Ps. 118: 1, 2
Ps. 118: 7
Ps. 91: 1, 2, 6, 8
Ps. 36: 2
Ps. 36: 3
Lees: 2 Kor. 10 & Rom. 15: 14 - 32
Teks: Filip. 1: 12 - 18
Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,
'n Mens kry soms gedeeltes in die Bybel wat by lesing en oordenking jou diep skaam laat voel.
So byvoorbeeld vanoggend se teks.
Dan besef jy skielik hoever ons ons verwyder het van die geloof van die eerste gemeentes van Jesus Christus. En dan bedoel ek nie die inhoud van die geloof nie, maar die wyse waarop hulle daarmee omgegaan het. Die voortgang van die Evangelie was so sentraal in hul lewe, dat daaraan werklik alles ondergeskik gemaak is. As ons lees hoe Paulus voel oor sy gevangenskap, het ons veel rede om ons te skaam. Byvoorbeeld oor ons eie kleingeloof met betrekking tot die mag van die Here en die krag van die Evangelie.
Ons is so gewoond om te sê: Die Here werk deur die middele, dat ons amper vanself gaan dink: As ons nie middele of moontlikhede sien nie, dan kan die Here ook nie verder nie. Wel, dit is nou kleingeloof. Ons dink, 'n voorwaarde vir verbreiding van die Evangelie is byvoorbeeld vrede en vryheid. Dan kan die Evangelieverkondiging voortgang vind. Maar ons teks sê vir ons: Die omgekeerde kan ook. God is magtig, om juis in 'n situasie van onvryheid en geloofsvervolging die Evangelie geweldig momentum te gee. Julle moet weet, sê Paulus, dat God my boeie eerder op bevordering van die Evangelie laat uitloop het. Ons skaam ons dat ons dit nie vir moontlik gehou het nie. Nog 'n voorbeeld uit ons teks: Daar is mense wat onder 'n skyn Christus verkondig. Dan reageer ons onmiddellik. Maar dit is mos heeltemal verkeerd. Dit kan ook glad nie werk nie.
En dan sê Paulus tot ons verrassing en beskaming: Hieroor kan ek my verbly. Die Evangelie van Christus word mos verkondig.
Ek is wel gebonde, maar die Woord is vry.
Daar is mense wat my skade wil toebring? Maak nie saak nie. As die saak van Christus maar bevorder word.
Daaroor gaan dit in die prediking van vanoggend.
Ons tema is: DIE KRAG VAN DIE EVANGELIE VAN CHRISTUS.
- Gevangenskap van Paulus kan die voortgang daarvan nie verhinder nie.
- Konkurrensie teen Paulus kan sy blydskap daarin nie verminder nie.
1. Ons sal onthou dat Paulus hom op 'n besondere wyse met die gemeente van Filippi verbonde gevoel het. Die gevoelens was wedersyds, dus ons kan ons voorstel dat die mense van Filippi baie nuuskierig was, hoe dit nou met Paulus gaan. Daarom gaan hy daarvan eers iets vertel, anders hoor hulle dalk die res nie van wat hy nog vir hulle wil sê.
Ongetwyfeld het die Filippense al iets van Paulus se situasie gehoor. Uit Hand. 28 weet ons dat Paulus twee jaar in redelike vryheid in Rome gebly het. Hy het daar selfs 'n eie woning kon huur.
Maar volgens ons teks het die situasie nou verander. Sy regsaak het nou in 'n kritieke stadium gekom, en binnekort sal die uitspraak gedoen word: Skuldig of onskuldig of wel, dood of lewe.
Ons kan ons voorstel dat die Filippense nou baie nuuskierig is om iets van hom te hoor. Te meer omdat die gevangenskap van Paulus by hulle heel wat vrae opgeroep het, byvoorbeeld hierdie: Hoe kan God so iets toelaat! Let wel, die belangrikste apostel van Jesus Christus wat al so baie gedoen het, en wat ook nog vol energie is, om nog meer te doen. As God dan magtig is, en as sy bedoeling dan is om die Evangelie orals te laat verkondig, hoekom kan die Romeine Paulus nog steeds gevange hou? Wel, blykbaar is Paulus bewus daarvan dat die vrae by die Filippense geleef het.
