In Samaria oorwin die Koninkryk van God die ryk van die duiwel

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Handelinge 8
Preek Inhoud: 

PREEK OOR HANDELINGE 8: 4-25

LITURGIE:
Ps. 47: 1, 4
Gebed
L + T Handelinge 8: 4-25
Ps. 10: 9
Geloofsbelydenis
Ps. 9: 7
Gebed
Kollekte
Ps. 92: 2, 3, 4

Het u geweet, broeders en susters, dat die naam van Simon, die towenaar uit Samaria van ons teks, maar liefs op twee plekke genoem word in ons kerklike papiere?

In art. 80 van ons Kerkorde word 'n hele aantal ernstige sondes opgesom wat rede vir skorsing of afsetting van ampsdraers is. As een van sulke sondes word dan "simonie" genoem: as jy, soos Simon van Samaria, probeer om jou met geld 'n magsposisie in die kerk te verwerf.

Ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis word na Simon verwys. In art. 35 wat oor die Nagmaal handel, word Simon die towenaar saam met Judas die verraaier genoem as twee voorbeelde van mense wat wel die sakrament ontvang het (Judas het nog saam met Christus en die ander dissipels die nagmaal gevier, Simon is gedoop en het waarskynlik daarna ook wel die Nagmaal gevier), maar wat darem nie aan Christus deelgekry het nie.

Die geskiedenis van Simon het dus nogal indruk gemaak op die kerk.

Ons wil vanaand daardie geskiedenis weereens lees en oordink.

Maar dit sou heeltemal verkeerd wees as ons in hierdie preek op daardie Simon sou fokus. Want Simon speel rêrig nie die hoofrol in hierdie geskiedenis nie.

Simon is maar net 'n duidelike voorbeeld van 'n mens wat gevang is in die greep van die owerste van hierdie wêreld. Een van die talle voorbeelde wat ons in hierdie wêreld kan raakloop.

Die hoofrolspeler in hierdie geskiedenis is ons Here Jesus Christus wat na

Pinkster opruk met die Evangelie van die Koninkryk van God en ook Samaria verower. Hier bots maar nie twee ménse op mekaar nie: Filippus en Simon. Maar hier bots die Koninkryk van God teen die ryk van die Bose. Want Christus trek Samaria binne.

Aan die einde van ons teksverhaal verdwyn Simon dan ook ongemerk uit die gesigskring -die Bybel vertel nie eens wat van hom geword het nie- maar ons sien Christus oorwinnend aangaan met die Evangelie van die Koninkryk, terwyl Hy al hoe meer mense uit die mag van die Bose bevry.

Hierdie Christus, wat gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is, mag ek vanaand aan u verkondig.

Ek het my boodskap soos volg saamgevat:

IN SAMARIA OORWIN DIE KONINKRYK VAN GOD DIE RYK VAN DIE DUIWEL

WANT CHRISTUS BRING:

  1. VERLOSSING PLEKS VAN VERBYSTERING
  2. GENADE PLEKS VAN MAGIE
  3. BEKERING PLEKS VAN VERHARDING

1. Ons teksverhaal begin met 'n vlugtende Filippus, gemeente. In Jerusalem het na die dood van Stefanus 'n hewige vervolging teen Christus se kerk ontstaan. Die eerste botsing tussen die Koninkryk van God en die ryk van die duiwel vind nie eers in Samaria plaas nie. Reeds in Jerusalem probeer die duiwel om Christus se opmars te stuit en die kerk uit te roei.

Die situasie lyk baie ernstig. Talle kerklede vlug uit die stad uit en raak orals oor die land verstrooi.

Maar die duiwel bereik presies die teenoorgestelde van wat hy beoog het. Want die blom van die kerk het inmiddels rype saad ontwikkel en wanneer die Bose nou teen die kerk blaas (dié woord gebruik die Bybel letterlik in die volgende hoofstuk i. v. m. Saulus se kerkvervolging), waai die saadpluise tot ver in die omtrek. En: dit ontkiem dadelik en skiet wortel! Jy kan 'n christen alles ontneem: sy huis, sy stad, sy vrou en kinders...., maar die Evangelie kan niemand hom ontneem nie. Dit neem hy saam, waarheen hy ook al moet vlug.

Filippus kom in Samaria tereg. Die Griekse teks wek die indruk dat nie die hoofstad bedoel is nie, maar 'n stad in die landstreek Samaria.

