Die opperherder Jesus Christus leer Sy apostels om herders te wees

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Johannes 21
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JOHANNES 21: 15-17

LITURGIE:
L. Matt. 26: 31-35 & Joh. 21: 15-17 & 1 Petr. 5: 1-5
Ps. 95: 1, 4
Ps. 95: 2
Ps. 100: 1-4
Ps. 79: 9
SB. 15: 4-7

Broeders en susters,

Ek het by die huis 'n Roomse katkisasieboekie waarin die volgende vrae en antwoorde staan:

  • Wie is deur Jesus as hoof van sy kerk aangestel?
    Jesus het die heilige Petrus as hoof van sy kerk aangestel.
  • Met watter woorde het Jesus vir Petrus die oppergesag oor sy kerk gegee?
    Jesus het vir Petrus die oppergesag oor sy kerk gegee met die woorde: Laat my lammers wei; pas my skape op.
  • Wie is die heilige Petrus se opvolger?
    Die opvolger van die heilige Petrus is die Paus.

U hoor dit: in 'n paar sinne word dus die hele dwaasheid van die pauslike oppergesag oor die Roomse kerk aan die verhaal van ons teks vasgeknoop.

Die woorde van Christus vir Petrus: "Laat my lammers wei; pas my skape op" moet die verklaring vorm vir die snaakse afgodery met daardie een man in die Vatikaan wat 'n onfeilbare leergesag sou hê en daarom die beslissende woord mag spreek in die kerk oor die hele wêreld wat aan hom onderworpe is.

Die Paus as Petrus se opvolger opperherder oor die kerk- so word dit die klein kinders in die Roomse kerk alreeds met die paplepel ingegee.

Petrus sélf het die bedoeling van sy Here toe dié vir hom die herderswerk opgedra het, gelukkig beter verstaan. Petrus het geleer dat daar 'n ontsaglik groot verskil tussen hérder-wees en héérser-wees bestaan. Christus het juis vir hom geleer dat dít die groot gevaar is wat 'n kneg van Christus bedreig: dat hy heerser wil wees. Hy het self aan daardie gevaar blootgestaan. Dis juis dié dat Christus tot drie maal toe die spieël aan hom moes voorhou.

Petrus het verstaan dat die woorde: "Laat my lammers wei, pas my skape op" hom nie bo die ander apostels uitgetil het nie, maar hom juis saam met die ander tot skaapherder onder die Enigste egte Opperherder Jesus Christus wou maak.

So gee hy die les mos ook deur aan volgende generasies ampsdraers, in sy eerste brief. Ons het dit saam gelees:

"Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is.... nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers (!) oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde".

Ons teks uit Joh. 21, gemeente, bied geen enkele grond vir die dwase gedagte van een onfeilbare menslike opperherder nie. Inteendeel. die enigste Opperherder Jesus Christus leer sy dissipels hier juis dat herder-wees en heerser-wees nooit kan saamgaan nie.

Ek het die inhoud van die teks so saamgevat:

DIE OPPERHERDER JESUS CHRISTUS LEER SY APOSTELS OM HERDERS TE WEES.

DAARBY LEER HY VIR HULLE:

  1. OM HULLESELF GERING TE AG
  2. OM SY KUDDE HOOG TE AG

1. Dit is nie per ongeluk dat ek in my samevatting van ons teks van "apostels", meervoud, praat nie, broeders en susters. Al rig Christus Hom ook spesiaal tot Petrus, ek glo dat Hy vir almal 'n les wou leer.

Hierdie geskiedenis word meestal so verstaan dat die apostel Petrus, wat sy Here publiek verloën het, nou van sy Here publiek eerherstel ontvang. In baie verklarings en kinderbybels word selfs van ámpsherstel vir Petrus gepraat: driemaal het Petrus gesê: "Ek ken die man nie!". Driemaal vra Christus daarom nou vir Petrus: "Simon, het jy My regtig lief? ". En op hierdie wyse, as Petrus tot 'n publieke skuldbelydenis gedwing word, het Petrus, volgens dié verklaring, die amp en die eer van apostel van Christus weergekry.

Tog rys daar wel 'n hele aantal vrae, as ons hierdie geskiedenis so moet lees.

In die eerste plek: het feitlik nie ál die dissipels in die nag waarin Christus gevange geneem is, hul amp verbeur nie? Christus het dit vir hulle voorsê: "Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My... " En so het dit ook gebeur: toe hul Here gevangegeneem is, het almal weggehardloop en Hom alleen gelaat.