En daarom gaan hy eers daarvan iets sê. Baie nadruklik klink dit: Ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat met my gebeur het eerder op bevordering van die Evangelie uitgeloop het.
Die dienaar van die Woord is wel in boeie, maar daarmee nie die Evangelie self nie. Die Evangelie gaan verder, nie slegs ondanks Paulus se gevangenskap nie, maar selfs danksy sy gevangenskap.
Ons moet veral let op die woord 'eerder' wat Paulus hier gebruik.
'My ervarings het eerder op bevordering van die Evangelie uitgeloop'. Dit bewys dat Paulus 'n nugtere man is. Ook hy self het met dieselfde vrae geworstel. En daarby is Paulus werklik nie so lewensvreemd dat hy laat voorkom asof hy self die gevangeskap so aangenaam vind, of dit alleen maar heerlik vind om terwille van Christus te ly nie.
Nee, Paulus sien terdeë ook die negatiewe aspekte van sy boeie raak. Maar as hy nou alles in aanmerking neem, kan hy tog uiteindelik positief oor sy gevangenskap oordeel.
Hier is eerder bevordering as skade vir die Evangelie te konstateer. Teen alle menslike verwagting in, het Paulus se gevangenskap die Evangelie bevorder.
Daarby word dus weer baie duidelik wat vir Paulus die maatstaf is om iets positief of negatief te beoordeel: Naamlik dit: Word die voortgang van die Evangelie daarmee gedien of nie?
Hier kan ons weer baie van Paulus leer, broeders en susters, seuns en dogters! Hoe dikwels vra ons onsself by belangrike beslissings af: Hoe dien dit die voortgang van die Evangelie?
In die maatskappy waarin ons lewe staan altyd maar een vraag sentraal: Hoe verbeter ek my posisie? Wat is bevorderlik vir my loopbaan?
Dit is amper onmoontlik om jou aan die invloed daarvan te onttrek. En tog, Paulus leer ons 'n ander wyse van dink. Hy gebruik 'n ander graadmeter of iets goed of sleg is, naamlik hoe raak dit die voortgang van die Evangelie?
Na daardie maatstaf gemeet is Paulus se tronktyd 'n positiewe ding. Dit het die voortgang van die Evangelie gedien. So groot is die Here nou! As Hy wil kan Hy enigiets gebruik om verder te kom met Sy plan. Hoe het dit dan gebeur?
Wel, Paulus noem twee dinge. Die eerste is: My boeie het openbaar geword in Christus aan die hele keierslike lyfwag.
Paulus bedoel dit: Die mense wat aangestel is om Paulus te bewaak, het opgemerk dat hulle in Paulus met 'n heel besondere gevangene te doen het. Hy was duidelik nie 'n gewone misdadiger nie. Dit kon hulle sien aan sy manier van doen. Die gesprekke wat hy voer, die Psalms wat hy ongetwyfeld ook in die Romeinse gevangenis gesing het. Uit heel sy optrede het geblyk, hy is uitsluitlik gevange vanweë sy belydenis van Jesus Christus. Natuurlik het die bewakers op hul beurt met ander mense gepraat, oor die snaakse gevangene wat hulle nou moes bewaak. En so is die Naam van Christus genoem op plekke waar dit anders waarskynlik nie sou kom nie.
Paulus noem nog 'n tweede positiewe effek van sy gevangenskap, naamlik die meeste van die broeders het weer vertroue gekry om die Woord van die Here onbevrees te spreek.
Seker in die stad Rome was dit maar gevaarlik om as Christen bekend te staan. Veral daar het baie Christene die marteldood gesterf. Dus die mense was maar bang om die Woord van die Here in die openbaar te laat hoor.