'n Gebied waar die duiwel eeue terug al vaste voet gekry het.

Eendag was dit 'n deel van die beloofde land Kanaän. Samaria het behoort tot die ryk van koning Dawid en koning Salomo. In hierdie landstreek het egter al gou die afval van die HERE skrikwekkende vorme aangeneem. Name van konings soos Jerobeam met sy goue bulkalwers in Dan en Bethel, en Agab met sy vrou Isebel spreek boekdele. Op die ou end het die verbondsverlating in hierdie deel van Israel so groot geword het, dat God die 10 stamme deur die Assyriërs in ballingskap laat wegvoer het.

Daarna het daar in die gebied van Samaria 'n snaakse mengvorm van erediens vir die HERE en allerlei afgodiese gebruike ontstaan. Die Assyriese koning het naamlik ander volke in die plek van die Israeliete daar laat woon wat hul eie afgodediens saamgebring het. Maar deur 'n Israelietiese priester wat terugestuur is, is ook vir daardie nuwe bewoners van Samaria geleer hoe om die HERE te dien.

Blykbaar het daar in Samaria na die wegvoering wel reste van Israel oorgebly. Of het later sommige Israeliete daarnatoe teruggekeer. Die Smaritaanse vrou met wie die Here Jesus Christus in gesprek was, waarvan ons lees in Joh. 4) moet daarvan 'n afstammeling wees. Sy praat dan van "ons vader Jakob".

Maar die duiwel het sy greep op Samaria nie meer laat verslap nie. In die dae dat Filippus na Samaria kom, vier die afgodery en towery in Samaria hoogty.

En Simon, die towenaar, is op dié oomblik die magtige man.

Lukas vertel niks oor sy afkoms en voorgeskiedenis nie. By party verklaarders word hy as 'n verteenwoordiger van die dwaling wat ons Gnostiek noem, voorgehou. Dit is egter nie baie aanneemlik nie omdat daardie dwaling eers in die tweede en derde eeu opgang gemaak het.

Maar ook sonder die kennis van Simon se voorgeskiedenis kry ons wel 'n voldoende duidelike beeld van sy optrede in Samaria, as ons nugter lees wat ons teks vertel. Hierdie towenaar was nie 'n onskuldige goëlaar nie, maar 'n man met 'n religieuse mag. Hy het in die oë van die mense beskik oor geheimsinnige goddelike kragte. U kan hom maar vergelyk met die toordokters wat onder die swartes talle mense in hul ban hou. Daar was destyds baie van sulke manne. Hulle kon godebeelde laat glimlag, fakkels van steen aan die brand steek, bo die grond sweef, hulle kon die toekoms aflees uit water of vuur.

Met sulke towerkunste het Simon die bevolking van sy stad verbyster. Dié woord lees ons tot twee maal toe in ons teks: vs. 9 en vs. 11. En Simon het daardie verbystering met welgevalle aanskou. Hy het homself 'n baie besondere mens gevoel. 'n Mens met goddelike kragte. So het hy homself ook aan sy stadgenote gepresenteer en hulle kon dit moeilik ontken. Almal het saamgestem: "Hy is die groot krag van God".

Maar dan is op 'n dag sommer Christus in daardie Samaritaanse stad. Die aangename tyd van God se ontferming aangebreek, ook vir hierdie deel van die beloofde land. Christus stuur sy kneg Filippus om die ban waarin Simon die mense gevange hou, te breek.

Filippus kom en bring 'n heeltemal ander boodskap as Simon. Simon het feitlik die godwording van 'n mens aan sy medeburgers geleer: 'n gewone mens kan tot goddelike hoogte opklim.

Filippus kom en predik daarteenoor die menswording van God: God se eie Seun het tot die vlak van 'n gewone mens neergedaal. Filippus vra geen aandag vir homsélf nie. Hy predik Christus, lees ons in vs. 5. Hy leer die mense dat God se eie Seun mens geword het om vir ons die lewe en die toekoms terug te verdien.

Mens sou verwag dat Filippus met sy Evangelie geen skyn van kans het teen Simon nie. Simon se leer is aanloklik. Feitlik is dit nog die ou leer van die duiwel: die dag as jy van die boom eet, sal jy net soos God wees. Terwyl Filippus daarteenoor kom vertel: jy sal sekerlik sterwe, tensy God se eie Seun jou red.