Laat ons Petrus in vergelyking met die ander nie ekstra swartsmeer nie, broeders en susters. Weghardloop, jou Here en Koning bang en teleurgesteld in die steek laat- is dit ook nie 'n publieke verloëning van die Christus nie?

Petrus het darem nog die moed gehad om al gou van sy vlug terug te keer en saam met Johannes sy Here op 'n afstand te volg om te kyk wat verder sou gebeur.

Ek wonder selfs of Petrus se verloëning wel uit angs voortgekom het. Dit mag dalk ook gewees het dat hy nog altyd op 'n gunstige wending in die hele gebeure met Jesus gehoop het: sou Jesus net- nou die hele gesol met Hom laat endkry en met sy Koninklike mag sy vyande van Hom afskud?? Dan sou Petrus in elk geval nog daar wees en Hom te hulp snel. Hy dra sy swaard waarmee hy so pas 'n kneg van die hoëpriester se oor afgekap het, nog by hom!

Dalk het hy oor dié rede al te veel aandag vir sy persoon wou afskud en gesê hy ken nie vir daardie Jesus nie.

Daar is nog 'n ander vraag, gemeente: waarom sou Christus eers nou, by die see van Tiberias in Galilea, tot 'n publieke eer- en ampsherstel vir Petrus besluit het? Hoekom nie al eerder nie?

Alreeds op die dag van sy opstanding het Hy mos 'n onderhoud onder vier oë met Petrus gehad. Lukas vertel dit vir ons, en ook Paulus herinner daaraan in 1 Kor. 15. Ons mag tog aanvaar dat Petrus toe alreeds sy skuld bely het.

En wat wel deurslaggewend is: saans op die opstandingsdag het Christus sy gesamentlike apostels besoek -ook Petrus was daar, net Tomas het gemakeer- en hulle toe saam in die amp van apostel bevestig (kyk Johannes 20) met die woorde: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe. as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou".

Sou Christus dan terselfdertyd vir Petrus sy sonde van die verloëning nog bly toereken het??

Uit niks blyk dit dat Petrus nog nie weer volledig deur Christus aanvaar sou wees nie.

As dit so sou gewees het, sou Petrus dan direk so entoesiasties oorboord gespring het, so gou hy sy Here op die strand herken het?

Sou hy dan nie juis skaam en skuldbewus as laaste uit die skip geklim het nie?

Nee, ons moet hierdie gedeelte nie net teen die agtergrond van Petrus se verloëning lees nie. Hier word nie een apostel weer in sy amp herstel nie. Hier word al die apostels, vir sover aanwesig, geleer hoe dat hulle alleen ampsdraers kan wees.

Dit is die hooflyn in hierdie hele hoofstuk. Johannes het hierdie hoofstuk 21 nog apart aan sy Evangelieboodskap toegevoeg. Die laaste wat hy ook nog vir ons wil vertel, is hoedat die Here voor sy hemelvaart sy apostels nog 'n keer voorberei het op en geskik gemaak het vir hul toekomstige taak.

Dit was die bedoeling van daardie eienaardige visvangs, waarby die dissipels moes leer dat hulle net-nou as vissers van mense heeltemal van die mag van hul Here afhanklik sou wees. Hy maak die nette vol, Hy maak die kerke vol.

Hulle moes ook leer dat hul Here daarby glad nie van die werk van sy knegte afhanklik is nie. Na hulle hele gesukkel om die net vol met visse op die land te kry, moes hulle agterkom dat daar lankal vis op Christus se koolvuur gelê het.

Die hele geskiedenis van daardie visvangs was 'n beskamende les gewees met die oog op hul a. s. werk. Om groot manne tot kleine knegte te maak.

In die verlengde dáárvan moet u nou ook die onverwagse vrae aan die apostel Petrus lees. Die les van so pas word nog 'n keer vet onderstreep.

U wonder nou dalk, broeders en susters, waarom die Here dan net Petrus in die kollig haal, as dit darem nie die bedoeling is om sy sonde van die verloëning hier publiek te versoen nie. Hoekom word dan net Petrus aangespreek, as Christus feitlik al die apostels wat hier bymekaar sit, iets wil leer met die oog op hul a. s. amp?

Omdat Petrus die leier is?

Nee, maar omdat Petrus die duidelikste voorbeeld is van 'n tipe kneg wat die Here nou juis nié soek nie!

Petrus lyk in kortsigtige menseoë 'n baie geskikte apostel. As daar een Christus se kneg kan wees, dan is dit Petrus wel. Wie het duideliker sy liefde vir sy Here gewys as hierdie impulsiewe apostel?