Maar deur Paulus se gevangenskap het daarin verandering gekom. As hulle sien hoe onbevrees hy die Evangelie verkondig, tot in die hoogste kringe, vat ook hulle weer moed. So belangrik is 'n goeie voorbeeld!
Dit kan aan ander mense 'n geweldige stimulering gee.
Daarom skryf Paulus dit ook aan die Filippense. Dan kan hulle ook weer moed vat en onbevrees verder gaan, met die Evangelieverkondiging, ook al het hulle ervaring daarvan dat sommer maklik 'n hele aksie teen hulle as Christene onderneem kan word.
Nog 'n laaste opmerking na aanleiding van hierdie verse. Dit blyk dat daar in Rome heel wat predikers van die Evangelie is. Die meeste van die broeders waag dit om die Christus te verkondig. As ons dit vergelyk met ons situasie is dit tog wel baie anders. Daar is by ons maar net een wat die Evangelie mag verkondig. Dit is die predikant. 'n Spesialis in Woordverkondiging. Hy het daarvoor heel wat jare gestudeer. Dit het baie goeie kante. Ongetwyfeld.
Daardeur kan byvoorbeeld die rykdom van die Evangelie beter sigbaar gemaak word. Daar kom meer diepgang in die prediking. Die gemeente word minder gou op allerhande dwaalpaaie gevoer, want die predikant het deur sy studie al met allerhande ketterye kennisgemaak. Hoewel natuurlik niemand kan garandeer dat ook 'n gestudeerde predikant in dwaalleer verstrik kan raak nie.
Maar heel daardie situasie het ook 'n nadeel. Ons het so aan die gedagte gewoond geraak, dat Evangelieverkondiging deur 'n vakman, deur 'n spesialis moet gebeur, dat ons daarvan heeltemal afhanklik geword het. As daar van ons gevra word om te spreek oor Jesus Christus, dan swyg ons maar gou. Ons weet werklik nie wat om te sê nie. As daar weer 'n moontlikheid is om die Evangelie van Christus te verkondig, maar ons het nie 'n vakman beskikbaar nie dan neig ons daartoe om te sê, jammer, dan maar geen Evangelieverkondiging nie. U moet my goed verstaan: Ek voer nie 'n pleit om 'n Teologiese Hoëskool af te skaf, of vakmanskap onder te waardeer nie. Laat ons maar baie dankbaar wees vir die pragtige moontlikhede wat daar in die opsig is.
Maar wat ek bedoel is dit, wat Paulus skryf aan die Hebreërs: Vanweë die tyd dat julle al in die Evangelie onderrig is, behoort almal al leraars te wees. (Heb. 5: 12).
Dit sou in ons tyd glad nie 'n probleem moet wees om geskikte ampsdraers te kry, of om mense te vind wat in staat is om in die Evangelisasie te werk nie.
Dit is tog nie net die gemeente in Rome of die van Filippi, wat deel het aan die werk van die Heilige Gees nie. Die Pinksterfees was tog nie 'n eenmalige gebeurtenis in Jerusalem nie. Nee, die Pinksterfees was die begin van die Pinksterbedeling. Die tyd dat die Gees werksaam is in heel die gemeente. En daarom is almal Christusverkondigers. Oud en jonk, mans en vrouens. Dit betekan natuurlik nie, dat elkeen op 'n preekstoel moet gaan staan nie, maar wel dat elkeen op sy eie plek, met sy eie moontlikhede, 'n getuie vir Christus moet wees. Temidde van jou kollegas, voor 'n skoolklas, in jou gesin, temidde van jou medeleerlinge, voor 'n sondagskoolklas, op 'n huisbesoek, op 'n vereniging of waar ook maar. Hoe meer jy betrokke is by die voortgang van die Evangelie, hoe nouer jy self ook met Christus verbonde voel.
2. Konkurrensie teen Paulus kan sy blydskap nie verminder nie.
Dit is dus 'n baie goeie ding dat die Evangelieverkondiging voort gaan ondanks die feit dat die apostel in die tronk sit.