Maar hierdie swak Evangelie blyk 'n krag van God te wees tot redding vir elkeen wat dit glo. Daar het talle mense tot geloof gekom. Feitlik die hele stad, mag ons uit vs. 6 aflei: "En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus.. ".

'n Hele stad ervaar naamlik dat die krag van die Evangelie 'n ander krag is as dit waarmee Simon hulle tot dan toe beïndruk het. Simon het hulle met sy woorde en dade slegs verbyster. Maar verbystering bring geen verlossing. Dit maak eerder bang en onrustig. Jy word met kragte gekonfronteer wat jy nie kan verklaar nie en waaroor jy ook nie self kan beskik nie. Simon se kragte het buite hul eie lewe gebly.

Maar Filippus verkondig 'n Evangelie waardeur die verlossing in almal se lewens persoonlik ingedra word. In daardie Evangelie kom die Heilige God in die persoon van die mens Jesus Christus voor jou staan en sê: Ik wil ook jou God en Verlosser wees. Jou sondes is jou vergewe, die lewe lê weer vir jou oop.

En die woorde van verlossing word met dade onderstreep. Met indrukwekkende tékens van verlossing. Ja, ook Filippus het wonders gedoen in Samaria.

Maar die wonders wat Filippus doen, is geen sensasionele verskynsels sonder inhoud nie. Die Bybel noem dit nadruklik "tekens". Dit is veelseggende aanwysings wat die boodskap van verlossing begelei. Filippus mag dit ook met die daad sigbaar en voelbaar maak in Samaria hoedat God deur Christus die lewe verlos. Duiwels word uitgewerp, siekes gesond gemaak, gestremdes kan weer loop soos vroeër... Christus skenk 'n totale lewensherstel vir siel en liggaam.

En dan lees ons in vs. 8 van ons teks: "En daar was groot blydskap in daardie stad". Die verbystering het plek gemaak vir blydskap. Dit is die beste kenmerk van die verloste lewe wat die Koninkryk van God bring: blydskap. Die blydskap van die herstelde gemeenskap met die God van alle lewe, blydskap vanweë die voorsmaak van die ewige lewe. 'n Blydskap wat ook standhou in beproewing en verdriet omdat niks ons meer kan skei van die liefde van God in Christus nie.

Dit is die krag van die Evangelie waarmee Christus die wêreld oorwin en die ryk van die duiwel uitroei, gemeente.

Vandag nog.

Mense soos Simon is steeds daar.

Nie net in die vorm van toordokters met hul duister praktyke nie. Ewegoed in die vorm van nugtere wetenskapsmense met hul verligte idees. Daar is mos steeds talle mense wat, soos Simon, op die een of ander manier van hulleself sê dat hulle iets besonders is; en wat deur hul aanhangers soos gode vereer word. Sulke mense staan nog altyd in die middelpunt van die belangstelling en verbyster die mense met hul prestasies.

Maar wie word deur hulle verlos? Wie word regtig 'n ander mens van hul prestasies? Maak hulle die lewe gelukkig? Skenk hulle blywende blydskap? Is dit nie eerder so dat ook vandag die wêreld waarin daar nie eintlik plek is vir die lewende God en sy Christus nie, nog vol angs en onrus is nie?

Ons het die blydskap van die Koninkryk van God leer ken, broeders en susters.

Dus het ons iets om uit te deel in hierdie wêreld.

Moenie verwag dat almal reeds op ons staan en wag nie. Filippus was ook 'n vlugteling. Die wêreld is klaar geboei. Hulle soek nie meer vir die kerk nie. Maar Samaria was ook klaar geboei en het ook nie vir Filippus gesoek nie. Nogtans het die wonder gebeur: 'n hele stad is deur Christus verlos uit die mag van die Bose en is met blydskap vervul.

Wat alles moet ons dan doen?

Net dit wat Filippus ook gedoen het: hy het oral waar hy gekom het, al was hy ook 'n vervolgde, sy mond laat oorloop van dit waarvan sy hart vol was: die blydskap wat Christus aan hom gegee het.