Weereens, gemeente, ons moet nie te ongunstig oor Petrus oordeel nie. Die Bybel vertel baie goeds van hom: toe baie volgelinge weggeloop het, en die Here vir die twaalf gevra het: "Wil julle nie ook weggaan nie? "- was dit toe nie Petrus wat gesê het: "Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe!" nie?

Wie was dit wat sonder om te aarsel bely het: "U is die Christus, die Seun van die lewende God"? Wie was dit wat sommerso uit die skip geklim het en oor die water na Jesus toe geloop het? Wie was dit wat in die nag van die gevangeneming, om sy geliefde Here te verdedig, sy swaard uitgehaal en die vyande teruggeslaan het?

Ja, wie het so pas nog sonder om hom te bedink oorboord gespring en na sy dierbare Here geswem? Kyk hoe lyk hy in sy nat klere! Hy het daarna ook heeltemal alleen die net vol met swaar visse op die land gesleep.

Een en al liefde en ywer vir sy Heiland. Iemand wat veral na dit wat in daardie nag van die verraad gebeur het, bereid is om vir sy Here deur die vuur te loop.

Maar vir Christus is ampsdraers waar die mense hoog na opsien, juis 'n gevaar vir sy kerk!

Hulle kan so maklik ook na hulself begin opsien, hulself belangriker, beter ag dan die ander.

En dié kwaad wil Christus nou uitsny, by Petrus, maar natuurlik ook by die ander apostels, en by al die volgende geslagte ampsdraers wat nog sal kom.

Dis dié dat Christus voor die ore van die ander apostels sy diepborende vrae aan die adres van die skynbaar so gawe apostel Petrus vra.

"Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? " Met dié onverwagse vraag verbreek die Here skielik die verwonderde stilte wat daar tydens die eenvoudige maaltyd op die strand geval het. Skielik haal die Here Petrus in die kollig en hou hom die spieël voor.

Petrus word met sy eie uitspraak gekonfronteer. So het hy dit mos dikwels gedink. So het hy dit onlangs selfs hardop gesê: "Here, al sal almal ook aanstoot aan U neem, nie ek nie!" Christus kon altyd op Petrus staatmaak. Geen trouer volgeling as hy nie!

"Is dit nog altyd so, Simon, seun van Jona? " vra Christus. En dis opmerklik dat die Here hom skielik weer by sy ou naam noem. So was sy naam voordat hy Jesus se dissipel geword het: Simon, die seun van Jona. Christus spreek hom aan as 'n mens van vlees en bloed, met sy tipies menslike karaktereienskappe, dalk wel met familietrekke wat hy van sy vader geërf het: impulsief, spontaan.

Het hierdie Simon Jesus Christus, God se Seun, regtig lief, meer as enigiemand anders? Kan Jesus inderdaad op hierdie man staatmaak?

Of oorskat hierdie Simon homself en ly hy aan 'n gevaarlike eiedunk wat meen dat die Seun van God wel dankbaar mag wees dat hy oor mense soos Simon kan beskik?

Voel u, broeders en susters, hoedat die onstuimige Simon versigtig deur Christus op sy plek gesit word?

Simon self het die bedoeling van Christus se vraag baie mooi verstaan. Ons hoor hom klein antwoord: "Ja, Here, U weet dat ek U liefhet". U weet, Here, hoe of dit met my liefde vir U gesteld is. Ek hét U lief, maar "meer as hulle hier"- nee, so sal ek nooit meer sê nie.

Ons moet in hierdie verse op die klein woordjies let, gemeente. Petrus gebruik naamlik 'n ánder woord vir "liefhê" as wat Jesus in sy vraag gebruik het. Jesus het 'n baie sterker woord vir "liefhê" gebruik as Petrus nou. Ons vertaling het geprobeer om die verskil met die woordjie "waarlik" weer te gee: "Het jy My waarlik lief? " het Christus gevra, maar Petrus durf nie verder te gaan as om te sê dat hy Jesus wel in 'n mate liefhet nie.

Die vraag of Petrus sy Here waarlik liefhet, vra Christus weereens vir Petrus, maar nou sonder om daarby te voeg: "meer as hulle hier". As Petrus dat insien dat sy liefde vir Christus nie sterker is as dié van die ánder nie, kan hy dan wel van homself sê dat hy Christus met 'n sterk liefde liefhet: "Het jy my waarlik lief, Simon? ". Is jou liefde vir My meer as maar net 'n spontane hartstogtelike geneentheid? Het jy met jou hele hart vir My gekies, sodat jy nog altyd bereid is om desnoods met My te sterwe? Kan Ek jou as apostel in die wêreld instuur omdat jy jou met al die vesels van jou siel aan My verbonde weet?