Vers 17 meld dat daar van die verkondigers is, wat dit uit liefde doen.
Met die liefde kan Paulus sowel doel op die liefde tot God, as op liefde tot die naaste.
Die liefde tot die Here is 'n suiwer motief om die Evangelie te verkondig. God wil mos dat sy Woord aan almal bekend gemaak moet word. Wie deur liefde tot God tot Evangelieverkondiging gedryf word, kan dit ook die langste volhou, ook as daar teleurstellings of probleme kom. Waar liefde tot God is, is ook liefde vir die naaste. Want jy weet mos die naaste kan nooit gelukkig word as hy nie die vrede met God ken nie. Die mense wat die Evangelieverkondiging van Paulus verneem, doen dit ook uit liefde vir Paulus. Hulle besef Paulus is gevange, terwille van die Evangelie.
In vers 17 sê Paulus dit so: Hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die Evangelie. Die woord verdediging wys regstreeks na die regsaal. Paulus moet staan voor die hoogste regter op aarde van daardie tyd, naamlik die keiserlike geregshof (onthou: Paulus het hom eendag op die keiser beroep). Wel, daar moet die saak van Jesus Christus op die hoogste vlak verdedig word, en wie is daartoe beter in staat as juis Paulus? En daarom het die broeders geredeneer: Laat Paulus daar die Evangelie verdedig. Daarvoor is hy bestem.
Maar dan sal ons ondertussen die Evangelieverkondiging aan die gewone mense oorneem. Want die Woord moet verder. Wel, dit is 'n pragtige, suiwere motief om die Evangelie te verkondig. Maar wat blyk nou? Daar is ook ander mense wie se motiewe minder suiwer is. Of laat ons maar liewers sê: Wat slegte, minderwaardige motiewe het, om die Woord te verkondig. Paulus sê daarvan: hulle preek Christus uit afguns en twis. Om dit te kan verstaan moet ons bedink dat Paulus in sy dae nie 'n algemeen erkende figuur was nie. Daar was by baie mense weerstand teen sy persoon.
Uit die tweede brief aan die Korintiërs hoofstuk 10, weet ons byvoorbeeld dat nie elkeen, Paulus as apostel wou erken nie. Daar is dus mense wat dit sou geniet as Paulus uitgeskakel word.
Wel, daardie mense wat nie van Paulus hou nie, sien nou 'n kans. Hulle begin nou self die Evangelie te verkondig, met die bedoeling om Paulus se invloed af te breek. Natuurlik sê hulle dit nie so nie. Maar Paulus weet dat dit hulle motief is.
Hulle is afgunstig op Paulus se bekendheid en sy bekwaamheid om die Evangelie van Christus te verkondig. En so stel hulle hulself op as konkurrente van Paulus, pleks as kollegas.
Hulle soek self die eer en die bekendheid wat Paulus geniet.
En nou hy in die gevangenis is, nou sien hulle 'n kans. Nou kan ons hom verby kom, en Paulus kan niks doen nie. So het hulle gedink. In verbystering kan ons ons afvra: Hoe kan mense, broeders in die Here nog wel, so laaghartig wees?
Maar so gaan dit nou maar. Iemand wat self nie deur liefde gedryf word nie, en geneig is om hom maar min in te span vir die diens van die Here, sal altyd 'n ander wat hom wel inspan, in 'n verkeerde lig probeer stel. Kyk hom. Hoe besig is hy vir die kerk! Hy soek seker sy eie eer, of hy is maar net fanatiek! Of dit is seker sy stokperdjie!
Mense wat self nie uit liefde handel nie, kan hulle glad nie voorstel dat daar wel liefde by 'n ander is nie, en daarom soek hulle allerhande verkeerde verklarings om die persoon onderuit te haal. Helaas kom dit in die kerk nog steeds voor. Afgunstigheid. Rivaliteit. Net so goed onder predikante en ouderlinge en diakens, en gemeentelede. Laat ons ons almal maar steeds weer verootmoedig.