Meer is ook vandag nie nodig nie. Maak u mond oop, orals waar u kom, en getuig van die blydskap wat in u is. En onderstreep dit met dade van verlossing. Nee, u kan vandag nie meer, soos Filippus, met een woord mense van hul siekbed en uit hul stootstoel laat opstaan nie. Sulke tekens het al hoe minder geword namate die geluid van die Evangelie al hoe kragtiger geword het. Maar ons kan darem ook vandag nog ons woorde van verlossing met dade onderstreep: wat van christelike bewoënheid met mense in nood, barmhartigheidswerk, konkrete hulpbetoon in allerhande situasies waarin 'n menselewe in nood is..? Kinders van God se Koninkryk mag dit aan die wêreld laat hoor én sien: alleen God verlos regtig die lewe.

En orals waar hulle dit doen, verloor die duiwel sy mag oor mense. Vandag nog.

2. In Samaria is die oorwinning van Christus so groot dat selfs Simon hom tenslotte laat doop.

Groot gebeurtenisse bly nie onopgemerk nie. Verhale van die wonderlike ontwikkelinge in Samaria dring deur tot Jerusalem waar die apostels nog altyd woon en werk. En hulle vaardig dadelik Petrus en Johannes af om 'n kerkvisitasie te bring.

Tydens daardie besoek kom hulle al gou agter dat daar wel baie mense gedoop is in Simonsstad -daar is reeds 'n groot gemeente- maar dat die Heilige Gees nog nie op die gemeente se mense geval het nie.

Dit kan natuurlik nie beteken dat die Heilige Gees nog niks gedoen het in daardie stad nie. Ons hoef regtig nie te aanvaar dat daar tot op daardie oomblik slegs 'n "wondergeloof" by die Samaritane aanwesig was, soos sommige verklaarders meen nie. Hier was baie meer as net 'n beïndruk-wees deur die wondertekens wat Filippus gedoen het. Wie anders as die Gees van Christus het by hulle daardie groot blydskap van die geloof bewerk?

Maar in daardie eerste tyd na Pinkster het die Heilige Gees ook 'n besondere toerusting aan die gemeentes gegee op 'n manier soos Hy dit vandag nie meer doen nie. Christus se kerk moes met krag in 'n kort tydsbestek in die wêreld uitgestoot word. Daarvoor was daar mense nodig om die Woord te kan bedien, om die Skrifte te kan verklaar, om leiding te kan gee...

Vandag kan sulke gawes geleidelik ontwikkel word deur middel van katkisasie, Skrifstudie in die verenigings, deur kerklike blaaie en christelike boeke. Maar in die eerste maande en jare moes alles van die grond af begin. Dis dié dat die Gees destyds aan die gemeentes dikwels regstreeks sulke gawes gegee het sodat mense sonder vooropleiding kon profeteer, die Skrif verklaar, in ander tale die Evangelie verdervertel, leiding gee ens. Direkte gawes vir die gemeenteopbouwerk.

Sulke gawes was ook nodig vir die voortgang van die kerklike lewe in Samaria. Daar is baie bekeerlinge, maar nog min mense wat alreeds "vol" van die Gees is.

Daarom bid Petrus en Johannes tot die HERE of Hy ook in Samaria die kragte van die Gees in oorvloed wil uitstort. Twee apostels, waarvan die een dalk nog maar 'n paar maande terug wou bid dat oordeelsvuur van die hemel afdaal en die Samaritane verteer, bid nou of God die Samaritane vurig van Gees wil maak. Wanneer hulle vervolgens aan die gemeente die hande oplê, oorstroom die kragte van die Gees die gemeente.

Waarom het die Heilige Gees nie dadelik in volheid oor die gemeente daar gekom nie, broeders en susters? Waarom moes daarvoor eers apostels uit Jerusalem kom en daarom bid?

Die antwoord op dié vraag kan slegs wees dat God op hierdie wyse nog 'n keer in Samaria wou benadruk dat die lewe in sy Koninkryk die ene genade is.

Hulle was verbyster vanweë die mag waaroor Simon beskik het. Die mag van magie. Toe het Filippus gekom en hy het hul aandag heeltemal van Simon af weggetrek. Maar nou mag dit nie gebeur dat in die oë van die Samaritane Filippus algaande die plek van Simon gaan inneem nie. Asof Filippus 'n nog beter en indrukwekkender magiër as Simon is.

Indien op die prediking deur Filippus dadelik die oorvloedige kragte van die Heilige Gees oor die gelowiges uitgestort sou wees, sou baie mense sommer kon dink die wondere kragte van die Heilige Gees is 'n nuwe vorm van magie. En hulle sou weer 'n mens met 'n besondere mag gaan vereer, pleks van voor Christus kniel.

