die Here op Moses se voorbede kry ons in hoofstuk 10. "In die tyd het die Here vir my gesê: Kap vir jou twee kliptafels soos die eerstes en klim op die berg na my toe. Ek sal dieselfde woorde weer op die kliptafels skrywe. "

Hoor u, watter groot ding hier gebeur? Immers, daarmee is die Verbond herstel! God verklaar Hom bereid om opnuut Sy handtekening onder die trouakte te sit.

Let daarop dat in die begin van hoofstuk 10 drie keer gesê word: soos die eerste. Dit beteken dieselfde Verbond word voortgesit! God maak weer 'n nuwe begin, met dieselfde voorwaardes. God gaan weer bo aan die Wet skrywe: Ek is die Here, julle God, wat julle uit Egipte uitgelei het. En julle is My volk! wat Ek uit Egipte gelei het.

Dieselfde Verbond dus, maar daar is ook 'n verskil. Immers in vs 1 voeg die Here toe: Maak vir jou ook 'n ark van hout. Die bedoeling is dat Moses later die beskrewe kliptafels in die ark moet bêre. Die ark is 'n kis van akasiahout.

In die hele gebeure is 'n sekere simboliek of miskien is simboliek nie die regte woord nie, dit gaan hier om 'n werklikheid. Ek wil probeer verduidelik waar dit om gaan: Kyk, ons het die kliptafels die trouakte van die Verbond genoem. Die openbare liefdesverklaring van God vir Sy volk. Ek die Here is julle God! 'n Heerlike belofte.

En aan daardie belofte is die tien eise van die wet verbonde. Deur God in klip geskryf. Die vereistes vir handhawing van die trouverbond. Met 'n sekere vanselfsprekendheid het die Here die gebooie bekend gemaak. Die bedoeling was dat die twee kliptafels vir almal sigbaar en toeganklik sou wees as die bewys van die Verbond. Dit is wat die Here van ons vra.

Maar na die sonde by Horeb met die goue kalf (Deut. 9) word dit anders. Seker, God gaan voort, met dieselfde Verbond, met dieselfde gebooie, maar die teleurstelling by Horeb het tog iets verander. Daar het n. l. geblyk dat die tien gebooie vir die volk 'n te sware opdrag gaan wees. Selfs na die Horeb-sonde sal hulle nog nie in staat wees om die tien gebooie heeltemaal volkome te hou nie.

Amper sou ons kon sê: Die Here het 'n bietjie versigtiger geword met die volk. Die oop verhouding tusen God en Sy volk het verander. Die tien gebooie word gebêre in 'n kis. Daar kom 'n bietjie meer afstand. Die trouakte is nog altyd daar. Maar dit is nou in 'n hout kis.

Soos in hoofstuk 9 steeds gepraat word van die tafels van die Verbond (9, 11, 15), so kom daar in hoofstuk 10 'n nuwe term: die ark van die Verbond, die verbondsark. Hoor u hoe die trouakte a. h. w. verpak word? Met groot versigtigheid, want dit is uiters plofbare materiaal. Want Israel kan sommer maklik 'n ander gebod van die Here oortree en dan ontbrand die toorn van die Here weer en dreig weer die vernietiging.

Die Here laat daarom die tien gebooie sorgvuldig wegsit. In 'n verbondsark. En daarna sal die verbondsark nog dieper verpak word. Die Here laat om die ark 'n tabernakel bou. Die Allerheiligste. Slegs toeganklik vir die Hoepriester. En daarvoor die Heilige met 'n reukofferaltaar. En daarvoor 'n tempelvoorhof met 'n brandofferaltaar.

Sien u wat gebeur? Rondom die ark met die kliptafels daarin ontstaan 'n hele stelsel van erediens.

Daarom staan daar ook in vs 8: "In die tyd het die Here die stam van Levi afgesonder. " Wat dus gebeur is dit:

Tussen God en die volk in kom staan 'n hele versoeningsdiens. Met Hoepriester, priesters, helpers ens. Dit het noodsaaklik geword vanwee die sondigheid van die volk. En dit sal noodsaaklik bly!

En daarmee kom ons terug by die begin van hierdie punt. Moses was tot nou toe steeds die man wat die toorn van God oor die sonde moes afwend. Hy is die biddende smekende Middelaar tussen God en Sy volk.

Maar as Moses nie meer daar is om die taak te verrig nie, wie moet dit dan doen?

Wel, daarop gee die Here hier self die antwoord.

Moses se Middelaarsamp moet oorgeneem word deur 'n blywende versoeningsdiens by die tabernakel en die tempel. Dit is die enigste manier waarop God met Sy volk kan voortgaan.