Terug na Paulus. Hoe kan mense so laaghartig wees om eers ywerig te word as hulle daarmee Paulus in die gevangenis kan laat swaarkry? Wel, waarskynlik het hulle gedink: Paulus is 'n baie eersugtige figuur. Hulle het dalk vir mekaar gesê: "Nee, maar dit is wel 'n slag goed vir Paulus, as hy 'n tydjie in die tronk sit. Dan kom hy vanself agter, hy is nie onmisbaar nie!"
Dus hulle veronderstel eersugtigheid by Paulus. Nou het ekself, om eerlik te wees, ook wel 'n keer soiets gedink. In 'n brief aan dieselfde gemeente van Rome (Rom. 15: 20) het Paulus naamlik 'n keer geskryf: 'Orals het ek die Evangelieverkondiging van Christus volbring van Jerusalem af tot by Illirikum, maar so, dat ek my eer daarin gestel het om die Evangelie te verkondig, nie waar Christus nie alreeds bekend was nie - om nie op die fondament van 'n ander te bou nie, maar net hulle wat nog nooit van Christus gehoor het nie, het ek Christus verkondig!'
Wel, as 'n mens soiets lees dan is dit wel 'n bietjie voorstelbaar dat mens reageer: Nou, nou, Paulus, jy hef jouself taamlik hoog. Prediking in 'n bestaande gemeente is vir jou seker nie goed genoeg nie, jy wil maar net nuwe bekeerlinge maak. So kan iemand dink, Paulus soek eie eer.
Wel, nou dien die gevangenis as 'n toets. As Paulus inderdaad eersugtig is, as dit by hom gaan om sy eie eer, dan sou Paulus hom in die tronk verskriklik moes erger, en baie jaloers word, dat hy nie verder kan nie. Wel, Paulus se reaksie is 'n afdoende bewys: Paulus is nie eersugtig nie. Wat maak dit? sê hy. Christus word verkondig. En dit is die belangrikste! Dit gaan Paulus glad nie om sy eie eer nie, dit gaan hom net om Jesus Christus. Dit word hier wel baie duidelik.
As die Woord van God maar verder kom! Daaroor kan Paulus hom verbly. Daar loop ons weer die so kenmerkende woord van hierdie brief raak. Die blydskap terwille van die Evangelie.
Die blydskap is daar waar 'n mens homself heeltemal op die agtergrond sit en Jesus Christus op die voorgrond. 'n Mens wat homself in die middelpunt van sy lewe stel, raak diep gewond deur enigiets wat teen hom gerig is. Elke woord van kritiek, of 'n nare opmerking wat iemand teen hom maak, of 'n onvriendelike houding, of wat dan ook, teen hom is vir 'n egosentriese persoon volkome onverteerbaar. So iemand raak (met 'n moderne woord) heeltemal gefrustreer.
Maar nie Paulus nie. Natuurlik dit was verkeerd van daardie broeders om hom so te behandel, maar Paulus sal nie kla nie, of hulle slegmaak nie. Hy verbly Hom.
Want in sy lewe staan Jesus Christus in die middelpunt. En as die voortgang van die Evangelie deur die optrede van daardie broeders gedien word, dan lê Paulus nie wakker van onjuiste motiewe nie.
Hy verbly hom in die Here. Boeie, nog menslike naywer, is in staat om sy vreugde in die Here te doof nie. Paulus se lof sal nie verstom nie! Hy kan van Gods goedheid sing, selfs in 'n donker gevangenis nag.
Ons kom terug by die inleiding van ons preek. 'n Mens kry soms gedeeltes in die Bybel wat jou skaam laat voel. Soos hierdie teks. Hoe staan dit met ons verwagting van die Here in verband met die voortgang van die Evangelie? Hoe staan dit met ons ywer in Sy diens onder soveel makliker omstandighede? Wat van ons blydskap in Jesus Christus?
Gelukkig maar dat ons elke week weer 'n nuwe begin kan maak. Gods genade is wel baie groot!
AMEN.
(kyk in preek)