Dat soiets sommer kon gebeur, blyk wel by Simon. Kyk vs. 19 waar ook Simon graag die "mag" wil hê om mense die hande op te kan lê sodat hulle die Heilige Gees ontvang. Asof dit 'n magiese handeling is.

Daarom moet Samaria leer dat die uitstorting van die Heilige Gees, soos alle ander kragte in God se Koninkryk, geen magie is nie, maar genade wat alleen deur Christus aan sy kerk gegee kan word. Kyk vs. 20 waar Petrus in sy antwoord aan Simon nie praat van die mag om die Heilige Gees te kan uitdeel nie, maar dit 'n "gawe van God" noem.

Geen mens kan sommer oor die Heilige Gees beskik nie. Ook Filippus nie. Eers moet daar die apostels van Christus kom, manne wat oor- en ooggetuies is van alles wat Jesus Christus geleer en gedoen het. Want slegs aan sy kerk wat op die prediking van hierdie apostels gebou is, wil Christus sy gawes skenk. En selfs hierdie apostels kan nie in eie krag die Heilige Gees se kragte uitdeel nie.

Hulle moet eerbiedig neerkniel en bid of Christus sy Heilige Gees ook in Samaria in oorvloed wil skenk. Want niemand het enige regte nie, en nog minder het iemand van homself die kragte om die Heilige Gees sommer te kan aanboor.

So bring Christus Samaria nog meer onder sy genadeheerskappy, gemeente. Hy leer hulle om hulle heeltemal aan sy genade uit te lewer, en hoegenaamd nie meer by magie te lewe nie. En die duiwel verloor nog meer terrein in Samaria.

Besef óns nog dat die hele lewe in die kerk die ene genade is? So'n les soos wat Samaria gekry het, sou vir ons van tyd tot tyd ook goed wees. Want die magiese denke het ook op ons nog sommer weer vat.

Bid u nog, ook in u huise, om die kragte van die Gees in die kerk?

Mens raak af en toe bekommerd oor 'n gebrek aan Geestegawes in die kerk. Ons benodig goeie ampsdraers -wie gaan die ontstane vakature vir ouderling in wyk Wes vervul? -, ons benodig mense in belangrike kerkraadskommissies, leiers en leidsters vir die verenigings van ons kinders, onderwysers in die skool, mense in die skoolbestuur... Hoe moeisaam kry jy dikwels die geskikte persone. Waarom is daar nie meer mense in die kerk wat regtig vol van die Heilige Gees is nie?

Die gevaar bestaan dat ons aan die eintlike oorsaak verbykyk. Ons hoor mos weekliks Skriftuurlike prediking, ons kinders ontvang van kleinsaf onderwys in 'n Gereformeerde Laerskool, hulle kry deeglike katkisasieklasse, ons het 'n hele paar verenigings, ons voorsien die kerk se lidmate van opbouende lektuur...

Dit is tog al wat jy moet doen om die Gees in die gemeente te laat werk en sy kragte te laat ontplooi? Wat kan ons meer doen? !

Kyk, dan dink ook ons in feite magies, gemeente. Want ons vergeet die belangrikste: die needrige gebed wat smeek om God se genáde. Ons kry selfs nie deur goeie preke en katkisasieklasse, 'n Gereformeerde skool, verenigings ens., hoe belangrik ook al, die kragte van die Gees onder beheer nie. Christus sal dit steeds moet gee. Uit genade. En ons sal dit altyd weer eerbiedig moet vra.

Voordat ampsdraers die hande kan oplê, sal hulle eers hul hande moet vou en bid. En daarna hul hande verwonderd oophou vir die genadegawes waarmme Christus dit vul.

Kom ons laat ons deur die les in ons teks leer, gemeente. Want slegs in 'n kerk wat van genade leef, daar is vir die duiwel geen plek meer nie.

3. In Samaria is daar nog tenminste een mens wat 'n inkomplek vir die duiwel oophou. Dit vertel ons teks tenslotte nog. Simon weet nog altyd nie mooi wat genade is nie. Simon het vir Filippus se metodes geswig en hom ook laat doop.