En ook nou voel Petrus hoe dat die vermeende fondament onder sy kneg van Christus wees weggebreek word. Dus beroep hy hom opnuut nie op dit wat hy self is nie, maar op dit wat sy Here van hom weet. En opnuut durf hy maar net daardie baie swakker woord vir "liefhê" gebruik. Hy is lief vir sy Here, Christus weet dit mos, maar of dit 'n sterk liefde met sy hele hart en siel is.....? Nee, dit durf Petrus nie meer van homself sê nie.

En dan is die Here nog nie tevrede nie. Daar kom nog een keer 'n vraag, en nou word die eers so selfversekerde apostel tot 'n verslae mannetjie neergedruk. "Het jy My lief? " vraag Christus nou. En moet mooi luister, broeders en susters: Christus gebruik nou dieselfde woord vir "liefhê" wat Petrus al tweemaal gebruik het. "Is jy wel lief vir My? ". Mag ek dáárop dan in elk geval staatmaak, Simon? , sê die Here dus nou, "mag Ek dus staatmaak op 'n klein bietjie geneentheid van jou vir My? Is daar dus tog 'n smal basis waarop Ek jou as apostel kan uitstuur? ".

As Christus sy laaste vraag so formuleer, neem Hy vir Petrus regtig alles uit hande! Hy plaas selfs 'n vraagteken agter daardie aarselende gevoel van geneentheid wat daar volgens Petrus se eie woorde in elk geval wel is.

Dis dié dat Petrus bedroef word. Nie, omdat die feit dat sy Here drie keer min of meer dieselfde gevra het, hom skielik aan sy verloëning, wat ook drie keer gebeur het, herinner het nie. Maar omdat die derde vraag alles onder hom weggeslaan het! Christus laat hom voel dat Petrus van homself uit niks het om die Seun van God te kan dien nie. Niks!

Daar bly vir Petrus niks anders oor as om hom vir die derde keer uit te lewer aan sy Here wat mos alles van hom weet. Hy weet of daar genoeg liefde by Petrus is om hom as visser van mense te kan gebruik.

So, broeders en susters, het Christus ter wille van óns, sy kerk tussen Pinkster en Wederkoms, vir die ampsdraer Petrus geleer om homself gering te ag. En die ander apostels het dieselfde les kan leer. Net knegte wat bewus is van hul eie onvermoë, kan Christus gebruik. Knegte wat hul krag net van hulle Heer verwag. Wat sê: Gaan weg van my, Here, wat ek is 'n sondige mens; en wat dit hul hele lewe lank bly sê.

Ja, ter wille van ons is hierdie les in die Bybel bewaar. Want die Opperherder Jesus Christus was toe alreeds begaan met ons, sy skape.

2. Dit blyk baie duidelik uit die opdrag wat Christus tot drie keer toe vir Petrus gee wanneer dié sy eie kleinheid teenoor Christus begin verstaan: "Laat my lammers wei; pas my skape op; laat my skape wei".

Dit is belangrik dat u hierdie simpele woorde 'n oomblik op u laat inwerk, broeders en susters.

Die bekende verklaring lê die nadruk daarop dat Petrus Christus weer in die amp mag dien.

Maar die nadruk lê in werklikheid daarop in watter amp Petrus sy Here moet leer dien: skaapwagter wees!

Christus plaas Petrus sommer op 'n heeltemal ander spoor.

Petrus was die man van die swaard gewees. Hy het homself aangestel as die wapendraer van Christus. Hy het in terme van krag gedink en verwag dat sy Here met die krag van Bo indrukwekkend in die magte van hier benede sou binnebreek. Daardie Christus wou Petrus dien. In sy Koninkryk wou hy minister word. Desnoods wou hy sy lyfwag wees.

En nou sê Christus: "Laat my lammers wei". Hy stuur hierdie Petrus wat bruis van energie soos 'n herdersjong na die lammetjies toe!

Simon was visser gewees, en dit was nie bepaald 'n erebaantjie gewees nie. Toe het die Here hom in diens geneem en Petrus het hoë verwagtings daarvan gehad. Maar nou maak sy Here hom skaapwagter- en dis amper nog slegter as visser-wees. U weet dit mos uit die Bybel, gemeente: herderswerk was nie die mooiste werk om te begeer nie. Sulke werk kon aan die allereenvoudigste siele opgedra word.