Daar moet 'n offerdiens kom waar bloed vloei as 'n voortdurende herinnering: Die volk verdien elke dag die dood! Want nie een van die tien gebooie sal hulle kan hou nie. Elke dag weer verdien hulle dat God weer die tafels van die verbond verbrysel, dat Hy die trouakte van die Verbond opskeur. En daarom word die tafels in 'n houtkis gesit, en eis God rond die verbondsark 'n hele versoeningsdiens. Want slegs so kan Hy met hulle voortgaan.

Dit is miskien vir u opvallend dat Moses in Deut 9 nie verder ingaan op die presiese inrigting van die erediens rondom die tabernakel nie, maar ons moet bedink dat hy op die oomblik nie die priesters met die oog op hul amp instrueer nie, maar die boek Deuteronomium is 'n preek vir die volk Israel. Hulle moet weet hoekom hulle hier nog kan staan. Na die sonde by Horeb. Hulle moet weet van die seen wat voortvloei uit die diens rondom die ark van die verbond.

Hulle moet weet dat dit genade, onverdiende genade was dat God ondanks die sonde tog met hulle verder gegaan het. In die verband word ook 'n stukkie aangehaal uit die reisverslag van die volk Israel deur die woestyn. As ons dit lees is ons eerste gedagte dalk, wat het dit nou met hierdie onderwerp te doen? Dit lyk sommer 'n verdwaalde stukkie. Boonop weet ons uit ander bronne dat die lys van name glad nie volledig is nie.

En tog maak dit hier sin.

As ons besef dat Beerot-Bene-Jaakan in die nabyheid van Horeb is en Mosera (die plek waar Aaron sterwe) in die nabyheid van Kanaan, dan beskryf Moses met die name Beerot-Bene-Jaakan en Mosera in een keer die hele 40-jarige tog deur die woestyn.

Vanaf Horeb tot Mosera het die Here vir hulle in lewe gehou. Hy het nie asnog die Verbond verbreek nie. Die versoeningsdiens rondom die verbondsark het regtig gewerk!

Seker, by Mosera het Aaron gesterwe, maar daarmee het die versoeningsdiens nie geeindig nie. Daardie diens is oorgeneem deur Eleasar sy seun. Dus die versoenings-ampsdraer kan wel sterwe, maar die versoeningsamp bly bestaan. En dit open perspektief na die toekoms as die volk in Kanaan is, as nog Moses nog Aaron as Middelaar vir hulle kan optree.

Die versoeningsdiens bly bestaan en daardeur ontvang die volk die lewe. Ja selfs meer as dit. Hulle ontvang ook seen.

Dit blyk uit die volgende plekke wat genoem word. Die Here het hulle ook na Jotbat, 'n land van waterstrome gelei.

U sal verstaan wat dit beteken in 'n woestyn, waar 'n mens vir oorlewing van water afhanklik is! Die Here lei sy volk in 'n land van waterstrome! Waar water is daar ervaar die volk die seen van die Here. En waarvandaan kom daardie seen? Natuurlik uit die versoeningsdiens wat rondom die ark van die Verbond aan die gang gesit is.

Dus die gedagtegang in hierdie gedeelte is: Deur sy hardnekkigheid en die sonde met die goue kalf het Israel die dood verdien.

Maar daar kom versoening tot stand. En vanuit die versoening vloei daar seen na die volk. Hier in die vorm van water. Dat God sy volk lei in 'n land vol waterbronne is 'n sigbare bewys dat Sy guns weer teruggekeer het.

Broeders en susters, dis asof ons hier Ps 65 hoor klink:

    Dis waar, 'n donker skuldverlede
    leef in ons heugenis;
    maar al ons ongeregtighede
    word deur U uitgewis.
    Die stroom van God wat neergestraal het
    deur volle hemelsluis
    dis alles soos die Heer beskik het
    Hy seen - en dit spruit!

So sien 'n mens voor sy oe hoe die seen voortvloei uit die versoening. Wat 'n magtig ryk Skrifgedeelte!

Kom ons gaan gou verder na die tweede punt want dit word nog ryker.

2. DIE BEPERKTHEID VAN DIE O.T. VERSOENINGSDIENS

In die tyd sonder die Here die stam van Levi af.

Dit is deel van wat ons eerder aangedui het as die "terugtrekkingsbeweging" van die Here. Nie die hele volk kan die Here gebruik rondom die erediens. Nee, die Here sonder daarvoor een stam af. Ek wil u aandag graag vra vir die feit dat dit nadruklik van die Here self uitgaan.

Kyk, ons het in die eerste punt aandag gevra vir die versoeningsdiens. Eintlik lê dit nou voor die hand dat vanuit die volk so 'n priesterdiens ingestel word. Die volk besef sy sondigheid. Van hulle kant is daar iets om te betaal teenoor die Here.

En daarom wys die volk 'n aantal persone aan om die werk te doen. As 'n soort verteenwoordigers van die volk by God. So sou elke heidenvolk dit doen. Hulle stel priesters aan vir hul kultusverpligtinge.