Maar Simon het Filippus se boodskap nie eintlik aanvaar nie. Simon wil nie 'n kleine mens wees wat van God se genade leef nie. Maar Hy wil die groot man wees wat God se gawes kan uitdeel. Dis hoekom hy nie bid nie, maar bie. Hy bie die apostels 'n hoeveelheid geld aan om die mag waaroor hulle blykbaar beskik, soos hy meen, van hulle te kan koop. Hy het geld genoeg.

Maar met al sy geld is Simon doodarm. Hy het 'n dodelike hartkwaal. Sy hart is nie reg voor God nie. En dus staan hy steeds buite God se Koninkryk. Petrus waarsku hom baie indringend. Hy sê padlangs dat Simon op pad is om vir ewig verlore te gaan.

Maar Petrus sien Simon boorop as 'n lewensgroot gevaar vir die hele kerk. In ons Bybelvertaling staan daar in vs. 23 dat Petrus sê: "ek sien dat jy in 'n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is". Maar dis beter om die Griekse teks so te vertaal: "ek sien dat jy tot 'n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is", naamlik vir al die ander gelowiges. Petrus ontleen sy woordgebruik aan die OT, waar byv. in Deut. 29 staan dat in iemand 'n wortel kan groei wat galbittere gif voortbring. So'n wortel met baie vertakkings sien Petrus in Simon se hart. En hy is bevrees dat die hele kerk daardeur vergiftig kan raak as daar geen bekering kom nie. Simon kan met sy nog altyd heidense denke die hele gemeente in sy stad weer in bande van ongeregtigheid vasbind.

Dus roep die apostel Simon met klem op om hom te bekeer en om tot God te bid om vergewing.

Maar het u gesien hoe reageer daardie man, gemeente? Hy vra vir Petrus en Johannes: "Bid júlle vir my tot die HERE, sodat niks van wat julle gesê het, oor my mag kom nie".

Dit lyk pragtig. Simon vra voorbede van die apostels.

Maar dit is glad nie so pragtig nie. Hy kom nog altyd nie self op sy knieë voor God nie. Hy bly vasgevang in sy magiese denke. Hy meen nou dat die gebed van 'n ampsdraer meer by God bewerk as die gebed van 'n ootmoedige gelowige. 'n Gedagte wat later in die Roomse Kerk 'n vastrapplek gekry het en wat jy selfs by Gereformeerde mense wel kan raakloop.

Boonop vra Simon nie om vergewing van skuld nie. Hy vra bloot om vrywaring van straf. Hy besef nie sy sonde nie, maar is net bang dat hom iets vreesliks sal oorkom omdat Petrus daarvan gepraat het dat hy saam met sy geld sal vergaan.

Simon verhard hom dus in sy sonde. Hy blyk onbekeerlik te wees.

Dit lyk 'n gevaarlike situasie in Samaria se jonge kerk. Die feitlik nog heidense Simon sou 'n gevaarlike teëstander vir God se Koninkryk kon word. Gaan hy algaande die hele gemeente weer vergiftig en in bande van ongeregtigheid terugbring?

Nee.

Simon verdwyn eenvoudig van die verhoog af. Ons hoor en sien verder niks meer van Simon nie. Christus stamp hom eenvoudig uit die pad. Hy sal die oorwinningsgang van die Koninkryk van God nie keer nie.

Die enigste plek wat Simon in die kerk oorhou, is die plek van 'n waarskuwende voorbeeld in ons kerklike papiere: Simonie maak jou as ampsdraer skorsingswaardig en as jy soos Simon is, het jy geen deel aan Christus al is jy ook gedoop en het jy kere sonder tal die Nagmaal gevier.

En die einde van ons teksverhaal is nie die verharding van Simon in sy sonde nie, maar die voortgang van die Evangelieprediking orals in Samaria. Die velde blyk inderdaad wit vir die oes te wees, soos Christus eendag reeds vir sy dissipels gesê het. Simons verharding beteken nie die einde van die bekerings in Samaria nie. Simon kan die stroom van bekerings nie keer nie.

Met dié boodskap mag ons vandag huistoe gaan, broeders en susters. Geen pion van die duiwel kan die oorwinningsgang van God se Koninkryk na Pinkster meer regtig keer nie.

Daar was reeds baie ander Simons, wel met 'n ander naam maar met dieselfde oersonde, en daar sal sulke Simons bly tot op die laaste dag, antichriste. Maar Christus is sterker as almal. Ondermeer u eie bekering en blydskap is daarvan die bewys.

AMEN

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)