Maar vir sulke werk stuur Christus sy ampsdraers in die wêreld in. Want vir sulke werk het sy Vader Hóm in die wêreld gestuur. Hy het Hom vir sulke werk nie te hoog geag nie. Hy het as die Goeie Herder gekom om met ontferming na die skape van God se kudde om te sien. Sy liefde vir daardie skape was so groot dat Hy bereid was om sy léwe vir die skape te gee. Hy was bereid om die straf vir die skuld van die skape te dra. Hy, die Herder, wou geslaan word, sodat die skape in die lewe sou bly.

Petrus het met dié werk van sy Here altyd baie moeite gehad. Hy wou gehad hê sy Here moes 'n Held wees, nie 'n Herder nie!

En veral nie 'n Herder wat Homself soos 'n skaap laat slag nie. Met dié Here kon Petrus hom nie vereenselwig nie. Dié Here het hy in die nag van die gevangeneming nie wil ken nie. En hy het gewag en gehoop dat sy Here skielik sy ware gedaante sou wys. Maar tevergeefs. Want 'n Herder- dit is Christus se ware gedaante.

Vandag sê Christus vir Petrus: Ek maak ook van jou so'n herder. Iemand wat nie by die mense vooraan staan nie, maar wat agter my skape aan gaan. Wat bereid is om, ter wille van die skape waarvoor Ek my lewe gegee het, homself net soos Ek heeltemal op te offer

Dít word jou werk, Petrus. Eendag het jy moeders wat met klein kinders na My toe gekom het, wil wegstuur, omdat jy gedink het Ek is te groot vir daardie kleingoed. Maar voortaan moet jy omsien na daardie lammetjies en daarvoor sorgdra dat nie een verlore raak nie! Jy moet die ouer skape in die regte spore saamneem, vir hulle die regte pad wys, hulle by die steiltes weghou, hulle voed met my Woord.

Dít word die werk waarmee ons die wêreld sal verower.

Nie die swaard nie, maar die herderstaf word die wapen.

Vir hoogmoedige mense is dit geen erebaantjie nie, maar nederige werk. Want dit vereis uiterste sorg, voortdurende waaksaamheid, baie geduld en liefde. Die skape wil nie altyd saamgaan nie, party is eiewys en hardkoppig. Daar is wat telkens wegdwaal.....

Kortom, 'n tydrowende en dikwels ondankbare besigheid.

Jy sal dit net kan volhou as jy daarvan bewus bly dat dit my skape is, waarvoor Ek die hoogste prys betaal het, wat Ek met my eie bloed gekoop het!

Ek soek nie knegte wat hulleself hoogag nie, maar herders wat my kudde hoogag.

Sien u, gemeente, hoe dat Christus met sy les vir Petrus en die ander apostels aan u gedink het?

Verstaan u, my mede-ampsdraers, waarom die Here hierdie les vir ons in die Bybel bewaar het?

Sy kudde moes in die eeue wat voorgelê het, in goeie hande bly: herdershande.

Ons moet maar nie langer na Petrus kyk nie. Ons moet na Christus, die Opperherder sien. Die kerk was nie afhanklik van Petrus se liefde vir Christus nie. Die kerk se bestaan is alleen aan Christus se liefde vir ons te danke.

Dié herdersliefde moet vandag nog enige ampsdraer beheers.

Daarom mag ons ook bly wees dat die Sinode van ons kerke besluit het om 'n nuwe, beter bevestigingsformulier vir ouderlinge in te voer. In dié wat ons tot nou toe gebruik het is die ouderlinge naamlik glad nie as hérders aangedui nie. Die indruk is gewek asof net die leraar die herder van die gemeente is en die ouderlinge 'n tipe van regeerders. In die nuwe formulier wat ons binnekort hoop te gebruik, is dit gelukkig heeltemal reggestel en word ook by die werk van die ouderlinge die herderlike sorg van

Christus vir sy gemeente beklemtoon.

U, gemeente, mag in die werk van u ampsdraers hierdie herderlike sorg van Christus ook soek en verwag. Die ampsdraers hoef nie indrukwekkende persoonlikhede of mense wat in die maatskappy vooraan staan, te wees nie. Die Opperherder het hulle geroep om in alle trou en eenvoud na u om te sien en om u op die pad agter Hom aan te probeer vashou. Hulle moet sy liefde en sorg voelbaar maak.

As u van die Here sulke herders ontvang het, prys dan nie daardie manne nie- hulle word dalk maar eiewys daarvan.

As u, my mede-ampsdraers, die ware herdershart van Christus ontvang het, bly nederig en verwonderd daaronder.

Laat ons as skape en herders saam die liefde van ons Opperherder vir sy kudde daarin herken en dankbaar en verwonderd Hom bly volg.

AMEN.

(Pretoria, 29 April 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)