Maar so gaan dit nie in Israel nie! So kan dit nie in Israel nie! Want daar gaan dit net mooi andersteom. Die Here wys mense aan in die ampte. Die Here organiseer die versoeningsdiens. Of met 'n ou woord van Abraham: God sal Self 'n lam vir die brandoffer voorsien!

Dis belangrik broeders en susters, dat ons dit goed sien.

Die weg wat deur die versoeningsdiens oopgemaak word, word van God se kant af oopgemaak! en nie van die kant van die mens nie!

Dit blyk ook uit die take wat die leviete ontvang:

  1. om die verbondsark van die Here te dra. Dit beteken: God se wet gaan saam met die volk. Ook hier word nie deur die volk mense aangewys om die ark saam te neem nie. Maar die Here wil by die volk bly met Sy wet. Hulle sal van sy Verbond nooit meer ontslae kan raak nie.
  2. Om voor die aangesig van die Here in Sy diens te staan. Voor die aangesig staan: Dit is 'n bekende uitdrukking wat dui op onmiddellike beskikbaarheid om assistensie te verleen. Hulle moet die Here help by sy versoeningswerk.
  3. Duidelikste van aldrie: Om in Sy Naam die volk te seen.

Dit beteken hulle is daarvoor om God se seen oor te bring na die volk. In die Naam van die Here is groot verlossingskrag opgesluit. Daardie naam moet hulle seenend op die volk lê. Genade vir julle en vrede, want julle is my volk.

Sien u watter groot dinge daar inmiddels gebeur het sinds die voorbede van Moses. Watter rykdom dat daar so 'n blywende Middelaarsdiens ingestel word om steeds weer die volk in die Naam van die Here te seen!

En tegelykertyd moet ons die beperktheid van daardie rykdom sien. Want die instelling van die priesteramp en die afsondering van die levi-stam is deel van die terugtrekkingsbeweging wat die Here in Sy Verbond moes maak.

Hy plaas tussen Homself en Sy volk 'n hele versoeningsdiens met bybehorende ampsdraers. Want die afstand tussen die Heilige God en die volk is te groot. Aan die eise van die tien gebooie as trou-akte kan die volk (die bruid) nie self voldoen nie. Daar is steeds weer versoening nodig.

Maar nou lees ons in Hebr. 9: 8 dat die hele O.T. versoeningsdiens slegs onderwys van die Heilige Gees is wat die beperktheid van daardie versoeningsdiens aantoon. Ons lees: solank die tabernakel stand hou is die weg na die heiligdom nie geopen nie!

Die weg is nog toe. Daar is wel 'n sekere opening. Die opening van die versoeningsdiens met bloed van stiere en bokke. Maar daardie opening is slegs voorlopig!

Maar Jesus Christus gaan die heiligdom binne. Vir Hom hoef die trouakte van die Verbond nie in 'n kis gebêre te word nie. Hy konfronteer homself met al die tien gebooie van God. Hy verstaan en volbring hulle in hul diepste bedoeling.

Hy voldoen as eerste aan die volle eis van die Verbond.

Die eintlike versoening kan slegs plaasvind deur Hom. En daarom kan 'n mens Deut 10 nie sonder Jesus Christus verstaan nie. Hy is die ware Middelaar! Ook vir die Ou Verbond!

Is Hy ook nie die persoon wat agter die voorbede van Moses gestaan het in Deut 9. Moses het wel gebid: Here red U volk omwille van Abraham, Isaak en Jakob. Maar die Heilige Gees het tegelyk so gebid: Here, red U volk omwille van die Christus? Gaan verder met hierdie volk. Daar sal betaal word. Ek sal betaal.

Die versoeningsdiens rondom die ark wat hier in Deut 10 ingestel word, sal die volk uiteindelik by Jesus Christus bring, wat altyd leef om vir hulle te pleit op grond van Sy offer aan die kruis.

Inderdaad, hier is feitlik Deuteronomium se probleem in beginsel opgelos. Wat as Moses nie meer daar is nie? Hoe sonder Moses? Die antwoord is dan: Die voorlopige versoeningsdiens van vader op seun (Aaron-Eleasar) word tenslotte gedra deur die definitiewe versoeningsoffer van Jesus Christus.

En daarmee het die spanning wat in die voorgaande hoofstukke opgebou is tot rus gekom. Die groot vraag was steeds: Hoe moet dit met so 'n sondige volk in die beloofde land?

Die antwoord is nou gegee: God sorg Self vir Versoening.

'n Voorlopige versoening in die offerdiens.

'n Definitiewe in die geskenk van Sy Middelaar. As Hy gekom het dan hoef die tafels van die verbond nie meer in 'n houtkis gebêre te word nie. Die Woorde van die Verbond hoef nie meer in klip gegraveer en gebêre te word nie. Nee, die Heilige Gees skryf die woorde in die harte van die gelowiges wat uit dankbaarheid vir die gegewe verlossing na al die gebooie van God begin lewe.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)